Wat verenig ons as lidmate van die kerk?

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-08-13
Text: 
Matthéüs 28
Preek Inhoud: 

Matthéüs 28:19

Ds C Kleijn - Sondag 13 Augustus 2006
Nagmaal

Lees: Matthéüs 28:16-20; By nagmaalstafels:
Efésiërs 2:1-10; 2:11-22; 4:1-6.
Sing: Ps 33:1,2; Ps 33:11; Ps 67:1,2; Ps 71:12,14;
Ps 89:7; Ps 22:11; SB 27:5; Ps 13:5.

Tema: Wat verenig ons as lidmate van die kerk?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus.

Wat is dit wat ons as gemeente saambind? Waarin lê ons
eenheid wanneer ons saam die Heilige Nagmaal vier? Is dit daarin
dat ons dieselfde vlak van kennis en insig in die Heilige Skrifte
het? Lê die eenheid daarin dat ons almal gelyk dink oor allerlei
onderwerpe? Lê dit daarin dat ons dieselfde lewenstyl het, dat
ons dieselfde dinge doen of nie doen nie?

Juis nou ons aan die Heilige Nagmaal op ’n spesiale
manier uitdrukking aan ons eenheid wil gee, is dit goed om effens
stil te staan by dit wat ons aan mekaar bind. In Mt 28:19 word
enkele kenmerkende karakteristieke van die gelowiges genoem.

Ons het hier die doen met wat bekend staan as die sendingbevel:
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies” ens.
Die opgestane Here Jesus het alle mag ontvang in die hemel en op
aarde. Hy gaan sy koninkryk oor die hele aarde vestig. Sy groot
offensief gaan begin. Hy soek onderdane uit alle volke en tale.
Daarom ontvang die apostels en via hulle die kerk die opdrag:
“Gaan heen, maak dissipels van al die nasies.”

Die teks noem drie dinge: Maak dissipels, doop hulle in die
Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle
om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Met ander woorde
maak dissipels, doop hulle en leer hulle.

Eerstens, moet mense dus tot dissipels van Christus gemaak
word. Om tot ’n dissipel gemaak te word is nie vryblywend
nie. Dit beteken nie net dat jy Christus of sy volgelinge
simpatiek vind en dat jy wel by hom wil leer nie. Nee, om ’n
dissipel van Christus te wees beteken dat jy jouself aan Christus
verbind. Dit veronderstel ’n baie persoonlike en noue
verhouding tot Christus. Jy gee jou heeltemal aan Hom. Jy
onderwerp jou aan sy gesag. Jy volg Hom waar Hy jou ook al lei.
Jy is lojaal aan Hom. Dissipelskap is dus ’n kwessie van
persoonlike toewyding. Jy word nie net geroep om na die evangelie
van Christus te luister nie, maar om jou daaraan gewonne te gee
en jou aan Christus toe te wy. Dit beteken dus ’n radikale
keuse voor óf teen die Christus. Daaroor gaan dit in die kerk.
Dit is die toets. “Glo in die Here Jesus en jy sal gered
word.” Dis wat Filippus van die hofdienaar van Ethiopië en
Paulus van die tronkbewaarder van Filippi vra. Geloof In Jesus
Christus kenmerk die ware dissipels van Hom. In die evangelie
word Christus voorgehou as die Weg, die waarheid en die lewe.
Daar is geen ander weg tot behoud nie. Ons word dus opgeroep tot
’n radikale keuse vir die redder van die wêreld, in
teenstelling tot alle ander redders, in teenstelling tot die
humanistiese gedagte van selfredding so van: Ék kan myself wel
red; godsdiens, lid van ’n kerk wees is fine of cool maar
uiteindelik moet ek tog my eie toekoms maak. Om dissipel van
Christus te wees staan teenoor al sulke gedagtes. Christus soek
lojale onderdane wat hulle in geloof aan Hom alleen verbind. Durf
jy dit van jouself te sê? Is jy werklik ’n dissipel van
Christus? Om dissipels van Christus te wees is een van die dinge
wat ons aan mekaar verbind.

Broers en susters, hoe heerlik is dit om dissipel van Hom te
mag wees. Aan wie gee ek myself heeltemal oor? Nie aan enigiemand
nie, maar aan Koning Christus. Aan die hemelse koning. Ek is deur
die geloof verbind aan die groot koning wat oor alle skepsels, ja
oor die hele skepping regeer, wat oor alles en almal beskik. Kan
jy jou indink dat jy aan so ’n koning verbind mag wees? Dat
jy sy onderdaan, sy dienaar, sy toegewyde volgeling mag wees?

Gemeente, wanneer mense eenmaal dissipels van Christus is,
moet hulle gedoop word in die Naam van die Vader en die Seun en
die Heilige Gees. Dis die tweede waarvan die teks praat.
Letterlik word gepraat van ’n doop tot die naam van die
Vader, die Seun en die Heilige Gees. Daaruit blyk dat die doop-formule
wat ons reëlmatig in die kerk hoor nie beteken: ek doop jou
namens, in opdrag van die Vader en die Seun en die Heilige Gees
nie. Die uitdrukking tot die naam van wys dat jy as dissipel, as
gelowige in die doop simbolies oorgebring word in die gemeenskap
van die drie-enige God. Die doop markeer die oorgang na ’n
nuwe status. Jy behoort voortaan aan God die Vader, die Seun en
die Heilige Gees. Deur jou geloof in Jesus Christus ontvang jou
ook die Vader en die Heilige Gees. Jy gaan voortaan deur die lewe
as die eiendom van God drie-enig. Is dit hoe julle jul doop
beleef? Besef ek wel voldoende wat dit beteken? Ja, dis wat ons
verenig dat ons aan God die Vader, God die Seun en God die
Heilige Gees mag behoort.

Die doop is ’n teken van my inlywing in Christus se kerk
en van my burgerskap van Christus se ryk. Die doop wys op die
afwassing van sondes deur Christus se bloed en Gees, die
vergewing van my sonde en die vernuwing van my lewe. As gelowige
ontvang ek in my doop die belofte van vergewing en vernuwing.
Daarmee is duidelik dat die ons nie aan mekaar verbind is as
mense wat elkeen ’n hoë vlak van heiliging bereik het nie,
as mense wat ver gevorder het op die pad na die volmaaktheid. Nee,
ons bly sondaars wat van vergewing afhanklik is en wat nog
daagliks deur die Gees vernuwe moet word.

Dit blyk ook uit die laaste woorde van die teks: “En leer
hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Dissipels van Christus, gelowiges, belydende lidmate van die kerk
moet blykbaar almal nog leer. Jy kan dan wel belydenis gedoen het,
aan die Nagmaal deelneem, maar jy het nog voortgaande onderwys
nodig. Die nuwe lewe in Christus moet nog steeds groei. Jy moet
bly groei in die verstaan van die Skrifte maar ook in die
toepassing daarvan in jou daaglikse lewe, in die Christelike
lewenswandel. Daarom is dit nie so dat lidmate van die kerk
dieselfde vlak van kennis van en insig in die Skrifte het nie.
Ook nie dat alle gelowiges dieselfde dinge doen of nie doen nie.
Wat ons verenig is nie gelyke insigte en gelyke gedrag nie, maar
’n gemeenskaplike toewyding aan die Here Christus en ’n
onderwerping aan Christus se nadere onderrig in die gemeenskap
van die kerk. Sodat jy mag groei in die kennis van die Here en sy
wil en so ook in die doen van sy wil.

Laat ons, gemeente, dit onthou wanneer ons saam die Nagmaal
vier. Ons kan so verskillend wees, wat agtergrond en kennis
betref, maar hier aan die Nagmaal mag ons ons eenheid in Christus
vier. Ons is sy dissipels, ons behoort aan God die Vader, God die
Seun en God die Heilige Gees en deur sy nader onderrig groei ons
saam in die kennis van Hom en in gehoorsaamheid aan Hom. Daarom
sal daar altyd verskille wees in die gemeente, verskille in
insigte, verskille in lewenswandel. God loop met elkeen ’n
eie pad. Elkeen het in sy lewe sy eie stryd teen sekere sondes en
swakhede. Laat ons mekaar dan nie veroordeel nie, maar langs
mekaar gaan staan as medegelowiges sodat ons saam kan groei op
pad na die volmaaktheid toe. Juis aan die Nagmaal word ons
teruggeroep na die basis toe, na Christus toe, en word geroep om
saam verder te gaan op pad na sy groot dag wanneer God eindelik
werklik alles in almal sal wees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)