Deur op die Here te vertrou kom daar vrede.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-12-19
Text: 
Psalms 4
Preek Inhoud: 

Psalm 4

Ds C Kleyn - Sondag 19 Desember 2004

Lees: Psalm 4.
Sing: Ps 62:1,4,5; Ps 1:1,4 (na wet) óf Ps 9:1,7,8
(na geloofsbelydenis); Ps 4; Ps 63:2,3,4.

Tema: Deur op die Here te vertrou kom daar vrede.

  1. Dawid beroep hom op God se trou;
  2. Dawid roep die moedeloses op om op die Here te vertrou;
    en
  3. Dawid getuig van die vreugde en veiligheid wat hy by die
    Here vind.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wie is nie geskok deur wat afgelope Maandag gebeur het nie? So
’n gewelddadige dood van iemand wat altyd vir ander
klaargestaan het. Ons is geskok. In die koerante lees ons
daagliks van mense wat doodgeskiet word. Maar nou het dit aan
iemand uit ons eie midde gebeur. Tot nou toe het die Here ons as
gemeente hierin gespaar, ook al was daar onder gemeentelede wel
situasies van aanranding en geweld, kapings en diefstal. Maar nou
is daar iemand uit ons midde wat deur ’n gewelddadige dood
van ons weggeruk is.

Hoe beleef ons dit? Watter impak het dit op ons lewe en werk
hier in Suid Afrika? Dit kan die gevoel van onveiligheid en
onsekerheid versterk. Ons lewens blyk kwesbaar te wees. Wat
Maandag gebeur het, kan feitelik op enige plek, op enige tyd, met
enige persoon gebeur. Ons leef in ’n sondige en gebroke wêreld.
Ons kan ontsteld hieroor raak.

As Christene is ons geroep om in ons samelewing God se
profete, priesters en konings te wees. Om as profete God se woord
te laat hoor ook oor hierdie ingrypende gebeurtenis. Om as
priesters te bid, te bid vir almal wat daarby betrokke is en
daardeur geraak word en om wonde te help versorg. Om as konings
vir die saak van ons groot Koning te bly werk en stry.

Vrae kan opkom: waar was God toe Hanno Maandag doodgeskiet is?
Ja, waar is God by al die geweld en doodslag in ons land? Waarom
het Hy hierdie kwaad laat gebeur? Geliefdes, net wanneer ons die
Here en sy regering sien, kan ons rus en vrede vind. Die Bybel is
duidelik daaroor dat God ook Maandag tydens die moord aanwesig
was. God is almagtig en alomteenwoordig. Hy is in beheer. Alle
skepsels is so in sy hand dat hulle hulle sonder sy wil nie kan
roer of beweeg nie. In Jes 45:7 sê die Here dat Hy dit is wat
die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die
onheil skep: Ek die Here, is dit wat al hierdie dinge doen.

Op watter manier het God dan hierdie onheil geskep? Hy het dit
gedoen deur die beperking, die beteueling van die moordenaar weg
te neem. God kon hierdie onheil inderdaad verhinder het deur sy
beteuelende genade. Maar God het soewerein gekies om dit nie te
doen nie. Hy het die kwaad in daardie man tot volle ontplooiing
laat kom. Hy het hom sy gang laat gaan. Daarom kan ons nie sê
dat dit God was wat Hanno doodgeskiet het nie. Nee, die
moordenaar het dit gedoen, vanuit sy bose hart.

Maar waarom het God hom dit dan laat doen? Ons weet nie. Die
rede waarom God hierdie moordenaar sy kwaad laat uitleef het en
waarom Hy dit aan Hanno Boon laat gebeur het, is nie aan ons
bekendgemaak nie. Ons weet wel, en dit het betekenis vir ons: dat
God in beheer is en dat hy ook dmv hierdie moord besig is om sy
planne uit te voer.

Broers en susters, Wat vir ons nou belangrik is, is hoe ons
reageer op wat gebeur het. Wat is ons houding in ’n
samelewing waarin geweld baie voorkom en waarin die lewe onveilig
en onseker is? Hoe hanteer ons dit? As God se profete, priesters
en konings? As voorbeelde vir ander?

Ps 4 kan ons help om ons houding te bepaal. In Ps 4 is daar
sprake van tweërlei lewenshouding. Teenoor die vertroue op die
Here van die digter Dawid, is daar die twyfel van baie van sy
medestanders. Vers 7: "Baie sê: Wie sal ons die goeie laat
sien?" Die volgelinge van Dawid sien blykbaar geen
perspektief meer nie. Hulle verloor moed. Van wie moet ons in die
omstandighede nog iets goeds verwag?

In watter situasie die Psalm ontstaan het, kan ons nie met
sekerheid vasstel nie. Verklaarders noem as moontlikheid Dawid se
vervolging deur Saul of sy vlug vir Absalom. Die besonderhede wat
in die Psalm genoem word, lyk die beste te pas in die tyd van
Dawid se vervolging deur Saul. ’n Mens kan goed voorstel dat
Dawid se volgelinge in daardie tyd met al hul ontberings en
gevare, mismoedig geword het.

Dis in ieder geval duidelik dat die Psalm dateer uit ’n
tyd van nood. Ander het koring en mos in oorvloed. Terwyl Dawid
en sy volgelinge gebrek ly. Wat die nood vir Dawid nog erger maak
is dat sy medestanders ’n verkeerde houding aanneem. Hulle
gedra hulle amper as sy teenstanders. Daarom rig Dawid hom in
gebed tot die Here. Daarom spreek hy ook sy volgelinge aan. Hy
wys daarop dat daar vrede is in die vertroue op die Here. Dis dan
ook die tema van die preek:

Deur op die Here te vertrou kom daar vrede.

Ons let op drieërlei:

  1. Dawid beroep hom op God se trou
  2. Dawid roep die moedeloses op om op die Here te vertrou
  3. Dawid getuig van die vreugde en veiligheid wat hy by die
    Here vind.

Dawid het dus te make met teenstand van sy eie mense. In vers
3 spreek hy hulle aan: "o Manne, hoe lank sal my eer tot
skande wees?" Deur hul houding en optrede ontluister hulle
Dawid se eer. Miskien praat hulle selfs smalend oor hom.

Wat is dan die eer van Dawid? Dawid se eer is dat Hy ’n
gesalfde van die Here is. Vers 4: "Weet tog dat die Here vir
Hom ’n gunsgenoot afgesonder het." Die Here het Dawid
gekies om oor sy volk te regeer. Hy is die gesalfde van die Here.
Hy is daardeur God se gunsteling. God se bondgenoot in sy
verlossingswerk. Afgesonder om die beloofde rus vir God se volk
tot stand te bring.

Manne uit sy eie kring tas egter sy eer as God se gesalfde aan.
Hulle het met hom saamgetrek in sy omswerwing. Hulle het by Dawid
hul heil gesoek. Hul verlossing van Saul se heerskappy. Hul geluk.
Maar hulle is nou in Dawid teleurgesteld. Dawid gaan maar nie tot
dade oor nie. Pleks van rus en voorspoed te kry, moet hulle juis
vanweë Dawid rondswerf en allerlei ontberings ly. Honger en
gebrek. Daarom begin hulle om te kla, om Dawid se eer te smaad:
wat het Dawid bereik; wat kan ’n mens nog van Dawid verwag?
Hy bly maar ’n vlugteling. Hy is of nie in staat om te red,
of hy wil nie.

Gemeente, ons kan vandag dink aan ons Here Jesus Christus.
Dawid is ’n gebrekkige tipe van Jesus Christus. Christus is
by uitstek die gunsgenoot wat die Here vir Hom afgesonder het.
Die Persoon waardeur God die beloofde rus vir sy volk tot stand
wou bring. Die Verlosser. Deur die geloof is ons aan Hom verbind,
behoort ons aan Hom. In Hom is ons erfgename van hierdie wêreld.
Gunsgenote van die Here. Maar wat sien ons daarvan? Die regte van
die ware Christene word in ons samelewing juis bedreig. Deur
misdaad, geweld en korrupsie word ons lewe en posisie bedreig.
Tog bly dit ’n werklikheid: Christus is ons gesalfde Koning.
In Hom is ons verlossing, ons toekoms gewaarborg. Julle glo dit
tog? Ons wil tog nie Christus se eer tot skande maak nie, soos
Dawid se volgelinge gedoen het? Deur die gebrek aan geduld en
vertroue?

Dis waar, ons het nie dieselfde beloftes as Dawid nie. Hy het
die belofte gehad dat hy nog sou bly lewe om te kan regeer. God
het ons nie beloof dat ons hier op aarde nog lank sal lewe nie.
Ons het egter wel die belofte dat God vir ons sal sorg. Ons is in
Christus tog God se gunsgenote. Hy het belowe dat Hy ons as sy
kinders en erfgename met alle goeie dinge wil versorg en alle
kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil geskik.

In sy nood gaan Dawid tot die Here in gebed. "As ek roep,
verhoor my, o God van my geregtigheid!" Dawid ken die omgang
met die Here in die verbond. Hy doen ’n beroep op God se
trou in die verbond. Hy roep die Here aan as die God van my
geregtigheid. Geregtigheid is ’n verbondswoord. Dit sien
daarop dat God voldoen aan dit wat van Hom op grond van die
verbond verwag mag word. Die Here gee regte in die verbond. Deur
sy verbondsbeloftes.

Dit geld in die besonder vir Dawid. Hy is God se gesalfde
koning. Afgesonder om God in sy verlossingswerk te dien. God het
hom apart behandel, hom dikwels ook wonderlik gehelp. Want God se
geregtigheid is juis dat Hy reg doen aan hulle wie se regte
gekrenk word. Hy verskaf die verdruktes reg en red hulle.

Daarop pleit Dawid wanneer Hy God aanspreek as die God van my
geregtigheid. En hy vervolg: "In benoudheid het U vir my
ruimte gemaak." Dit het Dawid in die verlede ervaar. Hy het
meermale in gevaarlike situasies verkeer. Selfs in lewensgevaar.
Maar die Here het hom na sy belofte gehoor deur hom uit die nood
te red. So ken Dawid die Here. As die hoorder van die gebed. Hy
behandel sy bondgenoot volgens sy beloftes.

Wat God in die verlede gedoen het, gee Dawid des te meer
vertroue in die hede en in die toekoms. Die Here is mos gister,
vandag en more dieselfde, die getroue Verbondsgod waarop jy altyd
kan staatmaak! Daarom bid Dawid vol vertroue: "wees my
genadig, en hoor my gebed." Hy weet: Ek mag pleit op my
regte in die verbond. Dis waar, ook al het ek deur my sondes die
regte verbeur. Maar daar is vergewing, genade. Daarop mag ek
altyd pleit, op God se vrye, onverdiende guns.

Daarna rig Dawid hom tot die manne wat sy eer ontluister. Dis
die tweede gedagte van die preek: Dawid roep dit moedeloses op om
op die Here te vertrou.

In die manier waarop Dawid sy manne aanspreek bewys hy sy eer
as teokratiese koning. Hy lei as ’n goeie herder sy
volgelinge op die pad van die verbond. Hy vermaan hulle: Hoe lank
wil julle met jul skadelike werk deurgaan? Dit wat julle wil, kan
julle nie volhou nie. Dit wat julle najaag is immers nietigheid,
leuen. Dis leeg, onbetroubaar. Die manne is moeg van die
ontberings. Hulle wil koring en mos in oorvloed hê, vryheid en
stoflike welvaart. Hulle kyk na hul situasie vanuit ’n
humanistiese standpunt, sonder dat hulle na God kyk, wat alle
dinge regeer as die troue Verbondsgod.

Miskien sê hulle wel vir Dawid dat hy baie kragtiger moet
optree, met wêreldse magsmiddels, desnoods met geweld. Hy moet -
as ons mag aanneem dat die Psalm uit die tyd van die agtervolging
van Saul ontstaan het - hom nou maar op ’n rewolusionêre
manier van die troon meester maak. Hy moet nie bly wag op die
ingryping van die Here nie. Daar gebeur mos niks nie. Hy moet
self gaan ingryp, homself probeer help, die wraak in eie hande
neem.

Maar Dawid verwerp dit: die pad wat julle voorstel is leeg en
bedrieglik. Julle probeer bou op menslike, wêreldse wysheid en
mag. Op die mens kan jy egter nie bou nie. Nee jy moet let op die
werk van die Here. "Weet tog dat die Here vir Hom ’n
gunsgenoot afgesonder het." Let tog op die Here wat alles
bestuur en watter plek Hy my gegee het. Hy het my as ’n
gunsgenoot vir Hom afgesonder. Hy wil deur my verlossing bewerk.
Maar dan wil Hy dit ook werklik doen. Op sy tyd en wyse. Nie op
julle tyd en wyse nie. En as gunsgenoot van Hom mag ek reken op
sy nabyheid en hulp. Die Here hoor as ek Hom aanroep. Hy sal sy
doel met my as gesalfde koning seker bereik. Daarop mag ons
vertrou en bou.

Broeders en susters, Dawid weet dat ons deur die onreg en nood
omgekrap kan word. Hoe ons daardeur ontsteld kan raak, geskok .
Daarom gee hy die raad: "Sidder en moenie sondig nie."
Al is jy in jou gemoed onrustig, laat dit jou nie tot sonde bring
nie. As jy ontstel is deur die moeilikhede wat jy ondervind,
sondig dan nie. Laat jouself tot rus bring: "Spreek in julle
hart op julle bed, en wees stil." Dink in stilte daaroor na
as jy gaan lê. Oordink God se weë. Probeer met jou diepste
gedagtes klaar te kom. En lê jou hand op die mond. Gee dit oor
aan God. Laat jouself in die eensaamheid van die nag tot rus en
stilte voor God kom.

Dawid wys dan ook die weg om tot bedaring te kom: "Offer
offerandes van geregtigheid en vertrou op die Here." Wys jou
vertroue in die Here deur om te bid en offers te bring. Hierin
blyk dit dat jy op die Here vertrou: Wanneer jy Hom in gebed
soek, wanneer jy Hom na die eis van die verbond dien. Wanneer jy
jou so aan die Here gee, dan kom jy weer tot rus, dan kan jy weer
bo die situasie staan. Jou lewe en jou belange is immers in goeie
hande, in die hande van die Here. Dan kan jy ook vandag werklik
iets bereik en beteken.

Gemeente, Dawid gaan sy mense voor in sy vertroue op die Here.
Dis die derde gedagte van die preek: Dawid getuig van die vreugde
en veiligheid wat hy by die Here vind.

Baie sê: Wie sal ons die goeie laat sien? Hierin hoor ons die
moederloosheid van Dawid se volgelinge. Wie sal ons die goeie
laat sien? Van wie kan jy nog iets goeds verwag? ’n Klag
sonder hoop. Het ons werklik nog perspektief? So ja, wie gaan dit
dan bring?

Baie vra dus in moederloosheid: wie sal ons die goeie laat
sien. Dawid weet by wie die heil te vind is: Daarom laat hy op
die vraag sy gebed volg: "Verhef oor ons die lig van u
aangesig, o Here." Die woorde herinner aan die priesterlike
seën wat ons reëlmatig tydens die eredienste opgelê word.
Dawid bid: verberg uself nie vir ons nie, maar keer u in guns na
ons toe. As u u aangesig in guns tot ons wend, dan is dit ’n
lig wat ons bestraal. Die duister van die nag, die verskrikking
van die nood verdwyn. Die lig van God se vriendelike aangesig gee
vreugde en seën. "Die nag gee lig soos die dag, die
duisternis is soos die lig" (Ps 139:12).

Ons situasie in die lewe kan moeilik, sorgwekkend wees. Maar
Dawid het ’n boodskap vir almal wat betrokke is by
troumatiese gebeurtenisse. Daar is iemand wat ons die goeie kan
laat sien en wat die goeie wil laat sien. Die Vader van ons Here
Jesus Christus. Daarom was daar die kruis op Golgota. Christus
het gekom om ’n verlore wêreld te red. Daarom bid ons met
Dawid: Verhef oor ons die lig van u aangesig, Here. Verwyder die
duisternis van die nag, die terreur van menslike kwaad. Gee lig
en vrede. In die diepste donkerte skyn weer die lig, die lig van
God se aangesig. En Hy werk sy plan uit, sy verlossingsplan ook
met ons as individue, as gesin, en met ons land. So kan daar weer
vreugde wees, ondanks verdriet en lyding.

Dawid is nouliks klaar met sy gebed of hy praat al van vreugde:
"Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle
koring en hulle mos oorvloedig is." Dawid kry tydens sy
gebed ’n antwoord. Hy het reeds ’n antwoord. Hy ken
geen vrees nie, maar vertroue. In die hart van die moedeloses is
daar net wrewelige, opstandige gedagtes omdat God vir hulle die
goeie van hierdie aarde onthou. Maar in Dawid se hart is daar,
ondanks alles wat hy moet mis of verloor, vreugde: vreugde in die
Here. Nie in uiterlike welvaart nie, maar in die Here self is sy
blydskap. God is sy eer, sy deel, sy toekoms, sy ewige goed.

Dit klink vreemd om in tye van moeite en sorg te sing van
vreugde. Die situasie van Dawid en sy manne bly gevaarlik,
kwesbaar en onseker. Ons situasie in ons land bly ook kwesbaar en
onseker. Kan jy dan in so ’n situasie van vreugde in jou
hart praat?

Ja, dit kan wanneer jy op die Here fokus en op Hom vertrou.
Wanneer jy na die mens redeneer, dan is dit onbegryplik, dwaas.
Slegs wie die Here, die God van die verbond ken, kan dit verstaan.
Hy is mos die God wat vir ons, sy kinders, wil sorg, ons wil dra
en bewaar sodat ons ons ewige erfenis ontvang. Hy bly trou aan sy
beloftes. Hy skenk die vervulling van die beloftes aan almal wat
Hom vrees. Daar hoef Dawid, daar hoef geen kind van God aan te
twyfel nie, in watter omstandighede jy ook al verkeer.

Dawid kom dan tot sy slotsom in vers 9: Ek wil in vrede gaan lê
en meteens aan die slaap raak. Wanneer ek bed toe gaan, hoef ek
nie te bly tob nie. My oog is mos op die Here. Ja, meer nog: sy
oog is op my. Daarom kan ek in vrede gaan slaap, sonder angs en
kommer. Ek is in goeie, almagtige en getroue hande.

"Want U o Here, alleen laat my in veiligheid woon."
Ek kan wel al my veiligheidsmaatreels neem. Daar is niks
verkeerds mee nie. Dit behoort by my verantwoordelikheid in
hierdie land. Maar die Here alleen laat my werklik veilig woon.
Nie net vir hierdie dag nie, maar voortdurend, solank Hy my hier
’n plek gee. By U Here is ek geborge, vir tyd en ewigheid.
Selfs by die dood. U engele staan dan gereed om my by U te bring.

Gemeente, so leer God ons om dit wat in die afgelope week
gebeur het te hanteer, ja, om die situasie in ons land te hanteer.
Seker daar is sorgwekkende dinge in ons land, gevare, onsekerhede.
Wat ’n geweld en menslikerwys gesproke sinlose moorde. Kan
ons in so ’n wêreld rustig aangaan met ons lewe en werk in
diens van die Here? Kan ons in so ’n wêreld ons kinders
grootmaak?

Laat ons luister na Dawid: sidder, en moenie sondig nie. Ons
kan ons vrae en sorge hê. Ons kan daardeur ontsteld raak. Moenie
kwaad met kwaad beantwoord nie. Oorwin die kwaad met die goeie.

Bowenal wees nie opstandig teen God nie. Vertrou op die Here.
Hy is die God van ons geregtigheid. Hy kom op vir die regte van
sy kinders. Hy sal die reg van sy verbond en van sy volk laat
geskied.

Weet dat die Here vir Hom ’n gunsgenoot afgesonder het.
Hy het sy beloftes aan Dawid in Christus vervul. In Hom is God se
verlossing van ons sy volk gewaarborg. Sy verlossingsplan, ook
met ons en ons land, sal voltooi word. Hy sal alles, ook verdriet
en lyding, vir hulle wat Hom liefhet, ten goede laat meewerk. Dit
sal uiteindelik tot heil dien.

Baie mense soek hul heil in koring en mos, in aardse rykdom en
genot. Dit word dan die belangrikste. Daarvoor is hulle bereid om
groot offers te maak. Daar leef hulle voor. Solank as hulle hul
posisie en welvaart maar kan behou of verbeter. Maar dit blyk
baie kwesbaar en verganklik te wees.

Laat ons ons daarom toevertrou aan die Here ons God. Hom
getrou bly in woord en daad. Ywerig in die werk van die Here. Ook
al sou dit beteken dat jy teen die stroom moet ingaan. Vind in
die Here jou vreugde. En jou veiligheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)