God open deure vir kerkbou in antwoord op gebed.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-08-01
Text: 
Nehemía 2
Preek Inhoud: 

Nehemia 2

Ds C Kleyn - Sondag 1 Augustus 2004

Lees: Nehemia 2.
Sing: Ps 100:1,3; Ps 101:1-3; Ps 100:2,4; Ps 102:6,7;
Ps 147:1,4; Ps 68:15,16.

Tema: God open deure vir kerkbou in antwoord op gebed.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Nehemia die kerkbouer. Nehemia moet letterlik die stad Jer
herbou. Hy moet ook die OT iese volk van God geestelik opbou.
’n Groot en skynbaar onmoontlike taak. Spring hy onmiddellik
aan die werk? Wat is die eerste ding wat Neh doen? Die eerste wat
hy doen is bid. In daardie gebed bely hy die sondes wat ons die
kinders van Israel, ook ek en my familie gedoen het. Hy erken
solidariteit in die skuld.

In daardie gebed getuig hy ook van sy vertroue in die Here:
"Ag, HERE, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die
verbond en die goedertierenheid hou..." Die almagtige en
getroue Verbondsgod. Daarom doen hy ’n beroep op die
verbondsverhouding wat die Jode in Jer met God het: "Hulle
is tog u knegte en u volk, wat U verlos het deur u grote krag en
deur u sterke hand."

Die gebed eindig met die bede: "Laat dit tog vandag u
kneg geluk, en verleen hom barmhartigheid voor die oë van
hierdie man" (naamlik koning Artasasta).

Het julle ooit daaroor nagedink hoe lank Neh gebid het dat God
hom voorspoedig sou laat wees deur hom vandag die guns van koning
Artasaste te verleen? Neh vertel ons hoe lank dit geduur het. Hy
noem twee datums. In hoofstuk 1:1 lees ons dat die slegte nuus
uit Jer in die maand Kislef gekom het. Hoofstuk 2:1 vertel ons
dat sy gebed beantwoord is in die maand Nisan. Van Kislef (Nov/Des)
na Nisan (Maart/April) is ongeveer vier maande, meer as 100 dae.
Vir vier maande het Neh op God gewag, terwyl hy steeds weer gevra
het dat God hom sukses sou gee by die koning. Maar niks het
gebeur nie. Tenminste niks van wat Neh gehoop het. Maar
ondertussen was iets aan die gebeur. God was besig om Neh in sy
geloof te beproef. En dit blyk dat hy die proef deurstaan het. Hy
het nie verflou in sy gebed en hoop nie.

Dit herinner ons daaraan, geliefdes, dat ook wanneer ons die
regte ding bid, wat God in ons hart gelê het, God ons nog kan
laat wag. Die tyd wat God vir die beantwoording van die gebed
bepaal, is dikwels nie so gou as ons hoop nie. Aanhoudende gebed
is iets wat ons moet bly leer. As ek volhard in die gebed dan wys
ek hoe ernstig ek is oor die sake waarvoor ek bid.

Geliefdes, julle moet besef dat Neh se bede menslik gesproke
so onwaarskynlik was om amper onmoontlik te wees. Vir Neh, die
koninklike skinker om onthef te word van sy werk en na Jer
gestuur te word om die stad te herbou sou ’n ongekende
wonder wees. Neh geniet blykbaar die vertroue van die koning.
Maar feitelik was hy nie meer as ’n hoë klas slaaf nie,
’n uitlander, gewerf vir diens in die koninklike hof. En
slawe, hoe belangrik hulle ook mag wees, kry nie sommer vry nie.
Hoe sal hy ooit verlof kry om na Jer te gaan.

Tydens die 4 maande het Neh nie die geleentheid of moed gehad
om die saak aan die koning voor te lê nie. Julle moet onthou dat
’n mens nie sommer met ’n versoek by die koning kon kom
nie. Nie sonder sy toestemming nie. Dink maar aan koningin Ester
en aan wat sy sê in Ester 4:11: "Al die dienaars van die
koning ...weet dat vir elke man of vrou wat na die koning in die
binneste voorhof ingaan, sonder dat hy geroep is, een en
dieselfde wet geld: hy moet gedood word." Met die oog op
eventuele aanslae was die so gereël. Die koning neem geen risiko
nie.

Wel, na 4 maande se wag, geween en gevas ontvang Neh skielik
’n geleentheid om sy versoek aan die koning voor te lê. Op
’n sekere dag merk die koning dat Neh bedruk lyk. Hieruit
blyk dat Neh na maande nie verflou het in sy verdriet oor God se
volk en stad nie. Die verdriet daaroor kan blykbaar op sy gesig
gelees word. Die koning vra hom daaroor. "Waarom is jou
aangesig so bedroef; jy is tog nie siek nie. Dit is niks anders
as hartseer nie." Hier gebeur iets wat ongewoon is. God is
hier aan die werk, besig om deure oop te maak, om gebede te
antwoord.

Oor die algemeen was die Persiese konings nie al te vriendelik
nie. Hulle het hul normaalweg nie bekommer oor die persoonlike
lewe van hul dienaars nie. Hulle wou net punktueel gedien word en
met vreugde. Aan die koninklike hof was die voorgeskrewe
gedragsvorm dat die dienaar in die teenwoordigheid van die koning
’n vriendelike en vrolike gesig moes wys. ’n Soort
komplement vir die koning, asof die koninklike teenwoordigheid
altyd vreugdevol sou wees. Om daar nie ’n vriendelike gesig
te wys, is as ’n ernstige belediging beskou en kon met die
dood gestraf word. Daarom verstaan ons waarom Neh baie bevrees
geword het.

Neh voel dat die tyd nou gekom het, die oomblik waarop hy so
lank gewag het. Sy toekoms en die toekoms van Jer is nou op die
spel. Hoe sal die koning reageer? Neh weet van die mislukking van
die herbou van Jer se mure aan die begin van Artasaste se
regering (Esra 4). Die koning het toe, so ’n 13 jare gelede,
’n ondersoek na Jer ingestel. Die ondersoek het "gevind
dat die stad van ouds af hom teen konings versit, en dat rebellie
en oproer daarin verwek is" (Esra 4:19). Op grond van die
bevinding het koning Artasaste self bevel gegee om alle bou
aktiwiteite te staak. Sou die koning dan nou wel goedgunstig
reageer op Neh se versoek? Dis ’n oomblik van groot spanning
vir Nehemia. Hoe sal die koning reageer as hy hoor van Jer, die
opstandige stad?

Neh se vrees verlam hom nie. Hy gooi die saak oop. In vertroue
op God. Hy besef dat dit die God gegewe oomblik is om te praat,
ongeag die gevolge. Ja, dis God wat Neh hierdie krag en moed gee.
Van wie anders ontvang ons mos krag? Terwyl lewe en dood deur sy
kop flits, bekwaam God hom om op te kom vir die saak van sy volk.
Dit was altyd al die troos van God se kinders: vrees nie, Ek sal
jou in staat stel om te spreek en jou die woorde in die mond lê.
So word God se krag sigbaar in ons swakheid.

Neh beroep hom op die koning se gevoel van menslikheid: "Mag
die koning ewig lewe! Waarom sou my aangesig nie bedroef wees
nie, terwyl tog die stad waar my vaders begrawe is, woes lê en
sy poorte deur vuur verteer is?"

Die koning blyk positief gesind te wees. Hy vra: wat is dan
jou begeerte? Neh besef dat die beslissende oomblik gekom het.
Wat hy nou gaan sê sal beslissend wees in positiewe of negatiewe
sin. Daarom bid hy ’n kort gebed in sy hart, ’n
skietgebed: Here help my nou om die regte ding te sê en laat die
koning tog positief daarop reageer.

Neh blyk weer ’n man van gebed te wees. Hy leef in nou
kontak met God. Hy gaan werklik met sy God deur die lewe. Sy kort
gebed in deel van ’n lewe van gebed. Daarom is dit aangenaam
vir die Here. Soms kan ’n gebed baie kort wees. Midde in jou
werk. Terwyl jy met jou kinders praat, hulle teregwys. ’n
Gebed wat geen mens hoor of sien nie. ’n Noodkreet: Here
help my. Gee my die regte woorde. Laat my gesprek slaag.

Daar is mense wat min of geen belangstelling vir God het nie,
maar wanneer daar ’n noodsituasie ontstaan, skielik God
skakel so te sê. Dan is God goed genoeg om te help. Maar God wil
deel van jou hele lewe wees. Hy wil nie net ’n
veiligheidsklep of noodnommer wees nie. As hulp in benoudheid is
God in hoë mate beproef (Ps 46:2). Dit geld vir elkeen van julle
wanneer jy geleer het om jou hele lewe in God se hande te plaas.
Dan is daar die kontak met God, dag na dag, in goeie en slegte
dae. Jou lewe is dan ’n lewe van gebed. Binne die konteks
het jy jou reëlmatige gebede en jou skietgebede. Dis die tipe
lewe wat God in jou sy kind soek. God seën sulke lewens met
geestelike krag en wysheid.

Na sy kort skietgebed het Neh die moed om die koning te vra om
hom na Jerusalem te stuur vir die herbou van die stad. Die koning
reageer positief daarop. Neh voeg dan die versoek daarby dat hy
briewe sal ontvang vir die goewerneurs wes van die Eufraat vir
vrygeleide deur hulle gebied en dat hy hout vir die konstruksie
mag ontvang van die opsigter van die staatsbos.

Die koning staan al die versoeke toe. Hy gee Neh selfs
offisiere en ruiters om hom te verseker van ’n veilige reis.
Ons lees in vers 8: "En die koning het my dit toegestaan
volgens die goeie hand van my God oor my."

Neh het maande lank die Here in gebed gesoek. Neh het tydens
sy gesprek met die koning ’n skietgebed tot God gerig. Nou
herken hy in die welwillendheid van die koning die goeie hand van
God oor hom. Baie mense roep tot God wanneer hulle in nood
verkeer. Maar wanneer die noodsituasie verby is, vergeet hulle
van God. Wanneer hulle raadop is sê hulle: God moet my help.
Maar wanneer God dit gedoen het, sê hulle in selfvoldaanheid:
dit het goed uitgewerk en dan bedoel hulle: Ek het dit tog maar
netjies vir mekaar gekry.

Herken jy dit? Hoe maklik vergeet ons nie om God te erken in
wat Hy in antwoord op gebed doen. As eenmaal ons situasie ten
goede verander het, ag ons dit al gou gewoon. Ons onthou God die
eer wat Hom toekom. Broers en susters, moenie dit laat gebeur nie.
Begin met God en eindig met God. Erken Hom in teenspoed en in
voorspoed. Wanneer jy in moeilikhede verkeer en wanneer jy
verligting ontvang. Wys dat jy ernstig is oor jou gaan tot Hom in
gebed, deur Hom ook spontaan te dank. Neh erken die goeie hand
van God oor hom wanneer die koning sy versoeke toestaan.

Die koning se reaksie is werklik verbasend. Dit word des te
duideliker wanneer jy besef met watter probleme Neh te doen gehad
het.

Eers was daar die probleem dat koning Artasasta 13 jare gelede
uitdruklik die bou van Jer se mure verbied het. Die Jode mog die
tempel herbou, maar hulle is uitdruklik verbied om die mure en sy
poorte te herbou. Dit was ’n wet van Mede en Perse. En uit
die geskiedenis van Daniel in die leeukuil weet julle watter
gewig sulke wette gehad het. So ’n wet kon nie sommer
herroep word nie.

Bowendien was daar die vyandskap van die Persiese state en
verteenwoordigers rondom Juda en Jer. Hulle sal alles in hul
vermoë doen om die herbou van Jer te verhinder.

Derdens is daar die praktiese probleem van die gebrek aan
middele, vanweë die armoede van die Jode in Jer. Waar moet hulle
die geld vandaan kry om bv. hout te kan koop?

Drie groot hindernisse vir die uitvoering van Neh se plan.
Maar kyk hoe God alle drie hindernisse wegneem. Dis werklik
verbasend. Die koning ignoreer gewoon die wet van Mede en Perse
wat hy self 13 jare gelede uitgeroep het teen die herbou van Jer
se mure. Die koning gee Neh briewe van vrygeleide vir die
goewerneurs wes van die Eufraat. Israel se vyande word vooraf
ontwapen deur Artasasta se briewe en deur die offisiere en
ruiters wat Neh ontvang. Die koning stel ook die hout uit die
staatsbosse tot Neh se beskikking. Hier sien ons opnuut dat die
koning se hart in die hand van die Here is soos waterstrome: Hy
lei dit waarheen Hy wil. (Spr 21:1).

God maak die magtige koning tot sy medewerker. Ons lees dat
die koning dit goedgevind het om Neh te stuur. In feite kan ons sê:
God het die goedgevind. Die goeie hand van die Here was mos oor
Neh. Daarom het dit so gebeur. Dis die geheim van alle kerkbou
werk. So is God, ons God. Hy het alles en almal in sy hande.
Selfs so dat hulle hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie
(Sondag 10 HK). God vorm mense soos Hy hulle wil gebruik. Ook
maghebbers, presidente.

Daar is baie dinge waaroor ons ons kan bekommer. Die politieke
en ekonomiese situasie van ons land, die onchristelike invloede.
Dit alles en nog meer bedreig voortdurend die bestaan en bou van
die Christelike kerk. Dit kan ons benou. Ons staan voor groot
uitdagings. Maar ons weet: die Seun van God regeer oor al hierdie
dinge. Sy besluit is beslissend. En Hy besluit as hoof van sy
Christelike kerk. Ons kan nog voor groot verrassings kom te staan.
God kan ongekende geleenthede skenk.

Sien hoe God dinge verander het in antwoord op gebed. God
bewys homself opnuut as ’n ware hulp in benoudhede, die
getroue Verbondsgod. Geen probleem is te groot vir Hom nie. Geen
probleem uit die verlede, uit die hede of in die toekoms nie. Hy
open deure in antwoord op die gebed om sy beloftes te vervul en
om die koms van sy ryk voor te berei. Hy ontwapen vyande en
verskaf die middele. Het jy, broer, suster, nie alle rede om op
Hom te vertrou nie? Om Hom te vertrou en te volg. Om te bid en te
werk aan die opbou van sy kerk?

Gemeente, eenmaal in Jer doen Neh die eerste drie dae niks
opvallends nie. Waarskynlik rus hy wat en peil hy die situasie
daar. Daarna maak hy snags ’n geheime inspeksie van die mure.
Waarom hierdie geheime missie? Dis duidelik dat Neh dit opsetlik
so doen. Ons lees ook in vers 12: "ek het aan geen mens
meegedeel wat my God in my hart gegee het om vir Jer te doen nie."
Waarom nie? Neh tree versigtig en met wysheid op. Hy wil sy
planne nie voortydig bekendmaak nie. Hy weet hoe die mense daar
is. Hul moreel is baie laag. Indien hulle van sy planne hoor
voordat dit uitgewerk en geverifieer is, sou hulle die planne
verwerp en belaglik maak. Hulle sou hom afskryf as ’n naïewe
nuweling. En as hulle Neh se planne eenmaal bespot het, sal dit
vir die Jode baie moeiliker wees om later tog die planne ernstig
op te neem.

Neh moet ook rekening hou met die teenstand uit die buurvolke.
Dis belangrik om hulle so lank moontlik onkundig te laat. Sommige
van sy eie mense het met die buurvolke kontakte. As die inwoners
van Jer voortydig sy planne te wete kom, dan sal ook die vyande
dit te wete kom, voordat die planne uitgewerk is. So sou hulle
dan God se volk kan demoraliseer en Neh sy werk kan dwarsboom
voordat dit begin. By Neh is daar geen gebrek aan moed nie. Hy
weet dat hy sy groot en gedugte God aan sy kant het. Hy is bewus
van sy goddelike roeping. Dit maak hom verantwoordelik vir die
manier waarop hy optree. Hy mag nie verknoei wat God voorberei
het nie. Hy mag nie die geleenthede wat God hom gegee het,
verkwis nie.

Daarom spring hy nie blind en roekeloos aan die werk nie,
’n ywer sonder verstand. Hy is moedig maar nie oormoedig nie.
Hy daag die vyande nie onnodig uit nie. Hy berei homself
sorgvuldig voor op die taak. Hy gebruik die gesonde verstand wat
God vir hom gegee het. Dis wat God ook van ons vra wanneer ons
take verrig. God wil nie hê dat ons blindelings en oorhaastig te
werk gaan nie. ’n Goddelike roeping staan nie teenoor
sorgvuldige voorbereiding en beplanning nie. Ywer vir die Here is
nie dieselfde as aktivisme sonder wysheid nie. Wat ’n skade
het hierdie ywer sonder verstand in die geskiedenis van die kerk
nie veroorsaak nie, deur ouers in die opvoeding van hul kinders,
deur ampsdraers in die kerk. Mag God ons daarvoor behoed.

Neh se eerste stap is om ’n inspeksietoer van die mure te
maak. Sodat hy die taak realisties en in besonderhede kan
omskryf, op grond van die feite. Eers wanneer jy so die taak
omskryf het, kan jy realisties ’n plan uitwerk en verwag dat
mense vertroue in jou projek kan hê. Geloof en beplanning gaan
saam. Wanneer God jou roep tot sekere take, dan suggereer Hy nie
dat jy die take sommerso kan vervul nie. Wanneer jy Christus
volg, dan sê God nie vir jou: kom, dis eenvoudig, dis iets wat
jy sommer net doen. Nee, dink aan die gelykenis van die persoon
wat ’n toring wou bou en van die koning wat teen ’n
ander koning wou veg. Lukas 14:28-33. Wat sê Christus in die
gelykenisse? Kom laat ons dit lees:

Lukas 14: 26-33

As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder
en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie
lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. En elkeen wat sy kruis
nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.

Want wie van julle wat 'n toring wil bou, gaan nie eers sit
en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer
nie? --sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om
dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal
begin spot en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry
nie.

Of watter koning wat optrek om teen 'n ander koning slag te
lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met
tien duisend die een te ontmoet wat met twintig duisend teen hom
kom nie? Anders stuur hy 'n gesantskap as die ander een nog ver
is, en vra vredesvoorwaardes.

So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy
besittings, my dissipel wees nie.

In ons werk in God se diens kan ons leer van Neh se realisme
en sy sorgvuldige voorbereidings. Ons moet die omvang van ons
taak realisties opneem en omskryf sodat ons nie later ontnugter
word nie.

Ons het Neh se sorgvuldigheid en realisme gesien. Ons bemerk
ten slotte ook sy motiverende krag. Nadat hy homself goed
voorberei het, tree Neh in oorleg met die mense. Let daarop hoe
Neh, wat netnou uit die Persiese hoofstad gekom het, homself
heeltemal identifiseer met die Jode in Jer. Hy tree nie op soos
’n besoekende amptenaar uit Susan nie. Hy sê nie: julle is
in ’n gemors, kom ek sal julle help. Hy sê eerder: "Julle
sien die nood waar ons in is, dat Jerusalem woes lê en sy poorte
met vuur verbrand is."

Let ook daarop hoe hy hulle tot aksie aanspoor: "Kom,
laat ons die muur van Jer opbou, dat ons nie langer ’n
voorwerp van smaad kan wees nie." Die mense sal aanvanklik
wel allerlei besware gehad het: wat van die verbod van die koning
om Jer se mure te herbou? Wat van die teenstand van die buur
volke? Wat van die gebrek aan middele?

Neh het ’n oortuigende antwoord: "En ek vertel hulle
van die hand van my God wat goed was oor my en ook van die woorde
van die koning wat hy my gesê het."

Neh se getuienis het ’n onmiddellike effek. Die mense
word nie net gerusgestel nie Hulle word entoesiasties. Skielik
styg hul hoop. "Hulle sê: Ons sal ons klaarmaak en bou. En
hulle het hulle hande sterk gemaak vir die goeie werk," lees
ons in vers 18.

Die groot bouprojek word aangepak. Gemotiveer deur wat hulle
oor hul God gehoor het, sit mense hul hart daarin.

Is dit nie ’n groot bemoediging ook vir ons nie? Dis waar
ons hoef nie te doen wat Neh moes doen nie. Hy het die spesiale
taak van die herbou van die OT iese Jer gehad. Maar kyk hoe God
deure oopmaak om sy beloftes te vervul. Vandag mag ons bou aan
die nuwe Jerusalem, die NT iese kerk van Christus. Die taak om
Christus se kerk op te bou lyk byna onmoontlik. Wie is daartoe in
staat? En hoe kan ons ooit die mense daarvoor motiveer?

Dink nie te klein van God nie. Kyk hoe Hy Neh se aanhoudende
gebed in Susan verhoor het. Die Here het deure oopgemaak in
antwoord op gebed. Die Here het Neh ’n geleentheid gegee om
te kom met sy onmoontlike versoek aan die koning. Die Here het
die groot hindernisse weggeneem. Die koning het al Neh se
versoeke ingewillig. Die Here het Neh ook wysheid gegee om
sorgvuldig dinge te beplan. En die mense, wat eers groot besware
geken het, ondersteun entoesiasties Neh se planne. Kyk wat God in
antwoord op gebed kan doen. Niks is vir God onmoontlik nie in die
vergadering van sy kerk en in die koms van sy ryk nie.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)