Bid sonder ophou, want dit is jou lewe!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-03-12
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 45
Reference: 
HK 45-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

HK Sondag 45

Ds HH van Alten - Sondag 12 Maart 2006

Lees: Dan. 9:1-19, HK Sondag 45
Sing: Sien liturgie

Tema: Bid sonder ophou, want dit is jou lewe!
            1. Die God wat aangeroep word
            2. Die mens wat bid
            3. Die grond van die gebed

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Watter plek neem gebed in u lewe in? Is dit in u lewe die vernaamste deel van die dankbaarheid wat God van u eis? Ek weet, ons dink nie dikwels so daaroor nie. Wanneer ons die vraag sou moes beantwoord, hoe ons ons dankbaarheid bewys vir God se verlossing deur Jesus Christus, dan sal ons waarskynlik verwys na v/a 86 wat handel oor die rede vir ons goeie werke. En ja, wat is goeie werke dan: “Slegs dié wat uit ‘n ware geloof, volgens die wet van God tot sy eer gedoen word, en nie dié wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie.” (v/a 91) En dan volg onmiddellik in v/a 92 die wet van die Here – dít is tog goeie werke, naamlik om God se wet na te kom: om geen ander gode te hê nie, die sabbatdag te onderhou, my ouers en ander gesagsdraers te gehoorsaam, en nie valse getuienis af te lê nie. Dít is tog hoe ons die dankbaarheid bewys wat God van ons eis? En heeltemal tereg gemeente, hoe mooi is dit om by jouself en by ander die vrugte van die geloof in ‘n troue navolging van God se gebooie op te merk.

Maar gemeente, die Kategismus leer ons in sondag 45 van ‘n ander deel van ons dankbaarheid, daardie deel wat dikwels in die privaatheid van ons huise en ons slaapkamers gebeur, daardie deel wat dikwels so persoonlik en intiem is, daardie deel waarin ons aspekte van ons lewe blootlê waarvan niemand anders weet nie… Die gebed! Die gebed, deel van die dankbaarheid? Ja, en nie sommer ‘n deel nie, die vernaamste/die belangrikste deel! Maar hoe dan?
Gemeente, kom ons gaan eenvoudig die Skrif na. Die Skrif leer ons dat die mens vanaf die allereerste begin, daar in die paradys al, in ‘n verbond met God geleef het. Die mens was dus vanaf die begin aan God verbonde. En hierdie verbondenheid het tot uiting gekom in die feit dat God in die paradys met die mens gewandel het. Pragtig, die mens wat in die tuin in die aandwindjie wandel met sy God. Ons kan aanneem dat hulle ook met mekaar gesels het, dat die mens met opgewondenheid vir God vertel het hoe pragtig alles was wat God gemaak het, en dat God aan Adam en Eva vertel het hoe lief Hy hulle het, en dat die mens dan weer geantwoord het dat hy God ook innig liefhet. So intiem, so persoonlik… En dit is hoe God dit bedoel het – omgang, verbondenheid, liefde tussen die Here en die kroon van sy skepping, die mens.
En ná die sondeval dan – dink u dat hierdie verbondenheid net opgehou het om te bestaan? Nee gemeente, die mens het dit wel stukkend gemaak, maar God draai nie daarom sy rug op die mens nie. Male sonder tal sien ons God besig om te worstel om die hart van die mens, besig om te veg vir die herstel van die intieme omgang en persoonlike verbondenheid wat in die paradys aan God en mens soveel vreugde verskaf het. Maar telkens is die teleurstelling groot wanneer dit blyk dat elke mens die geneigdheid het om hierdie strewe van God te vertrap en sy weg agter die satan aan voort te sit. In twee van sy psalms (pss. 14 en 53) moet Dawid vir ons vertel dat God uit die hemel neergesien het op die mensekinders om te sien of daar iemand verstandig is wat na God vra. Maar nee, “hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie.” (Ps. 14:2-3, 53:3-4).

Of is daar miskien wel so iemand? Ja gemeente, daar was ‘n mens wat na God gevra het, daar was ‘n mens in wie die intieme omgang en persoonlike verbondenheid met God weer geblom het, daar was ‘n mens wat na die wil van die Vader in die hemel gevra het (Joh. 4:34), daar was ‘n mens wat gesê het: “nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied” (Luk. 22:42), daar was ‘n mens wat kon sê dat Hy nie Homself verheerlik nie, maar dat Hy God verheerlik (Joh. 17:4). In daardie mens het die verbondenheid met God weer die volmaaktheid bereik wat dit in die paradys gehad het. En daardie mens was ons Here Jesus Christus, wat deur God na die wêreld gestuur is sodat “julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam” (Joh. 20:30). Die lewe – gemeente, dit is die lewe met God, dit is die lewe soos wat Adam en Eva dit in die paradys gehad het, daardie intieme omgang en persoonlike verbondenheid, dit is om deur God bemin te word en met Hom te wandel. Dit is ons s’n deur die geloof in Jesus Christus. Hier, neem dit aan, glo dat dit joune is!

En dit is hier, broers en susters, waar die gebed ter sprake kom – die gebed wil vorm gee aan hierdie nuwe verbondenheid met God, die gebed is die intiemste vorm waardeur ons weer met God mag wandel, deur die gebed doen ons eintlik wat Adam en Eva in die paradys gedoen het – ons praat met God… En ja, inteenstelling tot Adam en Eva doen ons dit in die bedeling ná die sondeval, die sonde is ‘n realiteit in ons spreke tot God, maar deur Jesus Christus is hierdie omgang moontlik. Watter mooier manier is daar om met God te verkeer as deur met Hom te praat? Jou hart bloot te lê, jou siel voor Hom uit te stort? Ons maak die Here so bly wanneer ons op so ‘n manier tot Hom bid. Dán vind daar werklike kommunikasie plaas – die Here spreek, ons antwoord, die Here spreek weer en ons antwoord weer…

Gemeente, ons kan God niks gee of vergeld vir sy verlossing nie, maar wanneer ons bid, dan bewys ons die hoogste vorm van dankbaarheid vir die verlossing uit die dood!
Ja, ons kan ontelbare goeie werke doen, en gemeente, daardie geneigdheid leef so dikwels by ons; ons stort onsself in allerhande goeie werke, ons doen kerkwerk, kommissiewerk, evangelisasiewerk, sendingwerk, maar daarmee gaan die persoonlike gesprek met God dikwels verlore. Dit is soos om vir almal om jou heen te vertel watter wonderlike vrou jy het, maar jy vertel dit nie vir haar nie.
Nee, hoewel God ons oproep tot dankbare onderhouding van sy wet, is die gebed uiteindelik die skoonste en lieflikste dankoffer, die mees aangename geur en die beste wierook voor God se aangesig. Daarom sê Dawid ook in Ps. 141:2: “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer.” Ons gebede, geliefde gemeente, is die getuienis dat ons die verbondenheid met God, die intieme omgang met Hom, van onskatbare waarde ag; ons gebede is die bewys dat ons harte vol is van dankbaarheid oor die verlossing uit genade.

En gemeente, dit is wanneer ons só leer bid, dat God aan ons sy genade en Heilige Gees wil gee. God kan nie en Hy wil nie gee wanneer ons die stilstuipe teenoor Hom handhaaf nie, maar God gee in oorvloed wanneer ons Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank. Wanneer die kommunikasielyne oop is, dan vloei die stroom van God se genade onophoudelik in ons rigting, en vloei die stroom van ons dank en eer en prys onophoudelik in God se rigting. En daarom Paulus se oproep in 1 Thessalonicense 5:17: “Bid sonder ophou.” Bid sonder ophou, want dit is jou lewe! Gemeente, onder hierdie tema wil ons vervolgens gaan kyk wat die inhoud van ons gebed behoort te wees.

Tema: Bid sonder ophou, want dit is jou lewe!
            1. Die God wat aangeroep word
            2. Die mens wat bid
            3. Die grond van die gebed

1. Een van die mees aangrypende gebede wat ons in die bybel teëkom, is die gebed van Daniël in hoofstuk 9. Die datering van hierdie hoofstuk - naamlik “die eerste jaar van Darius, die seun van Ahasveros, uit die geslag van die Meders” – roep vrae op. Maar waarskynlik het hierdie Darius so twee of drie jaar voor die beëindiging van die voorspelde 70 jaar ballingskap regeer. En op daardie tydstip lees Daniël op ‘n dag Jeremia 25:11 en 12, waar staan: “En hierdie hele land sal ‘n puinhoop, ‘n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien. En as sewentig jaar vol is, sal Ek oor die koning van Babel en oor dié nasie, spreek die HERE, hulle ongeregtigheid besoek, en oor die land van die Chaldeërs, en sal dit ewige wildernisse maak.” Sewentig jaar lank sou die tweestammeryk in ballingskap verkeer – en skielik tref dit Daniël dat hierdie sewentig jaar byna verby is…! Mens sou verwag dat hierdie gewaarwording Daniël van vreugde sou laat rondspring, dat hy moontlik sou begin om voorbereidings te tref vir die terugreis na Jerusalem. Maar ons lees niks van dit alles nie; inteendeel, ons lees dat Daniël sy aangesig tot die Here God gerig het om met vas, en in roukleed en as, hom aan gebed en smekinge te wy (vers 3).

Daniël gaan dus tot God in sy gebed. Hy sê dit meer spesifiek in vers 4: “En ek het tot die HERE my God gebid…” Die HERE – Jahwe, dit is die God van die verbond. Onthou u, ons het sopas oor daardie verbond gepraat, daardie persoonlike verbondenheid, daardie intieme omgang tussen God en die mens. Op daardie God beroep Daniël homself, want hierdie Jahwe, hierdie verbondsgod, is nie soos die mense wat die verbond telkens maar weer vertrap nie, nee, kyk maar vers 4: Hy is die grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou. Die God wat Daniël aanroep, is die betroubare, die Een wat doen wat Hy gesê het, die onveranderlike! Die geskiedenis is die bewys daarvan.

Ons sien dus dat Daniël baie goed bewus is Wie hy hier reg aan die begin van sy gebed aanroep, en deur die verloop van sy gebed benoem hy dit ook so. Kyk maar vers 6: ons het nie geluister na u knegte, die profete, wat in u Naam gespreek het nie – Daniël wéét Wie die Sender is agter die verskillende profete wat deur die eeue in Israel opgetree het. Kyk vers 11: “daarom is die vloek en die eed oor ons uitgestort wat geskrywe is in die wet van Moses, die kneg van God, want ons het teen Hom gesondig” – Daniël wéét Wie die God is wat deur Moses sy wette gegee het, en hy besef daarom terdeë dat hulle nie Moses se wette oortree het nie, maar dat hulle teen die Here self gesondig het. Kyk vers 15: “Nou dan, o Here onse God wat u volk uit Egipteland met ‘n sterke hand uitgelei en vir U ‘n Naam gemaak het soos dit vandag nog is…” – Daniël wéét Wie die God is wat Israel uit Egipteland gelei het en hy wéét dat hierdie God steeds dieselfde is.
Daniël ken sy God, hy het Hom vanuit die Skrifte, vanuit die geskiedenis, en vanuit sy eie lewe leer ken, hy het ‘n persoonlike band met hierdie God, en dit gee hom die vertroue om Hom ook aan te roep, om sy Naam op sy lippe te neem.

En gemeente, dit is nou presies wat die Kategismus bedoel wanneer dit sê dat ons alleen die enige ware God, wat Hom in sy Woord geopenbaar het, van harte aanroep. Moenie dink dat u reg sal kan bid, wanneer u die God wat u aanroep, nie ken nie. Moenie dink dat u gebed God gaan behaag wanneer u te pas en te onpas goddelike name gebruik, maar die inhoud en betekenis daarvan nie verstaan nie. Broeders en susters, ons bid nie tot “Liewe Jesus”, of tot ‘n Opperwese of tot ‘n Alwetende nie, maar tot Hom wat Homself in sy Woord aan geopenbaar het.
En gemeente, dáár lê miskien een van die grootste redes waarom ons soveel moeite het om te bid, want ons ken die Woord, en daardeur ons God, nie meer nie. Ons luister dikwels nie meer na die Woord nie, en daarom bid ons dikwels ook nie meer nie. Ja, dit is waar, ons mag bid, en die Here sal luister. Maar dit kan eers gebeur as ons gesê het: Spreek Here, want u kneg luister. Begryp u gemeente, ons moet God eers aan die woord laat, ons moet Hom eers die kans gee om sy trou, sy liefde, sy grootheid, sy verlossing in Christus ten toon te stel. En dan, eers dan, mag ons antwoord, dan mag ons bid! Want dan kry ons gebed inhoud, dan word dit baie spesifiek gerig tot God van die Skrifte, dan bid ons bewustelik vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid. Gemeente, ken daarom u God, en dan mag u bid: “Here, hoor!”
Ons wil vervolgens let op die mens wat bid.

2. Dit het ons alreeds opgeval dat Daniël, toe hy besef het dat die sewentig jaar van ballingskap byna verby was, nie van vreugde rondgespring het nie. Dan sou ons darem verwag dat hy in sy gebed uiting aan daardie vreugde gee. Maar dit doen hy ook nie. Nee, die gebed tref ons deur die ootmoedige toon daarvan. Direk nadat hy baie spesifiek sy God aangespreek het, gaan hy oor tot skuldbelydenis, en nie slegs een keer nie, maar sy gebed word daardeur gekleur. Dit begin in vers 5: “ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk”, maar deur sy hele gebed keer hierdie ootmoedige toon soos ‘n refrein terug: “ons kom toe beskaming van die aangesig”, “ons het teen Hom opgestaan”, “ons het nie na sy stem geluister nie”, “ons was goddeloos”.
Wanneer Daniël sy knieë buig om die Here te bid om die herstel van Jerusalem en die tempel, dan steek die woorde reg in die begin al in sy keel vas. Hy kan tog nie daarmee begin nie? Dit is tog geen vanselfsprekendheid dat sewentig jaar ook sewentig jaar sal bly nie, want die skuld is so ontsaglik groot!

Gemeente, hierdie ootmoed behoort ook ons gebede te kenmerk. Soos die Kategismus sê: “Ons moet ons nood en ellende reg en grondig ken sodat ons ons voor sy majesteit kan verootmoedig.” En dan gaan dit nie oor die nood en ellende om ons heen nie, want dan het hierdie gemeente min ootmoed nodig - ons ken immers nie werklik nood en ellende nie, ons het dit oor die algemeen baie goed. Dit gaan ook nie oor die nood en ellende van die wêreld nie – hoewel ons van hierdie nood en ellende daagliks in die koerante lees, is dit nog redelik maklik om daarvan afstand te neem. Nee gemeente, ons grootste nood en ellende lê nie buite ons nie, maar binne-in ons! Dit is daardie nood en ellende wat die kloof tussen God en ons veroorsaak het, dit is daardie nood en ellende wat ons wurg sodat ons nie kan bid nie. Dit is die nood en ellende van ons sonde! Die sonde waardeur die omgang met God versteur word en die verbond vertrap word.

Gemeente, leer daarom uit Daniël se gebed om u skuld voor die Here te bely, reg aan die begin van u gebed al te besef wie hierdie mensie is wat voor die troon van God nader. En moenie die skuld op ander se skouers afskuif nie. Hoe maklik kon Daniël dit nie gedoen het nie: die goddelose Babel wat hulle mag misbruik het om Israel in ballingskap te voer, hulle is skuldig. Hoe maklik doen ons dit nie: Hulle, dit is hulle skuld – wat die saak dan ook mag wees. Nee gemeente, “ons het gesondig” en “ons het nie geluister nie”. Ons mag soos Dawid sê in Psalm 32:5: “Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.” Gemeente, hierdie ootmoed bring vergifnis, maak die verstopte kommunikasiekanale tussen God en ons weer oop. Ken daarom uself, en bid: “Here, vergeef!”

3. Nadat Daniël om vergifnis gebid het, kan hy nou ook verder gaan om die Here te smeek om die volk uit ballingskap te bevry, en om die stad en tempel weer op te bou. En hy doen dit nie omdat daar iets in die volk was wat die Here gedwing het om op te tree nie. Daniël gebruik nie iets in die volk as grond vir sy pleidooi tot die Here nie. So lees ons in vers 18: “… want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid.” Dus, op grond van die barmhartigheid van die Here. En waaruit het hierdie barmhartigheid dan geblyk? Dit het geblyk uit die Naam van die Here wat oor die stad en die tempel en die volk uitgeroep is (verse 18 en 19). Die Here het Homself dus aan sy volk verbind. En dit het ingehou dat die Here belowe het om hulle God te wees, belowe het dat hulle sy volk mag wees, belowe het dat Hy hulle sou versorg en beskerm, belowe het dat uit hulle die Messias gebore sou word. Daniël beroep hom dus op God se Naam en alles waarvoor daardie Naam gestaan het. Dit is vir hom die enigste grond waarop hy kan pleit.

Gemeente, die Kategismus noem hierdie grond ‘n vaste grond: ons het hierdie vaste grond dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien het nie (en dit het in die tweede punt duidelik geblyk dat ons dit nie verdien het nie), tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor, soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het. Dit is die vrymoedigheid waarmee ons kan bid, broers en susters, nie iets in onsself nie, maar God se trou in Christus Jesus. In Christus blyk dat God betroubaar is in wat Hy sê, in Christus kom al God se beloftes tot vervulling. Ons mag daarom weet dat God sy woord hou; Christus is die bevestiging van al God se beloftes. Daarom is sy beloftes vas en seker.

En gemeente, daarom kan ons bid, daarom kan ons met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan en ons hart voor die Here uitstort. En hoeveel leef daar nie in ons harte nie. U ken die hartseer, die skuldgevoelens, die moeites, die sorge wat in u eie hart leef. Gemeente, gaan daarom na die Here, stort u hart voor Hom uit, beroep u op sy beloftes. Sê dan: Here, U het dit belowe, ek het so nodig dat U dit waar maak in my lewe; ek het so nodig dat U vir my ‘n Trooster is, soos U beloof het, want ek het soveel hartseer; ek het nodig dat u vir my ‘n vergewende God is soos U Woord sê dat U is, want hierdie verborge sondes vreet my op van binne; ek het nodig om by U al my sorge en moeites te kan laat soos U Woord sê dat ons dit kan doen, want ek kan dit nie self dra nie. Dit is die stewige grond waarop ons staan wanneer ons bid, dit is op daardie grond dat ons uitroep saam met Daniël: “Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God.”

Gemeente, ons het na hierdie drie uitroepe van Daniël gekyk: “Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie.” Hierdie drie uitroepe gee vorm aan die inhoud van ons gebed: die regte kennis van God, die regte kennis van onsself, en die vaste grond. Gemeente, laat dit ons bring tot die lewendige omgang met God. Laat dit ons help om aan die vernaamste deel van ons dankbaarheid vorm te gee. En dan gaan die sluise van die hemel oop; dan stort God sy genade en sy Gees uit oor elkeen wat op dié manier tot Hom bid en daarvoor dank.

Amen

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 81:1, 11 en 12
Lees: Daniël 9:1-19
Sing Ps. 141:2 – ons wil nou saam tot die Here bid; laat ons, voordat ons dit doen, eers in voorbereiding daarop sing uit Ps. 141:2
Gebed
Sing: Ps. 143:1, 5, 6 en 9 – laat ons nou in aansluiting op ons gebed sing uit Ps. 143:1, 5, 6 en 9
Teks: die preek van hierdie middag sal wees aan die hand van sondag 45 van die Kategismus. Ons lees nou eers net die eerste vraag en antwoord saam (v/a 116).
Preek
• Na tema en verdeling: lees v/a 117-119
Amenlied Ps. 123
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 27:1, 4 en 6
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)