Die moedelose volk word bemoedig deur die God van die geskiedenis

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-03-05
Text: 
Haggai 2:1-9
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Haggai 2:1-9

Ds HH van Alten - Sondag 5 Maart 2006

Lees: Hag. 2, Hebr. 2:26-29, Openb. 21:9-27, Hag. 2:1-9
Sing: Sien liturgie

Tema: Die moedelose volk word bemoedig deur die God van die geskiedenis
        1. Die God wat was, is ook
        2. Ook die toekoms is by God seker

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het verlede week gesien hoe Haggai op 29 Augustus in die jaar 520 voor Christus deur die Here na die volk gestuur word om hulle op te roep om die tempel te herbou. Dit was verkeerd dat die volk elkeen in sy betimmerde huis gewoon het, terwyl die huis van die Here in puin gelê het.
In teenstelling tot die patroon van verharding en ongehoorsaamheid, wat ons so dikwels in die profete teëkom, was dit hartverwarmend om te sien dat daar by die leiers en die volk bekering gekom het. Hulle het geluister na die stem van die Here hulle God, en hulle het begin bou aan die huis van die Here. “Dit was op die vier-en-twintigste dag van die sesde maand, in die tweede jaar van koning Darius” – so lees ons in hoofstuk 1:15. Dit is ongeveer 21 September in ons terme. Dus, ‘n bietjie meer as drie weke nadat Haggai die boodskap van die Here tot die volk gebring het, begin hulle bou. Moontlik dat hulle in die tussentyd besig was om die puin op te ruim en allerhande voorbereidings te tref om met die bou te kan begin.

Maar dan op 17 Oktober van daardie selfde jaar word Haggai weer met ‘n boodskap na die volk gestuur. Hoofstuk 2:1 praat van die een-en-twintigste dag van die sewende maand. Dit was nie sommer ‘n betekenislose datum nie; nee, die 21e van die 7e maand was die laaste dag van die loofhuttefees, die groot vreugdefees in Israel. Hierdie fees word ook die fees van die insameling of die fees van die hutte genoem – hierdie twee benamings dui die tweeledige doel van die fees aan, naamlik om God te dank vir die oes, die insameling, maar ook om te gedenk dat hulle by hul uittog uit Egipte in hutte gewoon het. Die loofhuttefees is dus ‘n fees van groot vreugde – vreugde oor God se seën met betrekking tot die oes, sowel as vreugde oor God se verlossing uit Egipte.
Maar wanneer Haggai op die 17e Oktober in die jaar 520 voor Christus oor die tempelplein loop, mis hy die uitbundige vreugde wat veronderstel is om hierdie fees te kenmerk. Hy sien eerder somber gesigte. En dit is juis die rede waarom Haggai op hierdie dag deur die Here met ‘n boodskap van bemoediging na die volk gestuur word. Die tema vir die preek is:

Tema: Die moedelose volk word bemoedig deur die God van die geskiedenis
            1. Die God wat was, is ook
            2. Ook die toekoms is by God seker

1. Haggai kom dus verskeie somber gesigte teë, en dit op ‘n groot feesdag. Wat is die rede vir hierdie somberheid? Hoekom kan baie van die volk nie met volle oorgawe feesvier nie?
Ons het gesien dat die volk ná Haggai se eerste profesie waarskynlik begin het om die puin op te ruim en voorbereidings vir die bou te tref, en dat hulle toe op die 21e September begin bou het. Nou, op die 17e Oktober, is daar waarskynlik alreeds ‘n paar lae stene gelê. Die geraamte van die nuwe tempel begin vorm aanneem. Maar vir dié wat die eerste tempel geken het, lyk dit na niks. “Is dit hoe die nuwe tempel moet lyk? Julle moes gesien het hoe die tempel van Salomo gelyk het, die sederthoutpanele en goudafwerking, die goue tempelgerei, die majestieuse afmetings.” En gemeente, laat ons dit nie ontken nie, as ons luister na wat die Skrif ons oor hierdie tempel vertel, moes dit asemrowend mooi gewees het. Iemand het jare gelede bereken dat net die Allerheiligste in vandag se terme omtrent 20 miljoen dollar sou gekos het. ‘n Skitterende tempel dus…

En dan word dit begryplik dat die nuwe tempel in sy beginfase deur baie as minderwaardig beskou is. “Waarvoor bou ons eintlik; ons sal nooit die glorie van die ou tempel kan ewenaar nie; dit wat was, sal ons nie weer terugkry nie.” En juis dít, gemeente, is die rede vir die somber gesigte wat Haggai op daardie dag in Jerusalem teëkom. Veral by dié wat die ou tempel nog meegemaak het, dus waarskynlik die ouer mense. Hulle was kinders of jeug toe hulle na Babilonië weggevoer is en hulle kan nog onthou hoe die tempel gelyk het; waarskynlik het hulle ouers ook die herinnering aan die tempel lewendig gehou deur hul daarvan te vertel. En aan hierdie beeld van die ou tempel het baie van die teruggekeerde ballinge vasgehou, hulle siele is gevoed deur die herinnering aan die glorie uit vervloeë dae. Seker verstaanbaar…

En tog, gemeente, skuil hierin ‘n groot gevaar, naamlik die gevaar om te bly vashou aan die verlede, om te bly verwys na die goeie oue tyd; die gevaar dat die geskiedenis die norm word vir ons lewe vandag.
Natuurlik, die teenoorgestelde is ook ‘n wesenlike gevaar, veral in ons tyd, naamlik dat die geskiedenis totaal onbelangrik raak, dat die geskiedenis ook niks meer vir ons te sê het nie. Nee broers en susters, die geskiedenis en spesifiek die kerkgeskiedenis is van onskatbare waarde – daarom heg ons ook soveel waarde daaraan dat ons kinders die kerkgeskiedenis ken, dat hulle weet waar die kerk in die verlede gestruikel het, dat hulle weet hoe ketters die kerk bedreig het, en dat hulle weet hoe die Here sy kerk bewaar het. Die kerkgeskiedenis leer ons daarom onmisbare lesse vir vandag, en dit wys ons op die gevare waaraan ons vandag nog steeds onderhewig is. Maar dan moet ons die kerkgeskiedenis wel vir vandag gebruik, en nie in die verlede bly vassteek nie.
En juis dít het so baie van die Jode in Haggai se tyd ontmoedig – hulle blik was gefikseer op daardie eerste tempel! O, hoe goed kon hulle dit nie onthou nie, hoe het Psalm 84 nie hulle hartsnare geroer nie: “Hoe lieflik is u woninge, o HERE van die leërskare. My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE…” (Psalm 84:2-3a). Ons sien dit ook in Esra 3 wanneer die fondament van die tempel gelê word – dan juig die volk, “maar – so lees ons in vers 12 – baie van die priesters en die Leviete en die familiehoofde, van die oues wat die eerste huis gesien het, het hardop gehuil toe die fondament van hierdie huis voor hulle oë gelê is,…” Hulle huil, want die eerste tempel is verwoes; hulle is ontmoedig, want hulle sal daardie eerste tempel ook nie meer terugkry nie… Gemeente, ons sien hoe hierdie gerigtheid op die verlede baie van die volk hul moed ontneem het, ons sien dat dit hulle ontmoedig het om voort te gaan met die taak wat die Here hulle opgedra het. Dit is immers ook hoe die geskiedenis werk: wat was, gaan verby, hoe mooi dit ook al was.

En daarom, gemeente, vind ons nooit ons krag in die geskiedenis nie, ons vind nooit troos en moed in iets of iemand wat was nie. Nee gemeente, in die Here, ons God – daar lê ons krag. Want ons God werk nie soos die geskiedenis nie – Hy is nie voortdurend besig om te verander nie; dit is nie so dat God anders is as in die goeie ou tyd nie. Nee, ons bely juis die onveranderlikheid van God (NGB, art. 1). En met onveranderlikheid bedoel ons nie dat God hierdie star en strak diktator is nie; God se onveranderlikheid is nie onbewoënheid nie. Nee, onveranderlikheid dui op God se trou en waaragtigheid; trou en waaragtig in Homself, maar ook ten opsigte van ons, sy kinders. Dit wat God was, dit is Hy steeds! Dit is immers sy Naam, Jahwe (kyk maar hoe dikwels hierdie verbondsnaam in Haggai 2 gebruik word) – Jahwe, Ek is wat Ek is, Ek is altyd dieselfde, Ek is trou aan my verbond, Ek laat nooit vaar die werke van my hande nie!
En gemeente, dít gee ons moed en geloof om vandag te lewe, dít gee ons perspektief om nie in die verlede vas te steek nie, want ons het ‘n God wat nie in die verlede bly vassteek nie, ons God bly nie agter wanneer die tyd aanstap nie. Nee, die God van Genesis, en van Haggai se tyd, en van Christus se tyd, is steeds dieselfde, onveranderlik in sy troue liefde vir sondaars.

En daarom, broers en susters, dat ons ook ‘n geloofsbelydenis kan hê. Het u al ooit gewonder hoekom ons die apostoliese geloofsbelydenis gebruik, ‘n belydenis wat sy finale vorm in die 4de eeu na Christus gekry het? Het u ooit gewonder hoekom ons die drie formuliere van eenheid gebruik, wat uit die 16e en 17e eeu stam? Gemeente, omdat die God wat ons daarin bely, onveranderlik is, omdat Hy van ewigheid tot ewigheid dieselfde is. En daarom kan ons saam met die digter van Psalm 102 sê: “In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. Húlle sal vergaan, maar Ú sal bly; ja, hulle almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en hulle verdwyn. Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie” (Ps. 102:26-28). Watter troos om te weet: ons God is altyd dieselfde – ons kan op Hom staatmaak!

As die ou tyd dan vir u so ‘n goeie tyd was, en u soveel moeite met die huidige tyd het, dan vra die Here nie dat u ontmoedig word nie, maar dan vra Hy dat ons Hom weer sal ontdek as dieselfde God van daardie “goeie oue tyd”; as ons dan so bekommerd is oor die jeug van vandag, in teenstelling tot die jeug van die verlede, dan help ons hulle nie verder deur maar net ons koppe te skud nie, maar dan word ons opgeroep om met mekaar, oud en jonk, ons oë te rig op die onveranderlike God, wat ook vandag sy beloftes gee; as u dink dat dit in die kerk maar net bergafwaarts gaan, let dan op die Here wat steeds spreek. Dit is dan ook die troos van die doopouers wat vanoggend hul seuntjie laat doop: hulle hoef nie in moedeloosheid hul taak te laat vaar nie, maar hulle kan dit met blydskap en hoop opneem, want die God van klein Tiaan se doop is dieselfde as die God van ons doop. Hy is die onveranderlike God in ons midde.
En daarom die troosryke woord van die Here deur die diens van Haggai in vers 4: “Nou dan, skep moed, Serubbabel, spreek die HERE, en skep moed Josua, hoëpriester, seun van Josadak, en skep moed, julle almal, volk van die land, spreek die HERE, en werk! Want Ek is met julle, spreek die HERE van die leërskare,…” Nie: dink maar terug aan die tyd toe Ek met julle was nie, nee, Ek is met julle; nou, hier, wil Ek julle God wees! Die skoonheid van die tempel hang nie af van die goud en die seders van die Libanon nie, maar van die God wat daarin sy woning wil maak. Bou daarom hierdie tempel, want Ek is met julle!

Gemeente, ons bou nie op die geskiedenis nie, hoe mooi daardie geskiedenis ook was. En gaan lees maar ‘n slag die kerkgeskiedenis, gaan lees maar ‘n slag die geskiedenis van die martelare en van die reformasie en van die vrymaking – dit is hartroerend. Maar ons bou nooit op hierdie geskiedenis nie, want dan sou ons so maklik ontmoedig kon word deur ons eie tyd. Nee, ons bou nie op de geskiedenis nie, maar ons bou op die God van die geskiedenis. Hy het deur die eeue gewerk, opgetree, gespreek. Hy het deur die eeue wonders gewerk, wonders van geloof en bekering, wonders van kerkbou en kerkbewaring. Dit is HY, en Hy leef!
En dan word die geskiedenis, allereers die geskiedenis van die Skrifte, maar ook die geskiedenis waarvan ons lees in kerkgeskiedenisboeke, ‘n steun vir ons geloof, want dan sien ons ons God aan die werk. En dit is presies wat die Here in Haggai 2:5 wil sê. Hier verwys Hy self terug na die geskiedenis, na die geskiedenis van sy verbondssluiting met Israel by die uittog uit Egipte. Die Here sê eintlik: “Die ‘Ek is met julle’ van vers 4 is niks nuuts nie; toe al het Ek dit belowe.” Lees maar Exodus 29:45 en 46: “En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ‘n God wees; en hulle sal weet dat Ek die HERE hulle God is wat hulle uit Egipteland uitgelei het om in hulle midde te woon. Ek is die HERE hulle God.” Uit die geskiedenis gaan bewys God: “Soos Ek was, so is Ek vandag nog! En My Gees wat toe in jou midde was – want dit was die Gees wat as Leidsman die volk na die beloofde Land gebring het (lees maar Jesaja 63:10 en verder) – daardie Gees sal bestendig in jou midde bly. Wees daarom nie bang nie!”

Gemeente, ons word in Haggai 2 opgeroep om nie in die verlede te bly vassteek nie, om nie die mooi en goeie dinge van die verlede te wil terugbring nie, maar om elke dag weer die onveranderlike God te ontdek soos Hy Hom geopenbaar het! Ons glo nie in Calvyn of in die vrymaking of in die Vrye Gereformeerde Kerke nie, maar ons glo in die Drie-enige God. Hy bly altyd dieselde: trou, waaragtig, vol genade… En wanneer ons Hom soek en ontdek, is Hy met sy Gees in ons midde. En dan kan ons as kerk moed skep, en die taak volbring wat God ons opdra. Dan kan ons as gemeente saam en elkeen persoonlik aan die kerk bou – ja, gebrekkig, vol foute, met val en opstaan, maar God is met ons, sy Gees lei ons in die waarheid. En die foute en gebreke van die kerk vandag laat ons dan nie met heimwee terugkyk na vervloeë dae toe dit beter was nie, maar laat ons met verlange uitsien na die dag wanneer God die heerlikheid van die kerk groter sal maak as wat dit ooit was – daarop let ons in die tweede plek.

2. Waar God in verse 3-5 gewys het dat, soos Hy was, so is Hy ook, wys Hy nou in verse 6-9 vooruit, die toekoms in. Nie slegs ons huidige bestaan nie, maar ook die toekoms is seker by God.
God belowe aan sy volk dat die heerlikheid van die tempel, wat hulle tans besig is om te bou, groter sal wees as dié van die oorspronklike tempel, waaraan hulle so vasgeklou het. Maar hoe dan? Waar moet hulle die goud en die silwer vandaan kry? Van My, sê die Here, want aan My behoort immers die goud en die silwer van die aarde, en Ek is selfs in staat om die skatte van die nasies te laat toevloei om hierdie huis met heerlikheid te vervul (Hag. 2:7).
Ons sien dat die Here sy woord hou wanneer Hy daarvoor sorg dat verskillende konings en wêreldheersers die heropbou van die nuwe tempel steun. Eers was daar koning Darius, dieselfde koning in wie se tyd Haggai geprofeteer het, wat in Esra 6:8 en 9 die volgende bevel gee: “Uit die inkomste van die koning, uit die belasting van die westelike gebied van die Eufraat moet die onkoste aan daardie manne sorgvuldig vergoed word sonder vertraging. En wat nodig is, jong bulle sowel as ramme en lammers vir brandoffers aan die God van die hemel, koring, sout, wyn en olie moet aan hulle volgens opgawe aan die priesters in Jerusalem sonder versuim dag vir dag gelewer word.” En daarna lees ons van koning Artasasta, wat vir Esra na Jerusalem stuur “om die silwer en goud weg te bring wat die koning en sy raadsmanne vrywillig gee aan die God van Israel wie se woning in Jerusalem is, en al die silwer en goud wat jy sal vind in die hele provinsie Babel saam met die vrywillige gawes van die volk en priesters wat vrywillig gee vir die huis van hulle God wat in Jerusalem is” (Esra 7:15-16). En eeue later, net voor die geboorte van ons Here Jesus, sien ons hoe Herodes die Grote, ‘n Edomities koning, sy heidense skatte aangewend het om die tempel te vergroot en te verbou. Dit het onder andere behels dat die nuwe tempel twee keer so groot geword het as die een wat na die terugkeer uit ballingskap gebou is. Die binnehof van die tempel byvoorbeeld is geplavei met marmer en dele van die gebou is self met goud versier.
So sien ons, gemeente, dat God trou is aan sy Woord – Hy doen wat Hy gesê het: “Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre…”

Maar, broers en susters, ook hierdie tempel, in al sy verskillende fases van heerlikheid, was mensewerk, bestem om te vergaan, soos ook gebeur het in die jaar 70 n.C., toe die tempel saam met die stad Jerusalem deur die Romeine verwoes is. Jesus self het al aangedui dat die tempel bestem was om te vergaan. In sy gesprek met die Samaritaanse vrou in Johannes 4 sê Hy: “Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie, … maar … wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid”. Gemeente, deur die verlossende werk van Christus en deur die uitstorting van die Gees op die Pinksterdag het die kerk die tempel van God geword, nie gekoppel aan ‘n sekere gebou nie, maar gekoppel aan die samekoms van die ware aanbidders. Die kerk, groter in haar heerlikheid as wat die tempel ooit kon wees, want hier woon God met sy Gees, hier laat God die versoening bediening in woord en sakramente, hier is sy tempel nie gemaak van koue klippe nie, maar van lewende stene wat die lof van hul God besing!
Maar gemeente, ook in die kerk is ons arbeid gebrekkig, ook in die kerk op aarde is nog nie die vervulling van wat die Here deur Haggai belowe het nie. Ons sien dit in ons eie gemeente: foute word gemaak, onwyse optredes en woorde kan seermaak, ons beste bedoelings werk soms teenproduktief.

En daarom wag die belofte van die Here in Haggai 2:6-9, ook vir die kerk van die Nuwe Testament, nog om die finale vervulling. Ook vir die kerk van vandag wys hierdie belofte na iets baie groters. Om te kan sien wat dít presies is, moet ons by Hebreërs 12:26 wees, waar juis die woorde van Haggai 2:6 aangehaal word: “Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.” Nog een maal – die vorige keer was by die verbondssluiting van God met sy volk op die berg Sinai, toe het God die aarde laat bewe. Maar nou sal Hy ook die hemel laat bewe. En hierdie “nog eenmaal” sal ook die laaste maal wees – dit is dan wanneer die wankelbare dinge sal verander in die onwankelbare.

Die wankelbare tempel, hoe skitterend in sy heerlikheid dit ook al was, sal word die blinkende nuwe Jerusalem; die gebrekkige kerk, hierdie gemeente, sal word die onwankelbare Koninkryk van God waarvan ons lees in Openbaring 21. Dit is die nuwe Jerusalem, wat van God sal neerdaal uit die hemel, die stad wat skitter in sy heerlikheid: jaspis mure, fondamente van die mooiste edelgesteentes, poorte van pêrels, goue strate. Maar opvallend: geen tempel nie. Wat dan van die belofte dat die toekomstige heerlikheid van hierdie huis groter sal wees as die vroeëre? Dit sal! Die nuwe tempel skitter in onbeskryflike heerlikheid – want God self, die Almagtige, is die tempel, en die Lam (Openb. 21:22). En ja, soos belowe, is dit die nasies en die konings van die aarde wat hulle heerlikheid daar sal inbring (Openb. 21:24 en 26). Hoewel Haggai van sy eie profesie waarskynlik nie so baie verstaan het nie, wys die Here ons in die volheid van sy Woord die doel waarheen ons oppad is, die heerlike toekoms in die nuwe Jerusalem!

Broers en susters, laat ons nie oor die gebrekkigheid van die kerk ophou bou nie, laat ons nie omdat dit 50 jaar terug soveel beter was, die moed verloor nie. Laat ons bou, want God is in ons midde. Hy is by ons met sy Woord en met sy Gees. Sy Woord wat vlees geword het en onder ons kom woon het, wat vir al ons gebrekkige arbeid gesterf het, en sy Gees wat in ons woon om ons gebrekkige arbeid steeds meer te heilig tot sy diens. So bou ons dan, met nuwe moed, met nuwe krag, met die hoop op daardie dag wanneer ons volmaakte tempel, God self by ons sal wees. Dit sal dan geen ander God wees as die God wat ons leer ken het nie, geen ander Here as die Here van alle eeue nie, maar wel volkome sigbaar in sy heerlikheid. Skitterend in sy majesteit!
Daarheen is ons oppad met die God wat gister en vandag en môre dieselfde is; daarheen koers ons met die Gees van God in ons midde. En dan bly ons nie vassteek in die “goeie oue tyd” nie, maar dan kyk ons vorentoe na die volmaakte vrede wat ons deel geword in Christus Jesus. Hy het hierdie vrede vir ons bewerk, Hy sal dit ook vir ons voleindig! Nou dan, skep moed, gemeente van Pretoria-Maranata, skep moed, want Ek is met julle, spreek die HERE van die leërskare.

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 48:4 en 5
Wetslesing
Sing Ps. 94:6-8
Gebed
Doopsbediening
Sing (staande) Ps. 105:5
Lees: Haggai 2, Hebreërs 12:26-29, Openbaring 21:16-27
Sing SB. 45:8, 10 en 12
Teks: Haggai 2:1-9
Preek
Amenlied Ps. 102:10-12
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 26:1, 4 en 5
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Liturgie: 

(kyk in preek)