Die volk word opgeroep om na die Here terug te keer

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-04-23
Text: 
Maleági 3:7b
Preek Inhoud: 

Maleági 3:7b

Ds HH van Alten - Sondag 23 April 2006

Lees: Mal. 3:6-12, Neh. 10:32-39
Sing: Sien liturgie

Tema: Die volk word opgeroep om na die Here terug te keer.
        Ons let op:
            1. Die oproep aan die volk om terug te keer
            2. Die belofte van die Here om terug te keer

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het in die afgelope maande na die profete Haggai en Sagaria gekyk. Ons het iets geproe van die tyd ná die ballingskap: die voortgaande sondigheid van die volk, die stryd om die tempel te herbou, die moeilike omstandighede waaronder die volk geleef het. Ons het ook die beloftes gesien wat die Here gegee het: beloftes van bystand, beloftes van seën en van verlossing.
En nou kom ons by die laaste profeet van die tyd ná die ballingskap, die profeet Maleagi. In teenstelling tot Haggai en Sagaria, wat beide noukeurig gedateer is, vind ons in Maleagi geen enkele datering nie. Maar hoe weet ons dan waar om hierdie boek te plaas?
* Wel, uit hoofstuk 1:8 blyk in elk geval duidelik dat dit ná die ballingskap geplaas moet word. Daar lees ons immers dat die volk onder ‘n ‘goewerneur’ gestaan het. Die goewerneur was die titel van die Persiese stadhouer, en die Perse het eers kort voor die terugkeer uit ballingskap aan bewind gekom. Dus, ons kan die profesie van Maleagi met veiligheid ná die terugkeer uit ballingskap plaas.
* Verder kan ons sê dat Maleagi nie in die eerste tyd ná die terugkeer opgetree het nie. In die eerste tyd ná die terugkeer was die tempel immers nog nie opgebou nie – so het ons in Haggai gesien – en uit Maleagi blyk juis dat die tempel in sy tyd weer opgebou en die tempeldiens herstel is.
* Tenslotte kan ons Maleagi se optrede waarskynlik die beste plaas rond die tyd van Nehemia. Beide bestry naamlik dieselfde euwels onder die volk: huwelike met heidense vroue en ontrou in die bring van die tiendes.

Die profesie van Maleagi het ‘n baie opvallende vorm. Die eerste vers van hierdie boek vorm die inleiding, die laaste drie verse vorm die slot, en tussen-in vind ons ses dialoë, ses tweegesprekke. Hierin neem God, deur sy profeet, elke keer die woord, maar dan is daar elke keer ook plek vir ‘n antwoord van die hoorders, die volk; hulle kry kans om te reageer.
Volg dit saam met my in die boek Maleagi:
1. Die eerste dialoog vind ons in hoofstuk 1:2-5 – daar sê die Here: “Ek het julle liefgehad.” En dan is die reaksie van die volk: “Waarin het U ons liefgehad?” (vers 2)
2. Die tweede dialoog strek van hoofstuk 1:6-2:9 – ook hier vind ons dieselfde patroon; die Here beskuldig die priesters daarvan dat hulle sy Naam verag, en dan volg die vraag van die priesters: “Waardeur het ons u Naam verag.” (vers 6)
3. In die derde dialoog, wat strek van hoofstuk 2:10-16, wys die Here dat die offers wat die volk met trane bring Hom nie welgevallig is nie. En dan is die antwoord van die volk: “Waarom?” (vers 14).
4. Die vierde dialoog strek van 2:17-3:5 – daar sê die Here deur sy profeet: “Julle vermoei die Here met julle woorde.” En die reaksie? “Waarmee vermoei ons Hom?” (2:17)
5. Die vyfde dialoog (3:6-12) vertoon dieselfde patroon – daar is die oproep van die Here om na Hom terug te keer, en dan reageer die volk: “Waarin moet ons terugkeer?” (vers 7)
6. En ten slotte die sesde dialoog vanaf 3:16-4:3. Die Here begin weer die tweegesprek: “Vermetel is julle woorde teen My…”, en die volk reageer: “Wat het ons onder mekaar teen U gespreek?”

Hier is dus telkens twee partye in gesprek met mekaar. Maar let daarop, gemeente, dit is nie twee partye met gelyke regte nie. Nee, die party wat telkens die woord neem, en wat dan ook weer reageer op die antwoord van die volk, is die hoë God, wat in ‘n verbond staan met die nietige volkie, Israel. Slegs binne die verbond is die gesprek tussen God en sy volk moontlik! Was daar geen verbond nie… hoe moes twee sulke ongelyke partye dan met mekaar in gesprek gaan? Maar nou, binne die veilige verhouding van die verbond, is daar kommunikasie moontlik. Ook vandag nog, broers en susters – dit is immers waaroor dit gaan in die gebed, wat ons tans besig is om te behandel vanuit die Heidelbergse Kategismus. In die gebed is daar gesprek moontlik, kommunikasie moontlik tussen die Allerhoogste God en nietige mense. Laat ons daarom die verbond, die verbondenheid met God hoog ag, sodat die tweegesprek, die dialoog moontlik bly – vir God wat ons liefhet, en vir ons wat Hom liefhet. Terug na Maleagi…

Die Here spreek dus sy volk aan, daarna luister Hy geduldig na hulle klagtes, en ten slotte bedien Hy hulle weer van ‘n antwoord. Maar gemeente, dit is telkens die Here wat die laaste woord het, dit is telkens Hy wat die volk daarop wys dat, ten spyte van hulle klagte, hulle die party is wat skuldig staan. Hy gaan in feite ‘n twis met hulle aan, ‘n twisgesprek om hulle terug te bring tot Hom. In elkeen van die dialoë word spesifieke sondes van die volk aangespreek, maar telkens soek die Here daardeur die harte van die volk terug.
Ons wil vanoggend let op die vyfde dialoog van die Here met sy volk – hoofstuk 3:6-12.
Ons kan die teks soos volg saamvat:

Tema: die volk word opgeroep om na die Here terug te keer.
        Ons let op:
            1. Die oproep aan die volk om terug te keer
            2. Die belofte van die Here om terug te keer

1. Vandat ons enkele maande gelede met die prediking by Haggai begin het, is ons omtrent al weer honderd jaar verder in die geskiedenis van God se volk. Honderd jaar waarin die tempel uiteindelik voltooi is en die tempeldiens herstel is, honderd jaar waarin die mure van die stad herbou is. Baie dinge het verander…, maar nie alles nie.
U onthou miskien hoe ons in Haggai 1 opgemerk het dat dit finansieel en materieel met die volk sleg gegaan het. Daar was droogte in die land en die oeste het misluk. En toe het ons in Haggai 2:18-19 gelees dat die Here belowe het om vanaf die 24e dag van die negende maand die volk te seën. Wat was so besonder aan die 24e dag van die negende maand? Dit was die dag waarop hulle die fondament van die tempel van die Here gelê het. Vanaf dáárdie dag, daardie dag van gehoorsaamheid en trou van die kant van die volk, seën die Here sy volk.
Nou, honderd jaar later verkeer die volk weer in ‘n moeilike situasie. Hulle trek swaar, hulle finansiële posisie is weereens benard, sodanig dat die klag by hulle ontstaan: “Wat is dit met die Here, het Hy miskien verander? Is Hy anders as destyds toe Hy geseën het?” ‘n Verskriklike klag, net al om die moontlikheid te opper dat ons dalk ‘n wispelturige God het, Een wat met die winde van verandering saamwaai, aan Wie se grille en giere ons onderhewig is… ‘n Godslasterlike klag…

Maar gemeente, die Here antwoord baie geduldig, maar ook baie duidelik: “Ek het nie verander nie, Ek is immers die HERE, Jahwe – Ek is wat Ek is!” En die Here lewer ook nog die bewys van sy onveranderlikheid, naamlik die feit dat die volk, die kinders van Jakob, nog nie verteer is nie. Dus, dat hulle nog bestaan, bevestig die onveranderlikheid van God se verkiesing, soos Hy alreeds in hoofstuk 1:2 gewys het. Daar sê die Here: “Ek het julle liefgehad, sê die HERE. Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad? Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die HERE. Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau het Ek gehaat…” Die Here het in sy genade vir Jakob gekies, en dan hou Hy by daardie keuse. Hy verwerp nie later vir Jakob om ‘n ander te kies nie. Nee, die Here is onveranderlik in sy keuse! Die feit dat Israel, die kinders van Jakob, nog nie vernietig is nie, is aan die Here te danke, aan sy onveranderlike trou!

“En daarom, kinders van Jakob, gaan soek die oorsaak van julle materiële sorge en moeite êrens anders. Julle kan nie My daarvan beskuldig nie!” En dan wys die Here in vers 7 waar hulle die oorsaak dan wel moet soek: “Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie.”
Die oorsaak van die moeite van die volk lê dus nie by die Here wat kamtig verander het nie. Nee, die oorsaak lê by hulleself, by hulle afval van die Here, by hulle ontrou om sy gebooie te onderhou. En daarom die Here se oproep in ons teks: “Keer terug na My...”

Gemeente, laat die moeite in ons eie lewe en in die lewe van die kerk, ons nie daartoe bring om beskuldigend na die Here te kyk nie. Hy is nie die oorsaak van die probleme in ons gemeente en in ons lewens nie. Laat ons bly bely wat artikel 1 van die NGB sê: Ons God is “onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.” Onveranderlik in sy almag, onveranderlik in sy wysheid, onveranderlik in sy goedheid. As daar moeites en probleme in die kerk is, dan gaan druk ons nie ons vinger onder God se neus nie, maar dan moet ons die oorsaak daarvan in ‘n ander rigting soek. En gemeente, as in die verbond Gód nie verander het nie, dan bly daar slegs een party oor: ons, ek! Hier moet ek die fout soek!

En dan gaan plaas ons die waterpas van God se Woord oor ons lewens, oor die lewe van die gemeente, en ons gaan meet. En dan sien ons waar dit skeef gegaan het, waar die fout sit. Broers en susters, dít is die ware selfondersoek waarvan die nagmaalsformulier praat; die selfondersoek wat pynlik presies wys waar ons afgewyk het van God se goeie wet, die selfondersoek wat baie konkreet aantoon op watter punte ons moet terugkeer na die Here.

En dit wys die Here ook aan sy volk. Hulle vra immers: “Waarin moet ons terugkeer?” En onmiddellik het God sy antwoord klaar. Hy sê nie: “Nou ja, op hierdie en daardie en die ander punte het julle gesondig nie.” Nee, dit is treffend dat die Here onmiddellik die sonde kan aanwys waaruit blyk dat hulle van Hom afgedwaal het, konkreet kan Hy aantoon hoe hulle na Hom moet terugkeer: “Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.” (vers 8)
Sjoe, is dit nou al? Ons vind in hierdie dialoog, hierdie twisgesprek, ‘n baie spannende opbou: die volk beskuldig God, daarna wys God waar die eintlike skuld lê, en dan… die volk het nie heeltemal die volle tiendes betaal nie… Is daar nie erger dinge wat die Here sou kon opnoem nie? Is daar nie meer sentrale sake waarin die volk sou moes terugkeer nie?

Gemeente, die Here raak hier aan wat ons dikwels die meeste raak: ons sakke! Ons sakke, dit is waar dit so moeilik is om terug te keer na die Here. Nee, die tiendes is nie maar ‘n onbenulligheidjie van ‘n gierige God nie; die Here tref hier die kern van ons lewe met Hom. Die Here Jesus wys immers in die bergrede (Matt. 6:24) dat, wanneer dit by geld en goed kom, dan gaan dit oor die keuse tussen twee gode: “Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” Broers en susters, die Here is nie besig om hare te kloof wanneer Hy die tiendes baie presies aanwys as dié area waarin die volk na Hom moet terugkeer nie; nee, juis hierin soek die Here die harte van sy volk, hulle hele lewe!
En die volk het geweet waaroor dit gaan. Hulle het dan self in Nehemia 10, waarskynlik enkele jare voordat Maleagi opgetree het, nog ‘n verbond met die Here aangegaan, waarin hulle onder andere belowe het om die tiendes te betaal, die eerstelinge van die grond en die vrugtebome, van hulle seuns en hulle vee, van die growwe meel en die mos en die olie. En hierdie tiendes moes gebring word na die kamers van die skathuis. Die skathuis was ‘n bygebou van die tempel waarin al die voorraad gestoor is. En hoekom was dit vir die volk so belangrik? Omdat – so lees ons in Nehemia 10:39 – die gereedskappe van die heiligdom en die diensdoende priesters en die poortwagters en die sangers daar gebly het. En hulle moes die tempeldiens onderhou, hulle moes die offers voor die Here bring, hulle moes die erediens van die volk lei, hulle moes die volk onderrig. Die volk het dus baie deeglik verstaan waaroor dit gaan – dit het gegaan oor die hart van die diens aan die Here in die tempel. En hulle sê dit ook aan die einde van Nehemia 10:39: “… want ons wou die huis van onse God nie laat verwaarloos nie.” Die volk het verstaan dat dit oor die hart van hulle geloof gaan. Wie het daardie hart? God of Mammon?

En nou wys die Here vir die volk in Maleagi 3 dat hulle daardie perspektief verloor het. Hulle het vergeet van hierdie verbond wat hulle in Nehemia 10 met die Here gesluit het. En daaroor het die Here hulle gestraf, hulle getugtig. Hulle was onder sy vloek, juis sodat hulle sou terugkeer na Hom. En dit is wat die Here dan ook nie kan verstaan nie: “Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!” (vers 9) Dit is vir óns ‘n baie logiese redenasie: dit gaan moeilik, so dan gee ons ‘n bietjie minder. Nee, sê die Here, juis dan, juis dan moet julle gee. “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees.” Die Here wil sien dat die hart van sy volk aan Hom behoort. In die gee van die tiendes blyk dat die verbondenheid met die Here vir die volk alles is; juis hierin moet hulle terugkeer…

Gemeente, ons geldsake, ons VVB, ons tiendes – dit is nie privaatsake waarvan ons die Here kan uitsluit nie. Dit gaan hier oor die hart van ons diens aan die Here. Dien ons Hom of dien ons Mammon? Hy is onveranderlik in sy trou en in sy liefde vir ons. Maar ons, ons wyk so dikwels maar weer van Hom af. Ons bewys so dikwels maar weer waar ons hart eintlik lê, by ons aardse besittings. En daarom die oproep vandag, nie omdat dit oor die geld gaan nie, want die Here het jou geld nie nodig nie, maar omdat dit oor die hart gaan: Bring die tiende!
En daarom, broers en susters, ons VVB, ons bydrae aan die kerk, is nie in die eerste plek ‘n materiële saak nie, maar ‘n voluit geestelike saak, ‘n saak van die hart: aan wie behoort daardie hart? Seuns en dogters, die kollekte wat jy in die sakkie gaan gooi, het te doen met jou hart. Met jou hart wat so dikwels maar weer afwyk van die lewe met die Here, met jou hart wat so maklik verknog raak aan die silwer en die goud van hierdie wêreld. En daarom die Here se oproep, juis sodat kan blyk dat ons harte aan Hom behoort: Gee vir My! Sien u, die Here soek ons harte – en daarom is terugkeer tot Hom nie slegs om genoeg of meer as genoeg vir die kerk te gee nie, ons het nie ons plig gedoen wanneer ons bydrae ooreenstem met wat ons veronderstel is om te gee nie. Terugkeer is terugkeer met ons hele lewe, met al ons besittings.
Ons let nou ook nog daarop dat die Here belowe om terug te keer.

2. Dit het met die volk maar moeilik gegaan, en daarom het hulle hul tiendes afgeskeep. Hulle het immers elke sent nodig gehad om te oorleef. Maar gemeente, ons het gesien dat die Here aan sy volk wou leer dat hulle nie elke sent nie, maar sy genade nodig het om te oorleef, om te leef! En daarom die oproep: Bring die hele tiende!
Maar dan laat die Here dit nie net daarby nie. Nee, Hy staan tog in ‘n verbond met sy volk, Hy wil met hulle lewe, met hulle omgang hê. En dit het alreeds geblyk uit die feit dat Israel nog bestaan. Maar dan soek die Here ook die antwoord van die volk: hulle lewe, hulle geld. En wanneer Hy dit ontvang het, dan wil die Here weer terug antwoord: Hy wil seën wie Hom vrees. Soos die digter van Psalm 111 sê: “Aan die wat Hom vrees, het Hy spys gegee; Hy dink vir ewig aan sy verbond” (Ps. 111:5).
En daarom kom daag die Here sy volk uit in vers 10: kom beproef My! In ons spreektaal: Kom, toets My! Wanneer julle jul hele lewe aan My wy, wanneer julle dit ook laat blyk op die één punt waar ons so maklik ‘n ander god met gawes eer, dan sal julle beleef hoe goed dit is om die Here te dien! Want dan sal Ek die vensters van die hemel oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën uitstort. Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie.
Wanneer die volk terugkeer tot die God, dan wil daardie God ook na sy volk terugkeer met sy ryke seën.

Broers en susters, dit is vir ons dikwels so ‘n onlogiese redenasie. Ons sê: laat ons suinig lewe, dan kan ons in die toekoms weer gee. Die Here sê: “Nee, Ek soek alles, nou, maar dan gee Ek ook aan julle meer as wat julle nodig het.” Hierdie manier van dink kom ons op ander plekke in die bybel ook teë. Dink aan wat Paulus skryf in 2 Korinthiërs 9:6-8: “Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.” Gee oorvloedig aan die Here, gee jou lewe aan die Here, en jy ontvang die lewe van Hom!

Dit is ‘n denkwyse waarin ons deur die geloof moet groei en toeneem, juis ook in die kerk. In die kerk is daar so dikwels terughoudendheid om Koninkrykswerk aan te pak: die geld, die tyd, en die mannekrag ontbreek. Ons laat so dikwels die werk van die Here lê, omdat dit “tog nie sal werk nie”. U ken dit: ons is so klein, ons het nie die fondse nie…
Gemeente, gelowige nugterheid en beplanning word nêrens in die Skrif afgewys nie. Maar ontrou om werk wat lê en wag, op te neem; kleingeloof om die Here se werk in gehoorsaamheid aan te pak, daarteen moet ons wel waak. Laat ons in die kerk en in ons persoonlike lewe die verbondenheid met die Here baie hoog ag: wanneer ons na die Here terugkeer, dan is dit seker dat Hy na ons sal terugkeer; wanneer ons in geloof sy werk doen, dan mag ons seker wees dat Hy ons sal seën.

En nie net sal Hy ons seën nie, maar ook sal al die nasies ons gelukkig prys, omdat ons die land van welbehae sal wees. Dit wys dan baie spesifiek op die situasie van die volk wat uit ballingskap teruggekeer het. Hulle word opgeroep om na die Here terug te keer, Hom met hulle tiendes te dien. Dan sal Hy hulle land, hierdie land waarvoor hulle tans elke sent probeer spaar om dit weer op te bou, dan sal Hy dit seën. En die volke rondom sal wens dat hulle so ‘n God gehad het soos Israel.
Maar broers en susters, eendag sal die volke ons weer prys, eendag sal hulle ons beny vir die God wat ons mag hê. Maria, die moeder van ons Here Jesus het al iets hiervan besef. Nadat sy die belofte dat die Messias uit haar gebore sou word uit die mond van Gabriël ontvang het, loof sy die Here met die woorde: “Kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem. Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilige is sy Naam. En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir dié wat Hom vrees.” En watter groot dinge het die Here nie aan Maria gedoen nie, watter barmhartigheid het Hy nie aan haar bewys nie – uit haar is die Messias gebore, die grootste bewys dat die Here seën die wat Hom vrees. Wie Jesus Christus aangryp as die grootste bewys dat God ons nie wil verteer nie, maar dat Hy wil hê dat ons lewe, hy mag seker wees van God se seën, ook vandag nog. Wie na die Here terugkeer, het die sekere belofte dat die Here ook na Hom sal terugkeer. En dit is ‘n daaglikse proses… Laat ons nie omdat ons terugkeer, ons bekering gister misluk het, vandag daarmee ophou nie. Nee, elke dag loop ons die paadjie terug na die Vaderhuis, en elke dag omhels Hy ons weer in sy Vaderarms. Maar gemeente, eendag, dan kom die Here finaal terug, dan keer Hy terug na sy volk, sy kerk, eendag sal sy seën oor ons in volheid en vir altyd wees.

Maar laat ons vandag begin… Ons wil daarom nou direk na die prediking ook die kollekte opneem, nie omdat hierdie gemeente werklik geld nodig het nie, maar omdat ons die Here nodig het, omdat ons sonder Hom nie kan lewe nie, omdat ons sy seën so hard nodig het. En beproef die Here, gee u gawes aan Hom; toets Hom, en kyk watter groot wins dit oplewer. Die nasies sal ons gelukkig prys! Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 135:1, 2 en 8
Wetslesing
Sing Ps. 130 (2de beryming)
Gebed
Lees: Maleagi 3:6-12, Nehemia 10:32-39
Sing Ps. 111:1-3
Teks: Maleagi 3:7b
Preek
Kollekte
Amenlied Ps. 128
Gebed
Slotsang Ps. 81:12, 15 en 18
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)