Christus se gawes aan die gemeente

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-10-30
Text: 
Efésiërs 4
Preek Inhoud: 

Efésiërs 4:11,12

Ds C Kleyn - Sondag 30 Oktober 2005

Lees: Efésiërs 4:1-16.
Sing: Ps 113:1,2; Ps 95:1,4; SB 15:4-7; Ps 135:1,2,11;
Ps 134:4; Ps 100:2,4.

Tema: Christus se gawes aan die gemeente.

  1. Christus gee besondere ampsdraers
  2. Hy gee hulle ter wille van die amp van alle gelowiges

 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe sien julle die predikant wat vanoggend bevestig gaan word?
As ’n veelbelowende, energieke jong man? As ’n man van
julle keuse? As ’n man wat julle as gemeente kan dien? As
’n man wat die ampsdraers kan ontlas en allerlei take kan
oorneem? As ’n man wat die leeueaandeel van die werk in die
gemeente kan doen? Sodat julle weer kan ontspan en kan toekyk hoe
die werk deur ’n ander gedoen word?

Gemeente, julle het hierdie man inderdaad self beroep. Maar
onthou dis nie in die eerste plek julle keuse nie, maar Christus
se keuse vir julle. Sien hom tog as ’n waardevolle gawe wat
Christus aan Sy gemeente gee. Dank God dat Hy hom aan julle gegee
het. Want hy is ’n gawe, ’n feesgeskenk van ons
verhoogde Here. Hoekom noem ek hom ’n feesgeskenk? Ons het
dit gelees in Efesiërs 4. Daar verwys Paulus na Christus se
hemelvaart as hy uit Ps 68 aanhaal: "Toe Hy opgevaar het in
die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die
mense gegee." Ons verhoogde Here het gawes aan die mense
gegee. Na Sy oorwinning, kan Christus sy gawes uitdeel.

Paulus gaan verder en noem enkele van daardie gawes. Watter
gawes noem hy dan? Die eerste en enigste gawes wat hy noem is die
ampsdraers. Vers 11 "En Hy het gegee sommige as apostels,
ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en
leraars." Is dit nie opvallend dat Paulus juis die
ampsdraers as feesgeskenke van ons verhoogde Here noem nie?

Is dit die eerste gawes waaraan jy dink wanneer jy praat oor
die gawes wat Christus aan sy gemeente gee? Daar is ander dinge
wat eerder in ons gedagtes opkom. Tog praat Paulus nadruklik van
die ampsdraers as Christus se gawes.

Ek verkondig vir julle: Christus se gawes aan die gemeente.

  1. Christus gee besondere ampsdraers
  2. Hy gee hulle ter wille van die amp van alle gelowiges

Die teks benadruk dat Christus self die gawes en ampsdraers
gee. Ons lees: en Hy het gegee sommige as apostels ens. Die woord
‘Hy’ het hier die nadruk. ’n Ampsdraer word deur
Christus aan die gemeente gegee. Die ampte is nie ’n
bedenksel van mense nie. Jy dink dit nie self uit om ampsdraer te
wees nie. Jy roep nie jouself tot die amp nie. Dit is Christus
wat roep. Hy is die hoof van die kerk. Hy gee funksies en gawes
volgens sy vrye welbehae.

Tog beteken dit nie, broeders en susters, dat sommige oor
ander lede in die kerk mag baasspeel nie. In die kerk noem ek
geen mens Heer en geen mens Meester nie. Daarom is die titel
dominee ’n ongelukkige titel. Letterlik beteken dit Heer.
Maar ’n predikant is juis nie julle Heer en Meester nie,
maar julle dienaar, jul herder en leraar. Hoewel ons verskillende
funksies het is ons ewe noodsaaklik. Ek respekteer die verskille.
Ek sien op na die man wat ‘n meer verantwoordelike funksie
as ek het. Ek bewys gepaste eer, liefde en trou. Ek onderwerp my
aan sy goeie leer en tug met die verskuldigde gehoorsaamheid. Nie
slaafs nie, nie as ‘n kneg teenoor sy baas of koning of
iemand wat die hoogste gesag het nie. Christus is koning. Hy het
die hoogste gesag. Ek respekteer Hom in sy verdeling van gawes.

Kom ons kyk nou na die ampsdraers wat Paulus noem. Christus
het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as
evangeliste, ander as herders en leraars. Hierdie ampte kan in
twee groepe verdeel word. Eers is daar sekere ampte wat tydelik
en buitengewoon in die kerk was, funksies wat slegs bedoel was
vir ‘n sekere periode. Dan is daar die amp wat ‘n
blywende karakter het.

In die eerste groep is daar die apostels, profete en
evangeliste. Eers die apostels. Hulle is regstreeks deur ons Here
Jesus uitgestuur. Hulle is persoonlike oog- en oorgetuies van die
opgestane Heer. Die apostels is manne wat ‘n bonatuurlike
openbaring van die waarheid ontvang het. Hulle het dus die
vermoë gehad om nie net met gesag te praat nie, maar ook
onfeilbaar. Hulle het ook die krag ontvang om wonders te doen.
Dit is duidelik dat hierdie amp van apostel ‘n buitengewone
en tydelike amp was. Dis nie oordraagbaar nie. Na die apostel
Paulus het immers geen mens die opgestane Heer met sy blote oog
gesien nie.

Dan is daar die profete. In Efesiërs 2 word die profete aan
die apostels gekoppel. Daar skryf Paulus dat ons as huisgenote
van God gebou is op die fondament van die apostels en profete,
terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is. Hoewel hulle saam
met die apostels genoem word, is die profete tog anders.
Byvoorbeeld dit was vir die profeet nie nodig om die Here te
gesien het nie. Die profeet hoef die meeste van die kwalifikasies
van die apostels nie te hê nie. Die profeet was ‘n man wat
onder die direkte inspirasie van die Heilige Gees gespreek het.
Hy kon met reg sê: so sê die Here. Die profeet mog in die
oudste gemeentes verborgenhede aanskou en deur openbarings oor
besondere kennis beskik. Daardeur kon hy ook uitsprake oor die
toekoms doen en die verborge dinge van ’n mens aan die lig
bring. Terwyl die apostels oral die evangelie gebring het, het
die profete deur middel van openbarings verder gewerk aan die
opbou van die gelowiges.

Dit is duidelik dat die amp van profeet ‘n tydelike amp
was. In die vroeë jare het die kerk nog nie die Nuwe
Testamentiese geskrifte gehad nie. Probeer jou net voorstel hoe
dit sou wees sonder die Nuwe Testament. Hoe moes jy kennis kry
van die volle waarheid van God? Die waarheid is hoofsaaklik
meegedeel deur die onderrig en prediking van die apostels. Dit is
aangevul deur die onderrig van die profete wat ook direkte
openbaringe van God ontvang het. Noudat ons die Nuwe
Testamentiese geskrifte het, is die besondere amp van die profeet
nie meer nodig nie. Direkte openbarings is nie meer nodig nie.
God se geskrewe woord is die waarheid. Die Gees praat met jou
deur die Woord. Wat ek nodig het is illuminasie: dat die Gees my
verstand verlig sodat ek die Woord kan verstaan en toepas.

Die evangeliste word ook as tydelike ampsdraers genoem.
Timoteus en Titus was evangeliste. Daar was ‘n noue
samewerking tussen hulle en die apostels. Oor die algemeen het
die apostels self hulle aangestel. Hulle kan dan assistente van
die apostels genoem word.

Die apostels en profete het die fondament van die Christelike
kerk gelê, gehelp deur die evangeliste. Hier het jy die drie
tydelike en buitengewone ampte.

Die blywende amp is die van herders en leraars. Hierdie twee
word in die oorspronklike teks saamgevoeg met een lidwoord. Dit
wys waarskynlik daarop dat altwee funksies deur een en dieselfde
persoon vervul word. Dis een en dieselfde amp. Broer, suster,
waaraan dink jy as jy die uitdrukking "herders en leraars"
hoor? Ons dink onmiddellik aan predikante. As predikant is jy
tipies ’n herder en leraar: met jou onderrig pas jy die
skape van Christus op. As herder versorg jy Christus se kudde en
as leraar gee jy onderrig in die apostoliese leer. Tog moet julle
die uitdrukking nie tot predikante beperk nie. Paulus wil daarmee
ouderlinge aandui. Ons onderskeiding tussen predikante en
ouderlinge is van ‘n latere datum. ‘n Predikant is deel
van die ouderlinge korps. Ouderlinge is herders en leraars. Dit
is hulle belangrikste taak. Dit tipeer hul amp. Moenie dit ooit
vergeet nie. Die predikant is nie alleen verantwoordelik vir die
versorging van die gemeente nie. Ook al is hy herder en leraar op
’n spesiale manier, voltyds geroep tot prediking en onderrig.

Julle ontvang nou wel ’n jong en energieke man as
predikant maar onthou hy is nie vir julle gegee om al die
amptelike werk te doen nie, sodat julle nou kan ontspan. Nee hy
is deel van ’n team herders en leraars. Pas goed op hom en
werk saam met hom aan die versorging van Christus se kudde. Dis
die verantwoordelikheid van alle ouderlinge. Elke ouderling is
’n herder en leraar.

As herder voed jy die skape en beskerm jy hulle teen allerlei
gevare. Om dit goed te kan doen moet jy die lidmate van die
gemeente ken. Daar moet ‘n persoonlike verhouding wees.
Daarom moet julle as predikant en ouderlinge die lidmate in hul
huise besoek. Die Woord van God moet toegepas word in die
konkrete situasie van hul lewe. So ontvang hulle die nodige
voedsel en onderrig.

Die Here Jesus het die apostels en profete gegee om die
fondament te lê. Die kerk is gebou op die fondament van die
apostels en profete. Noudat die fondament gelê is – ons het
nou die apostoliese leer in die voltooide Bybel – het ons
blywende ampte om op daardie fondament verder te bou. As
ampsdraer het jy ‘n soliede basis om op te werk en om mee te
werk: Die voltooide Woord van God. Dit bind saam. Jy kan mekaar
daarna verwys. Dit gee rigting. Daaruit kan jy krag en wysheid
put in alle omstandighede. Daarmee kan jy mekaar woorde van troos
bied. Met daardie Woord kan jy mense korrigeer, vermaan en
bemoedig. Jy hoef jou nie te laat lei deur eie insigte nie. Dan
sou daar geen duidelike rigting wees nie. Nee, jy kan jou laat
lei deur die Woord wat God jou gegee het, sy onfeilbare Woord,
‘n Woord vir alle tye. Wat ‘n pragtige taak om te mag
bou op daardie fondament en om mense te hou op daardie fondament.

Maar gemeente, wat is die doel van die ampte? Dit bring ons by
die tweede gedagte van die teks: Christus gee die besondere ampte
terwille van die amp van alle gelowiges.

Ons lees van die doel in vers 12 "om die heiliges toe te
rus vir hulle dienswerk. Die ampsdraers is gegee om julle toe te
rus vir jul dienswerk. Blykbaar is alle lede dienaars in die kerk.
Elke lidmaat het ‘n dienende funksie. Moenie die dienswerk
beperk tot ‘n klein groepie van mense nie, bv tot die
ampsdraers. Dienswerk is ‘n funksie van die hele gemeente,
die roeping van alle gelowiges.

Die Griekse woord vir dienswerk is diakonia, waar ons woord
diaken vandaan kom. In die Nuwe Testament omskryf hierdie woord
die hele lewe van en in die Christelike kerk. Diakonia is vir die
ampsdraers en vir die huisvrou die ideale omskrywing van hulle
God gegewe taak. Die Christelike lewe is diens, diens aan God en
diens aan die naaste.

Te dikwels is mense geneig om die dienswerk te beperk tot
hulle wat offisieel benoem en bevestig is. Die offisiele
ampsdraers sou dan al die werk moet doen. Hulle sou alles agterna
moet loop. Hulle sou alle inisiatiewe moet neem.. Hulle sou alle
probleme moet oplos. Hulle sou iets moet doen aan alle sondes
onder God se volk, selfs aan die verborge sondes. Die tug sou
heeltemal op hul skouers rus. Jy sou die kerk dan kan vergelyk
met ‘n skip vol toeriste wat deur die kerkraad bestuur word.
Die lidmate sou dan agteroor kan sit en geniet van die vaart
terwyl die kerkraad heen en weer moet hardloop om al die werk te
doen. Maar dis nie volgens die Skrifte nie. Die dienswerk is nie
alleen vir die ampsdraers nie. Die hele gemeente, dus elkeen van
julle word daartoe geroep.

Daartoe gee Christus aan elkeen ook sy geestelike gawes.
Paulus het dit genoem in vers 7. "Maar aan elkeen van ons is
die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus."
Wat bedoel Paulus met die genade wat aan elkeen van ons gegee is?
Paulus dink hier nie aan reddende genade nie. In hoofstuk 2 het
hy al oor die reddende genade geskrywe. Dis duidelik dat elkeen
wat glo reddende genade ontvang het. Daaroor gaan dit nie in ons
teks hoofstuk nie. Paulus is nou besig met die funksionering van
die kerk as liggaam van Christus. In daardie verband sien genade
op die genade wat ons toerus om te dien. Ons sou dit "dienende
genade" kan noem. Net soos Paulus skryf in hoofstuk 3:8
"Aan my is hierdie genade gegee om onder die heidene die
evangelie te verkondig." Elkeen van julle het ‘n sekere
funksie. Daarby gee God ook aan elkeen die vermoë om die funksie
uit te oefen. Die analogie van die liggaam maak dit duidelik.
Elke deel van my liggaam moet ‘n sekere funksie vervul. Ons
weet nie altyd wat die funksie is nie. Maar die feit dat ons dit
nie weet nie, beteken nie dat dit geen funksie het nie.

Die eerste ding wat julle as lidmate moet doen is jul spesiale
funksie ontdek. As julle dit besef dan ontdek julle meer en meer
wat ‘n voorreg dit is om lid van die Christelike kerk te
wees. Ons heerlikheid is dat elkeen van ons deel van die liggaam
van Christus is. Julle het almal ‘n plek in die liggaam.
Miskien lyk jou funksie nie belangrik nie. Dit maak nie saak nie.
Die belangrikste is dat daar vir elkeen van julle iets te doen is.
"Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die
mate van die gawe van Christus."

Let wel dat dit Christus self is wat elkeen van julle sy
besondere genade of gawe gee. Die apostel benadruk hierdie punt
in vers sewe. Die genade is gegee volgens die mate van die gawe
van Christus, dit wil sê, volgens die verdeling wat Christus
maak.

Wat is dan die besondere taak van die jul nuwe predikant en
van die ander ampsdraers? Hulle moet die gemeentelede toerus vir
hul dienswerk. Die dienswerk is nie iets wat ons outomaties doen
nie. Van nature is ons nie lus om so ‘n nederige werk te
doen nie. Ons moet daarom aangespoor word deur die Gees van God.
Die getroue predikant of ouderling is dus die man wat die lidmate
help en bemoedig om hul gawes te ontdek, te ontwikkel en te
gebruik. Die goeie ampsdraer wil nie die werk uit julle hande
wegneem nie. Inteendeel. Hy lei julle op en rus julle toe om te
dien volgens jul eie gawes. In sekere sin kan ons sê dat die
ampsdraer daar op uit is om homself oorbodig te maak. Die lidmate
moet aan die werk spring.

Jy is as ampsdraer soos ’n instrukteur. Jy lei nuwe
rekrute op. Jy leer ander mense om die wapenrusting van God te
hanteer en hoe om te werk en te lewe as Christene in hierdie
wêreld. In jou pastorale sorg probeer jy om mense te help om
weer goed te funksioneer in kerk en koninkryk. Deur middel van
tug waarsku jy en roep jy hulle terug wat die diens in God se
koninkryk verwaarloos of weier. As ampsdraer is jy nie die
boodskapper vir die gemeentelede nie. Jy hou toesig oor die
gemeente. Jy besoek die gesinne en die individuele lede om te
sien of die saad van die Woord besig is om vrug te dra. Jy
bemoedig jou medegelowiges om blye en dankbare Christene te wees
nie alleen tuis nie maar ook by die werk. Daarvoor moet jy as
ampsdraer die Skrifte bestudeer sodat jy in staat is om die lede
te lei, te adviseer en toe te rus vir dienswerk. Jy moet as
ampsdraers die weg wys deur jou woorde en dade. ‘n Baie
verantwoordelike taak. Maar ook ‘n pragtige taak. Want jy
het die lewende en kragtige Woord van God tot jou beskikking. En
Jesus Christus is jou sender.

Wat is dan die doel van dit alles? Die opbou van die liggaam
van Christus. As elke lidmaat geaktiveer word en sy dienswerk
vervul, dan word die kerk opgebou. Dan sien jy groei. Groei in
geloof en kennis – verstandelike en deurleefde kennis. Groei
in eenheid en volwassenheid. Soos Paulus skrywe in die verse 14-16
"sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe
geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering,
deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot
dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag
( ja die liefde bind saam), in alles sou opgroei in Hom wat die
Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam – goed
saamgevoeg en saam gebind deur die ondersteuning wat elke lid gee
volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate –
die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde."

Broer, suster, seun, dogter, as jy dit sien, sou jy die gawe
wat Christus nou aan jou gee, nie waardeer nie? Jy wil as
gemeente tog groei? Groei in geloof en liefde. Ontvang daarom
hierdie broer as ’n feesgeskenk van Christus. Ontvang hom as
mede-herder en leraar wat gegee is om te help en te lei. Skakel
hom en sy medeherders of besoek hulle wanneer jy worstel met
sekere dinge of wanneer jy God se leiding soek. Bespreek die sake
met hulle. Laat hulle jou help om besluite te neem wat God behaag.
Laat hulle jou bemoedig en jou rigting gee. Gebruik die gawes wat
God julle gegee het. Bemoedig jou predikant en bid vir hom sodat
hy werklik mag wees wat Christus wil hê dat hy moet wees. Ja,
dit is belangrik dat ons as ampsdraers ons bewys as leiers,
herders en leraars. Dit het ook bemoediging en aanvuring nodig.
Wat ‘n seën vir die gemeente as daar so ‘n samespel
tussen ampsdraers en gemeentelede is. Dan word die onderskeie
gawes ontwikkel en aangevuur. Tot eer van God en tot opbou van
die kerk.

AMEN

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)