Elkeen wat die gepredikte woord glo, sal gered word.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-03-06
Text: 
Romeine 10
Preek Inhoud: 

Romeine 10:14,15

Ds C Kleyn - Sondag 6 Maart 2005
Bevestiging van J Mhlanga

Lees: Romeine 10:5-21.
Sing: Ps 100:1-4; Ps 96:1,2,5,6; Ps 134:3;
Apostoliese Geloofsbelydenis.

Tema: Elkeen wat die gepredikte woord glo, sal gered
word.

  1. Die prediking is noodsaaklik; en
  2. Die prediking is pragtig.

 

Go to English summary

Afrikaanse Preek

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Na soveel jare sending in Mamelodi en Soshanguve ontvang ons
vanmiddag ons eerste outogtone sendeling, br J Mhlanga. Tot nou
toe het ons steeds blanke sendelinge in diens gehad om die woord
van God in die townships te verkondig en daar kerke te stig, ook
al het outogtone medewerkers die laaste jare reeds baie
bygespring. Vanmiddag kry ons egter ons eerste outogtone
sendeling wat in diens van die Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria
Maranata staan. Dis ’n pragtige ontwikkeling waaroor ’n
mens baie dankbaar kan wees. Een van hulle eie mense, broeder
Mhlanga, een wat hul taal en kultuur van binne uit ken, word nou
amptelik uitgestuur om die Woord van God vir die inwoners van
Soshanguve te verkondig. Onderskat nie die waarde daarvan nie.

In watter land en situasie moet hy sy werk doen? Ons leef in
’n land met baie uitdagings. Met die politieke omwenteling
in die jare 90 is daar allerlei verwagtings geskep. Mense het
gehoop op bevryding, redding, die opheffing van armoede en
ellende. Maar wat het daarvan geword? Het redding gekom? Daar bly
nog baie nood. Die armoede is nog steeds daar, ook al het ’n
deel van die bevolking ’n betere lewensstandaard bereik.
Daar is nou ook die verskriklike siekte vigs wat miljoene in
ellende dompel. Daar is die misdaad en as gevolg daarvan die
onveiligheid. Daar is veelal nog ’n gebrek aan goeie
onderwys en mediese versorging. ’n Mens sien in die
townships ’n afwisseling van hoop en teleurstelling. ’n
Mens sien ook ’n vermenging van traditionele godsdiens en
Westerse stedelike invloede. Die vermenging maak die situasie nie
beter nie. Inteendeel, die liberale etiek wat vanuit die Westerse
wêreld hier opgang maak, het bv die probleem van die vigs net
erger gemaak. Daar ontstaan verwarring en vervreemding tussen
hulle wat die tradisionele praktyke wil aanhou en hulle wat hulle
wat die moderne Westerse styl van lewe wil oorneem. Het redding
gekom? Geluk?

In so ’n wêreld van onsekerheid, vermenging van kulture,
vervreemding en nood moet br Mhlanga die evangelie verkondig. In
die huise, in die eredienste en by watter geleenthede ook al. Dis
die rykste geskenk wat ons die mense kan gee. En dit bring ware
redding.

Ek verkondig vir julle Elkeen wat die gepredikte woord glo,
sal gered word.

Ons let op tweërlei, eerstens die prediking is noodsaaklik en
tweedens, die prediking is pragtig.

In Rom 10 is die woord redding ’n sentrale woord. Vir wie
is die redding? Daar word daarop gewys dat net hulle wat glo in
ons Heer en Heiland Jesus Christus werklik gered sal word. Kyk
maar na vers 9 ev. “As jy met jou mond die Here Jesus bely
en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy
gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die
mond bely ons tot redding. Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom
glo, sal nie beskaam word nie.”

Hierdie redding is nie beperk tot sekere rasse nie. Vers 12:
“Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie;
dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom
aanroep.” Pragtige woorde, juis by hierdie geleentheid,
waarby ons vanuit die verskillende bevolkingsgroepe saam die Here
aanbid. Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie,
tussen Europeaan en Afrikaan nie, dieselfde Here tog is Here van
almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. Dit maak nie saak tot
welke bevolkingsgroep jy behoort. Die verskil van ontwikkeling,
kultuur en taal maak vir die Here nie saak nie. Vir elkeen wat
Hom aanroep is Hy dieselfde. Die aanbidding van Hom in gees en in
waarheid verenig mense, verenig Europeane en Afrikane. Voor die
Here Christus is ons almal gelyk. Vir almal is daar net een
Redder, ons Here Jesus Christus, en Hy wil Heer van elkeen van
ons en ryk oor elkeen van ons wees. Want elkeen wat die Naam van
die Here aanroep sal gered word.

As jy die Here aanroep, sal jy gered word. Wat vir die mense
uit ons omgewing, ook in Soshangvuve dus belangrik is, is dat
hulle die Here aanroep. Dit beteken die redding, die opheffing
van ons mense. Dis wat ons die meeste vir hulle kan begeer. Maar
dan maak ons teks duidelik dat daarvoor verskillende dinge moet
gebeur. Mense gaan nie sommerso die Here in waarheid aanroep nie.
Daarvoor is geloof nodig. Daarvoor moet jy eers Hom vertrou. Jy
gaan mos nie iemand aanroep wat jy nie ken en vertrou nie. Maar
om te glo is nodig dat jy Hom hoor en leer ken. Immers, hoe sal
hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? Letterlik
praat die teks selfs van “wie hulle gehoor het” pleks
van “oor wie hulle gehoor het.” Jy moet, so te sê, Hom
self eers hoor voordat jy Hom kan glo en dien. Die Here self laat
nog steeds van Hom hoor. Hy praat nog steeds, Hy maak nog steeds
Homself bekend. Hy doen dit deur middel van sy gesante. Hoe kan
hulle hoor sonder een wat preek? Hoe kan hulle die Here hoor
spreek sonder ’n prediker? Hier sien ons die noue verbinding
tussen die ware prediker en die Here self. In die troue prediker
ontmoet jy en hoor jy die Here self.

Sien hier hoe onmisbaar die prediking is. Normaalweg is dit:
Sonder prediking, geen redding.

Maar is die redding dan so nodig? Moet elkeen dan gered word?
Ook hulle wat reeds bemagtig is en voorspoed en welvaart ken? Tog
wel. Maak nie saak hoe ryk en magtig iemand is nie, hy moet gered
word. Waarvan dan? Elkeen moet van die sonde, van die dood, van
God se toorn gered word. Deur ons opstand teen God in die paradys
is die aarde geen paradys meer nie, maar het ons die dood oor ons
gehaal, met al die ellende daarvan. Ons het die toorn van God oor
ons uitgeroep. Daarom is die sonde en ellende, die misdaad en
armoede nog steeds deel van ons samelewing. Wat het ons land en
volk die meeste nodig? Werkgeleentheid, geld, voedsel en onderdak
is inderdaad belangrik. Maar dit bring nog nie werklik redding
nie. Bo alles het ons mense die evangelie van Christus nodig. Dit
is van blywende, ewige waarde. Want die evangelie is ’n krag
van God tot redding van elkeen wat glo. Tot redding waarvan? Tot
redding van die sonde. Tot redding van God se toorn, tot redding
van die ewige dood.

Gemeente, op allerlei maniere het mense geprobeer om die
paradys te herwin. Die politieke omwenteling van die jare 90 sou
heil en geluk bring. Maar wat het daarvan geword? Dalk meer
materiële welvaart vir ’n deel van die bevolking wat
voorheen die kanse nie gehad het nie. Maar het die verdwyning van
apartheid ’n heilstaat opgelewer? Sonde, magsmisbruik,
korrupsie, geweld het nie verdwyn nie. Die hart van die mens het
nie verander nie. Daarom sal die heilstaat ook nooit bereik word
nie. Ook die invloed van die moderne Westerse denke sal dit nie
wesenlik verbeter nie. Inteendeel, ons het reeds genoem dat die
liberale Westerse denke die toename van Vigs net erger gemaak het.
Ware redding kom nie van die Weste nie, nie van hul denke nie,
ook nie van hul geld nie. Net die terugkeer tot die evangelie van
Christus kan werklik heil bring, heil vir alle bevolkingsgroepe,
ook vir die inwoners van Soshanguve.

Nie dat daardeur alle moeites en teenslag verdwyn nie. Maar
die Here wil daardeur ware heil bewerk: vergewing van sondes,
vrede met God, vernuwing van jou lewe, ewige lewe. Jy word
daardeur ’n ander mens, Jy beleef daardeur die omstandighede
anders. Jy kyk anders na die wêreld, ook na die Westerse
welvaart en vryhede. Dis beslis nie alles nie. Dit kan juis jou
ewige verderf beteken. Jy kyk ook anders na die lyding van die
teenwoordige tyd. Jy het vrede met God en dat is beteken alles
vir jou, dis van blywende waarde in lewe en sterwe. Ja, ook as
’n mens vanweë vigs die dood in die oë staar. Daar is
hoop, ’n ewige perspektief oor dood en graf heen.

Hoe belangrik is dit dan om hierdie evangelie by die mense te
bring. Dis iets wat hulle bo alles nodig het.

Nou kom ons by die tweede gedagte. Dis die tweede gedagte van
die teks: die prediking is pragtig.

Paulus gaan aan met sy vrae: en hoe kan hulle preek as hulle
nie gestuur is nie. Om te preek is om as herout op te tree.
Heroute kom nie met eie gesag of met eie bedenksels nie. Heroute
word gestuur. Hulle kom met die gesag van hul sender en met die
boodskap van hul sender. Jy hoef as prediker dus nie verleë te
wees oor jou gesag en jou boodskap nie. Jou boodskap is deur jou
sender God self bepaal. Hy het sy woord vir jou gegee. En as jy
jou aan sy woord hou, dan is jou woorde nie kragteloos nie. Dit
kom met goddelike gesag. God self staan daaragter. Hy kom daarin
saam. Ja, Christus kom daarin saam, Christus, die weg, die
waarheid en die lewe.

Geliefdes, met reg kan die ware prediking Christus prediking
genoem word. Christus, en daardeur die heil, word in die
prediking aangedra. Dink aan wat ons gelees het in Rom 10: 6-8.
Paulus praat eers oor Christus wat jy nie uit die hemel hoef
afbring of uit die afgrond hoef opbring nie. Daarna sê hy:
“Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is
die woord wat ons verkondig.” ’n Mens sou verwag dat
Paulus sou gesê het: naby jou is Christus. Dit volg logies uit
die voorgaande. Pleks daarvan sê hy egter: naby jou is die woord.
Waarom so ’n oorgang van Christus na die woord? Omdat
Christus juis in die woord teenwoordig is. Die woord is die woord
van Christus. As die woord naby is, is Christus naby, dan is die
heil naby.

Wat ’n voorreg om die woord te mag verkondig, te mag
uitdra aan mense wat sonder God en sonder hoop in hierdie wêreld
lewe. Wat ’n voorreg is dit ook om so ’n prediking te
mag ontvang. God sien om na verlore sondaars.

Daarom lees ons in die teks ook verder: Soos geskrywe is: Hoe
lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede
verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig. So
’n boodskapper is pragtig. Dis mos die mooiste boodskap wat
’n mens vir sy medemense kan bring. Die goeie nuus van vrede
en heil. Dink aan die kontras tussen die berig van ’n
verpleegster wat melding maak van die geboorte van ’n
gesonde kind en die berig van ’n polisieman wat slegte nuus
kom bring. Die voete van die verpleegster is lig en lieflik. Sy
het mos blye nuus om te vertel. Die voete van die polisieman is
egter nie lieflik nie, maar swaar. Hy kom met lood in die skoene
om die ongeluk mee te deel.

Ja, br Mhlanga, die boodskap wat jy mag bring is inderdaad
pragtig, lieflik. Jy bring mos Christus, die Redder van die wêreld.
Baie mense hou daarvan om met allerlei reëls en wette te kom.
Baie mense soek hul houvas in allerlei kerkwette. Een van die
eerste vrae wat mense soms vir die sendeling stel vra: wat is
julle reëls, die wette van jul kerk? Die gedagte is dan dat
hulle langs die weg van die wet hul redding kan bereik.

Paulus wys in Rom 10 egter daarop dat geen mens langs hierdie
pad gered kan word nie. Redding is net te vinde in Jesus Christus.
Jy hoef geen kragtoere te doen om Christus en die heil naby te
bring nie. God het in Christus vir die heil gesorg. Hy bring in
die woord die heil naby. Jy hoef dit net te glo. Meer is nie
nodig om regverdig voor God te wees nie. Die wet herinner jou net
aan sonde en skuld,straf en toorn. Die evangelie verkondig
redding van die sonde en skuld, bevryding van God se toorn en
straf, vrede met God. Dit verkondig mos Christus wat die reg van
God vir sondaars volbring het. Mense mag rus vind in wat Christus
reeds volbring het. In Hom besit jy redding van verderf,
bevryding van oordeel, ewige behoud. Elkeen wat in hom glo, sal
nie beskaam word nie. Jy kan in mense en magte, in politieke
stelsels en leiers teleurgestel raak. Maar in die evangelie, in
Christus sal jy nooit teleurgestel raak nie. Dit bied waarborge
vir tyd en ewigheid. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal
gered word. Dit maak jou prediking so belangrik en so mooi. Dit
behaag God om deur die getroue prediking mense te red. Dit is tog
wat ons in ons land soek?

AMEN

Gaan na Afrikaanse preek

English Summary

Beloved congregation of our Lord Jesus Christ,

After so many years of mission work in Mamelodi and Soshanguve
we now have our first indigenous missionary, br Mhlanga. One of
your own, one who knows your language and culture inside out is
now officially being sent out to preach the Word of God in
Soshanguve. A wonderful development.

In what situation does he have to do his work? People had
great expectations from the political change in the nineties.
This would bring freedom, prosperity and happiness. But what has
become of it? There is still a lot of misery. One need only think
of poverty, crime and aids. Because of its immorality modern
Western influences have made life worse. One can’t speak of
true happiness and success.

In such a society br Mhlanga hopes to preach the gospel at the
homes and from the pulpit. This is the greatest favour you can do
for your people. For this brings true bliss.

The theme of the sermon is: everyone who believes the true
preaching will be saved. We will consider two points: the
preaching is necessary and the preaching is wonderful.

Being saved is a central expression in Rom 10. Those who truly
believe in the Lord Jesus will be saved. Here there is no
difference between the races. Vers 12: “For there is no
difference between Jew and Gentile, we can add between European
and African, the same Lord is Lord of all and richly blesses all
who call on him, for everyone who calls on the name of the Lord
will be saved.”

It is therefore important that the people of Soshanguve call
on the name of the Lord, serve Him. To do that they, according to
our text, need to believe in Him, need to hear from Him, get to
know Him. For that they need someone who preaches. In the
preaching you meet the Lord himself. To be saved people therefore
need the preaching.

But do all people need to be saved, also those who have become
rich and mighty? Yes, even the rich and mighty. What do they have
to be saved from? From sin, from the wrath of God, from eternal
death. Employment, money, health are important. But the gospel of
Christ is more important. People have tried to restore paradise.
Without success. Even the disappearance of apartheid could not
restore paradise. Sin, misuse of power, corruption, crime remain.
The heart of man needs to change. Western thinking and money is
not the solution. Only the return to the gospel of Christ can
bring lasting prospects for all groups of society.

Not that all difficulties will disappear. But people will
receive forgiveness of sins, peace with God, renewal of heart and
life. You value things differently. Earthly prosperity but also
the suffering of the present age. There is hope beyond death and
grave.

How important the preaching therefore is.

The preaching is also beautiful.

Preaching is the work of a herald. You don’t come with
own authority or with own ideas. You come with the word of your
sender. And when you faithfully do that, you come with his
authority, with divine authority. God speaks through you.

True preaching is the preaching of Christ. Christ and
salvation is presented to man. It is striking that Paul in the
verses 6-8 exchanges Christ with the word. After speaking of
Christ’s presence he says: the word is near you. In the word
Christ is near you. In the word salvation is present.

What a privilege to preach that word and to hear that word.
Therefore: How beautiful are the feet of those who bring good
news. Such a messenger is wonderful because his message is
wonderful. Good news of peace and salvation.

This is the message, br Mhlanga, may bring. Christ and in him
salvation for all who believe. Many people trust in all sorts of
rules and church laws and think that in this way they can attain
salvation. Paul emphasises that the path of the law runs dead.
The law reminds us of sin, guilt and wrath of God. The gospel on
the other hand preaches the redemption of sin, guilt and wrath.
You don’t first have to achieve all sorts of things. All you
need to do is flee to Christ who has achieved everything for you.
Accept him in faith. And you will never be put to shame. Your
faith in people, powers, political systems and leaders can
disappoint you. But the gospel, Christ, will never disappoint.
This offers guarantees for now and eternity. What a privilege it
is to may preach that gospel. Do that with joy and perseverance
at the homes and on the pulpit wherever you have opportunity.

AMEN

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)