Die eed as gawe van God in 'n leuenagtige wêreld

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2005-12-04
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 37
Reference: 
HK 37-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

HK Sondag 37

Ds HH van Alten - Sondag 4 Desember 2005

Lees: Ps. 139, Matt. 5:33-37, Matt. 23:16-22, HK Sondag 37
Sing: Sien liturgie

Tema: Die eed as gawe van God in 'n leuenagtige wêreld
        1. Die noodsaak van die eed in die wêreld
        2. Die onnodigheid van die eed in die kerk
        3. Die afwesigheid van die eed op die nuwe aarde

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Nadat ons in Sondag 36 na die behandeling van die 3e gebod gekyk het, sou ons verwag dat Sondag 37 nou oorgaan tot die behandeling van die 4e gebod. Maar die opstellers van die Kategismus het besluit om nog effens langer by die 3e gebod stil te staan. Dis die enigste keer dat, by die behandeling van die 10 gebooie, ‘n gebod oor 2 sondae bespreek word. Daar is dus waarskynlik gewigtige redes om die behandeling van die 3e gebod nog langer uit te rek. Maar as ons Sondag 37 lees dan verstaan ons nie mooi wat die motiewe van die opstellers van die Kategismus was nie. Hoekom moet daar nou ‘n hele sondagsafdeling aan die eedswering gewy word? Is daar nie belangriker dinge wat in die Kategismus opgeneem kon word nie?
As ons nou in die gemeente gaan kyk hoeveel mense al in hulle lewe ‘n eed moes aflê, dan is dit waarskynlik ‘n handjievol. Daar is miskien ‘n mediese student wat die eed van Hipokrates moes aflê; miskien is daar enkele onder ons wat al in die hof moes getuig en daarvoor die eed moes aflê dat jy in alles die waarheid sal praat; miskien enkeles wat ‘n eed van geheimhouding moes aflê met betrekking tot hulle beroep. Maar dit is dan ook dit. Wat is dan nog die sin daarvan om ‘n hele sondagsafdeling daaraan te wy?

Gemeente, hierin sien ons duidelik dat die Kategismus in ‘n spesifieke tyd opgestel is, naamlik in die tyd van die Reformasie. Die gevolg is dat ons in die kategismus soms ook met die spesifieke probleme van daardie tyd te doen kry. Juis in daardie tyd word die kerk van Christus gekonfronteer met die groep van die wederdopers. Volgens die wederdopers het die verlossing deur Christus ons bevry van hierdie aardse lewe en ook van die wette wat vir hierdie aardse lewe geld. Volgens hulle het die genade ons losgemaak van die natuur. Daarom het hulle ook enige natuurlike instelling soos die owerheid, die huwelik, militêre diens en ook die aflegging van die eed verwerp. Daarteen het die reformatore hulle verset, omdat hulle gesien het dat dit hier oor meer gaan as net die eedswering, maar dat God se Naam hier op die spel is. Daarom het hierdie sondag sy plek in die kategismus gekry.
Maar beteken dit dat hierdie sondag niks meer vir ons vandag te sê het nie? Kan ons hierdie sondag maar oorslaan omdat dit ons terugverwys na ‘n stryd van 450 jaar gelede?

Gemeente, die Reformasie is verby en die wederdopers se dwaling is weerlê, maar die gees van die wederdopers is vandag nog springlewendig. Maak ons ook nie dikwels skeiding tussen die terrein van die natuur en die terrein van die genade nie? Is ons ook nie geneig om Christus se verlossingswerk tot die Sondag in die kerk te beperk nie? En probeer die wêreld nie om ons te dwing om dit te doen nie? Sê die wêreld nie met groot monde dat ons maar ons godsdiens in die kerk moet beoefen, maar net nie met die bybel op die publieke terrein van die politiek, staat en arbeid moet kom nie?
Wel gemeente, dan kom wys God ons vandag op ‘n baie praktiese manier dat sy Naam en sy waarheid nie slegs in die kerk gesien kan word nie; dat die reikwydte van Christus se verlossingswerk nie slegs tot hierdie gemeente beperk is nie. God kom wys ons dat sy genade nie slegs op die kerkerf ervaar kan word nie, maar dat Hy sy genade in hierdie hele wêreld wil laat geld. God wil laat sien dat sy Naam die hoogste gesagsinstansie in hierdie wêreld is; Hy is God en niemand anders nie. Met hierdie sondag bely ons daarom God se reg oor hierdie hele wêreld.

Het u al ‘n eed afgelê? Miskien nog nie, maar maak dit hierdie sondag vir u minder aktueel? Is Christus se heerskappy oor die hele wêreld vir u onbelangrik? Is die gebruik van God se Naam ook op die terrein van staat, politiek en arbeid iets wat u nie raak nie? Nee, dit is deel van die evangelie van Christus se alles-omvattende verlossingswerk. Daardie evangelie mag ek aan u verkondig onder die volgende tema:

Tema: Die eed as gawe van God in ‘n leuenagtige wêreld.
            1. Die noodsaak van die eed in die wêreld
            2. Die onnodigheid van die eed in die kerk
            3. Die afwesigheid van die eed op die nuwe aarde

1. “Die eed as genadegawe van God in ‘n leuenagtige wêreld” – hierdie laaste twee woorde (“leuenagtige wêreld”) moet al dadelik ons gedagtes laat teruggaan na Genesis 3. Nie na Genesis 1 en 2 nie, want gemeente, die eed was in Genesis 1 en 2 nie nodig nie. In Genesis 1 en 2 lees ons van God se goeie skepping: Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed (Gen. 1:31). Dit was baie goed – ook die kommunikasie tussen God en mens en tussen mense onderling. Adam en Eva het met God in alles die waarheid gepraat; hulle het nie probeer om iets terug te hou of om die waarheid net so effens te draai nie. Adam en Eva het met mekaar die waarheid gepraat; in hierdie eerste huwelik was daar goeie kommunikasie; Adam en Eva het nie dinge vir mekaar weggesteek of vir mekaar gejok nie. Die kommunikasie in Genesis 1 en 2, die woordverkeer in die paradys was dus sonder sonde; waarvoor sou die eed dan nodig wees?
Nee gemeente, die eed is iets van Gen. 3; iets van Gen. 3:4 waar die slang die vrou verlei het deur haar te probeer wysmaak dat die vrugte nie werklik die mens sal doodmaak nie, maar eerder die mens soos God sal laat wees; die eed is iets van Gen. 3:12 en 13 waar die man die skuld aan die vrou gee en die vrou die skuld aan die slang gee. Gemeente, die sonde het die kommunikasie tussen mense vervuil, dit het die woordverkeer tussen ons vergiftig. Gaan lees maar hoe skryf Jakobus in hoofstuk 3 van sy brief oor die tong en watter vernietigende effek die tong kan hê. Hy sê dat as iemand in woorde nie struikel nie is hy ‘n volmaakte mens, want hierdie tong is ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid.

Is een van ons in staat om ons tong in toom te hou? Is ons nie almal daartoe geneig om die waarheid te verdraai nie? Wie van ons hou nie dikwels iets terug van die waarheid nie? Gemeente, die domein van die waarheid het na die sondeval in hierdie wêreld feitlik verdwyn. Die waarheid wat in die paradys geheers het, is onttroon. Die leuen het ‘n suksesvolle staatsgreep uitgevoer en het op die troon gaan sit; en ons mense was deel van die hoogverraad.
Gemeente, daarom het die eed ‘n noodsaaklikheid in hierdie wêreld geword; daarom is dit soms nodig om die Naam van God in te roep om getuienis te gee van ons woorde – juis omdat ons nie meer met mekaar die waarheid kan praat nie, juis omdat ons mekaar in ons woordelike omgang nie meer kan vertrou nie. Juis daarom gee God die eed as gawe ter wille van die waarheid

Want wat doen ons as ons ‘n eed aflê? Wat doen die mense op TV as hulle in ‘n film hul hand op die Bybel plaas? Ons roep die teenwoordigheid van die Alwetende God in; Hy by wie die waarheid vasstaan, moet as getuie optree van ons woorde op daardie oomblik. Slegs Hy kan dit doen. Die mens, ja die mens is baie magtig; ons is in staat om rekenaarkodes te breek, ons in staat om met gevorderde mediese tegnologie tot in die diepste van die menslike brein deur te dring en kennis op te doen oor die werking van hormone en neurons, ons kan met ons wapentuig en tenks tot in die hart van ‘n stad deurdring, maar om in die diepste skuilhoeke van die menslike hart deur te dring om te bepaal of die mens die waarheid praat of nie, daartoe is ons nie in staat nie. Nee, slegs Een het daardie mag; daar is slegs Een wat volgens Ps. 139 my deurgrond en my ken, wat my gaan en my lê deurvors en wat met al my weë goed bekend is; daar is slegs Een wat weet wat ek gaan sê nog voordat ek dit gesê het; slegs Een dring deur tot die diepste van die menslike hart en slegs Hy weet wat daar afspeel…
En daardie Een, die Alwetende God, Hom roep ons in wanneer ons ‘n eed aflê; Hy is die vaste punt in ons lewens wanneer die waarheid in gedrang is. Gemeente, by die eed sweer ons by die Naam van God as die Een wat weet wat in ons harte aangaan, as die Een wat weet of ons nou die waarheid praat of nie.
Sien u hoe oorweldigend die eed eintlik is? Die Naam van God wat jy nie ydelik mag gebruik nie, en wat die Here ook nie ongestraf laat bly as jy dit wel doen nie, daardie Naam word betrek by jou getuienis; die Naam bo elke naam staan borg vir die waarheid van jou woorde; die eed plaas ons voor die aangesig van die Alwetende God… Sien u dat ons met die eed daarom nie ligtelik kan omgaan nie? Dat die eed nie sommer vir ons daaglikse gebruik is nie? Daarom kan ek nie sommer net sê: “Ek sweer…” net sodat die ander een my storie moet glo nie. Dit is dan ook die agtergrond van Jesus se woorde in Matt. 5:34 waar hy opdrag gee om hoegenaamd nie te sweer nie. Die Fariseërs het naamlik reëltjies geskep waardeur dit nie nodig was om die eed te hou nie. Kyk hoe wys Jesus die dwaasheid van hulle reëltjies uit in Matt. 23 wat ons gelees het: volgens die Fariseërs kon jy die eed wat jy by die tempel gesweer het maar verbreek, maar die eed by die goud van die tempel moes jy hou, want die goud was aan die Here gewy. ‘n Eed by die altaar was nie te ernstig nie, maar ‘n eed by die offer op die altaar moes jy hou, want dit was ‘n offer aan die Here. Hierdie voorbeelde wys op watter ligsinnige manier daar met die eed omgegaan is. Die Here Jesus wys dan hoe dwaas hierdie redenasie is, want uiteindelik plaas elke eed jou voor die aangesig van jou God; elke eed dra die eis van waarheid. Dan kan jy nie ‘n onderskeid gaan maak tussen ‘n ernstige en ‘n minder ernstige eed nie. Nee, by elke eed roep jy die Naam van God in.

En juis omdat ons by die Naam van God sweer, is die eed nie vir elke situasie bedoel nie; die eed mag nie sommer lukraak deur ons gebruik word om krag agter ons woorde te sit nie. Nee, God gee die eed vir baie spesifieke situasies. Kyk maar, die kategismus grens dit ook baie duidelik af: ons mag godvresend by die Naam van God ‘n eed sweer wanneer die owerheid dit van ons eis of as die nood dit vereis om daardeur trou en waarheid te bevestig. Die Here gee as’t ware die eed vir kritieke punte in hierdie wêreld: daar waar die staatspresident in sy amp bevestig word, dáár word die eed gebruik as sy belofte van trou in sy taak; die mediese dokter lê ’n eed af waarin hy beloof om die beste vir die pasiënt te soek; die militêre offisier lê ‘n eed af waarin hy trou beloof aan die belange van sy land en die burgers; die getuie in die hof sweer om die waarheid te praat daar waar oor die lot van die beskuldigde beslis moet word. God kom druk as’t ware sy Naam en sy waarheid onder die pilare van ons samelewing: die regering, die geneeskunde, die weermag, die regstelsel... Onder daardie pilare kom druk God sy Naam en sy waarheid as fondament in, omdat God weet hoe belangrik dit is vir die leefbaarheid van ons samelewing dat op daardie punte die waarheid gepraat word – juis op daardie kritieke punte word die mens voor die aangesig van God gedaag en lê hy dit op homself om die waarheid te praat.

Is hierdie Sondag nou vir ons minder aktueel omdat miskien net ‘n handjievol van ons al ‘n eed afgelê het? Nee gemeente, ons sien juis God se wysheid en sy genade in die gawe van die eed. In ‘n leuenagtige wêreld gee God die gawe van die eed as vaste punt ter wille van die waarheid. In hierdie wêreld mag u as christen leef en werk; ná die Sondag mag ons Maandag weer werk toe gaan, ons mag ná werk sport gaan beoefen, ons mag saam met vriende uitgaan; ons hoef ons nie uit hierdie wêreld terug te trek soos die wederdopers dit gedoen het nie. Want ons het ‘n God wat Homself tot by die fondamente van ons leuenagtige samelewing ingewerk het en gesorg het dat hier plek is in hierdie wêreld vir sy kinders, dat hierdie samelewing vir ons leefbaar is.
As u daarom deur die owerheid gevra word om in spesifieke gevalle ‘n eed af te lê, weet dan in die eerste plek dat dit die hartseer gevolg van die sonde is, maar weet verder dat dit ook ‘n ligbaken in hierdie donker wêreld is van die genadige heerskappy van God se Naam. Lê dan daardie eed ook met vrymoedigheid af omdat jy daarmee mag bydra dat God se Naam in hierdie wêreld nog sterker mag klink. Dit bring ons by die tweede punt: die onnodigheid van die eed in die kerk.

2. Gemeente, as ons die Skrif lees, dan sien ons dat dit nie slegs mense was wat ‘n eed gesweer het nie. Van God self lees ons telkemale dat Hy sweer. Waar ons mense egter by God sweer as die hoogste gesag, het God niemand hoër as Hyself nie, en daarom sweer Hy by Homself (lees maar Hebr. 6:13 en 16).
Maar gemeente, God sweer nie om Homself te dwing om die waarheid te praat nie. Hy IS immers die waarheid en in Hom is geen leuen nie. God se beloftes, sy goeie nuus van verlossing vir ons, is waar en seker, MAAR ter wille van ons swakheid en kleingeloof kom God en kom versterk Hy daardie beloftes nog verder deur dit met ‘n eed te bevestig. God se eedswering dien tot bevestiging vir ons. Hy doen dit ter wille van ons. So besweer God die hele evangelie en al sy beloftes ter wille van ons. Kyk maar Psalm 110:4: Die HERE het gesweer en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisedek – hier sweer God dat Christus die ewige priester sal wees, die Een wat die offer tot ons verlossing sal bring; kyk Lukas 1:73 waar Sagaria die lof van die Here besing as die Een wat gesweer het dat Hy ons uit die hand van ons vyande sal verlos sodat ons Hom sonder vrees kan dien…
En ook die Seun, wanneer Hy die kruisdood in die gesig staar, doen dieselfde as die Vader. Wanneer die hoëpriester Hom in Matt. 26 by die Lewende God besweer om te sê of Hy die Christus, die Seun van God, is, dan lê Christus in alle rustigheid die eed af wat van Hom geëis word deur te antwoord: U het dit gesê; ja, Ek is die Christus, die Messias, wat gekom het om die volk van hulle sondes te verlos; Ek sweer dat Ek die waarheid met u spreek en Ek weet dat dit my my lewe gaan kos, maar Ek doen dit sodat elke gelowige wat die derde gebod oortree het, nie die straf daarvoor hoef te dra nie, sodat elkeen van my kinders wat God se Naam ydelik gebruik het, ongestraf sal bly; ja, Ek sal die straf van die derde gebod dra sodat leuenaars en troueloses by My kan kom vir vergifnis, sodat elkeen wat ‘n ligsinnige eed afgelê het of die eed wat hy gesweer het, verbreek het, verlossing kan kry.
Gemeente, sien u wat die Vader en die Seun ter wille van ons gesweer het? Sou ons dan nie onsself bekeer, terug na die waarheid nie? Ja, dit vra van ons, as gemeente van die Here, dat ons in die waarheid sal lééf! Die waarheid, wat deur die sondeval onttroon is, moet weer hier in die midde van die gemeente heers. Ons is gemeente van Christus, Hy wat die weg, die waarheid en die lewe is, en daarom kan dit nie anders as dat die waarheid hier in ons midde heerskappy voer nie.
Gemeente, besef u watter konsekwensie dit hier vir ons in die gemeente het? Dink mooi na wat dit vir u en vir my beteken as ons sê dat die waarheid hier moet heers omdat Christus hier heers deur sy Woord en Gees… Dit beteken dat ons met mekaar in die gemeente ook in alles die waarheid sal praat, dat die woordverkeer wat in die paradys vergiftig is, in beginsel weer herstel word. Dit beteken ook dat die eed in beginsel in die gemeente nie meer nodig is nie. Gemeente, hier in ons midde is dit nie soos in die wêreld waar net so nou en dan God se Naam ingeroep word om oor ons woorde getuienis te gee nie, nee, hier is ons altyd in die teenwoordigheid van God, hier is sy Naam voortdurend oor ons uitgeroep.

Beteken dit dat ons in die kerk nooit van die eed gebruik kan maak nie? Nee, daar kan sekere gevalle wees (die Kategismus praat ook daarvan) waar dit noodsaaklik is om die waarheid deur ‘n eed te bevestig. Maar in beginsel het ons die eed in die gemeente nie meer nodig nie. Alles wat u as God se wedergebore kind sê, moet die waarheid wees; al u uitsprake geskied in teenwoordigheid van die Naam van die Drie-enige God; in alle woorde in die gemeente van Christus moet ons ja ja wees en ons nee moet nee wees! Anders gestel: alles wat in die kerk gesê word, IS eed.
* Jongmens, jy wat pas belydenis van geloof afgelê het en “ja” geantwoord het op die vrae wat aan jou gestel is: besef daarom wat jy gedoen het. Jy het die Naam van God ingeroep om getuienis te gee van jou “ja”…
* Ampsdraers, u “ja” dat u getrou u taak in die gemeente sal uitvoer, sal goddelike getuienis kry; ten goede wanneer u ja ja was, maar ook ten kwade wanneer u ja nee geword het…
* Mans en vroue wat in die huwelik “ja” gesê het, onthou dat u dit in die kerk gedoen het, nie slegs teenoor mekaar nie, maar onder aanroeping van die Naam bo elke naam, die God van hemel en aarde…
* Pa’s en ma’s, u wat u kinders laat doop het, besef watter gewig u “ja” om u kinders op te voed in die vrees van die Here, watter gewig daardie “ja” dra…
* Elkeen van ons, ons leef hier in die gemeente voor die aangesig van die Almagtige God, sy heilige Naam is oor ons uitgeroep – besef dit baie goed en laat dit ook ons woorde teenoor daardie God en teenoor mekaar bepaal. God wil in sy liefde sy Naam oor u uitroep, want in daardie Naam is verlossing, maar God is ook ‘n jaloerse God wat nie met sy Naam laat speel nie. Hy laat nie toe dat ons sy Naam maar vertrap terwyl ons vir mekaar lieg nie; Hy toorn oor ons as ons vergeet met watter Naam ons te doen het, as ons vir mekaar die waarheid terughou of verdraai.

Laat ons daarom met mekaar en ook elkeen in ons binnekamer elke dag saam met Dawid in Psalm 139 tot die Here bid. In vers 20-22 sê Dawid dat hy die vyande van die Here haat, dat hy ‘n afsku het aan dié wat die Naam van die Here ydelik verhef . Maar dan besef Dawid ook sy eie swakheid en daarom val hy in gebed op sy knieë voor die Here: Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! Here, in U gemeente behoort ons almal met mekaar die waarheid te praat, in U gemeente staan ons almal onder eed, maar U ken ons harte, U weet hoe swak ons nog daarin is. Here, wil U ons harte en gedagtes toets, en wil U ons op die ewige weg lei, die weg wat lei na die nuwe aarde waar ons met U mag lewe! Dit bring ons by die derde en laaste punt: die afwesigheid van die eed op die nuwe aarde.

3. Gemeente, ons het gesien dat die eed in die gemeente van die Here in beginsel nie meer nodig is nie. Maar ons het ook gesien dat die gebrokenheid van die lewe ons soms daartoe dwing om ook in die gemeente die eed af te lê. Een van ons kan miskien deur ‘n ander in die gemeente beskuldig word van ‘n sonde wat ons nie gedoen het nie; indien die kerkraad nie agter die waarheid kan kom nie, kan dit nodig wees dat die kerkraad van u ‘n eed vra om daarmee die saak aan die Here oor te gee as die kenner van ons harte; Hy sal dan die waarheid van ons woorde beoordeel en in sy wysheid ook straf.
Daarom is dit belangrik, gemeente, om te sien dat dit wat in beginsel nie meer nodig is nie, nie volledig deur ons afgeskaf kan word nie. Die realiteit van die sonde, van ons sonde, dwing ons om die eed ook hier in die gemeente van tyd tot tyd nog toe te pas. En dit kan seer maak: dit kan seer maak vir die een wat voel dat hy in sy woorde nie vertrou word nie, maar dit maak ook seer vir elkeen van ons wat ons eie harte ken, wat weet hoe leuenagtig en onbetroubaar ons so dikwels nog is.
Maar gemeente, dan wil die derde gebod ook troos bied. Want die derde gebod, trouens die hele wet wat die wet van dankbaarheid is, wil ons op die ewige weg lei. Ja, en op hierdie weg, wat die weg van die lewe is, het ons die eed nog nodig. Maar hierdie weg het ‘n einde, ‘n heerlike einde, wanneer die eed nie meer nodig is nie. Dan is die eed nie slegs in beginsel nie meer nodig nie, maar dan word dit volledig afgeskaf.
Op die nuwe aarde waar die Naam van God in al sy volheid oor ons uitgeroep sal word, waar ons in die volle teenwoordigheid van God sal lewe, daar sal ons ook almal met mekaar die waarheid praat. Daar sal die waarheid in al sy glorie ook heers. Daar sal dit weer wees soos in die paradys: ons kommunikasie met God sal weer eerlik en openlik wees, ons sal weer volkome met God wandel. Daar sal ons die Naam van God ook nie meer ydelik kán gebruik nie, omdat die waarheid in ons almal sal wees. Daar sal die wonde van wantroue geheel word en die seer van die besef van ons eie onbetroubaarheid weggeneem word.

Gemeente, dit wat ek hier skets is nie ‘n verre droom nie; dit is nie iets van buite ons realiteit nie. Nee, dit is die realiteit van die God wat nou al heers in hierdie wêreld met sy waarheid.
Kom daarom alle meinediges, alle leuenaars, alle misbruikers van die Naam van die Here, u wat “ja” gesê by die doop van u kind maar nie altyd u kinders opgevoed het in die vrees van die Here nie, u wat “ja” gesê by u huwelik maar nie altyd trou was teenoor u man of vrou nie, u wat “ja” gesê het om die gemeente as ouderling of diaken te lei in die waarheid van God se Woord, maar nie altyd trou was in u arbeid nie, u wat in die teenwoordigheid van God beloof het en dit nie nagekom het nie, u wat “ja” gesê het, maar eintlik “nee bedoel” het, u wat “nee” gesê het, maar eintlik “ja” bedoel het, kom na Christus, Hy wat “ja” gesê het en dit bedoel het, wat gesweer het dat Hy die Seun van God is, sodat Hy sou sterwe vir ons sondes teen die Naam van God. Kom na Hom toe, sodat die Naam van God in u lewe mag heers bo enige ander naam en sodat eendag vir u in die Naam van hierdie God gesê mag word: Gaan in, goeie en getroue slaaf, gaan in in die koninkryk van jou Heer!

Amen

Liturgie (aand)

Groet en lees afkondigings
Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Ps. 115:1,8,9
Gebed
Lees: Ps. 139, Matt. 5:33-37, Matt. 23:16-22
Sing Ps. 24:2,3
Lees HK, Sondag 37
Preek
Amenlied – Ps. 139:1,2,10,12
Geloofsbelydenis
Sing Ps 119:33, 35
Gebed
Kollekte
Ps. 97:6,7
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Liturgie: 

(kyk in preek)