Jerusalem se mure voltooi - ''n wonder van God.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-10-17
Text: 
Nehemía 6
Preek Inhoud: 

Nehemia 6:15-7:3

Ds C Kleyn - Sondag 17 October 2004

Lees: Nehemia 6:1-7:3.
Sing: Ps 93:1,2; Ps 93:4; Ps 105:5; Ps 126:1; Ps 68:9,13;
Ps 150:1,3.

Tema: Jerusalem se mure voltooi - 'n wonder van God.

  1. Die wonder word deur vyande erken;
  2. Die wonder word deur vyande bedreig; en
  3. Die wonder word teen vyande bewaak.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ek wil die woord van die teks vir julle verkondig onder die
titel: Jerusalem se mure voltooi - 'n wonder van God.

  1. Die wonder word deur vyande erken
  2. Die wonder word deur vyande bedreig
  3. Die wonder word teen vyande bewaak

Wat 'n geweldige dag moet dit gewees het, die 25ste dag van
Elul. Die muur van Jer is voltooi. En dit in minder as twee
maande se tyd, in 52 dae. Ongelooflik. Toe Neh in Jer gekom het,
het hy in die nag heimlik die toestand van die muur gaan bekyk.
Hy het die situasie goed opgeneem. Jer se mure lê inderdaad
verwoes en sy poorte is met vuur verband. 'n Oop en kwesbare stad.
'n Smaad vir God se volk en God se tempel.

Neh het toe 'n vergadering by mekaar geroep en die mense
gemotiveer om met die herbou te begin. Nou, net 52 dae later, is
Jer se mure weer herstel met die nodige poortdeure in plek.
Veilig. Selfs so dat die vyande, wanneer hulle daarvan hoor,
bevrees word en hul selfvertroue verloor omdat hulle besef dat
hierdie werk deur God gedoen is.

Is dit nie 'n pragtige omkering van die situasie nie. Vanaf
die begin het die vyande geprobeer om die Jode bang te maak.
Hulle het gedreig met 'n verrassingsaanval. Hulle het die Jode so
te sê gedwing om met die troffel in een hand en die spies in die
ander hand te werk. En in Neh 6 word dit drie maal genoem dat die
vyande Neh wou bang maak Maar die teenoorgestelde gebeur: die
vyande, die omliggende volke, raak bevrees deur wat in so 'n
korte tyd gebeur het. Hulle kan dit nie glo nie. Dit moet 'n daad
van God wees. Hulle besef dat God aan die kant van die Joodse
volk moet wees. Daarom verloor hulle hul selfvertroue, hul gevoel
van meerderwaardigheid. Israel se God het homself bewys as
diegene wat oormagtig is.

Hierdie voltooide bouprojek is ongetwyfeld 'n wonder, 'n werk
van God. Daar is inderdaad verskeie bydraende faktore wat genoem
kan word. Die felle teenstand het die bouers daartoe gedryf om
nog yweriger aan die werk te gaan. Hulle het hul uiterste gegee.
Daar was 'n groot span werkers, vanuit die dorpe rondom Jer.
Blykbaar was daar ook baie ou materiaal van die verwoeste mure
wat hulle weer kon gebruik. Al hierdie dinge saam beteken baie,
maar kan nie verklaar die feit dat dit net 52 dae geduur het om
die herbou van die mure te voltooi nie. Die taak was kolossaal.
Toe Neh in Jer gekom het, was die moraal van die mense baie laag.
Die taak het onmoontlik gelyk. En wat van die geweldige opposisie.
Van buite en van binne. Wat van die interne ekonomiese probleme.
Ondanks al hierdie aanvalle en teenslae is die muur voltooi in 'n
opmerklike korte tyd van 52 dae. Ons enigste gevolgtrekking kan
wees: dis 'n ware wonder, 'n werk van God.

'n Werk van God waarby hy Neh en die werkers gebruik het. God
het dit gedoen. Daarom het Neh en sy manne dit gedoen. Die feit
dat hulle hulleself aan God toevertrou het, dat hulle God sy werk
laat doen het, het hulle bekragtig om God se werk te doen, om te
doen wat as onmoontlik beskou is.

Dis 'n sprekende voorbeeld van Christus se woorde: "Bid,
en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en
vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy
wat soek vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word." (Mt
7:7,8).

As jy met God gaan, sal jy nie beskaamd word nie. Jy kan op
God staatmaak. Vir Hom is niks onmoontlik nie. Dis wat Neh vanaf
die begin geglo en bely het: "Ag, Here, God van die hemel,
grote en gedugte God,, wat die verbond en die goedertierenheid
hou" (Neh 1:5). En in antwoord op die aanvanklike spot en
veragting van Sanballat, Tobia en Gesem het Neh gesê: "die
God van die hemel, Hy sal ons dit laat geluk" (2:20).

Wanneer jy deur God geroep word om dinge te doen, begin met
God. Herinner God aan sy eie woorde in die Bybel. Maak aanspraak
op God se eie beloftes. Die Here neem nie terug wat Hy eenmaal
gesê het nie. Doen 'n beroep op God en sy heerlikheid. Bewus van
jou roeping haal God daarby, by wat jy geroep is om te doen. Dan
sal jy God aan die werk sien. God hoef net te praat en dit kom
tot stand. Hy hoef net te gebied en dit staan. (Ps 33:9). En God
sê vir sy volk: Maak jou mond wyd oop, dat Ek dit kan vul (Ps 81:11).
God is die getroue Verbondsgod, wat nie die werke van sy hande
laat vaar nie.

Ondertussen mag ons nie vergeet: in die reël doen God sy werk
nie sommer so nie. Die wonders wat God doen, die resultate wat Hy
gee, daarvoor roep Hy meestal sy diensknegte. Daarom mag ons Neh
nie vergeet wanneer ons kyk na die suksesvolle bouprojek nie. Hy
het met God gewandel. Hy het met gebed begin. Sy hele lewe en
werk was met gebed vervul. Dit het hom tot 'n kragtige en
aanhoudende bouer gemaak. By elke aanval of teenslag het hy hom
in gebed tot God gerig. Hy het God se woord vasgehou, maak nie
saak hoe die omstandighede was. Hy het dit in die krag van die
geloof gedoen. Hy het gevra, gesoek en geklop. Langs hierdie pad
het hy en die Jode saam met hom ontvang, gevind en oop deure
gekry. Ongelooflik. Ondanks alle teenstand binne 52 dae voltooi.
Neh het met God, vir God, in God se krag gewerk. En God was met
Neh met sy lewendmakende krag, waardeur die onmoontlike moontlik
gemaak is.

Aanvanklik bespot die vyande hom in veragting. Daarna word
hulle bitter en fel, dreig hulle. Uiteindelik doen hulle alles
wat hulle kan om die voltooiing van die werk te verhinder. Satan
kom in aksie deur Joodse verraaiers en deur interne konflik. Maar
Neh bly fokus op God en God is met hom. So word dit wat
onmoontlik beskou is, moontlik. Die mure is voltooi in 52 dae. En
die vyande is verneder. Hulle smaad kom terug op hulle eie hoof
in antwoord op Neh se gebed (Sien Neh 4:4). Die vyande word nou
self bevrees. Jer is veilig.

Gemeente, werk in God se koninkryk is nog altyd 'n kwessie van
God met ons en ons met God. Dit is die geval op elke terrein van
die lewe. Jy bereik niks vir God tensy jy dit op so 'n manier
bereik. Dit getuig van gebrek aan geloof wanneer ons tou opgooi
en maak asof niks gedoen kan word nie. Wanneer ek so praat dan
betwyfel ek God se moontlikhede wat onbeperk is. Wat ek moet doen
is: bid en werk. Glo God se woord en bou. Sonder om te weet wat
die toekoms gaan bring,. Volg God se geopenbaarde wil. As moeites
ontstaan, keer tot God. En vergeet nooit om 'n dader van die
woord te wees nie.

Gaan so altyd met God. Vra, soek en klop. Dan sal jy ontvang,
vind en oop deure kry. Dan sal jy God se pragtige werk sien. In
jou gesinslewe, in die kerk en in die samelewing. Dan sal jy
verras wees oor wat moontlik is. 'n Herstelde muur. Veiligheid.
Wonderlike resultate. Nee, nie altyd soos jy dit gehoop of verwag
het nie. Maar resultate wat God tot stand bring. Nie omdat jy so
goed en so getrou is nie. Nie omdat jy so toegewy is nie. Maar
omdat God besig is om sy werk in die wêreld te doen terwille van
Christus. Omdat God in die wêreld wil triomfeer. Omdat God sy
kinders wil seën via getroue diens. Omdat God hulle eer wat Hom
eer. En vir baie ander redes. Kortliks, omdat God 'n God van sy
woord is.

Wat ek hier sê getuig teen die persoonlike lewe van baie
Christene en ook teen baie in ons gesins- en kerklike lewe.
Waarom is dit so dat die lewe van baie Christene in so 'n slegte
staat is? Waarom is daar soveel slapheid en geestelike armoede in
gesinne? Waarom infiltreer die wêreld so maklik in die kerk?
Daar is net een basiese antwoord, naamlik die sonde. Daar is baie
klagte maar daar is nie voldoende geloof nie. Ook onder God se
volk is daar nie genoeg gebed, roepingsbesef, gerigtheid op
Christus, kennis van God se woord en geloof om God se werk te
doen. God se volk besef dikwels nie genoeg dat die kerk op aarde
'n strydende kerk is, 'n kerk onder die kruis, voortdurende in
aantog teen vyandelike magte. Laat ons ophou met kla. Laat ouers
minder kla oor hul kinders. Laat ons eerder in gebed oordink wat
God van ons vra en daarom ook aan ons belowe. Laat ons God en sy
woord inroep, by alle dinge van die lewe. Laat ons des te
ernstiger en yweriger aanhoudend werk aan die opbou van God se
kerk en koninkryk. Om te kla bereik niks nie, nie vir jouself nog
vir God se saak in hierdie wêreld nie. God wil bouers hê. Mense
wat gewoon doen wat Hy wil hê ons moet doen, maak nie saak hoe
die omstandighede is. Mense wat met God gaan sodat God hulle kan
gebruik vir sy groot werk.

Met dankbaarheid herdenk ons die verskillende reformasies van
die kerk. Christelike ouers wat werklik hul kinders grootbring in
die tug en diens van die Here. Christene wat in die kerk en
samelewing die goeie stryd van die geloof gestry het en nog
steeds stry. Lidmate wat aanhou om die kerk op te bou, maak nie
saak hoeveel frustrasies hulle ervaar het nie.

Geliefdes, wanneer die mure eenmaal voltooi is, is die taak
nog nie klaar nie. Daar is altyd meer om te doen. Die werk is nie
verby totdat hierdie lewe verby is nie. Om 'n groot ontwikkeling
in die kerklike lewe te voltooi, blyk gou nie meer as 'n trapklip
te wees na die volgende taak. 'n Korte blaaskans is wel op sy
plek, maar dan is dit weer aan die werk. Ons kan nooit
selfvoldaan wees nie, dit sou die val van die kerk wees.

So kom ons by die tweede gedagte van die preek: die wonder
word deur vyande bedreig.

Met die mure in plek sal die dreiging nooit meer dieselfde
wees nie. Dit sal nie so prominent kan wees nie. Maar dit sal nie
verdwyn nie. Dit sal ook nie minder dodelik wees nie. Dit kan
selfs nog gevaarliker wees. Dit sal meer kom van sogenaamde
vriende pleks van vyande. Ons lees daaroor in Neh 6:17-19. Tobia,
die vos, is besig om homself te vestig as 'n invloedryke lid van
die Joodse gemeenskap. Hy is getroud met iemand van Joodse adel.
Dit gee hom persoonlike bande met sommige van Jer se top mense.
Tobia se seun is ook getroud met 'n dogter van een van die Joodse
leiers. Blykbaar beskou die aansienlikes Tobia as een van hulle
en neem hulle Neh se negatiewe houding teenoor hom kwalik. Hulle
bly vir Neh sê hoe goed Tobia is. Maar Tobia is net daarop uit
om Neh se posisie te ondergrawe. Hy gebruik die edeles van Jer
vir sy bose planne. En die verdrietige saak is dat die edeles
hulle deur hom laat gebruik, ja hulle sweer selfs trou aan hom om
so die lewe van Neh moeilik te maak. Dit kan wees dat die edeles
nog heimlik kwaad op Neh is omdat hy hulle aangespreek het oor
hul misbruik van die armes en omdat Neh hulle toe publiek
verneder het. Wat die oorsaak ook al mag wees, Tobia is besig om
op 'n permanente basis teen Neh saam te sweer. En hy het die
edeles van Juda aan sy kant.

Die name van Tobia (Jahwe is goed) en sy seun Johanan (Jahwe
het genade betoon) suggereer dat hierdie Ammoniete in naam in God
glo. Nominale Christene is dikwels gevaarliker as vyande van
buite. Hulle is meer verleidelik en kry dit reg om mense agter
hulle te kry deur hul uiterlike vroomheid.

In die kerk moet jy altyd waaksaam wees vir teenstand wat
sowel van buite as van binne kom. Dit kan dodelik wees wanneer
buitestaanders dit reg kry om mense van binne te win om die werk
van God te ondermyn. Dit kan die gemeente vermoei en verlam.
Tensy ons gefokus bly, ons bly rig op die dinge waar dit op
aankom en gewoon aangaan met bid en werk.

Nadat Neh die bou projek voltooi het, gaan hy nie agteroor sit
en uit die diens uittree nie, voldaan met wat hy bereik het. Nee,
hy neem onmiddellik maatreëls om dit wat bereik is, te bewaar en
verder te neem. So kom ons by die laaste gedagte uit: die wonder
word teen vyande bewaak. Neh laat poortwagters aanstel. Hy benoem
'n soort tuiswag van die bewoners van Jer, sommiges om die meer
strategiese plekke te bewaak en ander om hul huise te bewaak. Hy
plaas hulle onder die leiding van sy broer Hanani, wat hom
aanvanklik in Persie geïnformeer het oor Jer se toestand, en
Hananja, die owerste oor die vesting.

Hierdie benoemings is nie voortrekkery nie, soos ons in ons
land so dikwels sien gebeur, maar vanweë hul bekwaamheid tot die
taak. Dit word genoem dat Hananja 'n getroue man was en
godvresend bo baie. Sy betroubaarheid staan in teenstelling tot
die gedrag van die edeles en leiers wat hul Jodegenote misbruik
het (Hoofstuk 5) en die edeles in Jer wie se loyaliteit verdeel
was vanweë hul verbond met Tobia. Integriteit en godvresendheid
bly belangrike kwaliteite vir hulle wat in die kerk tot diens
geroep word, vir ampsdraers in die kerk, ampsdraers wat ook as
wagters aangestel is, om te waak oor die kerk van Christus.

Dat Neh ernstig is oor die bewaking van God se stad, blyk ook
uit sy voorskrif dat die poorte van Jer nie oopgemaak mag word
voordat die son warm is nie en dat hulle toegesluit moet word
voor sonsondergang, terwyl die poortwagters nog op wag staan. Nou
die mure voltooi is, deur 'n wonder van God, is Neh baie
versigtig dat die sukses nie verlore raak nie.

Dis iets waarvan ons as die kerk van Christus kan leer. Seëninge
van God, deur geloof en gehoorsaamheid verkry, moet bewaak word
sodat hulle nie in die hande van die vyand kom nie. Wat in God se
krag gebou is, moet bewaar word. Waar daar 'n terugkeer na die
woord van God is, 'n reformasie, daar is geen plek vir euforie of
lydelikheid nie. Apatie en lydelikheid sou die wins ongedaan maak.
'n Terugkeer na die woord van God het net waarde as alles gedoen
word om Satan buite te hou. Binne die mure van Jer moet God se
volk bewus wees van hul andersheid en besef dat hulle geroep is
om anders te wees, net omdat hulle die volk van God is. So moet
ons die grens tussen kerk en wêreld bewaak sodat die kerk nie
deur die wêreld oorloop word nie. As ons die geloof wat eenmaal
aan die heiliges oorgelewer is nie bewaak nie, dan lewer ons
onsself oor aan die misleiding van Satan. Ons moet bewus bly dat
ons anders is, omdat God ons afgesonder het. Alleen so, deur
handhawing van die antitese kan ons 'n seën vir die wêreld wees.
'n Lig wat ophou brand, kan mos nie as 'n lig vir die wêreld
dien nie. Sout wat laf word, kan nie as die sout van die aarde
dien nie. Wanneer ons nalaat om ons lewens en gedagte te toets
aan die woord van God, wanneer ons net die modes van ons tyd
volg, dan word die seëninge wat God in die geskiedenis tot stand
gebring het verwaarloos.

Ons het inderdaad 'n plek in die wêreld, om 'n seën vir die
wêreld te wees. Maar dan moet ons nie deel van die wêreld word
nie. Waak en bid, leer God ons, want die duiwel loop rond soos 'n
brullende leeu op soek na prooi. Wees nugter. Bewaar jouself in
die waarheid. In woord en daad. Bewaar die seëninge wat God in
sy genade vir jou gegee het. Stry die goeie stryd van die geloof.
Ontwikkel en gebruik die talente wat God jou gegee het om sy kerk
te bou en te bewaar. Vertrou op God almagtig.

Broers en susters, om saam te mag bou aan die nuwe, hemelse
Jer is 'n groot voorreg. God stel jou medewerking op prys, elkeen
op sy plek. Die bou verloop nie sonder teenwerking nie. Wanneer
jy bou sal jy dit keer op keer ontdek. Maar onthou die woorde wat
Christus vir Petrus gesê het: Op hierdie rots sal Ek my gemeente
bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Die
nuwe Jer sal kom. Onherroeplik. Want dit is God se stad. Christus
is die Bouer. Daarom sal geen vyand dit kan oorweldig nie. Jy mag
met sy hulp aan hierdie pragtige, onoorwinlike stad bou. Hierdie
wonder van God. Uiteindelik sal elke skepsel dit erken. Wanneer
God se kerk uit alle volke kompleet is, sal die hele wêreld sien
wie die argitek en boumeester van Jer is. God self in Christus.
Dan sal elke knie buig en elke tong bely: dit is God se werk. Dan
sal ook geen bewaking van Jer se poorte meer nodig wees nie. Dan
hoef die poorte nie meer toegesluit te word nie. Dit word dan ook
nie meer donker nie. Dit sal volkome veilig wees. Soos ons lees
in Open 21:25-27: En bedags - want nag sal daar nie meer wees nie
- sal sy poorte nooit gesluit word nie; en hulle sal die
heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring. En daarin sal
nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen
nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van
die Lam.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)