Die enigste troos in lewe en in sterwe is die troos wat God in Christus gee

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-07-23
Text: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 1
Reference: 
HK 1-0
Preek Inhoud: 

Sondag 1

Ds HH van Alten - Sondag 23 Julie 2006

Lees: Jes. 40:1-11, Tit. 2:11-15, HK Sondag 1
Sing: Sien liturgie

Tema: die enigste troos in lewe en in sterwe is die troos wat God in Christus gee.
 

Gemeente van ons getroue Verlosser, Jesus Christus

Die spreekwoord lui: Alle paaie lei na Rome. Die woordeboek gee die volgende verklaring vir hierdie spreekwoord: ‘n mens kan op verskillende maniere jou doel bereik. In alledaagse dinge is hierdie spreekwoord heeltemal toepaslik. Die een persoon sal vir ‘n wiskundesom die een metode gebruik, die ander sal ‘n ander metode gebruik, maar beide sal, as hulle reg reken, by dieselfde antwoord uitkom. Die een sal, as hy koffie maak, eers die suiker en die melk ingooi en daarna die warm water, ‘n ander sal dit andersom doen, maar beide sal koffie kry. Die een sal met sy fiets ry werk toe ry, die ander met sy motor, maar beide sal by die werk uitkom. Daar is dus verskillende maniere waarop ‘n mens jou doel kan bereik.  

Geld dit ook vir die geloof? Wel, dit wil voorkom asof teoloë die afgelope jare so begin dink. ‘n Bekende Rooms-Katolieke teoloog het selfs ‘n boek daaraan gewy. In hierdie boek pleit hy vir die waarde van ander godsdienste. Hy waarsku dan vir christene dat hulle nie ‘n monopolie oor die waarheid het nie. Daarom moet die christendom minder bekommerd wees oor die leer, daar moet ‘n groter gevoel wees vir verhoudings waardeur elke godsdiens in die regte perspektief geplaas word, asook ‘n groter begeerte om samewerking te bewerkstellig sodat daar vrede tussen verskillende godsdienste mag heers.

Hy pleit daarvoor dat ons sal besef dat ons almal saam oppad is. Die christelike geloof is ook oppad, want ook ons kan die waarheid nie ten volle bevat nie; ons is almal daarheen oppad. En op hierdie pad loop ons saam met miljoene ander van enige moontlike godsdiens en denominasie. Hoe langer ons met hulle reis, hoe meer kom ons in ‘n proses van kommunikasie. En daarom moet ons altyd bereid wees om te leer, om die ander se waarheid jou eie te maak en om jou eie waarheid te kommunikeer. En aan die einde van daardie pad sal daar nie meer christen of Moslem of wie ook al wees nie, maar slegs God self – of hoe hy ookal in die ander godsdienste genoem word – sal alles in almal wees (1 Kor. 15:28). Hierdie teoloog kies self vir die Christelike geloof, want ja, hy kan nou eenmaal nie twee paaie tegelyk loop nie…

Is dit hoe dit met die geloof werk? Lei alle godsdienste uiteindelik na die hemel? Indien dit so sou wees, is die Kategismus dan nie effens pretensieus deur te praat van die enigste troos in lewe en in sterwe nie? Is dit nie ‘n bietjie verwaand nie? Miskien voel u ook soms so – u is ‘n christen, u glo wat die Skrif leer, maar om van ander te verwag dat hulle dit ook so moet glo… Ons is nie altyd so oortuig daarvan dat ‘n mens nie sonder die Here kan lewe nie. 

Maar gemeente, teenoor alle relativering van geloof en godsdiens is dít juis die krag van die Kategismus. Die Kategismus hou juis aan ons die waarheid voor – in ooreenstemming met die Skrif. Die waarheid volgens die Bybel is nie maar net nog ‘n waarheid langs die leerstellings van die moslems en die hindoes en die boeddhiste nie; dit is ook nie maar net nog ‘n waarheid langs die geloof van hulle wat hulself ten onregte die naam “kerk” toe-eien nie. Nee, ons bely teenoor die wêreld van vandag die enigste waarheid waardeur die mens gered kan word. Dis ons houvas in vandag se tyd waar kerke streef na eenheid, waar die ekumeniese strewe deurgedruk word ten koste van die mees basiese Christelike waarhede.

Gemeente, teenoor hierdie relativisme, teenoor hierdie blinde gedobber op ‘n see van sogenaamde “waarhede” mag ek opstaan en mag ek praat van my enigste troos in lewe en in sterwe. Daarmee mag u, mag ek, mense aanspreek, daarmee mag ons mense oproep tot bekering en geloof, daarmee mag ons onsself handhaaf in ‘n wêreld wat al hoe meer sy eie waarheid skep.  

Tema: die enigste troos in lewe en in sterwe is die troos wat God in Christus gee.

Wil u daardie troos ook hê? Die Kategismus leer ons dat ons drie dinge moet weet om hierdie troos te kan besit:

    1. Ek moet my sonde en ellende ken
    2. Ek moet weet hoe ek daarvan verlos word
    3. Ek moet weet hoe ek God dankbaar kan wees vir hierdie verlossing

1) Gemeente, ons het in vanoggend se preek al iets geproe van die ellende in hierdie wêreld en in ons eie lewens – dit is nie nodig om dit te herhaal nie. Selfs vir dié wat nie vanoggend hier was nie, is dit nie nodig om dit alles by name op te noem nie. Wie net een aand die nuus op TV volg, kan nie anders as om sy kop te skud oor die ellende waarin hierdie wêreld haarself bevind nie. Wie maar net na sy eie lewe en die lewens om hom heen kyk, weet dat geen mens hiervan vry is nie. Ellende op ellende…  

Ons sien hierdie ellende in die wêreld en in ons eie lewens, en dan is dit interessant om te sien dat ons altyd gereed staan met ons mening oor wie of wat die oorsaak van die probleem is, ons het altyd ‘n opinie oor waar die fout lê. Vanaf die kantlyn lewer ons objektiewe kommentaar en bied ons sosiologiese of sielkundige verklarings vir die probleme aan: “Ja, die rede vir daardie gesin se probleme is dat pa nie genoeg by die huis is nie” of “die rede vir die geweld in Irak is die feit dat ekstrimistiese moslems bereid is om vir hulle geloof te sterf” of “die oorsaak vir die feit dat daar in die gemeente so geskinder word, is omdat ons so ‘n klein gemeenskap is”. Alles mooi verklarings, maar oor die sonde – daaroor swyg ons dikwels.

 

Ook die volk Israel het ellende in haar geskiedenis geken. Jesaja profeteer daarvan. Die profeet Jesaja het ongeveer honderd jaar voor die ballingskap geleef, maar die Here laat hom profeteer asof hy in die ballingskap is. Jesaja 39 voorspel die ballingskap van Juda, een van die grootste ellendes in die geskiedenis van Israel se volksbestaan: mense is doodgemaak, ‘n groot deel van die volk is weggevoer, die stad en die tempel is verwoes. In Jesaja 40 sien ons egter die genade van die Here: ná die boodskap van die komende ballingskap in Jesaja 39, gee die Here nou ook ‘n boodskap van hoop: Hy sal hulle bevry!  

Jesaja 40 is ‘n hoofstuk van heerlike verlossing, van uitkoms uit die ellende. En tog: die Here draai nie doekies om oor die oorsaak van die ellende nie. Kyk maar na vers 2: “… roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes.” Wat is die oorsaak van die ballingskap? Wat lê agter Israel se ellende? Haar skuld! Haar sonde voor die Here! Daaronder kan die volk nie uitkom nie. Die ballingskap was nie ‘n gevolg van die politieke en staatkundige magsverhoudings van daardie tyd nie. Israel se ellende is nie die gevolg van swak diplomatieke bande nie. Nee, Israel moet weet dat die ballingskap die straf van die Here is oor haar sóndes. Daaroor spreek die profete baie duidelik.  

En, broers en susters, antwoord 2 van die HK praat daarom ook van sonde en ellende in dáárdie volgorde: die oorsaak van alle ellende in hierdie wêreld en in ons eie lewens en in die lewe van die gemeente is die sonde. Agter alle ellende lê die sonde; nie noodwendig ‘n spesifieke sonde nie, maar wel die sonde… Die sonde waaraan ek deel het! Ons moet dit leer raaksien en dit ook vir mekaar kan noem: geskille tussen broeders en susters is nie maar verskil in karakter nie; ‘n misplaaste opmerking wat verhoudings versuur, is nie maar ‘n swak tong nie; koudheid teenoor mekaar is nie maar ons kultuur nie – nee, dis sonde! En gemeente, ons moet leer om SONDE te noem wat sonde IS, eerstens en veral in ons eie lewens. Dit is wat Dawid doen ná sy sonde met Batseba in Psalm 51; let veral op vers 5: want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Dawid weet wat sy sondes is en hy noem dit ook.

En as ons wys op die sonde wat die oorsaak is van die ellende in die wêreld, dan wys ons daarmee nie maar net op dinge wat ons sporadies verkeerd doen nie, ‘n sonde hier en ‘n sonde daar; nee, dan gaan dit daaroor dat ons deurdronge is van skuld. Romeine 3:9-20 praat baie duidelik daaroor. Die Heilige Gees teken daar, deur die diens van Paulus, ‘n portret van elke mens: daar is niemand wat God soek nie; daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie een nie (3:11-12).  

Nou vra u miskien: Is dit nou my enigste troos in lewe en in sterwe? Is dit nou die troosboodskap van Sondag 1? Nee, gemeente, dit is nie die troos nie. Maar dis wel ‘n wesenlike deel daarvan. Die verkondiging van die enigste troos in lewe en in sterwe kán nie plaasvind sonder ‘n kennis van die grootste ellende nie. Hy wat nie die diepte van sy sonde besef nie, gaan nie na die genadige verlossing gryp nie; vir hulle wat nie die sonde agter die ellende raaksien nie, beteken die kruis op Golgota niks nie.

Ja, die wêreld het allerhande teorieë en verklarings vir die ellende. En dit is so maklik om as gelowiges, as gemeente, daaraan deel te neem. Maar dit is nie ons taak nie. Dit is nie die taak van hierdie gemeente om op die simptome te wys nie, maar dit is ons taak om die siekte te diagnoseer. En as ons dit nie wil doen nie, dan verwater die prediking tot ‘n goedkoop evangelie; dan word Jesus die een wat help in finansiële probleme, wat my verlos van hartseer en pyn. Natuurlik het Jesus ook daarvoor mens geword, gemeente, maar dit is nie ons groot nood nie. Ons groot nood is die sonde! Dít is waarvoor Christus gekom het. En as Hy vir die sondes kom sterf het, dan het Hy uiteraard ook vir die gevolge van die sondes gesterf: u sorge en moeites en hartseer en pyn.  

Dit is nodig, broers en susters, dat die besef van die sonde deel van die kerk se boodskap sal bly, dat dit deel van hierdie gemeente se boodskap sal bly. Ons mag, trouens, ons moet skaam wees oor ons sondes, maar ons skaamte mag ons nie stom maak nie. Laat ons die sonde bly benoem. As ons dít doen, dan is die weg na die enigste troos al halfpad gewonne. Dan sal die vreugde-boodskap van Jesaja 40 ook tot ons hart spreek.

Ons let nou vervolgens op daardie vreugde-boodskap.  

2) God kom weer na sy volk toe. Dis die boodskap van Jesaja 40. Die herout gaan vooruit om dit vir die volk aan te kondig. Die Here bring sy volk weer uit ballingskap terug na Jerusalem, en dan kom Hy self ook om daar onder hulle te woon. En daarom moet die paaie gereed gemaak word om die Koning te ontvang: “Berei in die woestyn die weg van die Here; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God!”

Dit beteken egter, gemeente, dat die Here vir ‘n tyd lank nie by sy volk gewoon het nie, dat God en sy volk van mekaar geskei was. En dit is wat die sonde doen… Dit bring skeiding, dit bring verwydering. Maar nou kom die belofte van die Here om daardie skeiding op te hef, om met sy heerlikheid weer by sy volk te woon. In verse 6-8 wys die Here deur middel van ‘n teenstelling op die betroubaarheid van hierdie belofte: aan die een kant is daar die mense; hulle is soos gras en soos ‘n blom van die veld; sodra die warm wind daaroor waai, is dit met sy prag gedaan. Maar daarteenoor staan God se beloftewoord wat standhou tot in ewigheid (v. 8b).  

Vandag weet ons dat daardie belofte ‘n werklikheid geword het in ons Here Jesus Christus; Johannes die Doper was die wegbereider, die een wat die volk gereed moes maak vir die koms van die Verlosser, en daarna het Jesus Christus gekom om die skeiding op te hef. In die woord van die Kategismus: “Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos” – hierin sien ons dat die oorsaak van alle ellende, naamlik die sonde, deur Christus weggeneem word. Christus kom verlos ons van die bande van die dood. Ons wat slawe van die sonde was, word deur Christus daarvan bevry. Ons wat van God verwyder was, word weer in die regte verhouding met ons God geplaas, ons mag weer met God lewe.

Hoe anders was dit nie by die sondeval nie: daar het Adam en Eva vir God weggekruip; die mens het sy rug op God gedraai. Die hemel het gesluit – die mens is van sy God verwyder. Maar in Christus leef ons onder ‘n oop hemel! Dit is ‘n geweldige boodskap wat ons nie slegs mag ontvang nie, maar ook mag uitbasuin: “o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg. O Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God!” Hier is julle God – sien u gemeente, God behandel nie die simptome nie, Hy dring deur tot by die siekte,  sodat ons weer sy kinders kan wees, en Hy ons God!  

En, broeders en susters, hierdie verlossing in Christus is iets vir hier en nou; verlossing is iets vir by die werk, by die huis en by die skool. Verlossing is iets waarby ons mag lewe as ons klas toe gaan, as ons as vriende kuier, as ek en my geliefde saam is. Want let goed op, gemeente: die léwe is aan die sonde en nietigheid onderworpe en daarom word die léwe, die hele lewe, ook deur Christus daarvan verlos.

En die Kategismus wys dit ook baie konkreet: “Hy bewaar my op so ‘n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie” – met hierdie sin plaas die Kategismus die verlossing in Christus in die werklikheid van elke dag. Dis nie slegs ons siele wat verlos word nie, maar ook ons liggame; die volledige aardse lewe val onder die verlossende krag van Christus se werk.  

En dit beteken nie dat ons uit die werklikheid gehaal word en geen ellende ons meer kan tref nie. Die gevolge van die sonde is nog voelbaar, maar ek behoort in my ellendes aan Iemand. Dit is Hy wat my en my gesin versorg, maar dis ook Hy wat bewerk dat dit by tye swaar kan gaan; dis Hy wat siektes in my lewe bring om sy doel in my lewe te bereik, maar dis ook Hy wat die mag het om my te genees; dis Hy wat alles in hierdie land in sy mag hou en ook sy kinders van geweld en misdaad bewaar, maar dis ook Hy wat weet wat die doel is wanneer Hy toelaat dat geweld en misdaad ons wel tref. Gemeente, aan daardie God behoort ek.

Ja, alles, maar dan ook alles, moet inderdaad tot my saligheid dien. Is dit nie pragtig hoe die Kategismus dit stel nie? God het my saligheid op die oog. Hy is die Herder van Jesaja 40:11 wat na sy skape omsien. Elke skaap kry die nodige aandag, elke lam word persoonlik versorg: ja, as ons oud is en eensaam is, dan versorg die Here; as ons jonk is en aan soveel gevare blootgestel is, ook dan dra die Here ons aan sy bors; ook die ongebore lewe word deur die Herder versorg. En ook die ewige lewe is by Hom seker!

Ons let nog ten slotte op die lewe uit dankbaarheid. 

3) Ons het nou hierbo gesien hoe lewensomvattend die verlossingswerk van Christus is. Niks van ons lewe, hier of in die ewigheid is uitgesluit van die verlossing nie. Alles val onder die vernuwende werk van ons Heiland, ook ons lewe voor die Here.

Die gedeelte uit Titus 2 wat ons gelees het, maak dit duidelik. Ons lees in Titus 2:11 en 12: “want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe.” En dan ook weer in vers 14: “wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.”

Sien u: telkens is die genade, die verlossing in Christus, die aanleiding tot ‘n lewe van heiligheid voor die aangesig van God. Die Skrif maak hierin geen skeiding nie; inteendeel, dis vir die Skrif ‘n baie natuurlike oorgang om vanaf die verlossing oor te gaan na ons lewe in dankbaarheid voor God. Die Kategismus maak daardie selfde oorgang sonder moeite. Ons lees in die laaste gedeelte van antwoord 1: “Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”  

Hier ontstaan dikwels ‘n kortsluiting in ons denke: ons redeneer dat as God die verlossing bewerk het, dan vra Hy nou van ons om ons deel te doen deur dankbaar voor sy aangesig te lewe. Is dit nie hoe ons dikwels dink nie? Maar die Skrif praat anders, die Skrif praat allesomvattend. My totale verlossing, óók my nuwe lewenswandel is die werk van Christus.

Ontken ons daarmee die oproep tot goeie werke? Nee, daarmee erken ons slegs dat ook ons goeie werke die verdienste van Christus is. Ook op hierdie terrein van die lewe met die Here is my enigste troos dat ek aan Jesus Christus behoort. Hy het ook die dankbaarheid verdien, Hy het ook die goeie werke vir my verdien, Hy het bewerk dat ek kan doen wat God van my vra.  Ons sien dit so mooi in Esegiël 2. Daar beveel die Here in vers 1 vir Esegiël: “Mensekind, staan op jou voete dat Ek met jou kan spreek.” En dan volg vers 2: “En die Gees het in my gekom sodra Hy met my gespreek het, en my op my voete laat staan.” God gee die opdrag, maar Hy is ook die Een wat die opdrag in ons voltrek. God vra ‘n lewe van dankbaarheid, maar dit is my enigste troos dat, hoewel ek daartoe onbekwaam is, my getroue Verlosser ook dít vir my verdien het. 
 
Gemeente, ons het weer ‘n begin gemaak met die prediking van die Heidelbergse Kategismus, daardie skatboek van die kerk wat in eenvoudige taal vir ons die ryk boodskap van die Skrif uitlê – en dit sal in die komende maande verder uitgewerk word; die sonde en ellende, die verlossing en die dankbaarheid sal elkeen aan die orde kom; en ons begin volgende week met die sonde en ellende.

Maar ons mog op die hoogtepunt begin: die enigste troos in lewe en in sterwe. En gemeente, dit is die enigste troos. Die wêreld wil ons anders leer. Die wêreld wil ons leer van allerhande soorte troos. Daar is die troos van geld en mag, van drank en ander genot. Daar is die troos van sport en ander genietinge. Daar is selfs godsdienstige troos in allerhande godsdienste en gelowe. Maar hierdie troos wat die wêreld bied, is nie die verlossing van sonde en ellende nie. Dis nie die uitsig op die ewige heerlikheid nie; dis nie die rus en vrede wat die kind-wees van God aan ons gee nie. Nee, die troos van die wêreld is ‘n susmiddel, dis ‘n tydelike manier om mense aan die gang te hou te midde van alle ellende en hartseer en pyn.  

Maar gemeente, die enigste troos in lewe en in sterwe is nie ‘n susmiddel nie, dis ‘n werklikheid! Dis nie ‘n tydelike oplossing nie, dis ‘n voortdurende sekerheid! Dis nie maar net ‘n troos nie, dis die troos, die eniste troos. Dit bied nie ‘n verlosser nie, dit bied dié Verlosser, Jesus Christus. Dit bied nie maar net tydelike oplossings nie, dit gee verlossing van sonde en ellende, vrymaking van die mag van die duiwel en die krag en bereidheid om volgens God se wil te leef. Dit maak van ons weer mense soos wat God dit in die paradys met ons bedoel het.

Dit is ‘n eksklusiewe troos, die enigste troos! Maar dit is nie vir ‘n eksklusiewe groepie nie; daardie troos moet aan alle mense verkondig word. Daardie troos verkondig ek aan u vandag. Glo dit, en u sal lewe!

Amen 

Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 33:1 en 2
Gebed
Lees: Jesaja 40:1-11, Titus 2:11-15
Sing Skr. 22:1-5
Teks: HK, Sondag 1
Preek
Amenlied Ps. 119:13, 15 en 18
Gebed
Belydenis van geloof
Kollekte
Slotsang Ps. 86:1, 3 en 6
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)