Laat ons aan almal goed doen.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-03-06
Text: 
Galásiërs 6
Preek Inhoud: 

Galásiërs 6:10

Ds C Kleyn - Sondag 6 Maart 2005

Lees: Galásiërs 5:16-6:10.
Sing: Ps 37:1-3; Ps 79:5,6,9; Ps 105:5; Ps 37:23-25;
Ps 92:1,2,6,7; Ps 127:1,2.

Tema: Laat ons aan almal goed doen.

  1. Wat is dit?
  2. Hoe kan ek dit doen?
  3. Vir wie moet ek dit doen?
  4. Waar moet ek dit doen?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed
doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof." In
ons land word voortdurend ’n beroep op ons gedoen om goed te
doen. Daar is immers so baie nood in ons land. Dink aan die
armoede wat daar is, die gebrek aan kos of klere. Die nood van
die gestremdes. Die nood van die werkloses, die nood van
vigslyers. In die laaste jare het die nood sterker ons aandag
gekry. Skrikbarende syfers word genoem. Skrikbarende syfers van
hulle wat aan vigs gaan sterwe en van die kinders wat daardeur as
wese alleen agter gaan bly. In ons land is die nood groot. En
daarom ook die beroep wat op ons gedoen word.

Maar wat is dit om aan almal goed te doen?
Is ek wel in staat om dit te doen?
Wat is die verhouding tussen die "almal" en die
huisgenote van die geloof?
Watter geleenthede het ons om goed te doen?

Dit is vrae waarna ons wil kyk as ek aan julle verkondig:

Laat ons aan almal goed doen

  1. Wat is dit?
  2. Hoe kan ek dit doen?
  3. Vir wie moet ek dit doen?
  4. Waar moet ek dit doen?

Wat is dit om aan almal goed te doen? Dit is om vir ander
mense dinge te doen wat goed is en wat vir hulle nuttig is. Ek
doen dan opsetlik dinge wat nuttig vir ander is. Ja, ons moet vir
mekaar omgee. Gevoelig wees vir wat ander nodig het. Ek moet
werklik hul geluk, hul welsyn soek, met woord en daad. Om goed te
doen is nie net om geld of ander hulp te gee wat gevra word nie.
Dit moet werklik goed vir die ander wees en soos julle weet kan
net geld gee soms sleg vir mense wees. Eie verantwoordelikheid
moet gestimuleer word.

Om aan almal goed te doen is nie ’n maklike taak nie. Ons
is geneig om goed doen te beperk tot hulle van wie ons iets kan
terug verwag. Ons wil ook self daarvan voordeel ondervind. Dit
moet ook strook met ons eie belange. Ons belange staan in ons tyd
dikwels sentraal. Ek moet tog my eie lewe lei, of nie? My
ontwikkeling, my loopbaan, my stokperdjies, my plesier is dikwels
beslissend. Baie van ons het nou geleenthede vir ontspanning,
vermaak, stokperdjies, sport en die genot van weelde artikels.
Die verleiding is daar om heeltemal deur die dinge opgesluk te
word en so ’n lewe rondom onsself op te bou. Dit is ’n
groot gevaar vir vandag se christene. As die gesindheid ons
domineer, dan kom daar van die oes nie veel tereg nie. Want dan
het ons geen tyd en geen lus om mekaar se laste te dra nie (vers
2). Dan sal ek ook geen liefde en geduld hê om iemand wat deur
’n misdaad oorval word reg te help met die gees van
sagmoedigheid nie(vers 1).

Ja, gemeente, om goed te doen beteken dat ek myself moet verloën.
Daartoe moet ek myself, my tyd en geld en energie opoffer. Soos
die Christene van Macedonië, wat selfs bo vermoë gegee het. Die
gelowige wat goed aan ander wil doen, sal dikwels tyd moet gee
wat hy nie het nie. Dikwels is dit ’n daad van geloof, soos
dit ook die geval is as ek geld gee wat ek eintlik nie kan
bekostig nie. Ons sal altyd te besig wees om ander te help, tensy
ons werklik verstaan hoe belangrik God dit vind om aan ander goed
te doen.

Om goed te doen is nie slegs selfopofferend nie. Dit behoort
ook onvermoeid te wees. Paulus roep ons op in vers 9: "En
laat ons nie moeg word om goed te doen nie." Dis redelik
maklik om goed te doen in ’n aantal geïsoleerde gevalle.
Dis baie moeiliker om bepaalde goeie dinge dag in en dag uit te
doen. Ons het die neiging om te verslap of om dit na ’n
rukkie selfs te laat vaar. Veral as ons nie die beoogde respons
of resultate ontvang nie. In hierdie verband kan ons soms soos
klein kinders wees. Ons wil onmiddellike resultate sien. Ons wil
op dieselfde dag saai en maai. Daarom is die verleiding daar om
vinnig op te hou. Met die verontskuldiging dat ander nalaat om te
reageer. Of dat hulle wat sou moet help weier om saam te werk.

Geliefdes, as dit so moeilik, so veeleisend en vermoeiend is
om aan almal goed te doen, hoe kan ons ooit in staat wees om dit
te doen? Dis die tweede gedagte van die preek: Hoe kan ek dit
doen?

As ek my deur my sondige vlees laat lei, as ek saai om my
sondige vlees te bevredig, dan sal ek dit nooit kan doen nie. As
ek dink dat ek dit self kan presteer, dan sal dit verkeerd gaan.
Dit is iets waarteen die hele brief aan die Galasiërs waarsku.
Christus moet dit doen. In ons. Ek moet deur die Gees lewe. Ek
moet ’n nuwe skepping in Christus Jesus wees. Glo u, glo jy
dat Christus in jou woon? Dit is waaroor die geloof gaan. Geloof
verenig my met Christus. Wat geld vir Christus, geld dan ook vir
my. Sy werke is dan my werke. Dan kan ek met Gal 2:20 sê: "Ek
is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus
leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die
geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my
oorgegee het."

Daarom sal ek slegs goed kan bly doen as ek deur die geloof
lewe. Geloof is nodig. Ek moet glo in die Seun van God wat my
liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. Dink daar eers oor
na: Christus het my liefgehad terwyl ek van nature onbeminlik was.
Hy het Homself vir my oorgegee terwyl ek nog sy vyand was.
Christus het werklik aan almal goed gedoen, aan die ondankbares,
die slegtes, die verlorenes, die mense sonder hoop, die
opstandelinge. Daarom as ek goed wil doen aan die ondankbares,
die slegtes dan moet ek Christus in my laat woon.

My natuurlike neiging is om vriendelik en goed te wees slegs
vir hulle waartoe ek my aangetrokke voel, my familie, vriende,
beminlike mense. Maar Christus wys goedheid aan hulle wat
veragtelik is, die ondankbares en slegtes. Het jy ooit geprobeer
om goed te wees vir iemand wat ondankbaar is? Tensy Christus in
my hart werk, dan sal my reaksie op sy ondankbaarheid waarskynlik
wees: Ek sal nooit meer iets vir hom of haar doen nie. Maar
Christus draai nie sy rug op die ondankbares nie. As Hy dit
gedoen het dan sou ek ook vir ewig verlore wees. So sê Christus
vir ons in Lukas 6: 35: "Maar julle moet jul vyande liefhê
en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle
loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste
wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.
Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is."

Om goed te doen is dus ’n saak van meer en meer soos God
word, aan Christus gelykvormig word. Dis ’n saak van "Christus
in my." So ’n lewe het sy eie karakteristieke vrug,
naamlik liefde met sy verskillende aspekte o.a. goedheid.

Dis onverenigbaar met wat die sondige natuur, met sy selfsug,
produseer. Sodat ek nie doen wat ek wil nie. Die twee staan
teenoor mekaar, soos goed en kwaad.

Ons herken almal wel die woorde van Ef 2:8,9. Daar word gesê
dat ons uit genade gered is, deur die geloof en nie uit werke nie.
Ewe belangrik is egter ook die volgende vers, Ef 2:10: "Want
ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat
God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel." Dis ’n
verrassende uitspraak. Ons is nie slegs geskape in Christus
Jesus, wedergebore tot die doen van goeie werke nie. Maar ons is
geskape om goeie werke te doen wat God voorberei het, sodat ons
daarin kan wandel. Voordat ons Christus leer ken het, het God
sekere goeie werke voorberei vir ons om te doen. God het goeie
werke vir elkeen van ons voorberei, in ooreenstemming met ons
gawes en omstandighede. Ons moet bid: Here, wat wil u dat ek sal
doen? En dan moet ons dit doen in die krag wat deur Hom verleen
word.

Hoe kan ek dan die veeleisende en vermoeiende taak om aan
almal goed te doen vervul? Slegs deur geloof. Deur God se
verbasende liefde vir my, ’n verlore sondaar, aan te neem.
Deur Christus se liefde in my lewe te laat skyn. Deur die
vergewing van my sondes en die vernuwing van my lewe te glo. Deur
in geloof te aanvaar dat ek ’n nuwe skepping is, geskape in
Christus Jesus om goeie werke te doen.

Nou die derde punt: aan wie moet ek dit doen?

Die teks sê: Laat ons aan almal goed doen, maar die meeste
aan die huisgenote van die geloof. Sommige benadruk die laaste
woorde van die vers in so ’n mate dat goed doen soveel op
die huisgenote van die geloof gerig word dat dit lyk asof daar
geen tyd, geen geld en geen energie oorbly vir hulle wat buite
verkeer nie. Tog is die apostel duidelik dat hy werklik wil hê
dat ons aan almal goed doen, ongeag die ras, nasionaliteit, klas,
godsdiens of wat ook al.

Hier reageer die apostel ten dele op die valse leraars wat die
Galasiërs lastig val. Die valse leraars (Judaïste) is van
mening dat ’n mens deur besnydenis tot God se spesiale volk
toetree en afgesonder word van alle ander mense. Dit sou dan
beteken dat die besnedenes niks te doen sou hê met die
onbesnedenes nie. Die onbesnedenes sou ’n klomp verlorenes
wees. Dit is hierdie instelling wat die apostel bestry. In plaas
van om die ander te ignoreer as ’n klomp verlorenes, moet
die Galasiërs aan almal goed doen.

In hierdie verband is Paulus se woorde in Gal 3:8 baie
leersaam. Daar herinner Paulus ons daaraan dat Abraham vanaf die
begin vir die heil van alle volke geroep is. Dis wat God vir
Abraham gesê het heeltemal by die begin van Israel se
geskiedenis: "In jou sal al die geslagte van die aarde geseën
word (Gen 12:3). Dit is waar dat die Jode nie met die ander volke
mog vermeng nie. Hulle mog die onderskeid tussen hulself as volk
van God en hulle wat God nie ken nie, nie ignoreer nie. Maar dit
gee die Judaïste nie die reg om op alle ander mense neer te sien
asof hulle ’n klomp verlorenes is wat geen goedheid hoef te
ontvang nie. Paulus benadruk dat Abraham ’n seën vir alle
volke sou wees, ’n seën vir alle soorte mense. Dit is
terwille van al die volke dat God Israel in die eerste plek
afgesonder het.

Jesus Christus het hierdie waarheid bevestig en vervul. Hy het
gesterwe nie slegs vir Jode nie, maar vir mense uit alle stamme
en volke en tale, of hulle nou Jode of heidene is, Romeine of
Grieke, Egiptenare of Kretensers, Europeane of Afrikane of wat
ookal. Jesus Christus, die Seun van Abraham, is deur God gegee om
’n seën te wees vir die volke, vir alle soorte mense. Nou
dit so is, sê Paulus aan die Galasiërs, mag jy nie die heidene
los in hul ellende nie. Inteendeel, wys vir ander die liefde wat
Christus vir jou gewys het. Wees ’n seën vir almal. Doen
goed aan almal of hulle Jode of heidene is, ryk of arm, beminlik
of onbeminlik, waardig of onwaardig. Jy het tog Christus se
liefde gesien en ervaar, of nie? Is Christus se liefde nie in jou
nie? Wel, weerspieël die liefde in jou omgang met ander mense.
Doen aan almal goed. Wees ’n seën vir almal in woord en
daad. Jy het tog die Heilige Gees ontvang? Dan moet tog die vrug
van die Gees, waaronder liefde, goedheid ens sigbaar wees?

Maar, geliefdes, wat moet ons dan maak met die laaste woorde
van die teks: "Maar die meeste aan die huisgenote van die
geloof"? My eerste verantwoordelikheid is altyd teenoor
hulle wat my die meeste naby is. Neem die voorbeeld van ouers. Jy
het ’n taak teenoor jou bure. Maar jou eerste
verantwoordelikheid is teenoor jou kinders. So ook hier. My
eerste verantwoordelikheid is teenoor die huisgenote van die
geloof, my medegelowiges. Gestel dat ek in die breër gemeenskap
baie vrygewig en behulpsaam is, terwyl ek my eie gesin of die
kerkgesin ignoreer. Dit sou ’n skande wees. Dit sou ook my
Christelike getuienis ondermyn.

Dink aan wat Paulus skrywe in 1 Tim 5:8 "Maar iemand wat
vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die
geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige." Sterk
woorde! Dit wys ons op ons eerste verantwoordelikheid.
Verwaarlosing daarvan sou Christus se evangelie van liefde
bespotlik maak. Kan jou vir jou ’n gemeente van Christus
voorstel wat geen liefde toon nie en waar die mense mekaar byt en
opeet, soos Paulus dit noem in Gal 5:15? Watter effek sou dan die
liefdediens buite die kerk hê? As ek nie eers in my eie kring my
geloof in praktyk kan bring nie, wat moet die buitestaanders wel
van my Christen wees dink? Dit sal hulle in elk geval nie na die
kerk trek nie. Dan sal hulle nie deur my dade na my Vader gewys
word nie, sodat hulle ons Vader wat in die hemel is gaan
verheerlik. Besef daarom hoe belangrik dit is om ware christelike
liefde en goedheid binne die eie gemeente te toon. Nie dat die
kerk eers volmaak in haar liefde moet wees om effektief te wees
nie. Dan sou die kerk nooit in die wêreld kan optree nie, want
solank as Christus nie terugkom nie sal ons beste werke nog met
sonde bevlek wees. Maar die evangelie van redding deur Christus
moet wel weerspieël wees in die omgang met mekaar.

Nou die laaste punt: waar moet ek dit doen?

Dit vloei voort uit wat ons reeds genoem het. Maar nou wil ek
dit iets konkreter maak. Om aan almal goed te doen begin by die
huis. As ek aan ander goed doen terwyl ek die behoeftes van my
man of vrou, van my ouers of kinders ignoreer, dan beoefen ek nie
die deug van goedheid nie. Wat doen ons, as mans, vir ons vroue,
vir hulle wat die mees naby ons is? Daar is baie klein dinge wat
ons in die huis sowel as rond die huis kan doen om ons vrouens
bly te kan maak. Dieselfde geld vir vroue teenoor hul mans.

Die beste opvoeding is deur voorbeeld. As ek my kinders wil
oefen om goed te doen (en hulle moet daarin geoefen word, dit kom
nie vanself nie) dan moet ek ’n voorbeeld vir hulle wees.
Hoeveel seuns en dogters wat in Christelike gesinne grootword het
die voorreg om te sien dat hul pa en ma mekaar in liefde uithelp
en daar vir mekaar is, om mekaar te dien? Laat ons aan almal goed
doen maar die meeste aan ons eie huisgenote. Vir jong mense kan
dit soms makliker lyk om op ander plekke te help as in die eie
huis. Dit is miskien meer bevredigend om die kinders van ander
ouers op te pas as om ma te help met die skottelgoed of met ander
huishoudelike take. Maar vergeet nie dat liefde, goedheid en
behulpsaamheid by die huis begin.

Watter ander geleenthede het ons om goed te doen? Dit sal per
persoon varieer. Beskou jou gawes, jou talente, jou werk en jou
omstandighede as ’n spesiale erfdeel wat God aan jou
toevertrou het om daarmee ander te dien. Soos die apostel Petrus
skrywe in 1 Pt 4:10: "Namate elkeen ’n genadegawe
ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars
van die veelvuldige genade van God." Onthou, jy hoef nie
alle goeie dinge wat in die wêreld gedoen moet word, doen nie.
Dit sou onmoontlik wees. Jy word geroep om te doen wat God vir
jou beplan het.

Die meeste geleenthede om goed te doen, kom na ons toe op ons
normale daaglikse lewenspad. Soek nie die opsienbarende dinge nie.
Min mense het ooit die geleentheid om ’n mens uit ’n
brandende motor te red. Elkeen van ons het wel die geleentheid om
’n vriendelike en bemoedigend woord te spreek, om die
kleine, byna onsigbare, daad te verrig wat die lewe vir ander
meer plesierig kan maak.

Dalk is een van die mees voor die hand liggende area waarin jy
goeie werke kan doen jou daaglikse werk. Die meeste beroepe is
daarop gerig om die behoeftes van mense te bevredig. God het die
wêreld so georganiseer dat mense met onderskeie moontlikhede
onderskeie behoeftes vervul. Beskou daarom nie jou beroep as
’n noodsaaklik kwaad om die rekenings te kan betaal nie, of
as ’n geleentheid om ryk te word nie. Nee, beskou eerder jou
beroep as ’n geleentheid om die goeie dinge te doen wat God
vir jou beplan het. Wees diensbaar vir ander mense. Wys dat jy
nie slegs beoog om geld te maak nie. Wees ’n goeie
Christelike vakman of sakeman. Gee mense waarde vir hul geld, ook
vir die loon wat hulle jou moet betaal. Lewer goeie produkte, en
goeie dienste. Toon opregte belangstelling in die welsyn van die
kliënte of van die werknemers. Behandel hulle goed en billik.

Geliefdes, om in die deug van goedheid te groei moet ek die
regte houding teenoor my werk of studie hê. Beskou hulle as
geleenthede om goed te doen. Sodat die mense julle goeie werke
kan sien en jul Vader wat in die hemele is verheerlik.

Vroue wat by die huis hul taak het, het ander geleenthede. Om
’n tuis te skep en om kinders groot te maak is op sigself
van onskatbare waarde. Dalk ontvang jy ook ’n groter
geleentheid om buite die huis goed te doen, soos omsien na siekes
of eensames, die betoning van gasvryheid, die bereiding van
maaltye vir ander of die opvang van ander se kinders.

Laat ons almal bedink wat God sou wil hê dat ons doen vir die
heil van ander mense. Toon opregte belangstelling vir mense. Neem
die tyd om na hulle te luister. Een van die minste
vanselfsprekende, maar moontlik die mees ingrypende, behoefte wat
baie mense ervaar, is om iemand te hê wat werklik wil luister.
’n Klein bietjie belangstelling van iemand wat omgee kan
reeds baie beteken.

Spreek ’n bemoedigend woord waar moontlik. Aanvaar die
koste van goeie werke in terme van tyd, aandag en inspanning.
Beskou die geleenthede om goed te doen nie as interrupsies nie,
maar as deel van God se plan vir jou. Hy het jou tog geskape in
Christus Jesus tot goeie werke? Leef vanuit Christus. Fokus op sy
liefde vir jou. En weerspieël die liefde in jou omgang met ander.
Bid vir sy genade om verder te kyk as jou eie belange en om die
node en behoeftes van ander raak te sien. En wees ontvanklik vir
die genade wat jy nodig het om te groei in die deug van goedheid.
In geloof.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)