Christus lê die Vader-naam op ons lippe

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-04-09
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 46
Reference: 
HK 46-0 (2006)
Preek Inhoud: 

HK Sondag 46

Ds HH van Alten - Sondag 9 April 2006

Lees: Mark. 14:32-41, HK Sondag 46 en vraag en antwoord 119
Sing: Sien liturgie

Tema: Christus lê die Vader-naam op ons lippe
            1. Ons moet deur Christus tot die Vader gaan
            2. Ons mag met die Vader deur die lewe gaan

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die Onse Vader – sekerlik die mees bekende gebed in die bybel, en een wat tot vandag toe nog deur christene gebruik word. Hoekom is hierdie gebed so bekend en geliefd? Daar is tog ook ander mooi gebede in die bybel? Ja, ons het dit enkele weke gelede nog gesien toe ons in verband met Sondag 45 Daniël se gebed in hoofstuk 9 gelees het.
Maar gemeente, die bekendheid van die Onse Vader is geen verrassing nie, wanneer ons besef dat hierdie gebed deur die Here Jesus self aan ons geleer is in Matt. 6 en Luk. 11 – in Mattheus 6 is dit die hoogtepunt van Jesus se onderwys oor die gebed, en in Lukas 11 volg dit na ‘n versoek van sy dissipels om hulle te leer bid. Jesus self, die egte en ewige Seun van die Vader, leer ons bid, leer ons om te sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word, laat u Koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
‘n Duidelike struktuur: 1. die aanspraak (Onse Vader wat in die hemel is), 2. drie bedes gerig op die heerlikheid van God (laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied), 3. dan drie bedes gerig op ons behoeftes (gee ons vandag ons daaglikse brood, vergeef ons ons skulde, en lei ons nie in versoeking nie), 4. en ten slotte die doksologie, die lofprysing (want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid).

Is ons dan verplig om hierdie gebed woordeliks te bid? Ons kan…, en ons doen dit ook dikwels. Maar, broers en susters, dit was nie Jesus se bedoeling dat ons gebede altyd ‘n woordelikse herhaling van sy volmaakte gebed sou wees nie. En dit blyk ook duidelik wanneer ons die verskillende weergawes van die Onse Vader in Mattheus 6 en Lukas 11 met mekaar vergelyk. Op verskeie puntjies gebruik Lukas ‘n ander bewoording as Mattheus, en baie opvallend is dat die lofprysing en die amen by Lukas heeltemal ontbreek.
Nee gemeente, die Onse Vader was nooit bedoel om ons ons selfstandigheid te ontneem nie; die Onse Vader was nooit bedoel om ons eie gebede te vervang nie, maar wel om ons eie gebede te vorm. Die Onse Vader is die model vir ons eie gebede. Die volmaakte gebed help ons om ons eie gebede reg in te vul. En wanneer ons daarom in die komende weke die verskillende bedes van die Onse Vader nader gaan bekyk, dan beteken dit nie noodwendig dat ons in die kerk, by vergaderings, by die huis of in my binnekamer presies die woorde moet gebruik wat Jesus gebruik het nie, maar dan beteken dit wel dat die inhoud en die vorm van sy gebed, die grondtoon daarvan, wel in ons gebede aanwesig moet wees. Laat ons deur ons Heiland geleer word wat werklik gebed is, wat dit is om met die Vader in die hemel in gesprek te gaan. En wanneer ons dit doen, dan besef ons – soos Calvyn sê – “dat ons Hom niks belagliks, niks vreemds of onvanpas – kortom: niks wat vir Hom onaanvaarbaar is, vra nie aangesien ons byna uit sy eie mond daarom vra.” Byna uit sy eie mond – ons bid selfstandig, maar tog laat ons ons gebede vorm ooreenkomstig die volmaakte gebed van ons Here Jesus.
Ons let vandag vanuit Sondag 46 op die aanspraak van ons gebed, d.w.s hoe ons ons gebed begin.

Tema: Christus lê die Vader-naam op ons lippe
            1. Ons moet deur Christus tot die Vader gaan
            2. Ons mag met die Vader deur die lewe gaan

1. Broers en susters, die tema is dus dat Christus die Vader-naam op ons lippe lê. Dit kom dus skynbaar nie van onsself af nie… Skynbaar neem ons dit nie self op ons lippe nie… Meer nog, ons mag dit nie eens op ons lippe neem nie. Ja gemeente, laat ons dit maar baie duidelik vir mekaar sê: Ons, ek, het geen reg om vir die God in die hemel “Vader” te noem nie. Klein Wian, wat vandag gedoop word, het ook nie daardie reg nie. Ons het immers ons kindskap verbeur, ons het self besluit om ons kindskap in te ruil… vir slawediens. Vrywillig, niemand het ons daartoe gedwing nie, het ons die duiwel ons heer gemaak.

Wanneer ons dus tog die moed het om as gelowiges God “Vader” te noem, dan moet dit van buite ons af kom, dan moet dit aan ons gegee word, dan moes iemand dit moontlik gemaak het. Wanneer ons die vrymoedigheid het om die Almagtige “Ons Vader” te noem, dan beteken dit dat ons op ‘n manier weer kinders geword het, dan beteken dit ook dat iets of iemand God se toorn oor ons sondes moes gedra het.
Gemeente, nou verstaan ons ook waarom ons altyd in die Naam van Jesus Christus tot God bid. Hy, God se eie Kind, is die Een wat die sonde gedra het, daardie ondraaglike las. Ondraaglike las? Ja, ondraaglik vir ons mense, al daardie sondes, keer op keer, elke oomblik: sonde, sonde, sonde; elke keer wat ons op God se hart trap en nog ‘n keer trap, en vir die sekerheid net gou nog ‘n keer trap; en om dit nog erger te maak, word ons ook nog swart van die sonde gebore. Ondraaglike las? Ja, as U o Heer die sonde na reg wou gadeslaan, wie sou een enk’le stonde voor U, o Heer, bestaan? (Ps. 130:2 ber.) Ons bely ook in v/a 14 van die Kategismus dat geen blote skepsel die las van die ewige toorn van God teen die sonde kan dra en ander skepsels daarvan verlos nie. En as dit nie daarvoor was dat ons Here Jesus Christus ook God was nie, sou ook Hy hierdie las nie kon dra nie, ook al was Hy ‘n sondelose mens. Kom ons proe vanuit Markus 14 iets van sy worsteling toe Hy die ondraaglike gedra het…

Die Here Jesus het sopas die laaste pasga saam met sy dissipels gevier; daarin het Hy aan sy dissipels gewys dat sy dood naby was, dat sy liggaam en bloed ter wille van hulle oorgelewer sou word. Ná die maaltyd vertrek Jesus en sy dissipels na die Olyfberg. Hierdie wandeling na die Olyfberg bring hulle by ‘n landgoed, genaamd Getsemane. Miskien het hierdie landgoed aan een van Jesus se volgelinge behoort, en het dié aan Jesus toestemming gegee om snags hier oor te bly. Die dissipels het waarskynlik gereken dat hulle nou sou gaan slaap, maar Jesus beveel hulle om te bly sit, terwyl Hy gaan bid. Hy neem vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met hom.
En dan maak hierdie drie kroongetuies iets mee wat ons ‘n idee gee van die las wat Jesus moes dra. Ons lees naamlik in vers 33 dat Petrus, Jakobus en Johannes gesien het hoe Jesus begin ontsteld en benoud word het – in die Grieks word hier baie sterk werkwoorde gebruik. Die eerste werkwoord (ontsteld) dui op ontsetting en verslaenheid oor iets wat onverwags en bo verwagting skok; die tweede werkwoord (benoud) beteken dat iemand sy selfbeheersing verloor. Gemeente, nêrens in die evangelies lees ons dat Jesus geskrik het of sy selfbeheersing verloor het nie, en dit moes die naaste drie dissipels daarom diep getref het om hierdie psigiese verbrokkeling by hulle Meester raak te sien, om te sien hoe die Herder gesidder het voordat Hy geslaan sou word ter wille van die skape (kyk maar na Markus 14:27). En dan betrek Jesus ook nog die drie dissipels by sy ontreddering, Hy bring sy geestelike gesteldheid onder woorde: “My siel is diep bedroef tot die dood toe.” Jesus sterf omtrent van verdriet, en daarom wil Hy ook nie hê dat die drie dissipels Hom alleen moet laat nie: “… bly hier en waak.” Jesus wil hê dat hulle Hom moet bystaan tydens sy gebed, soos wat ‘n mens waak by ‘n sterwende.

Maar wat gebeur met die dissipels? Hulle raak aan die slaap… nie omdat hulle nie omgegee het nie, nie omdat hulle net aan hulself gedink het nie. Nee, hulle kon nie in hierdie uur wakker bly nie. Ons lees in vers 40 dat hulle oë swaar was. Die slaap van die dissipels is nie ‘n normale slaap nie, maar dit verraai die onvermoë van die dissipels om hierdie angste met Jesus te deel; hierdie uur vra meer as wat ‘n “blote skepsel” kan dra… Gemeente, voel u iets van die las? Sien u hoe Jesus hier, by sy naderende dood, dit byna verloor? Sien u wat ons Hom aangedoen het? O, Hy sien so daarteen op om die beker van God se toorn te dra, en daarom vra Hy ook dat, as dit moontlik is, hierdie uur by Hom verby mag gaan, dat Hy dit nie hoef te dra nie. Jesus huiwer vir die uur wat gaan kom, omdat agter die geweld van die mense die toorn van God staan. Hy is nie bang vir Judas of vir die Sanhedrin nie, maar Hy is bang vir die bitterheid om deur God verlaat te word. Jesus word deur die Vader uitgelewer: Hy moet sterf, Hy moet God se toorn dra, en Hy het dit gedra – Hy het die volle gewig van God se toorn oor ons sonde gedra, want –so lees ons in 2 Kor. 5:21 – God “het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Broers en susters, hieruit blyk dat Jesus Christus Homself een van ons gemaak het, Hy het Homself ons Broer gemaak – Hy het kom deel in dít waardeur ons almal gekenmerk word, deur dit eienskap wat ons van nature besit – die vervloekte sonde. Maar weet u wat is so mooi: Hy het dit gedoen sodat die eienskappe wat Hy van nature besit, deur die geloof ons s’n mag word. Ek mag kind van God wees, omdat Christus, God se natuurlike Seun, my Broer geword het, in my wêreld kom deel het, meer nog: sonde vir my geword het. En daarom kan Johannes ook in hoofstuk 1:12 van sy evangelie skryf: “almal wat Hom (dit is Jesus Christus) aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo…”

Broers en susters, vir elkeen wat in Jesus Christus glo, kom lê Hy die Vader-naam op die lippe. Dit is slegs deur Hóm, Hy het dit bewerk dat verlore kinders terug mag keer na die Vaderhuis en deur die Vader omhels word; ook Wian, van wie ons gelees het dat hy in sonde ontvang en gebore is, is danksy die werk Christus vanaf die allereerste lewensbegin kind van die Vader.
En daarom, gemeente, wanneer u bid, bid dan in Christus se Naam alleen, gaan deur Jesus Christus tot die Vader. Want, soos die kerkvader Ambrosius sê: “Hy is ons mond deur wie ons met die Vader praat; Hy is ons oog waardeur ons die Vader sien; Hy is ons regterhand waardeur ons onsself vir die Vader aanbied. As Hy nie vir ons intree nie, het nóg ons, nóg al die heiliges enige omgang met God.”
Glo in Jesus Christus, sien wat Hy vir u gedra het, en dan hoor u die wonderlike woorde uit die mond van die Vader: “My kind!” En dan antwoord ons, almal saam en elkeen afsonderlik: “Onse Vader”.
Kom ons let nou in die tweede plek daarop dat, wanneer Christus die Vader-naam op ons lippe gelê het, dan is daar ook die innige verbondenheid met die Vader.

2. Nadat Markus in hoofstuk 14:35 kortliks opgesom het wat Jesus gebid het, volg in vers 36 die direkte woorde van die Here Jesus. En Hy begin, net soos Hy ons geleer het met: “Vader”. Opvallend is dat Markus die Aramese weergawe van vader neergeskryf het: Abba. Hoekom? Wel, ons vind veral in die evangelie volgens Markus meerdere kere die gebruik van die oorspronklike aramese bewoording. So vind ons in 5:41 die woorde “talita, koemi”, in 7:34 vind ons die woord “effata”, in 14:36 vind ons dan die gebedsaanspraak “Abba”, en in 15:34 vind ons die bekende: “Eloi, Eloi, lamma sabagtani”. In al hierdie gevalle gaan dit oor emosionele situasies: die opwekking van ‘n dooie, die genesing van ‘n doofstomme, die worsteling in Getsemane, en die dieptepunt van die stryd op Golgota. Dit is heel goed moontlik dat Petrus, die een wat vir Markus alles vertel het sodat hy dit kon neerskryf, nie slegs kon onthou wat Jesus op daardie tye gesê het nie, maar ook in watter taal Hy dit gesê het. Waarskynlik dat Jesus normaalweg Grieks gepraat het, maar veral in tye van emosie oorgeslaan het na sy moedertaal, Aramees. En dit vind ons hier in Markus 14 ook.

Dit is hartroerend om te sien hoe Jesus in die diepte van sy stryd hier voor die voete van die Vader lê: Abba, Vader! O ja, Hy is ontsteld, Hy het byna sy selfbeheersing verloor, maar ons Heiland weet na wie Hy toe moet gaan in sy swaarkry, Hy weet aan Wie Hy verbonde is in hierdie donker uur van beproewing, aan sy Abba, sy Vader! Ook wanneer die beker wat sy Váder vir Hom bestem het, Hom so ontstel dat sy sweetdruppels in bloeddruppels verander, dan nog soek die Seun na geen ander vertroosting nie as die vertroosting van die Vader!

En gemeente, wanneer ons deur Christus die Vader-naam op die lippe kry, dan vra Hy dat ons presies dit sal doen: Gebruik die Vader-naam, soek die Vader op! Dan is dit nie vryblywend of ons dit sal gebruik of nie. Christus gee nie maar die Vader-naam om volgens eie diskresie te gebruik nie. Ons Kategismus sê in vraag 120: “Waarom het Christus ons beveel om God as ons Vader aan te spreek?” Dit is nie vryblywend nie, dit is ‘n bevel: “Ek het myself tot in die allerdiepste angs en smart van die hel gewerp, my Vader het My verlaat – en dit alles sodat julle deur die Vader as kinders aangeneem kon word, sodat julle aan die Vader verbonde kan wees, sodat julle Hom ‘Vader’ kan noem.”

En dit is ‘n onberekenbare skat om aan hierdie Vader verbonde te wees, want Hy – is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie? – so lees ons in Deut. 32:6, en Jesaja beaam dit in hoofstuk 64:8: “Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand.” En nadat Hy ons gemaak het? Dan is Hy steeds die Vader wat ons liefgehad en ons geroep het, wat ons leer loop en ons op sy arms geneem het, wat Hom na ons neergebuig en aan ons voedsel gegee het (lees maar Hosea 11). Dit is ons Vader – Hy gee die lewe, Hy onderhou die lewe. Aan Hóm mag ons deur Jesus Christus verbonde wees.

Gemeente, ken daardie verbondenheid, beoefen daardie verbondenheid. Ons loop so maklik met ons sorge na ons vriende, ons besoek so maklik met ons moeite ‘n professionele persoon, ons wend ons so gou tot ‘n geliefde, maar gemeente, u het ‘n Vader! En nie sommer ‘n vader nie… Nee, lees maar Matt. 7:11: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid.” Ons Vader ken ons, Hy weet waarmee u worstel, Hy weet presies watter nood u het, Hy ken jou oorwegings as jy ‘n besluit moet maak, Hy weet hoe u voel as u sopas slegte nuus gehoor het – ONS VADER. Daar is geen veiliger arms om in vasgehou te word nie, daar is geen beter luisteraar as ons Vader nie, daar is niemand wat beter raad kan gee as Hy nie, daar is niemand beter om u siel tot bedaring te bring as Hy nie.

En daarom, broers en susters, die oproep vanaand vanuit die Woord van die Here: Gaan na Hom toe, gebruik die Vader-naam, beoefen met Hom die innige verbondenheid wat in Christus vir ons ‘n werklikheid geword het.
En die kinderstem wat in geloof roep, bring die Vader in beweging. Hy gaan oor tot aksie, Hy kom op vir ons! En Hy kan dit doen, want Hy is nie die vader wat wil help, maar wie se hande gebind is deur onvermoë nie. Nee, Hy is die Vader wat in die hemel is – so bid ons. En dan bedoel ons met die hemel nie in die eerste plek dié gebied waar God woon nie; God kan immers deur niks ingeperk word nie. Nee, wanneer ons bely dat ons Vader in die hemel is, dan sê ons daarmee: Hy oorstyg die beperkings van hierdie wêreld, Hy is groter as hierdie wêreld, Hy oorsien alles wat in hierdie wêreld gebeur, Hy is magtig om op te tree! Moet daarom ook nooit dink dat u van God die onmoontlike vra nie.
Dit is natuurlik iets anders om te vra of dít wat u bid, God se wil is. Jesus wys dit ook aan ons in sy gebed. Wanneer Christus daar in Getsemane bid, dan weet Hy, en Hy sê dit ook so, dat vir die Vader alles moontlik is. En daarom gaan dit vir Hom nie daaroor of die Vader kan help of nie kan help nie. Maar dit gaan hier oor wat die Vader wil. Wil Hy dat die beker aan Jesus verby gaan? En die Here Jesus besef dit, en daarom onderwerp Hy Homself aan die wil van die Vader. As die Vader wil dat hierdie beker by Hom verby gaan, dan gaan selfs Judas Iskariot met sy hele leërmag Hom nie keer nie. Maar as die Vader wil dat Hy hierdie beker drink, dan sal Hy dit drink, en dan onderwerp Hy Hom aan hierdie wil van die Vader.

Gemeente, hierin lê ‘n baie belangrike basishouding vir wanneer ons begin bid: ons bid nie “Onse Vader” om daarmee God sag te maak of gunstig te stem nie. Nee, ons bid dit, ons bely dit, in die vaste vertroue dat Hy weet wat goed is. En Hy het dit bewys: Hy het dan sy Liefste, sy eie Seun, gegee vir ons. As u ooit twyfel of God weet wat Hy doen wanneer Hy iets oor u lewe bring, kyk dan na Getsemane, kyk na Golgota – dít was die manier waarop dinge weer reggekom het tussen God en ons; ja, Hy weet wat Hy doen, Hy weet wat goed is! Laat hierdie woorde nooit ‘n cliché onder ons word nie; laat dit ‘n geloofsbelydenis wees vir die res van my gebed: wat ek hierna ook al gaan bid, ek weet dat God my, sy kind, innig liefhet deur Jesus Christus, en ek weet dat Hy na my luister, en ek weet dat wat ookal nodig is vir my – dit wil Hy en dit sal Hy gee! Want daar is “geen vader wat, deur smartgevoel bewoë, sy kind aanskou met teerder mededoë as Isr’els HEER dié wat Hom eer en vrees” (Ps. 103:7 ber.).

Amen

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 93:1 & 4
Gebed
Doopsbediening en dankgebed
Sing Ps. 139:6 & 7 (staande)
Lees: Markus 14:32-41
Sing Ps. 22:5 & 6
Teks: HK, Sondag 46, lees ook v/a 119
Preek
Amenlied Ps. 103:5-7
Gebed
Belydenis van geloof
Sing Ps. 22:11 & 12
Kollekte
Slotsang Ps. 89:6 & 11
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)