Die totale verdorwenheid van die mens

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-03-12
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 14
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 14

Ds C Kleyn - Sondag 12 Maart 2006

Lees: Psalm 8; Romeine 3:9-20; Nederlandse
Geloofsbelydenis, Artikel 14.
Sing: Ps 28:6-8; Ps 53:1-3,7; Ps 130:1,2 (2de
ber); Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 130:3,4.

Tema: Die totale verdorwenheid van die mens

  1. Van watter hoogte ons geval het
  2. Tot watter diepte ons geval het

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons artikel benadruk die totale verdorwenheid van die mens.
Deur die sondeval het die mens sy hele natuur verderf. Deurdat hy
in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het,
het hy al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het,
verloor. Die belydenis verwerp dan ook nadruklik die gedagte dat
die mens uit sy vrye wil vir die goeie kan kies. Baie sterke en
radikale woorde. Ons bely dit so, maar is dit ook hoe ons dit
beleef? Hoe is jou daaglikse ervaring?

As kind speel jy met maatjies uit jou omgewing. Die kinders is
nie Christelik nie, tog kom jy goed met hulle oor die pad. Die
kinders kom ook uit goeie gesinne waar liefde en trou heers, waar
hulle leer om eerlik te wees en nie te vloek nie. Is die kinders
totaal verdorwe en nie in staat om die goeie te kies nie?

By die skool of universiteit ken jy ’n student wat nie
’n Christen is nie. Tog is hy baie oulik en lei hy ’n
keurige lewe. Hy hou ook nie van die wilde partytjies nie. Hy is
ywerig en behulpsaam. Durf jy van so ’n student te sê dat
hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe is en
dat hy daardeur al sy uitnemende gawes wat hy van God ontvang het,
verloor het?:

By die werk ken jy dalk ’n kollega wat niks met die kerk
te make wil hê nie, maar tog ’n voorbeeldige lewe lei. Waar
hy ander kan help, daar doen hy dit. Hy gee baie van sy tyd en
geld aan liefdadigheidswerk, bv. vir die bestryding van armoede
en vigs. Hy is werklik lief vir sy vrou en behandel haar met eer.
Hy is ’n liewe en sorgsame vader vir sy kinders. Hy is
eerlik en betroubaar en sou nooit vloek nie. Pas dit wel om te
sê dat hy totaal verdorwe is en nie vir die goeie kan kies nie?

Hierdie voorbeelde laat ons sien hoe moeilik dit van nature is
om die leer van die totale verdorwenheid van die mens te aanvaar.
Dit lyk te radikaal te wees. Ons wil graag die erns daarvan
versag. Is dit werklik so erg? Ons is van nature tog nie so sleg
nie?

Gemeente, om die erns van die verdorwenheid te sien moet ons
terug na die skepping. Om die diepte van die val te verstaan,
moet ’n mens eers weet van watter hoë posisie hy geval het.
Die kontras tussen ons huidige situasie en hoe dit voor die val
was, laat ’n mens eers besef hoe ernstig die situasie in
feite is.

Die kontras word egter dikwels verdoesel. Is daar eintlik wel
so ’n groot verskil tussen voor en na die sondeval? So het
die Remonstrante beweer dat die mens in die paradys reeds in sy
hart ’n neiging tot sonde gehad het. Na die sondeval het dit
daarin vererger dat ons ons vrye wil nie so maklik ten goede kan
gebruik nie. Die verskil tussen toe en nou is dus nie ’n
verskil van alles en niks nie, maar ’n verskil van meer en
minder. In die paradys kon ons meer en makliker God se wil doen,
terwyl dit na die sondeval baie moeiliker geword het.

Hoe praat die Skrif hieroor? Dis belangrik dat ons dit
duidelik in beeld kry. Nie slegs om God die eer te kan gee wat Hy
verdien nie, maar ook om te besef wat ons verlossing inhou.
’n Mens kan mos slegs die grootheid van die verlossing
verstaan as jy weet waaruit jy verlos word. En die beeld wat ons
van die verlore paradys het, bepaal ook ons beeld van die nuwe
paradys. Hoe dit was het dus alles te make met hoe dit geword het
en hoe dit in Christus weer sal wees.

Ek verkondig vir julle die totale verdorwenheid van die mens

Ons let op twee sake:

Eerstens van watter hoogte ons geval het

Tweedens tot watter diepte ons geval het

Hoe was dit in die begin? In Gen 1 lees ons die verhaal van
ons oorsprong. God het ons anders as die diere gemaak, meer as
hulle gemaak. As kroon van sy skepping. En God het gesê: laat
ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis. Wanneer het God
dit gesê? Toe Hy klaar was met sy skepping van hemel en aarde,
die see en land, die bome en plante en alle diere. Die hele
wêreld was gereed vir die mens as sy woon en werkplek. Uit Gen 1:27
weet ons dat God gedoen het wat Hy gesê het. "En God het
die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom
geskape; man en vrou het Hy hulle geskape."

Wat beteken dit dat God die mens na sy beeld geskep het?

In die eerste plek dit: dat die mens heeltemal vir God geskep
is, op God gerig. Ons is geskep om God hier op aarde te
verteenwoordig. Om namens God oor die skepping te heers. Die
skepsels op aarde kan God nie sien nie. Maar God wou wel hê dat
die skepsels sou sien hoe God is. Daarvoor Hy mense geskep. Om
Hom af te beeld. Ons is geskep om so te handel soos God sou
handel. Daardeur sou die skepsels iets kan sien van God se natuur.
Soos God heilig is, so moet die mens heilig wees. Soos God
regverdig is, liefdevol, wys en goed ens, so sou die mense dit in
mekaar moet herken.

Om na God se beeld geskep te wees beteken in die tweede plek
dat God die mens baie uitnemende vermoëns en deugde gegee het,
wat in beginsel God se vermoëns en deugde weerspieël. Hierdie
gawes het die mens in staat gestel om sy amp as God se
verteenwoordiger te vervul. Ons DL formuleer dit so: "Die
mens is van die begin af na die beeld van God geskep.
Verstandelik was hy toegerus met ware en heilsame kennis van sy
Skepper en van geestelike sake. In sy wil en hart was hy met
geregtigheid toegerus, en sy hele gesindheid was suiwer. Hy was
dus volkome heilig." Met ons verstand het ons dus suiwere
kennis van God en sy wil gehad. Met ons wil het ons in alles
ooreengestem met God se wil. Ons hart was vervul met die liefde
vir God en sy wil.

Hier het jy dan God se profeet, priester en koning.

As profeet kon ons God en geestelike sake reg ken en benoem.
Ook die ander skepsels. So kon Adam die diere volgens hulle
soorte name gee.

As priester is ons geskep in toewyding aan God. Met hartlike
liefde vir God. Ons hele gesindheid was suiwer, op God gerig.
Volkome heilig.

As koning het ons die taak gekry om namens God die skepping te
regeer.

In Ps 8 kyk Dawid na die skepping. Dit tref hom hoe
onbeduidend klein die mens eintlik is. Daarom sê hy vir God:
"As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en
die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan
hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?" In vergelyking
met God se geskape wêreld is die mens maar klein en nietig. Maar
kyk hoe God die mens gemaak het: "U het hom ’n weinig
minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en
heerlikheid gekroon." God het die mens beduidend anders as
alle ander skepsels gemaak en hom in ’n kategorie naby God
geplaas, ’n weinig minder as ’n goddelike wese. Dawid
gaan verder om die edele taak wat God die mens gegee het te
besing: "U laat hom heers oor die werke van u hande; U het
alles onder sy voete gestel: skape en beeste, die almal, en ook
die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van
die see, wat trek deur die paaie van die see. o Here, onse Here,
hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!" (Ps 8:6-9). Ons
is dus gemaak as kroon van die skepping om oor God se skepsels te
regeer op so ’n manier dat ons vir alle skepsels wys hoe God
is.

Ons begin was dus volkome goed, volmaak. Geen sonde of neiging
tot sonde nie. Volkome op God gerig as God se profeet, priester
en koning. Volkome op God afgestem. Geskape in ware geregtigheid
en heiligheid. ’n Afspieeling en verteenwoordiger van God.

Maar nou vandag se praktyk. Herken jy dit in jou maatjies
waarmee jy as kind speel, maar wat nie Christelik is nie? Herken
jy dit in jou medestudente wat keurige lewens lei, wat ywerig en
behulpsaam is, maar wat nie die Here dien nie? Herken jy dit in
jou kollega by die werk wat ’n voorbeeldige lewe lei maar
nie Christen wil wees nie? Herken jy by hulle die gerigtheid op
God? Die volkome afstemming op God en sy wil? Die liefde en
toewyding tot God? Is hulle beeld van God? Herken jy God in hulle?
Is hulle in staat om met hul vrye wil die goeie te kies?

Hier is dit belangrik om te let op wat volgens die Skrif
werklik goed is. Die Heidelbergse Kat omskryf dit soos volg in
Sondag 33: "Wat is goeie werke? Slegs die wat uit ’n
ware geloof, volgens die wet van God tot sy eer gedoen word."
Wil ’n werk regtig ’n goeie werk in God se oë wees,
dan moet die drie dinge aanwesig wees: ’n ware geloof,
ooreenstemming met God se wet en die motief om God daarmee te eer.

Kan dit gesê word van die sogenaamde goeie dade van die
student of kollega? Hulle dade kom dalk uiterlik ooreen met God
se wet, in elk geval met die tweede tafel daarvan. Hulle is
gehoorsame burgers, hulle pleeg geen moord nie, maar wys juis
liefde vir hul naaste, hulle maak hulle nie skuldig aan seksuele
sondes nie, hulle is trou in hul huwelik, hulle steel nie en
hulle verdedig en bevorder na vermoë hul naaste se eer en goeie
naam. Hierdie dade kom egter nie voort uit ’n ware geloof
nie en is nie gerig op die eer van God nie. Daarom kan ons dit
nie werklik goeie werke noem nie. Ook al is dit wat hulle doen
relatief goed of goed in burgerlike en sosiale sin.

Om die maatskappy leefbaar te hou, rig mense hulleself dikwels
na bepaalde reëls. Sonder reëls sou die samelewing ’n
chaos wees en onmoontlik word. Mense sonder God is nog nie
gewetenlose mense nie. Deur die sondeval het die mens sy
voortreflike gawes verloor. Daardeur het die mens egter nie
’n dier geword nie. Die mens het mens gebly. Met ’n
verstand, ’n wil en ’n gevoel. Dit het egter almal
verdorwe geword, van God afgekeer. Die mens het niks anders van
sy gawes oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, oftewel spore,
wat egter genoegsaam is om hom alle verontskuldiging te ontneem.

Die groot vraag is nou: kan die mens die klein oorblyfsels so
gebruik om weer tot die saligmakende kennis van God te kom en hom
tot God te bekeer? ’n Mens sou dit maklik kan konkludeer.
Neem die ongelowige buurman wat ’n voorbeeldig lewe lei. Sou
hy nie self, in eie krag, tot die kennis van God kan kom en vir
God kan kies nie? Ons kan verstaan dat die geharde rower of
moordenaar uit homself nie sover kan kom nie. Hy moet so te sê
van ver kom en lyk nie ontvanklik vir die goeie dinge nie. Maar
die voorbeeldig ou? Sou dit tog nie binne sy vermoë wees om hom
tot God te bekeer nie? Hy is tog in staat om te kies tussen wat
goed en wat sleg is? Kan hy dan nie met sy vrye wil vir God kies
nie. Kan hy uit homself Jesus nie vra om hom te red nie?

In watter mate het die mens verdorwe geword? Hoe diep het hy
geval?

Die Skrif praat van die gevalle mens as dood deur die misdade
en die sondes (Ef 2:1). Ja, dood is wat ons deur die sondeval
geword het, geskei van die lewende God, verdorwe. En van ’n
dooie kan jy niks verwag nie. In Gen 6 en 8 sê God van die
gevalle mens dat die versinsels van sy hart altyddeur sleg is.
Hierdie verdorwenheid het dus nie net betrekking op die mens se
dade, gedagtes en woorde nie, maar dit dring selfs die diepste
skuilplekke van die mens binne. Dink ook aan wat ons in Rom 3:10-12
gelees het. Elke mens is totaal verdorwe. Die Jood is nie beter
as die Griek nie. Die Europeane is nie beter as die Afrikane nie,
die blankes nie beter as die swartes nie. Luister maar:
“Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is
niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.
Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand
wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” Paulus stop
daar nie. Hy wys ook watter uitwerking dit het op ons woorde en
dade. Dink jy dat die verskriklike sondes van moord en bedrog net
deur die onderontwikkeldes in ons samelewing verrig kan word? Wat
van die hoogs ontwikkelde Duitsland wat tydens die 2de
Wêreldoorlog miljoene Jode vermoor het? Wat van die ontwikkelde
blankes wat in ons land, tot verbasing van hul familie en vriende,
van moord of korrupsie skuldig bevind is. Elke mens, ja ook ek en
jy, is van nature bedorwe en kan tot die mees gruwelike misdade
oorgaan, tensy God dit verhoed. Hoe dikwels skrik ons nie van
onsself of ander nie. Ek het dit nie van myself verwag nie, tog
het die sondige gedagtes, woorde of gedrag by my opgekom.

So noem Paulus die onvermoë van ongelowiges om die goeie te
doen wanneer hy in Romeine 8:5-8 skryf: "Want die wat
vleeslik is (onbekeerd), bedink vleeslike dinge, maar die wat
geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die
dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die
vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie
aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En dit wat in die
vlees is, kan God nie behaag nie." Let op die omskrywing van
die totale verdorwenheid of onvermoë. Die ongelowige bedink
vyandskap teen God, kan hom nie aan die wet van God onderwerp nie
en kan God nie behaag nie.

Een van die duidelikste Skrifgedeeltes oor die onvermoë van
die natuurlike mens om die dinge van God te verstaan vind ons in
1 Korinthiërs 1,2. Die woord van die kruis (die sentrale
boodskap van die evangelie) is dwaasheid vir die natuurlike mens.
Deur hulle eie wysheid het die wêreld God nie geken nie. Indien
hulle deur hul natuurlike wysheid God kon leer ken, dan sou baie
wyse mense Christen geword het. Maar dit is juis nie die geval
nie, sê Paulus. Waarom aanvaar soveel briljante mense nie
Christus nie? Omdat die natuurlike menslike verstand verblind is,
tensy dit deur die Gees van God bekeer is. Dis soos Paulus in 1
Korinthiërs 2:14 skryf: "Maar die natuurlike mens neem die
dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom
dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik
beoordeel word." Kan ’n mens met die sogenaamde lig van
die natuur weer tot God terugkeer? Nee! Die Skrif leer ons dat
die dinge van die Gees van God dwaasheid bly vir die natuurlike
mens. Sonder die Heilige Gees kan niemand die dinge van God
verstaan nie.

Ja, gemeente, ons natuurlike situasie is nog erger. Dis nie
slegs ’n onvermoë om die goeie te doen en om die goeie te
verstaan nie, maar ook ’n onvermoë om die goeie te begeer
en te soek. ’n Mens kan ’n goeie doel voor oë hê maar
nie in staat wees om dit te bereik nie. Of jy kan die doel nie
goed begryp nie. Erger is dit as jy die goeie doel nie eers voor
oë het nie. So is daar by die natuurlike mens nie eers die
vermoë om hom op God te wil rig nie. Die onvermoë om die goeie,
en veral Jesus Christus te begeer, word veral deur Jesus Christus
self gewys. In Joh 6 sê Jesus bv "niemand kan na My toe kom
as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie" en "niemand
kan na my toe kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie"
(verse 44,65). Mense kan Jesus nie uit hulleself kies nie. Die
mens kan selfs nie die eerste stap doen om na Jesus te gaan nie,
tensy die Vader hom trek.

Hoe diep het ons mense geval! Wat ’n teenstelling met die
volmaakte begin in paradys. Daar was ons verstandelik toegerus
met ware en heilsame kennis van ons Skepper en van geestelike
sake. In ons wil en hart was ons met geregtigheid toegerus, en
ons hele gesindheid was suiwer. Ons was dus volkome heilig. Maar
nou as gevolg van die sondeval: Ons het ons losgeskeur van God en
onsself van die uitnemende gawes beroof. In die plek daarvan het
ons oor onsself gebring: blindheid, verskriklike duisternis,
ydelheid en verdorwenheid van verstandelike oordeel, boosheid,
rebellie en hardheid van ons wil en hart sowel as onsuiwerheid
van ons hele gesindheid.

Ons natuurlike verdorwenheid is nie ’n saak om gering te
skat nie. Dis ’n huiweringwekkende werklikheid. Ons het die
teendeel geword van wat ons was. God se profeet wat God en sy wil
reg kon ken, het in sy verstand verduisterd geword. God se
priester wat heeltemal aan God toegewy was, suiwer in sy hele
gesindheid, het vervreemd van God geword en onsuiwer in sy hele
gesindheid. God se koning wat tot God se eer oor alle skepsels
geheers het, het ’n slaaf van satan en die sonde geword. Die
kroon van die skepping het oor homself gebring boosheid, rebellie
en hardheid van sy wil en hart.

Die verskil tussen voor en na die sondeval is dus nie slegs
’n verskil van meer en minder nie. Dis nie so dat die
natuurlike mens nou slegs meer moeite het om God te soek en te
dien nie, dat hy nou meer moeite het om sy vrye wil ten goede te
gebruik nie. Na die sondeval is ons wil nie meer vry nie, maar
deur die sonde gebind, ’n slaaf van Satan. Ons het nie slegs
halfpad geval nie, maar heeltemal geval.

Daarom maak die Bybel duidelik dat ’n wedergeboorte nodig
is, ’n nuwe skepping, ’n opwekking uit die dood,
’n lewendmaking. Dis beelde wat die aanvanklike werk van die
Heilige Gees benadruk. Ek kan nie self begeer of besluit om
opnuut gebore te word of om opnuut geskep te word nie. In die
proses van konsepsie na geboorte is ek volkome passief. Ek kan
geen enkele invloed daarop uitoefen nie. Dis iets wat met my
gebeur. Ek moet deur die Gees voortgebring word. In die proses
van herskepping of opwekking kan ek ook niks bydra nie. Die
natuurlike mens is geestelik dood. Daarom moet hy opgewek word.
Die nuwe lewe is heeltemal ’n daad van God. Soos ons dit
lees in die bekende woorde van Efésiërs 2:1 "en julle het
Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes.”

Broer, suster, dank God dat Hy ons so hoog geskep het. Dank
Hom dat Hy jou nie in jou totale verdorwenheid en ellende laat
lê het nie. Dank Hom dat hy jou weer opgesoek het en jou hart en
lewe vernuwe het.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)