Wees nugter en wandel in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-11-27
Text: 
Prediker 7
Preek Inhoud: 

Prediker 7:15-22

Ds C Kleyn - Sondag 27 November 2005

Lees: Prediker 7: 7-22, Prediker 8: 11-14.
Sing: Ps 99:1,2; Ps 99:3-5; Ps 73:1,2,5,6; Ps 37:1-6;
Ps 130:3,4 (1ste Beryming).

Tema: Wees nugter en wandel in vrees gedurende die tyd
van julle vreemdelingskap

Die nugterheid hou rekening met

  1. die sonde in die wêreld
  2. God se toorn
  3. eie swakheid

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Matigheid die beste, dis hoe ons Bybelvertaling volgens die
opskrif bo die hoofstuk ons teks saamvat. Matigheid die beste.
Pasop vir uiterstes. Ons teks sê mos: wees nie alte regverdig
nie en wees nie alte goddeloos nie. Verrassende woorde. Wees nie
alte regverdig nie. Kan ’n mens dan te regverdig wees?
Regverdig is tog regverdig. Is dit dan nie nodig om in alles
volgens God se wil te lewe nie? Wees nie alte goddeloos nie. Mag
jy dan wel ’n bietjie goddeloos wees? Moet jy dan maar die
gulde middeweg tussen die twee uiterstes kies? Nie te regverdig
en ook nie te goddeloos nie? So van: dit let nie so nou nie
solank as jy dit maar nie te bont maak nie?

Is dit wat ons teks bedoel? Is dit die boodskap van die Gees
aan die gemeente?

Kom ons kyk na die teks. Ek verkondig vir julle:

“Prediker roep op tot geestelike nugterheid” oftewel
“Wees nugter en wandel in vrees gedurende die tyd van julle
vreemdelingskap” (nav 1 Petr 1:13,17).

Die nugterheid hou rekening met

  1. die sonde in die wêreld
  2. God se toorn
  3. eie swakheid

Die Prediker sien opnuut iets wat onregverdig lyk: Daar is
’n regverdige wat ondanks sy regverdigheid omkom, en daar is
’n goddelose wat ondanks sy goddeloosheid lank lewe. Die
regverdige is hy wat na die wil van God lewe. Hy wil die Here in
alles trou dien, ondanks die ontrou en afval van mense rondom hom.
Maar sy trou, sy toewyding aan die Here eindig in ’n
vroegtydige dood. Wat het geword van God se belofte dat die met
die regverdige goed sal gaan en met die goddelose sleg? Jy merk
niks van die loon wat God belowe het nie. Inteendeel. Die
regverdige sterf ontydig, terwyl die goddelose ’n lang lewe
ontvang. Die man wat hom nie aan God of sy gebod steur nie, lyk
beter af te wees as die regverdige. Van sy verdiende straf merk
jy niks nie.

Prediker het dit konkreet in sy eie dae gesien. Die kerk
beleef moeilike tye. Hulle moet buig onder ’n
antichristelike wêreldmag en baie onreg verdra. In die situasie
lyk dit asof die ontroues onder God se volk, die verbondsbrekers
beter af is as die getroues wat met toewyding die Here dien. Dit
lyk selfs asof die verbondsbrekers deur die Here bevoordeel word:
hulle ontvang ’n lang en voorspoedige lewe.

Ook in ons land kom die vraag soms op: watter voordeel het dit
om trou te bly? Moet ek die wette van die land getrou naleef as
ek merk dat die wette massaal verbreek word en dat mense deur die
sistematiese oortreding daarvan beter af is? Dit lyk daarop dat
geweld en onreg in ons land loon. En dat die regverdiges wat die
owerheid as God se dienares gehoorsaam, steeds meer die dupe word
van algemene ongehoorsaamheid.

’n Mens kan verstaan dat so ’n situasie reaksies
oproep. As jy merk dat die regverdige benadeel word en dat die
goddelose bevoordeel word, dan is daar die neiging om een van
twee dinge te doen: óf jy neem dit self nie meer so nou met jou
gehoorsaamheid óf jy neem die reg in jou eie hande om die
goddelose sy verdiende straf te gee. Julle herken beide reaksies
wel in ons land. Omdat mense sien dat sekere wette strafloos
oortree word, neem die oortreding toe. Dit is klaarblyklik lonend
om oneerlik te wees en geweld te gebruik. Aan die ander kant
groei daar by ’n deel van die bevolking die neiging om as
die owerheid nie optree nie, die reg maar in eie hande te neem en
die oortreders self maar te straf.

Hierdie voorbeelde verduidelik wat Prediker vir ons in ons
teks wil sê. Die reaksie van die reg in eie hande neem word
beskryf in vers 10 waar staan: wees nie alte regverdig nie en hou
jou nie buitengewoon wys nie: waarom sou jy jouself te gronde rig?

Jy kan op die onreg super regverdig reageer. Dan kan jy geen
oortreding meer sien nie. Elke kwaad moet onmiddellik bestraf
word. Daarom slaan jy daarop in, letterlik en figuurlik. Die
sondaar moet voel dat hy nie sommer God se gebooie kan oortree
nie.

Deur so ’n houding rig jy jouself te gronde. As jy
fanatiek daarop inslaan, stamp jy voortdurend jou kop. Jy word
uiteindelik radeloos daarvan. Dit is ondoenlik om alle sonde te
bestraf en uit te roei. Hier op aarde bly dit onvolmaak. Die
goddelike reg sal hier nooit ten volle nageleef word nie. Ons kan
die onreg hier nie wegdink nie. Dit is nog geen hemel op aarde
nie. En ons kan van die aarde geen hemel maak nie. Ons kan al die
menselewens op aarde nie na bo, na God toe, ombuig nie.

Wie dit dink raak gedisillusioneer. So ’n perfeksionis
loop te pletter teen die muur van die sonde in hierdie wêreld.
Die mag van die sonde verhinder jou om die lewe om te buig soos
jy dit wil hê. Dit kan geen mens doen nie. Ons het steeds met
die mag van die sonde te make waardeur onreg soms selfs
gelegaliseer word. Ons leef in ’n onvolmaakte wêreld.
Daarmee sal ek rekening moet hou. Dit geld veral as jy onder
’n antichristelike mag moet lewe, soos die Jode in Predikers
dae. Daarom roep Prediker ook op tot geestelike nugterheid. Mense,
wees wakker. Ken jou tyd. Moenie jou van stryk af laat raak deur
die onreg wat daar heers nie. En gryp nie eiemagtig in om die
onreg te straf nie.

Paulus sê dit so in Rom 12: “Moenie julle wreek nie,
geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe:
Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.”
Ons sal geduld moet hê en moet wag op God se tyd. As ek in
fanatisme die reg in eie hande neem, dan gedra ek my alte wys. Ek
wil dan wyser as God wees, God wat ook vir die onreg plek en tyd
bepaal het. God het in sekere sin ook die kromme gewil. Hy wil
die mense daardeur beproef, lees ons in Prediker 3. As ek super-regverdig
op die onreg reageer en daarop inslaan, dan loop ek voor God uit
en neem ek van God oor. God sal die onreg vergeld op sy tyd.
Moenie hom daarin vooruit loop nie. As Hy dit nie nou doen deur
die owerheid, sy dienaar, nie, dan sal Hy dit later wel doen. Die
Jode van Prediker se dae moet hulle hou aan die deur God
ingestelde weë. Hulle mag nie eiemagtig na die swaard gaan gryp
nie. Wie na die swaard gryp sal deur die swaard omkom. Deur
eiemagtige optrede roep jy ontydige konflikte op. Dit is ’n
ywer sonder verstand, ’n ywer wat teen die mag van die sonde
stukkend loop. God gee aan die sonde en onreg nog ’n plek.
Geestelike nugterheid is nodig. Nugterheid wat die tye van die
Here verstaan en met die sonde in die wêreld rekening hou.

Die nugterheid hou ook rekening met God se toorn is die tweede
gedagte. ’n Mens kan ook op die onreg in die wêreld reageer
deur self die teuels te laat vaar. As die sonde nie gestraf word
nie en skynbaar loon, waarom sou ek die moeite doen om God se
gebooie na te leef? Ek het reeds gewys op die situasie in ons eie
land. Die oortreding neem toe deurdat oortreders dikwels nie
gevang en gestraf word nie en hulle daaruit voordeel trek.

Wat onder ons nasie gebeur kan ook onder die volk van God
gebeur. Dit het ook metterdaad onder die volk van God van
Prediker se dae gebeur. ’n Deel van die volk sien die
voorspoed van die goddeloses en vra: watter nut het dit om die
Here te bly dien. Maak dit nog sin om getrou die wil van die Here
te doen as jy niks van die loon van die regverdige merk nie, as
jy juis die teendeel merk, naamlik dat die goddelose beter af is?
Kerkmense van daardie dae begin onder die druk van die
omstandighede om ’n kompromie met die sonde te sluit. Hulle
begin hulle aanpas aan die heidense praktyke. Hulle dink dat
hulle daardeur hulleself kan verseker van ’n rustige lewe en
aardse voorspoed. Na ’n rukkie steur hulle hulle nie meer
aan God se verbond en woorde nie.

Daarom hoor ons: Wees nie alte goddeloos, en wees nie dwaas
nie. Moenie maak asof God en sy gebooie ten lewe nie bestaan nie.
Al is daar goddeloses wat lang lewe, moenie dink dat God alles
tolereer nie. Om met die goddelose wêreld saam te doen is geen
waarborg vir ’n rustige en voorspoedige lewe nie. Jy kry dan
te doen met die toorn van God wat hom op sy tyd sal laat geld. Jy
sal dit nie ontglip nie. Hoe dwaas is dit om te maak asof God Hom
nie werklik oor die sonde vertoorn nie en dit ongestraf sal laat.
As jy jouself aan die sonde oorgee, dan sal jy ook deur die sonde
verteer word. Jy roep daarmee ’n oordeel oor jouself uit.
Waarom sou jy sterwe voor jou tyd? God kan plotseling ingryp en
jou met sy gerig tref. Die owerheid kan jou onreg op die spoor
kom en jou tronk toe stuur. Waar bly dan die pragtige lewe wat jy
opgebou het? Die digter Asaf kom in Ps 73 tot die konklusie:
“Waarlik, U stel hulle (die goddelose) op gladde plekke; U
laat hulle in puin val. Hoe word hulle in ’n oomblik ’n
voorwerp van verbasing, vergaan hulle, raak hulle tot niet deur
verskrikkinge. Soos ’n droom nadat ’n mens wakker word,
o Here, so verag U, as U opwaak, hulle beeld.”

Skyn bedrieg. Dit kan lyk asof die goddeloses, hulle wat God
se verbond verlaat, in die wêreld voorspoedig is. Hulle word met
rus gelaat en kan profiteer van die stad van die mens. Maar
feitelik sit hulle op gladde paaie. Niks is so wankelbaar as dit
wat die mens vir homself opgebou het nie. Op God se tyd val dit
in puin. Die veragters van die verbond sal uiteindelik merk dat
God nie alles laat gaan nie. Maar dan sal dit te laat wees.

Daarom is geestelike nugterheid nou nodig. As jy helder van
gees en nugter is dan sien jy meer as wat die natuurlike oog sien.
Verlig deur God se Gees sien jy die mag van die sonde, maar ook
God se regverdige toorn. Jy hou met God rekening. Daarom staan jy
nie onverskillig teenoor die sonde nie. Daarom sluit jy geen
kompromie met die sonde nie. Jy vind dit selfs verskriklik om
’n klein bietjie goddeloos en dwaas te wees. Jy weet dat God
hom oor alle sonde verskriklik vertoorn.

Dis, broers en susters, dus dwaas om uit vers 17 te konkludeer
dat ’n bietjie goddeloosheid wel toegestaan is solank as jy
maar nie te goddeloos is nie. Die teks bestry onverskilligheid
waarby jy vanweë die onreg dink dat dit blykbaar nie erg is om
God se wil te ignoreer nie. God laat nie met homself spot nie.
Daar moet die kerk onder die kruis ook rekening mee hou. Die
omstandighede vorm geen verskoning nie, maar moet jou juis
daartoe dring om in geloof op die Here te wag.

Prediker vervolg dan ook dat die wat God vrees, aan dit alles
ontkom. Jy ontkom aan die sonde van fanatisme én aan die sonde
van onverskilligheid met hul verskriklike gevolge. As godvresende
laat jy jou nie van stryk bring deur die situasie in die wêreld
nie, waar dit lyk asof onreg beloon word. As gelowige maak jy
erns met God se liefde en trou. Jy vertrou jouself toe aan Vader.
Jy laat alles rustig aan Vader oor. Jy maak ook erns met God se
toorn. Jy weet dat God die verlating van Hom en sy gebooie nie
ongestraf sal laat bly nie.

Gemeente, dit kom aan op wysheid. En dan bedoel ons met
wysheid geestelike insig, geestelike nugterheid. Die wysheid is
niks anders as die vrees van die Here, waarby jy steeds die Here
voor oë hou, die Here soek en volg. Asaf is gekwel deur die
probleem van die voorspoed van die goddeloses. Totdat hy God se
heiligdom ingaan. Daar gaan sy oë weer oop vir die volle
werklikheid, vir God se werklikheid. God verlig daar sy duistere
verstand. Sodat hy alles weer in die regte perspektief sien. So
ontvang hy ’n krag wat die geweld van die goddeloses oortref.
Die wysheid versterk die wyse immers meer as tien maghebbers wat
in die stad is (vers19). As wyse sien jy jou eie beskeie plek op
aarde. Jy aanvaar die plek wat God jou gee. As kind van God,
onder God. Onder alle omstandighede sien jy die wyse raad van die
Here. Jy hoef nooit ten einde raad te wees nie.

Die maghebbers beskik oor uiterlike mag. Maar hul mag en
geweld is nietigheid. Hulle dink dat hulle daardeur die mense kan
dwing om te doen wat hulle wil hê. Maar hulle kan die ware
wysheid nie hanteer nie. Hulle kan dit nie breek nie. Die wyse
besit ’n geestelike krag wat hulle nie kan kleinkry nie.
Daarom is dit die maghebbers wat feitelik ten einde raad is.
Daarom moet hulle geweld gebruik. Maar die vraag kan gestel word:
wie is sterker: die man wat in woede daarop losslaan of die wat
geslaan word en homself beheers. So moet jy nie miskyk wanneer
gelowiges terwille van die evangelie moet ly nie. Selfs die
gelowige in ’n konsentrasie kamp besit meer krag as die
geweldenaars wat hom martel. Ook al word sy liggaamlike kragte
stukkend geslaan. Hy besit ’n innerlike geestelike krag wat
selfs die dood nie kan uitroei nie. Die geweldenaar is daar
slegter aan toe. Hy gaan hom te buite. Hy het homself nie in
beheer nie, maar hy word beheer deur sondige begeertes wat hom
verwoes. Hy kry uiteindelik te make met die toorn van God wat
’n verterende vuur is.

Gemeente, Prediker roep ons ten slotte ook op om met ons eie
swakheid rekening te hou. Dit is die derde gedagte. Die sonde
moet bestry word. Ook al mag dit nie op die wyse van die
fanatikus wat die reg in eie hande neem nie. Die sonde moet deur
ons gestraf word volgens die reël van die verse 20-22. As jy
daarna handel, dan is jy wys. Jy voorkom dan ontydige konflikte.
Jy leer dan om positief op die samelewing in te speel en die lewe,
vir sover dit moontlik is, op te bou.

In die omgang met ander, kan jy nie altyd oral ’n saak
van maak nie. Ek moet besef dat ek in ’n gebroke wêreld
lewe. Daar is niemand op aarde so regverdig dat hy goed doen
sonder om te sondig nie. My eie lewe is ook nog onvolkome. Hoe
kan ek dan verwag dat die lewe van my naaste volkome sal wees?
Laat ek in my omgang met ander dan versigtig en geduldig wees,
terwyl ek op myself let. Hoe moeilik is dit nie om die sonde in
my eie lewe te oorwin nie en om verkeerde gewoontes of gedagtes
uit te roei nie. In kerk en samelewing het jy te make met
allerlei soorte mense. Elkeen met sy eie agtergrond en gewoontes.
Dit is ’n goeie saak, ja ons Christelike plig om mekaar te
wys op praktyke wat nie goed is nie. Maar laat ek dit wel in
liefde en nederigheid doen. Moenie uit die hoogte die ander betig
nie. Is ook my lewe nie met sonde bevlek nie? En hoe dikwels het
ook ek nie sekere gewoontes aangeleer wat nie die toets kan
deurstaan nie? ’n Mens kan sy agtergrond meestal nie verberg
nie. Ons sal geduld met mekaar moet hê. Langs mekaar gaan staan
om saam teen die sonde en alle las wat ons in die pad staan te
stry. Dan eers kan ons mekaar werklik help.

Prediker noem as voorbeeld die sonde van die tong. “Jy
moet ook nie let op al die woorde wat die mense spreek nie, sodat
jy nie hoor dat jou dienaar jou vloek nie. Want jou eie hart weet
ook van baie gevalle dat jy self ook ander gevloek het.”
Moenie alles wil weet en hoor wat gesê word nie. Dan het jy geen
lewe nie. Besef jy wel hoe dikwels jy self nie slegte dinge teen
jou naaste gedink en geuit het nie. Dit is ook dikwels so dat
diegene wat baie moeite het met wat ander oor hulle sou dink of
sê, dikwels self daaraan skuldig is. Ons leef in ’n
onvolkome wêreld. En dit begin by myself. Daarom sal ons baie
oor ons moet laat heengaan. Anders is die samelewing nie moontlik
nie. Ek kan nie altyd onmiddellik ’n groot bohaai van elke
saak maak nie. As elkeen dit sou doen, dan sou ek ook lankal
heeltemal veroordeel staan.

Daarom is geestelike nugterheid vereis. Wees nie alte
regverdig nie. Hou rekening met die sonde. Ons leef nog nie in
die hemel nie. God gee nog ’n plek aan onreg en sonde. Wees
ook nie alte goddeloos nie. Hou rekening met God se toorn. Speel
nie ’n speletjie met God se verbond en woorde nie. Maak geen
hel van die aarde nie. Hou ook rekening met jou eie swakheid.
Moenie ’n groot bohaai maak oor wat ander dink of doen nie.
Gaan in liefde langs jou broer of suster as ’n medesondaar
staan in die gemeenskaplike stryd teen die sonde. Dan is julle as
verbondsvolk onvoorstelbaar sterk en magtig in ’n sondige en
vyandige wêreld.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)