God het alles tot sy eer geskep

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-11-27
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 12
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 12

Ds C Kleyn - Sondag 27 November 2005

Lees: 2 Konings 6:11-17; Jesaja 6:1-8;
Hebreërs 1:6-14; Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 12.
Sing: Ps 91:1,6; SB 8:3-5; Ps 103:10.11;
Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 148:1,5.

Tema: God het alles tot sy eer geskep

  1. die skepping in die algemeen
  2. die skepping van die engele

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die vorige artikels van die NGB het oor die Drie-eenheid
gehandel. Ons was so te sê besig met God soos Hy in Homself is.
Hier in art 12 kry ons te doen met God wat na buite tree. Hy tree
uit sy hemelwoning uit, en Hy begin met sy werk van die skepping.
Die skepping is die eerste van God se werke wat in die Skrif aan
ons bekendgemaak word.

In ons artikel word nie ’n wetenskaplike verklaring oor
die ontstaan van die wêreld gegee nie. Daar word eenvoudig bely
dat dit geskep is. Daarmee word allerlei teorieë oor die
ontstaan van die wêreld in beginsel afgewys. As jy sê dat die
wêreld geskep is, gee jy daarmee aan dat die oorsprong van die
wêreld nie bewys kan word nie. Die wetenskap ondersoek wel die
skepping as ’n gegewe werklikheid. Die wetenskap kan
allerlei interessante en belangrike ontdekkings maak. Maar dit
kan nooit die oorsprong van die skepping bewys nie.

Gemeente, soos met alles wat God bekendgemaak het, kom dit aan
op geloof. Glo ek wat God bekendgemaak het of nie. In feite plaas
die eerste vers van die Bybel, Gen 1:1, ons voor so ’n keuse.
Daar lees ons: “In die begin het God die hemel en die aarde
geskape.” Glo jy dit, of glo jy dit nie. God vra vanaf die
eerste vers van die Bybel geloof: Aanvaar wat Ek vir jou sê. Dan
maak die Bybel vir jou sin. Dan is dit vir jou die rykste geskrif
wat bestaan, naamlik God se selfopenbaring. Op grond daarvan bely
ons: ons glo dat die Vader alles geskep het. My geloof gaan aan
my kennis van die skepping vooraf. Soos ons lees in Hebr 11:3:
“Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord
van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie
ontstaan het uit sienlike dinge nie.”

Vanaand wil ek dan vir julle verkondig: God het alles tot sy
eer geskep.

Ons let eerstens op die skepping in die algemeen en tweedens
op die skepping van die engele.

Hoe het die skepping ontstaan? Die afgelope week kon ’n
mens in Beeld lees hoe ’n sekere dr Alberts beweer dat die
lewe op die aarde duisende miljoene jare gelede ontstaan het. Dit
sou ’n noodwendige respons wees op die natuurwette wat God
gemaak het. Die oorlewingsdruk sou die organismes oor duisende
miljoene jare geleidelik laat verander het. So sou sowat 8
miljoen jaar gelede die voorvader van al die primate (aapagtige
soorte) gesplits het in die voorvaders van die ape, bobbejane,
gorillas, sjimpansees en mense. Dr Alberts meen dat God tevrede
was met die manier waarop hy die mens gemaak het, uit stof, oor
miljoene jare, deur die meganisme van natuurwette en evolusiedruk.
Hier word God en die evolusieteorie aan mekaar gekoppel. Is dit
moontlik?

Wat sê die Skepper self? In Gen 1 lees ons herhaaldelik:
“En God het gesê.” God het gesê: Laat daar lig wees.
En daar was lig. God het gesê: laat daar ’n uitspansel (’n
hemel) wees en dit was so. En God het gesê: laat die aarde
voortbring grasspruitjies, plante en bome, wat, volgens hulle
soorte, vrugte dra. En dit was so. God het weer gespreek en daar
was die son, maan en sterre, die groot seediere, visse en voëls,
vee. kruipende diere en wilde diere, elkeen na sy aard. Ten
slotte lees ons dat God na interne oorleg die mens na sy beeld
geskep het. Ps 33:6,9 vat Gen 1 soos volg saam: “Deur die
Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy
mond hulle hele leër.... want Hy het gespreek, en dit was; Hy
het gebied, en dit staan.” God het nie net natuurwette en
die evolusiedruk gegee waardeur die lewende organismes oor
duisende miljoene jare geleidelik tot ’n mens ontwikkel het
nie. Nee, God het bewus op ’n sekere oomblik plante, visse
en diere volgens hulle soorte geskep. Daarna Hy het ook bewus die
mens na sy beeld geskep. Die verskillende soorte lewende wesens
het nie uit ’n oersel ontwikkel nie. Hulle ontstaan was
’n soewereine daad van die almagtige God. Hy het gespreek en
dit was so. God self het in sy almag en wysheid ’n groot
verskeidenheid skepsels gemaak. Dis nie verniet dat God in sy
skeppingsverhaal telkens weer die woorde toevoeg: volgens hulle
soorte.

Geliefdes, die evolusieteorie en die Christelike geloof pas
nie by mekaar nie. Wie soos dr Alberts die evolusieteorie
verdedig, verloën met die daad God die Skepper, ook al roem jy
nog met die mond in God. Dis dan nie langer die enige ware God
wat Homself in sy Woord aan ons bekendmaak nie. En wanneer jy God
die Skepper verloën, verloor jy ook God die Vader. Jy kan nie
met jou gevoel God dien en met jou verstand die evolusieteorie
aanhang nie. Dan dien jy God nie werklik nie. God vra immers van
ons dat ons Hom sal liefhê met ons hele hart en met ons hele
siel en met ons hele verstand (Mt 22:37). Laat ons dan ook met
ons verstand God dien en ons aan sy openbaring onderwerp, pleks
om wyser as God te wil wees.

Gemeente, ons kan nie alles mooi verstaan nie. Daar bly baie
vrae. Tog glo en bely ons dat die Vader, toe Hy dit goedgevind
het, die hemel en die aarde en alles skepsels uit niks geskep het.
So het God dit vir my kom vertel. Daarom glo ek dit. Hoe sou ek
anders iets oor die ontstaan van die Skepping kan weet, as God
die Skepper my dit nie vertel het nie. Geen mens was mos aanwesig
toe God alles geskep het nie. Laat ons daarom nie eiewys en
beterweterig wees nie,. Die woorde wat God vir Job uit ’n
storm gesê het sodat Job weer sy kleinheid voor God sou ken, is
vandag nog baie toepaslik (Job 38:4). Daar sê die Here vir Job o.a.
“Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as
jy insig het.”

Waarom het God die wêreld geskape? Was dit omdat God eensaam
was of omdat hy ’n voorwerp van sy liefde gesoek het? Die
ewige God was nie eensaam nie. Dit was ook nie nodig vir hom om
’n voorwerp van sy liefde te soek nie. Die Bybel sê God se
wil is die begin van alles, en nie sy behoefte aan ’n
liefdesvoorwerp nie. So ’n behoefte het God nie gehad nie.
In die rykdom van sy drie-enige wese het Hy immers genoeg gehad
aan Homself. God is nie ’n slaaf van sy eie veronderstelde
behoefte nie. Hy moes nie skep nie, Hy wou skep.

God het alles gemaak vir sy doel, tot sy eer. Maar is dit nie
selfsugtig van die Here om alles tot sy eer te skep nie? Sou jy
werklik die woord selfsug vir God kan gebruik? Selfsug wys op
’n tekortkoming, ’n sonde. Daarom kan dit nie mbt ons
volmaakte God gebruik word nie. God is God. Om vir myself te lewe
is ’n daad van selfsug, is sonde. Waarom? Omdat ek vir God
geskape is. Om selfsugtig te wees, om vir myself te lewe doen
afbreuk aan God se eer. God het my geskape om vir Hom te lewe.
God is daar vir Homself. Omdat Hy God is, is sy hele skepping op
Hom gerig. Alles is gemaak om Hom, die Skepper te dien. Daarom is
ook ons menslike bestaan God gesentreer. Daarom roep die
Psalmiste voortdurend uit: Halleluja, loof die Here.

Geliefdes, dis tot eer van die Here dat elke skepsel geskep is
soos hy geskep is, na sy aard. Dalk ervaar jy dat sekere skepsels
waardeloos, lelik of skadelik is. Waarom het God hulle so gemaak?
Tog bely ons dat God elkeen sy eie wese, gestalte en voorkoms
gegee het om Hom te dien. Hou jy van spinnekoppe, miere, rotte of
slange? Tog het God elkeen tot sy eer geskep. Dis waar, die
sondeval het daar tussen gekom. Daardeur het God se mooi skepping
baie skade gely. Ons het ons vrae oor hoe dit in die Paradys
presies was en watter dinge die gevolge van die sondeval is. Vrae
wat ons nie met sekerheid kan beantwoord nie. Het vleisetende
diere voor die sondeval ander diere reeds doodgemaak? In ieder
geval weet ons dat God homself nie vergis het nie en dat Hy alle
skepsels tot sy eer so gemaak het.

Onder al die skepsels neem die mens ’n besondere plek in,
as kroon van die skepping. Ons bely selfs in ons art dat God alle
skepsels onderhou “om die mens te dien.” Die skepping
is soos ’n groot en skitterende huis, wat so ideaal as
moontlik ingerig is, volgens Calvyn. Hierdie koninklike woning is
deur God ingerig en voltooi vir die mens. Alles is so gemaak dat
die mens homself onbeskryflik gelukkig daarin sou voel. Alle
skepsels moet op die een of ander manier die mens dien. Die son
moet warmte gee, die skape gee hul wol, die myne gee delfstowwe
ens. God dien tot vandag toe die mens deur middel van hierdie
pragtige skepping, wat Hy steeds onderhou.

Wat is uiteindelik die doel hiervan? Dat ons mense God sou
dien en Hom sou prys vir alles. Geloof in God se Skeppingswerk
bepaal hoe my verhouding tot God moet wees. Die leer van die
skepping is fundamenteel vir alle godsdienstige en etiese vrae.
As God my geskep het, dan moet ek Hom erken en dien. Ek behoort
nie aan myself nie, maar aan my Skepper. Ek bestaan vanweë en
terwille van Hom. Daarom is dit ongehoord om sonder hom te lewe.

Geloof in God die Skepper bepaal ook my verhouding tot ander
mense en skepsels. God het elkeen van ons gemaak. Daarom hoort
ons by mekaar as medeskepsels. Ek moet dan ook vir die ander
ruimte gee.

Hierdie geloof in God die Skepper bepaal ook my verhouding met
die geskape wêreld. Hoewel ons ’n unieke plek in die
geskape wêreld ontvang het, mag ons die geskape wêreld nie
selfsugtig of kortsigtig misbruik nie. Ons het wel die heerskappy
ontvang maar as God se onderkonings oor God se skepping. Daarom
sal ons met respek en op ’n verantwoordelike manier met die
skepping omgaan. In Ps 24:1 lees ons: “Die aarde behoort aan
die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin
woon.”

Ons kyk nou na die skepping van die engele, die tweede gedagte
van die preek.

God het nie net die fisiese, sigbare wêreld geskep nie. Hy
het ook die onsigbare wêreld geskep, waaronder die engele.

Oor die engele weet ons maar min. Wanneer is hulle geskape?
Hoe groot is hulle getal? Wat is hulle onderlinge verskille? Hoe
is die verhoudings binne die engelewêreld? Dis enkele vrae. Daar
is meer vrae wat jy sou kan stel. Ons kry geen of byna geen
antwoord nie. Maar een saak staan vas. Die engele is daar. En
hulle dien. Hulle tree op. Hulle tree op sonder om aangekondig te
wees. Skielik is daar gerubs. Wie is hulle? Waar kom hulle
vandaan? Skielik staan daar by ’n altaar ’n engel (dink
aan die verskyning aan Sagaria in die tempel). As bybelleser leer
jy al gou dat daar behalwe mense, ook ander geskape persone is.
Ja, die engele bestaan. Maar dit gaan blykbaar veral om hul
funksie. Daarom word hulle engele genoem, wat letterlik gesante
of boodskappers beteken. Baie aandag word gevra vir wat hulle
doen. Maar ons kry min informasie oor hulle. Die Skrif bevredig
nie ons nuuskierigheid nie. Die Skrif rig ons oog op God, wat die
Here van die leërskare is. Hy het dienaars.

Op die vraag wanneer die engele geskep is, kan moeilik meer
gesê word as: waarskynlik in die begin, toe God die hemel geskep
het. Job vermeld in hoofstuk 38:7 dat die hemelinge gejubel het
by die toerusting van die aarde. Daaruit mag ons aflei dat die
skepping van die engele daaraan voorafgegaan het.

Toe God se skeppingwerk gedoen het, het die engele God nie
gehelp nie. Pleks daarvan het hulle God geloof. Om God te loof,
is die doel waarvoor die engele geskep is. Soos die hele skepping,
bestaan ook die engele tot eer van God. In Jes 6 lees ons hoe
Jesaja in ’n visioen die Here sien sit op ’n hoë en
verhewe troon. Bo die troon staan serafs, wat engele is. Ons weet
nie hoeveel van hulle daar is nie, maar ons weet wel dat hulle
besig is om hul Skepper te prys. Ons lees in vers 3: “En die
een het die ander toegesing en gesê: Heilig, heilig, heilig is
die Here van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid
vol.” In groot geesdrif besing hulle God se heiligheid,
terwyl hulle mekaar God se lof toesing.

Die engele doen meer as om God te loof. Hulle is ook God se
dienaars. Ons lees in Jes 6:2 dat hierdie serafs ses vlerke het:
met twee vleuels bedek hulle hul gesig en met twee vleuels bedek
hulle hul voete. Hulle ken hul plek en wys ’n houding van
nederigheid en eerbied in die teenwoordigheid van so ’n God.
Die ander twee vleuels gebruik die serafs om te vlieg. Dit wil
sê hulle het ’n taak om te doen, naamlik om te dien. Hulle
staan gereed om op God se bevel uit te vlieg.

Hebr 1:14 vertel ons wat die taak behels. Daar lees ons:
“Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur
word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?”
Die engele is dienaars aan die hof van ons groot Koning. Enkele
verse eerder (in vers 7) word die engele ook dienaars genoem.
Daar word Ps 104 aangehaal: “En van die engele sê Hy wel:
Hy wat van sy boodskappers winde maak en van sy dienaars
vuurvlamme.” Die boodskappers en dienaars is engele. God het
die engele gemaak om hom voor sy troon te dien. Ons lees in
daardie aangehaalde Psalm dat God op die troon met majesteit en
heerlikheid bekleed is en homself omhul met die lig soos met
’n kleed. God die skepper en onderhouer van alle dinge gee
aan sy dienaars, engele opdrag om weerlig uit te laat gaan en
wolke en winde te bring. Sien hier die mag van die goeie engele.
In teenstelling tot die duiwels gebruik hulle hierdie mag alleen
maar tot God se eer, volgens goddelike opdrag. Hulle staan altyd
gereed om God se bevele uit te voer. Soos ons lees in Ps 103: 20,21:
“Loof die Here sy engele, kragtige helde wat sy woord
volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord. Loof die
Here, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen.”
Christus hou hul gehoorsaamheid aan ons voor wanneer Hy ons leer
bid: Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die
aarde.

Van hierdie dienaars van die troon lees ons dat hulle
uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe.
Hulle word uitgestuur, voortdurend. Om ons wat glo te bedien, te
versorg. Hier mag ons dink aan wat ons lees in Ps 91. Wie op die
Here vertrou mag weet: “Geen onheil sal jou tref en geen
plaag naby jou tent kom nie; want Hy sal sy engele aangaande jou
bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die
hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie” (vers10-12).
Die engele is daar om ons te dra, te bedien, te beskerm, ook om
vir ons te stry. Vergeet nooit die stryd agter die stryd nie.
Dink aan wat ons gelees het in 2 Konings 6. Die koning van Aram
trek op teen Elisa met perde en strydwaens en ’n swaar leër.
Elisa is egter nie bang nie. Dit blyk uit die manier waarop hy sy
verskrikte dienaar gerusstel. Elisa sê vir hom: “Vrees nie;
want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is” (vers
16). Die dienaar kon dit egter nie sien nie, totdat God sy oë
daarvoor oopgemaak het. “En meteens was die berg vol perde
en waens van vuur rondom Elisa” (vers 17). Let daarop dat
die verse 14 en 17 albei praat van perde en waens, maar vers 17
voeg daar die woorde “van vuur” by. Vuur verwys na God
se teenwoordigheid. Die dienaar sien uiteindelik God se leërmag.
God se engele. Hoewel Elisa se dienaar dit nie onmiddellik gesien
het nie, dit verander nie die feit dat daardie engele daar die
hele tyd reeds was. God stuur sy engele uit om sy kinders te
beskerm.

Gemeente, art 12 wys ook op die duiwels en bose geeste, engele
wat afgeval het en die teenoorgestelde van die goeie engele doen.
Hulle prys nie God nie en dien nie die uitverkorenes nie.
Inteendeel, hulle probeer God se lof te versteur en die
uitverkorenes uit God se hand te ruk. Soos ons bely in art 12:
“Die duiwels en bose geeste het so ontaard dat hulle vyande
van God is sowel as van hulle wat goed is. Soos moordenaars loer
hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met
alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle
bedrieëry te verwoes.” Onderskat hulle nie.

Aan die ander kant oorskat hulle ook nie. Hul leier Satan is
nie god nie. Ook nie almagtig en alwetend nie. Hy en sy demone is
net skepsels. En soos enige ander skepsel kan hulle hulle sonder
God se wil nie roer of beweeg nie. God regeer deur Jesus Christus.
Almagtig en trou. En Christus het oorwin. Die mag van die duiwel
is in beginsel reeds verbreek. Bowendien het Christus die hemelse
leërmagte tot sy beskikking. Om ons wat by hom behoort te
beskerm. Dalk kan jy hulle nie sien nie. Maar hulle is daar soos
die dienaar van Elisa ontdek het. En hulle is daar om jou te dra
en te bewaar sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie. Hoe
heerlik is dit om so ons God as die Here van die leërskare te
ken. Ook in nood en dood is ons veilig geborge in die hande van
’n almagtige Skepper en Verlosser.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)