Sondag 51
Ds HH van Alten - Sondag 11 Junie 2006
Lees: Lev. 1, Matt. 18:21-35
Sing: Sien liturgie
Tema: … ter wille van die bloed van Christus (woorde uit Sondag 51). Ons let op:
- Sy offer stroop ons van alle selfvertroue
- Sy offer dra die volle gewig van ons sonde
- Sy offer maak ons mild teenoor die sondaar
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Sonde – nie ‘n baie gewilde begrip in ons tyd nie. Nie dat dit ooit in die geskiedenis ‘n gewilde begrip was of in die toekoms sal wees nie, maar ons tyd word in besonder gekenmerk deur weersin teen hierdie begrip. Miskien ken u ons tyd so ‘n bietjie – hetsy uit ervaring, of uit die bestudering daarvan.
En een van die kenmerke van ons tyd is dat waarheid nie ‘n vaste inhoud het nie, waarheid is relatief – dit wat vir jou waarheid is, hoef nog nie vir my waarheid te wees nie. Uiteraard bring dit mee dat die inhoud van “reg en verkeerd” ook vaag raak. Dit is nie meer duidelik wat reg is en wat verkeerd is nie. Vat ‘n onderwerp soos aborsie… Jy sê aborsie is verkeerd, op grond van die waarheid van die Skrif. Maar ‘n ander sê: “Wie sê die Skrif is waar?” of “Wie sê jou uitleg van ‘n spesifieke Skrifgedeelte is waar?” Die ander beskou dus nie die Skrif as waar nie, en daarom is aborsie in sy oë ook nie verkeerd nie. U verstaan waarskynlik dat “sonde” binne so ‘n denkwyse nie ‘n baie gewilde woord is nie, want wie is ek om jou dade as sonde te veroodeel – jy is immers geregtig op jou eie waarheid en jou eie beoordeling van wat reg en verkeerd is.
‘n Ander kenmerk van ons tyd is dat mense baie sterk vir vandag lewe – aan die verlede word geen waarde geheg nie, en die toekoms is onbelangrik. Vandag is wat tel, en daarom wil ons vandag voluit leef, alles uithaal wat daar in is! En hierdie denkwyse kan nie uitgeleef word as ek die hele dag gerem word deur allerhande moets en moenies nie. Die term “sonde” belemmer my selfontplooiing, dit fnuik my belewing van myself en die uitleef van my gevoelens; dit werk slegs somberheid en neerslagtigheid. Nee, ons moet onsself eerder bevry van die sondekompleks wat ons verhinder om voluit vir vandag te lewe.
Dit is enkele tipiese uitinge van ons tyd – net om aan te toon dat sonde nie inpas in die gees van vandag nie.
Maar gemeente, die Bybel praat ‘n ander taal as die gees van ons tyd. Dít wat die Bybel oor sonde sê, gaan baie dieper, tref baie harder, as wat die tydsgees oor sonde sê. Het u al ‘n ongelowige hoor praat van sy kind wat in sonde ontvang en gebore is? Het u al ooit ‘n ongelowige hoor sê dat daar niemand is wat goed doen nie, selfs nie een nie? Nee! Maar let nou op die ander kant van die munt… Het u al ooit ‘n ongelowige met sekerheid en vreugde hoor praat oor die ewige lewe? Het u hom al ooit hoor praat oor hoop wanneer hy sy geliefde begrawe?
Sien u, hoe meer die sondebesef afplat, hoe meer kwyn die hoop op verlossing, ewige lewe, vreugde en vrede. Hoe minder mense die erns van hul sonde besef, hoe minder word die noodsaak van verlossing. Amper soos wat Jesus sê in Matt. 9:12: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie…”
Daar is dus ‘n wisselwerking tussen sondebesef en verlossing – jy hoef nie eens jou bybel oop te maak om dit te sien nie. Kyk maar net om jou heen: mense wil nie meer hoor van sonde nie, maar intussen bly Christus, as die enigste Verlosser, ook in die slag. En andersom: Christus word as Verlosser verloën, maar intussen vier die sonde hoogty.
En, broers en susters, dan skielik besef ons die rykdom van die Skrif, die Skrif wat die waarheid oor elkeen van ons nie verdoesel nie, wat nie die sonde probeer regpraat nie, wat eerlik en reguit sê: “Só IS jy!” En dan is dit nie die Here se doel om ons ‘n sondekompleks te gee nie, Hy wil ons nie gevoelens van minderwaardigheid gee nie. Nee, die Here bring ons na die diepte van ons sondige harte, om ons op so ‘n manier na die hoogte van Golgota te dryf. En andersom: die Here skyn oor ons die helder lig van die verlossing, sodat ons die donkerheid van die sonde leer raaksien. Sondebesef is onontbeerlik vir verlossing!
Sonde – ‘n ongewilde begrip? Miskien, maar tog ‘n noodsaaklike begrip. Ons kan nie kerk wees sonder besef van ons sonde nie, ons kan nie erediens hou sonder om die wet van die Here te lees nie, ons kan nie bid sonder om ons sondes te bely nie. Wie dit wel doen, verlaag die waarde van die verlossing deur Christus, hy maak die bloed van Christus goedkoop. En ons wil vanaand sien hoe kosbaar daardie bloed in werklikheid is.
Tema: … ter wille van die bloed van Christus (woorde uit Sondag 51). Ons let op:
- Sy offer stroop ons van alle selfvertroue
- Sy offer dra die volle gewig van ons sonde
- Sy offer maak ons mild teenoor die sondaar
1. Die eerste vereiste wat Levitikus 1 vir die brandoffer gee, is dat die offerdier ‘n manlike dier moes wees, sonder enige gebrek. Hierdie vereiste is nie onverwags nie, as ons reken dat hierdie dier ‘n voorafskaduwing moes wees van die volmaakte offer wat eendag gebring sou word. Maar wat moes die Israeliet dan doen nadat hy so ‘n dier uitgekies het?
Ons lees twee maal in vers 3 dat die Israeliet hierdie dier moes bring tot by die ingang van die tabernakel; hierdie woord het die betekenis van “voorbring” of “voorlei”. Die Israeliet wat aan die Here ‘n brandoffer wou bring, moes dus self sy offerdier neem, en hy moes daarmee stap, vanaf sy eie tent – waar dit ook al in die kamp gestaan het – tot by die tabernakel wat reg in die middel van die kamp gestaan het.
En reeds hierdie vrywillige daad van voorbring of voorlei was al ‘n belydenis van sonde – voor God, maar ook voor die mense. Jy het nie vrywillig met jou offerdier by ander Israeliete se tente verbygestap en voor die Here se tent gaan staan, as jy nie daarvan oortuig was dat jy gesondig het nie. Selfvertroue het jou in hierdie daad nie gehelp nie; inteendeel, hierdie daad het jou juis van jou selfvertroue gestroop. Soos jy daar met jou offerdier gestap het, het jy geweet: “Elke Israeliet kan sien dat ek gesondig het, en meer nog: met hierdie daad bely ek dit ook voor die Here.”
Vervolgens – lees ons in vers 4 – moes die Israeliet sy hande op die kop van die brandoffer lê. Uit Levitikus 16:21 blyk dat dit hier nie slegs oor een hand gaan nie, maar oor beide hande. Beide hande moes die offeraar op die kop van die offerdier lê. Ons vertaling gee egter nie heeltemal die gevoelswaarde weer van die woord wat hier met “lê” vertaal is nie. Want dit het nie slegs daaroor gegaan dat jy eenvoudig jou hande op hierdie offerdier se kop gesit het nie. Nee, die woord wat hier gebruik word, beteken letterlik “steun”. As Israeliet het jy dus op hierdie offerdier geleun, op hom gedruk; daardie offerdier was jou steunpilaar, jou toevlug!
Deur hierdie druk wat op die offerdier uitgeoefen is, asook die gepaardgaande skuldbelydenis, het die Israeliet uitgespreek dat hy dit sonder hierdie dier nie kan regkry nie, dat hy hierdie dier nodig het. So is die sonde en onreinheid van die offeraar oorgedra op die offerdier. Die offerdier het die plek ingeneem van die offeraar, sodat wanneer die bloed van die dier, en daarmee ook sy siel – want die siel was in die bloed – wanneer dít weggevloei het in die dood, dan het daarmee as’t ware die siel van die sondaar weggevloei in die dood.
Gemeente, as die Israeliet op hierdie punt nog enige selfvertroue oorgehad het, is hy nou finaal daarvan gestroop. Om op hierdie dier te leun, al jou gewig op hom te plaas – dit kon niemand van harte doen as hy nog enigsins gedink het dat daar iets in homself was wat die versoening met God moonlik gemaak het nie. Nee, met die voorbring van die dier het die Israeliet alreeds bely: “Ek is skuldig!”, en met die daaropvolgende handoplegging het hy toegevoeg: “Ek kan nie my eie sondes betaal nie, ek het hierdie dier nodig!” Gestroop van alle selfvertroue…
En gemeente, dít wat die brandoffer in Levitikus 1 van die Israeliet gevra het, het heengewys na wat die ware offer eendag van al God se kinders sou vra. Christus se offer aan die kruis vra van ons dat ons alle selfvertroue sal laat vaar. Ons kan niks bydra tot ons verlossing nie, ons het niks om aan God te bied nie. Ons is soos wat die kategismus sê: arme sondaars, betreurenswaardige mense, patetiese figure! Maar wat van my posisie hier op aarde? Wat van alles wat ek tydens my lewe al bereik het? Wat van die feit dat ek direkteur van ‘n maatskappy is, en ja, kyk na die goeie dinge in my lewe? Dan nóg is en bly u: arme sondaar!
Maar, wat van die feit dat ons elke sondag kerk toe gaan? Broers en susters, ons kerkgang is geen verdienste voor God nie; ons kerkgang is veel eerder ‘n belydenis, soos die belydenis van die Israeliet wat sy offerdier na die tabernakel gelei het: “Ek is skuldig!” – en almal kan dit sien… Elke sondag wanneer u uself onder die verkondiging van die evangelie plaas, dan bely u: “Ek is skuldig!” Elke keer wanneer u u sitplek verlaat om na die nagmaalstafel te gaan, dan bely u: “Ek is skuldig!” Maar meer nog: “Ek is nie slegs skuldig nie, maar ek kan ook niks bied om my skuld af te betaal nie!”
Gemeente, Christus se offer stroop ons van alle selfvertroue, dit ontneem ons van enige wanindruk asof ons iets tot die verlossing en versoening kan bydra. Maar dan gee dit in die plek daarvan die steun wat ons nodig het. Dit gee aan ons Iemand waarop ons kan leun, iemand op wie ons ons volle gewig kan plaas, soos wat die Israeliet op die offerdier geleun het. Dit gee Christus op wie ons kan steun!
Wanneer ons daarom bid: “vergewe ons ons skulde”, dan kom ons nie met leë hande voor God nie. Ja, ons is wel gestroop van enige selfvertroue, en gelukkig maar – dit slaan nogal ‘n komieklike figuur as iemand iets glad nie kan doen nie, en tog meen dat hy baie goed is daarmee. Maar alhoewel ons gestroop is van ons selfvertrou, kom ons nie met leë hande nie. Want ons bied ons Offerlam aan die Vader aan, ons steun op Hom, ons plaas ons volle gewig op Hom. En dan bely ons voor die Here: “Ek kan nie self nie, maar ek bring hierdie offer voor U, op hierdie Offerlam werp ek myself met my volle gewig. En daarom kan die Kategismus al biddende smeek: “Reken ons, arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons nog aankleef nie toe nie.” Hoekom nie? “Ter wille van die bloed van Christus!”
Ons let nou vervolgens daarop dat sy offer die volle gewig van ons sonde dra.
2. Nadat deur die handoplegging die offerdier nou die plek van die offeraar ingeneem het, kon oorgegaan word tot die slag van die dier. Hier, in Levitikus 1, is dit uitdruklik die taak van die offeraar. In later tye – so lees ons onder andere in 2 Kron. 29:34 – het die priesters hierdie taak oorgeneem. En in Es. 44:11 lees ons van die Leviete: “Hulle moet die brandoffer en die slagoffer vir die volk slag en voor hulle staan om hulle te dien.” Maar toe die Here aanvanklik hierdie wet gegee het, was dit die offeraar sélf wat sy offerdier moes slag.
Een uitsondering hierop was as die offerdier ‘n duif was – dit was immers so ‘n klein dier, dat as die offeraar eers die duif moes slag, en die priester daarna nog die bloed teen die altaar moes uitdruk, soos ons in Lev. 1:15 lees, dan sou daar waarskynlik nie meer bloed oor gebly het nie. Daarom, as die offerdier ‘n duif was (en dit was die offerdier van die armes, mense wat nie meer kon bekostig nie) dan moes die priester die kop van die duif afknyp en die bloed teen die kant van die altaar uitdruk. Maar vir alle ander offerdiere moes die offeraar self die mes opneem.
En gemeente, ons kan onsself voorstel dat dit vir die meeste mense swaar moes gewees het. Om die slagmes in die keel van die dier te druk, te voel hoe die warm bloed oor jou uitspuit, te sien hoe die dier stuiptrekkend hier voor jou lê, te hoor hoe hy die laaste asem uitblaas – nie maklik nie. En om daarna die dier in stukke te sny, eers die kop af, daarna die vel, en daarna die dier in verskillende stukke te verdeel – weereens, nie die mees aangename taak nie. Die meeste van ons sal waarskynlik heeltemal gewillig wees om hierdie takie aan ander oor te laat.
Maar gemeente, miskien besef ons dit nie altyd nie, maar dit is nou presies wat u en ek gedoen het, dit is nou presies wat ons met ons Offerlam gedoen het – en nie eens met teësin nie, nee gewilliglik, met plesier. Ons het Hom deurboor met ons oortredinge, ons het Hom met ons ongeregtighede verbrysel, sy wonde is die werk van ons hande, ons het Hom mishandel – gaan lees maar Jes. 53! So walglik soos wat dit lyk om die offerdier te moet slag, so gewilliglik het ons óns Offerlam deurboor, spykers deur sy hande geslaan, hom mishandel, hom verbrysel…
Gemeente, die offeraar in Israel moes met hierdie slagting sien wat hy sy Verlosser eendag sal aandoen, en dit is ook vir ons gegee om te sien wat ons ons Verlosser aangedoen hét. En dit is deur God toegelaat, God het toegelaat dat dit kon gebeur – want slegs só het die volle wreedheid van ons sondige bestaan op Hom neergekom; al ons ongeregtighede, al ons misdade, al ons sondes, die volle gewig daarvan was op Hom. Slegs op dié manier – en dit kan u ook lees in Jes. 53 – het daar vir ons verlossing gekom: Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Hy het ons krankhede op Hom geneem, en ons smarte – dié het Hy gedra; ter wille van ons oortredinge was die plaag op Hom, en Hy het ons skuld gedra.
Die volle gewig van ons sondes en die toorn van God het op Hom gerus, maar slegs só kon daar werklik versoening kom tussen God en ons. Omdat alles op Hom was, was daar niks meer wat die weg na God versper het nie. God het hierdie wreedste van alle offers met welgevalle aanvaar.
En gemeente, dit word ook reeds in Levitikus 1 gewys. Immers, die priester moes die bloed van die geslagte dier neem, en dit rondom teen die altaar uitgooi. Daarna moes al die stukke – net die vel kon die priester hou – maar verder moes alles op die altaar geplaas word. Selfs die derms en die pote moes, nadat dit van alle onreinheid skoongewas is, op die altaar geplaas word. Die hele dier, sy liggaam en sy siel (want die siel was in die bloed) is dan aangesteek as brandoffer, as vuuroffer. En wat lees ons dan aan die einde van vers 9: hierdie offer was ‘n lieflike geur aan die Here. Die rook van hierdie offer het opgetrek na die hemel, tot voor die troon van God, en daar het die reuk daarvan vir God plesier en vreugde verskaf. Die volle gewig van die sonde, wat op die offerdier gerus het, is in die vlamme verteer, en die geur was vir God lieflik!
Gemeente, so volkome was die eenmalige offer van ons Heiland, dat daarmee alle sondes vergewe is, dat daarmee die volledige versoening bewerk is. Niks is daarvan uitgesluit nie. Wanneer ons daarom in opregte berou bid: “Vergewe ons ons skulde”, dan gaan dit nie oor ‘n deel van ons sondes nie; nee, dan steun ons vir al ons sondes, vir die volle gewig daarvan, al die wreedheid daarvan, op Jesus Christus! “… ter wille van sy bloed alleen!”
Ons let nog ten slotte daarop dat Christus se offer ons mild maak teenoor die sondaar.
3. Gemeente, uit die vorige punt het geblyk watter wreedheid ons ons Offerlam aangedoen het. Dit was ‘n ware slagting. Die gewig van hierdie skuld kan nooit vergoed word nie. Net so min as wat die skuld van die skuldenaar voor die koning in Jesus se gelykenis vergoed kon word. Mattheus 18:24 praat van tienduisend talente. Een talent het ‘n waarde van omtrent 6000 pennings gehad. En een penning is ‘n dagloon. Dus, vir één talent moes ‘n dagloner minstens 20 jaar werk. En vir tienduisend talente – wel, 200 000 jaar klink effens onrealisties. Net om dit in perspektief te plaas: koning Herodes die Grote het in die tyd van Jesus se geboorte ‘n inkomste van omtrent 900 talente per jaar gehad, en hier hoor ons van ‘n eenvoudige dienskneg wat tienduisend talente geskuld het. Gemeente, daarmee word duidelik dat die skuldenaar nooit sy skuld voor die koning sou kon vergoed nie.
Maar verder plaas dit ook die geld wat sy kollega hom geskuld het, in die regte perspektief. Matt. 18:28 sê dat sy mededienskneg hom 100 pennings skuldig was – dus omtrent ‘n halfjaar se betaling. Dit was tog nog ‘n aardige bedraggie, maar in verhouding tot sy eie skuld was dit soos ‘n stoffie aan die weegskaal. En tog gryp hy sy mededienskneg aan die keel en dwing hom om te betaal. Dieselfde woorde waarmee hy self sopas voor die koning gesmeek het, val nou op dowe ore.
Gemeente, op aangrypende wyse teken Jesus hier die kontras tussen die miljoene-skuld van die een dienskneg en die relatief klein skuld van sy mededienskneg. En daarmee word die kontras tussen die optrede van die koning en die optrede van die onbarmhartige skuldeiser soveel groter. Die koning skeld die onbetaalbare skuld kwyt, die onbarmhartige skuldeiser laat selfs die stoffie op die weegskaal saamtel. Broers en susters, hooplik stel dit ons eie optrede teenoor mekaar in ‘n ander perspektief. Ons voel onsself dikwels so verontreg, so bedroë, so seergemaak – en nie altyd ontereg nie. Maar wat doen ons met die sondaar? En voordat u die haat- en wraakgevoelens waarvan u hart vol is, laat oorloop, kyk dan na die Vader, kyk na Jesus Christus wat deur u en my deurboor en mishandel is. En dan vra ek weer: Wat doen ons met die sondaar?
Gemeente, Christus leer ons in hierdie gelykenis om die onreg wat ons aangedoen word, die skuld wat teenoor ons gemaak word, altyd te sien in die lig van ons eie skuld voor God. Kyk na Christus – sien die wonde aan sy liggaam, sien die wreedheid waarmee ons Hom verbrysel het – en kyk dan na die persoon wat vir u leed aangedoen het, ‘n familielid, u broer of susters in die gemeente, iemand daarbuite, miskien ‘n kollega by die werk… Kan u dit in perspektief plaas? Kyk na die Vader – sien sy vergewende aangesig, sy liefde in Christus Jesus, sy soekende arms – en kyk dan weer na die persoon wat u leed aangedoen het… Kan u hom of haar vergewe?
Gemeente, hierdie is nie slegs ‘n vraag nie, Christus self gee dit as opdrag – in hierdie gelykenis waar Hy Petrus en die ander dissipels opdra om die naaste tot sewentig maal sewe keer te vergewe, maar ook in die Onse Vader: “Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe” – en dan gaan dit hier nie oor ‘n voorwaarde nie; ons moet nie eers ons naaste vergewe voor God ons kan vergewe nie. Nee, die grenselose vergifnis deur die Vader dien as die voorbeeld, die bron, en die norm vir ons bereidheid om mekaar te vergewe. God meet aan ons vergewingsgesindheid of ons werklik verstaan het watter ongelooflike skuld Hy ons vergewe het. En dan soek God as vrug daarop dat ons ook mekaar ons klein skuldetjies kan vergewe. En gemeente, dit vra van ons dat ons uit die evangelie lewe. Wie nie werklik uit die evangelie lewe nie, die boodskap van die kruis en alles wat dit inhou, sal groot moeite hê om sy naaste te vergewe, maar wie deurdronge is van die verdienste van die Lam, hy leer sê: “Kom hier, my broer, my suster, ek vergewe jou; saam is ons gestroop van enige selfvertroue, saam is ons skuldig daaraan dat ons ons Offerlam deurboor het, saam gaan ons verder… ter wille van die bloed van Christus!”
Amen
Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 96:5 en 7
Gebed
Lees: Levitikus 1, Mattheus 18:21-35
Sing Ps. 65:1, 2 en 4
Teks: HK, Sondag 51
Preek
Amenlied Ps. 5:2, 3, 4 en 6
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 24:2 en 3
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)