Jy is deur genade gered, nie deur die werke nie.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-09-12
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 24
Preek Inhoud: 

Sondag 24

Ds C Kleyn - Sondag 12 September 2004

Lees: Efésiërs 2:1-10; Sondag 24.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 89:6,7;
Ps 92:6,7; Ps 116:7,9,10.

Tema: Jy is deur genade gered, nie deur die werke nie.

Hierdie goeie werke:

  1. Verdien niks nie
  2. Word beloon
  3. Kan nie nagelaat word nie

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die vorige Sondag het begin met die tema van ons
regverdigmaking. God die regter verklaar my onskuldig, vry van
skuld. Weens Jesus Christus skeld Hy sondaars vry. Hy reken my
toe alles wat Christus is en gedoen het. En slegs deur die geloof
word dit my eie.

Sondag 24 gaan verder oor ons regverdigmaking, en voeg daaraan
toe dat ons hierdie geregtigheid nie op grond van ons werke
verdien nie. In Sondag 23 leer ons: ons regverdigmaking is slegs
deur die geloof. Sondag 24 voeg daaraan toe: nie agv ons werke
nie.

Tog, geliefdes, word daar in ons kringe baie aandag aan goeie
werke gegee. Calviniste staan bekend as aktiviste. Ons word
aangespoor om orals aktief te wees. Al in die doopsformulier
staan daar dat ons vermaan en verplig word tot ’n nuwe
gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid is een van ons sleutelwoorde.
Werke dus ook. Tog bely ons: nie deur ons werke nie. In watter
lig moet ons dan hierdie werke sien? Is dit reg om mekaar tot
werke aan te spoor? Kom, ons bekyk hierdie saak wanneer ek aan
julle verkondig:

Jy is deur genade gered, nie deur die werke nie. Hierdie goeie
werke:

  1. Verdien niks nie
  2. Word beloon
  3. Kan nie nagelaat word nie

"Nie as gevolg van goeie werke nie." Is dit nodig om
hieroor uit te brei? Dit is verstaanbaar dat dit in die 16de eeu
nodig was, teenoor die Rooms Katolieke leer oor goeie werke. Maar
is dit vandag nog nodig om soveel aandag daaraan te gee? Meeste
van ons het al van kleins af geleer dat ons regverdigmaking nie
deur ons werke is nie. Hierdie leer is goed bekend en algemeen
aanvaar. Kan jy dit voorstel dat iemand hierdie leer weer sou wil
verruil vir die Roomse leer van goeie werke?

Tog, broeders en susters, as dit nodig is dat enige leer
besondere nadruk ontvang, ook vandag, dan is dit die leer van ons
geregtigheid nie deur die werke nie. Hier kry jy een van mens se
diep gewortelde sondes: die menslike trots, hoogmoed. Die idee
dat jy ten minste kan bydra tot jou eie verlossing, dat jy deur
eie krag jouself kan red uit ellende. Hierdie sonde kan ons
terugvoer na die paradys, na die vader van alle leuens wat gesê
het: Jy kan soos God wees.

Hierdie sondige ideaal om soos God te wees heers onder die
heidendom– ook onder die moderne heidendom, bv. Die New Age
beweging. Dit tipeer die heidense godsdienste: elke heidense
godsdiens streef daarna om die mens te vergoddelik. Mense probeer
daardie goddelike ideaal behaal deur allerhande rituele, reëls,
meditasie of ander middele. Ja, selfs humanisme volg dieselfde
beginsel: die mens het homself goddelik verklaar. En die moderne
Christendom, wat nie Bybels gegrond is nie, is geensins beter nie:
hulle streef na ’n wêreld van vrede en geregtigheid deur
hulle eie werke. Hulle bou ook op die mens self.

Broeders en susters, laat ons egter nie in die strik val om
vinger te wys vir ander en die balk in ons eie oog miskyk nie. Is
hierdie dwaalleer dan ook in ons eie kringe aanwesig? Beslis! Ja,
dit is in my eie hart aanwesig. Elkeen van ons harte is gevul met
menslike trots. Op ’n jong ouderdom steek dit al kop uit.
Dink bv. aan die magsstryd tussen ’n pa en sy seuntjie. Die
pa sê: doen dit. Die seuntjie stribbel daarteen en weier om dit
te doen. Pa begin homself opwen en dit maak die seuntjie nog meer
vasberade: ek weier om dit te doen. Hoekom reageer die seuntjie
so? Hy geniet die feit dat hy dit regkry om sy pa kwaad te maak.
Die mag wat hy oor sy pa uitoefen streel sy ego. Hy is selfs
bereid om daarvoor ’n goeie pak te kry.

Menslike trots is in elke hart aanwesig. Ons hou daarvan om
dinge in eie hande te hê. Ons haat afhanklikheid van ander mense.
Ons haat hulpeloosheid. Verbaas dit jou dan dat God ons
aanhoudend aanspreek oor hierdie kwessie van regverdigmaking nie
deur die werke nie? Ons wil dit self doen – of tenminste
gedeeltelik.

Geliefdes, ons moet stry teen ons natuurlike trots solank ons
op aarde leef. As jy dink jy het dit uit die voordeur gedryf,
sluip dit weer die agterdeur binne. Waar God se genade op die
voorgrond geplaas word, sien jy gereeld trots in die agtergrond.
Gebeur dit nie gereeld dat jy in feite baie trots is op jouself
nie: ek het dit of dat gedoen. Ek het sus en so gesê. Ek het dit
gesien, ek het dat ervaar. Ek hier en ek daar. Kyk wat doen ek
vir God in hierdie wêreld, hoeveel geld en energie ek aan God se
kerk spandeer. Ek is tenminste ’n lewende en aktiewe lidmaat
van die kerk. En kyk wat ek doen vir ander mense!

Broeders en susters, oppas dat jy nie met die mond bely dat jy
van genade alleen leef, maar in die daaglikse praktyk deur werke
leef nie. Jy is nie op goeie voet met die Here as gevolg van jou
inspanning en pligsgetrouheid nie. Jy ontvang nie sy guns omdat
jy getrou jou godsdienstige pligte nakom, omdat jy gereeld bid,
die Bybel lees, kerk toegaan ens.

Nee, broeders en susters, die feit dat God aan jou guns bewys,
maar jou ongelowige buurman aan sy eie lot oorlaat is nie as
gevolg van jou goeie wil of werke nie. Dit is slegs uit genade,
sonder eie verdienste. Daar is niks van jou kant af wat jou in
die guns van God bring nie. Niks nie. As jy wil roem, openlik of
in die geheim, roem in die Here.

Ja, maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor
God of ’n deel daarvan wees nie? Ek kan ten volle verstaan
dat my goeie werke nie voldoende is nie– hulle is immers
onvolmaak. Maar kan hulle nie gedeeltelik tot my regverdigmaking
bydrae nie? Ons is almal bereid om te erken dat ons werke nie 100%
verdien nie, maar om te sê ons werke verdien niks nie, is vir
ons gevoel onaanvaarbaar. God moet mos hierdie werk ook in ag
neem? Neem bv. daardie mense wat baie ernstig is oor hulle geloof
en ’n godsvresende lewe lei: hulle sal mos sekerlik meer
guns by God ontvang as mense wat wêrelds lewe?

Tog, geliefdes, word alles ons uit hande geneem. Jou goeie
werke werk nie eens gedeeltelik by tot jou saligheid nie. Want
die geregtigheid wat voor God se strafgerig kan bestaan, moet
heeltemal volmaak wees en in alle opsigte met die wet van God
ooreenstem.

Wil jy op rekening van jou goeie werke voor God verskyn? Kom
dan vorentoe. Onthou net dit: God is nie tevrede met ’n
halwe werk nie. Al is dit net gedeeltelik met sonde bevlek, is
dit onaanvaarbaar. God is volmaak, en Hy het jou ook volmaak
geskape. Daarom kan Hy net met volmaakte werke tevrede wees. As
jy op grond van jou lewe, jou vroomheid, jou werke, vryspraak wil
ontvang, dan moet jy kom met ’n volmaakte lewe, volmaakte
vroomheid, volmaakte werke.

Een sondige gedagte is genoeg om jou werke verwerplik voor God
te maak. "Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig
struikel, het aan almal skuldig geword" Jak. 2:10. Een sonde
maak jou ’n voorwerp van God se toorn. Daarom skryf Paulus
in Gal. 3:10 – "Want almal wat uit die werke van die
wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is
elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die
wet om dit te doen nie."

Broeders en susters, ons staan met leë hande voor die Here.
Ons beste werke is onvolmaak en besmet met sonde. Jesaja beskryf
ons geregtigheid as ’n besoedelde kleed (Jes 64:6). Ons hou
daarvan om ons goeie werke aan ander mense uit te stal. Maar
besef ons waarmee ons besig is? Ons pronk met vuil gesmeerde
klere.

Neem jou beste dade, jou gebede, jou gawes, jou werk in God se
kerk en koninkryk. Dinge waarmee jy redelik tevrede kan wees.
Dinge wat veel goeds bevat. Laat ons dit nie misken nie. Maar is
jou gebede nie baie keer selfgesentreer nie, bekommerd oor jou
eie belange? En jou gawes – word hulle altyd uit blydskap en
dank aan God gegee? Jou kerklike aktiwiteite – word dit
altyd tot God se eer en tot opbou van die kerk gedoen, of sluip
persoonlike elemente, persoonlike eer en bevrediging nie maklik
in nie? Jou bywoning by die eredienste, die lees van die Bybel
– soek jy altyd in die eerste plek God se eer?

Word dit nie by tye ’n gewoonte, of ’n saak van
selfbevrediging, jou eie belange in die geheim beskerm nie? Dit
kan gemaklik en gerieflik wees om deel van ’n sekere
gemeenskap te wees.

Op hierdie manier kan ons ons hele hart en lewe beproef. Ons
moet dit aanhoudend doen. Was dit alles in volle ooreenstemming
met die Wet van die Here – die wet van volmaakte liefde vir
God en die naaste? Wie sou dan nog durf om voor God te verskyn
met die eis: Here, dit het ek vir U gedoen, beloon my hiervoor?

Tog, geliefdes, beloon die Here ons werke. Dit lei ons na die
tweede punt: Ons goeie werke word beloon. In Ps 19 skryf Dawid:
"In die onderhouding daarvan (die verordeninge van die Here)
is groot loon."

In sy bekende bergpredikasie (Mat 5-7) praat Jesus Christus
herhaaldelik van ’n beloning, bv. "En jou Vader wat in
die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde" Mat 6:6.
In Markus 10 lees ons van Petrus wat sê: "Kyk, ons het
alles verlaat en U gevolg." En Jesus antwoord en sê: "Voorwaar
Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters
of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My
en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in
hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en
moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu
wat kom, die ewige lewe."

Wanneer Jesus Christus terugkom sal Hy Sy beloning saamneem,
om te gee aan elkeen volgens dit wat hy gedoen het. Wat is die
beloning vir hierdie lewe? Christus het gepraat van huise,
broeders en susters, moeders en kinders en grond – met
vervolging. Ons ontvang die gemeenskap van die heiliges –
geselskap – behuising, daaglikse voedsel (grond), moontlike
voorspoed of selfs teenspoed. God se liefde word ten minste
sigbaar in die daaglikse lewe, Sy allesomvattende sorg en
teenwoordigheid, wat slegte dinge ten goede verander.

Hy beloon hulle wat Hom soek. Hy beloon my opregte gebede. Hy
skenk my die vrede wat alle verstand te bowe gaan. So beloon God
my getroue bywoning van die eredienste. Hy versterk my geloof. Hy
laat my die vreugde om aan Hom te behoort, meer en meer ervaar,
die vreugde om Hom te dien. Hy help my om my probleme te hanteer.
Hy gee opnuut perspektief. Hy stel my gerus – ek hoef nie te
vrees of die paradys gaan kom of nie en of ek daaraan deel sal hê
of nie. Want via daardie goeie werke – deur die gebruik van
die middele van genade nl. Woord en sacrament, wil Hy my ’n
vaster vertroue en volkome sekerheid gee.

Maar, geliefdes, bring hierdie kwessie van beloning ons nie in
stryd met die vorige punt: goeie werke verdien volstrek niks by
God nie? Kan ons nog sê dat goeie werke niks verdien nie? Die
kategismus beantwoord die vraag: hierdie beloning word nie uit
verdienste nie, maar uit genade gegee.

Ons ontvang ’n beloning op grond van Jesus Christus se
verdienste. Dit is in werklikheid geen beloning op ons werke nie,
maar op die werk van Jesus Christus. Want ons goeie werke is in
feite nie eens ons s’n nie. Die goeie dinge wat ek doen,
doen Christus in of deur my. "Want dit is God wat in julle
werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae" Phil 2:13.
"Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie
werke wat God voorberei het" Ef. 2:10. God het ons in
Christus lewend gemaak. Alle goeie dinge kom van Hom alleen.

En die nuwe kragte, die nuwe wil wat ons van Hom ontvang, word
aanhoudend met ons sonde besoedel. Hulle moet voortdurend
gereinig word deur die genade van die vergewing. Daar is geen
sprake van ons eie verdienste nie. Dit wat wel goed in ons is, is
Christus se verdienste en daarom ’n genadegawe wat Hy aan
ons skenk: agter jou onvolmaakte goeie werke sien God vir Jesus
Christus raak. Deur Sy Gees werk Jesus Christus daardie werke in
jou. Daarom is God bly om die werke van Sy kinders te aanskou.
Daarom is Hy bereid om ons besoedeling van Christus se werk te
vergewe, en om daardie werk in liefde te beloon.

Broeders en susters, dank God vir alle goeie werke wat jy mag
doen. Dank Hom vir Sy genade. En verootmoedig jouself omdat jy
die goeie werke met sonde bevlek. God skenk Sy Gees oorvloedig.
Hy gee die krag om ’n nuwe lewe te lei. Dikwels verhinder
ons egter die effek van daardie nuwe krag met ons selfsug en
hardkoppigheid. Daarom is dit slegs genade wanneer God die
straaltjie van nuwe lewe wat in ons deurstraal beloon.

Kan jy nog aankom met jou eie verdienste? Vader, ek het sus en
so gedoen, waar is my beloning? Dank God dat hy jou nie in die
ellende waarin jy jouself gestort het, gelos het nie. Dat Hy jou
nie dood in jou oortredings gelos het nie. Dank God dat Hy genade
en barmhartigheid aan jou bewys het. Dank God dat Hy nuwe lewe in
jou gewerk het, en dat Hy dit wil beloon, ten spyte van die feit
dat jy die pragtige werke telkens weer besoedel.

Geliefdes, as alles van God se genade alleen afhang, is dit
nog sinvol om ons beste te gee, om onsself in te span vir goeie
werke? Hulle verdien tog niks nie. Maak hierdie leer ons nie
gemaksugtig, sorgeloos en sleg nie?

Daar is mense, ook in die kerk, wat inderdaad glo dat hierdie
lering van genade alleen te gemaklik vir die mens is. As daar tog
niks is wat ons kan doen om gered te word nie, word dit nie te
maklik en te goedkoop nie? Neem dit nie juis die inisiatief om
vir God aktief te wees, weg nie? Lei dit nie tot laksheid,
sorgloosheid en agteloosheid in die kerk nie? Hoekom sou jy nog
jou uiterste bes probeer. As dit slegs ’n saak van genade
is, hoekom al die moeite in die kerk om mense te aktiveer?

Die kategismus som die Skrif pragtig op wanneer dit antwoord:
Nee, want dit is onmoontlik dat ’n mens wat deur ’n
ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid
sal voortbring nie. Jy hoef nie te werk om jou geregtigheid voor
God te verdien nie. Nee, jy ontvang jou geregtigheid om goeie
werke te kan doen. Goeie werke is nie die bron nie, maar die vrug
van jou regverdigmaking. Deur God word ons bevry van al ons skuld
sodat ons uit dankbaarheid kan lewe en werk vir Hom. Ons was dood.
Hy het ons lewend gemaak met Jesus Christus. Nou kan ons weer vir
God leef.

Dit is onmoontlik, sê die kategismus, dat iemand wat deur
ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van geloof
voortbring nie. Dit is onmoontlik dat verloste mense dood bly,
leweloos, vrugteloos. As jy ’n takkie op die wingerdstok,
Jesus Christus, is, en jy Sy lewendmakende sap ontvang, kan jy
tog nie vrugteloos bly nie. Lewe in Christus bloei. As dit nie
bloei nie, leef jy blykbaar los van Christus.

Tog, geliefdes, as jy na die praktyk kyk sou jy geneig wees om
te sê: dit lyk nie heeltemal onmoontlik nie. Partymaal sien jy
baie min van daardie heerlike vrugte van dankbaarheid. Hoekom is
daar sulke tekortkomings in ons lewe? Nie omdat genade ons lui
maak nie. Nee, dit is omdat ons nie volkome uit genade alleen
lewe nie. Omdat ons gereeld nalaat om uit Christus te lewe, in
afhanklikheid van Hom, nalaat om ons kragte by Hom te soek, om
ons sekerheid en eer by Hom te vind.

As jy deur ’n ware geloof in Christus ingeplant is, is
dit onmoontlik om nie vrugte van dankbaarheid voort te bring nie.
Dit is onmoontlik dat jy weier om vir Hom te leef en werk. Jy sal
Hom aanhoudend in gebed soek. Jy sal verlang na die gemeenskap
met Hom in die weeklikse eredienste. As jy werklik deur Christus
gered is, sal dit ondenkbaar wees om tevrede te wees met die
minimum. Jy soek die maksimum – jy sal met blydskap Hom so
goed moontlik wil dien, nie net op Sondae nie, maar alle dae van
die week. Uit dankbaarheid.

Broeders en susters, sien hier die ryke lewe wat op God se
genade in Christus bloei. Waar God een en al is, die eerste en
die laaste, die begin en doel, waar dit ’n saak van genade
alleen is, daar sal die lewe nie wegkwyn en verdor nie. Nee, juis
daar sien jy die Christelike lewe bloei.

Geliefdes, jy kan weer aan die werk spring, jou bes probeer by
die huis, skool, werk en in die kerk. Nie om God se guns te win
nie. Gelukkig nie. Dan sou jy baie onseker word en die vreugde
van werk verloor en jouself selfs verhinder om te werk.

Nee, jy mag weer hard werk omdat jy reeds die guns van God
geniet. God het alle dinge weer reg gemaak. Jy is gered. Wat
’n wonder van genade! Kan jy nog lui, laks, sorgeloos wees?
Beslis nie! So ’n groot genade maak jou ywerig en aktief. Jy
wil wys hoe dankbaar jy is. Vir daardie wonderlike genade.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)