Die derde gebod roep ons op om te ywer vir die Naam van God

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2005-11-27
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 36
Reference: 
HK 36-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

HK Sondag 36

Ds HH van Alten - Sondag 27 November 2005

Lees: Num. 25, Mark. 14:53-65, HK Sondag 36
Sing: Sien liturgie

Tema: Die derde gebod roep ons op om te ywer vir die Naam van God
        1. Die straf oor die lastering
        2. Die sonde van die neutraliteit
        3. Die oproep tot ywer

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“… geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie.” Geen groter sonde nie – beteken dit dat ons hier ook met die grootste gebod te make het? In ‘n sekere sin, ja! Die wet van God kry as’t ware in hierdie gebod sy skerpste toespitsing, want in die derde gebod gaan dit nie oor sonde teen iets van God nie, soos sonde in die diens aan God (2e gebod), of sonde teen die dag van God (4e gebod) of sonde teen die skepsel van God (5e-10e gebod), maar in die derde gebod gaan dit oor sonde teen God self. Natuurlik is oortreding van die ander gebooie ook sonde teen God self, maar in die oortreding van die derde gebod tref ons God in sy hart, raak ons Hom diep persoonlik. Ons hoor soms mense sê: “Ek kan dit nog hanteer as hulle my woorde of my optrede kritiseer, maar wanneer hulle my karakter aanval, dan raak dit persoonlik.” Gemeente, by oortreding van die derde gebod raak dit persoonlik. Hoekom?

Wel, in die bybelse tyd was daar ‘n onverbreeklike band tussen die naam en die draer van daardie naam. Trouens, ook vandag nog is ‘n naam iets baie persoonliks. Ons hou nie altyd daarvan as ons naam verkeerd uitgespreek of geskryf word nie, want ons naam is wie ons is. Stel uself voor dat u ‘n nommer as identifikasie-kenmerk kry. Dit is hoe dit op Robbeneiland tydens die apartheidsjare gegaan het. Jy was nie ‘n persoon nie, jy was ‘n nommer. 46664 – die nommer van Nelson Mandela. Nou ken die wêreld hom as Nelson Mandela, ‘n naam wat met agting reg oor die wêreld uitgespreek word. Selfs sy gevangenis-nommer word vir allerhande goeie doele aangewend, maar destyds het hierdie nommer hom van sy persoonlikheid gestroop en hom letterlik ‘n nommer gemaak. Gemeente, aan ons naam hang ons waarde, ons persoon, ons individualiteit. En as dit by ons so is, ons wat ons eie naam so dikwels oneer aandoen, ons eie naam (in populêre taal) met ‘n plank slaan, hoeveel te meer by God wat altyd trou is aan sy Naam? Sy Naam vertel ons wie Hy is, sy Naam verkondig sy groot dade, sy Naam vertel van skepping en verlossing, sy Naam is liefde, genade, geregtigheid en vrede. Sy Naam, Hyself dus, is (in die woorde van artikel 1 van die NGB) “ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is” Dít, en nog baie meer, is wie God is! Dít, en nog baie meer, is wat ons sê wanneer ons God se Naam op die lippe neem.

Durf ons sy Naam dan nog te noem? Durf ons sy Naam dan nog optel? – dit is die letterlike betekenis van die woord wat in Exodus 20:7 in die derde gebod gebruik word. Teenoor optel staan laat lê. Miskien moet ons uit eerbied maar God se Naam laat lê? Dit is wat die Jode doen; hulle het die gewoonte om, in plaas van die Naam Jahwe, eerder ‘n ander, ‘n mindere Naam van God te noem, soos Adonai. Hulle rede hiervoor is dat hulle die Naam Jahwe nie kán uitspreek nie, en ook al kan hulle dit ook doen, mag hulle dit o.g.v. die derde gebod nie doen nie.
Maar gemeente, die Here gebied in die derde gebod nie dat ons sy Naam sal laat lê nie. Inteendeel, Hy het as Skepper Homself aan ons verbind, as gedoopte is u met God verbonde. Daarmee stel God ons in staat om sy Naam te noem: God, HERE, Almagtige, onse Vader. God wil dus graag hê dat ons sy Naam sal optel, sal gebruik. Meer nog, Hy beveel selfs die priester deur die seën van Numeri 6 om sy Naam op die kinders van Israel te lê. So ernstig is die Here daaroor dat ons sy Naam sal gebruik, dat Hy ons nie slegs toestaan om dit te gebruik nie, maar dat Hy sy Naam selfs op ons kom lê. Wanneer aan die einde van die diens daardie einste seën oor u en my uitgespreek word: “Die HERE sal jou seën en jou behoed, die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee”, weet dan dat die Here sy Naam op ons kom lê. Hy lê dit op ons sodat ons dit kan gebruik, sodat ons voortdurend sy groot dade kan gedenk, sodat sy lof altyd op ons lippe kan wees, sodat ons gebede, ons versugtinge, ons smekinge tot Hom kan opstyg. Gebruik daarom die Naam van die Here. Meer nog, ywer vir daardie Naam in ‘n wêreld waar die ydelike gebruik steeds meer toeneem, waar mense op ‘n roekelose en onbesonne en onnadenkende manier met die Naam van God omgaan. Op hierdie aspek wil ons let wanneer ek aan u die Woord van die Here verkondig.

Tema: Die derde gebod roep ons op om te ywer vir die Naam van God.
            1. Die straf oor die lastering
            2. Die sonde van die neutraliteit
            3. Die oproep tot ywer

1. Ons het in Numeri 25 gelees van die sonde van die volk Israel. As ons die omvang van daardie sonde wil besef, moet ons egter ‘n paar hoofstukke teruggaan. Israel het in die vlakte van Moab aangekom en daar laer opgeslaan. Nog nie lank gelede nie het hulle met Sihon, die koning van die Amoriete, en Og, die koning van Basan afgereken. Ons kan beter sê: die Here het hierdie konings met hulle volke in die hande van die Israeliete oorgegee. Dit is daarom begryplik dat Balak, die koning van Moab bang geword het, toe die Israeliete in sy geweste kom kamp opslaan het. Balak besef dat hy in die minderheid is, en dat hy nie met sy leër teen die volk Israel opgewasse is nie. Balak is egter nie van plan om sommer so handdoek in te gooi nie. Hy laat Bileam kom om die volk te vervloek. Maar in plaas daarvan dat Bileam vervloek, laat die Here hom slegs toe om die volk te seën. Pragtige dinge word deur Bileam oor die Here en sy volk gesê. Dit is duidelik uit Bileam se woorde dat die volk sterk en magtig is, dat ‘n pragtige toekoms vir hierdie volk wag, omdat die Here hulle God is, omdat Hy aan hulle verbonde is. “Die HERE sy God is met hom, en die gejubel tot eer van die Koning is by hom. God wat hulle uit Egipte uitgelei het, is vir hulle soos die horings van ‘n buffel (Num. 23:21-22). Selfs die koms van die Messias word deur Bileam geprofeteer: “… ‘n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver” (Num. 24:17)

Hoe sterk moes Israel nie gevoel het nie, daar waar hy laer opgeslaan het in die vlaktes van Moab! Die HERE veg vir hulle! Hulle is sy volk, sy Naam is oor hulle uitgeroep, hulle is aan die Almagtige God gekoppel. En toe… Toe gaan doen die volk die ondenkbare: hulle gaan koppel hulself aan ‘n ander naam! Deur te hoereer met die dogters van Moab en deur aan hulle offerfeeste en –maaltye deel te neem, het Israel hom gekoppel aan Baal-Peor (Num. 25:3). Die Naam van dié God, wat hulle uit Egipteland uitgelei het, hulle van Farao en sy manne bevry en hulle deur die Skelfsee laat trek het, hulle met brood en vleis uit die hemel gevoed, hulle dors met water uit ‘n rots geles het, hulle teen vyandige volke beskerm het…

Hoe dwaas kan ons mense soms wees, gemeente! Die hemele staan verstom oor ons domheid. Kyk hoe praat die Here daaroor deur die diens van sy profeet in Jeremia 2:10-12: “…gaan oor na die eilande van die Kittiërs, en kyk; en stuur na Kedar, en gee daar goed ag op; en kyk of so iets gebeur het: of ‘n nasie sy gode verruil – wat nie eers gode is nie. Maar my volk het sy heerlikheid verruil vir wat geen voordeel bring nie. Verbaas julle hieroor, o hemele, en huiwer, verstyf heeltemal van skrik, spreek die Here.” Die Here roep die hemele op tot verbasing en skrik oor die dwaasheid van die aarde. Met die grootste gemak koppel ons onsself los van die enigste werklike God om ons te koppel aan wat geen gode is nie. Selfs die heidene doen dit nie eers nie, en hulle gode is maar net ‘n stuk hout of klip… Gemeente, ons kan soms sonder om te blik of te bloos vergeet dat die Here sy Naam op ons gelê het, wanneer ons hierdie Naam onnadenkend gebruik, wanneer ons vloek of verbasteringe van God se Naam gebruik, wanneer ons die Here se Naam oneer aandoen deur wat ons sê en doen.

Die volk Israel het homself van die Naam van die Here losgekoppel, soos wat ‘n mens ‘n trein van ‘n lokomotief kan loskoppel, en homself aan ‘n ander naam gaan koppel. “…, en die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam” (Num. 25:3). Die Here was woedend, “…want (sê v/a 100 van die Kategismus) geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf”. Die Here bedoel dit – Hy is kwaad omdat niemand beter as Hy weet dat die ander name waaraan ons onsself so gewilliglik koppel, geen behoud, geen lewe, geen versorging, geen bewaring bring nie. En meer nog, die Here is in sy eer gekrenk wanneer sy Naam vertrap word. En daarom gee Hy in Numeri 25:4 aan Moses die opdrag: “Neem al die hoofde van die volk en hang hulle op in die volle son vir die HERE, sodat die toorngloed van die HERE van Israel afgewend kan word.” Hierdie sonde van die volk word letterlik met die dood gestraf.
Ons Here Jesus Christus het ondervind wat dit beteken dat God beveel het om die vertrapping, die lastering van sy Naam met die dood te straf. “Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het almal Hom veroordeel dat Hy die dood skuldig was” (Mark. 14:64). Ons Here Jesus het gehang in die volle son op Golgota, onder die beskuldiging van godslastering. Maar gemeente, “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:5) – genesing van elke vloek, elke lastering, elke woord en daad waardeur ons God se Naam ontheilig, genesing van elke keer wanneer ons ons mond oopgemaak het toe ons moes geswyg het, maar ook van elke keer dat ons geswyg het toe ons moes gespreek het – hierop gaan ons nou verder in in die tweede punt, wanneer ons let op die sonde van die neutraliteit.

2. Wanneer ons die geskiedenis van Israel se hoerery en afgodery en die Here se straf daaroor goed bekyk, is daar iets opvallends. Moses kry in Numeri 25:4 die opdrag van die Here om al die hoofde van die volk te neem en op te hang om op so ‘n manier die toorngloed van die Here van Israel af te wend. Dan lees ons vervolgens in vers 5: “Daarop het Moses aan die rigters in Israel gesê: Slaan elkeen sy manne dood wat hulle aan Baal-Peor gekoppel het.” Die opdrag is duidelik; swaar, maar duidelik. Maar van die uitvoering lees ons vervolgens geen woord nie. Dit wil voorkom asof nóg Moses nóg die rigters van die volk gesorg het vir uitvoering van die bevel van die Here. En tog word daarmee die straf van die Here oor die sonde van die volk nie ongedaan gemaak nie. Moses en die rigters was miskien nalatig in die uitvoering van die opdrag vand die Here, maar die Here self sorg daarvoor dat die volk gestraf word. Deur ‘n onbekende plaag onder die volk sterf daar op een dag 24000 Israeliete. Deur die besliste optrede van Pinehas word die grimmigheid van die Here teen die kinders van Israel afgewend. Daaroor meer in die laaste punt, maar eers terug na Moses en die rigters…

Dit wil voorkom asof daar by Moses en die rigters ‘n soort huiwering was om die bevel van die Here uit te voer. Miskien dat die aantal hulle afgeskrik het, miskien die feit dat daar geliefdes was wat doodgemaak moes word… Wat ook al die geval was, Moses en die rigters verkies om neutraal te bly. Aan die een kant keur hulle die sonde geensins goed nie, maar aan die ander kant – die opdrag van die Here om vir sy Naam op te kom, vind nie werklik gehoor nie. Gemeente, die Kategismus waarsku ons vir sodanige neutraliteit: “Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat, ons aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie.” Broers en susters, dat die ongelowige in sy onkunde die Naam van die Here laster is een ding, maar dat gelowiges, mense wat die goedheid van die Here ken, wat sy genade smaak, wat die rykdom van sy beloftes aan hulle lyf ervaar, dat hulle swyg, dit is ‘n totaal ander ding. Dan trap ons op die hart van die Here, Hy wat Hom aan ons verbind het deur sy Naam op ons te lê. Dit is vir die Here ondraaglik wanneer sy liefde en genade oor ons, ons nóg koud nóg warm maak. Die Here word diep seergemaak wanneer ons in ons hoekie kruip omdat ons nie bereid is om standpunt in te neem vir sy Naam nie.

Die vraag kan maklik in ons harte ontstaan: Ons die Naam van God ydellik gebruik? Nooit nie!
* Broer en suster, wat doen u met daardie boek, waarin die woorde “God”, “Christus” en “Jesus” as uitroepe gebruik word?
* Jongmense, wat doen julle as julle ‘n film kyk of in die bioskoop sit, en God se Naam op ‘n onnadenkende en plat manier gebruik word? Is dit maar die maklikste om neutraal te bly?
* Ouers, wat doen ons wanneer ons kinders nie meer toegelaat word om by die skool hulle godsdiens te beoefen nie, of wanneer die Naam van die enigste God met die name van alle ander gode in ‘n hoed gegooi word?
Gemeente, dit is so maklik om neutraal te wees, die hele wêreld om ons heen gee voor dat hulle neutraal is. Ons het kamtig ‘n neutrale pers, ‘n neutrale regering, neutrale skole… Allesbehalwe! Onder die vaandel van neutraliteit, van kleurloosheid, sypel die kleure van godsdiensgelykheid, ongeloof en verskillende ideologieë deur. Gemeente, laat ons onsself daarom nie bluf deur die skynbare neutraliteit van ons omgewing nie, maar laat ons bereid wees om kleur te beken, te bely aan watter kant ons staan, aan Wie ons gekoppel is. Ons is gekoppel, verbonde, aan die HERE van hemel en aarde. Neutraliteit hierin beteken dat jy jouself loskoppel van hierdie God, en daarmee jouself ook mede skuldig maak aan ander se sondes teen die Naam van God. Ons wil ten slotte let op die oproep tot ywer vir die Naam van die HERE.

3. Moses en die rigters verkies om nie op te tree nie. Die Here het sy toorn deur hierdie leiers van die volk gekanaliseer, maar wanneer hulle nie daaraan gehoor gee nie, dan is dit asof die Here sy toorn vrye teuels gee. 24000 dooies! En dan is dit nog asof sommige nie werklik daardeur geraak word nie. Skielik verskyn daar ‘n man met die naam Simri, uit die geslag van Simeon. En by hom ‘n Midianitiese vrou, met die naam Kosbi. Voor die oë van Moses en die hele vergadering van die kinders van Israel stap hulle verby, reguit na die tent waarin hulle dan verdwyn. Hiermee gee Simri te kenne dat Kosbi voortaan as sy vrou beskou moet word. ‘n Sterker verset teen die wet van die Here, ‘n groter minagting vir die Naam van God kan moeilik gegee word.

Dan staan Pinehas op – hy was die kleinseun van die priester Aaron. Hy kan nie meer slegs staan en kyk hoe die Naam en eer van die Here vertrap word nie. Gevolglik staan hy op uit die vergadering – so staan dit in vers 7 – om te ywer vir hierdie Naam. Gemeente, dit is soms die maklikste om in die vergadering te bly sit, om in neutraliteit en anonimiteit stil te bly, maar nie Pinehas nie. Hy staan op, neem ‘n spies in sy hand, en volg Simri en Kosbi die tent in, waarskynlik in daardie gedeelte waar vreemde manne nie toegelaat was om te kom nie. In sy heilige ywer deurboor Pinehas vir Simri en Kosbi met die spies. Met betrekking tot Kosbi word uitdruklik bygevoeg dat hy haar in die onderlyf gesteek het, wat beteken haar maag of geslagsdele. Dit dui waarskynlik daarop dat hierdie man en vrou besig was om gemeenskap te beoefen toe Pinehas daar ingekom het.

Op daardie oomblik van Pinehas se optrede het die plaag onder die kinders van Israel opgehou, is die Here se toorn afgewend. Nie slegs is dit sigbaar in die plaag wat ophou nie, maar die Here self sê dit: “Pinehas… het my grimmigheid van die kinders van Israel afgewend deurdat hy my ywer onder hulle geywer het…” Pinehas het as kind van God, as verteenwoordiger van sy Skepper, namens die Here opgetree. Hy het vir die Naam van God, dus vir God self, opgekom. Ons sien in die vervolg hoeveel waarde die Here aan hierdie optrede heg: “Kyk – sê die Here in vers 12 en 13 – Ek sluit met hom my vredeverbond, en dit sal vir hom en sy nageslag ná hom die verbond van ewige priesterskap wees, omdat Hy vir sy God geywer en versoening vir die kinders van Israel gedoen het.” Ewige priesterskap – ‘n priesterskap sonder einde, ‘n belofte wat in Christus werklikheid word, Hy wat deur sy hele lewe, maar veral aan die einde daarvan, geywer vir die Naam van sy Vader. Hy het opgekom vir sy eie Naam, toe die Hoëpriester vir Hom gevra het: “Is U die Christus, die Seun van die geseënde God?” En dan antwoord Christus: “Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.” Hierdie belydenis het Hom sy lewe gekos, sodat ons ‘n Vader mag hê, sodat ons ‘n God mag hê wat sy Naam op ons lê. So het Christus in navolging van Pinehas geywer vir die Naam van God.

Gemeente, die Here self ywer vir sy Naam, maar ons, sy kinder, het hier op aarde die opdrag, die taak, die roeping, om as verteenwoordigers van daardie Naam op te tree, om die Here se ywer vir Hom te ywer. En dit doen ons nie in die eerste plek deur met ons vinger voor mense se neuse te swaai en hulle te waarsku dat as hulle God se Naam ydellik gebruik, hulle gestraf sal word nie. Nee, dit gaan daaroor om “die heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied te gebruik nie, sodat Hy deur ons reg bely, aangeroep en in al ons woorde en werke geprys word.” Gemeente, die Here het sy Naam op U gelê. As u wil weet wat die Naam van die Here aandui, lees die bybel, ondersoek die Skrifte, leer van sy geweldige dade, sy liefde vir sy kinders – laat dit u bring om daardie Naam met die grootste eerbied te behandel. Laat u woorde en lewenswandel getuig van die hoogste respek vir die Naam van God. Werk daaraan, met val en opstaan, dat God steeds meer word in ons lewens. Laat ons verskyning, ons optrede in die samelewing ‘n openbaring wees van God se Naam. Laat mense in ons iets sien van wie God is – só kan daar van ons ‘n krag uitgaan waardeur ons ander tot ‘n seën kan wees.

Broers en susters, met die respek wat hierdie Naam by ons opwek, slegs dan kan ons God reg bely: “Ek glo in God die Vader, en in sy Seun Jesus Christus, en in die Heilige Gees.” Slegs dan kan ons God reg aanroep, en ons harte voor Hom uitstort, omdat ons weet dat in hierdie Naam troos, genesing, herstel en vergifnis is. Slegs dan kan God in al ons woorde en werke geprys word. Sy Naam verdien die lof van ons woorde wanneer ons sing van sy goedheid, wanneer ons getuig van sy almag en genade, en wanneer ons vertel wat Hy alles in ons lewens gedoen het. Sy Naam verdien die lof van ons lewenswandel, wanneer ons in eerbied sy gebooie navolg, wanneer ons uitreik na ons naaste, wanneer ons opkom vir Wie Hy is! Gemeente, gebruik die Naam van die Here – Hy wil hê dat ons sy Naam gebruik – om in daardie Naam alles te vind wat ons nodig het vir hierdie en die ewige lewe, en sodat God in ons lewens die lof kry.

Amen

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 113
Gebed
Kollekte
Sing Geloofsbelydenis
Lees: Numeri 25, Mark. 14:53-65
Sing Ps. 106:12, 13 en 20
Lees HK, Sondag 36
Preek
Antwoordlied Ps. 145:1, 2, 6, 7 en 12
Gebed
Slotsang Ps. 148:1, 3, 5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Liturgie: 

(kyk in preek)