Die voorwaardes vir die viering van die Heilige Nagmaal.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-10-24
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 30
Preek Inhoud: 

Sondag 30, vrae en antwoorde 81 en 82

Ds C Kleyn - Sondag 24 Oktober 2004

Lees: 1 Korinthiërs 11:17-34; Sondag 30, vrae en
antwoorde 81 en 82.
Sing: Ps 91:1,2; Ps 145:10-12; Ps 63:3,4; Ps 106:1,2,20;
Ps 116:7-10.

Tema: Die voorwaardes vir die viering van die
Heilige Nagmaal.

Die voorwaardes hang saam met

  1. die karakter van die nagmaal; en
  2. die karakter van die kerk.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Volgende week hoop verskillende jong mense belydenis van hul
geloof af te lê. Hulle wil toegang tot die Nagmaal van die Here
verkry. Ja, om toegang tot die Nagmaal te verkry moet hulle
openlik in die midde van die gemeente hul geloof bely. Hierdie reël
het ons vasgelê in art 60 van die Kerkorde. Daar lees ons:
"Die kerkraad sal slegs diegene wat belydenis van hulle
geloof volgens die gereformeerde leer afgelê het en wat
godvresend lewe, tot die Nagmaal van die Here toelaat."

Hoe kom die kerk daarby om so ’n reël te stel? Is dit
geen bo-skriftuurlike binding nie? Op hierdie manier word kinders
en ander dooplidmate van die Nagmaal geweer. Is dit reg? Mag ons
kinders weerhou om die nagmaal te vier? Die kinders is tog ook
deel van die gemeente? Sou dit vir die kinders nie juis ’n
baie waardevolle ervaring kan wees nie? Dit sluit goed aan by hul
belewing. ’n Kind leer immers die meeste nie deur
leerstellige toesprake nie, maar deur self iets te doen, deur
selfervaring? Waarom laat ons die dooplidmate dan nie toe tot die
viering van die nagmaal nie? Hulle moet tog ook ervaar dat hulle
deel van die gemeente van Christus is? En hulle sou tog baie kan
leer van die betekenis van die nagmaal deur self daaraan deel te
neem? Waarom dan die reël: eers openbare belydenis van die
geloof, dan eers die viering van die Heilige Nagmaal?

Vanaand wil ek dan veral op daardie reël fokus as ek u
verkondig: die voorwaardes vir die viering van die Heilige
Nagmaal. Die voorwaardes hang saam met

  1. die karakter van die nagmaal; en
  2. die karakter van die kerk.

Eers dan die karakter van die nagmaal. Wat is die verskil
tussen die doop en die nagmaal? Die doop staan aan die begin van
God se geskiedenis met my. Die doop wys my op die eensydige begin
van die verbond. Die nagmaal behoort daarenteen by die vervolg
van God se geskiedenis met my. Die verbond het eensydig begin
maar moet ook werklik tweesydig word. Ek self moet ook in aksie
kom, antwoord gee. Dit is nou die tiperende kenmerk van die
nagmaal. Daar is die twee partye van die verbond aktief. In die
sakrament is dit nie slegs God wat aktief is nie, maar ook die
gelowige mens. God en die mens vier saam die nagmaal. Dit is
tipies ’n sakrament van die wederkerigheid. As ’n kind
word ek na die doopvont gedra, ek word gedoop, maar ek moet self
na die nagmaalstafel toe gaan en ek moet self eet en drink. By
die Heilige Nagmaal behoort die antwoord van die gelowige.

Maar gemeente, dit kan ’n kind tog ook doen? ’n Kind
kan tog ook saam eet en drink? En ’n kind kan tog ook glo?
’n Mens staan soms verbaas oor hoe ’n kind van sy
geloof kan getuig. Die Here Jesus het die geloof van kinders as
’n voorbeeld aan sy dissipels voorgehou. Waarom kan hulle
dan nie aan die nagmaal deelneem nie?

Hier kom by dat die doop om ’n antwoord roep. God wil so
gou as moontlik die antwoord van my, sy bondgenoot, ontvang. Dit
mag ek nie sommer uitstel nie. God se liefde verplig my tot
wederliefde. Dit geld nie slegs vir volwassenes nie, maar ook vir
kinders. Waarom dan tog geen toegang tot die Heilige Nagmaal nie?

Bowendien, die Nagmaal het tog in die plek van die Pasga gekom.
En die kinders mog wel aan die Pasga deelneem. Waarom mag hulle
nou nie aan die Nagmaal deelneem nie? Ons stem saam dat die
Nagmaal in die plek van die Pasga gekom het. Maar beteken dit dat
die twee sakrament identiek is en dat dieselfde reëls vir albei
geld. Ons sal tog moet kyk wat God mbt die Nagmaal gereël het.

Watter eise stel God aan hulle wat die nagmaal wil vier? Ons
het daarvan gelees in 1 Kor 11. "Maar die mens moet homself
beproef en so van die brood eet en uit die beker drink." Om
die nagmaal te vier moet ek eers myself kan beproef. In vers 31
praat Paulus oor ’n beoordeling van onsself. Ek moet in
staat wees om myself noukeurig te beoordeel. Ek moet in staat
wees om my lewe te toets aan die evangelie. En let wel daarop:
die evangelie praat van ellende, verlossing en dankbaarheid. Al
drie aspekte moet ek vashou. Doen ek dit nie dan gaan dinge
verkeerd. Dan beland ek by die wanhoop van die twyfelende siele
of by die hoogmoed van die sogenaamde verligte siele.

Die evangelie praat nie net van ellende nie, anders sou dit
geen evangelie, geen blye boodskap wees nie. Die evangelie praat
ook en juis van die verlossing uit die ellende deur Jesus
Christus. En van die dankbaarheid wat van verlostes gevra word.

Wel, as ek die nagmaal wil vier moet ek in staat wees om
myself te beoordeel in die lig van die evangelie van Christus.
Dan besef ek dat ek alles verbeur het en dat ek nie sonder Jesus
Christus kan nie. So sê die Kat dat hulle na die nagmaalstafel
moet kom wat vanweë hul sondes ’n afkeer van hulself het,
maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en die
wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en
hul lewe te verbeter. Let op die driedeling: ellende, verlossing
en dankbaarheid. Wie moet dus na die nagmaalstafel van die Here
kom? Hulle wat die volle evangelie ken en glo, hulle wat hul
ellende, verlossing en dankbaarheid ken. Is jong kinders ryp vir
so ’n bewuste geloofsdaad?

Broeders en susters, as ek die nagmaal wil vier moet ek nie
slegs myself vooraf beproef nie. Ek moet ook goed weet waaroor
dit gaan by die nagmaal. Paulus noem dat ek die liggaam van die
Here moet onderskei (vers 29). Om aan die nagmaalstafel aan te
gaan is iets anders as om by ’n vriend te gaan eet. Ek eet
aan die Nagmaalstafel nie sommer ’n stukkie brood nie en ek
drink daar nie sommer ’n slukkie wyn nie. Ek het daar te
make met tekens van Christus se liggaam en bloed. En dan moet ek
die liggaam van Christus – Christus in sy self-offerande
– goed onderskei. Ek moet goed weet wat Christus se liggaam
werd is. Ek moet Christus se self offerande noukeurig na waarde
skat.

Dit hang saam met die feit dat die nagmaalsviering ’n
verkondiging is, ’n verkondiging van die dood van die Here
totdat Hy kom (vers 26). Wanneer ek nagmaal vier, dan is ek besig
om te preek. Daar aan die nagmaalstafel word gepreek. In plaas
van die preek van die dominee, is daar die preek van die vierende
gemeente. En wat verkondig ons daar dan? Die dood van die Here.
Ek roep daar uit dat Christus se dood alles vir my is. Sy dood is
my lewe. Om dit te kan doen moet ek natuurlik wel in staat wees
om Christus se liggaam te onderskei en na sy juiste waarde te
skat.

Jesus het tot so ’n verkondiging opgeroep toe hy beveel
het om die nagmaal te vier tot sy gedagtenis. Ek moet aan die
tafel Christus gedenk. Wat is dit? Dit is meer as om alleen aan
Christus te dink, soos ek aan verskeie persone of dinge uit die
verlede terug dink. Ek kan aan verskeie dinge dink sonder dat dit
my vandag raak en sonder dat my lewe daardeur anders word. Met
die bybelse woord gedagtenis is dit anders. In die Bybel is
gedenk ’n woord wat alles te doen het met my lewe, met my
doen en late hier en nou. Wanneer ek iets gedenk, dan laat ek dit
as ’n lewende werklikheid in my lewe funksioneer. Dan laat
ek die dinge uit die verlede my lewe van vandag bestempel en
beheers. Wanneer ek Christus gedenk, dan laat ek die offer van
Christus my lewe bepaal. Dan soek ek daadwerklik my redding by
Hom in alle dinge van die lewe.

Broeders en susters, uit hierdie Skrifwoorde blyk dat ek by
die nagmaal, in geloof, bewus en aktief besig moet wees. Dit hang
saam met die karakter van die nagmaal. Die nagmaal is ’n
maaltyd van die geloof. Christus se gawe is onlosmaaklik verbind
met ons gelowig besig wees. Ek moet in geloof die brood eet en
uit die beker drink. Ek moet Christus gedenk, sy offer my lewe
laat bepaal. Ek moet die dood van die Here verkondig. Ek moet die
betekenis van Christus se dood uitroep, as versoening van my
sondes. Ek moet die liggaam van Christus onderskei, die liggaam
erken in sy heilige en unieke waarde.

Dit alles eis ’n sekere kennis en geestelike
onderskeidingsvermoë. Mag ek dit van jong kinders verwag? Mag ek
daardie geloofsdaad van jong kinders vra? Sou ek hulle nie, as ek
hulle aan die tafel sou laat gaan, bo vermoë belas nie? Hulle
moet dan immers dinge doen waarvoor hulle nog nie ryp is nie.
Dinge waarvoor hulle nog nie kan staan nie. Die
verantwoordelikheid is vir hulle te groot. Hulle is nog nie sover
in die geskiedenis van die verbond wat God met hulle gesluit het
nie. Hulle moet nog sover gebring word. Deur opvoeding en
onderrig, deur God se Gees en Woord.

Maar wanneer is ek dan wel sover? As ek selfstandig die
evangelie van Christus aanvaar. As ek vrywillig en bewus instem
met die verbond waarin God my opgeneem het. Wanneer ek Christus
se dood na sy juiste waarde kan skat en bely. Wie die nagmaal
vier moet dus in staat wees om belydenis van sy geloof af te lê.
Die nagmaal is self immers ’n belydenis van die geloof. As
ek nagmaal vier terwyl ek die belydenis nie kan aflê nie, dan
vier ek die nagmaal op ’n onwaardige wyse. Dan word die naam
van die Here deur my ontheilig.

Maar hoe kan ons, as gemeente, weet of iemand tot so ’n
belydenis van sy geloof in staat is? Deur die persoon, na
ondersoek, so ’n belydenis te laat aflê. So ontvang die
kerk, vir sover dit moontlik is, ’n aanwysing dat die
nagmaal waardig gevier kan word.

Daarom is dit glad nie vreemd nie dat die kerke bepaal het dat
iemand eers die openbare geloofsbelydenis moet aflê voordat
toegang tot die Heilige Nagmaal verleen word. Juis aan die
nagmaal het die belydenis van die geloof sy eie plek. Dit is
’n maaltyd van die geloof, verkondiging van die dood van
Christus.

Dit was dan die eerste waarop ons wou let: die vereistes vir
die viering van die nagmaal hang saam met die karakter van die
nagmaal. In die tweede plek wil ons sien dat dit ook saamhang met
die karakter van die kerk.

Die nagmaal is dus ’n maaltyd van die geloof. Is dit dan
geen persoonlike saak tussen God en jou nie? Waar niemand mag
tussen kom nie? Is dit wel reg dat ander mense besluit oor jou
nagmaalsviering? Moet jy nie self bepaal of jy daarvoor gereed is
of nie? Waarom kan dit nie oorgelaat word aan die persoonlike
verantwoordelikheid van die deelnemers nie? So kom ook vrae na
vore oor ’n oop nagmaalstafel. Moet ons nie elkeen wat wil,
toelaat, elkeen wat homself as Christen beskou? Moet die tafel
nie vir alle aanwesiges oop wees, sonder onderskeid nie?

Die vrae rondom kinders aan die nagmaal en die oop
nagmaalstafel hang nou saam. Ons moet die vraag beantwoord: is
die viering van die nagmaal net ’n persoonlike saak waarby
niemand mag inmeng nie? Is dit net ’n saak tussen Christus
en my siel? Wat sê die Skrif?

Die N.T. sien die nagmaal duidelik as ’n maaltyd van die
gemeente. Christus het die nagmaal ingestel in die kring van sy
dissipels. Hy het dit ingestel vir die kring van hulle wat sy
naam bely. En Hy het sy dissipels aangespreek, nie
individualisties nie, maar gemeenskaplik.

In 1 Kor 11 spreek Paulus die gemeente aan. In vers 26 spreek
hy hulle bv in die meervoud aan wanneer hy sê: "want so
dikwels as julle hierdie brood eet of die beker van die Here
drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom."
Die gemeente is aan die nagmaal besig. Hulle spreek hul
danksegging uit. Hulle verkondig die heilsbetekenis van Christus
se dood. Hulle bely hul geloof. Dit in onvanpas om te praat van
’n streng persoonlike saak. Ook al moet die persoonlike
geloof natuurlik aanwesig wees – dit word veronderstel by
die gemeenskaplike viering. Om te sê: ’n kind kan glo,
daarom mag die kind ook aan die nagmaal deelneem, is ’n
individualistiese benadering. As ek stel: ek glo, daarom moet ek
aan die nagmaal toegelaat word, ook al het ek nog geen band met
die kerk nie, maak ek my skuldig aan dieselfde kwaal.

Individualisme is ’n kwaad wat om hom heen gryp. Wat ook
steeds weer in die kerk kop uitsteek. Mense wat hulle verder niks
bekommer oor die gemeente nie, kom dan rustig na die
nagmaalstafel. En hoe dink die mense oor die geloof van die kerk,
die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is? Daar word
dan nie na gekyk nie. Kan dit, gemeente? Kan ’n mens
onverskillig staan teenoor die belydenis van die kerk en
tegelykertyd rustig aanskuif aan die maaltyd van die gemeente?
Kan ek anders glo en tog gesamentlik die dood van die Here
verkondig? Dit pas tog nie? Of heers onder ons soms ook die
gedagte: Ek voel dat ek in God glo – al is dit dan op my eie
wyse – daarom moet ek ook aan die nagmaal toegelaat word?
Dis individualisme. Asof ek aan die nagmaal slegs met Christus en
myself te doen het.

Nee, broeders en susters, as ek nagmaal vier dan doen ek dit
as deel van die feesvierende gemeente. Dan verkondig ek die dood
van Christus saam met die gemeente. Ek deel in sy vreugde en in
sy verwagting. Ek bely die gemeenskaplike geloof. En wat die
gemeente bely en aan die nagmaal verkondig het ons saamgevat in
ons belydenis en in ons nagmaalsformulier. As ek aan die nagmaal
wil deelneem dan sal ek dit moet beaam. Dan sal ek moet weet en
erken wat die gemeente oor die dood van Christus glo en bely.

Daarom is die openbare geloofsbelydenis so mooi as ’n
vereiste vir die toelating tot die nagmaal. Dit kan ons nie
oorlaat aan die wense van kinders of hul ouers nie. Dit is voluit
’n saak van die gemeente. Want wie tot die tafel van die
Here kom, moet saam met die gemeente bely, dws, ek moet dan die
belydenis van die gemeente vir my rekening neem.

Wanneer jy belydenis van jou geloof aflê, gee jy nie slegs
rekenskap van jou persoonlike oortuiging nie. Jy bely die geloof
van die gemeente. Iemand het tereg hieroor geskryf: "’n
Mens bely die gemeenskaplike geloof van die kerk. ’n Mens
bely dit so ook as sy eie geloof. Die kerk is soos ’n koor
wat in die wêreld sing. Wanneer jy belydenis aflê, gaan jy by
die koor staan en dan sing jy saam."

Gemeente, wanneer ons die nagmaal as ’n maaltyd van die
gemeente raaksien, is dit vir ons ook duidelik waarom ’n oop
nagmaalstafel nie reg is nie. Hoe moet ons weet dat die getuienis
aan die tafel eenstemmig is? Dat dit ’n eenparige
verkondiging van die dood van die Here is? En dit moet dit tog
wees?

Hierby kom nog dat die nagmaal ’n heilige maaltyd is. Dit
is geen onverskillige saak hoe ek deelneem aan die viering van
die nagmaal nie. Die apostel Paulus het dit duidelik beklemtoon
in 1 Kor 11. "Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet
of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam
en bloed van die Here." (vers 27). Dan verkondig ek die dood
van die Here op onwaardige wyse. Dan sondig ek teen die derde
gebod. Dan gebruik ek die naam van die Here ydellik. En die Here
sal die een wat sy naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly
nie. Daarom moet ek myself beproef voordat ek die nagmaal vier.
Om Christus se dood te verkondig is geen kleinigheid nie. "Want
wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ’n oordeel
oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie."
(vers 29). Onder die Korinthiers het dit tot gevolg gehad dat
daar baie swakkes en sieklikes was en dat ’n aantal ontslaap
het (vers 30). God openbaar sy toorn tot loutering van die
gemeente.

Broeders en susters, dit is vanweë die heiligheid van die
tafel dat ons die wag by die tafel betrek. Die gemeente moet
daarvoor waak dat die nagmaal op waardige wyse gevier word.
Anders sou die toorn van God nie slegs oor die persoon opgewek
word nie, maar ook oor die hele gemeente. Daarmee sou die verbond
van God ontheilig word. Daarom is die openbare geloofsbelydenis
as toelating tot die nagmaal ’n goeie saak. So word die wag
by die verbondsmaaltyd betrek.

Gemeente, sou ons dit loslaat, dan sou ons die karakter van
die kerk aantas. Wat is immers die kerk? Dit is ’n "heilige
vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hul
volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is"
(Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 27). Die kerk is ’n
vergadering van gelowiges, dws van hulle wat hul geloof bely en
as gelowiges lewe. Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus
praat ook van die eenheid van die ware geloof.

Wel, as dit êrens blyk, dan is dit wel aan die nagmaalstafel.
Die nagmaal staan in die sentrum van die lewe van die gemeente.
Daar laat die gemeente hom ken as die gemeente van Christus, wat
Hom erken en bely as sy enigste Verlosser.

Sou ons jong kinders tot die nagmaal toelaat, dan kry ons
’n ander tipe kerk. Dit word ’n soort konsumptiewe kerk.
Elkeen kan dan sy brood en wyn kom haal, sonder om enige
verantwoordelikheid op hom te neem. Solank as ek maar brood kan
kou en wyn kan sluk. Maar ’n belydenis van Jesus se naam
word nie meer van my gevra nie, selfs nie aan die nagmaal, waar
die belydenis die kragtigste sou moet klink. So verloor die kerk
sy karakter as ’n gemeente wat die naam van Christus bely.
Die kerk kan dan nie meer herken word as ’n vergadering van
gelowiges nie. Dit word ’n instituut waar die heil uitgedeel
word, sonder dat die ontvangers self verantwoordelik gestel word.
So kry ’n mens ook ’n kerk sonder tug. Wat bly daar dan
van die kerk oor?

Laat ons broeders en susters, dan bly wees met die reël: eers
belydenis aflê, dan toegang tot die nagmaal. So word gewaak oor
die karakter van die nagmaal. Dit is en moet bly ’n
verkondiging van die dood van Christus totdat Hy kom. So word ook
gewaak oor die karakter van die kerk. Die kerk is en moet bly
’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)