Die evangelie van Jesus Christus bepaal ons omgang met die gawes van die Here

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Maranata
Date: 
2006-02-12
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 42
Reference: 
HK 42-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

HK Sondag 42

Ds HH van Alten - Sondag 12 Februarie 2006 (Nagmaal)

Lees: 2 Tess. 3:6-13, HK Sondag 42
Sing: Sien liturgie

Tema: Die evangelie van Jesus Christus bepaal ons omgang met die gawes van die Here
    Ons sien:
        1. Hoe Christus die stoflike besittings vir ons verwerf het
        2. Hoe óns die stoflike besittings moet verwerf
        3. Hoe óns die stoflike besittings moet gebruik

Broers en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit is Sondag vandag – die dag van die Here. Maar Sondag 42 van die Kategismus wat ons vandag behandel, plaas ons in die middel van die werksweek; dit plaas ons weer in die middel van die drukte van elke dag. Daar waar ek verlei word om my maat se pen te “vat” by die skool, daar waar die verleiding groot is om by ‘n mede-student af te kyk in die eksamen, daar waar ek my belastingvorm eerlik moet invul, daar waar ek probeer om die beste prys vir my produkte te kry, daar waar ek teenoor onkundige mense eerlik moet wees oor die produk wat ek verkoop… Hier kom ons op die rusdag om ons God te ontmoet en Hy gooi ons weer terug in die daaglikse lewe met sy moeites en verleidings, met sy etiese probleme en grys areas, waarvan ons gehoop het om vir ‘n paar uur los te kom. Maar gemeente, die Here gooi ons nie maar net liefdeloos terug in die sleur van elke dag nie. Nee, die Here se Wóórd lei ons terug daarheen; die evangélie laat ons ons daaglikse lewe in oënskou neem. Die Here doen dit omdat Hy ons hele lewe wil heilig; Hy wil dat elke deel van ons lewe onder sy heerskappy moet staan, ook wanneer dit kom by ons aardse besittings en ons omgang daarmee. Ook dán wil die Here kragtig ingryp deur sy Woord en Gees en aan ons die weg van die lewe kom voorhou.

Maar dit is moeilik; die sondes op hierdie terrein is legio en dit is dikwels sondes wat in die samelewing algemene praktyk is; dit is dikwels sondes waarvan ons die sondigheid nie eers meer raaksien nie. Die praktyk en die samelewing is egter nooit ons riglyn nie, die empiriese bepaal nooit ons optrede nie. Die algemene praktyk moet juis deur die kinders van die Here ondersoek word, om te toets of dit ook Skriftuurlike praktyk is. Daarom wil ons vandag na die onderwys van die Here luister soos wat dit na ons kom in Sondag 42 van die Heidelbergse Kategismus.

Die tema vir die preek is:

Die evangelie van Jesus Christus bepaal ons omgang met die gawes van die Here;
    ons sien:
        1. Hoe Christus die stoflike besittings vir ons verwerf het,
        2. Hoe óns die stoflike besittings moet verwerf,
        3. Hoe óns die stoflike besittings moet gebruik

1. Die vierde bede van die Onse Vader lui: “Gee ons vandag ons daaglikse brood”. Dit beteken volgens die verklaring van die Kategismus in Sondag 50 dat ons ons vertroue van alle skepsele sal aftrek en op God alleen sal stel. “Gee ons vandag ons daaglikse brood”… Daarmee erken ons dus dat ons tot in die mees basiese, naamlik die snytjie brood wat ons vanoggend geëet het, van die Here afhanklik is. Met hierdie geloofsuitspraak erken ons ook dat die Here die Besitter van alle dinge is. Dit is ook hoe die Skrif daaroor praat. Kyk maar na Psalm 24:1: “Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon.” Asaf verwoord dit ook so pragtig in Ps. 50:9-12 waar die Here sê: “Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My. As ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid.”

Is dít nog deel van ons belydenis? Die belydenis: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde…, vloei daaruit vir ons nog die noodsaaklike konsekwensie dat alle geskapenes dan ook van Hom afhanklik is? Getuig ons wêreldbeeld nog van sig op die absolute Eienaar wat vanuit ‘n geopende hemel op ons neersien en na ons omsien?
Die mens van vandag se belydenis word egter dikwels verwoord deur die liedjie: “Don’t kill the world” – moenie hierdie wêreld doodmaak nie, moenie toelaat dat sy sterf nie. Nie omdat dit die opdrag van God is nie, nie omdat ons voor die aangesig van die Skepper leef nie. Nee, hierdie is die slagspreuk van ‘n wêreld met ‘n geslote wêreldbeeld, ‘n wêreld wat nie glo in ‘n God wat alles uit niks geskep het nie, ‘n wêreld wat glo dat dit net ons en hierdie aarde is en dat dit ten alle koste bewaar moet word. Daar is net een wêreld en hierdie wêreld behoort aan ons en ons kinders… Nee, sê die kinders van God, die wêreld en alles wat daarop is, behoort aan die Here!

Dit is dus nie “koning mens” nie, maar Koning Jahwe! Ja, God is Koning van sy skepping. In die paradys het God bepaal dat die mens onderkoning oor die aarde moes wees – dít is die plek wat God aan ons mense gegee het. As Koning gee Hy die opdrag: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (Gen. 1:28)
Dit moes heerlik gewees het om as mens só met God se skepping te kan omgaan. Ja, God bly absolute Eienaar, maar Hy het die aarde in die besit van die mense gestel. Dáár kon hulle hulself as die kroon op sy skepping ontwikkel, dáár kon hulle Hom dien en voluit beeld van God wees.

Maar die vloek en die ellende van die sonde het dit alles omver gegooi. Oor alles, mens en dier en stoflike dinge het die vloek van die sonde kom rus. Waar ons eers onderkoning en rentmeester oor alles was, het ons nou slaaf geword. Waar die mens, volgens die bevel van God, oor die skepping moes heers, het die mens by die sondeval toegelaat dat hierdie vrugbare balans versteur word. Die mens het slaaf van sy aardse goed geword. Met die sondeval het die agste gebod daarom ‘n noodsaaklikheid geword. “Jy mag nie steel” het nodig geword, omdat ons dit so graag doen; omdat die onderkoning slaaf geword het.

Die onderkoning het geval, maar gemeente, die Koning was steeds in beheer. God in die hemel het geweet waarheen nou. Hy het geweet wat om te doen om die paradys weer te herstel, om die slaaf weer onderkoning te maak. Wanneer Christus dan mens word in die volheid van die tyd, verlos Hy nie slegs mense van sondes nie, maar dan deel ook die stoflike dinge in die verlossing. Wat ons in die paradys deur ons ongehoorsaamheid verloor het en wat in die paradys deur die sonde in die mag van die satan gekom het, word deur Christus weer verwerf. Deur die bediening van sy amp voltrek Christus ‘n goddelike aksie tot verowering van die wêreld vir God. Ja, die verowering deur Christus is daarom in werklikheid herowering: die eiendom word in die regte verhouding tot die Eienaar teruggebring. Christus verbind die skepping aan sy werk van verlossing – dit is immers waarom Hy gekom het, sodat dit weer kan wees soos dit was in die begin, want dit was baie goed.

So word die verhouding tussen God en Adam weer herstel. Die mens mag weer op hierdie aarde met sy God gaan lewe. Hierdie herstel, hierdie herskepping het Christus só in sy hart gegryp dat Hy in een van sy laaste gebede tot die Vader gesê het: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar” (Joh. 17:15); ja, dat U hulle in die herstelde verhouding bewaar, nie in ‘n klooster of êrens in afsondering nie, maar in hierdie wêreld, u wêreld!
Dit is belangrik om raak te sien: Christus se verlossingswerk maak ons nie los van hierdie wêreld nie. Dikwels in die geskiedenis van die kerk het hierdie gedagte opgekom. Dink maar aan die tyd van die middeleeue; mense het hulleself van die samelewing losgemaak en êrens in afsondering gaan woon, omdat hulle gemeen het dat verlossing slegs geestelik is en dat hulle hulself daarom van aardse plesier en aardse besittings moes weerhou. Hulle het hulself deur onthouding van kos en enige gemak gepynig omdat hulle gemeen het dat dit hulle nader aan God bring. Maar dit is nie wat die verlossing deur Christus doen nie; die verlossing deur Christus lig ons nie bo die werklikheid uit nie; dit haal ons nie uit hierdie wêreld uit nie. Inteendeel, dit plaas ons juis opnuut midde in hierdie wêreld, nie om weer slawe van ons geld en besittings te word nie, maar om as gelowige kinders ons skeppingsopdrag na te kom, om as nuwe mense ons amp te vervul: wees vrugbaar en vermeerder, vul die aarde, onderwerp dit en heers daaroor. Ons word deur Christus juis bevry van die mag van die stoflike besittings en ons leer weer om op die regte manier daaroor te heers. Ja, die wêreld is die woning van God se kinders; hier mag ons weer in diens staan van die groot Koning, hier mag ons weer werk in sy koninkryk met die gawes wat Christus vir ons verwerf het.

En dit is hier op aarde dat God aan elkeen van sy kinders gee wat hulle nodig het volgens sy wil, juis sodat hulle Hom kan dien. Vir die een beteken dit oorvloed van besittings om God te kan dien, vir die ander minder besittings, ook om God te kan dien. Dit is die wysheid van die Here om ons tydens ons verblyf hier op aarde in verskillende mate met stoflike besittings te bedeel. Maar laat ons dít weet, gemeente, dit is geheiligde gawes wat ons ontvang; dit is deur-Christus-verwerfde besittings waaroor ons rentmeesters mag wees. God wil ons ook leer hoe om die stoflike besittings nou in die daaglikse lewe te verkry. Daarop let ons in die tweede punt: Hoe óns die stoflike besittings moet verwerf.

2. Ons het gesien dat God aan elkeen gee wat hy nodig het. Dit wat Christus verwerf het, stel God dus tot beskikking van die mense. Maar laat ons goed raaksien, gemeente, God laat nie die besittings in ons skoot val nie; Hy laai nie elke maand 'n hoeveelheid kos en ander aardse besittings by ons voordeur af waarmee ons dan die volgende maand moet oorleef nie. Nee, Gód bepaal die weg waarlangs ons in besit van aardse goedere kom. En dit is die weg van arbeid! Arbeid! Ja, reeds in die paradys het die mens die opdrag gekry om te arbei: die mens moes die tuin bewerk en bewaak (Gen. 2:15). Arbeid is daarom nie 'n droewige gevolg van die sondeval nie; dit is nie maar 'n noodsaaklikheid om aan die einde van die maand betaling te kry en te kan oorleef nie. Nee, arbeid is in die skepping ingelê. God het aan alle mense gawes uitgedeel om in sy skepping te kan arbei; die mens moes deur naspeuring die kosmos ontdek; hy moes bebou, bewoon en vermenigvuldig.

Ja, arbeid is 'n instelling van God; dis juis deur sy arbeid wat die mens werklik beeld van God is. Wanneer God in Gen. 1:26 besluit om mense na sy beeld te maak, dan is dit duidelik sy bedoeling dat hierdie beeld-wees van die mens moet blyk uit wat hulle doen, naamlik dat hulle moet heers oor die skepping, dat hulle dit moet onderwerp en die aarde moet vul. Deur sy arbeid sal die mens oor die wêreld heers (Gen. 1:28).

Arbeid is ook die seënryke weg waarlangs die Here ons in besit van aardse goedere wil stel. Ja, dit is deur arbeid wat die Here ons wil laat eet… Paulus wys ook hierop in 2 Thess. 3. In verse 7-9 wys Paulus dat hy en sy medewerkers die goeie voorbeeld aan die gemeente gestel het deur hard te werk (dag en nag) en dat hulle daarom nie nodig gehad het om kosteloos by die gemeente te eet nie. Paulus wys dan in vers 10 dat as mense nie wil werk nie, dan kan hulle ook nie eet nie. En dan vers 12: “Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te werk en hulle eie brood te eet”. Paulus sê eintlik: “Kyk, ek vermaan julle deur Jesus Christus, want dit is Hy wat alles, ook die aardse besittings, vir ons verdien het; en dit is Hy wat ook die weg aanwys waarlangs ons dit verkry, naamlik die weg van arbeid. Doen daarom rustig julle werk en geniet wat Hy aan julle gee”.

Arbeid is dus die weg waarlangs ons in besit kom van die stoflike besittings wat Christus vir ons verwerf het. * Dit het geweldige implikasies, gemeente, vir die keuse van studie en beroep… Jou studierigting bepaal uiteindelik die rigting waarin jy gaan werk. Vra jouself daarom ook af: Kan ek met hierdie studierigting eendag werk doen waardeur ek God se beeld vertoon? Wil ek met hierdie beroep eendag die stoflike besittings verwerf wat Christus vir my verdien het? * Dit het ook implikasies vir werksaansoeke… Kan ek by hierdie maatskappy God se beeld vertoon? Gaan hierdie maatskappy dinge vereis wat my gaan verhinder om my daaglikse brood op ‘n eerlike manier te verwerf? * Maar gemeente, dit beïnvloed ook die manier waarop ons ons daaglikse werk verrig… Werk ek met die oog op die klok omdat ek nie kan wag tot dit tyd word om huistoe te gaan nie? Of werk ek dalk met die oog op die baas om seker te dat hy nie my oneerlikheid sien nie? Gemeente, die Kategismus maak in antwoord 110 duidelik dat ons arbeid vry moet wees van enige oneerlikheid en agterbaksheid; ja, vry van al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry. Wanneer ons die wysheid van God leer raaksien in die weg waarlangs ons ons aardse goedere verkry (naamlik deur arbeid) en ook raaksien dat God weet hoeveel ons nodig het, dan hoef ons onsself ook nie meer besig te hou met skelmstreke en listige planne nie. Wanneer ons glo dat God ons in Christus vir die ewigheid versorg, dan mag ons ook weet dat Hy ons in Christus vir vandag versorg.

Maar gemeente, wanneer God ons leer dat arbeid die weg is waarlangs ons in besit kom van aardse besittings, dan het dit ook implikasies vir dié onder ons wat op hierdie oomblik geen vaste werk het nie. Want arbeid is meer as om slegs vir ‘n maatskappy te werk; my arbeid is nie in die eerste plek arbeid vir my baas of vir die maatskappy nie. My arbeid is in die eerste plek arbeid in God se diens. My baas in nie in die eerste plek daardie persoon wat in die direkteurskantoor sit nie, maar Hý is in die eerste plek my Baas wat in die hemel troon. En daarom kan ek ook arbei, of ek nou op hierdie oomblik vaste werk het of nie, want ek arbei in God se Koninkryk. In daardie lig moet ons ons daaglikse werk sien. Wie dit so kan sien, kan ook sien waarom hy met blydskap mag werk, omdat hy voor God se aangesig werk. Wie dit so sien, kan ook sien waar sy volgende maaltyd vandaan kom. Ons kyk nou nog ten slotte hoe God wil hê dat ons ons besittings moet gebruik.

3. God maak ons rentmeesters oor sy besittings. Hierdie rentmeesterskap het egter slegs betrekking op die aardse goedere wat God my toebedeel het en nie oor die goedere wat Hy vir my buurman toebedeel het nie. Ons sien dus dat God aan die mens tog wel 'n sekere reg van besit gee. Die 8e gebod: “Jy mag nie steel nie”, impliseer tog ‘n sekere reg van besit? Die feit dat ek nie die besittings van ‘n ander mag steel nie, wys tog dat ek nie reg het op daardie persoon se besittings nie; hy het reg daarop, dit is sy besittings. Uit die 8e gebod sien ons dus dat God bepaalde stoflike besittings aan bepaalde mense toewys. Daar is dus reg van besit: hierdie motor en hierdie huis behoort aan my en daardie rekenaar en daardie fiets behoort aan my buurman. Hierdie motor en hierdie huis het God aan my toegewys om daaroor beheer uit te oefen; ek het besitreg daaroor. Daardie rekenaar en daardie fiets het God aan my buurman gegee; hy het besitreg dáároor.

Dit is egter belangrik dat ons sal raaksien dat die besitreg wat ons oor ons besittings het, nooit absolute besitreg is nie. Ek het nie besitreg oor my stoflik besittings sodat ek daarmee kan maak soos wat ek wil nie. Besitreg is altyd besitreg in verantwoordelikheid aan die Gewer: verantwoordelikheid oor hoe ons hierdie besittings verkry het, maar ook verantwoordelikheid oor wat ons daarmee gemaak het en steeds maak! Ja, wat doen u met dít wat u van die Here ontvang het en wat u deur arbeid verkry het?

Want, broeders en susters, ons is nie klaar met hierdie gebod as ons maar net nalaat wat God verbied nie. God verlos nie slegs van sonde deur Christus nie, Hy maak ons ook, deur die Gees, tot nuwe mense wat vir Hom gaan lewe. God stel ons nie deur die verlossing slegs in ‘n neutrale posisie teenoor die sonde nie; nee, Hy maak ons tot sy kinders wat die sonde haat en dan ook die goeie gaan soek. Daarom moet ons ook kyk wat beteken die 8e gebod konkreet vir ons lewe met God. Wie leer sien het dat alles wat ons besit God se gawes is wat Christus vir ons verwerf het, leer ook om met daardie gawes om te gaan; hy leer sien dat hy met sy besittings mag meewerk aan die herskepping.

Die Kategismus leer ons dat ons hard moet werk om aan die behoeftiges te kan gee en só ook die belange van ons naaste te bevorder. Die bevel is dus duidelik: “Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n” (Filip. 2:4). In al u handelinge, in al u omgang met medemense, in alle besigheidskontrakte, in alle verhuring, in alle koop en verkoop, moet u dus nie slegs aan uself dink nie, maar ook u naaste se belange bevorder. Want, en dit leer Paulus ons verder in Filip. 2, dit is die gesindheid wat ook in Christus was; Hy wat God is, was bereid om mens te word, sodat ons belange bevorder kan word. Ja, u sieleheil het Hy kom bewerk. Hy het Homself verneder tot in die dood aan die kruis, juis sodat ons vandag met blydskap en dankbaarheid mag uitdeel aan die armes om ons heen. Hy het alles verwerf wat ons vandag IS en HET. Daarom kom vra Hy ook van ons dieselfde diensbaarheid: “My kinders, deel uit, help ander, juis omdat julle alles het”.

Ons staan dus met ons besittings in diens van God en ons naaste. En hierdie diens is ampsdiens. Wanneer ek met my besittings my naaste dien, is ek besig om my onderkoningskap na vore te bring. En gemeente, laat ons dit van ons Verlosser, Christus, leer. Om onderkoning te wees beteken nie om met kroon op die kop in jou paleis te sit nie. Onderkoningskap is ampsdiens; ampsdiens gerig op liefde tot God, maar ook op liefdevolle versorging van ons naaste; om langs my arm naaste te gaan staan en met ons versorging te wys: dít is die liefdevolle God wat hierdie wêreld regeer; Hy wil ook jou versorg. En gemeente, ons leef in ‘n land waar die armes en behoeftiges skreeu om hulp – daarom behoort ons, kinders van die Here in Suid-Afrika, beter as baie ander te weet wat dit beteken om onderkoning op hierdie aarde te wees; van ons troontjie af en knielend by die armes en die siekes. Ja, dan sal (in die woorde van Christus) die armes altyd by ons wees, maar dan neem ons daarmee nooit genoeë nie; armes in die samelewing is nooit ‘n natuurlike saak nie. Ons wat sig het op hoe dit was in die begin (by die skepping) met ons persoonlik, kry ook sig op hoe dit in die begin moes gewees het met ons medemense. En dan kom daar by elke gelowige ‘n bewoënheid oor ons naaste. Dan kom daar ‘n begeerte om liefdesdiens te verrig teenoor ons naaste – ook daardie naaste wat sleg lyk en ruik. Dan begeer ons om ons naaste se belange te bevorder. En dan mag ons ook daarna streef dat daar vir alle mense goeie werk is, dat daar vir alle mense ook genoeg is om te eet. Dit is deel van ons sendingsopdrag! Dan kom werklik tot uiting wat dit beteken om rentmeester te wees wat God met sy gawes dien. Eers dan word God verheerlik!

Laat ons daarom op hierdie manier onsself anders bewys as die wêreld; die wêreld moet vir hulleself trone bou om onderkonings te kan wees. Die wêreld moet krone op die kop sit om te wys wie hulle is. Maar ons, ons IS onderkonings, deur Christus! En hoe wys ons wie koning is? Ons deel uit, ‘n kospakkie hier, ‘n paar rand daar, hulp hier en ondersteuning daar – sodat mense kan sien wie die Koning is; slegs op dié manier laat ons die Lig van Christus skyn. Gemeente, ons Koning gee ons alles, waarom sou ons, as onderkonings, dan iets terughou?
En gemeente, dit beteken nie ons moet ten alle koste help nie. Die Kategismus stel self 'n beperking in: “…waar ek kan en mag…”. Nie altyd waar ek iemand kan help, mag ek dit doen nie; ek mag immers nie my naaste help om die kwade te doen. En nie altyd waar ek iemand mag help, is ek in staat om dit te doen nie. Die Here vra dus wysheid in ons omgang met ons aardse besittings, maar dit is 'n wysheid wat voortdurend soek om die belange van ons naaste te bevorder.
Dit is 'n pragtige saak wat ons hier bely: ons mag barmhartigheid bewys. Ons mag dit doen, ons almal. Nie slegs die rykes onder ons mag van hulle oorvloed aan die armes gee nie, maar ook die minder gegoedes mag met hulle arbeid die behoeftiges te hulp kom. Die barmhartigheid is so 'n heerlike deug dat dit nie slegs deur die rykes nie, maar ook deur die armes beoefen moet word. Die barmhartigheid is 'n werk van liefde en daarom moet elkeen van ons ook daarna streef om hierdie liefdesdiens te kan bewys.

Wat 'n rykdom, gemeente, om die God te mag ken wat verlos van die dood en wat dan ook tot in besonderhede wys hoe ons met Hom mag lewe. Moenie hierdie onderwys van God in die wind slaan nie, maar gryp dit aan. Sny dan maar in u eie vlees as dit nodig is, want ook hierdie gebod wil aan die lewe met die Here vorm gee, ook hierdie gebod wil die verhouding met ons God laat blom. Ook hierdie gebod wil ons ‘n kykie gee op hoe dit in die ewigheid gaan wees, waar diewe nie steel en waar mot of roes nie verniel nie, maar waar ons ‘n skat sal hê wat nimmer vergaan in ewigheid.

Amen

Liturgie (aand)

• Groet en afkondigings
• Votum en seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak. Genade vir julle en vrede van God ons Vader en van die Here Jesus Christus. Amen.
• Antwoord met Ps. 97:1,6
• Gebed
• Lees kort nagmaalsformulier
• Aan tafel: lees 2 Thessalonicense 3:6-13; sing Ps. 65:2 en 3
• Voltooi nagmaalsformulier en dankgebed
• Heidelbergse Kategismus, Sondag 42
• Preek
• Antwoord met Ps. 62:5,7,8
• Gebed
• Kollekte
• Slotsang: Ps. 104:14,15,17,18
• Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Liturgie: 

(kyk in preek)