Die mag van die onderlinge liefde in die Christelike gemeente

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-05-15
Text: 
Handelinge 2
Preek Inhoud: 

Handelinge 2:44-47

Ds C Kleyn - Sondag 15 Mei 2005

Lees: Handelinge 2:1-12; 37-47; 4:32-37.
Sing: Ps 138:1,2; Ps 16:1,2; SB 13;1-5; SB 14;
Ps 68:2,16.

Tema: Die mag van die onderlinge liefde in die
Christelike gemeente

  1. Daardeur het die lidmate alles gemeenskaplik
  2. Daardeur eet hulle met blydskap saam
  3. Daardeur wek hulle verwondering by die buitestanders.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Op die Pinksterdag spreek alles van oorvloed. God stort sy
Gees uit. Die dag is nie ’n dag van skaarste nie, maar van
oorvloed. Die waterstrome van God kom los en tree buite alle
oewers, sodat die omstanders geen raad daarmee weet nie. Terwyl
Christus se volgelinge met die Heilige Gees vervul is, is ander
verbaas en radeloos, lees ons. Die Heilige Gees is ryklik oor die
Nuwe Testamentiese gemeente uitgestort. En God soek ook weerklank
vanuit ons hart en lewe, sodat ons Hom oorvloedig dank en lof
toebring. Ook vir ons mag Pinkster geen dag van skaarste wees nie.

Gemeente, wat het die gemeente van daardie eerste tyd na
Pinkster, wat ons vandag nie het nie? Kyk hoe intens hulle met
die Here en met mekaar geleef het. Kan ons dit van ons as
gemeente sê? Durf ons onsself met hulle te vergelyk? Dis waar
dat die Bybel ons ook vertel van die moeilikhede waarmee
dieselfde gemeente kort daarna te kampe gehad het. Dink aan die
affêre met Ananias en Saffira (Hand 5) en aan die klagtes van
die Griekssprekendes teen die Hebreeussprekendes, dat hulle
weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is (Hand
6). Maar daar gaan dit nie oor in ons teks nie. Die beeld van die
eerste Pinkstergemeente wat ons teks bied bly staan. Durf julle
om in die spieël te kyk?

Wie is daardie mense kort na die Pinksterdag? Dis nie net
mense uit die verre verlede nie, dit is die Pinksterkerk wat
Christus besig is om te bou. Ons het hier te make met die kerk
van alle tye, waarvan ons deel mag wees. Daarom is dit in wese
’n selfportret waarna ons vandag mag kyk. Ons is dit self,
Christus se kerk.

Broers en susters, wat doen jy wanneer jy na ’n portret
van vroeër kyk? Sien jy dan met ’n sekere weemoed terug na
die goeie oue tyd? Wat was die lewe toe mooi, ons was nog jonk en
fris, entoesiasties en vol ideale. Maar die tyd is verby, so word
dit nooit weer nie.

Is dit ’n passende reaksie? In hierdie Pinksterbedeling?
Sekere dinge het natuurlik wel verander, veral uiterlike dinge.
Ons leef in ’n ander tyd en in ander omstandighede. Maar die
wese van die saak het nie verander nie. Die evangelie van
Christus en sy kragtige uitwerking op harte en lewens verouder
nie. Die Gees van Christus wat uitgestort is, verander ook nie.
Daarom bly die kerk van Christus ook in wese dieselfde. Dis tog
dieselfde Gees wat ook vandag nog steeds lewend maak en tot bloei
bring? Hy vernuwe ons hart en lewe. Daarom hoef ons nie moedeloos
te word nie en tou op te gooi nie. Die krag van Christus se Woord
en Gees is nou nog aanwesig. En wil gesien word. Daarom kyk ons
graag na die selfportret en laat ons daardeur bemoedig.

Gemeente, die selfportret begin eintlik reeds by vers 42. Daar
lees ons wat die Christelike kerk gekenmerk het: “En hulle
het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en
in die breking van die brood en in die gebede.” Met die
woorde van ons teks fokus ons veral op die volharding in die
gemeenskap. Ons kyk dus net na sekere kenmerke van die
Christelike kerk. Die beeld is baie voller en ryker.

Ek verkondig vir julle: die mag van die onderlinge liefde in
die Christelike gemeente

  1. Daardeur het die lidmate alles gemeenskaplik
  2. Daardeur eet hulle met blydskap saam
  3. Daardeur wek hulle verwondering by die buitestanders.

Ons lees: “En almal wat gelowig geword het, was bymekaar
en het alles gemeenskaplik besit.” In sy Pinksterpreek het
Petrus die feesgangers opgeroep: “Laat julle red uit hierdie
verkeerde geslag.” Die mense is geroep om ’n keuse te
maak en om hulle af te skei van die bestaande Joodse gemeenskap
onder leiding van die owerpriesters en skrifgeleerdes. Dit is
geen maklike keuse nie. Daardie mense is met hul hele bestaan aan
die Joodse gemeenskap verbind. En nou moet hulle hul daarvan
losmaak. Daarmee kom hulle aan die kant te staan, word hulle deur
hulle eie volksgenote en selfs familielede afgewys en verag.
Daardeur val hulle buite die sosiale strukture van die samelewing.
Veral vir die armes en kwesbares moet dit ’n groot stap
gewees het.

Maar wat blyk nou? Hulle wat tot geloof kom en die pyn van die
skeuring trotseer, hulle ontvang baie terug. Die Gees voeg hulle
in ’n nuwe lewende gemeenskap. ’n Gemeenskap wat deur
ware liefde gekenmerk word. “En almal wat gelowig geword het
was bymekaar.” Hierdie woorde wys veral op hul
eensgesindheid. Hulle is geestelik een, een van hart en siel.
Daarom soek hulle mekaar ook voortdurend op. Hulle verlang na die
gemeenskap van die heiliges. Die gemeenskap bloei in die
onderlinge saamwees. As hulle kan, kom hulle elke dag bymekaar in
die tempel en aan die huise.

Ons lees verder dat hulle alles gemeenskaplik besit het. Hoe
moet ons dit verstaan? Het ons hier te doen met ’n soort
kommune waarby die mense wat hulle by daardie kommune aansluit,
verplig is om van al hul besit afstand te doen? Het die lidmate
in Jerusalem al hul eiendom in gemeenskaplike beheer gegee?

Uit die vervolg van Handelinge is dit duidelik dat nie elkeen
sy grond en besittings verkoop het om die opbrings aan die
gemeente te gee nie. In Hand 12: 12 lees ons dat ’n deel van
die gemeente in die huis van Maria, die moeder van Johannes en
Markus, bymekaar is. Dis haar persoonlike eiendom. Lidmate het
nog steeds persoonlike eiendomme gehou. Die wat hul eiendomme en
besittings verkoop het om die opbrings vir die gemeente te gee,
het dit vrywillig gedoen. Ook terwille van die spesifieke nood in
daardie tyd. Die bedoeling van die verkoop was nie om alle
lidmate daarmee te verryk nie, maar om die konkrete nood van
lidmate aan te spreek, soos vers 45b sê: “volgens wat
elkeen nodig gehad het.”

In die geskiedenis van Ananias en Saffira blyk ook duidelik
dat die probleem nie was dat hulle ’n deel van die opbrings
vir hulleself agtergehou het nie. Hul sonde was dat hulle daaroor
gelieg het. Petrus sê duidelik vir Ananias: “As die land
nie verkoop was nie, het dit nie joune gebly nie: En toe dit
verkoop is, was dit nie in jou mag nie.” Met ander woorde:
Ananias mog met die geld maak wat hy wou. Hy mog dit heeltemal
hou of heeltemal weggee, of ook dit verdeel vir verskillende
doeleindes. Die enige wat hy nie mog doen nie was bedrog pleeg
teenoor die Heilige Gees wat in die gemeente woon.

Gemeente, as ons dan lees dat die lidmate van die gemeente te
Jerusalem alles gemeenskaplik besit het, dan wys dit nie in die
rigting van ’n sentraal beheer van alle eiendom nie. Dit wys
eerder op ’n gesindheid, ’n gesteldheid van hul harte.

Dit word mooi uitgedruk in Hand 4:32: “en nie een het gesê
dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles
in gemeenskap gehad.” Die persoonlike besittings was
natuurlik wel hul eie, maar hulle het dit nie benadruk nie. Hulle
het nie geleef in die gees van: onthou, dit is en bly van my nie.
Inteendeel, hulle was milddadig, vrygewig. Goeie rentmeesters van
wat God aan hulle toevertrou het. Dit het dus niks gemeen met die
kommune lewe nie.

Broers en susters, mense het dikwels beweer dat wat hier in
Jerusalem gebeur, onverantwoord is. Om eiendomme en besittings te
verkoop om armoede te bestry sou van slegte rentmeesterskap
getuig. Op die ou end word die situasie van die gemeente daardeur
nie beter nie, maar slegter. Uiteindelik word alles opgeëet en
bly daar niks oor nie. Hier word dikwels dan verwys na die geld
wat vanuit die sendingkerke vir die gemeente van Jerusalem
ingesamel moes word.

Dit is egter die vraag of Jerusalem deur alles gemeenskaplik
te besit so arm geword het. Dit kan eerder ’n gevolg wees
van die sware vervolging wat die gemeente getref het. Daardeur
het die gemeente verstrooid geraak. Daardeur het hulle hul
besittings en inkomste verloor en behoeftig geword.

Dis ook die vraag of hierdie jong gemeente ekonomies werklik
onverstandig opgetree het. Sou die Gees mense onverstandig maak?
Wat in ons teks staan beteken nie dat elke gemeentelid elke besit
ter gelde gemaak het nie. Ons vind hier geen opdrag om die huis
waarin jy woon of om die bedryf waaruit jy jou inkomste kry, te
verkoop en die geld aan die kerk te gee nie.

Om alles gemeenskap te besit is ’n gesindheid, deur die
Gees bewerk. En die gesindheid kom in Handelinge na vore op die
punt van die finansies. Elkeen is van harte bereid om te doen wat
hy kan. Wie grond of besittings kan mis, maak dit ter gelde om
die onmiddellik nood in die gemeente aan te spreek. Elkeen staan
met sy besittings ter beskikking van die Here en van sy gemeente.
’n Mooi voorbeeld is die vrou Maria uit Hand 12 waarna ons
reeds verwys het. Sy het haar eie huis gehou. Sy kon dit nie mis
nie. Maar sy het haar huis wel vir die samekomste van die
gemeente beskikbaar gestel.

So sien ons iets, broers en susters, van die blywende van
hierdie woorde. Laat niemand sê: dit is van my en ek hou dit vir
myself nie. Beskou dit as God se besit en so ook gemeenskaplike
besit. Stel alles ter beskikking binne die gemeenskap van die
heiliges. As jy dit op finansieel gebied waar moet maak, dan sal
baie moontlik wees. Niemand hoef armoede te ly nie. Indien liefde
vir God en sy gemeente heers, dan is ek waar nodig, bereid om
afstand te doen van besittings waarvan ek nie afhanklik is nie.
Die konkrete nood moet nou, met die middele wat nou beskikbaar
is, aangespreek word. Ook al beteken dit ’n prysgee van my
huidige lewenstandaard.

Hierdie gesindheid, as vrug van die Gees, bly nie beperk tot
finansiële of materiële hulp nie. Daar kan op allerlei maniere
’n beroep op jou gedoen word. ’n Beroep op jou tyd, jou
aandag, jou energie, en jou geestelike gawes. Binne die
gemeenskap is ons beskikbaar vir mekaar. Ons soek en vang mekaar
op. Bou mekaar op. Deur die krag van die Gees. So leef ons uit
wat ons met ons kategismus bely wanneer dit gaan oor die
gemeenskap van die heiliges. Wat verstaan jy onder die gemeenskap
van die heiliges? “Ten eerste dat die gelowiges, almal saam
en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap
het en aan al sy skatte en gawes deel het. Ten tweede dat elkeen
verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en
saligheid van die ander lede aan te wend.

Nou die tweede gedagte: die Christelike gemeente eet met
blydskap saam.

Ons lees in vers 46: “En dag vir dag het hulle eendragtig
volhard in die tempel.” Hul gaan na die tempel het ons reeds
eerder genoem. Daar het hulle die Here gedien, geluister na die
apostels en vir die Jode en Jodegenote, wat daar saamgekom het,
die blye boodskap deurgegee. Dit was die plek om te leer en te
evangeliseer. Totdat die Jode dit onmoontlik gemaak het.

Daarna word genoem dat hulle van huis tot huis brood gebreek
het en hul voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet
het. Die lidmate het hul huise beskikbaar gestel en gesamentlike
maaltye gereël. Die breek van brood kan hier sien op gewone
maaltye waartoe die lidmate mekaar uitgenooi het. ’n
Gesamentlike maaltyd versterk die gevoel van verbondenheid. In
die Ooste was die gasvryheid reeds bekend as ’n uitdrukking
van liefde. Daardie natuurlike liefde is nou egter verdiep deur
die liefde van Christus. Mense het nie net hul vriende of mense
uit hul eie klas genooi nie. Die sosiale strukture is deurbreek.
Ryk en arm het saam aan tafel gesit. Hulle het mekaar genooi en
opgesoek as broers en susters in die Here. Hulle het aan tafel
hul geestelike eenheid gevier. Niks kan mos die samehorigheid so
duidelik laat uitkom as om saam te geniet van ’n maaltyd nie.

Veral die rykes in die gemeente het dergelike maaltye
georganiseer. Hulle het daaraan ’n feestelike karakter gegee.
Hulle het God se goeie gawes opgedis, kos en wyn. En dan die
armes, ook die allerarmstes van die gemeente genooi en ’n
ereplek aan die tafel gegee. Hulle het dit as ’n eer beskou
om hierdie heiliges te verkwik en bly te maak. Gedagtig aan die
woorde van die Here: “vir sover julle dit gedoen het aan een
van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan
My gedoen” (Mt 25:40). Nie sonder rede het hulle sulke
gesamentlike maaltye liefdesmaaltye genoem nie.

Moontlik is in aansluiting op so ’n maaltyd die Heilige
Nagmaal gevier. Dit geld hoogswaarskynlik in ieder geval vir wat
in vers 42 die breking van die brood genoem word. Aan die tafel
het hulle die gemeenskap met Christus en met mekaar gevier. Dit
was ’n blye en dankbare aangeleentheid. Hulle was sigbaar
bly met die verlossing in Christus en met mekaar. Dit teks noem
dan ook uitdruklik dat hulle hulle voedsel met blydskap geniet
het. Dis nie net innerlike blydskap nie, maar ’n blydskap
wat na buite kom en sigbaar is. Die blydskap is blykbaar ’n
tipiese werk van die Heilige Gees. Hy maak blye mense van ons.
Want die koninkryk van God bestaan nie in spys en drank nie, maar
in geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees (Rom14:17).

Maar broers en susters, seuns en dogters, kan dit wel, hierdie
blydskap? Hierdie mense ken tog ook die pyn en hartseer van die
breuk met die Joodse gemeenskap, met hul familie en vriende? Ons
ken tog almal ons persoonlike moeite en verdriet? Die Skrif praat
tog ook van lyding en droefheid wat Christus se volgelinge kan
verwag? Hoe kan die blydskap dan tiperend vir ’n Christen
wees? Geliefdes, hierdie blydskap is geen oppervlakkige blydskap
nie soos ’n mens dit sien by iemand wat te veel drink en
uitbundig bly kan wees maar later babbalas voel. Dis ook geen
blydskap wat maak asof daar geen moeite en stryd is nie. Dis
’n blydskap wat in die Here moontlik is, ’n blydskap
oor die verlossing in Christus. ’n Blydskap oor die nuwe
lewe deur die Gees. ’n Begin van die ewige vreugde. Hoe
groot die verdriet in jou lewe ook al mag wees, die blydskap mag
die oorhand hê, ja, moet die oorhand hê: die verlossing in
Christus oortref mos alles en sal ook jou verdriet en stryd
anders maak. Dit sal nie ’n verdriet sonder hoop wees nie.
In geloof mag jy mos versekerd wees dat niks jou sal skei van die
liefde van Christus nie. Hy is gister en vandag dieselfde en tot
in ewigheid. As jy in Hom bly, dan word jou blydskap vol. Dan
verbly jy jou in die vergewing van sondes en die ewige lewe wat
Christus uit genade skenk. Dan lag jy deur jou trane heen. Dan
kan jy met Paulus sê: ek loop oor van blydskap in al ons
verdrukking (2 Kor 7:4). Soms lyk dit asof Christene nie durf om
bly te wees nie. Wanneer gevra word: hoe gaan dit met jou, kom
die antwoord soms nie verder as: ek kan nie kla nie. Is dit al
wat ons as Christene kan sê? Ek kan nie kla nie. Het ons nie
juis iets baie positief in ons lewe deurdat ons Christus ken nie?
As jy Christus liefhet en in Hom glo dan kan jy met blydskap jou
pad volg, in goeie en kwade dae. God se genade en Gees is immers
by jou. Gee jou lig, uitsig en vreugde. So het die blydskap die
eerste Christelike gemeente gekenmerk. ’n Vrug van die
Pinkstergees.

Gemeente, in die atmosfeer van die blydskap was daar die
diakonale sorg vir mekaar. Dit laat ’n mens dink aan die
feeste van die Ou Testament, byvoorbeeld die Loofhuttefees. Daar
was blydskap en mense het geëet en gedrink. Wat sê die Here tot
die vrolike volk? Hy sê o.a. “Jy moet daar eet voor die
aangesig van die Here jou God en vrolik wees, jy en jou huis.
Maar die Leviet ... moet jy nie aan sy lot oorlaat nie ... en die
vreemdeling en die wees en die weduwee moet kom en hulle moet eet
en versadig word (Deut 14:26-29).

Dit hoort eenvoudig by die blydskap voor die aangesig van die
Here: jy sorg saam vir die swakkes, vir hulle wat geen of te min
inkomste het, of sosiaal baie kwesbaar is. Die Heilige Gees het
na Pinkster die wet van die fees in die harte van die gelowiges
geskrywe. Niemand se lewe mag deur sorg en armoede so versomber,
dat daar geen ruimte vir daardie blydskap sou oorbly nie.

Dit gaan uiteindelik oor die eer van God. So kom ons by die
derde gedagte: Hulle onderlinge liefde wek verwondering by die
buitestanders.

Ons lees in vers 47: “Terwyl hulle God geprys het en in
guns was by die hele volk.” Hulle het God geprys. Alles wat
hulle gedoen het, was gekenmerk deur die lof op God. Deur woord
en daad het hulle mense na God verwys.

En die menigte wat eers skepties en spottend teenoor die jonge
kerk gestaan het, verander van houding. Die besondere houding en
optrede van die gelowiges wek by hulle verwondering. Wat ’n
liefde, trou, erns en blydskap! Wat ’n voorbeeldige lewe!
Wat ’n godvresende mense!

Dit het deur God se genade en Gees op baie van hulle ook
’n konkrete uitwerking: “die Here het daagliks by die
gemeente gevoeg die wat gered is.” So ’n Christelike
gemeente het ’n impak in die omgewing. Hulle word opgemerk.
Daar gaan ’n krag van uit. Dis waar dat dit die Here is wat
die groei in die gemeente gee. Hier skitter die vrymag van God.
Dis Hy wat later die kerkvervolger Saul in sy hart gryp en ’n
tronkbewaarder laat uitroep: wat moet ek doen om gered te word?
Die Heilige Gees gee die uitbreiding van die kerk. Maar dit sluit
nie uit die trou en ywer van God se volk nie. Die Here doen dit ,
maar Hy wil daarby sy volgelinge inskakel. Deur die getroue
verkondiging van sy Woord, deur die aanhoudende gebed, deur die
glans van ’n ware Christelike lewenswandel. Langs die weg
laat die Here sy kerk groei.

Broers en susters, wat ’n pragtige beeld kry ons van die
eerste gemeente. Voorbeeldig! By uitstek ’n diakonale
gemeente. Iets waarop ’n mens jaloers kan wees. Tog is dit
’n self portret. Dis die Christelike kerk waarvan jy ’n
lid is. Is dit ’n pragtige ideaal wat nie meer bereik kan
word nie? Iets van die goeie oue tyd wat verby is? Nee, onthou
dieselfde Woord en Gees van Christus is vandag nog steeds besig
hier in jul midde. Dis die Gees wat lewend maak. Wat harte en
lewens vernuwe. Sou Hy vandag dan minder kragtig wees? Word met
die Gees vervul, sê Paulus. Laat die Gees jul hart en lewe
beheers. Dan sal die mag van die liefde ook in hierdie gemeente
sigbaar wees. Tot eer van God en tot heil van ander.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)