Die wyse aanvaar geduldig wat God beskik

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-10-23
Text: 
Prediker 7
Preek Inhoud: 

Prediker 7:7-14

Ds C Kleyn - Sondag 23 Oktober 2005

Lees: Prediker 7:1-14.
Sing: Ps 113:1,2; Ps 86:3,6; Ps 73:1,2,6,7; Ps
111:1,2,4,5; Ps 77:6,7.

Tema: Die wyse aanvaar geduldig wat God beskik

Daarom:

  1. Wees geduldig
  2. Let op God se werk

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe dikwels verkeer God se kinders nie in moeilike
omstandighede nie. Daar is onreg, verdrukking, magsmisbruik,
korrupsie, bloed en trane. Die situasie kan soms uitsigloos lyk.
Ons teks praat ook van dit wat God krom gemaak het. Wie ervaar
die pad wat die Here met ons en die volke stap nie dikwels as
krom nie? Wat moet jy met so ’n krom en korrupte wêreld
maak? Ons teks gee duidelike rigting. Ek vat die woorde van die
teks as volg vir julle saam:

Die wyse aanvaar geduldig wat God beskik

Daarom:

  1. Wees geduldig
  2. Let op God se werk.

Wat doen ’n mens as jy ontevrede is met wat jy vandag het?
Na jou mening verdien jy nie genoeg geld nie. Jy kan nog soveel
meer gebruik. Veral as jy let op wat jou vriende almal het en
doen, terwyl jy maar sukkel om te oorleef. Sulke gevoelens is
’n goeie voedingsbodem vir korrupsie. Ons sien dit in ons
land. Die teks noem twee voorbeelde daarvan. “Sekerlik,
afpersing maak ’n wyse dwaas, en ’n geskenk bederwe die
hart.” Afpersing. Jy het ’n sekere mag oor iemand. Jy
het moontlik ’n belangrike funksie, ’n magsposisie.
Sekere dinge hang van jou af. Sonder jou kan mense die dinge nie
gedoen kry nie. Jy weet dit en misbruik dit om daarvan ryker te
word. Of jy weet iets van ’n persoon wat vertroulik moet bly.
Sou jy die informasie bekend maak, dan sou die persoon in groot
moeilikheid wees. Jy vra dan geld of iets anders in ruil vir jou
stilswye. Die persoon kan nie anders nie en gee jou wat jou eis.
Afpersing. Daar is niks nuuts onder die son nie. Hierdie
magsmisbruik, uitbuiting van ander was reeds in Prediker se dae.
Die gelowiges het daaronder gely.

Dan is daar ook nog die omkoopgeskenke. Die rykes kan alles
gedoen kry. As jy maar geld het en die regte mense ken, dan kan
jy ook in ons samelewing so te sê met moord wegkom. Jy kan
daarmee getuies omkoop. Daardeur kan jy die reg verydel. Die reg
van die swakkes en armes vertrap. Omkoopgeld tas die
oordeelsvermoë van mense aan. Moses het reeds daarvoor gewaarsku
in Exodus 23:8: “Ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie;
want die geskenk maak die siendes blind en verdraai die sake van
die regverdiges.” Wie ’n geskenk aanneem, kan nie meer
onbevange oor ’n saak oordeel nie. Deur omkoopgeskenke kan
jy ook daarvoor sorg dat jy in die sakewêreld die groot
kontrakte kry. Die eerlike sakeman het dan geen skyn van kans nie.
Hy moet dan toesien dat die kontrakte van die staatsdiens en
ander organisasies wat van staatsondersteuning afhanklik is, aan
hom verby gaan, ook al is hy goedkoper en kan hy ’n beter
produk lewer. Sulke dinge gebeur massaal in ons land onder die
vlag van black empowerment. ’n Groot frustrasie vir eerlike
en bekwame sakemense. ’n Ramp vir ons land.

Wat doen jy in so ’n situasie. Jy kan jou verskriklik
verontreg voel. Jou daaraan vererg. Jouself jammer kry. Of selfs
daartoe verlei word om die vuil speletjie saam te speel. Jy moet
tog oorleef in hierdie korrupte wêreld? Maar wat sê Prediker
vir ons. “Sekerlik, afpersing maak ’n wyse dwaas, en
’n geskenk bederwe die hart.” Prediker leer ons om die
moeites van die tyd in ’n ander perspektief te sien. As
slagoffer van afpersing of korrupsie hoef jy jouself nie jammer
te kry nie. Nie jy is beklaenswaardig nie, maar juis diegene wat
korrup is, is beklaenswaardig. Hulle het dwaas geword en laat
hulle hart bederwe. Dit lyk asof hulle in beheer is, hulle kan
maak wat hulle wil, maar hulle is dwaas, hulle hou geen rekening
met God nie en hulle is slawe van sonde en verderf. Hebsug en
magswellus het hulle in hul mag. Daardeur vergryp hulle hul aan
wat hulle nie toekom nie. En hulle kom daarmee weg totdat God
ingryp tydens hierdie lewe – soos mense wat in ons land deur
die skerpioene opgespoor word – of later wanneer hulle voor
Christus se regbank moet verskyn. Verkyk jou nie op hul tydelike
voorspoed nie. Dis uiteindelik ’n ramp vir hulle. Jy wil tog
nie saam met hulle dwaas word nie en jou hart bederwe nie? Bid
vir hulle bekering. Ja, bid vir jou eie bekering dat jy nie in
die sonde van onreg en hebsug verstrik raak nie. Dis baie beter
om nou arm en verdruk te wees, maar ryk in God as om nou ryk te
wees en arm in God.

In vers 8 vervolg die Prediker: “Die einde van ’n
saak is beter as sy begin.” ’n Kras uitspraak. Hoe kan
hy dit sê? Soms kan die omgekeerde waar wees. Jy kan iets met
vreugde en voorspoed begin. Maar dit kan uiteindelik op ’n
fiasko uitloop. Is dan die einde van ’n saak beter as sy
begin? Ons het hier duidelik met ’n spreuk te doen wat een
deel van die waarheid skerp belig. Jy moet die spreuk dan ook nie
verabsoluteer nie. Op watter manier is die einde van ’n saak
beter as sy begin? In die konteks sou jy kan dink aan die lot van
die gelowige wat slagoffer is van die korrupsie wat in die vorige
vers genoem word. Aanvanklik lyk dit asof jy sleg af is. Maar die
einde van die storie is dat jy juis goed af is terwyl die
korrupte mense sleg af is. Hulle sal hul verdiende straf kry. Nou
verwant hiermee kan die spreuk ook so verklaar word: Aan die
begin weet jy nog nie waarop die saak sal uitloop nie. Jy oorsien
dit nog nie. Om ’n saak goed te beoordeel kos tyd en geduld.
Aan die einde word die afloop van die saak duidelik. Dan eers
besef jy ten volle die waarde daarvan. Daarom kan jy beter
daaragter staan as daarvoor.

Geduld is nodig. Daarom vervolg die Prediker: “’n
Lankmoedige is beter as ’n hoogmoedige.” ’n
hoogmoedige mens het geen geduld nie. Jy staan onmiddellik klaar
met jou oordeel. Jy dink dat jy onmiddellik die juiste waarde van
die dinge kan vasstel. Daarom beteken geld en mag soveel vir jou.
As hoogmoedige buig jy jou nie vir God en sy woord nie. Jy weet
beter. Tenminste dit dink jy. Maar daardeur vergis jy jou
verskriklik. In jou selfoorskatting is jy blind vir die grense
van jou kennis en vermoë. Jy hou geen rekening met die sonde en
met Christus wat regeer nie. Daardeur het jy ’n verkeerde
beeld van die werklikheid. Jy is soos die rewolusionêr wat alles
wat in die kerk en wêreld krom is, sommer gou sal reg buig na
jou ideale. As hoogmoedige lyk jy moedig en sterk. Jy kry dinge
gedaan. Geen nonsens nie. Maar as daar teenslag is, groot
persoonlike moeites, dan staan jy magteloos. Jy weet nie hoe om
dit te hanteer nie. Waarom nie? Omdat jy die groot prentjie van
God nie sien nie. Omdat jy nie met God deur die lewe gaan nie, in
goeie en kwade dae. Jou wêreld stort letterlik inmekaar.

Daarom is ’n lankmoedige beter as ’n hoogmoedige. As
lankmoedige ken jy tyd en wyse. Jy wag geduldig af hoe die
geskiedenis hom onder God se leiding sal ontwikkel. Jy skik jou
ootmoedig op die plek wat God jou in hierdie gebroke werklikheid
toewys. Jy vergryp jou nie aan wat jou nie toekom nie. Jy wag tot
God jou reg sal verskaf. Jy gee gehoor aan Paulus se oproep in 1
Kor 4:5: “Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel,
voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die
duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte
openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.”
Jy weet dat God sy plan uitvoer op sy tyd en wyse. En jy laat dit
geduldig aan Hom oor.

So vervolg die Prediker: “wees nie haastig in jou gees om
jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase.”
Ek leef in ’n sondige en gebroke wêreld. Daagliks loop ek
vas teen dinge waaroor ek my kan kwaad maak. Slegte diens van
munisipaliteite of staatsdepartemente. Onverantwoordelike bestuur.
Domme, niksseggende antwoorde van mense of instansies aan wie ons
’n versoek gerig het. Verkwisting van tyd en geld. Roekelose
motorbestuurders op die pad. Ongemotiveerde werkers. Slordige
werk. Ens ens. Ook in die kerk kan jy allerlei dinge raakloop wat
ergernis wek. Wat verwag jy as jy te doen het met ’n klomp
sondige mensekinders waarvan jy self een is. Daarom die raad van
God: “wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie.”
Vererg jou nie onmiddellik nie.

Ja, jy kan rede hê om kwaad te word. ’n Wyse kan hom
vererg. Dink maar aan wat ons lees in Spr 28:4 “Die wat die
wet verlaat, hulle prys die goddelose; maar die wat die wet
onderhou, word vererg oor hulle.” Ons teks sê ook nie dat
ons ons nooit mag vererg nie. Dit is vergelykbaar met wat ons
lees in Jak 1:19: “Wees gou om te hoor, stadig om te praat,
stadig om toornig te word.” Daar is ook iets soos heilige
toorn, wat Christus byvoorbeeld gewys het toe Hy die
geldwisselaars uit die tempel gedryf het. Waar God jou egter vir
waarsku is dat jy jou nie deur die ergernis moet laat beheers nie.
’n Wyse kan hom en moet hom soms vererg, maar in die hart
van die dwaas woon die ergernis. Hy word daardeur beheers. Omdat
hy hom nie onder God se bestuur wil buig nie.

Ons moet nederig erken dat daar in hierdie gebroke lewe
onnoemlik baie kwaad is wat ons nie kan beteuel nie en wat ons
daarom moet aanvaar. Ons kan nie al die kwaad in ons samelewing
sommer regruk nie. Nee, dit beteken nie dat ons werkeloos ons
daarby neerlê nie. Ons sal na vermoë daaraan moet werk dat reg
en geregtigheid geskied. Maar dan wel op ’n wettige en
opbouende manier, in afhanklikheid van en vertroue op God wat
regeer. Die dwaas kan dit nie aanvaar nie. Hy het geen geduld nie
en word verteer deur ergernis. God se wysheid kalmeer ons egter
sodat ons in die moeilikste omstandighede rustig kan aangaan tot
eer van God en tot heil van ons naaste. God se wysheid blyk goed
te wees vir ons hart en senuwees. Ons laat ons dan nie beheers
deur negatiewe gevoelens nie, maar ons leer om ons gevoelens te
beheers, sodat ons nog vrugbaar kan wees in God se koninkryk en
so ook in hierdie gebroke wêreld. Ons weet dat God ook die
huidige situasie in ons land, in die kerk en in ons gesin beheer.
En ook daar ’n doel mee het. En sy doel is beslis nie dat ek
deur negativisme of sinisme verteer sou word nie. God se doel met
ons is altyd positief, naamlik dat ons nader aan Hom gebring word
en bewuster in afhanklikheid van Hom leef en werk. Daarom wees
geduldig.

In die tweede plek wil ons sien dat ons op God se weg en werk
moet let.

Prediker waarsku in vers 10: “Moenie sê nie: hoe kom dit
dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? Want nie uit
wysheid vra jy hierna nie.” Waarom is dit nie wys nie? Kan
jy soms nie met reg sê dat die vorige dae beter was as die
teenswoordige nie? Goeie en slegte tye wissel mekaar af in ons
persoonlike lewe, kerk en samelewing. Dit kan wees dat jy nou in
baie moeiliker omstandighede leef as vroeër. Dit situasie van
die land kan ook baie slegter wees as vroeër. Dink bv aan die
huidige situasie in Zimbabwe. ’n Mens kan tereg sê dat die
situasie 10 jare gelede beter was as nou. In ons land hoor
’n mens soms ook dat dit vroeér onder die Nasionale party
baie beter in ons land was as nou. In sekere sin kan dit waar
wees. Tog sê die Prediker dat die wyse nie so praat nie. Nie
omdat daar aan die goeie ou tyd ook iets makeer het nie. Nie
omdat die verlede ten onregte geprys sou word nie. Maar omdat God
regeer en alles na sy doel lei. Jy moet nie kla oor die hede nie.
Maar jou skik na God se beleid. Om te kla wys op hoogmoed,
opstandigheid teen God se bestuur.

Jy moet toekomsgerig lewe. God het ’n bestemming met
alles. Alles pas binne sy plan. So gebruik God ook die huidige
moeilikhede, swaarkry, hartseer. Die wyse sien alles in die wye
verband. Jy staar jou nie blind op die hede nie. Dit sou
kortsigtig wees. Dit sou verhinder om die positiewe van die hede
raak te sien. Dink aan Prediker 7:1-3 wat ons juis leer dat
moeites ’n mens by die verganklikheid en erns van die lewe
bepaal en jou meer met God laat rekening hou. Die Jode in daardie
tyd het ook teruggekyk na die goeie ou tyd. Pleks dat hulle
vooruit gekyk het na Christus wat op pad was om te kom. Daardie
moeilike tyd was voorbereiding op iets beters, naamlik die koms
van Christus. So ook vandag. Op ’n sekere manier was die
verlede miskien beter. Maar God staan nie stil nie. Hy beweeg
verder op pad na die voltooiing van sy koninkryk. God se
uiteindelike doel is beter as enige fase van ontwikkeling wat
eerder bereik is. Daarom, strek jou uit na die heerlik doel
waarmee God besig is. Dan laat jy wel na om te kla oor die hede.
’n Mens kan dit vergelyk met Israel se reis deur die woestyn.
Hulle het daar ’n verskriklike tyd gehad. 40 jare lank.
Sommige het ook daarvan gepraat om terug te keer na die
vleispotte van Egipte. Was dit reg? Dit sou agteruitgang beteken
het. Dit sou ’n verloëning van die uittog beteken het. God
beweeg nie agteruit nie. Hy beweeg voorwaarts in sy
heilsgeskiedenis. In die woestyn was die Israeliete nader aan die
beloofde heil in Kanaän as in Egipte. So is ons ook, selfs te
midde van nood en dood, nader aan ons eindbestemming as soveel
jare gelede. Moenie dit vergeet nie. Bly die Here volg op pad na
die heerlike toekoms. Wees wys. Let op God se werk en pad. Dan
kla jy nie oor die hede maar strek jy jou uit na die toekoms.
Soos Christus ook verwoord in Lk 9:62: “Niemand wat sy hand
aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk
van God nie.”

Geliefdes, wysheid blyk baie werd te wees vir tyd en ewigheid.
Prediker vergelyk dit met ’n erfdeel. “Wysheid is net
so goed as ’n erfdeel en ’n voordeel vir die wat die
son sien (vers 11). Dis soos ’n familiebesit wat hier op
aarde groot voordeel bied. Veral in ’n agrariese samelewing
waar mense vir hul onderhoud van die land afhanklik is. Wysheid
word verder ’n beskutting genoem. Dit beskut jou teen die
hitte van die lewe. Dis aangenaam vir hulle wat dit geniet. Soos
geld jou lewe hier ook beskut en aangenaam kan maak. Maar die
voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in
die lewe (vers 12). ’n Familiebesit, geld is hier op aarde
waardevol, maar wysheid is baie meer werd. Dit hou jou in die
lewe. Dis ’n lewensboom. Dit stel jou in staat om werklik te
lewe in gemeenskap met die lewende God. Dit het dus blywende
waarde. Teenoor aardse besit wat net tydelik is. Wysheid bly van
waarde in lewe en sterwe. Selfs oor die graf heen, ewig. Waarom?
Omdat dit jou met God in verbinding hou. Dit laat jou met God
rekening hou. Jy neem sy liefde en ook sy toorn ernstig op. Jy
leef met God.

In aansluiting hierop vervolg die Prediker: “Aanskou die
werk van God, want wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het?”
Let aandagtig op God se werk. God regeer. Hy toon in alles wat
gebeur sy liefde, maar ook sy toorn. Wil jy met vrede in jou hart
lewe, let dan op God se werk. Want geen mossie sal op die aarde
val sonder ons Vader nie (Mt 10:29). Let op die allesomvattende
werk van God, sy soewereine wêreldbestuur. Besef in alle
nederigheid dat jy net ’n klein, swak en sondig mensekind is,
wat God se bestuur nie kan verander nie. God self het die wêreld
aan verganklikheid onderwerp, vanweë ons sondes. Wat God in die
wêreld krom gemaak het, buig jy nie reg nie. Dis wat die
rewolusionêr probeer doen.

Gemeente, die feit dat die teks hier die woord krom gebruik,
wys op die raaiselagtigheid van God se bestuur. Vir ons lyk dit
krom. Ons verstaan God se pad met ons en die wêreld dikwels nie.
God se wyse en heilsame bedoelings is nie onmiddellik duidelik
nie. Ons het ons waaroms. Besef egter dat God soewerein sy gang
gaan. Met al my waaroms, ergenis en ontevredenheid kan ek niks
daaraan verander nie. Hy is nie wisselvallig nie. Gelukkig nie.
Hy wyk nie van sy plan af na regs of links om na die of die te
luister nie. Jy kan op Hom staatmaak.

By alles wat hy sê, is die Prediker nie ’n pessimis nie.
Hy erken dat daar ook dae van voorspoed is waarvan jy mag geniet.
Daarom die laaste vers: “wees goedsmoeds op die dag van
voorspoed.” Geniet bly en dankbaar van die goeie wat God gee.
“En op die dag van onheil, bedink dan: Ook hierdie dag het
God gemaak net soos daardie.” Aanvaar elke dag as ’n
dag van die Here, op pad na die groot dag van ons Here Jesus
Christus. God weet wat Hy doen. Ook al verstaan ons dit dikwels
nie. Ons kan die toekoms nie oorsien nie. Daarop wys die laaste
woorde van die teks. Hier is die NV duideliker wanneer dit sê
dat die mens nie weet wat vir hom voorlê nie. Die onbekende
toekoms vra van my ’n gelowige vertroue op my hemelse Vader.
In voor en teenspoed werk Hy heen na sy volmaakte doel van alles
Sien God se werk raak. Aanvaar geduldig wat Hy vandag beskik.
Strek jou uit na die toekoms wat Hy belowe het, die nuwe hemel en
nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Dan sal jy nie beskaamd
staan nie. In voorspoed en teenspoed, in lewe en sterwe. God sal
sy beloftes waarmaak. Vir jou, vir sy kerk en vir die wêreld.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)