Die Here wil sy volk seën deur sy Naam op hulle te lê.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-07-11
Text: 
Númeri 6
Preek Inhoud: 

Numeri 6:22-27

Ds C Kleyn - Sondag 11 Julie 2004

Lees: Levitikus 9; Psalm 4; Numeri 6:22-27.
Sing: Ps 67:1,3; Ps 31:15,16,17; Ps 4:3,4; Ps
121; Ps 134:1-3.

Tema: Die Here wil sy volk seën deur sy Naam op hulle
te lê.

  1. die konteks van die seën;
  2. die inhoud van die seën; en
  3. die effek van die seën.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons is gewoond daaraan dat ons aan die einde van die diens die
seën van die Here ontvang. Die voorganger hef sy hande
skouerhoogte op en lê die seën op ons. So neem die Here self
afskeid van ons sy volk.

Wat beteken nou hierdie seën vir julle? Is dit dieselfde as
wanneer ons mekaar veel heil en seën toewens? So van: alles van
die beste toegewens. Mag dit met jou goed gaan. Ons bedoel dit
goed, maar ons kan daar niks aan doen nie. Dit bly net ’n
wens. Moet ons so die seën aan die einde van die diens verstaan?
As ’n vrome wens of as ’n gebed?

Kom, ons kyk na die teks. Ek verkondig vir julle: die Here wil
sy volk seën deur sy Naam op hulle te lê.

  1. die konteks van die seën
  2. die inhoud van die seën
  3. die effek van die seën

Ons diens eindig met die seën van die Here. Waarom gebeur dit
aan die einde? Numeri 6 sê niks oor wanneer die seën gegee moet
word nie. Dit word egter wel duidelik uit Lev 9 wat ons gelees
het. Daar lees ons dat Aaron allerlei offers bring om vir homself
en vir die volk versoening te doen. Nadat hy dit gedoen het, hef
Aaron sy hande op na die volk toe en seën hulle. Hier word die
seën uitgespreek vanaf die rand van die altaar.

Die seën kom na die offers. Wat beteken die offers? Hulle
verteenwoordig Jesus Christus. Elke dier wie se bloed by die
altaar uitgegiet word, verteenwoordig die Lam van God, Jesus
Christus. Elke offerdier roep om die vervulling in Jesus Christus.
Die bloed van bulle, skape en bokke is in homself waardeloos om
die sonde te versoen, dit kan volgens Hebr 10:4 onmoontlik die
sonde wegneem" Tog mag OT iese gelowige glo dat hy met God
versoen is op grond van die bloed van Hom wat gaan kom. So is dit
net na die offerdiens dat die priester die volk kan seën. Die
priesterlike seën is verbind aan die diens van versoening.

Ons sien dieselfde patroon in Lukas 1. Die priester Sagaria
gaan die heiligdom binne om daar sy heilige priesterdiens te
vervul. Ondertussen wag die volk buite vir hom om terug te keer
en vir hulle die seën te gee. Die priester is die middelaar
tussen God en die volk. Hy moet die aanbidding, lof, gebede,
belydenisse en offers van die volk voor God bring. Daarna mag hy
die seën van God vir die volk terugbring. So wag dan die volk
vir Sagaria om hulle die seën te gee, nadat hy hul aanbidding
voor God gebring het. Hulle wag. Hulle kan nie sonder die seën
leef nie. Alles verloor sy waarde as God hulle nie seën nie.

Julle ken die geskiedenis. Sagaria bly ’n lange tyd weg.
Eindelik kom hy buite toe. Hy lyk verwar en verbyster. Hy kan nie
praat nie. Hy beduie vir hulle dat hulle kan gaan.

Gemeente, Lukas begin sy evangelie met ’n krisis: die
priester kan die volk nie meer seën nie. Maar die vervolg van
die evangelie wys hoe God die krisis oplos. God se Seun word mens.
Hy aanvaar die pad van lyding, ja selfs die dood aan die kruis.
So kan Hy God se volk seën, nie op grond van die bloed van diere
nie, maar op grond van sy eie bloed, wat Hy op Golgota vergiet
het. Lukas begin met die mislukking van die Aaronietiese priester
om die seën uit te spreek. Lukas eindig sy evangelie met Jesus
se hemelvaart: "En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle
geskei en is in die hemel opgeneem." (Lk 24:51). Jesus
vertrek terwyl Hy hulle seën. Hy seën ons nog steeds. Ons
geniet van ’n aanhoudende seën. Ons hoef nie te wag vir
’n ander dier wat geslag moet word nie. Ons leef onder die
voortdurende seën van die Here, op grond van die offer wat
Christus eens en vir altyd gebring het. Daarom is ons veel ryker
as die OT iese volk van God.

Gemeente, die seën word nog steeds verbind aan die diens van
versoening. Nou nie meer die offerdiens van versoening nie. Maar
nou die bediening van die versoening, die verkondiging van die
Christus wat reeds versoen het. Soos in die OT die seën met name
via die altaar tot God se volk gekom het, so kom die seën vandag
met name deur die werk van Christus na ons toe. Jesus se hele
werk kan dan ook saamgevat word met die woord seën. In Christus
word ons deur die Vader geseën met alle geestelike seëninge (Ef
1:3). Hulle wat in die koninkryk in mag gaan, word die geseëndes
van die Vader genoem (Mt 25:34). Dit teenoor die vervloektes wat
die koninkryk van God nie beërf nie, omdat hulle nie met
Christus geleef het nie.

Die seën aan die einde van die diens sluit nou aan by die
bediening van die Woord, wat tydens die diens tot ons gekom het.
Dit is so te sê ’n klimaks, wat alles saamvat. In een
gevleuelde woord vat die seën al die woorde wat in die erediens
gespreek is en al die handelinge wat daar verrig is, saam. Die
evangelie word op ’n beknopte en gekonsentreerde manier nog
aan ons bedien, voordat ons die kerk verlaat.

Dis daarom ’n pragtige afsluiting van die erediens. Alles
kom daarin saam en sit daarin verpak. Wie die seën ontvang, het
baie ontvang, ook al sou jy in die erediens baie gemis het. Dit
kan wees dat jy die Skriflesing en die preek nie goed kon
verstaan nie. Dat baie aan jou verby gegaan het. Maar dan kom die
seën kort en kragtig na jou toe. Daarin ontvang jy alles, die
volle evangelie. Jy sou dit as die beste deel van die erediens
kan tipeer, as die klimaks. Elke preek het sy eie karakter. Soms
gaan dit diep, soms sny die diep in ons vlees, soms vul dit ons
met vreugde en dankbaarheid, met aanbidding en verwondering. Maar
die preek vind sy hoogste uitdrukking in die seën. Die prediking
kan nie hoër as dit styg nie. God kom aan die einde van die
diens na ons toe en seën ons. Laat niemand hierdie diens verlaat
en sê: Ek het niks in die diens ontvang nie. Dit sou ’n
belediging vir God wees. Jy het tog God se seën ontvang, die
evangelie in ’n neutedop.

Laat ons nou let op die inhoud van die seën. Die tweede
gedagte.

Die priesterlike seën is in die Hebreeuse taal kunstig
opgebou. Dit bestaan uit drie reëls. In elke reël word die naam
Jahwe, wat met HERE (met hoofletters) vertaal word, gebruik. Die
drie reëls is so gebou dat die tweede langer as die eerste is en
die derde langer as die tweede is. Die eerste reël of spreuk
bestaan uit 3 woorde, die tweede uit 5 woorde en die derde uit 7
woorde. Daarin mag ons ’n pragtige simboliek sien. Die seën
swel aan as ’n stroom, wat hom oor God se volk uitgiet. Die
hoogtepunt wat alles saamvat word bereik in die laaste woord
"vrede".

Die eerste spreuk lui: "Die HERE sal jou seën en jou
behoed." Die HERE, Jahwe. Hoe het die naam gaan leef vir die
generasie wat die uittog uit Egipte meegemaak het. Jahwe, Ek is
wat Ek is. Die Verbondsgod waarop julle kan staatmaak. Die God
wat sy beloftes waarmaak. Die God wat daar is tot verlossing van
sy volk. Die almagtige en getroue Verbondsgod. Hy wil jou seën
en behoed. En Hy kan dit.

By die woordjie seën moet ons veral dink aan lewensbloei. Die
Here sal die lewe van sy kinders tot ryke ontplooiing bring. Hy
sal daarvoor sorg dat sy volk die weelde van die verbond ryklik
ervaar. Daarby word beskerming toegesê. Daar is steeds gevare
wat dreig. As jou lewe tot bloei wil kom, dan moet die Here dit
ook voortdurend behoed. Ps 121 gee ’n pragtige beligting van
hierdie eerste reël. Die HERE word daar geteken as die groot
Bewaarder van sy volk, wat nooit sluimer of slaap nie, maar altyd
vir sy volk klaarstaan.

Dis goed om hier ook in gedagte te hou die situasie van die
volk toe die seën deur die Here vrygegee is. God se volk staan
dan op die punt om op te trek vanaf die Sinai na die beloofde
land. ’n Trek deur die woestyn wat nie maklik gaan wees met
vroue, kinders en vee nie. En die inwoners van Kanaän sal hulle
nie met oop arms ontvang nie. Inteendeel. Die Here stuur egter sy
volk op pad met sy seën. Dis nie toevallig dat juis in die
situasie die bevel tot die seën gegee word nie. By voorbaat laat
die Here sy seën uitspreek oor hulle wat Hy by die
verbondsvernuwing weer uitdruklik as syne aangespreek het: .die
HERE sal jou seën en jou behoed. Hy sal jou bewaar by alle
dreigende gevare.

Vir wie geld hierdie seënspreuk? Eerstens vir die kinders van
Israel, vir die afsonderlike Israeliet en vir die volk as geheel.
Vandag geld dit vir elke kind van God. Let daarop dat die woord
"jou" in die enkelvoud staan. God se seën is vir elk
van sy kinders persoonlik bedoel. Elkeen mag verseker wees van sy
beskerming. Dit is die beskerming van die groot Bondgenoot. Ons
wil graag mekaar behoed en beskerm. Maar wat kan ons as ouers
doen om die lewe van ons kinders te beveilig? Maar die almagtige
Verbondsgod laat vir ons sê: die HERE sal jou seën en jou
behoed. Hy kan en wil en sal in nood, selfs as ons sidder vir die
dood, volkome uitkoms gee.

Hierdie beskerming word in die geloof geniet en ervaar. Die
bewaring is heeltemal God se werk. Maar dit word deur die geloof
ontvang.

Die tweede spreuk lui: "die HERE sal sy aangesig oor jou
laat skyn en jou genadig wees." Wanneer die Here sy aangesig
oor jou laat skyn, dan beteken dit dat Hy jou vriendelik aankyk.
Die teenoorgestelde is dat God jou die rug toekeer. ’n
Vriendelike, stralende gelaat na jou toe is die bewys van ’n
welwillende gesindheid. Ons lees in Spr 16:15: "In die
vriendelike blik van die koning is lewe." Nou geld dit van
’n goddelike koning, wat alle rede het om ons vanweë ons
sondes te verwerp, maar wat die ootmoedige sondaar genadig
vergewe. Sy heerlikheid sal eens die nuwe Jerusalem met sy
bewoners verlig. Dat Hy ons in guns aansien, beteken vir ons
inderdaad die lewe.

Ons kan die tweede spreuk ook betrek op ’n keer in ons
situasie. In ’n akute noodsituasie sien jy uit na die
bevrydende morelig. Wanneer jy siek is, en dit in die nag die
ergste ervaar word, verlang jy na die oggend. Die spreuk kan in
OT iese lig ook vertaal word as: Mag die HERE jou welwillend
aansien en jou goedgunstig verlos. Verlos waarvan? Van vyandskap,
van onregverdige bejeëning, van leuensprekers, ja ook van eie
sonde.

Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.
Die woord ‘genadig’ benadruk dat die goedheid van God
onverdien is. God is nie daartoe verplig nie. Dis ’n
onverdiende guns van God vir ons wat sondig is.

Gemeente, die derde spreuk lui: "die HERE sal sy aangesig
oor jou verhef en aan jou vrede gee." Dat God sy aangesig
oor my verhef, wil sê dat Hy op ’n besondere manier na my
kyk. Hy kyk na my in liefde, in verbondenheid. Hy laat merk dat
Hy my liefhet. En dan volg die magtige slotakkoord, waarin alles
word saamgevat: "en aan jou vrede gee." Jy mag huis toe
gaan met die vrede van die HERE. Dis die bekende woord sjaloom.
Dit beskryf ’n situasie van volkome harmonie, waarin alles
en almal in ’n goeie verhouding tot mekaar staan, waarin
alles suiwer en gaaf is, waarin die lewe goed kan ontplooi. Vrede
is dan ook die hoogtepunt van die hele seën. Danksy God se guns
sal die lewe weer word soos Hy dit by die skepping beoog het:
alles sal tot volle ontplooiing gebring word, die verhoudings sal
suiwer wees, tussen God en die mens, tussen die mense onderling
en tussen die mens en die skepping.

Gemeente, ook aan die einde van ons eredienste klink dikwels
hierdie priesterlike seën. Julle sal verstaan dat die seën vir
ons vandag baie dieper en ryker is. Heel die werk van Christus
staan daaragter. Christus wat vir sy apostels gesê het: "Vrede
laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle" (Joh 14:27).
Christus wat na die hemel opgevaar het met seënende hande.
Lewensbloei, bewaring, genade, liefde en vrede kom nou in
Christus na ons toe. En wat dit alles beteken word in die Nuwe
Testament onthul.

Ons ontvang ’n drievoudige seën. Drie maal word die Naam
van die HERE genoem. Die ou Christelike kerk het daarin ’n
aanduiding van die Drie-eenheid gesien. By die eerste reël het
hulle veral aan die werk van die Vader gedink (Hy sal jou seën
en behoed). By die tweede reël is aan die werk van God die Seun
gedink (Hy sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees).
By die derde reël is gedink aan die werk van God die Heilige
Gees (Hy sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee).
God se OT iese volk kon die Drie-eenheid nog nie daarin lees nie.
In die lig van die NT is dit volkome legitiem om dit wel daarin
te sien. God het die drievoudige seën ook vir ons gegee. En Hy
laat die inhoud daarvan in sy voortgaande openbaring steeds
duideliker en ryker gesien word.

Die seën klink soos ’n wens. Maar dit is geen wens of
gebed nie. Dit is ’n amptelike bekendmaking, ’n
amptelike afkondiging. In vers 23 ontvang Aaron en sy seuns die
opdrag: "So moet julle die kinders van Israel seën deur vir
hulle te sê" en dan volg die seënformule. Juis die bevel
om dit te sê onderstreep dat die seën amptelike prediking is,
amptelike bediening van die versoening.

In die prediking hou die voorganger die ryke beloftes van God
aan die gemeente voor, gee hy dit aan die gemeente. In die seën
doen hy dit opnuut en met des te meer klem. Dis geen leeg gebaar
nie. Want die genadige God staan daar in sy groot trou agter. Hy
het belowe om te sal seën. Kyk maar na vers 27b: En Ek sal hulle
seën.

Die seën ontleen sy betekenis aan die belofte van God. Deur
die seën onderstreep God sy belofte. Deur die gebaar van die
opheffing van hande word die belofte ook sigbaar naby gebring.
God verseker ons van sy belofte. So seker as die hande van die
voorganger oor jou word opgehef, so seker geld God se seenbelofte
vir jou.

Beteken dit nou dat elkeen ook metterdaad deur die Here geseën
word? Ons let daarop in die derde punt: die effek van die seën.

God sê aangaande die priesters: "So moet hulle dan my
naam op die kinders van Israel lê." Dis ’n pragtige
saak dat God se Naam op my gelê word. Daarmee word ek ten nouste
aan die naam verbind. Die Naam word aan my lewe geheg. Ek mag
weet: die HERE self gaan met my mee, Die HERE soos Hy homself in
sy woorde en werke bekend gemaak het. Die HERE wat homself bewys
het as die almagtige en getroue verlosser van sy volk. Op wie jy
altyd kan staatmaak. Die God van die uittog en van die intog. As
NT iese gelowiges kan ons daaraan toevoeg: Die God wat Homself in
Jesus Christus so ryklik aan ons geopenbaar het, Hy verbind
Homself aan my lewe.

Daarom is die slot van die erediens so geweldig. Die God van
Pase en Pinkster verbind Homself aan my. Hy gaan met sy groot
verlossingskrag met my die nuwe week in. En met die krag is Hy by
my, in my stryd teen die sonde, in my verwerking van verdriet, op
my siekbed en op my sterfbed. God die Vader, God die Seun en God
die Heilige Gees wil met ons gaan. Hy herhaal met klem die een
groot belofte van die verbond: Ek wil julle God wees en julle mag
my volk wees. Dis waaroor die seën gaan. Wanneer ek nie vashou
dat God self, baie persoonlik, hierdie seën oor my uitspreek
nie, dan vervaag hierdie seën tot ’n oppervlakkig wens.

In Eksodus 34 het God self sy Naam soos volg uitgeroep: HERE,
HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van
goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir
duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar
nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die
vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die
derde en aan die vierde geslag."

Die laaste woorde maak duidelik dat die seën nie outomaties
vervul word in die lewe van elkeen wat dit hoor nie. In die
verbond is daar twee dele, naamlik ’n belofte en ’n eis.
Die seën moet in geloof en dankbaarheid ontvang word. As ek van
my kant die verbond verbreek, dan sal ek ervaar dat die Here ook
kan vervloek. Dit sal nie aan Hom lê nie. Hy waarborg sy
beloftes.

Daarom is die feit dat sy heerlike, roemryke Naam op ons gelê
word ook ’n baie ernstige saak. Almal ontvang die seën,
maar nie almal word geseën. Die Naam HERE is nie ’n magiese
krag nie. Die opheffing van die hande en die uitspreek van die seën
is nie ’n magiese handeling nie. Dit is verkondiging van die
belofte op ’n nadruklike manier. Dit moet in geloof aanvaar
word. Vir die geloof ontstaan daar ryke perspektiewe. Maar wie
God se beloftes, ja wie God self, nie in geloof aanvaar nie, vir
hom sal God ’n verterende vuur wees. As ek my nie aan die
Naam van die drie-enige wat my opgelê is, onderwerp nie, dan sal
die Naam nie tot seën maar tot ’n vloek wees. Laat elkeen
tog ook die erns van die seën aan die einde van die diens besef.

Die seën is dikwels by ’n afskeid uitgespreek. Omgekeerd
egter ook. Soos by die eerste begin toe God die mens geskep het
en by die nuwe begin na die sondvloed ens. Dis van belang wanneer
ons aan die einde van die diens ’n seën oor ons hoor
uitspreek. Dis ’n soort afskeid, maar tegelyk ’n nuwe
begin. Ons gaan die volle lewe weer in. Die seën by die afskeid
wil ’n stukrag wees.

Ons het die krag nodig vir die werk en lewe wat wag. Die diens
aan die Here hou nie op aan die einde van die erediens nie. Mens
sou selfs kan sê dat dit na die erediens eers werklik begin.
Daar in die daaglikse lewe wil God ons in diens neem as sy
profete, priesters en konings. Wat hierbinne in die erediens
gebeur, moet daarbuite in die wêreld uitgeleef word.

Broers en susters, julle kan nou nou gesterk huis toe gaan.
Julle het God se beloftes in die prediking gehoor. Julle ontvang
die bevestiging en versekering daarvan in die seën. God neem
afskeid. Maar die afskeid is geen werklike afskeid nie. In die seën
sê God nie vir ons: "tot siens, tot volgende week" nie.
Hy sê eerder: "Kom, Ek gaan saam met julle; Ek gaan saam
met julle in jul daaglikse lewe met sy werk en stryd." Die
seën is eintlik ’n stuk toerusting vir ons taak in die wêreld.
Daarmee bewaar God ons op pad na die nuwe en ewige paradys.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)