Christus leer ons om in ons gebed die regte toon te tref.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-03-13
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 46
Preek Inhoud: 

Sondag 46

Ds C Kleyn - Sondag 13 Maart 2005

Lees: Jesaja 57:14-21; 63:7-64:12.
Sing: Ps 89:1,3; Ps 89:6; Ps 25:3,6,7; SB 33; Ps
103:7,9.

Tema: Christus leer ons om in ons gebed die regte toon
te tref.

  1. Ons nader tot God ons Vader;
  2. Ons nader tot God ons Vader; en
  3. Ons nader tot God ons almagtige Vader.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

God soek ’n vertroulike omgang tussen Hom en ons. Van sy
kant gee God uiting aan die vertroulikheid deur ons met sy woord
aan te spreek. En van ons kant is dit veral die gebed waarin ons
die omgang met Hom realiseer.

In ons gebed tree ons op ’n vertroulike manier met God in
kontak. Dit blyk baie duidelik uit die aanspraak van die gebed
wat Christus ons geleer het. Die aanspraak is welbekend. Hoeveel
gebede begin nie met die woorde “ons Vader” nie? Ook
die kinders leer reeds vroeg om dit hul ouers na te sê: ons
Vader.

By hierdie aanspraak gaan dit om die toonhoogte van ons gebed.
Direk by die begin van ons gebed wys ons in watter verhouding ons
tot God staan. Ons kom as kinders tot God die Vader.

Vanoggend wil ek vir julle die evangelie verkondig van die
aanspraak: ons Vader wat in die hemel is.

Christus leer ons om in ons gebed die regte toon te tref.

  1. Ons nader tot God ons Vader
  2. Ons nader tot God ons Vader
  3. Ons nader tot God ons almagtige Vader.

Broers en susters, besef julle wel wat dit beteken wanneer
julle Vader sê? Julle gebruik dan kindertaal. ’n Kind kan
dit sê en ’n kind moet dit sê: Vader. Dit blyk nog
duideliker as ’n mens die aanspraak Vader teen die
agtergrond van die Aramese woord Abba sien. Die toon van Abba
klink in die ons Vader deur. Abba, dis een van die allereerste
woorde wat kinders leer om uit te spreek: pappa. So mag jy nou
God aanspreek: Abba, Vader. Jy mag met Hom omgaan soos ’n
kind met sy ouers omgaan. Jy mag die geborgenheid by Hom ken, van
’n kind by Vader. “Vader” spreek van kinderlik
ontsag en vertroue. Jy voel jou as kind by Vader tuis.

Dis ’n magtige saak. Hierby pas net verwondering. Hoe is
dit moontlik dat ons so vry teenoor God mag wees dat ons Hom Abba
Vader noem? Dis ’n wonder van God se genade.

Die verwondering hieroor word des te groter wanneer jy let op
die tyd en wêreld waarin ons leef. In die lewe van baie mense
heers daar onsekerheid. Dinge wat vroeër sekerheid en
geborgenheid gebied het, het vir baie verdwyn. Ons huidige
politieke en maatskaplik situasie kan hier ’n rol speel.

Maar daar is ook iets anders waarop ek wil wys. Dis die rol
van die vaderskap. Watter waarde heg mens nog aan die vadernaam
en die vaderamp? Baie mense het in ons samelewing die vader
figuur kwytgeraak. Dis veral erg onder die swart gemeenskap, maar
onderskat nie hoe dit ook die geval is onder ons blanke bevolking
nie. Dit mede as gevolg van die groot aantal gebroke huwelike. En
wat van die mans wat die verleiding van die materialisme nie kon
weerstaan nie? Hul loopbaan, hul geld maak het die belangrikste
geword. Ten koste van hul verantwoordelikhede as vader. Baie
kinders word groot sonder ’n egte vader wat liefdevolle
leiding en geborgenheid gee. Tallose mense het die vader op aarde
kwytgeraak. En daarmee ook die sig op die Vader in die hemel.

Ja, hoe nou is daardie twee aan mekaar verbind! God self het
hulle aan mekaar verbind. Dink aan Ps 103: 13. Daar sê die Here:
“Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm
die Here Hom oor die wat Hom vrees.” Maar wat as die aardse
vader hom nie ontferm nie, as die aardse vader geen tyd of aandag
vir sy kinders het nie en sy vader amp verwaarloos? Dan sal so
’n Skrifwoord moeilik vertroosting bied. Dan sal die sig op
’n hemelse Vader wat Hom wel ontferm verduister word. Dan
gaan die hemel toe.

Terloops, sien hier die erns van die vaderamp. Vaders, dit let
nou hoe jy jou vaderamp in die gesin vervul. Deur die vaderamp te
verwaarloos kan jy ’n belemmering wees vir die geestelike
groei van jou kinders, kan jy die oorsaak daarvan wees dat jou
kinders geen goeie sig op hul hemelse Vader kry nie.

Wat moet ons dan dink van die vaders wat net vir hul werk,
geld en stokperdjies lewe? Of vaders wat aande agter die TV of
rekenaar sit, sonder om gesteur te wil word. Pragtige leiers! Dit
kan vir die kinders fataal wees. Wat moet die kinders met so
’n passiewe, materialistiese aardse vader wel dink van
’n Vader in die hemel? Vaders, let op julle saak. Want hier
is die saak van die Here in geding.

Ons het nou gewys op die een kant van die saak: baie mense het
die aardse vader kwytgeraak en het die sig op die hemelse Vader
verloor. Daar is egter ook ’n ander kant aan die saak. Laat
ons nie dink dat daardie persone tragiese figure is nie. Hulle
bly persoonlik verantwoordelik vir hul dade. En dan sien ’n
mens dat baie ook duidelik teen die hemelse Vader gekies het,
teen die Vader van ons Here Jesus Christus. Die Vader met sy
soewereine leiding en ewige besluite wil hulle nie aanvaar nie.
Mense wil hulle nie aan Hom onderwerp nie. Mense wil Hom nie
gehoorsaam nie. Mense weier om kind te wees. Ja, daar kom dit
uiteindelik op neer: mense weier om kind te wees. Tiperend vir
’n kind is dat hy afhanklik is, dat hy nie met allerlei
pretensies of eise kom nie maar dat hy homself onderwerp en
toevertrou aan Vader. Maar dit wil die geëmansipeerde mense nie.
Hulle wil self bepaal wat hulle belangrik vind en doen. Geen
erkenning van gesag nie, maar ’n staan op hul eie vryheid.

So sien ons dat die vadernaam in ons tyd nie baie hoog geskat
word nie. Dit geniet min vertroue, die vadernaam op aarde maar
ook die vadernaam vanuit die hemel. Mense wil nie langer kind van
die Vader in die hemel wees nie.

Dit lei tot groot onsekerheid en eensaamheid. Die geloof in
die Vader in die hemel gee aan die lewe sekerheid en geborgenheid.
Maar as jy dit loslaat, dan word die lewe uitsigloos en eensaam.
Die geëmansipeerde wêreld sluit homself toe. En binne die
geslote wêreld ontbreek die uitsig.

Gemeente, wat ’n genade is dit dan dat ons nog steeds die
Vadernaam mag leer. In ’n wêreld wat hom toegesluit het
roep ons: Ons Vader wat in die hemel is. Die hemel gaan vir ons
oop in Jesus Christus. Ons leef onder ’n oop hemel. Vader is
nog daar: Emmanuel, God met ons.

Laat ons dit tog goed besef. En dan ook die Vadernaam baie
bewus gebruik, as ’n geloofsaak. In verwondering.

Broers en susters, dit lyk so maklik om Vader te sê. Daar is
geen woord so eenvoudig as Abba, pappa nie. Dis as reël die
eerste woord wat ons kindertjies leer sê.

Maar, gemeente, daar is feitelik niks moeiliker as om Vader te
sê nie. Om oor ’n God te dink en te praat, is nie so
moeilik nie – dit pas nog wel by die natuurlike mens. Maar
om vir God Vader te sê, dit gaan teen ons natuur in. Jy moet dan
soos ’n kind word. Soos ’n kind wat wil leef van dit
wat God besluit om te gee, soos ’n kind wat die koninkryk
wil ontvang. Dit kan jy net in verbondenheid aan Christus doen,
in die weg van wedergeboorte. Daarom bly Christus dit vir ons
leer. Dit gaan nie vanself nie. Steeds weer moet Christus dit vir
ons leer en dit vir ons gee om Vader te sê.

En dan gaan die hemel vir ons oop. Ons sien dit in die gebed
van die boeteling wat ons in Jes 63 en 64 gelees het. Vanuit die
nood van die ballingskap hoor ons die man uitroep: “Want U
is ons Vader! Want Abraham weet van ons nie, en Israel ken ons
nie. U, o Here, is ons Vader; ons Verlosser is van ouds af u Naam.”
Die balling weet na wie hy kan gaan. Hy weet waar uitkoms te vind
is. Hy het uitsig op sy Vader in die hemel. Die Vader waarop jy
nooit tevergeefs ’n beroep doen. ’n Ewige Vader. Jy kan
by Hom pleit op sy eie woorde. En sou hierdie Vader sy eie woorde
nie waarmaak nie?

Soos ’n egte Vader bly hy bewoë oor die lot van sy volk.
Hy het sy volk gemaak. Die nood van sy kinders gaan Hom ter harte.
Hy kom dan ook as Helper in die nood, as Verlosser. Hoe ontrou
die aardse vaders ook al mag wees, Hy bly getrou. Dis die ryke
troos vir hulle wat hul aardse vaders verloor het of nooit
werklik ervaar het nie. Ons hemelse Vader staan altyd klaar met
sy liefdevolle leiding en sorg. By Hom is jy werklik en ewig
geborge.

Ons let nou in die tweede plek op die ons van ons Vader. Ons
nader tot God ons Vader.

Wanneer jy God as Vader aanroep, dan doen jy dit nie as ’n
enkeling, ’n los individue nie. God is nie net my Vader nie.
Hy is die Vader van baie ander, van sy hele verbondsvolk, sy
gemeente. Ons bid tot die Vader is ’n bid binne die
gemeenskap van die heiliges.

In die voorgaande het ons gewys op die eensaamheid waarin die
geëmansipeerde wêreld teregkom. Die vrye, moderne mens is in
wese eensaam.

Hierdie eensaamheid word nog erger gemaak deur die dwase
individualisme wat opgang maak. Sosiale strukture word opgebreek
of geïgnoreer. Mense word behandel as losse individue, los van
die lewensverbande. Jy kry ’n nommer en word as ’n
nommer behandel. Dis die eer van emansipasie.

Hoe verlossend is dit, broers en susters, dat Christus ons
leer om te bid: Ons Vader. Ons staan nooit alleen nie. Wie Vader
sê, ontvang broers en susters. Jy is deel van ’n belangrike
gesin, van God se gesin. God die Vader plaas jou in die
geborgenheid van sy verbondsgemeente.

Dit ’n groot weldaad. Saam met ander mag ek in die
verbondsseëninge deel. Want God het sy beloftes aan sy volk
gegee. En binne die gemeente mag ek die seëninge in ontvangs
neem. Hier word Christus en al sy skatte uitgedeel. Hier word die
vereensaming en verskraling van die lewe opgehef.

Ja, ook as ek alleen staan in die lewe, as ek geen man of
vrou, geen kind of ouers rondom my het nie. Ook as ek binne die
vier mure van my kamer opgesluit sit. Ek is in feite nooit alleen
nie. Die hemel het oopgegaan. In Christus het God Vader geword,
God van naby. En in Christus het ek broers en susters ontvang.
Broers en susters wat dieselfde stryd as ek stry. So mag ek in my
stryd, ook in my gebedsstryd weet dat ek deur die heiliges rondom
my ondersteun word, ook al sien ek hulle op die oomblik nie voor
my nie. Daardie broers en susters hef ook hul gebede op tot my en
hulle Vader. Hulle roep ook om die vervulling van die beloftes
wat God aan sy volk gegee het, dus ook aan my. Hulle bid feitelik
saam met jou. Hulle ondersteun jou geroep. So het die gelowiges
van die Ou Testament jou geroep reeds voor die troon van God
gebring. Jou gebede word daardeur des te indringender en
kragtiger. Sal Vader die gebede ignoreer wat reeds soveel eeue en
deur soveel heiliges gebid is?

In jou gebede staan jy dus nooit alleen nie. In al jou
smekinge en gebede staan jy in die verbondsgemeenskap vir wie God
sy beloftes gegee het. Jou saak, ook jou persoonlike nood, word
voortdurend bepleit deur die heiliges. Dis ’n saak van
Vader, en so ook van sy gemeente. Hy word tog ons Vader genoem?

Dit skep gemeente, ook verpligtings. As ek ons Vader sê, moet
ek ook ’n oog en ’n hart vir my broers en susters hê.
God is die Vader van sy Gesin met ’n hoofletter. Daarom kan
jy Hom nooit op ’n individualistiese of selfsugtige manier
vir jouself opeis nie, asof Hy daar alleen vir jou sou wees.
’n Goeie gebed kan dus nooit egosentries wees nie. Die mag
nie sirkel rondom my persoon nie. Deur sulke selfsug isoleer ek
my juis van die kerk en so ook van die beloftes aan die kerk
gegee. Ek staan daarmee die verhoring van my gebed in die pad.

Daarom is twis of haat tussen broeders of susters ook so
verskriklik. Gebede word daardeur verhinder. Hoe sou God my
verhoor as ek geen liefde wys vir die broer of suster waarmee ek
saam optrek? So skryf Petrus ook vir die mans dat hulle
verstandig met hulle vroue moet saamleef en hulle eer moet bewys,
sodat hulle gebede nie verhinder mag word nie. As ek nie
verstandig, op ’n eervolle wyse met my vrou saamleef nie,
kan dit blykbaar my gebede verhinder. Dieselfde geld natuurlik
ook vir die vroue teenoor hulle manne.

Neem die situasie in ’n gewone gesin. As daar onderlinge
moeites tussen die gesinslede is, dan word nie net die
verbondenheid aan mekaar versteur nie, maar ook die vreugde binne
so ’n gesin. Dieselfde geld vir die gesin van ons hemelse
Vader. As daar geen liefde is, as ons ons nie met mekaar wil
versoen nie, dan verhinder ons ons gebede, dan verhinder ons die
vervulling van God se beloftes. So maak ons die gebede onmoontlik.

Weet, broers en susters, wat julle sê wanneer julle ons Vader
bid. Laat alle individualisme en selfsug vaar. Jou saak het
’n saak van meerdere mense geword. Dank God daarvoor. Maar
ook, die saak van ander het jou saak geword. Want dit het ’n
saak van Vader geword. En die saak van Vader is die saak van al
sy kinders.

Dit sien ons in die gebed van die boeteling. Hy besef dat hy
een met die verbondsvolk is. Dit gaan hom dan ook nie soseer oor
sy persoonlike verlossing nie, maar oor die verlossing van die
hele volk. En dit tot eer van God self. Dit gaan uiteindelik om
God se saak in hierdie wêreld. Sy stad en woning, die volk wat
Hy vir Homself gekies het. Al die persoonlike word as ’n
saak van die Here en van sy volk gesien.

Nou die laaste punt: ons nader tot God ons almagtige Vader.
Ons staan stil by die laaste woorde van die aanspraak: wat in die
hemel is.

In die voorgaande het ons benadruk die vertroulike omgang wat
ons met God die Vader mag hê. Hy is as Vader naby. Gaan ons
egter tog nie ’n groot afstand skep deur die Vader nou aan
te spreek met die woorde: wat in die hemel is nie? God in die
hemel, ons op die aarde. Dit lyk eindeloos ver uit mekaar. Die
hemel is so ver weg. Vir my gevoel kom God so op ’n afstand
te staan. In die nood kan ek soms so hopeloos en verlate voel.
God lyk so ver weg te wees. Onbereikbaar ver weg. Dit lyk asof Hy
my nie hoor nie.

Maar gemeente, in Christus het die hemel werklik oopgegaan.
Die afstand is oorbrug. Jy mag leef en roep onder ’n oop
hemel. Die aanduiding: wat in die hemel is, skep dan allermins
’n onoorbrugbare afstand. Die woorde skep juis vertroue. Die
Vader wat so naby is, is ’n hemelse Vader, ’n almagtige
Vader.

Ja, so ’n Vader het ons: die almagtige. Niks is vir Hom
te wonderbaar nie. Hy val buite die skema van wat op aarde
moontlik of onmoontlik is. Alle magte, hoe sterk ook, is aan Hom
onderwerp. Geen mag kan Hom weerstaan nie. Een woord van Hom is
voldoende om sy sterkste vyande te laat sidder.

So weet die balling van Jes 63,64 met wie Hy te make het
wanneer hy die hemelse Vader in die nood aanroep. Hy ken die
roemryke dade van die Here. Hy bring die dade van die Here in
herinnering. Hy vra die Here om opnuut sy luisterryke arm te wys.
“Ag, as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die
berge wankel voor u aangesig ... om u Naam aan u teëstanders
bekend te maak, sodat nasies voor u aangesig kan bewe wanneer U
vreeslike dinge doen waar ons nie op gehoop het nie – as U
maar wou neerdaal, sodat die berge wankel voor u aangesig! Van
ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het
’n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie,
behalwe U.”

So is, broers en susters, julle God. Dit mag julle van Hom
verwag: jul hemelse Vader, jul Formeerder. Van sy almag kan jy
alles verwag wat jy vir liggaam en siel nodig het.

Dink dan nie aards van hierdie Vader nie. Probeer Hom nie in
te pas in julle aardse skemas nie. Ons sien hoe dit deur baie
gedoen word. God word dikwels na die maat van die mens gesny. God
sou dan nie meer as ’n maat wees nie, ’n deelgenoot.
Ons het reeds gewys op die ontering van die vadernaam. Die aardse
vader het die oubaas geword. Die hemelse Vader die liewe Heer.
Van sy almag en gesag bly niks oor nie. Hy het die lydende God
geword, die medelydende God wat aan die ontwikkelings niks kan
doen nie. God is getem. Hy is nie meer die God in die hemel wat
alles regeer, wat bo alle ontwikkelinge staan nie, maar die God
wat aan die mens met sy ontwikkelinge onderworpe is. ’n
Magtelose God. ’n Afgod, ’n maaksel van mense. Wat dink
die mense wel van hulleself!

Nee, God is in die hemel, ons is op die aarde. Hy is ons
formeerder. Ons is net leem. Daarom pas Hy nie binne ons skemas
nie. Sy gedagtes is nie ons gedagtes nie en sy weë gaan ons weë
ver te bowe. Daarom kan ons Hom ook nie altyd nareken nie, laat
staan dat ons Hom sou kan voorreken. Wat is die mens dat hy die
Almagtige ter verantwoording sou roep? Laat ons eerder ontsag en
vertroue vir Hom wys.

Heel aan die begin van die ons gebed leer Christus ons om die
regte toon te tref teenoor ons God. Ons het te doen met ons Vader
die almagtige. Hoe geweldig is dit om so ’n Vader te besit.
Wat ’n genade om met so ’n God vertroulik te mag omgaan.
Dit gee altyd en oral sekerheid en geborgenheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)