Paulus se konfrontasie met die verhoogde Christus

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-01-15
Text: 
Handelinge 9:3-6
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Handelinge 9:3-6

Ds HH van Alten - Sondag 15 Januarie 2006

Lees: Hand. 9:1-31, Fil. 3:1-12, 1 Tim. 1:12-17
Sing: Sien liturgie

Tema: Paulus se konfrontasie met die verhoogde Christus
        1. Paulus se vernedering
        2. Jesus se genade
        3. Die gemeente se aanvaarding

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Het u in u verhouding met die Here al ‘n Damaskus-ervaring gehad? ‘n Damaskus-ervaring? Ja, ‘n ervaring soos wat Saulus (oftewel Paulus) dit op die weg na Damaskus gehad het. Elkeen van ons moet na Damaskus gaan; dus, ons moet almal op ons lewenspad ‘n ervaring hê soos wat Paulus op die pad na Damaskus gehad het. Miskien is u al oppad na Damaskus, maar is u net nog nie bewus daarvan nie. In ‘n internetartikel oor die Damaskus-ervaring word die volgende omstandighede genoem as aanduiders dat u moontlik al oppad is na Damaskus:
1. as jy ongekende sukses beleef, maar dit geen vreugde bring nie,
2. as jy alleen en bang voel, maar op ‘n vreemde manier tog ‘iets’ verwag,
3. as jou lewensomstandighede dramaties verander het,
4. as jy ervaar dat dinge soms skeefloop en jy nie in staat is om dit te keer nie,
5. as jy ‘n verlies aan energie of onverklaarbare depressie ervaar.
As jy een of meerdere van hierdie omstandighede herken, is jy miskien al op reis na Damaskus. En dit is ‘n lewens-veranderende geestelike ervaring. Moet dit nie keer nie, maar laat God toe om sy buitengewone kragte tot jou geestelike verdieping en persoonlike groei te werk. So kan ook jy die transformasie van Saulus na Paulus beleef!

Gemeente, dít is die manier hoe daar in verskillende kerke en groepe oor bekering gepraat word. Bekering is die een of ander reis van spirituele verdieping. Dit is persoonlike groei en transformasie. En bo alles – dit is ‘n ervaring! Het jy al jou Damaskus-ervaring gehad?
Ons voel dikwels effens ongemaklik met so ‘n manier van praat en dink oor bekering. Ons voel in die eerste plek ongemaklik oor die manier waarop die Skrif hier gebruik word, want een persoon, Paulus, se “bekeringsgekiedenis” kan tog nie die model word vir hoe bekering behoort plaas te vind nie? Ons voel verder ongemaklik met die oormatige klem op die sielkundige – ons hoor van ‘geestelike verdieping’, ‘persoonlike groei’ en ‘transformasie’. En dan is daar by ons ook nog ongemaklikheid met die oormatige konsentrasie op die bekeerde mens – hy moet op hierdie reis gaan, sy moet dit ervaar, ek moet dit deurmaak.

Genoeg redes om te sê: “Geen Damaskus-ervarings vir ons nie!” Maar, gemeente, kom ons nog wel daartoe om met mekaar oor bekering te praat? Ons kan wel die Damaskus-ervaring in Damaskus agterlaat, maar die saak waaroor dit in die Damaskus-ervaring gaan – bekering – kom dit nog enigsins ter sprake? Is dit vir lidmate van die Vrye Gereformeerdes Kerke wel nodig om bekeer te word? Of is ons in ons kerklik en persoonlike lewe heeltemal tevrede met hoe dit gaan? Bekering het ons in kringe dikwels ‘n charismatiese klank gekry met radikale bekeringsgeskiedenisse en –getuienisse. Maar, gemeente, het ons nog die vermoë om die bybelse spreke oor bekering te kan herken en erken?

Ons let vandag, in ons derde preek uit die boek Handelinge, op
Paulus se konfrontasie met die verhoogde Christus.
    Ons wil agtereenvolgens kyk na
        1. Paulus se vernedering
        2. Jesus se genade
        3. Die gemeente se aanvaarding

1. Verlede week het ons vanuit Handelinge 5 die weerstand van die Joodse Raad teen die apostels gesien. Met brute mag het hulle probeer om die apostels die swye op te lê. Dit was danksy die optrede van Gamaliël dat die afguns van die Joodse Raad nog nie tot ‘n uitbarsting gekom het nie. In Handelinge 7, ná Stefanus se lang toespraak voor die Joodse Raad, was daar egter geen keer meer aan die toenemende weerstand nie. Die woede van die leiers van die volk het tot rypheid gekom en in volle krag uitgebars. Ons lees in Handelinge 7 vanaf vers 57: “Maar hulle het met ‘n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom [dit is Stefanus] aangestorm. En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van ‘n jongman met die naam van Saulus.”

“… ‘n jongman met die naam van Saulus” – ‘n onopvallende bekendstelling van een van die hooffigure in die boek Handelinge. Hy word hier deur Lukas terloops genoem, so half ‘n byfiguur. Enkele verse later, in 8:1, kom ons hom egter weer teë. Daar lees ons: “En Saulus het ook sy vermoording goedgekeur” – hierdie woorde sê al iets meer; dit gee iets weer van Saulus se innerlike betrokkenheid by die vermoording van Stefanus. En dan in 8:3 sien ons hoe hierdie Saulus die voortou neem in die klopjag op die christelike gemeente. Ons lees in hierdie vers: “Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.” Van klere-oppasser tot groot christen-vervolger! Paulus is fanaties in sy vervolging van die christene. Op sistematiese wyse gaan hy die huise binne waar die gemeente vergader het; hy sleep manne sowel as vroue uit en gooi hulle op gewelddadige wyse in die tronk. In hoofstuk 9:1 en 2 gaan Lukas verder om ‘n beskrywing van hierdie Saulus te gee: “Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.” Nadat die aanvanklike vervolgingsdrif by die meeste dus afgekoel het, gaan Paulus voort. Die haat vir die christene, daardie lasteraars van God en die wet, vervul hom heeltemal. Wanneer hy meen dat sy taak in Jerusalem afgehandel het, rig hy sy blik breër, na dié gebiede waarheen baie christene waarskynlik tydens die vervolging gevlug het (8:1). In Handelinge 26 vertel Paulus: “… in al die sinagoges het ek hulle [die christene] dikwels gestraf en gedwing om te laster; en ek het uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg, selfs tot in die buitelandse stede.” Dus ná Jerusalem is die omringende sinagoges sy teiken, en wanneer hy daar genoeg skade aangerig het, sit hy sy vervolging voort tot selfs buite die grense van Palestina.

Die fanatisme wat uit hierdie optrede van Saulus spreek, was nie iets wat skielik net opgekom het nie. Nee, hierdie leerling van Gamaliël het hom in sy studentejare al onderskei van sy mede-leerlinge deur sy ywer en toewyding in sy diens aan die God van Israel. Paulus sê dit self in Galasiërs 1:14: “ek het in die Jodendom vooruitgegaan bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral ‘n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders.” Hy het bo sy mede-studente uitgestyg en was bestem om eendag die top te bereik. Alles het immers vir hom getel, sy getuigskrif was vol daarvan: “… besny op die agste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid van die wet betref, onberispelik” (Fil. 3:5-6). En die leiers van die volk het dit ook raakgesien; hulle het hom immers gesteun, soos blyk uit die briewe wat hy skynbaar sonder moeite by die hoëpriester verkry het. Wat ‘n toekoms vir die jongman Saulus. Hy was bestem om binne die afsienbare toekoms ‘n hoë posisie in Israel te bekom. Niks het in sy pad gestaan om ‘n groot naam onder sy volksgenote te verkry nie. Altans, so het dit gelyk…

Want dan, terwyl Paulus nog dreiging en moord geblaas het, staan skielik die verhoogde Christus voor hom op die pad na Damaskus. In een oomblik, deur ‘n bliksem uit die hemel, word sy mag gebreek. Paulus, die persoon wat die mag en die posisie gehad het om die christene te vervolg, lê magteloos op die grond: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” In hierdie vraag kom tot uitdrukking waarmee Paulus eintlik besig was. Sy stryd teen die christene was in wese ‘n stryd teen Christus self, soos Christus in Lukas 10:16 sê: “Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het”. En dan is die magsverhouding skielik anders – dit is nie meer die gevolgmatigde Paulus teenoor die magtelose en vlugtende christene nie, maar dit is die mens Paulus teenoor die verhoogde Christus, Seun van God, God self! Christus kom plaas Homself tussen aan die eenkant Paulus, oppad na Damaskus, EN aan die ander kant die gelowiges, wat uit vrees in Damaskus skuiling probeer vind het. En Hy sê as’t ware vir Paulus: “Los my kinders uit; hier is Ek, kom, vat My aan” – maar teen hierdie Christus is Paulus nie opgewasse nie. Die vervolger van Jesus lê magteloos as beskuldigde voor sy aanklaer op die grond, alle bravade het verdwyn, alle selfvertroue is verpletter, alle haat en woede is vertrap in die konfrontasie met die lewende en verhoogde Jesus Christus!

Gemeente, vir ware bekering om plaas te vind, is hierdie konfrontasie en die gevolglike vernedering onontbeerlik. En dit geld vir die aanvanklik bekering by mense wat die Here Jesus nie geken het nie, maar dit geld ook vir die daaglikse bekering van elke gelowige, van u en van my. Dit is onontbeerlik dat ons met die verhoogde Christus gekonfronteer word, oog in oog staan, sodat ons elke keer weer besef wie en wat ons is in die verblindende lig van hierdie Here. Op daardie oomblik van konfrontasie word ons gestroop van elke greintjie eiewaan, selfvertroue, hoogmoed. Elke keer wanneer ons deur die prediking, deur die Woord van die Here, voor Jesus Christus gestel word (en gemeente, dit gebeur nou, dit gebeur elke sondag, elke keer wanneer u die Woord hoor of lees), dan word ons verneder, klein gemaak tot ons eintlike posisie voor God – sondaar en daarom tot die dood toe skuldig! Christus bring ons, in ons konfrontasie met Homself, in hierdie posisie van vernedering, nie om ons te verkleineer nie, maar om ons ons kleinheid voor Hom aan te toon. En dan kom daar ruimte vir sy genade. Op hierdie genade let ons nou vervolgens.

2. Paulus is nog nie heeltemal duidelik met Wie hy te doen het nie. Dit blyk uit sy vraag in vers 5: “Wie is U, Here?”
“Ek is Jesus wat jy vervolg…”. Jesus, die naam waarmee Hy op aarde genoem is. Onmiddellik moes Paulus geweet het met Wie hy te doen het. En watter skok moes dit nie gewees het nie. “Jesus! Maar… ons het Hom dan aan ‘n kruishout gehang, ons het Hom doodgemaak, uit die weg geruim. Ons het dan nog sy graf laat bewaak… En nou praat Hy met my vanuit ‘n goddelike lig! Die verhaal wat ons versprei het, naamlik dat sy dissipels in die nag sy liggaam kom steel het, is nie waar nie. Hy het waarlik uit die dood opgestaan! En Stefanus het die waarheid vertel toe hy getuig het dat Hy Jesus, die Seun van die mens, aan die regterhand van God sien staan het (Hand. 7:56). En Gamaliël was reg toe hy gesê het dat ons die apostels moet laat staan, want as hierdie beweging ‘n goddelike oorsprong het, dan kan ons dit nie keer nie (Hand. 5:38-39). Hierdie beweging het ‘n goddelike oorsprong, want Jesus, die gekruisigde, leef!”

Gemeente, ons kan onsself indink watter ontnugtering dit vir Paulus moes gewees het. Hoe diep deurdronge was hy nie van die besef van die taak wat hy gehad het om uit te voer nie, naamlik om hierdie ‘sekte’ uit te wis. Hoe oortuig was hy nie daarvan dat hierdie christene lasteraars van God en die wet was nie. Uit die hele beskrywing van Lukas in hierdie eerste verse van hoofstuk 9 sien ons die duisternis waarin Paulus verkeer het – hy blaas dreiging en moord (vers 1), hy vra briewe van die hoëpriester om die christene te kan arresteer (vers 2), en Jesus noem hom sy vervolger (vers 4). Maar skielik, in ‘n oogwink, word sy duisternis deurdring met ‘n lig vanuit die hemel. Jesus self kom omstraal Paulus met goddelike lig. Jesus, die Naam wat enersyds skok en ontnugtering bring, wat die selfversekerde Paulus tot die grond toe verneder, maar andersyds die Naam met die betekenis “Verlosser”, omdat – so bely ons in antwoord 29 van die Kategismus – Hy ons van al ons sondes verlos en by niemand anders enige saligheid te soek of te vind is nie.
Gemeente, sien hier die kontras wat Jesus aan Paulus voorhou: “Jy, Paulus, is besig om in die diepe duisternis van onwetendheid en ongeloof die lewende Verlosser te vervolg! Jy dink dat die christene godslasteraars is, maar jy is self die lasteraar, ‘n vervolger, ‘n geweldenaar (1 Tim. 1:13). Maar Ek wil ook vir jou ‘Jesus’, Verlosser, wees!” En broers en susters, Paulus het begin verstaan, miskien nog nie alles nie, maar die vernedering voor die verhoogde Christus het ruimte gemaak vir die genade om in Paulus se lewe deur te dring. Hy getuig jare later daarvan in 1 Tim. 1:15: “Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.” Die konfrontasie met die verhoogde Christus het Paulus leeggemaak van enige weerstand. En daarom kan hy nou met bewing vra: “Here, wat wil U hê moet ek doen?”

Gemeente, wanneer Jesus ons voor Hom verneder, dan doen Hy dit sodat ons gestroop word van enige selfversekerdheid en eiewaan, dan doen Hy dit sodat daar ruimte kom vir sy genade. Wanneer u hier in die erediens, deur die verkondiging van die Woord, deur die lees van die wet met Jesus gekonfronteer word, wanneer u in u lewe deur allerlei omstandighede gekonfronteer word met u eie kleinheid en nietigheid, dan is dit sodat die genade van Jesus Christus u lewe in beslag kan neem. Dan is dit sodat ons bekeer kan word. Bekering, dit is om weggedraai te word van die doodlooppad waarop ons onsself bevind, en om gedraai te word na die lig. Die Kategismus praat in Sondag 33 daarvan as die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens. Die goddelike lig van ons Here Jesus se heerlikheid breek die ou mens af, verneder die hoogmoedige sondaar tot die grond toe, gee ons ‘n hartlike berou oor die sondes waarmee ons God vertoorn het, maar dieselfde lig laat ook die nuwe mens opstaan, die nuwe mens wat opreg bly is in God deur Jesus Christus, die nuwe mens wat ‘n lus en liefde het om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe.

En gemeente, dan raak ons ou lewe onbelangrik, dan verdwyn dit wat voorheen vir ons saak gemaak het, in die niet. Kyk maar na Paulus. Hy wys in Filippense 3 dat as daar iemand rede het om in die vlees te roem, is dit hy. En dan lees hy sy getuigskrif voor: “… besny op die agste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid van die wet betref, onberispelik.” “MAAR – gaan hy verder – wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry…” Dit wat vir Paulus belangrik was in sy lewe, dit wat hom ge-“boost” het en selfvertroue gegee het, dit waarvoor hy gegaan het, verdwyn wanneer hy Jesus leer ken, sy Verlosser, sy Here. Die konfrontasie met die lewende Jesus stroop Paulus van alles wat voorheen vir hom belangrik was, hy gee dit prys, hy beskou dit as drek, ontlasting.

3. Paulus se vraag: “Here, wat wil U hê moet ek doen?” word deur die Here Jesus beantwoord: “Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.” Dit is makliker gesê as gedaan, want Paulus is tydelik blind, hy kan niemand sien nie. Sy mede-reisigers moet hom help om in Damaskus te kom. Die vuurvreter Paulus, wat oppad was om die christene in Damaskus te arresteer, kom blind en hulpeloos daardie einste stad binne.

Wat is die doel daarvan dat Jesus eers vir Paulus na Damaskus stuur? Hier wou hy immers slegs kwaad doen. Kon Jesus hom nie direk aan die werk laat spring het nie – dit was immers die plan wat die Here met Paulus gehad het. Ons lees in verse 15 en 16: “… hy is vir my ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly.” Paulus – die grootste sendeling van alle tye, altyd aan die rondtrek, nooit lank op een plek nie – waarom moes hy dan nou eers die stad ingaan? Dit is egter Christus se opdrag, en daaraan gehoorsaam Paulus. Daar in Damaskus sit hy drie dae lank sonder om te eet of te drink.
Uiteindelik is dit Ananias, ‘n broeder uit die gemeente daar in Damaskus, wat Paulus op bevel van die Here kom opsoek. Dit moes vir Ananias nie maklik gewees het om na Paulus te gaan nie. Hy verwoord sy moeite ook in verse 13 en 14: “Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het; en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u Naam aanroep.” Vrees en weerstand jeens hierdie christenvervolger kom na vore in die woorde van Ananias. Maar tog gaan hy…

En, gemeente, dit is geweldig belangrik wat Ananias hier doen. Ananias is die instrument in God se hand om Paulus in die christelike gemeente in te lei. Paulus se lewe is deur Jesus omgekeer, bekeer, en daarom staan hy nou in dieselfde posisie as dié mense wat hy nog nie lank gelede nie vervolg en gearresteer het. Paulus is nou ook een van dié wat die Naam van die Here aanroep, Paulus is nou ook van die Weg, soos ons daarvan lees in vers 2. En daarom kan hy nie op sy eie bly staan nie. Nee, hy mag nou deel word van die kring van verlostes, van die gemeente van die Here. En daarom dat Ananias, wat sopas nog heftig weerstand gebied het toe die Here hom na Paulus gestuur het, daardie selfde Ananias spreek Paulus nou aan as “broeder”: “Saul, broeder, die Here het my gestuur…” En wanneer Ananias hom die hande oplê, dan kan Paulus weer sien, en word hy vervul met die Heilige Gees en daarna gedoop – waardeur hy formeel in die gemeente ingelyf word. Paulus sou tydens sy jare as verkondiger van die evangelie aan die heidene selde lank in ‘n gemeente bly, maar dit was vanaf die allereerste begin noodsaaklik om duidelik te maak dat hy nou deel was van die wêreldwye kerk van Christus.

In die vervolg lees ons dan wat dit inhou om deel van die gemeente te wees. Ons lees in vers 19: “En Saulus was ‘n paar dae saam met die dissipels in Damaskus – ja, dit was nie slegs Ananias nie, daar was meerdere gelowiges, dissipels, daar was ‘n gemeente. En onder hulle verkeer Paulus. Dit is ook hulle wat hom beskerm wanneer die beplande aanslag op sy lewe bekend word. En wanneer hy dan na Jerusalem vlug, word hy ook daar, nadat die vrees vir hom oorwin is, in die kring van gelowiges opgeneem word. En dan lees ons in vers 28 dat hy saam met die gelowiges daar in- en uitgegaan het. Ook in Jerusalem word hy deur die gelowiges beskerm teen die aanslag wat op sy lewe beplan word.

En dáárom is dit so geweldig belangrik wat daar staan in vers 6b van ons teks: “Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.” In hierdie woorde van die Here Jesus lê Paulus se aanvaarding in die kring van gelowiges opgesluit. Só word Paulus deel van die kerk van Christus, word hy ‘n deelgenoot in die verlossing, word hy aanvaar as ‘n broeder van almal wat deur Christus bekeer is. So behóórt dit ook te wees, broeders en susters. Ware bekering vind altyd uiting in lidmaatskap van die kerk. Ek is nooit ‘n bekeerde op my eie nie, ons vorm nie elkeen ons eie eenmansgemeente nie. Nee, ek het as bekeerde die gemeenskap van die geloof so dringend nodig. Want dit is hier, in die midde van die gemeente, waar ons telkens maar weer gekonfronteer word met die verhoogde Christus, dit is hier waar Christus onder sy bekeerdes wil woon, dit is hier waar ons mekaar as bekeerdes kan aanspoor tot daaglikse bekering. En dit is wat ons ook saambind hier in die gemeente, naamlik dat ons mekaar kan herken as bekeerdes, mense wat deur Jesus Christus gegryp is (Fil. 3:12). Daarom dat ons mekaar in die gemeente ook nooit takseer op ons verlede, op wie ons was nie, maar altyd op wie ons is in Christus Jesus. En dan leer ons om die Here te loof vir sy wonderdade van geloof en bekering. Hoe mooi is dit om ons as gemeente, in gebed en gehoorsaamheid, te rig op hierdie Christus, saam, verenig in die lof van 1 Tim. 3:17: “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid.”
Gemeente, ons het geen Damaskus-ervaring nodig nie. Maar ons het wel bekering nodig, omkeer, terugkeer na die Here en sy Woord. Ons het nodig om deur Jesus Christus gegryp te word. En dan is dit nie altyd so ‘n heftige gebeurtenis soos by Paulus nie, maar wel ‘n gebeurtenis wat in sy krag nie minder of geringer is as die skepping of die opwekking van die dooies nie – so bely ons in die Dordtse Leerreëls (DL 3/4:12). Dis ‘n wonder wat die Here werk, die wonder van bekering, elke dag. Laat ons as gemeente saam God nou vir hierdie wonder bid.

Amen

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 43:3-5
Gebed
Lees: Handelinge 9:1-31 Fil. 3:1-12 1 Tim. 1:12-17
Sing Ps. 63:1, 2, 4 en 6
Teks: Handelinge 9:3-6
Preek
Gebed
Amenlied Ps. 22:11 en 12, waar ons die lof van God sing saam met almal wat sy Naam bely.
Geloofsbelydenis
Ps. 9:1, 7 en 10
Kollekte
Slotsang Ps. 147:1-4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Liturgie: 

(kyk in preek)