Deur sy dissipels se voete te was is Christus ’n voorbeeld van Christelike diensbaarheid.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-02-20
Text: 
Johannes 13
Preek Inhoud: 

Johannes 13:14,15

Ds C Kleyn - Sondag 20 Februarie 2005

Lees: Johannes 13:1-17.
Sing: Ps 25:1,2; Ps 25:3,4; Ps 133; SB 16:1,3,7;
Ps 75:1,3,4,6.

Tema: Deur sy dissipels se voete te was is Christus
’n voorbeeld van Christelike diensbaarheid.

  1. Christus se nederige diensbetoon; en
  2. Die nederige diensbetoon wat van ons sy dissipels gevra
    word.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Christus bind sy dissipels op die hart: “as Ek dan julle
voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was.”
In die geskiedenis was daar reëlmatig die seremonie waarby mense
letterlik mekaar se voete gewas het, veral ook in die RKK. Is dit
wat Christus soek?

Calvyn het oor die praktyk van sy dae binne die RKK die
volgende geskryf: elke jaar voer hulle die voetwassing op en as
hulle dan hierdie leë seremonie verrig het, dink hulle dat hulle
mooi hul plig gedoen het en dat hul dan vry is om hul broers te
verag. Meer nog, wanneer hulle die voete van twaalf manne gewas
het, dan martel hulle op ’n wrede manier al Christus se
lidmate. Daarmee spoeg hulle Christus self in die gesig. Christus
spoor aan om ware liefde onder God se kinders te wys. Maar
wanneer jy letterlik die voete van die broers was, terwyl jy
gelyktydig God se getroue kinders vervolg, dan spoeg jy Christus
self in die gesig, sê Calvyn.

Nee, wanneer ons Christus se bevel beperk tot ’n
letterlike voetwassing, dan doen ons tekort aan Christus se
woorde. Jy kan voete mos was met koue harte. Maar om Christus se
voorbeeld met koue harte te volg is onmoontlik. Dit is in stryd
met Christus se voorbeeld. Christus word ons in Joh 13 voorgehou
as diegene wat sy eie mense tot die einde toe liefgehad het.
Selfs letterlik. Terwyl Hy sy kruis in die gesig staar, leer
Christus sy dissipels selfopofferende liefde.

Ek verkondig vir julle: deur sy dissipels se voete te was is
Christus ’n voorbeeld van Christelike diensbaarheid.

  1. Christus se nederige diensbetoon
  2. Die nederige diensbetoon wat van ons sy dissipels gevra
    word.

Alles is gereed vir die Paasmaal. Die Here Jesus weet dat sy
tyd gekom het. Hy sal nou nou gevange geneem en gedood word as
Paaslam vir die sondes van die wêreld.

Voordat dit gebeur wil Christus egter die Paasmaal met sy
dissipels eet. In die bekende bokamer. Aan die maaltyd wil
Christus die Heilige Nagmaal instel. Hy wil sy kerk ’n
gedenkteken van sy dood nalaat.

Wel, alles is gereed vir die laaste maal: die Paaslam, die
ongesuurde brood, wyn, bitter kruie ens. Ook water by die deur,
’n kom en ’n doek. Daardie laaste attribute het te make
met die gebruik om die voete van die gaste by binnekoms te was.
Die mense het in daardie tyd net oop sandale gedra. Hul voete het
dus op die pad sand en stof vergaar en moes by aankoms gewas word.
Jesus en sy dissipels kom in die bokamer aan. Hulle sien die
water kruik, die kom en die doek by die ingang. Hulle weet waarom
daardie dinge daar staan. Hulle moet hul voete daarmee was.
Hierdie keer is daar egter geen slaaf om dit vir hulle te doen
nie. Een van die dissipels sal dit moet doen. Maar niemand is
bereid nie. Een na die ander loop die kruik water verby. Niemand
is bereid om die taak van ’n slaaf te vervul nie. Hulle
beskou hulleself te goed daarvoor. Ek gaan dit nie doen nie. Laat
hy dit maar doen. Dit kon die aanleiding gewees het tot die twis
onder die dissipels oor wie van hulle die grootste geag moet
wees, waaroor Lukas 22 praat.

Geliefdes, dit was nie die eerste keer dat hulle getwis het
oor wie die grootste was nie. Dit het hulle keer op keer besig
gehou. Vorige week het ons in die oggenddiens voorbeelde daarvan
genoem. So gebeur dit dat geen dissipel bereid is om die minste
te wees nie. Die gevolg is dat hulle hul plek aan die tafel
inneem sonder om hul voete gewas te hê. ’n Wonderlike
voorbereiding op die Paasmaal en op die viering van die eerste
Heilige Nagmaal.

Die Here Jesus wag ’n rukkie. Hy gee geen instruksie nie.
Hy kon bv een van die dissipels opgedra het om sy voete en die
voete van die ander te was. Dan sou die dissipel dit nie geweier
het nie. Hy sou met liefde die voete van sy meester gewas het.
Maar die voete van die ander dissipels? Wel, as die Here sê ek
moet dit doen, sal ek dit doen, maar is dit wel eerlik? Moet ek
die minste wees? Die Here soek nie so ’n gehoorsaamheid nie.
Hy wil hê dat Hy van harte gedien word, gewillig en met vreugde.

Die Here Jesus wag dus ’n rukkie. Totdat almal aan tafel
is en die maaltyd gereed is. Niemand het nog aangebied om die
werk van die slaaf te verrig nie. Dan gryp Jesus in. Hy wil wys
hoe Hy sy dissipels tot die uiterste liefhet. Hy trek sy bo klere
uit en maak ’n handdoek om hom vas. Hy giet water in die
wasskottel en begin om die voete van sy kibbelende dissipels te
was.

Die dissipels sal verbaas en beskaamd gewees het. Stel jou
voor: hul Heer en Meester was hulle voete. Hul Heer doen vir
hulle wat hulle vir Hom en mekaar moes gedoen het. Dink jy nie,
broers en susters, dat dit ’n pragtige manier is om te wys
waarin hulle tekort gekom het nie? Hierdie daad van die Here
veroordeel hul gebrek aan nederigheid op ’n meer sprekende
manier dan enige woorde dit sou kan doen.

Probeer om dit voor te stel: die erekoning was die vuil en
beswete voete van sy dissipels, geklee soos ’n slaaf. Ja,
Jesus die erekoning, dit is hoe Joh hom voorstel. Hy weet dat sy
uur gekom het, lees ons in vers 1. Hy is volkome in beheer, selfs
by sy arrestasie en dood. Ons lees ook in vers 3 dat Jesus hom
vir die voetwassing gereed gemaak en die slawekleed aangetrek het
“omdat Hy geweet het dat die Vader alles in sy hande gegee
het en dat Hy van God uitgegaan het en na God heengaan.” Let
op die groot teenstelling. Hy het reg op die hoogste posisie, die
Vader het mos alles in sy hande gegee, maar hy neem die
allerlaagste posisie in, die plek van ’n slaaf. Die werk van
voetwassing is immers normaal deur ’n slaaf gedoen. Dis
beskou as die laagste werk wat ’n mens kan doen. Dit is so
laag dat ’n Hebreeuse slaaf die taak kon weier. Dan sou
’n heidense slaaf daarvoor gevind moet word.

Wel, Jesus die erekoning, die dissipels se Heer en Meester,
verneder homself om juis daardie lae werk te doen, om die vuil en
beswete voete van sy dissipels te was. Die dissipels is verbaas
en beskaamd. Hulle het niks om te sê nie. Hulle laat Christus
hul voete was. Behalwe Petrus. Hy is ’n man wat nie stil kan
bly nie. Voortvarend en impulsief soos hy is. Here, sê Petrus,
gaan U my voete was?

Uit Jesus se antwoord blyk dat Christus hier nie net ’n
voorbeeld van Christelike diensbaarheid gee nie. Sy daad van
voetwassing het ’n baie dieper betekenis. Jesus sê vir
Petrus: “Wat ek doen, begryp jy nou nie, maar jy sal dit
hierna verstaan.” Petrus is nog nie in staat om die volle
betekenis van Christus se aksie te verstaan nie. Christus se
nederige diens staan nie op homself nie. Dit is ’n teken van
sy totale vernedering aan die kruis. Ja, dit is ’n
voorafskaduwing van die kruis self. Daar gee die Here Jesus sy
lewe vir die redding van sondaars. Christus het nie gekom om
gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n
losprys vir baie. Christus bewys aan die kruis dat hy sy eie
mense liefhet tot die einde toe, die hoogtepunt van sy
selfopofferende liefde. Deur die offerande aan die kruis, reinig
Christus sy geliefdes. Die wassing van sy dissipels se voete is
daarom ook ’n simbool van die afwassing van hul sondes.

Daarom sê Christus vir Petrus: “As Ek jou nie was nie,
het jy geen deel aan My nie.” Let op Petrus se reaksie
hierop. Die impulsiewe Petrus gaan van een uiterste na die ander.
Eers sê hy: “U sal my voete in der ewigheid nie was nie?”
Nou sê Petrus: “nie net my voete nie, maar ook die hande en
die hoof.”

Dis duidelik dat Petrus nog nie mooi verstaan wat Christus
bedoel nie. Die voetwassing self is nie ’n middel om die
dissipels te reinig nie. Dit is net ’n teken van die
reiniging. Belangrik is nie die gedeelte van jou lyf wat gewas
word nie, maar dat jy Jesus se nederige diens aanvaar. Deur Jesus
se dienende liefde te aanvaar word jy rein gemaak. Rein nie net
van jou erfsonde nie, maar ook van die sondes wat jy self
daagliks doen.

Christus het nog meer om vir sy dissipels te sê. Hy weet
waarom geen van hulle aangebied het om sy voete en die van die
ander te was nie. Dit was vanweë hul hoogmoed, hul eersug,
selfsug, gebrek aan nederigheid. Christus wil hulle daarvan help
bevry. Daarom wys hy op wat Hy gedoen het, die voorbeeld wat Hy
in sy nederige diens gegee het. Ook al behels sy nederige diens
baie meer as ’n les in nederigheid, dit is wel deeglik
’n aspek daarvan. Dis die aspek waarop Christus in die
tweede gedeelte van die teks fokus.

Dit bring ons by die tweede punt: die nederige diens wat van
ons Christus se dissipels verwag word.

Jesus sê vir sy dissipels: Verstaan julle wat Ek aan julle
gedoen het? Verstaan julle die positiewe praktiese onderrig wat
Ek vir julle gegee het? Julle noem My Meester en Here, julle
spreek my aan met die titels wat spreek van hoë gesag en mag.
Julle doen goed daarin. Want die uitdrukkings wys op my regte
posisie.

Maar dit beteken ook iets vir julle gedrag. Nou dat Ek, jul
eerwaarde Heer en Meester, jul voete gewas het, behoort julle ook
mekaar se voete te was. Ek het ’n voorbeeld gegee om net
soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. ’n Voorbeeld
is daar om te volg. Dis iets om steeds na te kyk en daarvan te
leer. Christus sê: bly let op wat Ek gedoen het. Ek was nie
verplig om op te staan en julle voete te was nie. Ek het alle reg
gehad om een van julle die opdrag te gee om dit vir my en die
ander dissipels te doen. En julle sou verplig gewees het om dit
te doen. Maar ek het dit nie gedoen nie. Ek wou die werk van
’n slaaf self doen. Ek het dit vir julle my diensknegte
gedoen.

Dink julle dat julle meer regte as Ek, jul Meester, het? Het
julle in die lig van wat Ek gedoen het, werklik rede om julleself
te verhef bo ander en te twis oor wie die grootste onder julle
is? Julle het nou gesien wat Ek gedoen het. Ek die erekoning. As
Ek die erekoning bereid is om die gestalte van ’n kneg aan
te neem en die voete van die mindere te was en te droog, behoort
dit nie maklik vir julle gewone dissipels te wees om liefdevolle
diens aan mekaar te verrig, in ’n gees van ware nederigheid
nie? ’n Dienskneg is mos nie groter as sy meester nie en
’n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het
nie.

Wil Christus dan sê dat ons letterlik mekaar se voete moet
was? Sommiges het so gedink. Maar die saak waaroor dit gaan is
dat ons bereid moet wees om die mees nederige diens te vervul.
Christus vra meer as net ’n daad van voetwassing. Christus
soek ’n sekere gesindheid, houding teenoor ander. Jy moet
bereid wees om mekaar se dienaars te wees. Dit was nie maklik vir
die dissipels nie. Hulle het herhaaldelik getwis oor wie die
grootste sou wees. Christus se onderrig deur sy voorbeeld was
baie nodig, selfs daar aan die laaste Paasmaal, die maal van
gemeenskap. Niemand wou die minste wees nie.

Gemeente, hierdie onderrig is nodig ook vir ons vandag. Is ons
anders as die dissipels? Wie van julle is bereid om die minste te
wees? Indien Christus my sou vra om sy voete te was, sou ek dalk
geen besware daarteen hê nie. Ek sou dit met blydskap doen. Ek
wil tog Christus dien? Maar as Christus daarop sou aandring om my
voete te was? Sou ek dit toestaan? Ware nederigheid begin nie met
diensbetoon nie. Dit begin met die bereidheid om dit te ontvang.
Daar kan immers baie hoogmoed en meerderwaardigheid skuil in ons
diensbetoon. Ons is bereid om Christus te dien. Maar wat as Hy
daarop aandring om ons te dien en as Hy ons vra om ons naaste se
voete te was? Is ons dan net so gewillig om in selfopofferende
liefde te dien?

Christus het ons ’n voorbeeld gegee. ’n Unieke
voorbeeld van selfopofferende liefde. Dit gee die patroon, die
standaard, aan vir lewe binne die gemeenskap van die heiliges.
Wanneer jy Christus se voorbeeld volg dan buig jy jou figuurlik
neer om mekaar se voete te was. Jy veg nie vir jou eie posisie en
eer nie. Jy is bereid om die minste te wees. Jy wil in liefde
dien. Julle is mekaar se dienaars. Jy ag die ander beter as
jouself, meer belangrik.

Wat beteken dit in die praktyk? Vir julle, seuns en dogters,
beteken dit o.a. dat julle jul nie meerderwaardig opstel teenoor
hulle wat jonger, minder sportief of minder begaaf is nie.
Wanneer jy bv baie goed kan leer, dan kan jy jouself meer gaan
voel as die leerlinge wat nie goed kan leer nie of wat nog in die
laer klasse sit. Wanneer jy baie goed sport kan speel, dan kan jy
jouself verhef bo die leerlinge wat die gawe nie het nie en
moontlik baie onhandig en lomp met hul liggaam is. Dit kan
daartoe lei dat jy dit vir hulle laat weet of voel dat jy bo
hulle staan. Jy is groter en sterker. Jy stel nie in hulle belang
nie. Of hulle word deur jou rondgestamp. Is dit wat Christus se
voorbeeld ons leer? Leer Christus jou om ander mense te laat voel
dat jy meer en groter is? Christus, die erekoning, het die slaaf
van sy dienaars geword. Sou jy as seun of dogter nie juis ekstra
aandag en liefde vir hulle wat jonger of swakker is moet wys nie?
Behandel hulle met respek en hoflikheid. Daardie jonger leerlinge
kyk na jou as voorbeelde. Sou dit nie pragtig wees as jy Christus
se voorbeeld sou wys in jou gedrag nie? So kan die jonger mense
groei in hul verstaan en uitleef van ware Christelike nederigheid.

Dieselfde geld vir volwassenes in hul gedrag teenoor jonger en
minder ervare of minder geleerde mense. Dis so maklik om mekaar
te verneder of ander te diskwalifiseer as onervare of dom.
Lidmate wat so behandel word voel dit skerp aan. Is dit wat
Christus se voorbeeld ons leer? Is dit ’n kwessie van ander
beter ag as jou self? Is dit ’n dien van mekaar in liefde?

Dit kan gebeur dat ons heeltemal oneens is met sekere persone
se gedagtes. Ons weier om met hulle te praat. Dit kan selfs
gebeur dat ons weier om hulle te groet. Ons het geen tyd vir
hulle nie. Is dit ’n was van mekaar se voete? Dink eers
daaroor na: Christus het selfs neergebuig om die voete van Judas,
sy verraaier te was, ook al het Hy geweet dat Judas hom sou
verraai. Mag dit dan gebeur dat jy geen tyd het vir jou mede
broers en susters nie? Daar is natuurlik ook ’n ander kant
van die medalje. Dit kan gebeur dat mense nie meer durf om met
hulle wat sterk met hulle verskil te praat nie. Hulle is by
vorige geleenthede so sterk aangeval en verneder dat hulle dit
nie meer durf nie. Hier moet die vraag gestel word: Weerspieël
sulke vernederende aanvalle Christus se voorbeeld? Is dit ware
nederigheid?

Om te twis oor die vraag wie die grootste of sterkste is, is
nie vreemd onder ons nie. Natuurlik doen ons dit nie bewus nie,
tenminste dit hoop ons dan maar. Hoe maklik gebeur dit nie dat
ons onsself bo ander verhef en op die ander neersien. Besef ons
nog wel dat ons self ook groot sondaars is wat nog voortdurend in
wysheid tekort skiet? Hoe anders sou die onderlinge omgang wees
as ons beter sou let op Christus se voorbeeld van selfopofferende
liefde. Indien daar iets ontbreek aan die gemeenskap onder mekaar
en aan die diens aan mekaar dan ontbreek daar iets aan die
gemeenskap met ons Here Jesus Christus. Want as dit daarmee in
orde is dan kom dit ook in orde met ons onderlinge diensbetoon.

’n Ander voorbeeld is die kwessie van verskoning vra en
mekaar vergewe. Soms kan ons te trots wees om vir verskoning te
vra. Ek gaan nie na die persoon toe nie. Laat hy of sy maar na my
toe kom en eers verskoning aanbied vir wat hy of sy gedoen het,
ook al het ek self ook duidelik skuld aan die situasie. Wys so
’n houding die houding wat Christus ons leer, naamlik die
houding van een wat sy diensknegte en selfs sy verraaier se voete
was?

Gemeente, dit sal ’n groot stryd bly, nie ’n stryd
teen mekaar nie, maar ’n stryd teen onsself om ander beter
as onsself te ag. Hoe kan jy hierin vordering maak? Net as jy
Christus se voorbeeld in gedagte bly hou. Hy die erekoning het
homself verneder om ons slaaf te word. Hy het homself verneder
selfs tot die dood aan die kruis om ons te reinig van ons sondes.

Wanneer jy bewus is van die geweldige werklikheid, jy ’n
sondaar is deur genade gered, net dan weet jy hoe om mekaar te
behandel, net dan kan jy dit ook doen. En wanneer jy dan jouself
verhef en dink dat jy beter as ander is en vol selfvertroue
uitroep: al sou almal u verlaat, dit sal my nooit oorkom nie, dan
breek Christus hierdie hoë pretensie met die woorde: die haan
sal nie kraai nie voordat jy My drie maal verloën het.

Christus aanvaar geen selfsugtige ambisies, hoogmoed,
magsstryd nie. Al ons menslike pretensies lyk dwaas in die lig
van Christus se voorbeeld. As die verhewe Heer en Meester het hy
neergedaal om die voete van sy diensknegte, sy leerlinge te was.

Dis hoe ons nou met mekaar behoort om te gaan in die
gemeenskap van die heiliges. Die kerk is tog ’n gemeenskap
wat deur Christus se bloed gereinig is en wat deur die Heilige
Gees geheilig is?

Christus eindig die Skrifgedeelte met die woorde: As julle
hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen. Broers en
susters, julle weet hierdie dinge, salig is julle as julle dit
nou ook in praktyk bring. Om te weet is nie dieselfde as om te
doen nie. Wanneer jy Christus se voorbeeld volg, is jy gelukkig.
Dan is jy ryk. God se vriendelike aangesig straal na jou toe. Jy
besit die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan. Jy geniet
dan van die vrede met God en met mekaar.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)