Josua

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-03-19
Text: 
Sagaria 3:6-8 & 6:10-13
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Sagaria 3:6-8 & 6:10-13

Ds HH van Alten - Sondag 19 Maart 2006

Lees: Sag. 3 en 6, Openb. 1:4-8, Sag. 3:6-8 en 6:10-13
Sing: Sien liturgie

Tema: Josua
   
Ons let op
            1. Josua, die Hoëpriester
            2. Josua, die Priester-Koning

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Verlede week was Serubbabel, die eerste van die twee leierfigure van ná die ballingskap aan die orde. Ons het gesien dat hy die seëlring aan God se vinger geword het, ‘n baie hoë posisie. Vandag let ons op die ander leierfiguur, Josua.
Op verskeie plekke lees ons van hierdie Josua, die seun van Josadak. Meestal word hy slegs kortliks genoem, sonder werklike uitbreiding. Een opvallende kenmerk van Josua, is egter dat hy die hoëpriester was. Hoe het hy hierdie posisie verkry?
Wel, gemeente, ná die sonde met die goue kalf (Ex. 32), was dit die Leviete, die afstammelinge van Levi, wat dadelik gereed gestaan het om Moses te help om hierdie afgodery uit te roei. Hulle word gevolglik deur Moses gewy vir die spesifieke diens aan die Here. Eintlik was dit die eersgebore seuns wat hierdie taak moes vervul. Vanaf die uittog uit Egipte was dit immers die reël dat die eersgeborene van mens, dier en van die oes aan die Here behoort het en aan Hom gewy moes word – eintlik sou hulle dus die diens in die heiligdom moes verrig. Maar die Here bepaal in Numeri 3 dat hierdie posisie deur die Leviete ingeneem moes word, vanweë hulle gehoorsaamheid en bereidwilligheid ná die sonde met die goue kalf. Dus, die Leviete het, sê maar, die ampsdraers geword. Dit was hulle taak om die heiligdom te beskerm, vir die musiek te sorg, onderrig aan die volk te gee en verder allerhande take in verband met die onderhoud van die erediens te vervul.

Ons moet egter daarop let dat nie alle Leviete ook outomaties priesters was nie. Nee, die priesters het slegs gekom uit die afstammelinge van één van die seuns van Levi. Levi het naamlik drie seuns gehad: Gerson, Kehat en Merari – en die priesters het slegs uit die afstammelinge van Kehat gekom. En die geskiedenis bewys dit ook, want Kehat was die vader van Amram, en Amram was weer die vader van Moses en Aäron, en ons weet dat Aäron die eerste hoëpriester geword het. Van daardie tyd af was dit altyd een van sy afstammelinge wat die hoëpriestersamp beklee het. Ook Josua, die seun van Josadak, was so ‘n afstammeling. Hy was die een wat selfs in Babel aan die volk die versoening bedien het; Hy was die een wat ná die voltooiing van die tempel weer een maal in ‘n jaar in die Allerheiligste sou mog kom, om daar die offer vir die sonde en skuld van die volk te bring. Op hierdie Josua wil ons vandag let vanuit Sagaria 3 en 6.

Tema: Josua
    Ons let op:
            1. Josua, die Hoëpriester
            2. Josua, die Priester-Koning

1. Sagaria kry in sy vierde visioen die hoëpriester Josua te sien. Maar Josua verkeer nie werklik in die posisie wat ons van ‘n hoëpriester sou verwag nie. Van die hoëpriester verwag ons om by God versoening te doen vir die volk, om as geheiligde die Allerheiligste binne te gaan om daar die offer vir die sonde van die volk te bring (sien Lev. 16).
Maar dit is nie hoe ons Josua aantref nie. Inteendeel, ons tref Josua aan in die voorportaal van die hemel, sy toegang is versper, hy kan nie tot voor die troon van God gaan om sy werk as hoëpriester te doen nie. Hoekom nie? Wel, kyk maar na sy klere, dan verstaan ons hoekom nie. Josua staan hier bekleed met vuil klere. Josua staan hier as beskuldigde in ‘n regsaak. Voor hom staan die Engel van die Here (dit is duidelik dat hierdie Engel dui op die Seun van God voor sy menswording; in die Ou Testament het die Seun van God Homself meerdere kere as die Engel van die Here geopenbaar), en regs van hom staan die satan, besig om die aanklagte teen hom in te ryg.
Dit is nie die geëerde hoëpriester met sy wit klere en blinkende tulband wat ons hier aantref nie, nee, ons sien ‘n patetiese figuur, een met vuil klere, een wat geen weerwoord het vir die aanklagte wat teen hom ingebring word nie. En gemeente, dit is waarskynlik geen ongegronde aanklagte wat die satan na vore bring nie – immers, Josua is as mens onrein van hart en lippe, en meer nog, hy verteenwoordig ‘n volk wat onrein van hart en lippe is. Die satan is waarskynlik heeltemal reg wanneer hy Josua en die volk voor die Engel van die Here aankla. Ja, Satan het gesien wat ook ná die ballingskap weer met die volk gebeur het. Satan het dit gesien – die laksheid van die volk om weer die tempel te herbou. Satan het dit gesien – die huwelike met die heidense vroue (lees maar Esra 9 & 10). Satan het dit gesien – die betimmerde huise, terwyl die huis van die Here in puin gelê het. Ja, Josua se klere was vuil, en die satan het dit gesien. En nie net het satan dit gesien nie, maar ook die Engel van die Here voor wie Josua gestaan het.

Maar die Engel van die Here dink anders hieroor; so ywerig as wat satan vir Josua beskuldig het, so ywerig kom die Engel van die Here vir hom op: “Mag die HERE jou bestraf, o Satan!” Maar hoekom? Was die satan dan nie reg nie? Ja broers en susters, die satan was heeltemal reg, maar daar is iets groters, iets belangrikers as satan se gelyk, naamlik God se verkiesing: “Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf!” Gemeente, groter as die see van sonde waarin ons verdrink, groter as die wêreld van ongeregtigheid waarin ons ten onder gaan, is die Here se verkiesende liefde, sy grypende hand!
Satan se poging om Josua af te sny voordat hy by die troon van die genade kan uitkom om vir homself en die volk in te tree, misluk wanneer sy beskuldigings teen die verkiesende liefde van die Here aan skerwe spat! Hy het Jerusalem verkies en daarom alleen is Josua se hoëpriesterskap vir Hom aangenaam, Hy soek dit, Hy vra daarna. Nie deur iets in Josua of in die volk nie. O nee, hulle het Hom dan eeue lank geterg met hul sonde en afval; en selfs die ballingskap het nie gehelp nie, want skaars was die volk terug uit Babel of die afval het weer voortgegaan.
Nee gemeente, Josua die hoëpriester het niks gehad wat vir hom getel het nie; inteendeel, hy was eintlik ‘n stuk brandhout wat bestem was om verbrand te word. Toe die volk in ballingskap gegaan het, het almal gedink dat dit die einde van die hoëpriesterskap en die volksbestaan was. Maar deur sy genade het die Here hierdie brandhout uit die vuur geruk; Hy het hulle gered van die ondergang waarin hulle hulself gestort het.
Die Engel van die Here, God self, in sy verkiesende liefde, kom neem al Josua se skuld weg, en gee aan hom nuwe klere, ‘n nuwe ampsgewaad: “Laat hom op aarde weer sy priesteramp bedien!”

En terwyl hulle besig is om vir Josua die nuwe ampsgewaad aan te trek, voeg Sagaria nog iets by (in vers 5): “Laat hulle ‘n rein tulband op sy hoof sit” – nie ‘n onbelangrike toevoegsel nie. Dit was immers die bevel van die Here in Exodus 28 dat die hoëpriester ‘n tulband moes dra met ‘n goue plaat daarop, waarop gestaan het: HEILIG AAN DIE HERE (Ex. 28:36). Heilig aan die Here – dit is allesbehalwe wat Josua en die volk was, as ons so kyk na die vuil klere aan die begin van hierdie visioen. Maar dit mag Josua weer wees deur die Engel van die Here – heilig, gewy aan die Here!
En gemeente, presies hieroor gaan dit in Sagaria se visioen: God wil die skuld van sy volk vergewe, nie deur iets in Josua of die volk nie, maar deur die Engel van die Here. Hy is dan ook die Een wat sê: “Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere.” En wanneer die nuwe klere vir Josua aangetrek word, dan sit die Engel van die Here nie en toekyk hoe dit gedoen word nie, nee, Hy het gestaan. En nie sommer “daarby” gestaan, soos ons vertaling aan die einde van vers 5 sê nie, nee, Hy was aktief betrokke; Josua se nuwe klere is sy werk. Hy het Jerusalem verkies!

En dit het beteken dat as die hoëpriester met hierdie tulband die heiligdom sou binnegaan, dan sou die Here die goue plaat sien, en dan sou Hy aan Israel se sondes nie meer dink nie. Dan verwyder Hy die skuld van sy volk so ver soos die ooste verwyder is van die weste.

Gemeente, so staan ook die kerk vandag voor die Here, so staan ons huwelike en gesinne voor die Here, so staan die ampsdraers voor die Here – met vuil klere. Wat dit betref het daar nog nie baie verander sedert Josua se dae nie. Maar iets anders het wel verander: die satan het geen toegang meer tot die hemel om die kinders van die Here aan te kla nie, geen satan meer wat lekkerkry wanneer ons vir die soveelste maal die gebooie van die Here oortree nie. Nee, terwyl Jesus nog op aarde was, het Hy sy dissipels al belowe: “Ek het die satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val” (Luk. 10:18), ‘n belofte wat waar geword het met sy hemelvaart (lees maar Openb. 12:8-9). In plaas van ‘n Aanklaer het ons nou ‘n Advokaat, ‘n Voorspraak, Een wat vir ons intree, naamlik Jesus Christus, ons groot Hoëpriester, wat sonde vir ons geword het, wat die skuld gedra het tydens daardie donker ure op Golgota. En daarom, gemeente, word ons nie gekeer in die voorhof van die hemel nie, ons toegang word nie versper nie. Nee, deur ons Hoëpriester het ons vrye toegang tot die Vader, ons lewe onder ‘n oop hemel, ons mag met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, elke dag weer om van ons vuil klere gestroop te word, om ‘n nuwe ampsgewaad te ontvang.
Broers en susters, deur Jesus Christus mag ons weer priesters wees in God se koninkryk.

En dit is ook die boodskap aan Josua: nie: jy kan nie meer hoëpriester wees nie. Nee, deur my genade, gaan nou en bestuur my huis, bewaak my voorhowe! Josua se amp word vernuwe, hy mag weer aan die werk gaan, ja natuurlik, in trou aan God se gebooie – en daarom ook die oproep om in God se weë te wandel en sy verordening te onderhou – maar Josua word nie van sy amp gestroop nie. Nee, hy kry ‘n taak, ‘n belangrike taak – hy moet die tempelpersoneel bestuur, hy moet goed daarvoor sorg dat geen afgodediens op die tempelterrein kom nie, hy moet daarop toesien dat die huis van die Here nie verontreinig word nie – so mag hy die huis van die Here bestuur en sy voorhowe bewaak.

En dan voeg die Here nog daaraan toe: “Ek sal jou vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan.” Wat bedoel die Here hiermee? Wel, ons het gesien dat die Here aan Josua sy amp teruggegee het deur hom op te dra om sy huis te bestuur en sy voorhowe te bewaak. En hiermee plaas God Josua onder die engele, Hy plaas hom op gelyke vlak met die engele, hulle wat deur Jesus in die Onse Vader geëer word, wanneer Hy ons leer bid: “Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. En die Kategismus verklaar dit in Sondag 49 soos volg: “Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees, sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan uitvoer soos die engele in die hemel!” Josua mag dus engele-diens op aarde gaan verrig; dit wil sê: getrou en gewillig mag hy sy amp uitvoer.
Voordat ons oor die amp verder praat, wil ons eers in die tweede plek let op Josua, die priester-koning.

2. In Sagaria 6 kom ons Josua, die hoëpriester, weer teë. Verse 9-15, waarin ons van Josua lees, vorm nie meer deel van die agste visioen (verse 1-8) nie. Dit is ‘n aparte profesie, maar een wat wel met die voorafgaande te make het. In die agste visioen sien Sagaria vier strydwaens, elkeen met verskillende kleure perde. En elkeen van hierdie waens met perde trek in ‘n ander rigting. Vir ons is die wa met die swart perde van belang – hulle trek na die land van die noorde. Met die noorde word Babel bedoel, daar waar nog baie van God se volk oorgebly het, wat nie na Jerusalem teruggekeer het nie. En hierheen word die Gees van die Here gebring om ook onder die agtergeblewenes in Babel terugkeer te bewerk, ‘n toeloop van Jode (en miskien selfs ook heidene) na Jerusalem, die stad wat God verkies het.

En dan is dit so mooi om te sien hoe die Here werk – skaars is hierdie visioen verby, of ‘n gedeelte daarvan word al bewaarheid. Sagaria word opgedra om na die huis van Josia, die seun van Sefanja, te gaan. Daar het sopas ‘n afvaardiging uit Babel aangekom en tuisgegaan. Die agtergeblewenes in Babel het waarskynlik gehoor van die moeite wat die teruggekeerde ballinge gehad het om genoeg geld bymekaar te maak om die tempel te herbou. En daarom het hulle drie manne (Heldai, Tobia en Jedaja) gestuur met silwer en goud om die herbou van die huis te ondersteun. En daarheen word Sagaria gestuur – seker om die silwer en goud te gaan haal, sou ons dink.
Maar dan kry Sagaria ‘n vreemde opdrag – hy moet hierdie silwer en goud gaan haal, en in plaas daarvan om dit vir die tempelbou te gebruik, moet hy ‘n kroon daarvan maak of laat maak. Is dit nou goeie besteding van middele wat hard nodig is vir die tempelbou? Maar dit word nog vreemder, want Sagaria kry die opdrag om hierdie kroon op Josua, die hoëpriester, se kop te gaan plaas. ‘n Kroon op die hoëpriester se kop? In die Ou Testament mog geen priester ‘n kroon dra nie, en geen koning mog die altaar bedien nie. Dit wil sê: in die Ou Testament was dit verbode om die ampte van priester en koning te vermeng!

Gemeente, dit is duidelik dat ons hier met ‘n toekomsprofesie te make het. Dit blyk ook uit die manier waarop Sagaria vir Josua aanspreek: “Kyk, daar kom ‘n Man wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die HERE bou.” Broers en susters, hierdie profesie wys op Jesus Christus; Jesus, die griekse weergawe van die hebreeuse Josua – Hy sal kom, en in Hom sal die ampte van priester en koning weer verenig word. Ons vind hier sigbare prediking van Jesus Christus, wat eers priesterlik die skuld van sy volk weggeneem het, om daarna tot koning gekroon te word. Dit is só belangrik dat die volk in Sagaria en Josua se tyd dít moes leer sien: ja, dit was miskien jammer van die goud en die silwer wat aan ‘n kroon bestee moes word, maar goud en silwer gaan nie die tempel bou nie. Die Spruit, Hy sal die tempel bou! En dit is presies wat Hy gedoen het, gemeente, met sy kosbare bloed het Hy die kerk verdien en bou Hy dit nog daagliks. En nadat Hy aan die kruis sy priesterlike amp volbring het, toe het Hy op die troon van majesteit gaan sit – Hy is priester en koning in een; in Hom het hierdie twee ampte vrede bereik; in Hom kan hierdie twee ampte vrede bereik in elkeen van sy kinders.

Die amp – verstaan ons hierdie woord nog goed, broers en susters? Is dit die manne wat hier sit wat die amp beklee? Ja… en daarom is dit ‘n geweldige troos vir die broeder wat vanoggend as ouderling bevestig word – u skuld is weggeneem, u vuil klere is van u af weggeneem, u mag hierdie amp bedien omdat die Here hierdie amp aan u gee.
Maar, broers en susters, van die amp het ons nog nie baie verstaan wanneer ons koppe onmiddellik na die kerkraad toe draai nie. Sagaria se visioen in hoofstuk 3 het nie uitsluitlik oor Josua gegaan nie – dit het gegaan oor Josua as verteenwoordiger van die vólk, die volk was vuil – en daarom staan die hoëpriester, die een wat vir die volk die diens van die versoening moes verrig, daar in sy vuil klere. En wanneer hy skoon klere kry, ‘n nuwe ampsgewaad, dan is dit die volk wat mag juig, want dit beteken hulle skuld is weggeneem. En waneer sy amp vir hom uitgespel word, dan moet die volk hul ore spits, want dan kry hulle weer ‘n nuwe taak.
Gemeente, ons Hoëpriester staan voor God se troon, Hy wat tot sonde gemaak is, Hy wat die skuld gedra het – nie ter wille van Homself nie, maar ter wille van sy volk, sy kerk! Hy het vir ons die nuwe ampsgewaad verwerf, skoon klere, sodat ons ons amp en beroep kan gaan uitvoer met dieselfde trou en gewilligheid soos die engele in die hemel.
Hy, Jesus Christus, Josua Messias (priester-koning), Hy het ons liefgehad en ons van ons sondes gewas in sy bloed, Hy het ons gemaak konings en priesters vir sy God en Vader. Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! (Openb. 1)

En daarom gemeente, as ons praat van die amp, dan behoort elkeen van ons in die eerste plek na onsself te kyk – nie: wat doen die ouderlinge om die lidmate te versorg nie, of wat doen die diakens om die eensames en siekes op te soek nie, of wat doen die predikant om aan die jeug leiding te gee nie. Nee, u het tog skoon klere ontvang, Christus het u tog met ‘n skoon ampsgewaad beklee – gaan voer dan u amp uit, die amp van elke gelowige: die amp in die beroep wat u beoefen, die amp as man van u vrou, of as vrou van u man, die amp as pa of ma van u kinders, die amp as broer en suster van elkeen wat hier in die kerk om u heen sit, en ook die amp as ouderling of diaken. Gemeente, wandel in die Here se weë, onderhou sy verordening, bestuur sy huis, bewaak sy voorhowe – net soos die engele in die hemel.
Gemeente, dit is die vernuwende werk wat daardie volmaakte hoëpriester kom verrig het. Vir eeue lank was daar hoëpriesters met vuil klere, mense wat miskien die diens van die versoening verrig het, maar nie egte versoening kon bewerk nie. Maar ons volmaakte Hoëpriester het kom doen wat deur alle eeue God se plan was, naamlik om mense weer te maak soos wat Hy hulle oorspronklik in die paradys geskape het – konings en priesters – mense wat as konings heers oor die wêreld wat God onder ons voete gestel het, mense wat as priesters diensbaar is aan ons broers en susters, ons naaste om ons geen. Dit is u amp, broers en susters, u het daarvoor die nuwe ampsgewaad ontvang, ‘n tulband waarop staan: Heilige aan die Here! Verrig daarom ook daardie amp met ywer.
En dan mag u eendag, ná hierdie lewe, vir ewig onder die engele verkeer in die teenwoordigheid van God en van die Lam, dan sal daar vrede wees, dan sal ons mekaar uitnooi onder die wingerdstok en onder die vyeboom, alle ampsdraers saam, ook dié wat reeds by die Here is.

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 99:1-3
Wetslesing
Sing Ps. 77:4-6
Gebed
Lees: Sagaria 3 en 6 ; Openbaring 1:4-8
Sing SB. 10
Teks: Sag. 3:1-8, 6:9-13
Preek
Amenlied Ps. 110:2-5
Bevestiging
Sing Ps. 134:3
Voltooi bevestigingsformulier
Gebed
Kollekte
Slotsang SB. 25
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)