Die paspoort van die Gees is genoeg om tot God se volk te behoort

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-06-11
Text: 
Galásiërs 5:25
Preek Inhoud: 

Galasiërs 5:25

Ds HH van Alten - Sondag 11 Junie 2006

Lees: Gal. 5:13-6:10, Gal. 5:25
Sing: Sien liturgie

Tema: die paspoort van die Gees is genoeg om tot God se volk te behoort. Dan let ons op Paulus se tweeledige oproep in vers 25:

  1. Lewe dan ook deur die Gees (vers 25a, en hierby betrek ek 5:15-24)
  2. Wandel in geestelike gelid (vers 25b, en hierby word 5:26-6:10 betrek)

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het nou al twee sondae na mekaar na die werk van die Heilige Gees gekyk. Twee weke gelede het ons daarop gelet dat die Gees ons aan Christus verbind en ons aan al sy skatte en gawes deel gee. En verlede week het ons gelet op die stortvloed van die Gees wat op die Pinksterdag op God se hele volk uitgegiet is. Vandag wil ons hierdie besinning oor die Heilige Gees afsluit met ‘n gedeelte uit die brief van Paulus aan die Galasiërs.

Paulus het tot dusver nie baie sorg oor die gemeentes in die gebied van Galasië gehad nie; hulle het op grond van die verkondiging tot geloof gekom, die Gees het oor hulle gekom en groot kragte onder hulle gewerk. Maar skielik kom daar verandering in hierdie situasie; Paulus voel oorrompel deur die berigte wat hom sopas bereik het. Die gemeentes wil skielik oorgaan tot ‘n ander evangelie. Paulus is bevrees: “Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het” (4:11). Hy herinner sy lesers daarom daaraan dat daar slegs één evangelie is, en selfs die engele mag nie daarvan afwyk nie. Paulus plaas ook elkeen, wat met ‘n ander evangelie kom, onder die vloek van God (1:8-9).

In sy verontwaardiging oor wat daar in Galasië aan die gebeur is, spaar Paulus sy lesers nie; in hoofstuk 3:1 lees ons: “o, Onverstandige Galasiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie…” Paulus sê eintlik: “o, julle dom Galasiërs…” Hy wens eintlik dat hy by hulle kan wees, sodat hy deur die verandering van sy stemtoon kan wys hoe verontwaardig en besorgd hy oor hulle is (4:20).

Maar, broers en susters, wat was dan in die gemeentes van Galasië aan die gang?

Wel, in die hele brief aan die Galasiërs speel die saak van die besnydenis ‘n groot rol. En daarmee saam natuurlik die verhouding tussen die besnedenes en die onbesnedenes. Die christene uit die heidendom, aan wie Paulus sy brief skryf, was nie besny nie. En hy lê hulle dit ook nie as verpligting op nie; inteendeel, hy sê vir hulle in hoofstuk 5:2: “Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie.” Maar intussen het daar mense in die gemeentes in Galasië gekom wat wel druk op die heidenchristene uitgeoefen het om besny te word – dit was die christene uit die Jode. Hierdie groep het ietwat tussen twee vure gesit in daardie tyd: aan die een kant was daar die ongelowige Jode met wie hulle, as hul volksgenote, tog kontak wou behou; en aan die ander kant was daar die onbesnede christene uit die heidene met wie hulle, op grond van die geloof, omgang gehad het. Daar was dus drie groepe wat ons goed moet onderskei: christene uit die heidene, die christene uit die Jode, en dan ten slotte was daar die ongelowige Jode.

En die ongelowige Jode het die omgang wat die gelowige Jode met die heidenchristene gehad het, nie baie waardeer nie, en dikwels ‘n dreigende houding ingeneem teen hulle volksgenote wat hierdie kontak met die heidenchristene opgesoek het. Dit is daarom begryplik dat dit vir die joodse christene ‘n uitkoms sou wees wanneer die broeders uit die heidene hulle sou laat besny. Dan sou die gevaar van vervolging verdwyn, en sou hulle sowel hul ongelowige volksgenote as hulle heidense geloofsgenote se guns behou. Dit het hier dus gegaan oor ‘n kompromis ter wille van ‘n veilige samelewing tussen joodse christene met hulle broeders uit die heidene.

En die heidenchristene was geredelik daarvoor te vinde om hulle te laat besny. Ons moet onthou – hulle was nog maar pas christene en het nog nie ‘n eie identiteit en geskiedenis gehad nie. Dit is soos ons pas geïnstitueerde sendinggemeentes – as ons met ‘n oortuigende voorstel sou kom, sou hulle dit waarskynlik ook volg, want óns is tog diegene met die ryk gereformeerde agtergrond? En dit wys ons op die groot verantwoordelikheid wat ons het om hulle op goeie Skriftuurlike weë te lei, en nie óns wette en tradisies bindend op te lê nie.

Broers en susters, so ook was hierdie Galasiërs nuwelinge in vergelyking met die ou volk van Abraham. En daarom het dit voordelig gelyk om hulself die joodse identiteit deur besnydenis eie te maak. Maar gemeente, Paulus skop met al sy mag hierteen, want dit wat soos ‘n praktiese kompromis lyk, raak die kern van die evangelie! Deur hierdie druk van die joodse christene op die Galasiërs om besny te word, word die indruk geskep asof die geloof in Jesus Christus vir die Galasiërs nie genoeg is om volledig deur hulle joodse geloofsgenote aanvaar te word nie. Die Galasiërs moet nog iets ekstra doen: hulle moet Jode word. En dan sê Paulus: “Nee! Julle het nie ‘n joodse paspoort nodig om tot die volk van God te behoort nie; julle is nie geroep tot onderhouding van die joodse wette nie; julle is geroep tot vryheid – so sê hy in 5:13. Deur die geloof in Jesus Christus, wat hulle vrygemaak het, is die Galasiërs vry voor God; voor God het hulle niks anders nodig nie!

Maar hierdie vryheid het nie beteken dat die Galasiërs teenoor hulle naaste maar kon doen wat hulle wou nie; en daarom voeg Paulus ook by in vers 13: “gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie…” Hierdie vryheid beteken dat die Gees ons lewe in beslag neem, ons vrymaak voor God, en ons bring tot liefde vir mekaar. Die Galasiërs het daarom nie ‘n joodse paspoort nodig gehad om tot die volk van God toe te tree nie, maar hulle het die paspoort van die Gees nodig gehad! Hulle het nodig gehad om deur die Gees te lewe!

Tema: die paspoort van die Gees is genoeg om tot God se volk te behoort. Dan let ons op Paulus se tweeledige oproep in vers 25:

  1. Lewe dan ook deur die Gees (vers 25a, en hierby betrek ek 5:15-24)
  2. Wandel in geestelike gelid (vers 25b, en hierby word 5:26-6:10 betrek)

1. Nadat Paulus in emosionele taal aan die Galasiërs duidelik gemaak het, dat die vryheid in Christus, waarin die Gees hulle geplaas het, ‘n kosbare skat is, gaan hy vervolgens verder om vir hulle te wys hoe hulle dan dié vryheid in die lewe van elke dag moet gebruik. En dan plaas hy in vers 16 die Gees teenoor die vlees; hierdie twee is vyande wat teenoor mekaar staan. Die Gees bring ons in gemeenskap met die Vader en laat ons sy wil soek, maar die vlees bring ons in gemeenskap met die sonde, om die begeertes en luste van die sonde na te volg. Gees en vlees is nie versoenbaar nie; hulle is vyande, opposisie – die vlees soek nie dit wat die Gees soek nie, en die Gees soek nie dit wat die vlees soek nie, hulle werk teen mekaar in.

En tussen hierdie twee in, staan die gelowige, staan u en ek. En gemeente, hierdie opposisie tussen die Gees en die vlees verhinder my om maar net te bly doen wat ek self graag wil doen. My eie voorkeure kan nie beslissend wees nie. Ek moet kies! Óf ek laat my wil blywend bepaal deur my eie begeertes, wat vleeslik is, óf ek laat in die vervolg my wil beheers deur die Gees van God. En laasgenoemde is presies waartoe Paulus ons oproep in vers 16. Ek moet leer om as vleeslike (d.w.s as sondige) mens my eie begeertes prys te gee, ek moet daarmee breek, want dit is begeertes wat teen die Gees inwerk, wat die vryheid waartoe ek geroep is, in gevaar stel, en dreig om opnuut van my ‘n slaaf te maak! Maar wanneer ek my laat lei deur die Gees, wat God aan my gegee het, dan staan ek vas in daardie vryheid.

Nou is dit opvallend dat Paulus in vers 18 spring van die vlees, waaroor hy in vers 17 gepraat het, na die wet, en in vers 19 weer terugspring na die vlees. Dus, êrens is daar ‘n verband tussen vlees en wet. Maar wat is die verband? Sou dit kon wees dat die gelowige, gelei deur die Gees, nie meer aan die wet gehoorsaam hoef te wees nie? Beteken dit dat God se wet vir die gelowige geen betekenis meer het nie? Dat dit teenoor die Gees staan, soos wat die vlees teenoor die Gees staan?

Gemeente, dit is belangrik om te besef op watter manier Paulus hier oor die wet praat. Vanaf die allereerste begin was die mens verplig om die wil van God, sy wet, na te kom. En in die paradys kón die mens dit ook doen. Ná die sondeval het God egter nie gesê: “Nou ja, julle is nie meer in staat om my te gehoorsaam nie, dus skuif ons die wet maar onder die mat” nie; nee, nog steeds was die mens verplig om die hele wet na te kom. En natuurlik kon geen mens dit nakom nie; vir elke mens het die wet eerder ‘n vloek geword as ‘n seën: “Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie” (Gal. 3:10). En, broers en susters, as dit nie was vir God se genade in Christus Jesus nie, dan het ons almal (elke mens) onder daardie vloek gestaan.

Gelukkig het Christus elkeen wat glo onder die vloek van die wet vrygekoop, ons losgekoop van die houvas wat die wet op ons gehad het. Maar dít geld vir dié wat glo. Dus dié wat nie in Jesus Christus glo nie, daardie mense staan nog steeds onder die wet, hulle staan nog steeds onder die verpligting om die hele wet na te kom; dit is God se eis van die begin af. Maar niemand van hulle kan dit doen nie; Paulus sê ook in Gal. 3:11 dat dit duidelik is dat niemand deur die wet by God regverdig word nie. Inteendeel, die wat nog onder die wet is (en dit is elkeen wat nie glo in Jesus Christus nie), maak hulle skuld nog elke dag groter, want dit is die aard van die wet – die wet is voortdurend besig om jou te herinner, vir jou uit te wys: dáár het jy gesondig, dáár het jy die werke van die vlees gedoen, dáár het jy gefaal, dáár staan jy skuldig. Deur die wet word die sonde meer en meer! Deur die wet reën die aanklagte op ons neer!

En gemeente, dit is in hierdie sin dat Paulus van die wet praat. Paulus is nie teen die wet nie, Paulus sê nie dat die wet nie meer vir die gelowiges geld nie. Maar wat hy wel sê, is dat vir die ongelowige, hy wat homself nie aan die voet van die kruis neerwerp nie, die wet geen verlossing kan bied nie, maar eerder aanleiding gee tot erger sondes; wie onder die wet staan, roei nie die werke van die vlees uit nie, maar bevorder juis die heerskappy van die vlees! Die ongelowige voed en koester die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede, hy rol homself daarin soos wat ‘n vark homself in die modder rol. Geen skaamte nie, geen poging om dit te keer nie. Dié wat deur die vlees lewe, staan onder die heerskappy van die wet. En hy geniet dit…

Maar gemeente, dit is presies waaronder ons nie meer staan nie; ons staan nie meer onder die heerskappy van die wet nie, ons het ‘n ander Heer gekry! Ons behoort aan ons Heer, Jesus Christus, en die wat aan Christus behoort – so sê Paulus in vers 24 – het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig; ons hartstogte en begeerlikhede, die owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brassery, en gemeente, vul dit maar in en vul dit aan vanuit u eie lewe – dit alles het ons aan die kruis gespyker toe ons in die Gekruisigde begin glo het. En wat aan die kruis hang hoef nog nie dood te wees nie, maar dit is wel veroordeel om uit die lewe te verdwyn!

En dit is wat Paulus sê: Wie in Jesus Christus glo, moet al hierdie vleeslike hartstogte en begeerlikhede uit sy lewe uitban, wegjaag, kruisig! En hy mag wandel deur die Gees. Wie die wet as heer het, kry die vleeslike hartstogte en begeerlikhede op die koop toe. Maar wie Jesus Christus as sy Heer het, kry die vrugte van die Gees.

En die eerste vrug wat Paulus dan opnoem, is: die liefde! Die liefde – daardie een, kosbare vrug van die Gees teenoor die baie, vermoeiende, vernielende werke van die vlees. Die liefde, daardie vrug waardeur ons die wet kan vervul, waardeur die wet nie meer die vloek is waaronder ons lewe nie, maar die vervulling, soos wat Paulus dit ook sê in 5:14: “Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself!” Die liefde, daardie vrug waardeur dinge weer heel word, mooi word. Want waar liefde woon, daar is blydskap en vrede, in plaas van bitterheid en geweld. Mense kan weer saamwees en bymekaar bly, in huwelike, in maatskaplike verbande, in die gemeente – sonder vyandskap en vete – maar deur lankmoedigheid en vriendelikheid en goedheid en getrouheid en sagmoedigheid en selfbeheersing.

As die Gees van Christus in ons werk, dan is ons nie self aan die werk nie, maar dan groei die werk van God in ons. Laat ons deur die geloof toelaat dat die Gees van Christus in ons werk, laat ons daarvoor ruimte maak deur die onkruid van die werke van die vlees uit te roei! Laat ons lewe deur die Gees, want so word die lewe nuut!

Ons let vervolgens op die oproep om in geestelike gelid te wandel.

2. In hierdie punt gaan dit oor die tweede deel van vers 25: laat ons ook deur die Gees wandel. Die werkwoord wat hier met “wandel” vertaal is, gaan egter oor meer as net wandel. In vers 16 vind ons ook die woord “wandel”, maar daar word ‘n ander werkwoord gebruik. Die werkwoord wat in die tweede deel van vers 25 gebruik word, het te make met ‘n ry of gelid. ‘n Mens sou daarom kon vertaal: “laat ons ook deur die Gees een gelid vorm.” Hier maak Paulus dus gebruik van die beeld van ‘n leër wat in samehorigheid optrek. En hierdie beeld keer telkens weer terug in die gedeelte tot hoofstuk 6:10.

Die christene moet dus nie elkeen op sy eie deur die Gees lewe nie, maar hulle moet saam met ander christene een liggaam vorm. Die lewe deur die Gees bring ons dus saam, nie in ‘n Joodse volk waar besnydenis die voorwaarde is nie, maar in die volk van God, die ware Israel, die kerk van die Here. Die geloof in Christus vorm ‘n nuwe familie, en dit is daarom ook nie verniet dat Paulus hierdie gedeelte in 6:10 afsluit met die uitdrukking: “die huisgenote van die geloof” nie. Christene moet as huisgenote saam oppad wees. Elkeen van hulle lewe deur die Gees, maar nou moet hulle ook deur die Gees ‘n geslote geheel vorm.

En gemeente, die praktyk van ons eie gemeentelike lewe bewys dat dit nie altyd maklik is nie. Dit vra van ons dat ons onsself reg sal instel, ‘n houding van liefde sal aanleer, wat uiting vind in nederigheid en beskeidenheid. En dit is wat Paulus aantoon in vers 26: “laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie” – dit is tipies die houding van die vlees; ‘n verwaande mens ag homself belangriker as ander, en die gevolg van sulke verwaandheid is dat mense mekaar nie dien en liefhet nie, maar eerder mekaar uittart en beny. Solank hierdie verwaandheid in ons harte leef, broers en susters, sal ons nooit in een gelid kan loop nie, sal ons sukkel om die eenheid te vorm wat van ons gevra word nie.

Paulus werk die beeld van die leër wat in gelid optrek, vervolgens uit onder 4 aspekte:

* In die eerste plek, 6:1, wys Paulus dat die gelid voortdurend herstel moet word (6:1): dit kan naamlik in die gemeente gebeur dat iemand van ons deur een of ander misdaad oorval word. Dit gaan hier nie oor iemand wat van die geloof afvallig geword het nie, maar oor iemand wat opreg deur die Gees wil lewe, maar tog onverwags en sonder dat hy wou in ‘n sonde beland. So iemand moet ons, wat geestelik is (dus, wat ook deur die Gees wil lewe), dan reghelp, ophelp, sodat die gelid weer herstel kan word en elkeen weer op sy plek kan loop. En broers en susters, laat ons dit maar met sagmoedigheid doen, want die versoekings wag op elkeen van ons, elkeen van ons loop voortdurend die gevaar om in sonde te val. En dit blyk ook uit die woord wat Paulus gebruik: oorval. Dit lyk asof Paulus probeer sê dat almal in die gelid blootgestel is aan sonde, maar dat daar een in die gemeente is wat voor die ander daarin geval het. Hy is geen uitsondering nie, maar vir almal ‘n voorbode van die gevaar, ‘n waarskuwing aan al die ander. Laat ons daarom so iemand terugbring in gelid en die geledere sluit en voorkom dat daar nog meer van sulke slagoffers val. Gemeente, hier leer die Here ons so ‘n belangrike les: as iemand van ons, hier in die gemeente, in sonde val, dan help ons die gelid waarin ons loop niks verder deur so iemand uit te stoot of te verag nie; nee, dan kry ons die opdrag om so iemand met liefde en sagmoedigheid te omring, sodat die gelid herstel kan word!

* Vervolgens wys Paulus in vers 2 en 3 dat ons almal saam moet optrek: hy roep ons immers op om mekaar se laste te dra. Hier gaan dit oor alles wat pyn en verdriet bring, alle moeilike probleme. En, broers en susters, daar is baie pyn en moeite en probleme, ook in hierdie gemeente. Ons leef immers in ‘n gebroke wêreld. Maar ons kan ons nie eenvoudig van die ander se laste afmaak nie, ons kan nie ons gesig daarvan wegkeer nie. So gaan dit ook nie in die leër nie – daar staan die soldate in die oorlog juis saam, lê hulle hul lewe vir mekaar af, dra hulle mekaar se laste. En gemeente, juis dit wat Paulus in vers 3 beskryf, naamlik ‘n gevoel van eiewaarde, ‘n gevoel dat ons belangrik is – verhinder ons dikwels om saam te help dra aan die laste van die ander. Maar dan word ons opgeroep om van onsself te vergeet en om die wet van Christus te vervul – en dit vra van ons ‘n houding van sorg en liefde vir my broer en my suster, dit vra dat ek ‘n oog sal hê vir die ander, die ander op praktiese en geestelike gebied sal ondersteun, en dat ek werklik swaar sal dra aan die laste wat swaar op ander druk.

* In verse 4 en 5 word ons deur Paulus opgeroep om elkeen ook vir sy eie bagasie te sorg: en dit begin deur krities op jouself te wees, jouself te beoordeel. Nie omdat jy ander wil beïndruk nie, maar omdat ons almal eendag aan God verantwoording moet doen. Elkeen sal immers sy eie pak dra! Hier gaan dit nie oor die moeite en verdriet waarvan Paulus ons in vers 2 opgedra om dit saam met mekaar te dra nie. Nee, hier gaan dit oor elkeen se persoonlike roeping en taak in die lewe. Wanneer ons met ander christene in gelid loop, moet elkeen dus wel sy eie bagasie dra. Elkeen het sy eie taak, elke lid van die leër het sy eie funksie, en vir die sukses in die oorlog is dit nodig dat elkeen sy eie taak uitvoer. Daardie verantwoordelikheid kan ons nie afskuif op ander nie. U is miskien iemand met wysheid – dan het u die taak om die gemeente met wysheid te dien, ons het daardie wysheid nodig. Of miskien sien u baie gou as daar gevare kom – wel, dan het u die taak om die gemeente te waarsku, ons het u nodig. So het elkeen sy taak en roeping. En gemeente, elkeen wat sy eie bagasie dra en die gewig daarvan ken, word nederig genoeg om ook ander te help by hulle probleme of in geval van ‘n oortreding.

* Die vierde aspek wat Paulus aanroer wanneer ons in gelid trek, is die sorg vir die dienaars van die evangelie (vers 6). Vir die welstand van die leër is dit onontbeerlik dat die woordverkondiging, die bediening van die evangelie, voortgaan. En daarom moet hulle onderhou word. En dan val die fokus hier nie op die traktement van die predikant nie, maar dan val die fokus op die voortbestaan van die leër deur die bediening van die evangelie.

Wanneer Paulus hierdie 4 aspekte afgehandel het, spoor hy ons nog ‘n ekstra keer aan dat ons nie moet dwaal nie, dus daarvoor moet waak dat ons nie uit gelid raak nie. ‘n Leër waarvan die soldate elkeen sy eie pad gaan, is eintlik ‘n bespotting vir die hoof van daardie leër, dit is ‘n aantasting van sy eer. En gemeente, God laat nie met Hom spot nie. Laat ons daarom as gemeente in een gelid optrek, almal saam. Laat ons in die Gees saai, dit wil sê, die goeie doen, mekaar se laste dra, mekaar reghelp. En dan kry ons die vaste belofte dat ons eendag sal maai, eendag mag ons die heerlike vrugte pluk van die lewe deur die Gees, almal saam en elkeen afsonderlik.

Gemeente, die stortvloed van die Gees wat op die Pinksterdag uitgestort is en wat ons in die vryheid, wat Christus ons verdien het, laat staan – daardie Gees laat ons nie koud nie. Dit is onmoontlik! Daardie Gees laat ons nie in oorgerustheid agteroorlê nie. Dit kan nie wees nie! Om die Gees te besit, is nie ‘n toestand nie, dit is ‘n werkwoord, dit is iets wat sigbaar behoort te wees by elkeen van ons persoonlik en by hierdie gemeente as geheel. Laat ons daarom geestelike mense wees, mense wat sigbaar word as mense van die Gees, deur liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing…

Amen.
 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 46:3 en 6
Wetslesing en Ef. 2:4-10
Sing Ps. 85:1 en 3
Gebed
Lees: Galasiërs 5:13-6:10
Sing Ps. 25:4 en 7
Teks: Gal. 5:25
Preek
Amenlied Ps. 33:1-3
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 14
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)