Gehoorsaamheid in die eerste gemeente

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-01-08
Text: 
Handelinge 5:29-32
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Handelinge 5:29-32

Ds HH van Alten - Sondag 8 Januarie 2006

Lees: Hand. 5:12-42, NGB Art. 29, Hand. 5:29-32
Sing: Sien liturgie

Tema: Gehoorsaamheid in die eerste gemeente
        1. Gehoorsaamheid aan die goddelike opdrag
        2. Die gesag van die menslike getuies
        3. Die onstuitbaarheid van die evangelie

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Verlede week het ons vanuit Handelinge 1 gekyk na die vurige gebed van die eerste gemeente. Die Here het ons die krag en rykdom van die biddende gemeente leer sien. Vandag wil ons fokus op enkele verse uit Handelinge 5.
Dit maak die tussenliggende hoofstukke egter nie onbelangrik nie. Inteendeel! Veral Handelinge 2, die uitstorting van die Heilige Gees op die pinksterfees, is van deurslaggewende betekenis vir die res van die boek Handelinge. Die Heilige Gees is immers die Een wat die apostels die krag sou gee om Christus se getuies in Jerusalem, Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde te wees. As Petrus nie die Heilige Gees ontvang het nie, sou sy toespraak op die pinksterfees, sy toespraak in die tempel in hoofstuk 3, sy verdediging voor die Joodse Raad in hoofstuk 4, en ook sy woorde in ons teks in hoofstuk 5 nie moontlik gewees het nie. As die eerste gemeente nie die Gees ontvang het nie, sou sy nie kon volhard in die leer van die apostels, en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede nie (2:42). As die eerste gelowiges nie die Gees ontvang het nie, sou hulle nie vrywillig hulle besittings verkoop het om dit met almal te deel nie (4:32).
Dit is slegs deur die werking van die Gees dat die eerste gemeente in guns was by die hele volk (2:47), dat die hele volk God verheerlik het oor die kreupel-gebore man wat genees is (4:21), en dat die volk die eerste gelowiges baie geëer het (5:13). Dit is ook slegs deur die werking van die Heilige Gees dat die kerk van Christus in daardie eerste dae so geweldig gegroei het. Op die pinksterdag is daar omtrent 3000 siele tot die gemeente toegebring (2:41). In Handelinge 4:4 lees ons dat die getal van die manne – let wel, slegs die manne – omtrent 5000 geword het. En in hoofstuk 5:14 lees ons dat daar meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg is, menigtes van manne sowel as vroue.

Geweldige dinge wat die Gees in daardie eerste dae gewerk het – geloof en bekering, genesing van siekes en uitdrywing van bose geeste, volharding en eenheid in die gemeente, vrygewigheid en mededeelsaamheid, en ‘n positiewe waardering van die kerk deur die omgewing. Dit moes ‘n opwindende tyd gewees het vir die eerste gemeente. Maar broers en susters, daar is ook ‘n ander kant. Die kant van ongeloof en verharding, van weerstand teen die evangelie. En hierdie twee kante gaan so dikwels saam – geloof en ongeloof, bekering en verharding. Dit lê in die aard van die evangelie – die evangelie laat niemand neutraal nie; dit dwing mense tot ‘n keuse: óf geloof óf ongeloof. Van hierdie ongeloof sien ons iets in hoofstuk 5 waar Ananias en Saffira, lidmate van die gemeente, vir die Heilige Gees lieg oor die bedrag wat hulle vir hul stuk grond gekry het, en gevolglik dood neerval voor die voete van Petrus. Hierdie ongeloof en verharding kom nog sterker na vore in die gedeelte wat ons gelees het, waar die apostels gevange geneem word en voor die Joodse Raad moet verskyn. Dit is hierdie gedeelte waarop ons vandag wil let.

Tema: Gehoorsaamheid in die eerste gemeente
            1. Gehoorsaamheid aan die goddelike opdrag
            2. Die gesag van die menslike getuies
            3. Die onstuitbaarheid van die evangelie

1. Ons sien dus dat dit met die kerk in daardie eerste tyd baie goed gegaan het. Die kerk het gegroei, daar was eenheid in die gemeente, en die gemeente het vanuit die samelewing groot respek gekry. En, broers en susters, dit was vir die hoëpriester en die groep van die Sadduseërs een te veel. Hulle kon nie verdra dat ander groter eer as hulle kry nie, dit was pynlik vir hulle eersugtige harte dat hierdie ‘sekte’ so ‘n groot aanhang kry. Dit is dan ook die dryfveer vir hulle optrede in vers 17. Ons vertaling sê in hierdie vers dat hulle met ‘nydigheid’ vervul was – miskien is ‘jaloesie’ of ‘afguns’ ‘n beter vertaling. Hulle was so jaloers dat hulle aan niks ander kan dink nie as om die apostels te arresteer en in die tronk te gooi. Teenoor die invloed van die evangelie kan hulle slegs hulle mag laat geld. Hulle stáán op hulle gesag, sonder om ‘n inhoudelike diskussie aan te gaan, dus sonder om te beoordeel wat presies deur die apostels verkondig word.

En ja, hulle kon dit doen; die Sadduseërs was immers die party wat die mag in hande gehad het. Hulle het op godsdienstige terrein die lakens uitgedeel daar in Jerusalem. Wanneer ons vers 28 lees, kry ons selfs die idee dat hulle probeer het om die apostels te intimideer: “Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring.” Ons sien die hoëpriester met elke woord nader kom aan die apostels, dreigend, met sy vinger in die lug. Elke greintjie mag en gesag wat hulle gehad het, word deur die hoëpriester en die Joodse Raad aangewend om die apostels stil te maak, om die verkondiging van die evangelie te beëindig.
Broers en susters, bely ons nie in artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dat dit juis presies die modus operandi, die werkwyse, van die valse kerk is nie? Ons bely in artikel 29 oor die valse kerk dat dit “aan homself en sy besluit meer mag en gesag toeken as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie;… dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.” Die Jodendom, die volk wat eens draer van die belofte was, maar wat die vervulling daarvan nie wou aanvaar nie, het valse kerk geword. Hulle was besig om dié te vervolg wat volgens die Woord van God wou lewe en hulle oor hul euwels, gierigheid en afgodery bestraf het. Hulle het aan hulself en hul besluite meer mag en gesag toegeken as aan die Woord van God. Kyk maar vers 28: “Het ons julle nie met ‘n bevel beveel…” – so staan dit letterlik daar – “het ons julle nie met ‘n bevel beveel om nie in dié Naam te leer nie?” Ons bevel…

“Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” – só eenvoudig antwoord Petrus dan, en dit word deur die ander apostels beaam. Geen omhaal van woorde nie, geen lang redenasie oor hoekom hulle eintlik die bevel verontagsaam het nie; Petrus doen nie eens die moeite om die hoëpriester beleef aan te spreek nie, want as die hoëpriester geluister het na wat Petrus alreeds tydens hulle vorige konfrontasie in hoofstuk 4 gesê het, sou hy geweet het wat die apostels se standpunt is: “Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie” (4:19-20). Eenvoudig: ons moet gehoorsaam wees aan God. En die bevel van God was duidelik; die engel het dit die vorige nag nog oorgebring toe hy die deure van die gevangenis oopgemaak en die apostels uitgelei het: “Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe.” En hieraan onderwerp die apostels hulle. Ons lees in vers 42: “En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.” En dít, gemeente, is volgens artikel 29 van die NGB die kenmerk van die ware kerk: hierdie kerk gedra hom ooreenkomstig die suiwere Woord van God, verwerp alles wat daarmee in stryd is, en erken Jesus Christus as die enigste Hoof.

Watter uitdaging is dit vir ons as gemeente om ware kerk te wees; dus, kerk wat volgens die Woord van God lewe, alles verwerp wat daarmee in stryd is, en Jesus Christus as die engiste Hoof erken. En broers en susters, hierdie belydenis plaas ons in volle konfrontasie met die wêreld wat subtiel probeer om die waarheid te ondermyn, hierdie belydenis plaas ons teenoor elkeen wat, hoe belangrik hy ook mag wees, hom nie wil buig onder die Woord van God nie. Moenie wegskram van hierdie konfrontasie nie, ook nie as die tydsgees een van absolute verdraagsaamheid en geduld is nie. Gehoorsaam God deur die waarheid te omhels en die verdraaiing van die waarheid te verwerp. In die woorde van die apostel Paulus in Galasiërs 1:8: “… al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees.”

Broers en susters, laat u nie aftrek van die Woord van God nie, laat niemand anders as Jesus Christus u Hoof wees nie. Eis dat in hierdie gemeente die waarheid van die Woord heers! Eis dit van u predikant, eis dit van u ouderling en diaken tydens huisbesoek, eis dit van mekaar tydens bybelstudie en van uself in u hele lewe. Moenie enige iets anders van enige iemand anders aanvaar nie. Dit is gehoorsaamheid aan God, ‘n gehoorsaamheid wat nie probeer om die gevolge of konsekwensies van God se opdrag te bereken nie, maar een wat ag gee op die goddelike bevel, ‘n gehoorsaamheid wat Petrus en die ander apostels die durf gegee het om die konfrontasie met die Joodse Raad aan te gaan: “julle ag julleself miskien die hoogste gesag hier in Israel, maar ons het ‘n hoër gesag – God self. Aan sy opdrag onderwerp ons onsself.” Dit is die gehoorsaamheid wat pas by ‘n biddende gemeente, ‘n gemeente wat, soos ons verlede week gesien het, eendragtig en met volharding die Here soek. Ons let nou in die tweede plek op die gesag van die menslike getuies.

2. “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” – so bely Petrus voor die Joodse Raad. ‘n Pragtige belydenis. Maar gemeente, ook ‘n belydenis wat in die geskiedenis van die kerk al dikwels misbruik is om die grense van God se Woord te oorskrei of om aan die Here se wettige gesagsdraers te ontkom. Dink aan die openbaringe en visioene wat mense in charismatiese en pinkstergroepe ontvang, en wat soveel gesag dra, omdat dit skynbaar deur God ingegee word – en daarom moet ons daaraan gehoorsaam wees. Dink aan verskeie sektes en groepe wat naas die Skrif ook nog aanvullende boeke of geskrifte het, omdat die openbarende werk van die Gees, van God self, skynbaar nog nie klaar is nie – en daarom moet ons daaraan gehoorsaam wees. Dink ook aan mense wat sondes probeer regverdig, omdat God hulle dit skynbaar beveel het – en daarom moet hulle daaraan gehoorsaam wees. Ja gemeente, dan kan “ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense” baie gou misbruik word vir eie gewin.

Maar dit is nie wat Petrus hier doen nie. Petrus se uitspraak in vers 29 is nie maar ‘n kreet om aan die gesag van die Joodse Raad te ontkom nie, om sy eie saak te bevorder nie. Nee, Petrus se woorde dat hulle aan God meer gehoorsaam moet wees as aan die mense, word bevestig wanneer hy vervolgens in gehoorsaamheid die woord van hierdie God aan die Joodse Raad verkondig: “Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan ‘n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk” – so bring Petrus die woord! Nie sy eie woord nie, maar die woord van sy Sender, Jesus Christus, wat gesê het: “en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Petrus bevestig dit wanneer hy in ons teks sê: “En ons is sy getuies van hierdie dinge…” Getuie-wees – dit beteken nie dat jy die feite van jou eie saak na vore bring nie, maar dit beteken dat jy die feite van ‘n ander se saak na vore bring. Getuie-wees van Jesus Christus beteken dat jy van sy saak vertel; dit beteken dat Gód deur jou spreek oor die Verlosser, oor bekering, oor vergifnis van sondes.

En dít, die feit dat hulle nie met hul eie saak besig is nie, maar met die saak van God, gee Petrus en die ander apostels die durf om die Joodse Raad, daardie geëerde liggaam van die Joodse volk, te weerspreek en hulle op te roep tot bekering. Die apostels staan daar, in die beskuldigdebank, ‘n baie gevaarlike posisie – dit blyk ook duidelik wanneer die Joodse Raad hulle uit woede wil doodmaak (vers 33). Maar met die gesag van die Woord van God, met die gesag van God self, kan hulle die Joodse leiers weerspreek, kan hulle selfs so ver gaan om hulle beskuldigers in die beskuldigdebank te plaas: “… julle het Jesus omgebring deur Hom aan ‘n kruishout te hang; dit is nie ons wat aan julle verantwoording moet aflê nie, dit is julle wat aan God verantwoording moet aflê.”
Kyk net wat gebeur, gemeente, wanneer die apostels met die gesag van God self kan spreek… Petrus, die een wat tot drie maal toe lieg: “Ek ken hierdie man nie…”, die apostels wat almal almal uit vrees weghardloop wanneer die Here Jesus gevange geneem word, staan hier met byna blatante waagmoed voor dieselfde mense wat hulle Here doodgemaak het, en dus ook by magte is om hulle, sy volgelinge, om die lewe te bring. Dit is slegs moontlik omdat die Heilige Gees hier deur die apostels getuig. Dit is slegs deur die werk van die Gees, die Gees wat God gee aan die wat Hom gehoorsaam is, waardeur mense in die aangesig van die grootste weerstand kan getuig: hierdie Man wat julle doodgemaak het, Hy is die Leidsman en Verlosser, slegs deur Hom is daar bekering en vergifnis van sonde. En dáárom is die apostels gesagdraers, want hulle bring God se Woord!

Broers en susters, wanneer mense getuies is van die evangelie, dan kom hulle met goddelike gesag. U predikant, u ouderling, u diaken het geen gesag omdat hy ‘n bepaalde amp beklee nie, maar hy het gesag slegs wanneer hy die Woord bring. ‘n Ampsdraer kan daarom nie sy gesag laat geld omdat hy ‘n ampsdraer is nie – ‘n goeie ampsdraer laat die gesag van die woord van sy Opdraggewer geld. En dit geld vir enige iemand anders ook, broers en susters, hy kan hoe gesiene en invloedryk wees, sy gesag tel nie wanneer hy nie bereid is om onder die woord van die Here te buig nie. Johannes roep ons daarom ook op in sy tweede brief, vers 10: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.” Andersom is ook waar – iemand kan soveel minder as u verdien, iemand kan soveel minder geskoold wees as u – wanneer hy of sy getuie is van die evangelie, dan vra dit gehoorsaamheid. Ons moet God meer gehoorsaam wees as mense – só het ons in die eerste punt gesien – maar wanneer mense met die suiwer evangelie by ons kom, al maak dit hoe seer, dan spreek God deur hulle tot ons. Dan vra dit gehoorsaamheid aan God self!

Gemeente, om onderling toesig oor mekaar te hou, om mekaar in die gemeente op te bou, om ware kerk volgens ons belydenis te bly, vra enersyds dat ons mekaar met die woord van ons God sal aanspreek, sal opbou, sal teregwys. Moet dus nie u gevoelens of die tradisie of gewoontes as maatstaf gebruik om ander aan te spreek nie; nee, laaat die Here spreek! Maar dit vra andersyds dat, wanneer daardie woord tot ons kom, ons daaraan gehoorsaam sal wees, ons daaronder sal buig. En dan maak dit nie saak wie my op daardie oomblik met die Woord van die Here aanspreek nie. Nee, dan stel ek my eie gevoelens van vernedering, van seerkry, ondergeskik, nie in die eerste plek aan die persoon wat my aanspreek nie, maar aan die Here wat tot my spreek.
So wil God van menslike getuies gebruik maak, bereidwillige instrumente wat sy woord bring.
Ten slotte wil ons nog let op die onstuitbaarheid van die evangelie.

3. Die Here se woord – want dit is wat die apostels gespreek het – tref waar dit seermaak. Die Joodse Raad is woedend en wil die apostels doodmaak. Maar dan staan Gamaliël op. Hy was ‘n Fariseër wat groot respek onder die volk gehad het. Hy was waarskynlik dieselfde Gamaliël aan wie se voete Paulus opgevoed is (Hand. 22:3). Dit is dus waarskynlik via Paulus dat Lukas, Paulus se reisgenoot, bewus was van die inhoud van die toespraak wat Gamaliël hier voor die Joodse Raad gehou het.
Gamaliël probeer met sy toespraak die vergadering tot bedaring bring. Hy begin met twee voorbeelde. Voorbeelde van bewegings wat op gang gekom het, maar wat weer doodgeloop het nadat die leier gesterf en die beweging uitmekaar gejaag is. Vanuit hierdie voorbeelde trek hy dan die konklusie: bly af van hierdie manne, en laat hulle staan. Hoekom? Want mensewerk loop outomaties dood, maar as dit uit God is, dan kan dit tog nie gekeer word nie.

Heeltemal reg, as hierdie ‘n goddelike beweging is, gaan niemand dit keer nie. En dit is presies wat Petrus in sy kort toespraak in verse 30-32 aan die Joodse Raad probeer duidelik maak het. En dit wys ook onmiddellik die gebrek in Gamaliël se voorbeelde aan. Want Gamaliël gebruik as voorbeelde bewegings waarvan die leiers beide gesterf het. Petrus toon in sy toespraak egter aan dat God vir Jesus uit die dood opgewek het. Hierdie beweging se leier is nie dood nie, Hy lewe! Sekerlik, Hy was dood. Dit weet die Joodse Raad maar al te goed, want hulle het Hom immers omgebring deur Hom aan ‘n kruishout te hang, Hy was ‘n vervloekte in hulle oë. Maar “die God van ons vaders” – dus dieselfde God wat die Joodse Raad ook aanbid – Hy het Jesus opgewek. Meer nog, Hy het Hom nie slegs opgewek nie, maar Hom ook verhoog, Hom ‘n ereposisie gegee – Hy is die Leidsman en Verlosser!
Gemeente, die christelike beweging het geen dooie leier nie, nee, ons het ‘n lewende Leidsman en Verlosser. Hy sit vanuit die hemel sy beweging voort; Hy is besig om van sy beweging ‘n wêreldwye beweging te maak, vanaf Jerusalem tot aan die uiterste van die aarde. En die Jodendom het dit gevoel! Gaan lees maar die boek Handelinge: oral waar die apostels gekom het om die evangelie te verkondig, het hulle eers na die sinagoge gegaan. En telkens moes die Jode tot hulle eie nydigheid en jaloesie sien dat die evangelie onstuitbaar is. O ja, hulle het dit probeer keer deur die apostels te vervolg, te stenig, dood te maak, maar die getroue getuies het voortgegaan. Christus self sorg daarvoor dat niks die verbreiding van die evangelie kan keer nie. Die apostel Paulus, destyds nog Saulus, het dit eerstehands ervaar. Hoe het hy nie dreiging en moord geblaas teen die volgelinge van die Here Jesus nie (9:1), hoe het hy nie na middele gesoek om die kinders van die Here geboeid na Jerusalem te bring nie. Maar die Here leer hom eerstehands dat dit hard is om teen die prikkels te skop.

Gemeente, Petrus se getuienis voor die Joodse Raad wys dat dit God self is wat die voortgang van die evangelie waarborg. Hy het immers sy Seun opgewek, al is Hy deur die leiers van die volk omgebring, Hy het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser, al het hulle Hom aan ‘n kruishout gehang. Wat mense ook al bedink of doen, God se werk word nooit gekeer nie.
Die manier hoe God dit egter doen, is nie soos mense dit doen nie. God is nie, soos die Joodse leiers, hier besig om sy spiere te bult nie. Ja, die Joodse leiers, hulle gebruik in hul weerstand teen God brute mag – twee keer na mekaar (in hoofstukke 4 en 5) word die apostels immers sonder grondige redes gearresteer en in die tronk gegooi – kom ons wys wie is baas…! Maar die manier waarop God gehoorsaamheid en onderdanigheid kry, is nie deur brute mag nie, maar deur die verkondiging van die evangelie, deur bekering en vergifnis van sondes. En daarom, terwyl Petrus en die apostels getuienis aflê van die onstuitbaarheid van die evangelie, is hulle tegelyk besig om die evangelie van genade aan die Joodse Raad te bring. Die oproep kom ook na hulle: glo in hierdie Jesus!

Gemeente, laat ons onsself in hierdie nuwe jaar opnuut verbind tot geloof en gehoorsaamheid aan hierdie Verlosser. Laat sy gesag ons hele kerklike handel en wandel bepaal. Laat ons mekaar opbou en aanspoor met die getuienis van die evangelie; kom ons gebruik die een middel waaronder ons ons almal moet buig, jonk en oud, ryk en arm, naamlik God se Woord. So is ons ‘n gemeente wat gehoorsaam is aan haar Verlosser alleen, en kan niemand van ons sê dat ons ons laat beheers deur VGK-tradisies en –gewoontes nie. Dan word ons deur Christus ingeskakel in die onstuitbare oorwinningstog van die evangelie – kyk maar konkreet na die sendingsvelde waar ons as gemeente werksaam mag wees. En as die bespotting en vervolging kom, dan is ons bly, bly dat ons waardig geag is om vir die Naam bo elke naam oneer te ly. Want as ons vir sy Naam oneer ly, dan beteken dit dat sy Naam verheerlik word. Dit is tog waarvoor ons lewe?

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 30:3, 7 en 8
Wetslesing – lees eers Romeine 3:9-20, en daarna Exodus 20
Sing Ps. 51:1, 3, 6
Gebed
Lees: Handelinge 5:12-42, NGB Artikel 29
Sing SB. 16:8-10 – ons sien in Handelinge 5 hoe die kinders van die Here vervolg word. Jesus het dit reeds voorspel in die bergrede. Laat ons hiervan sing uit Skr. 16:8-10.
Teks: Handelinge 5:29-32
Preek
Amenlied Ps. 46:1,3, 4 en 6
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 56:1, 3 en 4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Liturgie: 

(kyk in preek)