Die kerk is ’n geestelike huis van lewende stene.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-11-28
Text: 
I Petrus 2
Preek Inhoud: 

1 Petrus 2:4,5

Ds C Kleyn - Sondag 28 November 2004

Lees: 1 Petrus 2:1-12.
Sing: Ps 100:1,2; Ps 119:1,2; Ps 89:6,7; SB 14;
Ps 105:5; Ps 124:4; SB 24:1,2,7.

Tema: die kerk is ’n geestelike huis van lewende
stene.

  1. Die fondament Jesus Christus
  2. Die lewende stene
  3. Die geestelike diens

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanoggend mag ons getuies wees van die belydenis en doop van
Petrus Stapelberg, van die doop van Ineke Bijker en van die
bevestiging van 6 ampsdraers. God is besig om ons geskenke te
gee, geskenke in die nuwe lidmate Petrus en Ineke en in die nuwe
ampsdraers wat bevestig word. Geskenke om die opbou van die
gemeente te dien, geskenke om die gemeente des te beter te laat
funksioneer as ’n geestelike huis.

Die apostel Petrus skryf sy brief aan die gelowiges wat oor
Klein Asië versprei is, verstrooi in ’n goddelose wêreld.
Mense vir wie dit nie maklik is om altyd vir hul Here Jesus op te
staan nie. Hierdie Christene lei ’n eensame lewe in die
heidense omgewing. Daarom word hulle vreemdelinge genoem,
vervreemd van hul omgewing omdat hulle Christene geword het.
Verstrooi en kwesbaar.

In die situasie skryf Petrus aan hulle ’n brief. Snaaks
genoeg begin hy met ’n lofprysing: “Geseënd is die God
en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote
barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n
lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode.”
(1:3). Petrus bemoedig daardie mense deur te sê: Christus het
opgestaan. Die nuwe lewe het aan die lig gekom. Julle het ’n
lewende hoop, want julle het ’n lewende Here.

Die Paastema loop deur die hele brief heen. So het ons ook die
woorde van ons teks: “Kom na Hom toe, die lewende steen wat
deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar
is; en laat julle ook soos lewende stene opbou tot ’n
geestelike huis.” Wat is die kerk waarvan ons lid word en
waarin ons as ampsdraers moet werk? ’n Geestelike huis van
lewende stene gebou op die lewende steen Jesus Christus.

Laat ons daarna kyk wanneer ek vir julle verkondig: die kerk
is ’n geestelike huis van lewende stene

Ons let op

  1. die fondament Jesus Christus
  2. die lewende stene
  3. die geestelike diens

Kom na Hom toe, die lewende steen. Soek sy gemeenskap. Nie net
af en toe nie, maar voortdurend. Dis duidelik dat Jesus Christus
bedoel word. Hy word die lewende steen genoem. Die lewende steen,
’n snaakse kombinasie. ’n Steen is meestal hard en
leweloos. Christus word ’n steen genoem om vastheid en
soliditeit te benadruk. Jy kan op Hom bou. Hy is die soliede
hoeksteen. Julle weet almal wel hoe belangrik ’n goeie
fondament van ’n gebou is. As die fondament nie reg is nie,
kan jy allerlei krake gaan kry, selfs so erg dat jy soms die
gebou moet afbreek. Jesus Christus is nou ’n soliede
fondament. Die hoeksteen. In die bou tegniek waaraan hierdie
beeld ontleen is, is die hoeksteen van die fondament die eerste
steen wat in plek gesit word. Die hoeksteen is die mees
fundamentele steen. Met groot sorgvuldigheid word hierdie steen
uitgesoek en in plek gesit. Die hele struktuur van die gebou
steun daarop. Jesus Christus is ’n perfekte hoeksteen, deur
God self gekies, kosbaar.

Jesus Christus is nie net ’n steen nie, maar ook ’n
lewende steen. Hy is solied, onwankelbaar. Hy is ook lewend. Hy
is die lewende. Hy leef tot in ewigheid. Hy het die lewe in
homself. Hy is die bron van lewe vir almal wat aan Hom behoort.
Wanneer jy op Hom bou sal jy lewe. Dink aan die teks wat ons
eerder genoem het: God het ons die wedergeboorte geskenk tot
’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit
die dode. Juis as die opgestane Here gee Christus vastheid en
lewe.

Gemeente, die waarde van hierdie lewende steen kom des te meer
aan die lig teen die agtergrond van Jes 28 wat in ons hoofstuk
aangehaal word. In Jes 28:16 lees ons: “Daarom, so sê die
Here HERE: Kyk, Ek lê in Sion ’n grondsteen, ’n
beproefde steen, ’n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is,
hy wat glo sal nie haastig wees nie” of volgens die
aanhaling van Petrus: “sal nie beskaam word nie.” In
daardie tyd word Juda bedreig deur die Assiriese wêreldmag. Wat
doen God se volk dan om hulleself te beveilig? Hulle gaan nie na
God toe nie. Hulle vertrou nie op die Here hul God nie. Hulle
vertrou op hul eie slim planne, tenminste hulle dink dat dit slim
is. Hulle sluit heimlik ’n verbond met Egipte. Heimlik,
omdat hulle die skyn wil ophou dat hulle hul nog getrou aan
Assirië onderwerp. Indien Assirie hulle aanval, dan sal Egipte
tot hul redding kom. So dink hulle dat hulle veilig is. Geen
onheil sal hulle tref nie. Hulle vertrou op hul politiek gekonkel
pleks van op die Here hul God.

Daarom wys die Here hulle tereg en kondig hul oordeel aan.
Hulle skuilplek, gegrond op leuen en bedrog, sal inmekaar stort.
Die vertroue op hul eie insig sal hulle niks baat nie. Teenoor
die waardelose skuilplek van Juda se leiers, kondig God sy nuwe
bouprojek aan: Kyk, Ek lê in Sion ’n grondsteen, ’n
beproefde steen, ’n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is,
en die wat in Hom glo sal nie beskaam word nie. Teenoor die
dryfsand van leuen en bedrog, plaas God ’n vaste fondament
onder sy bouwerk. Terwyl die bouwerk van mense – die stad
van die mens – wat op menslike insigte en strategieë gebou
word inmekaar stort, sal God se bouwerk altyd bly staan. Die
fondament is onwankelbaar. Die gebou sal daarom ’n veilige
skuilplek bied.

Die apostel Petrus wys op die vervulling van hierdie profesie
in Jesus Christus. Jesus Christus is die uitverkore en kosbare
hoeksteen wat die Here God in Sion gelê het. Die Here se gebou
het ’n soliede fondament. Die magte van die dood en die hel
sal dit nie kan oorweldig nie. Sien daar die lewende steen. Dit
waarborg vastheid – dis ’n steen – en lewe –
dis ’n lewende steen. Glo in Hom en jy sal nooit beskaam
word, in tyd en ewigheid nie.

Mense het daardie steen verwerp. Hulle het gedink dat dit nie
geskik was nie. Wat kan jy in hierdie wêreld met Jesus Christus
maak? Hy waarborg geen rykdom of staatkundige vryheid nie. Hulle
wou nie op Hom bou nie. Hulle het hom gekruisig. Maar hierdie
steen is deur God uitverkies en kosbaar. God oordeel anders as
mense. Hy waardeer baie Christus se lewe en werk. Dit is werklik
die redding van die wêreld! Hy wek hom uit die dode op. Hy laat
Hom aan sy regterhand sit. As die opgestane en verheerlikte Here
is Hy die hoeksteen waarop die hele gebou van God rus.

Daarom, kom na Hom toe. Vertrou op Hom. Bou op Hom. Sien af
van al die vertroue op leuen en bedrog. Baie mense wil Hom nie.
Ons soms ook nie. Hulle soek sigbare en tasbare sekerhede. Hulle
bou hul wêreld en stad op menslike insigte en strategieë. Die
menslike wetenskap sou alle antwoorde hê. Ons mense sal self vir
ons toekoms sorg dra. Ons sal ’n nuwe wêreld skep. Ons sal
onsself red. Maar die stad van die mens het geen soliede
fondament nie. Wat die wêreld sonder Christus bou sal
uiteindelik in mekaar stort. Soos kommunisme in mekaar gestort
het. Die wêreld sal ’n chaos, ’n puinhoop word.
Daarom, los al die vertroue op menslike sekerhede. Gryp nie na wêreldse,
sondige oplossings om jou posisie en toekoms te waarborg nie. Kom
na Hom toe, die lewende steen.

Dit behels soos ons lees in 1 Petr 2:1-3: “Lê dan af
alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle
kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die
onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,
as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is.”
’n Gesonde baba verlang sterk na melk. Het jy dieselfde
sterke verlange na die woord van God? As jy God se goedheid en
genade geproe het, wil jy meer en meer hê. Jy verlang dan sterk
na Christus en sy woord. Sodat jy kan groei in jou lewe met God,
groei in jou ervaring van die geloof, groei in jou geloofskrag.

Kom na Hom toe, die lewende steen. Hy is jou enigste sekerheid
en vastheid in hierdie verwarde en steeds veranderende wêreld.
Hy is jou lewe in ’n wêreld wat sy ondergang tegemoet gaan.
Wanneer jy na Hom die lewende steen toegaan, sal jy self ook
’n lewende steen word. Dit is die tweede gedagte van die
preek: die lewende stene.

Broer, suster, jou status as Christen is afhanklik van die
status van Christus. Deur die geloof is jy aan Hom verbind. Hy is
die lewende steen. Hy is die lewe en Hy gee die lewe. Daarom, as
jy aan Hom verbind is, leef jy self ook. Hy is ’n soliede
rots. Verbonde aan Hom word jy ook ’n soliede rots. In Hom
kan jy vas staan teen die aanvalle van sonde en Satan.

Petrus skryf: Kom na Hom toe, die lewende steen ... en laat
julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis.
Op die soliede hoeksteen Jesus Christus, word ons saam tot ’n
huis opgebou. Ja, jy word opgebou. God doen dit. Jy word deur God
in plek gesit. Jy word deel gemaak van die een gebou van God. Jy
word ingelyf in die Christelike kerk.

Waar vind julle dan jul eenheid as gelowiges? Jul eenheid lê
in Christus. Deur geloof, deur na Christus te kom, word jy in
Christus ingelyf. Saam word julle gebou op Christus die hoeksteen.
Dis die enigste basis vir die ware belewing van die gemeenskap,
’n ons gevoel teenoor ’n hulle en ons gevoel. Dit kan
soms gebeur dat dit wat Christene verenig die stryd teen ’n
gemeenskaplike vyand is. Teenoor die gemeenskaplike vyand gaan
hulle saamstaan. Mense bêre voorlopig hul verskille om skouer
aan skouer te stry teen die gemeenskaplike vyand. Is dit die
basis van ons eenheid? Dit sou ’n negatiewe basis wees. Ook
’n onveilige basis. Wat vandag as vyand beskou word, kan
more ophou om ’n vyand te wees. So sou die eenheid
voortdurend kan verander. So is dit nie met die kerk van Christus
nie. Die eenheid waarop die kerk gebaseer is, is iets positief.
As gelowiges vind ons ons eenheid in Christus. Die basis bly
altyd dieselfde. Dit is die mees soliede basis vir eenheid. Ja,
dis die enigste blywende basis. Dit is wat ons verenig. Dis ook
wat ons as gemeenskap sterk maak. Ons moet altyd daarna terug.
Net dan kan jy vas staan en die bose teenstaan. Net dan is julle
vol van lewe en geestelike krag.

Geliefdes, dat die Christelike kerk deur God self gebou word,
beteken nie dat ons nou agteroor kan sit en dinge gewoon sy
beloop kan laat gaan nie. God wil ook ons aktiwiteit inskakel. Jy
word geroep om na Hom die lewende steen te kom. Dit beteken
aksie, voortdurende aksie van jou kant. Elke gemeentelid word
ingeskakel in die bou van God se huis. Nie net as ampsdraers nie.
Ek moet myself laat opbou tot die geestelike huis. Ek moet help
bou. Hoe kan ek die kerk gemeenskap opbou? Net deur voortdurend
terug te keer na die fondament Jesus Christus en op en uit Hom te
bou.

Om te bou moet jy die instruksies, die plan en spesifikasies
van die argitek en Bouer volg. Wat is God se plan vir die kerk?
Hoe wil God moet die kerk lyk? Bly hierdie vrae vir jouself stel.
Ek kan nie bepaal hoe die kerk moet lyk nie. God het reeds sy
plan en spesifikasies gereed. Dis wat ons moet volg sodat die
kerk kan wees wat dit moet wees. Enige afwyking van God se
planne, om langs die fondament te gaan bou op eie menings of reëls
verswak net die struktuur. Sorg dat jy daarom net op die een
fondament Jesus Christus bou. Dan bou jy eers werklik op. Dis die
enige basis vir gemeente opbou. En dit is die mees belowende
basis. Wat kan jy anders verwag indien jy op daardie lewende
steen bou. Die kerklike lewe sal groei. Want jy put uit ’n
onuitputlike bron van krag.

Gemeente, hoe leef julle dan as Christene? Soos lewende stene,
vol van geestelike lewe en krag? Laat jy jouself gebruik vir die
opbou van God se geestelike huis? Christus lê beslag op jou. Hy
wil hê dat jy met al jou gawes en talente die opbou van sy
gemeente dien. Niemand mag aan die kant bly staan nie. Elkeen wat
glo word ingevoeg in God se gebou en ingeskakel. Ek het my plek
in die kerk. ’n Bevoorregte posisie. Maar ook ’n
verantwoordelike posisie. Saam vorm ons ’n liggaam, ’n
huis. Ek word in plek gesit om ’n ondersteuning vir ander te
wees en om deur ander ondersteun te word. Ons het mekaar nodig.
Sonder die verskillende stene sou die mure van die gebou in
mekaar val. Wees daarom die steun wat jy vir ander moet wees en
laat jouself deur ander ondersteun word. Wees dankbaar vir die
eer en bediening van saam bou.

Ja, broers en susters, julle is ’n heilige priesterdom,
om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur
Jesus Christus. Dis die derde gedagte: die geestelike diens.

Hier verskuif die beeld van die teks. Die lewende stene word
nou priesters genoem. Die geestelike huis is bestem vir
geestelike diens.

Julle is aan Christus verenig sodat julle ’n heilige
priesterdom kan wees. In Christus is julle priesters, nie net die
ampsdraers nie, maar almal wat glo. Afgesonder om God te dien in
sy teenwoordigheid. Wat ’n voorreg. Wys dit dan ook. Bring
geestelike offers. Nee, jy hoef nie meer met diereoffers te kom
nie. God soek geestelike offers. Hy wil die vrug van die Gees
sien. Wys dat jy met die Gees vervul is. Dan gee jy nie jouself,
jou tyd en jou geld aan God net uit gewoonte of omdat dit van jou
verwag word nie. Nee dis ’n geestelike aangeleentheid vir
jou. Geestelike offers. Iets wat vanuit jou hart kom, uit die
geloof, gewerk deur die Gees.

Dan is dit nie genoeg om net ’n deel van my energie, geld
en tyd vir die Here te gee nie. God vra my heeltemal. Gee jouself.
Soos Paulus dit skryf in Rom 12:1: “Ek vermaan julle dan,
broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel
as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer –
dit is julle redelike godsdiens.”

Stel jul liggame as ’n heilige offer. Jou liggaam met al
sy vermoëns en lidmate. Bied jou hele persoon aan die Here. Dis
geen klein ding nie. Dit beteken totale oorgawe aan God. Totale
diens. Dan sien jy al jou tyd, energie en geld as iets wat aan
God behoort. Dis alles tot sy diens. Dan vra jy voortdurend: wat
sou my Heer wil hê dat ek moet doen? Wat is vir Hom die mees
aangenaam? Hoe kan ek Hom die beste dien, by die werk, by die
skool of universiteit, tuis, in die besondere amp ens ens? Hoe
kan ek Hom die beste dien met my verstand, met my tong, met my oë,
met my hande, met my voete, ja, met my hele persoon?

Ek is mos deur God afgesonder om ’n heilige priesterdom
te wees om geestelike offers te bring. Ek mag God weer dien met
my hele hart en lewe as ’n priester, in sy nabyheid.

Dink net daaroor na. Wat ’n voorreg! Dit het nie sommer
so tot stand gekom nie. Dit is nie omdat ek so goed was nie. Dit
het net tot stand gekom deur Jesus Christus. Ek ontdek daagliks
dat ek nog op baie maniere te kort kom. My diens aan Hom is lang
nie volmaak nie. Maar ek hoef nie tou op te gooi nie. Die basis
vir geestelike diens is Christus se priesterlike offer. Daarom
lees ons in die teks: om geestelike offers te bring wat aan God
welgevallig is deur Jesus Christus. Jou diens maak sin, is
waardevol, ondanks jou gebreke en tekortkomings, dis is aan God
welgevallig gemaak deur Jesus Christus. Hy reinig daardie
onvolmaakte offers met sy bloed sodat dit aangenaam is vir God.

Hoe ryk is dit, geliefdes, om met Christus verenig te wees. In
Hom maak die lewe sin. In Hom is die lewe veilig en vrugbaar.

Soms ontdek ek ’n slapheid in my lewe of in die lewe van
die gemeente, ’n gebrek aan geestelike krag, ’n gebrek
aan eenheid, ’n gebrek aan rigting. Hoe kan ek dan die lewe
met my God aanwakker, hoe kan ek die geestelike krag terugkry?
Hoe kan ek die eenheid bevestig? Hoe kan ek weer rigting kry? Die
mees eenvoudige antwoord is wat jy in die teks lees: Kom na Hom
toe, die lewende steen. Keer terug na die een soliede en lewende
fondament. Laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n
geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike
offers te bring.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)