Werk solank as dit dag is oftewel aanvaar in geloof jou lewensroeping

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-01-08
Text: 
Prediker 11
Preek Inhoud: 

Prediker 11:1-6

Ds C Kleyn - Sondag 8 Januarie 2006

Lees: Prediker 9:1-12.
Sing: Ps 115:1,2; Ps 115:6-8; Ps 100:2,4 (na
doop); Ps 37:1,2; Ps 126 (na preek); Ps 90:9.

Tema: Werk solank as dit dag is oftewel aanvaar in
geloof jou lewensroeping.

  1. Wees bereid om risiko’s te neem
  2. Wees egter wel versigtig
  3. Maar nie angsvallig nie

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

’n Week gelede het die nuwe jaar begin. Was die begin
baie anders as die begin van vorige jaar? Die berigte in die
koerante wys nie baie verskil nie. Siekte, teenslag en dood bly
deel van ons samelewing. Diefstal, moord en korrupsie gaan aan.
Dis beslis nog geen paradys hier op aarde nie. God se beloftes
van heil wag nog steeds op hul vervulling. Ons moet verder in
’n gebroke wêreld. ’n Wêreld waarin dit lyk asof
alles vasgevang sit in die kringloop van opgaan, blink en versink.
Wat bereik jy eintlik in jou lewe? Dinge word uitgedink en
opgebou om later weer afgebreek te word. Jy kan dag en nag swoeg
om iets in jou lewe te bereik, iets op te bou, maar uiteindelik
tree die dood in. Wat gebeur dan met jou werk? Ons kan die gevoel
van die Prediker verstaan wanneer hy vanuit menslike oogpunt
konkludeer: Alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs en ’n
gejaag na wind.

As mens het jy ook niks volkome in jou mag nie. Jy kan niks
waarborg nie. Jy is volkome afhanklik van die beliewe van God.
Sonder die wil van God kan jy nie eet of drink nie, ja kan jy
niks nie. Alles wat God doen staan onveranderlik vas. Daaraan kan
jy as mens niks byvoeg en daarvan kan jy niks wegneem nie (Pred 3:14).

Gemeente, as jy hierdie twee dinge in oënskou neem, die
vergeefsheid van jou inspanning en jou magteloosheid, maak dit
nog wel sin om hier op aarde aan die werk te spring? Kan jy nie
beter alles lydelik oor jou heen laat gaan nie? Waarom sou jy jou
so besig hou? Alles is tog ’n najaag van wind en God beskik
tog oor alles sonder dat jy daaraan iets kan byvoeg of wegneem?

In ons teks gee Prediker ’n duidelike antwoord. Dis
trouens ook opmerklik dat die Prediker juis in hoofstuk 3 waar hy
ons volkome afhanklikheid van God noem, ook praat van die taak
wat God aan ons mensekinders gegee het om ons daarmee te kwel.
Ons moet in hierdie krom wêreld aan die werk. Die hele boek
Prediker roep ons daartoe op. Ons klein mensies het ’n groot
taak in God se groot wêreld. Dink aan die kultuurmandaat wat God
by die skepping aan ons mense gegee het. Sedert die sondeval het
die taak wel swaarder geword. Prediker sien dan ook die moeisame
geswoeg waarmee die mens hom onder die son aftob. Met die
uitdrukking onder die son wil die Prediker die lewe aandui soos
dit hier en nou op aarde geword het sedert die sondeval. Ons dink
aan die woord van die Here uit Gen 3: “Vervloek is die aard
om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou
lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring. In die
sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na
die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot
stof sal jy terugkeer.”

Dit is die werklikheid waarmee die Prediker en elkeen van ons
te make het. Die werk vorder nie vanself nie. Daar is baie
teenkragte besig, nie net in die natuur nie, maar ook onder ons
mense. Daar is baie onreg en dwaasheid in die wêreld. Baie
frustrasies, teenslag. Dit is dikwels ’n moeisame opwaartse
stryd. Tog moet ons aan die werk in hierdie wêreld. Ja, juis die
gelowiges moet aan die werk. Ons ken immers die wêreld as Vader
se skepping. Ons ken die dinge van hierdie wêreld as gawes van
God. Die lig van God se aangesig skyn oor ons in Jesus Christus.
Ons weet dat ons op pad is na die herstelde paradys, die
voltooiing van God se ryk.

Ek vat die teks vir julle saam: werk solank as dit dag is
oftewel aanvaar in geloof jou lewensroeping.

  1. Wees bereid om risiko’s te neem
  2. Wees egter wel versigtig
  3. Maar nie angsvallig nie

God laat die wêreld nie in die steek nie. Hy soek juis die
redding van die wêreld. In Christus het Hy die wêreld met
homself versoen. Daarom kan die Prediker oproep tot positiewe
lewensaanvaarding in ’n gebroke wêreld. Hy wek op tot die
diens aan die Here. Om Hom te dien is nie sinloos nie. Hy het
immers ’n nuwe toekoms ontsluit.

Laat elkeen dan die moontlikhede om te werk wat God gee
aangryp. Reeds in Prediker 9:10 lees ons: “Alles wat jou
hand vind om te doen, doen dit met jou mag.” Benut alle
moontlikhede; werk solank as God jou daartoe die vermoëns gee.

Ons teks begin met die beeldspraak: “werp jou brood uit
op die water, want na verloop van baie dae sal jy dit vind.”
Jou brood is hier jou lewensonderhoud, jou inkomste, jou
bedryfskapitaal. Deur jou brood op die water te werp, sit jy
feitelik jou lewe op die spel. Die beeld is moontlik ’n
sinspeling op Salomo se handelsvloot wat o.a. na Tarsis en Ofir
gevaar het om na verloop van tyd terug te kom met goud en silwer,
ivoor, ape en bobbejane (1 Konings 10:22). So ’n oorsese
handel bring risiko’s saam. Jy werp so te sê jou kapitaal
op die water. Jy sou jou skepe in ’n storm kan verloor. Eers
na verloop van baie dae, sien jy hopelik iets terug van jou
investering. Die teks benadruk dat dit ’n lange tyd kan vat
voordat jy voordeel trek uit jou onderneming. Jy ontvang nie
onmiddellik beloning nie. Maar die beloning sal kom. Op God se
tyd en wyse.

In oordragtelike sin kan die beeld “Werp jou brood uit op
die water”, sien op enige ding wat jy onderneem. Enigiets
waaraan jy jou geld en energie gee. Sommige verklaarders sien die
woorde as ’n oproep tot liefdadigheid, as ’n aansporing
om mildelik aan ander te gee. Dit lyk ons egter nie juis om dit
daartoe te beperk nie. Hier het ons ’n algemene oproep om te
werk met die middele en gawes wat God jou gegee het. Moenie tou
op gooi nie. Maar gaan besig met die middele en geleenthede wat
God vir jou gee. Dit bring risiko’s saam, soos met ’n
skip wat jy bou en uitstuur. Of soos ’n boer sy gewasse op
die land plant. Aanvaar die risiko’s. Werp jou brood uit op
die water. Is dit waaghalsery? Nee, nie in die diens van die Here
nie. Jy is mos besig wees in geloof. As gelowige moet jy bereid
wees om risiko’s te aanvaar. Daar moet iets gebeur. Daar is
baie werk om te doen. Juis die gelowige is daarvan oortuig.

Werp jou brood uit op die water. Daarmee word die aanvaarding
van risiko’s so sterk as moontlik uitgebeeld. Vir hulle wat
nie glo sal die dwaas wees. Om steeds vir God besig te wees, om
groot offers vir die Here en vir die naaste te bring, lyk dwaas
te wees. Wat kry jy daarvoor terug? Alle arbeid in diens van die
Here lyk dwaas. Wie gee nou sy geld en kragte aan die bevordering
van God se saak in hierdie wêreld? Dink aan die werk van die
Christelike opvoeding en onderrig. Ja, jy sou nog verder terug
kan gaan. Dink ook aan die verwekking en kry van kinders. Is dit
geen groot risiko nie? Sit jy daarmee nie jou welvaart op die
spel nie? In geloof sien ons ons kinders as ’n erfdeel van
die Here. Iets waarna ons verlang. As die Here ons die
moontlikheid gee om kinders te kry en groot te maak sal ons die
moontlikheid in geloof aanvaar. Ook al bring dit sekere
risiko’s saam. Ook al is die toekoms onseker.

En dan die opvoeding en onderwys van die kinders. Baie tyd,
geld en energie word daarin geïnvesteer. Om my kinders na
’n gereformeerde skool te stuur is geen kleinigheid nie. Dit
vra groot offers. Ek werp so te sê my brood uit op die water.
Wat sal die uitwerking daarvan wees? Is dit verantwoordelik? In
geloof doen ek alles in my vermoë sodat my kinders God na
waarheid mag leer ken en in alles met hom rekening leer hou. Dat
hulle werklik as sy kinders groot word en hul plek in die
samelewing kan inneem.

Ons noem ook die werk van die ampsdraers. Om soveel tyd en
energie in die gemeente te investeer, is dit die moeite werd?
Terwyl jy soveel kan doen om jou loopbaan en finasiele posisie te
verbeter. Wat sien jy as resultaat daarvan? Tog gaan jy in geloof
aan die werk in antwoord op God se roeping.

Wat van die liefdadigheidswerk? In die afgelope jaar het ons
as tema die diakonale gemeente gehad. Ons is bewus gemaak van ons
diakonale roeping in kerk en samelewing. Ons tyd en geld word op
allerlei gebiede gevra. Kan ek dit wel doen? Om die woorde van
Gal 6:10 te gebruik: Kan ek wel aan almal goed doen, maar die
meeste aan die huisgenote van die geloof? Is dit wel
verantwoordelik? Is dit nie ’n gemors van geld en tyd nie?
God roep ons egter om dit in geloof te doen solank ons daartoe
die geleentheid het. Ook al het ons geen waarborg dat dit goeie
resultate gaan hê nie. Dis ’n kwessie van brood op die
water werp. So kan ’n mens allerlei werk in kerk en
samelewing noem waarby ons gehoor gee aan God se roeping om te
werk solank dit dag is. Laat jou nie terugskrik nie. Aarsel nie,
maar gaan aan die werk met die middele en moontlikhede wat God
aan jou gegee het. Ja, ook in die samelewing, ook in die
besigheidswêreld, ook in die onderwys.

Waar jy in geloof die moontlikhede wat God jou bied aangryp,
en die risiko’s wat daarmee saamgaan aanvaar, daar hoor jy
God se belofte: “want na verloop van baie dae sal jy dit
vind.” Snelle vrugte word nie gepluk nie. Jy sal geduld moet
hê. Maar wat jy in geloof onderneem, daarvan mag jy weet dat God
se seën daarop rus. Die arbeid in die Here is nie tevergeefs nie.
Jy sal na verloop van baie dae dit vind. Na baie dae kan selfs
inhou na hierdie lewe. ’n Mens sien nie altyd positiewe
resultate hier op aarde nie. Dit kan wees dat jy juis allerlei
teenslae ondervind. Dit kan wees dat al jou investering in die
gereformeerde opvoeding en onderwys van jou kinders tevergeefs
lyk. Dit kan wees dat jou kind die Here nie wil ken en dien nie.
Maar jy het in geloof gedoen wat die Here van jou gevra het. En
die Here sal alle getroue diens aan Hom beloon. As dit nie tydens
hierdie lewe is nie, dan in ieder geval na hierdie lewe, wanneer
Christus vir die getroues sal sê: “Kom, julle geseëndes
van my Vader. beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die
grondlegging van die wêreld af” (Mt 25:34).

Gemeente, om in geloof aan die werk te spring, en daarby
risiko’s te neem, beteken egter nie dat jy roekeloos of
onbesonne te werk gaan nie. Dis die tweede deel van die teks. Jy
kan nie sommer enigiets aanpak met die gedagte dat God al die
werk in diens van Hom sal seën nie. God stel jou aan as ’n
verantwoordelike persoon aan wie hy ’n verstand gegee het.
Hy sal dan ook verantwoording vra vir elke daad wat jy verrig het.
Gaan daarom met wysheid en oorleg te werk. Oorweeg eers wat goed
en verantwoordelik is. Besin jou op die beste strategie. Werk
doeltreffend en vermors nie onnodige geld en energie nie.

In aansluiting op vers 1 vervolg Prediker in vers 2: “Gee
’n deel aan sewe, ja, ook aan agt, want jy weet nie watter
onheil daar op die aarde sal wees nie.” Om risiko’s te
aanvaar moet nie tot roekeloosheid lei nie. Wees wys en versigtig.
Jy weet nie watter teenslae daar kan kom nie. Daarom moet jy nie
al jou eiers in een mandjie sit nie. Die risiko’s moet
soveel moontlik versprei word. Jy weet immers nie watter rampe
die wêreld en jou kan tref nie.

Dit beteken o.a. dat jy nie alles moet laat afhang van een
persoon nie. Gestel dat die een persoon skielik iets oorkom? Dan
stort jou hele wêreld inmekaar. Vir die goeie voortgang van
’n land, ’n besigheid, ja selfs van ’n gemeente is
dit daarom belangrik dat verantwoordelikhede verdeel word en dat
daar mense beskikbaar is wat die take kan oorneem.

As jy nie met wysheid te werk gaan nie, kan alles verkeerd
loop. En wat gebeur, gebeur. Dit neem geen keer nie. Dit word in
vers 3 duidelik gemaak. “As die wolke vol reën is, giet
hulle dit uit op die aarde.” Dis onafwendbaar. Jy kan dit
nie keer nie. So is dit met die onheil waarvan vers 2 spreek. Die
onheil sal in hierdie gebroke wêreld nie uitbly nie. Jy sal
daarmee rekening moet hou. Prediker voeg nog die vergelyking
daaraan toe: “as ’n boom na die suide of na die noorde
val, op die plek waar die boom val, daar bly hy lê.” Daar
kan jy niks aan doen nie. Dit het gebeur. Dis ’n werklikheid,
waarmee jy moet reken. Jy sal dit moet neem soos dit is. Daarom
raai Prediker in vers 2 jou aan om met die nodige versigtigheid
jou op allerlei onvermydelike onheil voor te berei. Jy kan nie
alle kwaad keer nie. Ook nie die gevolge van ’n verkeerde
keuse of van onverstandige beleid nie.

Gemeente, die oproep tot versigtigheid mag ons egter nie
angsvallig maak nie. Dis die derde gedagte van die preek.

Vers 4: “Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie.”
Die oorversigtige boer let steeds maar op die wind wat nie
heeltemal gunstig lyk nie. Daarom durf hy nie om te saai nie. Hy
neem geen enkele kans nie en stel dit uit totdat die geskikte tyd
om te saai verby is. Ons sien dieselfde beeld by die boer wat
moet oes. Hy kyk maar steeds na die wolke. As daar maar enkele
wolke is, dan stel hy dit uit. Hy wil geen risiko vat nie. Maar
die volmaakte omstandigheid, sonder enige wolkie in die lug, kom
maar nie. So laat hierdie oorversigtige boer sy tyd verby gaan.

Hier word getuig van die risiko van die arbeid wat ’n
mens eenvoudig in vertroue moet aanvaar, anders kom daar niks van
die werk tereg nie. As jy wag totdat die ideale omstandighede
aanwesig is, dan loop jy die gevaar om jou kanse verby te laat
gaan. Ons het hier op aarde nog geen paradys nie. Daarom sal jy
lank moet wag as jy vir die ideale paradyslike toestande wil wag.
’n Mens kan allerlei besware aanvoer teen die take wat moet
gebeur. As jy jou egter bly blindstaar op die besware, dan kom
van die werk heeltemal niks tereg nie. So word belangrike
beslissings soms eindeloos uitgestel totdat dit te laat is.

Iets dergeliks kan ook gebeur by die opvoeding van ons kinders.
Ons moet praat, dit weet ons, maar ons wag steeds vir die
gunstige oomblik. Maar wanneer is dit die gunstige oomblik? Is
uitstel nie dikwels afstel nie. Dit kan ook gebeur mbt die
onderlinge of die amptelike vermaan in die gemeente. Jy wag dan
op ’n geskikte geleentheid, maar ondertussen word die
persoon in kwessie aan sy lot oorgelaat. So word die geleentheid
van vermaan onbenut gelaat. Juis wanneer dit aankom op aksie, hou
mense hulle dikwels angsvallig terug. Jy sien dan allerlei
denkbeeldige hindernisse op die pad. En die hindernisse blyk dan
dikwels belangriker te wees as die persoon wat jy sou kon help
vertroos of vermaan het. Wie wag op ideale omstandighede om iets
te onderneem, die kan wel wag tot Christus se wederkoms. Ons leef
immers in ’n gebroke wêreld, onder die son.

Broers en susters, die angsvalligheid is eintlik dwaas. God
het alles in sy hande. Dit lê nie in ons mag om te weet hoe die
omstandighede more of oormore gaan wees nie. God se planne bly
vir ons verborge. Luister maar na vers 5: “Soos jy nie weet
wat die weg van die wind is of hoe die gebeente in die skoot van
’n swangere is nie, net so weet jy nie die werk van God wat
alles doen nie.” Elke oomblik kan ’n onverwagse wending
gee. More kan die omstandighede radikaal anders wees. Wat eers
ongunstig gelyk het, kan tog baie gunstig blyk te wees. Wees maar
bly dat die omstandighede geen toeval is nie, maar dat dit in God
se hand is. Hy het ’n plan met hierdie wêreld en met elkeen
van sy kinders. En Hy voer sy plan uit en voltooi dit.

So kom ons by die laaste vers, vers 6: “Saai jou saad in
die more, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy
weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of
altwee saam goed sal wees nie.”

God wil jou in hierdie wêreld van Hom aan die werk sien. Werk
solank as dit dag is. Aanvaar in geloof jou lewensroeping.
Verlang nie onmiddellik positiewe vrugte nie. Die uitkoms lê in
God se hande. Laat dit dan ook in sy bekwame en getroue hande.
Gee die toekoms aan Hom oor. Hy vra net dat jy jou hand uit die
mou steek en eenvoudig aan die werk spring. Pak die dinge wat
moet gebeur aan. Gryp die moontlikhede wat God bied aan.

Is dit wel sinvol in hierdie gebroke wêreld? Ja seker. Dit is
sinvol omdat God in Christus vir jou ’n nuwe toekoms
ontsluit het. God werk na die einde toe. Christus het reeds
verskyn en sal terugkom. Ons sug is ’n sug in verwagting, in
hoop, soos by ’n swangere vrou wat nuwe lewe verwag. Ons
arbeid, geswoeg is in Christus nie tevergeefs nie. Ek mag daarin
’n medearbeider van God wees. Al die werk wat ek in geloof
verrig, mag meewerk aan die voltooiing van God se ryk. Ondanks
alle risiko’s en teenslae mag ek hier en nou reeds in sy
diens besig wees. “Daarom, my geliefde broeders”, sê
Paulus in 1 Kor 15:58, “wees standvastig, onbeweeglik, altyd
oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle
arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)