Sondag, heerlike dag!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2005-12-11
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 38
Reference: 
HK 38-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

HK Sondag 38

Ds HH van Alten - Sondag 11 Desember 2005

Lees: Ps. 92, HK Sondag 38
Sing: Sien liturgie

Tema: Sondag, heerlike dag!
Dan let ons op twee aspekte:
        1. Op hierdie dag ywer ons vir die Here
        2. Op al die volgende dae pluk ons die vrugte van hierdie dag

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Psalm 92 het as opskrif: “’n Psalm. ‘n Lied vir die sabbatdag.” En dan volg daar ‘n emosionele uiting van lof op die Here: “Dit is goed om die Here te loof, en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste, om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte.” Lof op die Naam van die Here! En nie sommer a capella nie, nee, daar is die tiensnarige instrument, die harp en die siter wat die digter in sy lofuiting begelei. “Want U het my bly gemaak, Here, deur u dade; ek jubel oor die werke van u hande.” Lof op die werke van die Here. Van die oggend tot die aand wil die digter die Here prys; 24-uur lof op die Naam en werke van die Here! Nooit ontbreek daar vir ons, sy kinders, stof tot lof nie. Dít is daarom die psalm, die lied, wat die digter vir die sabbatdag voorskryf.

Wat is u lied vir die sabbatdag, broeder en suster? Baie konkreet, wat sing of luister u sondagmôre? Watter musiek speel in u kar terwyl u kerktoe ry? Is dit in u hart en op u lippe soos psalm 92:1 in die berymde weergawe sê: “Wie sou die HEER nie prys nie, as weer met nuwe gloed ‘n rusdag ons begroet?” En as met nuwe gloed die rusdag, die sondag, u begroet, hoe groet u terug? Het ons ‘n houding wat spreek van ywer om met die gemeente van God saam te kom, soos die Kategismus in antwoord 103 sê? Of dra ons soos arme martelaars aan die laste van die christendom wat ons dwing om stowwerige kerkdienste by te woon en outydse psalms te sing, en ons verhinder om voordeel te put uit die genot wat die wêreld op ‘n sondag bied?
Kleur die feestelike stemming van Psalm 92 nog ons sondae? Is die sondag nog vir ons ‘n verlustiging soos die Here daarvan praat in Jesaja 58:13? * Of het die aantrekkingskrag van die wêreld van die lus ‘n las gemaak? Dalk word u sportwedstryde deur die kerkdienste onderbreek, of dalk word jou plesier deur pa en ma se sondagsreëls versteur… * Ja, moontlik het ons self met ‘n hele reeks moets en moenies die Sondag van sy vreugde beroof? Ons kan hulle almal opnoem, die moets en moenies wat die jonger kinders so frustreer; en as ons ouer word dan maak ons grappies daaroor, net om dit daarna in ons eie gesinne ook toe te pas.
Die wêreldse aanloklikhede en ons eie reëls daargelaat, wat is dit wat werklike vreugde aan die sondag verleen? Wat is dit wat van die Sondag ‘n heerlike dag maak?

Tema: Sondag, heerlike dag!
   
Dan let ons twee aspekte:
            1. Op hierdie dag ywer ons vir die Here
            2. Op al die volgende dae pluk ons die vrugte van hierdie dag

1. In die kerkgeskiedenis is die ‘rus’ van die sondag al te maklik vergeestelik. Dit het dan nie meer in die eerste plek oor die rus van die daaglikse arbeid gegaan nie, maar in die eerste plek oor die rus binne-in ons, in ons harte. Ons moet waak teen sodanige vergeesteliking. Want die sondag is ook baie eenvoudig deur die Here aan die mens gegee “om asem te skep”. Die Here sê in Ex 23:12: “Ses dae moet jy jou werk verrig, maar op die sewende dag moet jy rus, dat jou os en jou esel kan uitrus en die seun van jou slavin en die vreemdeling kan asemskep.” In die dolle jaagtog van die lewe gee die Here dus ‘n dag om by te kom, uit te rus. Die mens mag asem skep, saam met sy personeel, sy vee en die vreemdeling.
Maar die dag van die Here gaan oor meer – die naam sê dit immers al: dag van die Here. Op verskeie plekke in die Ou Testament sê die Here van die sabbat dat dit sy sabbat is. Hierdie dag is gegee om Hom te loof (Ps. 92) en op hierdie dag is daar ekstra offers aan Hom gebring (Num. 28:9). Dit wil dus voorkom asof hierdie twee aspekte – die rus vir die mens EN die wyding van die dag aan die Here – saamgegaan het. Hierdie aspekte word ook dikwels in die Skrif in een asem genoem. Kyk maar na Levitikus 23:3: “Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit ‘n dag van volkome rus, ‘n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie – dit is ‘n sabbat van die Here in al julle woonplekke.” Volkome rus, maar tog ‘n heilige vierdag, sabbat van die Here…

Dit is belangrik, gemeente, dat ons die kombinasie van ‘rus/uitrus/asem skep’ aan die eenkant, en ‘wyding/heiliging van die dag van die Here’ aan die ander kant, nie sal skei nie. Hierdie twee aspekte hoort saam. Deur die kombinasie van ‘rus’ en ‘wyding’ dra die sondag ‘n ander karakter as bv. ‘n saterdag waarop jy nie hoef te werk nie. Op só ‘n dag kan jy rus sonder om die dag spesifiek aan die Here te wy. Op die Sondag egter is rus nooit ‘n doel in sigself nie, maar gee die Here ons rus van ons daaglikse bedrywighede sodat ons ons hande vry het om hierdie dag aan Hóm te wy, sodat ons op hierdie dag vir Hóm kan ywer! Op die sondag kom die rus tot uiting in die toewyding aan die Here. Ek wil twee baie opvallende voorbeelde uit die Skrif noem waar duidelik is dat die sondag, die sabbat, ons hande vrymaak om vir die saak van die Here te ywer.

In die eerste plek verwys ek na die geskiedenis van die val van Jerigo in Josua 6. Op elkeen van die eerste ses dae moes die volk 1 keer om die stad trek. “Maar – lees ons dan in Jos. 6:15 – op die sewende dag (dus, die sabbat) het hulle vroeg klaargemaak toe die rooidag uitkom, en die stad op dieselfde manier sewe maal omgetrek; net maar dié dag het hulle die stad sewe maal omgetrek.” Sewe maal om die stad – mens wonder wat die Fariseërs hiermee sou gemaak het, want om sewe maal om Jerigo te trek was beslis verder as die sabbatsreis van ongeveer 900 meter wat die Fariseërs voorgeskryf het. Maar Josua en die volk het hulle, in navolging van die opdrag van die Here, nie bekommer oor 900 meter nie. Nee, hulle het geywer vir die Here! En soveel te meer op die sabbat as op die ander dae! Rus van die daaglikse arbeid het nie uiting gevind in arms-vou en niks doen nie, maar het uiting gevind in die ywer vir die Here – sewe maal het hulle om Jerigo heen getrek, en die mure van Jerigo het geval. En die stad met al wat daarin was, is as banoffer aan die Here gewy. Hierdie dag was werklik heilig aan die Here!

As tweede voorbeeld verwys ek na 2 Konings 11. Ahasia, koning van Juda, is net daarvoor deur Jehu doodgemaak. Sy moeder Atalia het by die dood van haar seun die geleentheid gesien om self aan bewind te kom. Om haar magsposisie te verseker, vermoor sy egter die hele koninklike geslag. Met hierdie daad het sy die gruwels van Isebel, waarskynlik haar moeder, oortref en daarmee die toorn van die Here oor haarself gehaal. Daar is egter een prinsie wat die slagting oorleef. Hy word deur Joseba, die vrou van die priester Jojada (2 Kron. 22:11), verberg en grootgemaak. Toe hierdie prinsie, Joas, sewe jaar oud was, het die priester Jojada ‘n heilige staatsgreep beplan; hy wil sorg dat die regmatige troonopvolger op die troon kom. En nou is dit opvallend dat hy die staatsgreep beplan vir die sabbatdag. Hy sit sy plan uiteen vir die owerstes en die soldate – hulle moet hulself op die sabbatdag op verskillende plekke rondom die tempel en die koninklike paleis posisioneer. Die doel is dat Joas koning gemaak word en dat enige iemand wat hulle daarin wil verhinder, gekeer en doodgemaak word. Jojada se plan roep bewondering en instemming op, maar… kan dit nie op ‘n ander dag gebeur nie? Moet dit nou regtig op die sabbat gebeur? Gemeente, strategies het dit baie meriete gehad om hierdie plan op die sabbat uit te voer – die soldate wat hulle plekke moes innneem, sou op die sabbat in elk geval na die tempel gekom het, en daarom sou hulle teenwoordigheid daar nie werklik opgeval het nie. Maar afgesien van die strategiese het Jojada op dié betrokke sabbat geywer vir die saak van die Here. Het die Here nie belowe dat Dawid se troon vir ewig vas sou staan nie? Was daardie belofte nie in gevaar noudat die goddelose Atalia aan bewind was nie? Gemeente, Jojada se sabbatsrus het op hierdie betrokke sabbat bestaan uit heilige ywer vir die saak van die Here.

Broers en susters, wat leer hierdie twee voorbeelde ons? Dit leer ons dat die sabbatsrus nooit ‘n saak van slaap en niksdoen is nie, maar dat die rus wat die Here ons op die sondag gee, gebruik moet word om besig te wees in sy diens, vir sy saak. Gaan lees maar antwoord 103 van die Kategismus – kry u daaruit enigsins die gedagte dat die sondag ‘n dag van passiewe niksdoen is? Nee, antwoord 103 is vol van werkwoorde, vol van aktiwiteit. Ons is betrokke, ons is aktief, ons is besig met die dinge van die Here. Kyk maar wat sê antwoord 103, en u kan in die boekie volg soos wat ek die opeenvolgende aktiwiteite behandel:
* God wil ten eerste dat die Woordbediening en skole in stand gehou word (werkwoord!) – hier gaan dit daaroor dat daar voortgang in ons eredienste moet wees. Ons moet daarvoor sorg dat daar elke sondag twee dienste kan wees. Die deure van die kerk moet oop wees, mense moet kan sien dat hier erediens gehou word. Vir die Woordbediening – die sentrale deel van ons erediens – om voortgang te hê, moet daar egter predikante wees, en vir dié doel is dit belangrik dat die teologiese opleiding in stand gehou moet word, in watter vorm dan ook. Dit is wat die Kategismus bedoel as dit praat van die skole wat in stand gehou moet word.
* ‘n Verdere aktiwiteit wat antwoord 103 noem, is dat ek ywerig met die gemeente van God moet saamkom – dit vra aksie van my kant af. Opstaan, gereed maak, kerk toe kom…
* Ek kom kerk toe om die Woord van God te hoor, dit is die volgende – nie altyd die maklikste werkwoord in ons woordeboek nie; inteendeel dit is soms harde werk om te luister, te hoor, te konsentreer en die Woord van die Here in ons harte te laat deurdring.
* … die sakramente te gebruik – as ek ‘n belydende lid is, dan kom ek na die tafel toe, vat ‘n stukkie brood en drink uit die beker om daardeur ook in my geloof versterk te word.
*… die Here openlik aan te roep – deur die gebed van die predikant is u aktief betrokke by ons spreke tot die Here; die predikant pak nie al die behoeftes van die gemeente in sy gebedskissie om daarmee op sy eie na die Here te gaan nie, nee, ons almal saam klim op met die leer van God se beloftes en ons kom as gemeente voor sy troon; en ook as ons sing dan is ons aktief besig om die Here openlik aan te roep – gemeente, laat die sang altyd u aktiwiteit bly deur met blye harte en oop monde saam te sing.
* En dan noem die Kategismus ook nog dat ons die christelike liefdegawes sal gee – ek moet besluit hoeveel ek wil gee, ek moet dit tydens die kollekte in die sakkie gooi. En wanneer ons uit die kerk stap, is hierdie arbeid nie klaar nie. Want die christelike liefdesgawes word nie slegs gemeet in note en munte nie – nee, hier buite op die gras soek ons mekaar op, vra ons na die welstand van die ander, bemoedig ons in moeites, is ons bly saam met dié wat bly is, huil ons saam met dié wat huil. En wat van daarna? Daarna nooi ons moontlik mense om te kom kuier, te bly eet; bewys ons ons gasvryheid aan die geloofsgenote, soek ons miskien die siekes en eensames op…

Sondag ‘n dag van rus? Ja gemeente, rus, sodat ons ons hande vry het om te ywer vir die saak van die Here. Daar is aksie op die Sondag, dis verbysterend wat die christen alles mag doen op die sondag. Natuurlik moet die sondag geen nuwe werksdag word nie, ‘n dag propvol kerkwerk nie. Maar laat dit ook nooit só wees dat ons kinders, wanneer hulle grootword, sê dat hulle niks op die sondag mog doen nie, dat pa en ma geslaap het en dat hulle stil moes bly nie. Laat die sondag nooit ‘n dag wees waarop ons met rooimiere sit en wag dat dit weer Maandag word nie. Die Here laat sy profeet Amos spesifiek hierteen profeteer in Amos 8:4-7: “Hoor dit, julle wat die behoeftige vertrap en daarop uit is om die ootmoediges van die land uit te roei, deur te sê: Wanneer is die nuwemaan verby, sodat ons koring kan verkoop, en die sabbat, sodat ons die graanskuur kan oopsluit – om die efa te verklein en die sikkel te vergroot en bedrieglik te handel met ‘n valse weegskaal;… Die Here het gesweer by die hoogheid van Jakob: Gewis, Ek sal in ewigheid nie een van hulle werke vergeet nie.” Die Here toorn daaroor as die sondag in ledigheid deurgebring word, want ledigheid is die duiwel se oorkussing – kyk maar, die mense wat hier in Amos 8 aangespreek word, is nie maar net ywerige mense wat lus het om weer Maandag aan die werk te gaan nie, nee, hulle wil bedrieg, uitbuit en om die bos lei. Die ledigheid van die sondag word ‘n broeines vir bose planne wat op die Maandag uitgevoer word. En gemeente, voor ons ons oë uitvee, word die bose planne selfs nog op die sondag uitgevoer ook. Dit is wat in die tyd na die ballingskap in Jerusalem die geval was. Ons lees in Nehemia 13:15 hierdie woorde van Nehemia: “In dié dae het ek in Juda mense gesien wat op die sabbat die parskuipe trap en vragte koring, op esels gelaai, inbring, en ook wyn, druiwe en vye en allerhande vragte met goed, en dit op die sabbatdag in Jerusalem inbring; en ek het hulle gewaarsku op die dag toe hulle lewensmiddele verkoop het.” En dan neem Nehemia maatreëls deur die poorte vóór die sabbat al te sluit en dit eers weer ná die sabbat oop te maak.

Gemeente, laat ons daarteen waak dat rus nooit ledigheid word nie. Maar laat ons die rus wat die Here ons op die sondag gee, gebruik om in sy diens besig te wees. En gemeente, dit is waar – die kombinasie van, aan die een kant, rus, en aan die ander kant wyding aan die Here kan soms moeite en spanning bring wanneer ons konkreet die sondag probeer invul. Dit vra soms selfverloëning om die sondag aan die Here te wy.
Maar gemeente, kyk dan na die kruis – dit is selfverloëning, om jouself in die dood oor te gee, sodat sondaars kan lewe! Dáár, aan die kruis het daar vir ons VRYHEID gekom, vryheid van sonde, dood en vervloeking. Slegs in dáárdie vryheid kan die sondag vandag as rusdag vir God se kinders bestaan. Ons is nie meer slawe nie, slawe van ons werk, slawe van oorlewing. Nee, ons is nou kinders, vry om die Here te loof, tot sy eer psalm te sing, te jubel oor die werke van sy hande; vry om die gemeente ywerig te soek, mekaar te dien, my broeder en suster op te bou. Laat ons vanuit daardie vryheid vir die Here ywer – dít is hoekom Hy op die sondag ons daaglikse arbeid uit ons hande geneem het en ons rus gegee het. Sodat ons die dag aan Hom kan wy, vir Hom kan ywer, op sy diens gerig kan wees. Hoe goed is dit om christen te wees – ek het ses dae waarin ek my werk kan afhandel en daarna… rus! Só begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe!
In die tweede plek wil ons nog daarop let dat ons op al die volgende dae die vrugte van hierdie dag pluk.

2. Die Kategismus wys ons dat die vierde gebod geen sondagsgebod is nie. Ons het nie op die sondag tien gebooie, terwyl ons vir die res van die week slegs nege gebooie het nie. Die Kategismus reken ook af met alle sondagsvroomheid waardeur ons een dag vir die Here reserveer, en die ander dae vir ons self lewe. Wie slegs sondagspligte ken, maar nie deur die week as sondagsmens lewe nie, het nog nie werklik verstaan waaroor die vierde gebod gaan nie. Die vierde gebod is nie slegs vir die sondag nie; dit raak ons hele lewe.
Reeds in die eerste deel van antwoord 103 word dit duidelik. * Die onderhouding van die Woordbediening en die skole, wat ons mootlik as ‘n taak vir die sondag kan sien, is ‘n daaglikse taak. Woordbediening geskied immers nie slegs op sondag nie, maar elke keer wanneer ons met die Woord besig is. Die onderhouding van die skole is ‘n daaglikse taak, juis sodat ons bedienaars van die Woord op Sondae kan hê. * Verder sê die Kategismus ook dat ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God moet saamkom.” Veral op die rusdag – dus, nie net op die rusdag nie. Ook ander geleenthede wat daar is om met die gemeente saam te kom – gemeentevergaderings, gemeente-dae, bybelstudies, besondere geleenthede – dit is deel van die vierde gebod in die praktyk. Soek ywerig daarna om ook op hierdie geleenthede met die gemeente van die Here saam te kom – spesifiek op hierdie punt moet ons erken dat daar in ons gemeente nog groot gebreke is. * Ook die gee van christelike liefdegawes, ‘n ander aspek wat die Kategismus noem, is nie tot die sondag beperk nie. Ons help mekaar mos deur die week ook? Word daar nie kos gemaak vir wie siek is of pas gekraam het nie? Besoek ons mekaar nie in die hospitaal of by die huis nie? Bel ons mekaar nie gereeld om te hoor hoe dit gaan nie? Op hierdie punt, broeders en susters, mag ons met dankbaarheid raaksien dat die Here dit ook gee.

Wanneer die Kategismus dus in die eerste deel van antwoord 103 spesifieke aspekte van die sondag behandel, dan kan ons tussen die lyne al lees dat hierdie aspekte nie tot die sondag beperk is nie. Die ywer vir die saak van die Here, die toewyding om ons lewens in sy diens te stel, moet voortgang vind op Maandag en Dinsdag en tot op die laaste dag van die week. Dit wat in die eerste deel van antwoord 103 tussen die lyne gelees kan word, word in die tweede deel eksplisiet gemaak. Ons lees daar: “Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus en die Here deur sy Gees in my laat werk.” Gemeente, as ons op die sondag met die opgestane Christus in kontak was, as ons God se stem gehoor het, as ons die gemeenskap van gelowiges beleef het, dan sal dit sy heiligende invloed hê op die res van die week. Wie op die sondag, deur selfverloëning en liefde, ywer vir die saak van die Here, homself wy in sy diens (soos ons in die eerste punt gesien het), sal vind dat hy deur die kragtige werking van God se Gees geleidelik aan sy hele lewe in heiligmaking aan die Here begin wy. Dit is die suurdeeg van die sondag – dit werk deur. Die sondag is geen doel in sigself nie, nee, die sondag het tot doel dat ons weer mense word soos God dit vanaf die begin bedoel het. Gemeente, die sondag, die dag van die Here, help ons om, deur die werking van die Heilige Gees, weer profeet, priester en koning voor God se aangesig te wees. In die eerste plek profete, deurdat ons deur die prediking van die Woord en die gebruik van die sakramente op die sondag, toegerus word om self ook verkondigers, getuies, van die blye boodskap te wees. Gaan werk daarom met die preke van sondag; lees dit weer, oordink dit weer, en gaan verkondig dit! In die tweede plek priesters, deurdat ons deur die openbare gebede van sondag geleer word hoe om elke dag te bid, deurdat ons in ons omgang met mede-broeders en –susters geleer word vir wie om te bid; priesters, deurdat ons in die gee van ons christelike liefdegawes op sondag geleer word hoe en aan wie om ons liefdesdiens deur die week voort te sit. Gemeente, bid elke dag, help elke dag, soos egte priesters – liefdesdiens! En in die derde plek konings, deurdat ons met die kruis van Christus voor oë en die Gees in ons harte leer stry teen die daaglikse sondes in ons lewens.

Só is ons profeet, priester en koning voor God se aangesig, spesifiek op die Sondag waar ons in alle rus mag ywer vir die saak van God, maar ook deur die week, waar ons in die gewoel van elke dag mag stry teen ons bose werke, mag ywer vir die waarheid, mag bid en werk tot opbou van Christus se kerk.
Wanneer ons hierdie deurwerking van die sondag op Maandag leer raaksien, dan word die sondag ‘n fees. Die fees van ons opgestane Here, fees van die verlossing om God te dien, fees van die nuwe lewe. Dan word psalm 92 ons lied vir die sondag. “Die regverdige, ons wat glo, sal groei soos palmbome; ons sal opgroei soos seders op die Libanon” (vers 13) Hoekom? Kyk maar verse 14 en verder: Want ons is geplant in die huis van die HERE! Dáár, in die voorhowe van onse God, sal ons groei; hier, in die huis van die Here, sal ons toeneem, word ons gevoed vir die lewe van elke dag. Gevoed, sodat ons selfs in ons gryse ouderdom nog vrugte sal dra, vet en groen sal wees. Om te verkondig dat die Here reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie!

Gemeente, in ons Here is geen onreg nie. Ook sy instelling van die sondag is enkel en alleen goed. As die nuwe rusdag u daarom begroet, groet terug met die lof van die Here op u lippe. Verkondig elke sondagmôre sy goedertierenheid, omdat Hy ‘n dag gegee het waarin u uself volledig op Hom kan rig. Verkondig elke sondagaand sy getrouheid wat ook die sondag sal laat deurwerk in die res van die week. En sien dan uit na die ewige sabbat – ewige rus, geen sonde meer nie. Wie sou die Heer nie prys nie, as weer met nuwe gloed, ‘n rusdag ons begroet?

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 92:1-4
Wetslesing – Deut. 5:1-21
Sing Ps. 38:1, 6-8
Gebed
Lees Psalm 92
Sing Ps. 92:5-7
Lees HK, Sondag 38
Preek
Antwoordlied Ps. 26:4, 5 en 7
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 84:1, 3, 4 en 6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees, is met julle almal. Amen

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)