Uit genade red die Here ’n ontroue geslag

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-07-23
Text: 
Rut 1
Preek Inhoud: 

Rut 1:1-6

Ds C Kleijn - Sondag 23 Julie 2006

Lees: Rut 1:1-6; Deuteronómium 28:1-24.
Sing: Ps 57:1,2; Ps 38:1,15,17; Ps 105:2,3; Ps
73:1,10; Ps 73:11,12.

Tema: Uit genade red die Here ’n ontroue geslag

  1. Elimeleg se ontrou
  2. God se oordeel
  3. God se genade

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die Bybelboek Rut verplaas ons na die tyd van die Rigters. Wat
het daardie periode gekenmerk? Jy kan dit in die laaste vers van
die boek Rigters lees. Ek siteer: “In die dae was daar geen
koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.”
Dit klink nie goed nie. Elkeen doen wat reg is in sy eie oë. Dis
duidelik dat dit nie dieselfde is as wat God reg noem nie.
Wanneer elkeen doen wat reg is in sy eie oë, dan kry jy anargie,
’n volslae wanorde. Dan sien jy verskriklike dinge gebeur.
Dink aan die afskuwelike verhaal van die Leviet en sy byvrou wat
lei tot die stamoorlog van die Israeliete teen die Benjaminiete (Rigters
19,20). Dis wat gebeur wanneer elkeen doen wat reg is in sy eie
oë. Die samelewing gaan sy ondergang tegemoet. Die volk van God
is geen uitsondering hierin nie. Dis hoe dit gaan in die tyd van
die Rigters. As God nie meer as rigters gee nie, sal Israel
hopeloos verlore wees.

Maar God het meer in gedagte. Hy wil sy volk ’n koning
gee, een wat aan die anargie ’n einde sal maak en aan sy
volk weer vrede sal gee. Aan die einde van die boek Rut val die
naam Dawid op. Dawid, die koning na God se hart. Daardie koning
verskyn nie sommer so nie. Nee, God is lank tevore reeds besig om
die weg vir hom voor te berei.

Dis, broers en susters, hoe julle die boek Rut moet lees.
Moenie dit net as ’n familie roman lees nie. Lees dit as
’n boek van God. ’n Boek waarin God sy trou en almag
wys. Terwyl elkeen doen wat reg in sy eie oë en net sy eie
belange soek, soek God die heil vir sy volk. Deur die
oorgrootouers van die toekomstige koning by mekaar te bring.
Voorouers van Dawid en van Dawid se groot Seun, ons Here Jesus
Christus. So moet jy dan hier God aan die werk sien, besig om jou
heil voor te berei.

In ’n tyd van massale ontrou onder God se volk, bewys God
dat Hy die getroue is waarop jy kan staatmaak.

Ek vat die teks soos volg saam: Uit genade red die Here
’n ontroue geslag.

  1. Elimeleg se ontrou
  2. God se oordeel
  3. God se genade

In die dae was daar hongersnood in die land. Selfs in Betlehem,
wat letterlik huis van brood beteken, is daar ’n tekort aan
brood. Elimeleg en sy gesin ervaar die nood. Vanweë die
hongersnood besluit Elimeleg om saam met sy gesin weg te trek om
as vreemdeling in die land van Moab te woon. Die plan is dus nie
om permanent daar te bly nie. Nee, dit sal net tydelik wees
totdat die situasie in Juda beter is.

Gemeente, dis tog niks besonders nie? Hongersnode het meermale
voorgekom. Abraham het dit reeds tydens sy verblyf in Kanaän
ervaar. So ook Isak en Jakob. Hulle het toe vir kos na Egipte
getrek. Hongersnood in Kanaän blyk dus nie uitsonderlik te wees
nie.

Die keuse van Elimeleg om sy toevlug buite die land te soek in
Moab lyk op die eerste gesig ook nie so ’n slegte idee nie.
Hy moet tog vir sy gesin sorg? En in Moab is daar blykbaar
voldoende kos. Waarom sou hy dit nie doen nie? Ons emigreer
vandag tog ook rustig na ’n ander land as ons omstandighede
daartoe aanleiding gee?

Maar gemeente, as jy in die lig van God se woord na hierdie
geskiedenis kyk, dan kom jy tot ’n ander konklusie. Die
hongersnood in God se beloofde land was nie net ’n gewone
hongersnood, vergelykbaar met armoede of werkloosheid in Suid
Afrika nie. Die hongersnood was nie net ’n natuurlike
verskynsel nie. Dit het van God gekom. En God het iets daarvan
gesê net voordat Israel die land Kanaän binnegetrek het. Ons
lees daarvan in Deut 28. Die Here het gesê: “As jy dan goed
luister na die stem van die Here jou God ... dan sal die Here jou
God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. ...
Geseënd sal jy wees in die stad en geseënd sal jy wees in die
veld. ... Die Here sal die goeie aan jou oorvloedig gee in die
vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte
van jou land, in die land wat die Here aan jou vaders met ’n
eed beloof het om aan jou te gee.”

Dit het die Here belowe. As Israel aan die Here getrou sou bly,
sou hulle in Kanaän voorspoedig wees en van oorvloed geniet. En
wanneer die Here iets belowe dan kom Hy dit na. Hoekom dan
hierdie hongersnood in die beloofde land?

Behalwe dat God sy beloftes gegee het, het Hy ook sy vloek
uitgespreek oor ongehoorsaamheid. Ek siteer: “Maar as jy nie
luister na die stem van die Here jou God ... nie, dan sal al
hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. Vervloek sal jy wees in
die stad, en vervloek sal jy wees in die veld. ... Vervloek sal
wees die vrugte van jou land.”

Daarom, gemeente, wanneer daar hongersnood in die beloofde
land is, is dit geen gewone hongersnood nie. Dit kan net ’n
vloek van God wees vanweë ongehoorsaamheid aan die kant van sy
volk. Elimeleg kon dit geweet het. Wat moes Elimeleg dan in
daardie situasie gedoen het? Hy moes homself saam met sy
volksgenote verneder het onder die magtige hand van God. Dis wat
die Here ook in sy wet bepaal het. Hy het gesê: “En as al
hierdie dinge oor jou kom ... en jy jou tot die Here jou God
bekeer en na sy stem luister ... dan sal die Here jou God jou lot
verander en Hom oor jou ontferm (Deut 30:1-3). Elimeleg moes hom
voor God verneder het en hom in geloof en bekering aan God se
vaste beloftes toevertrou het. Maar wat doen hy? Hy gaan Moab toe.
Hy probeer om aan die magtige hand van God te ontsnap. Hy loop
daarvan weg.

Buitendien, wat doen Elimeleg om die beloofde land te verlaat,
om na Moab, die land van God se vyande, waar hulle die afgode
dien, te trek? Jy kan Elimeleg se vertrek na Moab nie vergelyk
met die emigrasie van Suid Afrikaners na ander lande nie.
Elimeleg het in ’n besondere land gewoon, die beloofde land.
En dit kan jy nie van Suid Afrika sê nie. God het daardie
spesiale land aan sy volk as erfdeel gegee. En Hy het daardie
land verdeel onder die verskillende stamme en families. Elimeleg
het sy eie familie grond wat hom deur God gegee is. Elimeleg het
duidelike beloftes van God gehad betreffende daardie land. God
sou vir hom en sy gesin sorg indien hy Hom getrou sou dien. Wat
’n belediging van God is dit dan, dat Elimeleg sy God gegewe
familie besit verlaat om ’n beter lewe te soek onder die
heidene wat nie sulke beloftes ontvang het nie. God het sy volk
tog nie verniet uit Egipte bevry nie?

Elimeleg sy verhuising na Moab beteken feitelik dat Hy hom aan
die kerk onttrek. Daardie tyd was die kerk beperk tot een nasie:
die volk van Israel. Daar het God in sy genade gewoon. Daar wou
Hy gedien wees. Israel mog nie met die heidense nasies rondom
hulle meng nie. Maar nou onttrek Elimeleg hom van Israel om na
Moab te gaan. Hy onttrek hom aan die kerk om hom onder die
heidene te vestig. Sy materiële welsyn is belangriker vir hom as
sy geestelike welsyn, as die gemeenskap met God en sy volk.
Elimeleg sal dit dalk nie erken nie. Hy het eerbare redes vir sy
vertrek. Hy het ’n verantwoordelikheid teenoor sy gesin. En
hy beplan om net tydelik te gaan, solank as die nood nog groot is.
Bowendien, hy wil nie met die Moabiete meng nie. Hy sal as
vreemdeling daar bly.

Die alles klink mooi, maar in daardie konkrete situasie is dit
tog ongehoorsaamheid aan God. Hy weier om op God en sy beloftes
te vertrou. In ongeloof redeneer hy: jy kan tog nie van God se
beloftes leef nie? Nee, jy moet jou lewe in jou eie hande neem en
jou toekoms self verseker, ook al is dit miskien nie heeltemal
volgens God se wil nie. Jy moet tog eet? Nood breek wet, sê
mense vandag. As jy in nood is, kan jy jou nie aan dit wat reg is,
steur nie, maar moet jy enige moontlikheid aangryp. Maar, broers
en susters, wanneer het God ons toestemming gegee om tydelik te
sondig? Wat die nood betref, waar het God ons toestemming gegee
om te sondig in ’n situasie van nood? Het Hy nie inteendeel
ons geleer: “Roep my aan in die dag van benoudheid: Ek sal
jou uithelp en jy moet My eer” Ps 50:15. Israel se
geskiedenis kon Elimeleg wel geleer het om anders te handel.

Daarom is Elimeleg se trek na Moab sonde. ’n Sonde wat
onder God se volk baie frekwenter voorkom, ook al is dit dan
onder ander omstandighede. Wanneer kos, geld, die magtige dollar
of rand, in geding is, dan sien jy kerkmense so te sê vertrek
van Kanaän na Moab. Jy dink dan dat die nood jou toestemming gee
om dinge te doen wat nie heeltemal reg is nie. Wat kan jy met jou
geloof doen by die werkplek, in die besigheidswêreld, wanneer jy
besig is om jou eie posisie op te bou? Hoe help God se beloftes
jou wanneer jy besig is om jou huis of besittings op te bou?
’n Bietjie van die wêreld, van die wêreldse metodes is tog
wel handig. Dit kan jou help om jou kop bo water te hou en om
jouself van ’n goeie bestaan te verseker. Moab pleks van
Kanaän. Vertroue op jou eie planne pleks om jouself aan God se
sorg toe te vertrou. ’n Poging om weg te kom onder God se
magtige hand vandaan – in ’n tyd van krisis –
pleks om jou onder sy hand te verneder. Dinge doen waarvan jy
weet dis vir God onaanvaarbaar, pleks om God se weë te volg wat
die gevolge ook al mag wees.

Hierdie sonde kom nog steeds onder God se volk voor. Dit is
feitelik afgodery: dat jy jou vertroue op tydelike en sigbare,
materiele dinge stel, pleks van of naas God, ook al sou jy dit
dalk nooit erken nie. Dit ’n pad wat doodloop. In die geval
van Elimeleg het dit selfs letterlik doodgeloop. Dis waarop ons
in die tweede punt wil let: God se oordele.

Wanneer Elimeleg hom in Moab vestig, laat die Here hom nie los
nie. Die Here wys dat jy nie van Hom kan wegkom nie. Die lewe
sonder Hom is geen lewe nie, dit loop dood.

Aanvanklik het dinge in Moab goedgegaan. Maar dit was net
tydelik. Na ’n rukkie – hoe gou weet ons nie, (na 1,2
of 3 jaar?) sterf Elimeleg. Ja, God laat hom sterwe. Wat ’n
tragedie. Die man wat Kanaän verlaat het om sy lewe te red,
verloor in Moab sy lewe. Die man wat na Moab verhuis het om vir
sy vrou en kinders te kan sorg, laat hulle alleen agter in
’n vreemde land. Selfs met ’n oorvloed aan kos is die
lewe nie veilig nie. Die man wat sy toekoms in sy eie hande
geneem het, het sy toekoms en dit van sy gesin verwoes. Die
aardse sekerhede wat Hy gesoek het, blyk sonder ’n soliede
fondament te wees. Ja, feitelik het hy die vaste fondament
verwyder deur God se beloftes te ignoreer. Wat ’n pynlike
les vir sy vrou en kinders.

Leer hulle daarvan? Dit lyk nie so nie. Die seuns sit die
sonde van hul vader voort. Hulle gaan selfs ’n stap verder.
Elimeleg het waarskynlik nog goeie intensies gehad. Hy wou net
tydelik in Moab bly as ’n vreemdeling, om later weer na sy
erfenis in die beloofde land terug te keer. Hy wou nie met die
Moabiete meng nie. Maar die seuns dink nie meer aan afsondering
en vreemdelingskap nie. Die sonde van die vader lei tot nuwe
sondes by die kinders. Elimeleg het die grens van die beloofde
land oorgesteek. Sy seuns neem dit ’n stap verder en
verwyder die grens. Dis hoe dit dikwels in die lewe gebeur.

Die seuns raak gewoond aan wat hulle in Moab sien. Die
goddeloosheid van die Moabiete bekommer hulle nie meer so baie
nie. Wanneer hulle dan Moabietiese meisies ontmoet, het hulle
geen probleem daarmee om met hulle te trou nie. Ja, hulle verbind
hulleself vir die lewe aan hierdie Moabietiese meisies wat hulle
liefgekry het. Dink hulle nog daaraan om na hul erfenis in Israel
terug te keer? Waarskynlik nie. Hulle het nou Moabietiese vroue
en hulle maak hulle tuis in hul nuwe land. Die verbond met God en
sy volk weerhou hulle nie en dryf hulle nie terug nie. Hulle is
bes gelukkig waar hulle nou is. Dit gaan van kwaad tot erger.
Sonde lei tot sonde.

Ja, geliefdes, dis hoe dit vandag nog gaan. Die begin lyk
dikwels redelik onskuldig. Net ’n bietjie verslapping in
gebed, in bybellees, in die besoek van die eredienste. Net
’n bietjie met die wêreld saamdoen. Net so nou en dan
toegee aan die attraksies van die sonde. Met ’n skuldige
gewete. Maar die druk word te groot. Jy het geweet hoe ver jy kon
gaan. Maar jy het die sonde in jou eie hart en die mag van die
sonde vergeet. Na ’n rukkie voel jy jou redelik op jou gemak
in die wêreld. Jou gewete pla jou nie meer baie nie. Jou kinders
trek die gevolge. Hulle neem dit ’n stap verder. Hulle word
nog meer wêrelds. Pa en ma het hoogstens net een keer kerk toe
gegaan. Hulle gaan heeltemal nie meer kerk toe. Pa en ma was nie
baie getrou in hul huisgodsdiens nie, die kinders los dit
heeltemal. Pa en ma was nie te nougeset in die doen van die wil
van die Here in hul daaglikse lewe nie; hulle doen heeltemal hul
eie ding. So gaan dit met die sonde, tensy God in sy genade
ingryp.

Daarom, laat ouers gewaarsku wees. Weerstaan die bose vanaf
die begin. Sodat jy en jou kinders nie daarin vasgevang raak nie.
Sodat jy nie God se oordeel oor jou en jou kinders uitroep nie.

Elimeleg en sy gesin het daardie oordeel ervaar. Elimeleg het
gesterwe. Die seuns gaan voort op die sondige pad en trou
heidense vroue. Dan gryp God opnuut in. Nee, hy straf hulle nie
onmiddellik met die dood nie. Hy gee hulle nog ’n aantal
jare. Maar die Here laat hulle voel dat ’n huwelik sonder
Hom vrugteloos is. Hy weerhou die kinderseën. As dit nie
verander nie, sal daardie geslag uitsterf.

En dan – wat ’n tragedie – sterf ook altwee die
seuns in Moab. Naomi bly agter sonder man en sonder kinders. Die
Here is grondig in sy werk, ook in sy oordele. Jy kan nie van Hom
wegkom nie. Drie weduwees rou in Moab. Al hul hoop en verwagting
is weg. Die gesin wat Kanaän verlaat het om God se oordeel
– sigbaar in die hongersnood – te ontvlug, word in Moab
getref deur ’n nog groter oordeel. Al die manne sterwe
sonder kinders. Dit lyk die einde te wees van daardie geslag in
Israel.

Maar geliefdes, God se oordele is nie die laaste ding wat ons
mbt hierdie gesin en geslag kan sê nie. Dit bring ons by die
derde punt: God se genade.

Waarom laat God die gesin in Moab doodloop? Is dit net om
hulle te straf vir hul ontrou teenoor Hom? Die Here stuur sy
oordele om die weg vir sy genade te baan. Die Here gee om vir
hierdie gesin. Hy wil nie hê dat dit uit die rol van sy volk
verdwyn nie. Die Here wil daardie gesin terug in Kanaän hê,
onder sy volk. Daarom laat Hy alles in Moab doodloop. Die seuns
het hulle daar gevestig. Hulle het daar getrou. As hulle daar
kinders sou gekry het, sou hulle dan ooit na Kanaän teruggekeer
het? Dit sou in ieder geval minder waarskynlik geword het. Die
seuns het Naomi verhinder om terug te keer. Daarom, wanneer God
die kinderseën weerhou en die seuns deur die dood tref, is Hy
besig om Naomi en so ook daardie geslag te trek, terug na homself
toe en terug na sy volk toe. Hoe wonderlik is God se genade te
midde van sy oordele.

Wanneer Naomi sonder man en kinders agterbly, groei die
verlange om na Kanaän, na Betlehem terug te keer. Deur sy
oordele het God al die hindernisse wat haar aan Moab verbind het,
weggeneem. In daardie situasie hoor Naomi dan die goeie nuus dat
die Here op sy volk ag gegee het deur aan hulle brood te gee. God
sorg daarvoor dat daardie goeie nuus sy verlore skaap in Moab
bereik. Deur die goeie berig roep God haar terug huis toe. Ook al
was die gesin ontrou aan Hom, God wys sy genade. God roep Naomi
weg van die hopelose situasie, terug na Betlehem toe.
Menslikerwys gesproke was daar niks meer wat jy van daardie gesin
kon verwag nie. Maar God doen groot dinge juis in daardie gesin.
Hy berei die weg vir die Christus. Naomi keer terug na Betlehem
saam met Rut haar skoondogter. En Boas neem Rut tot sy vrou. Boas
verlos Elimeleg se geslag. Die gesin bly opgeskrywe in die rol
van God se volk. En ontvang selfs ’n eervolle plek. Hulle
ontvang ’n seun, Obed, wat die oupa van Dawid word en
voorvader van Dawid se groot Seun, Jesus Christus. God doen
wonderlike dinge in daardie gesin wat homself in die ongeluk
gestort het. Deur daardie gesin berei God jou heil voor. Laat ons
Hom vir sy werke van genade, prys.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)