Die HERE God lei Rut die Moabiet na Homself en na sy volk toe

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-08-06
Text: 
Rut 1
Preek Inhoud: 

Rut 1:7-22

Ds C Kleijn - Sondag 6 Augustus 2006

Lees: Rut 1.
Sing: Ps 96:1,2,5; Ps 119:1,4; Ps 37:2-5; Ps 87;
Ps 145:10-12.

Tema: Die HERE God lei Rut die Moabiet na Homself en
na sy volk toe

  1. Ondanks Naomi se versoeking
  2. Danksy Sy genade

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die dae van die Rigters gebeur daar iets wat baie
verrassend en wonderlik is. Die Heilige Gees het dit vir ons in
die boek Rut vasgelê. Rut, ’n Moabiet, ’n heiden van
geboorte, kom tot geloof in die HERE. Sy voeg haar by God se volk.
Sy word ingelyf in die kerk. Ja, sy ontvang selfs die voorreg om
een van die voorouers van ons Here Jesus te word.

Die teks beskryf haar radikale keuse. Rut breek met Moab en sy
gode om haar aan te sluit by Israel met sy enigste ware God.

Ek verkondig vir julle:

Die HERE God lei Rut die Moabiet na Homself en na sy volk toe

  1. Ondanks Naomi se versoeking
  2. Danksy Sy genade

Broer, suster, wanneer jy kies om die Here saam met sy volk te
dien, dan kan jy versoekings/aanvegtings verwag. Wanneer jy jou
by die kerk wil aansluit, kan jy verwag dat Satan sal probeer om
dit moeilik vir jou te maak. Satan laat jou nie sommer gaan nie.
Hy doen alles in sy vermoë om te verhinder dat jy die Here na sy
woord dien en dat jy jou by sy volk aansluit. Rut het dit ervaar.
Op pad na God en sy volk toe, het Satan haar swaar in versoeking
gebring. Hoe het hy dit gedoen? Deur wie kom die versoeking
dikwels? Deur mense wat naby jou staan, jou familie of vriende.
In hierdie geval kom die versoeking van niemand minder as van Rut
se liewe skoonma, Naomi.

Dit het mooi begin. Gelok deur die goeie nuus dat die Here
weer na sy volk omgesien het, deur hulle brood te gee, gaan Naomi
op pad om na Juda terug te keer. Haar twee skoondogters gaan saam
met haar. Alle drie is dus besig om Moab te verlaat om na Kanaän
die beloofde land te gaan.

Terwyl hulle egter op pad is, sê Naomi vir Orpa en Rut:
“Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die
Here sy guns aan julle bewys.” Wat moet ons van hierdie
woorde van Naomi dink? Soek sy die beste vir haar skoondogters?
So lyk dit wel. Daar was duidelik ’n hegte band van liefde
tussen Naomi en haar skoondogters. Spontaan gaan Orpa en Rut saam
met Naomi op pad na Kanaän toe, vir hulle ’n vreemd land.
En kyk hoe hulle Naomi wil vashou. Wanneer Orpa uiteindelik
besluit om na Moab terug te keer, is hulle diep in trane. Daar
moet dus wel ’n liefdevolle verhouding gewees het.

Wanneer jy let op wat Naomi vir haar skoondogters sê, dan lyk
dit inderdaad daarop dat sy oor hul toekoms bekommerd is. Sy dink
dat Kanaän niks vir hulle te bied het nie. Laat hulle terugkeer
na Moab. “Mag die Here vir julle elkeen weer ’n goeie
man en ’n heenkome gee.” Sy wil hê dat hulle weer
gelukkig getroud mag wees – die ideaal vir kinderlose
weduwees. En in Kanaän lyk dit vir hulle onmoontlik te wees.
Naomi het geen ander seuns nie. Die wet van die leviraatshuwelik
lyk in hierdie geval geen uitsig te bied nie. Met die wet bedoel
ons die verpligting van die broer van ’n kinderloos gestorwe
man om met die se weduwee te trou. Naomi het geen seuns meer nie.
Sy is te oud om nog kinders te kry en ook al sou sy nog seuns kry,
kan haar skoondogters nie vir hulle wag nie. Nee, die pad lyk
dood te loop. Sou Orpa en Rut na Kanaän gaan dan sou hulle,
volgens Naomi, daarop moet reken dat hulle kinderlose weduwees
sal bly.

Bowendien, wat baat dit hulle om by Naomi te bly? Is die hand
van die Here nie teen haar nie? Wil hulle dan deel in verdere
moeite en verdriet? Naomi gun hulle ’n gelukkige toekoms.
Daarom spoor sy hulle aan om na hul vaderland terug te keer.

Dit klink baie verstandig. Dit klink self godsdienstig.
“Mag die Here sy guns aan julle bewys ....Mag die Here vir
julle elkeen weer ’n goeie man en ’n heenkome gee.”
Kan sy iets beters aan haar skoondogters, daardie jong kinderlose
weduwees, toewens? En dit van die Here?

Tog geliefdes, ondanks al haar goeie bedoelings, tree Naomi
hier op as ’n instrument van Satan. Wanneer sy Orpa en Rut
aanspoor om na Moab terug te keer, is sy besig om hulle in
versoeking te bring. Dit kan wees dat Naomi uit liefde so praat.
Maar sy praat nie uit die geloof nie. Luister maar goed na wat sy
eintlik sê. Sy fokus net op die aardse en tydelike geluk van
haar skoondogters: ’n huwelik, ’n gesin, ’n
sorgelose lewe. Dinge wat hulle volgens Naomi nie in Kanaän sal
vind nie, maar net in Moab.

Naomi vergeet twee dinge.

In die eerste plek vergeet sy dat Kanaän iets vir hierdie
jong weduwees te bied het wat meer werd is as al die skatte van
hierdie wêreld. Kanaän is die heilige land waar die Here God
onder sy volk woon. Kanaän bied vir hulle gemeenskap met die
Here en met sy volk. Deur hulle huwelik het hulle reeds bande met
daardie volk van God. Hulle het in die familie van Elimeleg
ingetrou. Hulle het ook reeds besluit om daardie bande permanent
te maak deur met Naomi na Kanaän te vertrek.

Pleks om dit aan te moedig en die jong vroue daaraan te
herinner dat die heil in Kanaan by die Here te vinde is, rig
Naomi al haar aandag op hul materiële welsyn. Sy sit baie druk
op hulle om terug te keer Moab toe terwille van hul materiële
welsyn. Sy redeneer op ’n volkome humanistiese manier.
“Gaan terug na Moab” beteken feitelik: gaan terug na
jul heidense plek van afkoms, die land van die god Kemos. Soek
jou heil buite die kerk. Trou en vorm ’n gesin buite die
Here God. Gestel dat jy vir iemand wat hom of haar by die kerk
wil aansluit sê: “Nee, doen dit nie. Die kerk bestaan net
uit ’n klomp sondaars. Los die kerk uit. Jy kan baie
gelukkiger wees in die kring van jou familie en vriende, by al
die moderne afgode.” Dit sou neerkom op geestelike selfmoord.
Want buite God en sy kerk is daar geen saligheid nie. Wat ’n
verskriklike advies van Naomi. Hoe durf sy om die belangrikste
ding in die lewe te ignoreer, naamlik die gemeenskap met die
lewende God en sy volk.

Naomi vergeet ook dat aardse en tydelike welvaart nie iets is
wat ’n mens in sy eie mag het nie. Dis in die hande van God.
Wie sê dat Kanaän geen materiële welsyn vir hierdie weduwees
te bied het nie? Wie weet wat die Here hulle nog in Kanaän kan
gee indien hulle op Hom vertrou en hulle by God se volk aansluit?
Het die Here sy volk nie rus en voorspoed in die land Kanaän
belowe nie? Kanaän word selfs die land van die rus genoem. Daar
het die Here belowe om sy volk sy guns te wys. Hoe dwaas is dit
om te dink dat daardie vrouens in die heidense land van Moab
beter af sou wees as in die beloofde land Kanaän.

Gemeente, die wyse waarop dinge vir Rut in Kanaän ontwikkel
het, wys hoe verkeerd Naomi was in haar humanistiese en wêreldse
denke. Het Rut nie ’n goeie man in Kanaän gevind nie? Het
sy daar nie ’n kind en voorspoed ontvang nie? Met ander
woorde: was Rut nie in alle opsigte beter af in Kanaän as Orpa
ooit in Moab sou wees nie?

Ja, dit kan waar wees dat Naomi haar advies om na Moab terug
te keer uit liefde gegee het. Maar groter as die liefde was haar
ongeloof. Sy ontken die geestelike skatte van die volk van God.
Ook al besef sy dit nie, sy tree op as ’n instrument van
Satan om hierdie vrouens te versoek om na die heidendom terug te
keer. Sy moes hulle bemoedig het met woorde soos: Kom, laat ons
saam die Here en sy volk soek. Laat ons onsself voor Hom verneder
en ons toekoms aan sy sorg toevertrou. By Hom is dit mos in goeie
hande! Pleks daarvan word sy ’n struikelblok op pad na God
se beloofde land. En Orpa val daarvoor. Die druk word te groot.
Sy kan die versoeking nie langer weerstaan nie en gaan terug na
Moab toe, terug na haar volk en haar gode. Menslikerwys gesproke
is Naomi die oorsaak van ’n terugval in die heidendom. Deur
haar woorde van ongeloof is Naomi verantwoordelik vir die
geestelike verderf van Orpa. Sy het haar van God weggedryf.

Gemeente, laat ons egter onsself nie bo Naomi verhef nie en
dink dat iets dergeliks ons nooit sal oorkom nie. Hierdie
geskiedenis wys dat as ek nie uit die geloof praat en optree nie,
ek ’n slegte invloed is vir hulle rondom my, vir my kinders,
familie en vriende, ook vir hulle wat moontlik op pad is na die
Here en sy kerk toe. As ek nie vanuit die geloof redeneer nie,
maar my deur wêreldse motiewe laat lei, kan ek die oorsaak wees
van die geestelike ondergang van ander.

Naomi is soos ’n liefdevolle pa en ma wat alles wil doen
om die lewe van hul kinders gerieflik en plesierig te maak, ten
koste van hul geestelike welsyn. Jy wil dat hulle ’n goeie
maatskaplike posisie bereik, jy bemoedig hulle om hard te studeer,
om aktief by sport betrokke te wees en om ook deeltydse werk te
doen. Dit bevorder mos hul maatskaplike posisie en hul
vooruitsigte. Dit kan egter gebeur dat daar dan geen tyd is vir
bybelstudie en dat hul gebedslewe verkwyn onder die werksdruk. En
die ouers lyk nie daaroor bekommerd te wees nie. Hulle is trots
op hul seun of dogter wat so aktief en suksesvol is. Solank as
hul kind maar ’n goeie maatskaplike posisie kan bereik. Ja,
hierdie oorbeklemtoning van materiële welvaart ten koste van die
geestelike welvaart bly ’n reële versoeking ook in ons
midde. Ek kan so besig wees met allerlei aardse en materiële
dinge, my werk, my loopbaan, my sport, my huis, my stokperdjies,
my rekenaar, my TV ens, dat die vraag gestel kan word, en dit is
goed om soms stil te staan en die vraag vir jouself te stel: waar
kom God in die prentjie? Wat is die belangrikste in my lewe?
Waarop is ek gefokus? Is my verhouding tot God en sy volk werklik
nog die belangrikste in my lewe? Sodat alle ander keuses daaraan
ondergeskik is?

En as daar oor emigrasie gepraat word, wat is dan die
belangrikste dryfveer om die land waarin jy grootgeword het en
die gemeenskap waarin God jou ’n plek gegee het, te verlaat?
Word as prioriteit ook gedink aan God se belange, waar en hoe jy
Hom die beste kan dien saam met sy volk? Indien ek net sou fokus
op materiële welsyn en daarvoor bereid sou wees om geestelik in
die woestyn tereg te kom, is ek dan nie soos Naomi besig nie?
Hier kom die woorde van Christus in gedagte: Soek eers die
koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge (dws jul
lewensonderhoud) sal vir julle bygevoeg word (Mt 6:33). Naomi het
teenoor haar skoondogters nie voorrang aan God se koninkryk en
wil gegee nie, maar aan hul aardse behoeftes. Maak ek my en jy
jou ook nie dikwels skuldig aan dieselfde sonde nie? Dit is
geestelike selfmoord, ’n terugkeer na die wêreld met sy
gode, ’n keuse vir Moab pleks vir Kanaän.

Pasop vir die wêreldse benadering van Naomi, hoe vroom dit
ook al mag klink. So ’n benadering pas Satan uitstekend. So
kan hy mense mooi in sy greep kry of hou. Stel jou vertroue op
die Here en hou dit ook aan ander rondom jou voor. Wys in woord
en daad dat jou verhouding met God die belangrikste is. Bly Hom
soek waar Hy hom laat vind. Verenig jou met vreugde met God se
volk. Want daar wil die Here sy seën gebied. Daarom lei die Here
Rut die Moabiet na Homself en na sy volk toe, ondanks Naomi se
versoeking – dit was die eerste gedagte van die preek - maar
ook danksy God se genade - dis die tweede gedagte.

Een skoondogter gaan terug na Moab toe. Orpa val vir Satan se
versoeking. Dit maak die versoeking vir Rut nog groter. En Naomi
onderstreep dit: “Kyk jou skoonsuster het omgedraai na haar
volk en na haar gode toe; draai om agter jou skoonsuster aan!”
Rut staan voor ’n baie moeilike keuse. Sal sy volhard? Dan
hoor ons die wonderlike woorde van hierdie Moabitiese vrou:

“Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u
om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef,
sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. Waar u
sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan
my doen en so daaraan toedoen—net die dood sal skeiding maak
tussen my en u.” (Rut 1:16-17)

Wat ’n wonder! Dis ’n wonder deur God bewerk, God
wat Hom ontferm oor wie Hy Hom wil ontferm. Orpa en Rut was albei
op pad van Moab na Kanaän toe. Een gaan terug Moab toe, die
ander weier om terug te gaan. Rut se keuse is nie ’n
natuurlike keuse, iets wat uit haarself opkom nie. Dit gaan
immers teen vlees en bloed in. Dit hang nie af van die mens se
wil of inspanning nie, maar van God wat barmhartig is (Rom 9:16).
Rut kies uit oortuiging. Sy het reeds haar pa en ma verlaat om
die seun van Elimeleg aan te kleef. So het sy deel van Elimeleg
se gesin geword. Die dood van haar man verander dit nie. Volgens
die gewoonte van daardie tyd behoort sy tot Elimeleg se familie.
Nou haar man oorlede is, hou sy vas aan Naomi haar moeder. Sy wil
onder alle omstandighede by Naomi bly, watter gevolge dit ook al
mag hê. Wanneer ’n mens haar woorde lees, dan val die
nadruk op haar verhouding met Naomi. Sy wil by Naomi bly. So wil
sy deel van Naomi se volk wees en Naomi se God dien. In die
konteks van haar trou aan Naomi sê sy daarom: “u volk is my
volk, en u God is my God”. Moenie te veel in hierdie woorde
lees nie, asof dit ’n bewuste publieke belydenis van haar
geloof in God is. Rut wil daarin net uitdrukking gee aan haar
lojaliteit teenoor Naomi en dit impliseer – volgens die
denke van daardie tyd – dat sy ook haar volk en haar God
aanneem.

Tog is dit wel duidelik dat Rut in die Here God glo. Dis
duidelik uit die feit dat sy volhard terwyl Orpa beswyk onder die
druk wat op haar geplaas word. Maak nie saak hoe groot die
versoeking is nie, Rut is vasbeslote om met Naomi verder te gaan
na Kanaän toe. Rut se geloof word ook gewys daarin dat sy in die
naam van die Here, haar nuwe God, sweer.

Wat ’n wonder! Tot nou toe het sy niks positief van die
Here God gesien nie. Die mense rondom hulle, wat die Here gedien
het, het in haar land een na die ander gesterwe. Drie weduwees is
agtergelaat sonder kinders. Wat kon sy nog van die Here God
verwag? Nee, volgens Naomi het sy niks om van hierdie God en volk
te verwag nie. Maar Rut gryp Naomi vas en weier om terug na Moab
en sy gode te gaan. Wat ’n wonder! Na alles wat sy
deurgemaak het en teenoor die geweldige druk wat Naomi op haar
geplaas het om terug te keer, hou sy vol. ’n Wonder van God.
’n Wonder wat deur ’n nuwe wonder gevolg sal word. Rut
sal nie in Kanaän lewend begrawe word nie, soos Naomi
gesuggereer het, maar sy sal daar moeder word, ’n voorouer
van ons Here Jesus Christus.

Geliefdes, vol selfverloëning sit Rut haar reis na Kanaän
voort saam met Naomi. ’n Moedige daad. Iets wat Naomi en
haar volk moes gewaardeer het. Maar wat ’n teleurstelling
wanneer sy in Betlehem aankom. Die vroue nader hulle met
afkeurende blikke en woorde: Dis mos Naomi. Kyk wat van haar
geword het. ’n Ou weduwee, kinderloos en arm. Waar is die
verwelkoming gemeente, die gemeente wat sy blydskap uitspreek oor
die terugkeer van een van hulle? Waar is die gemeente wat Rut,
wat van buite kom en haar by hulle wil aansluit, verwelkom? Waar
is die gemeente wat Naomi en Rut vertroos en bemoedig met God se
beloftes? Aanvanklik ervaar hulle niks daarvan nie. Hulle word
eerder neergehaal as opgebeur.

En Naomi se reaksie is ook baie ontmoedigend vir Rut. Sy sê:
“Noem my nie Naomi (lieflikheid) nie; noem my Mara (bitterheid).”
Daar is geen lieflikheid in haar lewe oor nie, dis net bitterheid.
“Want die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen. Vol
het ek weggetrek, maar leeg het ek teruggekom. Waarom sou julle
my Naomi noem, terwyl die Here teen my getuig het en die
Almagtige my kwaad aangedoen het?” Dis waar, sy herken God
se hand in wat met haar gebeur het. Maar is dit ’n nederige
belydenis van skuld? Dit klink meer soos ’n aanklag teen God.
’n Pragtige voorbeeld vir Rut langs haar!? Bowendien, dis
nie eers waar wat sy sê nie. Het sy werklik vol weggetrek? Het
sy nie uit nood Kanaän verlaat om in Moab voedsel te vind nie?
En het die Here haar leeg laat terugkom? Wat van Rut die Moabiet
langs haar? Iemand van buite wat die Here wil dien. Hoe sou jy
voel om sulke woorde van jou skoonma te hoor, terwyl jy jou lewe
aan haar en aan haar God gewy het – leeg het die Here my
laat terugkom. Het sy werklik niks oor nie?

Nee, Rut se ontvangs, verwelkoming in Betlehem is allermins
bemoedigend. Daar is net een wat wel iets goeds het om te sê.
Dit is die Here God. Terwyl Rut Betlehem nader, deur die velde,
verwelkom die Here haar. Deur die oes op die land. Wanneer jy dit
vergelyk met die hongersnood toe Naomi weggetrek het, is hierdie
oes ’n duidelike teken van God. God het sy volk weer sy guns
bewys. Dit is God se voorsiening vir twee arme weduwees wat uit
Moab terugkeer. Naomi keer terug na die enige ware God saam met
’n Moabiet. Rut is ’n voorspel op Pinkster, op die
bekering van mense uit alle volke en tale. Deur die oes groet die
Here haar: welkom tuis onder die skaduwee van my vleuels.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)