Die geestelike gesindheid van die mense in Berea

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-01-22
Text: 
Handelinge 17:11-12
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Handelinge 17:11-12

Ds HH van Alten - Sondag 22 Januarie 2006

Lees: Hand. 17:1-14, 1 Kor. 2:12-16, Hand. 17:11-12
Sing: Sien liturgie

Tema: Die geestelike gesindheid van die mense in Beréa
        1. Hulle staan oop vir die woord
        2. Hulle ondersoek die Skrifte
        3. Hulle kom tot geloog in die Messias

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Hoor u, broers en susters, hoe u aangespreek word: gemeente van Jesus Christus. Dit is ‘n hoë posisie, ‘n posisie van eer. Dit is soortgelyk aan die posisie wat die volk Israel in die Ou Testament beklee het. Hulle was die volk van God, “nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke, maar omdat die Here julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het…” (Deut. 7:7-8). Volk van God deur God se genade! Gemeente van Christus deur sy bloed!

Hierdie posisie is egter nie vanselfsprekend nie, broers en susters. Dit is nie ‘n kwessie van “eenmaal gemeente van Christus, altyd gemeente van Christus” nie. Nee, ons lees in die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring dat verskeie gemeentes gewaarsku word om hulle te bekeer, terug te keer na die Here. Ook vir die gemeente in Efese geld hierdie oproep. En Christus waarsku hulle in Openbaring 2:5 dat as hulle aan hierdie oproep nie gehoor gee nie, Hy sal kom en hulle kandelaar van sy plek verwyder. Die kandelaar wys in hierdie konteks op die gemeente – dus, as Christus hierdie kandelaar verwyder, dan beteken dit dat die gemeente-wees daarmee tot ‘n einde kom. Dit is radikaal, broers en susters – die gedagte dat ons dalk êrens in die toekoms nie meer gemeente van Christus gaan wees nie; dat ons dalk nog ‘n klomp mense gaan wees wat bymekaar kom, maar dat Christus nie meer met ons is nie.
Moet dit ons paniekerig maak? Nee, dit is nie nodig nie, maar dit moet ons wel laat besef dat die hoë posisie wat ons beklee as gemeente van Christus groot verantwoordelikheid meebring – die verantwoordelikheid om God te bly ken, die verantwoordelikheid om vanuit sy Woord te kan onderskei tussen goed en kwaad, die verantwoordelikheid om aan ons kinders die bybel voor te lees en uit te lê. Broers en susters, dit wat ek hier noem is nie die verantwoordelikheid van enkeles uit die gemeente nie, nee, dit is ‘n gemeente-breë verantwoordelikheid.

Daar was ‘n tyd in die kerkgeskiedenis toe dit anders was, toe die geestelike elite van die Rooms-Katolieke Kerk bepaal het wat en hoe geglo moet word. Vir die eenvoudige kerklidmate was dit nie nodig om hulle met hierdie geestelike sake besig te hou nie. Nee, al wat hulle moes doen om ‘n lid van die kerk te kan wees, was om die apostoliese geloofsbelydenis op te sê. En as hulle dit nie kon doen nie, wel, dan kon hulle eenvoudig bely dat hulle glo wat die kerk glo. Totale onmondigheid!

Gelukkig dat, onder invloed van die Reformasie, die kerk weer haar mondigheid terug gekry het. Die gemeentes is weer onderrig in die Skrifte, is geleer om self die Skrifte te ondersoek. Die gemeentes het gegroei in onderskeidingsvermoë, het geleer om weerstand te bied teen allerlei dwaalleer.
Hierdie vrug van die Reformasie ervaar ons vir ‘n groot deel vandag nog in die gemeentes van ons eie kerkverband. Mense wat van ander kerke af kom, is dikwels verbaas om te sien hoe mondig die gemeentes is – hulle is gewoond aan ‘n kerk waar die predikant alles doen, waar die lidmate se kennisvlak minimaal is, en waar die onderskeidingsvermoë gevolglik ontbreek. Hoe voorkom ons, broers en susters, dat ons hierdie selfde paadjie loop, en indien ons alreeds op daardie pad is, hoe kom ons daaruit? Hoe voorkom ons dat hierdie gemeente maar volgelinge van ‘n predikant of kerkraad word, dat lidmate maar net glo wat die kerk glo, omdat die kerk dit glo? Hoe is ons werklik gemeente van Christus, ‘n gemeente wat haar Here ken, wat die dwaalleer kan weerlê, wat die gepredikte woord kan toets?

Tema: Die geestelike gesindheid van die mense in Berea
            1. Hulle staan oop vir die woord
            2. Hulle ondersoek die Skrifte
            3. Hulle kom tot geloof in die Messias

1. Paulus is besig met sy tweede sendingsreis. Hy het begin deur die gemeentes wat tydens sy eerste sendingsreis in Klein-Asië ontstaan het te besoek. Daarna, deur ‘n gesig in die nag, het die Gees Paulus en sy reisgeselskap na Macedonië gelei waar hulle ‘n tyd lank in die stad Filippi deurgebring het. Vandaar af het hulle deur Amfipolis en Apollonië na Thessalonika gereis. Die rede waarom Paulus nie in Amfipolis en Apollonië die evangelie verkondig het nie, is waarskynlik omdat daar in hierdie stede geen sinagoges van die Jode was nie – dit was immers Paulus se werkwyse om in elke stad eers na die sinagoge te gaan. En daarom was Thessalonika ‘n geskikte plek om te vertoef, want, sê Lukas uitdruklik in vers 1, hier was wel ‘n sinagoge van die Jode. Hierheen gaan Paulus dan ook, en hy spreek drie sabbatte lank met die Jode uit die Skrifte. In vers 4 lees ons hoe daar op Paulus se prediking gereageer word – sommige van die Jode het tot geloof gekom, asook ‘n groot menigte van die godsdienstige Grieke en ‘n groot aantal van die aansienlikste vroue.
En dit is op hierdie punt dat die ongelowige Jode in aksie kom, voorspelbaar soos hulle was. Hulle kom nie in aksie wanneer Paulus verkondig dat Jesus die vervulling van die Ou Testamentiese spreke oor die Messias is nie. Nee, eers wanneer hulle agterkom dat hulle besig is om hul eie lidmate te verloor, slaan die afguns toe; eers wanneer die getalle en daarmee hul eie aansien geraak word, borrel die jaloesie oor – duidelik verskil hulle nie baie van hulle leiers daar in Jerusalem nie; dié het immers net so opgetree. Die Jode sorg saam met die skuim van die stad dat daar ‘n oproer teen die apostels ontstaan, ‘n oproer wat egter heeltemal sy doel mis wanneer hulle Paulus en sy medewerkers nie in die hande kan kry nie. Hulle is in die tussentyd al deur die broers in die nag na Berea weggestuur.

‘n Mens sou reken dat Paulus teen dié tyd al keelvol is vir die Jode wat sy lewe versuur. Maar nee, Paulus het skaars sy voet in Berea gesit of hy gaan na die sinagoge van die Jode. En dan lees ons iets baie opvallends in vers 11: “… hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang…” So te sien ‘n pragtige getuienis van die mense daar in Berea. Maar wat beteken dit presies?
Die woord wat in ons vertaling met edelmoedig vertaal is, beteken letterlik “van adelike afkoms” of “van goeie geboorte”. Hierdie letterlike betekenis staan egter nie sentraal nie. Wat Lukas met hierdie woord wil aandui, is dat die mense van Berea beskaafde mense was; hulle het die boodskap wat Paulus gebring het miskien nie geken nie, of in elk geval nie goed geken nie, maar hulle keer hulle nie onmiddellik daarvan af nie, hulle staan oop om te luister. Daarin onderskei hulle hulself van die Jode met wie Paulus tot dusver te doen gekry het; daarin onderskei hulle hulself ook van die broeders in Thessalonika wat selfs so ver gaan as om met die uitwerpsels van die stad saam te span om ‘n oproer teen die apostels te begin. Nee, so is die mense in Berea nie – hulle staan oop om te luister.

Maar, broers en susters, die gesindheid van die mense van Berea is nie maar net ‘n beleefde houding sonder werklike belangstelling nie. Nee, hulle aanvanklike bereidheid om te luister kry verdere invulling wanneer Lukas deur die Gees vertel dat hulle die woord, dus die gepredikte evangelie, met welwillendheid ontvang het. Die woord wat in ons vertaling met “welwillendheid” vertaal is, kan selfs nog sterker vertaal word met iets soos “gretigheid” of “ywer”. Dít is dus die gesindheid wat homself openbaar by die mense daar in Berea – ‘n openheid, wat gepaard gaan met gretigheid en ywer, om hierdie onbekende boodskap te leer ken.
Gemeente, ons situasie is anders as dié van die mense in Berea. In mindere of meerdere mate ken ons die boodskap van die evangelie. Hoewel ons soms iets nuuts uit die Woord kan leer, is die kernboodskap, dit waaroor dit in wese gaan, nie vir ons onbekend nie. Maar dit beteken nie dat Berea se mense niks vir ons te sê het nie, dit beteken nie dat die Here nie hierdeur iets vir ons wil leer nie. Want wanneer mense wat die evangelie nog nie ken nie, so ‘n gesindheid openbaar, hoeveel te meer behoort ons nie so ‘n gesindheid te hê nie? Ons ken die evangelie, ons ken die rykdom van God se genade, ons weet wie Jesus Christus is – Verlosser, Saligmaker, ons smaak daagliks die voorreg om met hierdie Jesus verbonde te wees. Gemeente, dan kan dit tog nie anders as dat die gesindheid van die mense in Berea by ons nog sterker behoort te wees nie? Die vuur wat die Heilige Gees in ons ontsteek het, begin tog al sterker en groter brand hoe meer dit gevoed word met die brandstof van die evangelie?

Gemeente, ken ons daardie openheid wat die mense van Berea ten toon gestel het? Is ons begerig om die woord te hoor wanneer die ampsdraers, met alle gebreke en onwysheid, daardie woord bring tydens huisbesoeke? Luister ons met gretigheid wanneer die woord tydens die erediens verkondig word? Ondersoek ons met ywer die Skrifte om God beter te leer ken? Psalm 42 teken hierdie verlange, hierdie onuitputlike gretigheid, met so ‘n pragtige beeld. Ons lees in vers 2 en 3 van hierdie psalm: “Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! My siel dors na God, na die lewende God…” Let op gemeente, die verlange wat in hierdie Psalm geskets word, is nie die verlange na luukse dinge nie, iets wat aangenaam sal wees as dit moontlik is. Nee, hier word die verlange na essensiële dinge geskets, na iets waarsonder ‘n mens nie kan klaarkom nie, na iets waarsonder ‘n mens doodgaan. Ken u hierdie verlange, broer en suster? Of is ons begeerte na die Woord van God ‘n luukse?
Ons wil vervolgens daarop let dat die mense van Berea die Skrifte ook ondesoek het.

2. Beteken dit nou dat wanneer ons hierdie gretigheid het, ons nou ook alles vir soetkoek moet opeet? Dat ons soos hondjies met die tong uit die bek moet sit en wag dat ons baas ons iets moet gooi om te eet, en dit dan sonder om na te dink, wegsluk? Wanneer ons net die eerste gedeelte van Handelinge 17:11 lees, dan kan dit die indruk skep asof die mense van Berea so ‘n houding gehad het. Hulle lyk dan ‘n bietjie soos die Atheners waarvan ons net hierna in hoofstuk 17:21 lees dat hulle vir niks anders tyd gehad het as om iets nuuts te sê en te hoor nie.

Wanneer ons vers 11 egter verder lees, dan sien ons dat die mense van Berea se gretigheid en ywer gepaard gegaan het met ondersoek. Ons lees dat hulle elke dag die Skrifte ondersoek het of hierdie dinge, die dinge wat Paulus verkondig het, so was. “Die Skrifte” dui in hierdie konteks op daardie gedeelte van die Bybel wat ons vandag die Ou Testament noem. Vir die Jode was dít hulle bybel. En hierin het hulle gaan delf om te kyk of dit waar is wat Paulus verkondig het. En dit was vir hulle ook moontlik om Paulus se prediking na te gaan, want Paulus het nie met ‘n totaal nuwe boodskap gekom nie. Nee, kyk maar in verse 2 en 3 hoe Paulus in die sinagoge in Thessalonika te werk gegaan het. Paulus volg in sy uitleg van die Skrifte, dus die Ou Testament, twee stappe:
1. In die eerste plek wys Paulus wat die mense van Berea op grond van die Skrifte, die Skrifte waarin hulle self geglo het, van die Messias kon verwag, naamlik dat Hy moes ly en dat Hy daarna uit die dode moes opstaan. Dus, afgesien nog van die vraag wie die Messias is, en of Hy al gekom het – dit is wat die Skrifte in elk geval oor Hom geleer het. Paulus het moontlik verwys na Skrifgedeeltes soos Psalm 2, Psalm 16, Psalm 110 en Jesaja 53 om sy argumente te staaf.
2. In die tweede plek wys Paulus dan dat alles wat die Skrifte van die Messias sê, in die persoon van Jesus vervul is. En daarom Paulus se konklusie in vers 3: “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.”

Gemeente, ons kan aanneem dat dit in die sinagoge in Berea op dié manier daaraan toegegaan het. En dit is dan ook wat die mense van Berea ondersoek het. Baie sorgvuldig het hulle die bewyse gesif. En ons moet hierin nie ‘n uiting van twyfel of kritiek sien op die evangelie wat deur Paulus verkondig is nie. Nee, hulle kies hier die regte weg, naamlik om die nuwe prediking aan die Skrifte te toets. So onderwerp hulle hulself by voorbaat nie aan een of ander nuwe leer nie, maar aan die oordeel van die Skrifte. Celsus, ‘n bestryder van die christendom uit die tweede eeu, het die christelike geloof as iets vir slawe, vroue en kinders beskou, want dit was mense wat in sy oë nie tot selfstandige nadenke en beslissings opgelei was nie. Die Here wys egter dat hier mense was, vroue sowel as manne (die vroue word in vers 12 nog eerste genoem ook), wat selfstandig Paulus se prediking ondersoek en beoordeel het

Broers en susters, gretigheid, verlange om die Woord te hoor en in te drink, hoef nog nie naief te wees nie. Die Here leer ons hier in Handelinge 17 om die regte gesindheid te kombineer met die regte toetsing; dus, om dit wat ons hoor in die prediking en dit wat ons lees in boeke en ander geskrifte in te neem, in te drink, maar altyd deur die sif van die Woord self. Ontvang daarom die prediking begerig, maar meet dit altyd aan die Woord van God; ontvang die ampsdraers gretig, maar toets altyd hulle woorde; bestudeer ywerig met mekaar die Skrifte, maar altyd so dat elkeen bereid is om hom te buig onder hierdie enigste maatstaf.

Broers en susters, moenie ophou om die Woord van die Here te ondersoek nie, want dit is woorde van heil, woorde wat strek tot ons verlossing. In die gelykenis van die ryk man en die arme Lasarus in Lukas 16 benadruk die Here Jesus self hoe lewensbelangrik hierdie woorde is. Wanneer die ryk man na sy dood in die doderyk tereg kom, smeek hy vir vader Abraham om iemand na sy broers op aarde te stuur om hulle te waarsku, sodat hulle nie ook in die plek van pyniging teregkom nie. En Abraham se antwoord? - “Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.” Die ryk man is egter nie tevrede nie: “Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.” En dan antwoord Abraham: “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”

Tekens en wonders, opwekkings uit die dood – nee, broers en susters, dit werk geen geloof nie. Hierdie boek, God se liefdesbrief aan ons – ja, daardeur wil die Gees in ons werk. Daardeur weet ons wat God ons uit genade geskenk het – nuwe lewe, vergifnis van sonde, uitsig op ‘n nuwe hemel en aarde, verlange na die wederkoms van Jesus Christus. So word ons geestelike mense, soos wat Paulus daaroor praat in 1 Korinthiërs 2. Die natuurlike mens mis geestelike onderskeidingsvermoë, vir hom is die werk van God dwaasheid, hy kan dit nie eens verstaan nie. Maar die geestelike mens daarenteen, is die mens wat alle dinge kan beoordeel, nie deur iets in homself nie, maar deur die Gees van God wat in hom woon. Só gemeente, met die Gees wat ons verstand rig, kan ons die Skrif na sy egte waarde ondersoek; kan ons die dinge waarmee ons in ons lewens gekonfronteer word, beoordeel op grond van die Skrif; kan ons rigting hou op ons lewensweg.
Ten slotte wil ons nog daarop let dat hulle ook tot geloof in die Messias gekom het.

3. Van die Jode in Thessalonika lees ons dat slegs sommige oortuig is. Daar was wel ‘n groot menigte van die godsdienstige Grieke en ‘n groot aantal van die aansienlikste vroue, maar van die Jode slegs sommige. Van die Jode in Berea lees ons egter dat baie van hulle gelowig geword het.
Die manier waarop dit daar staan in vers 12 wys dat dit die gevolg was van hulle gretige luisterhouding en hulle ondersoek van die Skrifte: “Baie van hulle het dan ook gelowig geword…” God seën hierdie oop gesindheid teenoor en ywerige toetsing van die woord wat deur Paulus verkondig is. So ontstaan in Berea ‘n christelike gemeente! ‘n Gemeente wat nie eksklusief bestaan uit Jode nie, maar ook uit heidene, want ook van die aansienlike Griekse vroue en manne het gelowige geword.
Wanneer die Jode uit Thessalonika hoor dat Paulus die woord in Berea verkondig het en dat daar heelwat mense tot geloof gekom het, begin hulle ook in hierdie stad ‘n oproer. Weereens moet Paulus vertrek, maar hy laat die gemeente nie alleen nie. Silas en Timothëus bly agter om die jong gemeente te ondersteun.

Broers en susters, weereens is ons situasie anders as dié van die pas ontstane gemeente in Berea. Maar ook op hierdie punt is die broers en susters daar vir ons tot ‘n voorbeeld gegee. Ons het dikwels soveel moeite om te glo, ons geloof raak so gou vasgeroes in die groewe van gewoonte en sleur, ons sukkel so baie keer om te sien wat die pad is wat die Here met ons loop. Hierdie susters en broers van ons in Berea het eenvoudig die Skrifte gaan ondersoek, gaan beoordeel of dit so was soos wat Paulus verkondig het. En hulle het tot geloof in die Messias gekom.
Nee, ons almal weet dat dit nie altyd eenvoudig is nie. Niemand sê dat dit eenvoudig is om die Skrif te ondersoek nie, niemand sê dat die Skrif klinkklare antwoorde op alle sake bied nie. Maar moet dan ook nie die middele wat God gee, verontagsaam nie – die prediking, bybelstudies, huisgodsdiens, die ampsdraers. Gebruik hierdie middele, laat ons mekaar ook help in ons ondersoek van die Skrifte. Want die Skrif self getuig dat daarin die woorde van lewe is. Vanaf die allereerste begin: “Laat daar lig wees” tot op die laaste bladsy: “Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal” is dit een lang verhaal van God se soeke na die mens, sy beloftes van verlossing, sy reddende genade, sy straffende liefde en sy magtige redding. Gemeente, ondersoek dit noukeurig, weeg elke woord, proe elke liefdesuiting, ervaar elke genadedaad. Die Here sal die wat Hom soek nie afwys nie. En gemeente, sy Woord is waar ons Hom moet soek, sy Woord is waar ons Hom sal vind. Laat ons luister na die Here se Woord met oop ore en ‘n oop hart, dus met ‘n gretige gesindheid; laat ons hierdie gretigheid kombineer met ‘n ondersoekende gees. Dan wil die Gees, nie my gees nie, maar die Heilige Gees my lei om alle dinge te beoordeel. En dan kom daar geloof en geloofsgroei in die Messias – oor Hom gaan dit ten slotte!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 108:1 en 3
Wetslesing, en daarna Matt. 22:37-40. Liefde is dus die vervulling van God se wet. Laat ons hiervan sing uit SB. 21:4-6
Sing SB. 21:4-6
Gebed
Lees: Handelinge 17:1-14, 1 Korinthiërs 2:12-16
Sing SB. 43:3 en 4
Teks: Handelinge 17:11-12
Preek
Amenlied Ps. 42:1
Gebed
Kollekte
Slotsang SB. 43:2 en 5
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Liturgie: 

(kyk in preek)