Die verhouding by die werk moet beheers word deur jou verhouding tot God

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-05-17
Text: 
Efésiërs 6
Preek Inhoud: 

Efésiërs 6:5-8

Ds C Kleyn - Sondag 17 Mei 2005

Lees: Efésiërs 5:1-21.
Sing: Ps 37:2,3,4; Ps 38:1,15;17; Ps 127:1,2; SB
24:2,3,7; Ps 116:1,9,10.

Tema: Die verhouding by die werk moet beheers word
deur jou verhouding tot God

  1. Hoe moet ons dien
  2. Waarom moet ons so dien

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In ’n land van baie werkloosheid is ’n mens lank bly
as hy of sy werk het. Die vreugde wat die arbeid sou moet gee,
word egter dikwels versteur. Die vloek van die verlore paradys
word deur baie ervaar. Sweet en trane. Frustrasies en spanning.
Regstellende aksie. Aanstellings op grond van velkleur en nie op
grond van ervaring of kwalifikasies nie. Mense met meer ervaring
en beter kwalifikasies word skielik ondergeskik gemaak aan mense
wat min of geen ervaring of kennis het nie. Soms moet jy vir
’n minimale inkomste baie hard werk, terwyl mense rondom jou
met groot inkomstes byna niks doen nie. Vir sommiges is daar die
konstante gevaar van afdanking omdat hulle die verkeerde velkleur
het. Hoe kan ’n mens in so ’n situasie nog gemotiveer
bly? Die frustrasies en spanning van die werksituasie kan ’n
mens amper stukkend maak.

In ons teks spreek Paulus die werksituasie aan. In sy tyd was
daar veral die verhouding van slaaf-heer. Dit was ’n vaste
struktuur van die tyd. Dis opvallend dat Paulus nie die struktuur
uitdruklik veroordeel of goedkeur nie. Hy fokus eerder op die
houding wat Christene binne sulke strukture moet aanneem.
Gemeente, julle sal verstaan dat die huidige werksverhouding nie
dieselfde is as dit van die slawe tov hul here nie. Die slaaf was
die eiendom van sy heer, oor wie hy volkome gesag gehad het. Die
karakter van die verhouding tussen ’n werkgewer en ’n
werknemer is vandag totaal anders. Die huidige werksverhouding is
gebaseer op ’n vrywillig aanvaarde ooreenkoms. Die gesag van
die werkgewer vloei dus voort uit die vrywillige ooreenkoms wat
hulle aangegaan het en word daardeur begrens. ’n Werknemer
moet luister en gehoorsaam binne die beperkings van die
arbeidskontrak. As dinge nie goed gaan nie, dan is hy altyd vry
om die kontrak op te sê en ander werk te soek. En as die baas
skuldig is aan kontrakbreuk dan kan hy selfs deur sy werkers voor
die hof gesleep word. Die arbeidsverhoudings van toe en nou is
dus kenmerkend anders. Tog bly die beginsels wat Paulus in ons
teks noem toepaslik, ook vandag. Elkeen van ons kan daarvan leer
mbt ons werksituasie.

Broers en susters, in ons teks het ons te doen met ’n
ander toepassing van die beginsel wat Paulus in die voorgaande
hoofstuk genoem het, veral die verse 18 en 21. Die leidende
gedagte is, soos by die ander huisreëls wat Paulus voor ons teks
genoem het: “Moenie dronk word van wyn nie ... maar word met
die Gees vervul.” En: terwyl julle aan mekaar onderdanig is
in die vrees van God, vers 21. Dis belangrik dat ons hierdie
agtergrond van ons teks in gedagte hou. Hier het ons ’n
derde illustrasie van Paulus oor hoe ons, wat met die Gees vervul
is, aan mekaar onderdanig moet wees.

In die verhouding tussen slawe en here, werkers en base was
daar altyd sekere probleme, spanning en frustrasies. Die sal daar
altyd bly. Dis omdat die mens van nature sondig is. Met as gevolg
dat hy in wese selfsugtig is. Dan kan ’n sekere spanning in
so ’n verhouding nie uitbly nie. In so ’n situasie is
die verleiding groot dat die mens hom blind staar op die
verhouding van mens tot mens. Dan gaan dit oor dinge soos
menseregte. Maar niks word gesê oor die mens se verhouding tot
God nie.

Tiperend vir ons teks is dat God en Christus sentraal kom te
staan. Ook in die werkplek gaan dit nie net oor die verhouding
van mens tot mens nie, maar in die eerste plek oor jou verhouding
tot God. Dit word in die bekende liefdesgebod verwoord: “Jy
moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele
siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.
En die tweede wat hiermee gelykstaan: jy moet jou naaste liefhê
soos jouself.” Hoe maklik dink ons nie net aan die tweede
wanneer dit oor arbeidsverhoudings gaan nie. God leer ons egter:
die eerste en groot gebod bly: jy moet die Here jou God liefhê.
Met dit in gedagte moet julle opnuut luister na die woorde van
ons teks: “Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na
die vlees, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus; nie
met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van
Christus wat die wil van God van harte doen.” Die Here skuif
die vraagstuk op na die sfeer van God en ons verhouding met Hom.

En die Here is ook versigtig om dieselfde vir die here te sê,
vers 9: “En here, doen dieselfde teenoor hulle en laat staan
die dreigemente, omdat julle weet dat ook julle eie Here in die
hemele is en by Hom geen aanneming van die persoon is nie.”
Hoe regverdig en billik is die Here! Hy trek nie een bo die ander
voor nie. Hy laat albei kante sien. Hy spreek albei partye aan,
soos Hy dit reeds gedoen het mbt die verhouding manne –
vroue en vaders - kinders. Onthou, of jy nou werkgewer of
werknemer is, die saak waaroor dit veral gaan, ook in die
werkplek, is jou verhouding tot God.

Laat ons nou nader let op die woorde van die teks self. Ek vat
dit as volg saam: die verhouding by die werk moet beheers word
deur jou verhouding tot God

  1. Hoe moet ons dien
  2. Waarom moet ons so dien

Paulus praat openlik tot die Christene van die eerste eeu oor
die regte houding van slawe teenoor hul aardse here. Paulus wil
die heer – slaaf verhouding van binne uit transformeer, deur
menslike houdings te transformeer. Die geloof van die Christelike
slawe verander nie die werklikheid van slaaf wees nie. Die geloof
vereis egter wel ’n verandering in houding teenoor hul
aardse here. “Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na
die vlees .... in opregtheid van hart” sê Paulus.

Ons kan ons die protes van die slawe voorstel. “Paulus, u
ken my heer nie. Hy is hard en wreed. As ek nie tot sy
bevrediging presteer nie, slaan hy my met die sweep. So ’n
heer verdien geen respek nie.” Vandag kan so ’n protes
ook by ons aanwesig wees. Miskien dink jy: “Dis reg Paulus,
u ken my werkgewer nie. U ken nie sy gewoontes, sy gedrag, sy
buie, sy vernedering en misbruik van sy werkers nie. Dis maklik
vir u om te praat oor gehoorsaamheid en respek vir die
opdraggewers. U het nooit ’n baas soos myne gehad nie.”

Maar Paulus se woorde is duidelik. Wees gehoorsaam aan julle
here na die vlees in opregtheid van julle hart. Dit geld nie net
die goeie here nie maar ook die slegtes. Luister maar na wat God
in 1 Petr 2:18 skryf: “Diensknegte, wees julle here
onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en
vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is.” Ek
word geroep om my met gepaste gehoorsaamheid te onderwerp aan my
opdraggewer (binne die perke van die arbeidskontrak of
arbeidswetgewing), nie net aan hulle wat goed en vriendelik is
nie, maar ook aan hulle wat onvriendelik en selfs onbillik is.

Wees gehoorsaam nie met oëdiens nie. Dis iets wat dikwels
gebeur. Die werker het dan die oog meer op die opdraggewer as op
die taak self. As die baas weg is, jou nie sien nie, dan doen jy
die minimale, net genoeg om nie in die moeilikheid te kom nie.
Maar wanneer die baas aanwesig is, dan werk jy hard om die indruk
te skep dat jy ’n baie getroue werker is. Dit is oëdiens.
Jy stel nie werklik belang in die werk nie. Jy werk net goed en
hard wanneer jou meerdere jou sien. As Christen mag ek my nie so
gedra nie.

Wees gehoorsaam met vrees en bewing, sê Paulus. Dit kan wys
op die feit dat ek met opregte eerbied en ontsag vir die
werkgewer vervul moet wees. Ek staan dan onmiddellik klaar om sy
opdragte uit te voer. In verband met die gebruik van daardie
woord kombinasie vrees en bewing elders in die NT kan dit egter
ook meer beteken. Jy is dan nie bang vir een of ander persoon nie.
Jy is eerder bang dat jy jou hemelse Meester Christus nie op
’n goeie manier verteenwoordig nie. Jy ervaar dit as ’n
baie gewigtige, ernstige saak om vir Christus te mag werk, om Hom
te verteenwoordig. Wee my as ek dit nie goed doen nie! Daarom is
daar die vrees en bewing. Ek wil ook in my werkplek ’n
waardige verteenwoordiger vir my Here Christus wees.

Gemeente, Paulus noem ook dat ons ons werk in opregtheid van
hart moet doen. Laat ons oop en eerlik daarin wees. Onverdeelde
aandag aan die werk gee. Ek wil dan so goed as moontlik my taak
doen. Op die beste manier. Terwyl ek in diens is, wil ek die
beste gee aan my werk en aan my baas, maak nie saak watter tipe
baas hy is nie. My tyd is dan nie my eie tyd nie. Die geld
waarmee ek werk is nie my eie geld nie maar my baas s’n.
Daarom mag ek nie die tyd en geld van die werkgewer gebruik om
eie dinge te doen nie, selfs nie om dinge in diens van die
evangelie te doen nie. Tensy my werkgewer my daartoe toestemming
gee. Ek is nie in diens geneem as evangelis nie, maar om die werk
van my baas te behartig. Dis waarin ek as Christen my moet wy. As
daar geleenthede voordoen om met ander uitvoeriger oor die
evangelie te praat, maak dan afsprake buite die werksure sodat
die baas se tyd nie misbruik word nie.

In vers 6 voeg Paulus hier nog aan toe: soos diensknegte van
Christus wat die wil van God van harte doen. Letterlik word hier
selfs die siel genoem pleks van die hart. Jy lê so te sê jou
siel in die werk. Jy doen dit met jou hele wese. Nie met teensin
of nors nie. Dit is soms ’n probleem. Dit kan gebeur dat ek
iets liewer nie doen nie. Ek moet myself steeds weer oorwin om
dit te doen wat my baas my opdra. Maar as jy ’n legitieme
opdrag ontvang het, gee jouself daaraan met volle toewyding.

Hierdie instruksie word verder versterk deur die woorde uit
vers 7: “en met goedwilligheid dien.” Jy toon
welwillendheid. Jy is opreg bereid om saam te werk binne die
grense van jou kontrak. Jy hoef nie voortdurend aangespoor te
word nie. Jy spring ywerig aan die werk sonder dat dit nodig is
dat iemand moet nagaan of jy wel op tyd begin en aan die werk bly.
’n Christen behoort ’n positiewe houding te wys, ’n
gewilligheid om inisiatief te neem. Indien ek ’n opdrag
voltooi het en daar is niemand aanwesig om nuwe take aan te wys,
dan doen ek alles in my vermoë om kreatief die tyd te vul met
werk wat tot voordeel van my werkgewer is.

As Christen moet ek leer om inisiatief te neem. Mense wat hul
werk doen sonder om voortdurend gemotiveer te hoef word, mense
wat bereid is om die ekstra myl te stap en wat steeds soek na
beter en meer doeltreffende maniere om die werk te doen, word
gesoek. Dit bring nuwe lewe in die bedryf. Ook al word dit dalk
aanvanklik nie gewaardeer nie. Jou entoesiasme kan ander
inspireer. Behalwe die positiewe houding, die wys van inisiatief
pas dit die Christen ook om na voortreflikheid te strewe. Jy lê
mos jou siel daarin. Jy wil dit so goed as moontlik doen. Met
toewyding. Jy doen dan nie net wat voldoende is volgens laer
standaarde nie. Jy werk op so ’n manier dat jou diens, jou
produk of jou taak voldoen aan die hoogste standaarde.

Nou die tweede punt: waarom moet ons so dien? As ek nie weet
waarom nie, sal ek nooit in staat wees om te dien soos Paulus my
daartoe roep nie.

Negatief geformeer sê Paulus: nie met oëdiens soos
mensebehaers nie (vers 6), maar met goedwilligheid die Here dien
en nie mense nie (vers 7). Ons oog moet nie op mense gefokus wees
nie. Is dit dikwels nie die probleem nie? Mense fokus voortdurend
op die mens, op hulleself, op ander mense. Dan is die vraag
steeds: hoe word ek daar beter van? Hoe gaan dit my baat? Wat sal
die baas of my kollegas van my dink? My lewe en werk word dan
beheers deur mense en hul menings. Dit kan baie verlammend werk.
Vir die Christen geld: nie soos mensebehaers nie, maar die Here
dien en nie mense nie.

Positief geformuleer gebruik Paulus vier uitdrukkings om te
wys dat ons met Christus en God te doen het. Vers 5: wees
gehoorsaam soos aan Christus. Vers 6: Soos diensknegte van
Christus. En: die wil van God van harte doen. Vers 7: met
goedwilligheid die Here dien en nie mense nie.

Hier het ons die sleutel vir ons posisie as Christene. Niemand
kan so praat behalwe ’n Christen nie. Die ongelowige stel
hierin geen belang nie, hy verstaan dit nie. Maar dit is die
kenmerk van die Christen. Wanneer jy werklik ’n Christen is,
dan sien jy dinge op ’n ander manier – jou werk, jou
besigheid, jou vrou, jou gesin, jou huis, die take wat so
onbelangrik lyk, ens. Jou hele uitkyk het verander. Niks bly
dieselfde nie. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy
’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het
alles nuut geword.” (2 Kor 5:17). As Christen verlang jy die
meeste om die wil van God van harte te doen. Jy wil in die eerste
plek God behaag. Soos diensknegte oftewel slawe van Christus, sê
Paulus. Wanneer jy soggens opstaan en werk toe gaan, onthou, jy
kan dan in diens van mense wees, maar jy is boweal ’n slaaf
van Christus. Jy is sy eiendom. Hy het jou duur gekoop met sy eie
bloed. Bevry van die slawerny van sonde en dood. Laat dan sy
gedagtes jou beheers in wat jy doen of nalaat om te doen. Miskien
dat jy inderdaad die situasie by die werk moet probeer verbeter.
Miskien dat jy inderdaad besware moet maak teen sekere praktyke.
Maar doen dit as ’n Christen, op ’n Christelike en
wettige manier. Wys dat jy werklik die goeie vir die bedryf soek
en vir die personeel en nie net eie mag en rykdom nie. Jou
belangrikste doel in die lewe is tog om God te verheerlik en om
Christus in alles te behaag.

Dis iets wat sal blyk in die manier waarop ek my werk doen. Is
dit by die werk sigbaar dat ek Christus se slaaf is, wat die wil
van God van harte doen? Broers en susters, terwyl die Christelike
getuienis in ons land steeds swakker word, en die arbeidsetiek en
moraal baie te wense oorlaat, is dit des te belangriker hoe ons
as Christene by die werk optree. Hoe kan jy evangeliseer? Deur
die manier waarop jy jou by die werk gedra. Daar is die
geleentheid. Slegte werk is die slegs moontlike aanbeveling vir
die Christelike geloof. Nalatigheid, slordigheid, halfhartige
arbeid is ’n slegte getuienis. Dit doen skade aan God se
koninkryk. Wanneer ek ’n slegte werker is, wat ’n
slegte diens lewer dan stel ek Christus teleur. ’n Christen
wat op ’n onaangename manier met mense bo of onder hom
omgaan, doen skade aan die Christelike getuienis.

Om dit positief te formuleer: Die Christen behoort altyd een
van die beste in elke departement te wees. Daarmee bedoel ek nie
dat die Christen altyd die mees beskaam daar moet wees nie. Nie-christene
kan bekwamer wees. Maar om Christen te wees beteken wel dat ek my
gawes altyd maksimaal probeer gebruik. Dit val op. So sal ek, so
te sê, een van die beste wees. Dit behels ’n vermaning. As
Christen behoort ek altyd ywerig te wees, altyd eerlik, altyd
betroubaar, altyd hulpvaardig, altyd beleefd en vriendelik ens.
Dis wat in die Christen behoort opval. Jou geloof gee jou geen
nuwe kundigheid of vaardigheid nie, ook al sal dit die dinge wel
bevorder. Maar as Christen kan jy wel ’n eerlike man of vrou
wees, betroubaar en ywerig. Iemand op wie ’n werkgewer of
werknemer kan staatmaak. Dis wat Paulus ons hier leer:
Diensknegte moet altyd hul werk so goed as moontlik doen, alles
daaraan gee.

Waarom moet ek as Christen so dien? Omdat ek Christus my
eienaar wil eer en behaag. My perspektief het verander, verruim.
Ek is bevry van die slawerny van mensebehaers tot die vryheid van
diens aan Christus. Ons grootste behoefte is om Jesus Christus
voor oë te sien. As die groot opdraggewer. Dan is dit moontlik
om ’n huis skoon te maak asof Jesus Christus die geërde gas
gaan wees. Dan is dit moontlik om onderwys aan kinders te gee,
pasiente te versorg en te verpleeg, kliënte te help, kantoor
werksaamhede te verrig, allerlei dinge te doen en te maak asof ek
alles vir Jesus Christus doen.

Broers en susters, dit kan wees dat dit wat jy so doen, nie
gewaardeer word nie. Mense kan jou daardeur selfs verneder,
bespot of verag. Dit laat ander mos onproduktief lyk. Miskien
word jy selfs daardeur teruggesit en op ’n laer inkomste
skaal gesit. Laat dan die woorde van jou hemelse opdraggewer jou
bemoedig. Jy het in die eerste plek met Hom te doen. Teenoor die
verdrukte gelowiges in Smirna sê die Here: “Ek ken jou
werke en verdrukking en armoede – maar jy is ryk” (Openb
2:9). Jy leef en werk miskien in ’n vyandige omgewing, waar
jy skynbaar min kan verander. Maar Christus sê: jy is feitelik
ryk. Nie net: jy sal later ryk wees nie, maar jy is ryk. Die Here
Jesus het jou mos met sy dure bloed gekoop! Jy behoort aan die
groot Koning.

En wie weet wat jou troue diens aan Hom voor die oog van mense
nog sal uitwerk? Miskien kan dit mense nog tot besinning bring,
tot die besef dat hulle tog iets in hul lewe mis of dat dinge tog
anders moet gebeur. Wie weet watter verskil die getroue en
selfopofferende diens van Christene nog in ons land, onder God se
seën, kan maak. Ons wil mos sien dat die situasie in ons land
ten goede verander? Miskien dat enkele mense uiteindelik tog die
vraag durf stel: wat moet ek doen om gered te word? Onthou die
koninkryk van God kom nie met groot fanfare nie. Die koninkryk
word vergelyk met suurdeeg of met ’n klein saadjie wat in
die grond gesaai word. Langsaam maar seker werk die suurdeeg in
die meel in sodat dit heeltemal ingesuur word. Die koninkryk van
God versprei deur ’n langsame proses van inwerking, groei en
ontwikkeling. Dinge verander nie oornag nie. Dis ’n proses
wat tyd vat. Soms lyk dit asof niks gebeur nie, of ons getroue
diens sinloos is, terwyl God reeds besig is om dit op sy manier
ten goede te gebruik. Laat ons die vrugte aan die Here oorlaat en
in vertroue saai.

Dan is daar ook nog die beloning wat Christus belowe. Hier
word jy miskien nie gewaardeer vir wat jy doen nie. Jy kry
miskien nie die beloning wat jy sou moet kry nie. Maar ons
hemelse opdraggewer vergeet ons nie. Hy beloon elkeen vir die
goeie wat hy doen of hy ’n slaaf is of ’n vryman. Die
Here prys die getroue dienskneg: Mooi so, goeie en getroue
dienskneg. Ek is trots op wat jy gedoen het. Ek verheug my daarin.
Oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in
die vreugde van jou heer. Jy het hier op aarde moontlik geen kans
op bevordering gekry nie. Jou baas het jou miskien onregverdig
bejeën, misbruik. Miskien het ander jou bespot en verneder. Wees
nie bekommerd nie. Jy kry jou loon, ’n ongekende bevordering.

Gemeente, laat ons opnuut ons daaglikse werk in hierdie lig
beskou. Wie is hier arm? Jy wat ywerig en trou jou werk soos aan
Christus doen? Jy wat as slaaf van Christus die wil van die God
van harte doen? Sou jy arm wees, terwyl hulle wat baie geld uit
niks doen maak, ryk is? Christus die groot koning sê: Ek ken jou
werke en verdrukking en armoede – maar jy is ryk. Wees
getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe
gee, ’n ewige erfenis.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)