Die ewige lewe bestaan uit

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-07-23
Text: 
I Johannes 1:1-4
Preek Inhoud: 

1 Johannes 1:1-4

Ds HH van Alten - Sondag 23 Julie 2006

Lees: 1 Joh. 1, NGB Artikel 18, 1 Joh. 1:1-4
Sing: Sien liturgie

Tema: Die ewige lewe bestaan uit

  1. Gemeenskap
  2. Blydskap

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

 

Hoeveel waarde heg u aan die aardse dinge? Hoe belangrik is die stoflike vir jou? Wat beteken vir jou jou kar of jou huis? Hoe kyk jy na die vleeslike? Kos en klere en die seksuele – hoe staan u daarteenoor?

Mense het deur die eeue verskillend gekyk na die aardse en stoflike. Aan die een uiterste vind ons dié wat verknog is aan die aardse, wat nie genoeg kan kry van uiterlike vertoon en mooi dinge nie; hulle gee hulself volledig oor aan eet- en drinkpartye, aan seksuele uitspattighede. Aan die ander kant van die spektrum is daar egter dié wat die stoflike en vleeslike beskou as sondig en daarom al hulle geluk soek in die geestelike, in die bo-natuurlike. Hulle maak gebruik van kos en klere, slegs omdat dit nodig is; hulle beoefen die seksualiteit, slegs ter wille van voortplanting; hulle doen aardse werk, slegs omdat hulle moet oorleef. Maar eintlik, eintlik verafsku hulle die fisiese en stoflike; eintlik sou hulle hulself van hierdie wêreld wou afskei (wat sommige trouens ook gedoen het); eintlik sou hulle selfs uit hulle liggame wou uitgaan, want hierdie liggaam is – volgens hierdie mense – eintlik ‘n hindernis vir my soeke na die geestelike dinge. Hulle is van mening dat die werklike vreugde en bevrediging lê in die geestelike dinge, die hoër dinge. En gemeente, dit is presies met hierdie laaste groep mense waarmee Johannes te make gekry het.  

Die apostel Johannes was ‘n ou man toe hy sy drie kort briewe geskryf het; waarskynlik was hy nog die enigste van die apostels wat oorgebly het, die res het almal al gesterf. Uit die geskiedenis weet ons dat Johannes hom, moontlik tydens die verwoesting van Jerusalem, in Klein-Asië gaan vestig het, spesifiek in die stad Efese. En vanuit daardie stad skryf Johannes dan sy eerste brief, gerig aan die gemeente van die omgewing.

En hy skryf hierdie brief in ‘n situasie waarin die gemeente baie ernstig bedreig is, bedreig deur valse leraars wat ‘n afkeer het van die liggaamlike en die stoflike. Hierdie dwaalleraars het ‘n skerp teenstelling gemaak tussen enersyds die geestelike wêreld, waarvan die gode deel was, en andersyds die aardse, die stoflike, wat sondig en sleg was.  En, gemeente, dit was ‘n leer met diepgaande konsekwensies. Dit het konsekwensies gehad vir die manier waarop die dwaalleraars na die mens gekyk het – die mens was vir hulle nie meer ‘n eenheid van liggaam en siel nie; nee, in hulle oë was die siel ‘n gevangene hier in die liggaam, ‘n gevangene wat daaruit bevry moes word.

Dit het verder ook konsekwensies vir die manier waarop hulle na God gekyk het – hierdie mense kon naamlik nie glo dat die hoogste God mens kon word nie; dat God ‘n menslike liggaam aangeneem het, vlees geword het – dit was vir hierdie mense ‘n afskuwelike gedagte. Die vleeswording van die Seun van God was vir hulle onverteerbaar. “Hulle probeer dan wegvlug van alles wat vleeslik is, as hulle kon sou hulle selfs uit hul eie liggame gaan; hoe kan die hoogste God, die hoogste geestelike wese, dan so laag daal om ‘n liggaam van vlees en bloed aan te neem. Onmoontlik!” 

En daarom, broers en susters, het hierdie mense in die gemeente begin leer dat die Seun van God nie werklik mens geword het nie. Hierdie dwaalleraars het geen waarde geheg aan die geboorte, lyding, dood en opstanding van Jesus van Nasaret nie. Ja, daar was miskien so ‘n mens, maar hy was nie die Seun van God wat mens geword het nie. Die Seun van God het nie werklik aan die kruis gesterf nie, Hy het nie werklik uit die dood opgestaan nie – en daarom, let op, het Hy ook nie werklik versoening tussen God en mens kom bewerk nie. Geen versoening… Maar hoe het hierdie mense dan gereken om by God te kom? Hoe het hulle gereken om gemeenskap met God te kry? Deur met die siel uit die liggaam uit te gaan en op te styg tot God; volgens hierdie dwaalleraars moes jy in so ‘n geestestoestand kom dat jy jouself kon losmaak van die aardse en die stoflike en tot God kon opstyg.  

En, gemeente, hiertéén skryf Johannes sy eerste brief. Soos blyk uit hoofstuk 2:18 en 19 het hierdie dwaalleraars die gemeente intussen al verlaat, maar Johannes skryf nogtans om dié wat agtergebly het en die goeie belydenis wil vashou, te bemoedig. Want hierdie is geen onbelangrike saak nie, dit is nie maar ‘n onderwerp waaroor daar maar verskil van mening toegelaat kan word nie. Nee, daar moet duidelike lyne getrek word.

En daarom val Johannes sommer met die deur in die huis. Miskien het dit u opgeval – daar is geen seënbede en groete in die begin van hierdie brief nie, Johannes sê ook nie wie hy is nie. Nee, hy stort sy lesers in die middel van sy belangrike boodskap:

“Wat van die begin af was” – so begin Johannes. Dit beteken: dit wat van ewigheid daar was, dit wat nog altyd daar was, van voor die tyd af, dít – die Woord van die lewe (kyk maar die einde van vers 1) – dít is geopenbaar! Hoe? In een of ander droombeeld, ‘n skim, miskien ‘n spook met ‘n skynliggaam, soos die dwaalleraars waarskynlik sou beweer?

Nee, sê Johannes, ons ken julle dwaalleer. Maar laat ek julle vertel: ons het dit gehoor. En nie net het ons gehoor nie, maar ons het ook met ons eie oë gesien. En meer nog: ons het ook aanskou! Dit is meer as om net te sien; dit wil sê: ons het toegekyk, ons het ondersoek, ons het in verwondering gade geslaan. En ten slotte: ons het selfs met ons hande getas; ons het Hom aangeraak. O ja, Johannes sal weet – was hy dan nie die geliefde dissipel wat tydens die laaste paasmaaltyd aan tafel teen die bors van Jesus gelê het nie? (Joh. 13:23). En Jesus sê self ná sy opstanding in Lukas 24:39: “Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.” En aan Thomas sê Hy: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig” (Joh. 20:27).  

Gemeente, tot twee maal toe herhaal Johannes dat hy en die ander dissipels gehoor het, tot drie maal toe herhaal hy dat hulle gesien het, eenmaal vertel hy dat hulle aanskou het, en eenmaal dat hulle selfs met hulle hande gevoel het. Johannes span die drie belangrikste sintuie in (hoor, sien, voel) om die gemeente te bemoedig: “My liewe broers en susters, die Seun van God het geen skynliggaam gehad nie, Hy was nie ‘n spook nie; nee, Hy het werklik mens geword; die Woord het vlees geword en onder ons gewoon.”

Die vleeswording, gemeente, is ‘n feit. Petrus, daardie ander bekende dissipel, sê dit ook in sy tweede brief: “Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van ons Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit” (2 Petr. 1:16). Die Seun van God, Jesus Christus, het werklik mens geword. Teenoor die dwaalleraars bemoedig Johannes die gemeente met die boodskap dat die Seun van God ons vlees en bloed aangeneem het, soos wat ons dit ook so pragtig bely in artikel 18 van die NGB wat ons saam gelees het. Hy was werklik mens, met ‘n egte liggaam en ‘n egte siel! 

Maar hoekom is dit dan so belangrik, broers en susters? Ons het gesê dat Johannes hier in sy eerste brief sommer met die deur in die huis val, omdat hierdie saak vir hom so belangrik is. Maar hoekom? Want, gemeente, die Woord wat vlees geword het, is die Woord van die lewe (vers 1 en 2). Jesus Christus is die lewe, en Hy gee daardie lewe. God kom op aarde om aan mense lewe te gee. En hoe het ons dit nie nodig nie? Kyk maar om u heen, lees maar die koerante – ons sien die midde-ooste met die dreigende konflik tussen Israel en Libanon, ons sien die honderde mense wat in afgelope week se tsunami gesterf het, ons kyk na ons eie lewe – ons jaag hiernatoe en daarnatoe, ons het hartseer in ons huwelike en gesinne, geliefdes maak ons seer, gesondheid takel ons liggame af, depressie ontneem ons van ons vreugde. Waarheen, waarom, waarvoor? Ons bestaan, ons haal asem, ons gaan deur die bewegings, maar egte lewe… 

En daarom is Johannes so gretig om by die kernboodskap uit te kom, daarom doen hy nie eers moeite om te groet of te sê wie praat nie, want die léwe, die egte lewe is geopenbaar; die ewige lewe wat by die Vader was, het gekom! Ek het Hom gehoor en gesien en gevoel, sê Johannes. Johannes is hier soos ‘n adverteerder wat die koms van sy wonderproduk bekendstel – “kom kyk, dít wat almal nodig het, is hier!” Johannes kan sy opgewondenheid amper nie bedwing nie – dit wat hyself gesien en ervaar het, dit wil hy deel, dit wil hy ook aan ander gee.

En, gemeente, dit is dan ook wat ek vandag vir u mag gee, dit is wat die christelike kerk vir ‘n voos en moeë en gefrustreerde wêreld mag gee: die getuienis van die ewige lewe; ons mag dit hoor en sien en voel – deurdat Johannes en Petrus en die ander apostels dit gehoor en gesien en gevoel en dit daarna aan ons deurgegee het. Ons mag daardie lewe ontvang as ons eie! Ewige lewe – en ewig wys hier nie slegs op die duur van die lewe nie, dit wys nie slegs op die lewe ná hierdie lewe nie; nee, dit wys op ‘n sekere kwaliteit van lewe vandag reeds. Vandag reeds is daar die moontlikheid van ewige lewe, vir u en vir my!

Johannes wys vervolgens aan die einde van vers 3 en in vers 4 watter kwaliteite die ewige lewe besit, dus waaruit die ewige lewe bestaan. En dit wil ons daarom nou ook nader bekyk.

Die ewige lewe bestaan uit: 

  1. Gemeenskap
  2. Blydskap

 

1. Die eerste kwaliteit van die ewige lewe is dat ons gemeenskap met God het. Johannes stel dit op ‘n baie interessante manier: “… wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.” Dit lyk asof die gemeenskap met mekaar voorop staan, maar as ons mooi lees dan staan sentraal die gemeenskap met God, en daaruit vloei dan die gemeenskap met mekaar. Dus, Johannes sê dat om werklik te lewe, dus nie slegs om asem te haal en deur die bewegings te gaan nie, om werklik die ewige lewe te besit, is om gemeenskap met God te hê.   

En gemeente, ons kom hier by een van die mees oorweldigende gedagtes in die Skrif, ‘n gedagte wat ons totaal verwonder. Hier word duidelik wat dit beteken om ‘n christen te wees. Om ‘n christen te wees beteken nie in die eerste plek om goed en moreel te lewe nie, om ‘n christen te wees beteken nie in die eerste plek om sekere leerstellings aan te hang nie – en dit is so ‘n groot gevaar waaraan ons as kerke blootgestel is: ons ken die antwoorde, ons ken die leer, ons lewe reg, maar die hart het daaruit verdwyn. Verstaan my reg: die leer en die lewe is nie onbelangrik nie, maar dit maak nog nie van my ‘n christen nie. Om ‘n christen te wees, is om gemeenskap met God te hê!  

En wat beteken dit? Om gemeenskap met God te hê, beteken dat ons alles met Hom in gemeen het. Die christen is iemand wat ‘n deelgenoot in die lewe van God geword het. Om ‘n christen te wees – en hier kom die ongelooflike – beteken om te deel in die goddelike natuur. Dit is presies wat Petrus sê in 2 Petrus 1:4: God het aan ons die grootste en kosbare beloftes geskenk, “sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.” Dit is onbegryplik! Sondige en rebelse mense, mag deel in die goddelike natuur!

En dit is wat Johannes hier aan sy lesers voorhou: christene is nie slegs mense wat effens beter is as wat hulle voorheen was nie, mense wat sekere dinge aan hulle lewens toegevoeg het nie; nee, christene is manne en vroue wat die goddelike lewe ontvang het. Ons is deelgenote aan die lewe en die natuur van God self; ons is op een of ander manier in God en God in ons, soos Paulus sê in Galasiërs 2:20: “… ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” En, broers en susters, wanneer ons met God die goddelike natuur in gemeen het, dan deel ons daarmee saam ook sy belange en sy planne vir hierdie wêreld. Ons soek wat Hy soek, ons wil hê wat Hy wil hê. Dít wat vir Hom sonde is, word ook vir ons sonde, dít wat Hom bly maak, is dan ook vir ons verblydend.  

En gemeente, hiervóór het Christus mens geword, sodat ons deur Hom gemeenskap met die Vader kan hê, sodat ons deur Hom kan deel in die goddelike natuur. Hy het mens van vlees en bloed geword, sodat dit vir ons moontlik is om weer, soos in die paradys, God in die oë te kan kyk. Soos Calvyn dit so pragtig stel: Die Seun van God het die seun van die mens geword, sodat sondige seuns van mense seuns van God kan word.

Dit is egte gemeenskap met die Vader, waarin ons nie slegs ‘n paar leerstellings aanhang en elke sondag kerk toe kom nie, maar waarin ons God deur en deur ken, waarin ons deel in sy goddelike natuur, waarin ons deel in dit wat vir Hom belangrik is. En daarvoor hoef ons nie uit hierdie wêreld uit te gaan nie, daarvoor hoef ons nie uit ons eie liggame te gaan en in een of ander hoër sfeer te kom nie. Nee, gemeenskap met God vind plaas op hierdie aarde, net soos gemeenskap tussen God en Adam in die paradys op hierdie aarde was. Hier, waar u u daaglikse werk moet gaan doen, mag ons die gemeenskap met God hê; hier, waar jy in ‘n verhouding met ‘n ou of ‘n meisie staan, mag jy gemeenskap met God beoefen; hier op aarde mag jy, in gemeenskap met God, geniet van dit wat God gemaak het, die mooi natuur, heerlike kos, die seksualiteit; hier op aarde is egte gemeenskap met God moontlik omdat God mens geword het. En dit is ook die heerlike belofte vir klein André vanoggend – ook hy mag in gemeenskap met God lewe, ook hy mag in die goddelike natuur deel; hier op aarde mag hy groei en grootword in gemeenskap met sy Vader.   

En, broers en susters, die gemeenskap met die Vader en sy Seun, Jesus Christus, bring dan ook vanself gemeenskap met mekaar. Nie ‘n sosiale eenheid omdat ons dieselfde kultuur deel nie, maar ‘n geloofseenheid omdat ons dieselfde goddelike natuur deel, en almal saam dieselfde goddelike rigting wil volg. In die komende weke sal dit nog terugkom, maar dit is die moeite werd om dit hier al te sê: dit is onmoontlik om te sê dat ons gemeenskap met God het, maar ons leef nie in gemeenskap met mekaar nie. Wie in gemeenskap met God leef, mag ook in die kerk, hier in die gemeente, gemeenskap beleef met ander gelowiges; saam mag ons die ewige lewe deel!

Dit is dus die eerste kwaliteit van die ewige lewe wat ons nou reeds op aarde mag besit: gemeenskap met God en met mekaar. Die tweede kwaliteit van die ewige lewe is blydskap. Daarna wil ons nou kyk.  

2. Ons het gesien dat ons gemeenskap met God ons nie uit hierdie wêreld wegneem nie, maar dat ons hier, op aarde, in ons omgewing, die goddelike natuur deelagtig mag word. Maar daarby wil God ook hier, op aarde, in ons omgewing, aan ons volle blydskap gee. Dit is die ander kwaliteit van die ewige lewe wat ons vandag reeds mag ervaar. Johannes sê in vers 4: “En ons skrywe hierdie dinge aan julle, sodat julle blydskap volkome kan wees.” Dit is ‘n blydskap wat ons hier op aarde alreeds mag ervaar.  

Maar, gemeente, wat is hierdie blydskap? Is dit ‘n gelukkigheid wat bepaal word deur my omstandighede? Nee, hierdie blydskap is nie afhanklik van wat hier op aarde met my of my geliefdes gebeur nie. Hierdie blydskap word nie bepaal of in stand gehou deur my omstandighede nie. Want, laat ons eerlik wees, die omstandighede is soms haglik. Ek het vroeër al enkele dinge genoem wat tans hoofnuus is, asook dinge wat ons eie lewens kan tref.

Is dit dan miskien ‘n uiterlike blydskap, ‘n tipe uitbundigheid, ten spyte van alle omstandighede? Nee, ook nie. Kyk maar na ons Here Jesus. Die wêreld het nooit iemand gesien wat meer blydskap geken het as ons Here nie, en tog was Hy “‘n man van smarte en bekend met krankheid” – soos Jesaja sê (53:3). En dit geld ook vir sy volgelinge – die apostel Paulus was ‘n man wat groot blydskap geken het, selfs terwyl hy in die tronk gesit het, en tog is dit dieselfde Paulus wat in 2 Korinthiërs 5 skryf: “Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word.” Egte blydskap is dus nie om altyd ‘n glimlag op die gesig te hê nie – Jesus en Paulus is die bewys daarvan.

Nee gemeente, daar is slegs een ding wat volkome blydskap kan gee en daardie blydskap ook in stand kan hou, en dit is om jou Verlosser, Jesus Christus, te ken. Hy is die lewe wat geopenbaar is, wat tussen die mense kom woon het. Hy het, soos ons bely in artikel 18 van die NGB ‘n egte menslike natuur aangeneem, met al sy swakhede. Hy het ook moeites geken, Hy het ook seer gekry, Hy het ook gehuil. En daarom kan die Hebreërskrywer sê: Hy is ‘n barmhartige en getroue hoëpriester, omdat Hy in alle opsigte aan ons gelyk geword het. Hy is ‘n hoëpriester wat met ons swakhede medelye kan hê, omdat Hy in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde (Hebr. 2:17 en 4:15).

Broers en susters, Hy verstaan en voel saam met u, want Hy is ook mens!

Maar meer nog… Hy verstaan nie net nie, Hy help ook, Hy red, Hy verlos, want Hy is God. Hy is die ewige lewe wat geopenbaar is, om aan elkeen wat glo daardie lewe uit te deel, verniet! Volkome blydskap vind ons slegs in Hom! Volkome blydskap vloei voort uit die gemeenskap met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. Blydskap, nie vanweë my omstandighede nie, maar ten spyte van my omstandighede. My bron van blydskap is nie meer hierdie wêreld en dit wat met my gebeur nie; my Bron van blydskap is God!

En daarom hoef my omstanghede my nie meer te verlam nie, maar kry ek krag van God af om in my omstandighede volkome blydskap te ken. Let wel, dit is hoe Johannes dit ook noem: volkome blydskap. My beker van blydskap is tot die rand toe gevul, barstensvol! Só vol, dat dit oorloop; dit kan nie hier binne bly nie, dit moet uit – ons word getuies, verkondigers van die ewige lewe. Dit wat Johannes en die ander apostels gehoor en gesien en gevoel het, beleef ons nou eerstehands. Volkome blydskap – ‘n diepe vrede in alle omstandighede.  

Gemeente, ek verkondig aan u vanoggend dat Christus werklik mens geword het. Nie maar ‘n onbelangrike leerstelling nie. Nee, want as Hy nie mens geword het soos ons nie, sou die ewige lewe by ons verbygegaan het. Glo daarom in Hom, en Hy is nie ver nie – hoor Hom (Hy word elke Sondag aan u verkondig), sien Hom (Hy is vanoggend in die doop voor u afgeskilder), voel Hom wanneer ons binnekort weer die nagmaal gaan vier. En dan het u die goddelike natuur as besitting, en mag u volkome blydskap hê in alle omstandighede! ‘n Blydskap wat sing: “Maar ek is in die Here bly, met almal wat sy Naam bely!”

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 60:2 en 3
Wetslesing
Sing Ps. 79:5, 6 en 9
Gebed
Doopsbediening
Sing Ps 105:5 (staande)
Lees:  1 Johannes 1
      NGB, art. 18
Sing Skr. 5
Teks: 1 Johannes 1:1-4
Preek
Amenlied Ps. 27:1, 3 en 4
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 63:3, 4 en 6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)