Sing uitbundig en van harte.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-06-13
Text: 
Efésiërs 5
Preek Inhoud: 

Efésiërs 5:19

Ds C Kleyn - Sondag 13 Junie 2004

Lees: Efésiërs 5:1-21; Kollosense 3:16.
Sing: Ps 76:1,4,6; Ps 101:1-6; Ps 96:1,2; Ps 96:5-8;
Ps 150.

Tema: Sing uitbundig en van harte.

  1. tot opbou van die gemeente; en
  2. tot eer van die Here.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Watter rol speel die lied in die erediens vir julle? Waaraan
dink jy wanneer jy saam met die gemeente sing? Wat gebeur daar
wanneer die gemeente sing? By die lied dink ons as vanself eers
aan God. Ons lied is vir Hom bestem, net soos ons gebed vir Hom
bestem is. Baie Psalms is mos ook gebede tot God. Ons sing tot
eer van die Here. Tenminste ons weet dat dit tot sy eer moet wees.
In ons lied lê ons die offer van ons lippe voor God neer. Ons
loof en prys Hom vir sy werke van skepping en verlossing. God is
dus die adres van ons lied.

Tog is dit opvallend dat die teks van vandag ons eers op iets
anders wys, wanneer dit oor die lied praat. Luister maar: Spreek
onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en
sing en psalmsing in julle harte tot eer van die Here. Opvallend
vind u nie? Uiteindelik is die lof vir die Here bestem (die
tweede gedeelte van die teks), maar in die eerste plek word dit
’n spreek onder mekaar genoem. In die vergelykbare teks uit
Kol word gepraat van "leer en vermaan mekaar met psalms en
lofsange en geestelike liedere.

Die lied blyk dus nie slegs op God gerig te wees, soos ons
dikwels dink nie. In die lied prys ons God, maar ons spreek
daarin ook mekaar aan. Daar is in die lied ’n beweging in
twee rigtinge. Jy rig jou tot God en jy rig jou tot mekaar. In
jou lied is jy besig as profeet en priester. As ’n profeet
spreek jy God se woord vir mekaar. As ’n priester lê jy die
offer van jou lippe voor die Here neer.

So wil ek vir julle die woord van die teks verkondig onder die
tema: sing uitbundig en van harte

  1. tot opbou van die gemeente; en
  2. tot eer van die Here.

Kom ons kyk eers ’n bietjie na die konteks. Ons teks volg
onmiddellik op die bevel om met die Gees vervul te word. "Moenie
dronk word van wyn nie – daarin is bandeloosheid; maar word
met die Gees vervul." Die laaste woorde is van groot belang
vir ons teks. Ons teks is daarvan ’n nadere uitwerking. Om
met die Gees vervul te word – die kenmerk van die NT-iese
kerk - het kennelik alles met die lied te make. In die lied wys
jy dat jy met die Gees vervul is. Maar ook deur die lied gaan die
Gees jou meer en meer beheers.

Paulus maak in die vers wat ons teks voorafgaan ’n skerp
teenstelling. Teenoor die dronk van wyn wees noem Paulus die
opdrag: "word met die Gees vervul." Opmerklik is dat
Paulus die lied nie verbind met wyn nie, maar met die Gees. Dit
is te meer opvallend wanneer ’n mens bedink hoe nou drank en
lied dikwels aan mekaar verbind is. Sterk drank word ook wel
spirits of spiritualieë genoem. Daarin herken ’n mens die
Latynse woord spiritus, wat gees beteken. Wel, deur die
spiritualieë kry mens dikwels die gees so te sê. Daardeur word
’n mens tot die sing van liedere aangesit. Deur oormatig
gebruik van alkohol kom jy in die stemming om ’n lied aan te
hef. Dit was vroeër so. Dit is vandag nog so. Hoe uitgelate kan
dronk mense soms nie wees nie. ’n Mens sou sê: die lied pas
makliker by drank en vrolikheid as wanneer jy met die Gees vervul
is.

In die wêreld is spiritualieë en sang ’n gebruiklike
kombinasie, maar nie in Christus se gemeente nie. Daar geld die
kombinasie van Spiritus, die Heilige Gees en die lied. Paulus se
woorde: "word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie,"
is ook hier van toepassing. Dit pas my as gelowige nie om wyn en
losbandigheid (Ef 5:18) met die lied te kombineer nie, maar
eerder om die Gees en ’n wandel as wyse (Ef 5:15) met die
lied te kombineer. Op daardie manier word nie net die mens nie,
maar ook die gawe van sang en musiek weer in diens van die
Skepper gestel. Soos dit in die begin was.

Dit spreek vanself dat die Gees ander liedere voortbring as
die sterk drank. Om met die Gees vervul te wees is immers
heeltemal anders as om in ’n roes te leef. In die laaste
geval hoor ons drinkliedere. In die eerste geval hoor ons psalms,
lofsange en geestelike liedere.

Gemeente, dis leersaam om hier te vergelyk met die parallelle
teks uit Kol 3. Daar word as uitgangspunt genoem: "Laat die
woord van Christus ryklik in julle woon." Die lied is daar
’n uitwerking van die ryke inwoning van die woord van
Christus. Dit gaan daar oor die woord wat van Christus uitgaan en
wat Christus tot inhoud het. Wanneer die woord van Christus
ryklik, oorvloedig, in jou woon, dan leer en vermaan jy mekaar
met Psalms, lofsange en geestelike liedere.

Die lied het dus met sowel die Gees as met die Woord te make.
Ook in ons kerklied werk die Gees nie sonder die Woord nie. Dit
is belangrik om dit te onthou. Dit gebeur helaas dat die
verbinding soms geïgnoreer word. Dan word veral gedink aan die
Gees. Die Gees sou dan deur die lied ’n persoonlike
geestelike ervaring in my moet bewerk. Liedere word gekies wat
die ervaring vir my dan moet gee. Liedere wat dikwels
oppervlakkig en eensydig is. Dit blyk dan dat veral die melodie
hierdie ervaring aan die gang moet sit. Deur baie herhaling van
sekere woorde of sinne en deur ’n melodie wat aangrypend en
aansteeklik is, voel jy jouself in vervoering raak. Die groot
vraag is egter: bewys dit dat jy met die Gees vervul is of is dit
net menslike emosionaliteit. As ek met die Gees vervul is, dan
sal juis die woord van Christus ryklik in my woon. Ook in die
lied werk die Gees nie sonder die Woord nie.

In die kerklied draai alles om die woord van Christus. Die
kerklied is nie daar in die eerste plek om van my persoonlike
geloofsbelewinge te vertel nie. ’n Mens sou die lied met
’n venster kan vergelyk. Waartoe ’n venster? ’n
Venster dien om lig na binne te laat stroom en om na buite te kan
kyk. Ek kan net deur die venster na buite kyk wanneer daar lig
van buite na binne kom. As dit buite donker is en binne lig, dan
word die venster ’n spieël. Dan sien ek net myself in die
kamer.

So is dit ook met die kerklied. Die lied dien veral om die
Lig, Christus, na binne te laat stroom. As dit nie gebeur nie, en
dit buite donker is, dan sien ons in ’n lied net onsself
weerspieël. En dis ydele mense wat dikwels voor die spieël
staan.

Voorop staan daarom dat ons deur middel van ons lied die woord
van Christus verder dra. Wanneer ons as gemeente sing, is ons as
profete besig om die woord van Christus uit te dra. Dis
verkondiging van die woord. Soms word opgemerk dat die lied in
die erediens nie ten koste van die woordverkondiging mag wees nie.
So ’n opmerking is verstaanbaar. Die prediking van die woord
is immers die hart van die erediens. Dit mag nooit in gedrang kom
nie. Ons moet egter onthou dat die kerklied as dit goed is ook
woordverkondiging is. Nie deur die voorganger nie, maar deur elke
lidmaat. Daarin kom elkeen van julle aan die woord. Dis nie net
die dominee wat die woord van God in die erediens spreek nie. Jy
spreek hier ook die woord van God o.a. in die kerklied.

Jy kom ook nie net kerk toe om na die dominee te luister nie.
Jy kom ook om na mekaar te luister. In die skriftuurlike lied het
ons ’n boodskap vir mekaar. Terwyl ons sing, leer, vermaan
en bemoedig ons mekaar. Dit is hoe die Gees en woord van Christus
steeds meer ruimte in ons hart en lewe kry. Die lied dien om
mekaar op te bou in die geloof. Die opbou kan uiteraard alleen
plaasvind wanneer ons mekaar die woord van Christus voorhou.

’n Goeie kerklied spreek die woord van Christus en is
verkondiging aan jouself, aan jou broer en suster en aan die hele
wêreld. Dis trouens ’n element wat ons ook reeds in die Ou
Testament teëkom. Daar word ook gepraat van liedere wat
verkondiging is en wat dien om mekaar te leer en te vermaan. Ons
dink bv aan die lied van Moses uit Deut 32. Moses moet sy
ampsbediening afsluit met ’n lied. Hy moet die lied opskryf,
dit aan die kinders van Israel leer en dit in hulle mond lê (Deut
31:19). Elkeen moet dit weer aan sy kinders oordra. Die lied word
ook wel die volkslied van Israel genoem. Die Here het voorsien
dat daar in die land Kanaän afval sal kom. Die lied praat van
afval, toorn van God en ontferming. Die inhoud van die lied moet
die Israeliete tot inkeer bring. Dit moet ’n getuie teen die
kinders van Israel wees. "Wanneer baie plae en rampe hom dan
tref, sal hierdie lied teen hom getuig, want dit sal nie deur sy
nageslag vergeet word nie" (Deut 31:21). Naas die preek is
die lied kennelik ook deel van die leer-proses. In die lied rig
jy jou nie net tot God nie, soos dikwels gedink word. God word in
die lied wel geprys, maar tegelyk word ons, word die geslagte
daarin aangespreek.

Die lied is ’n saak van die gemeenskap van die heiliges,
nie net met betrekking tot die hede nie, maar ook mbt die verlede
en die toekoms. In die lied word ons deur die voorgeslag
aangespreek. In die lied spreek ons ook die nageslag toe. Deur
die lied word die generasies aan mekaar verbind. Onderskat nooit
die saambindende krag wat van die kerklied uitgaan nie.

Dit is daarom, broeders en susters, geen onverskillige saak
wat ons met ’n Psalm beryming doen nie. Hoe gaan ons die
nageslag toespreek? Die band tussen die verlede, hede, en toekoms
lê in die eenheid van Gees en woord. Die band mag nie deurgesny
word nie. Daarmee bedoel ek nie dat alles baie letterlik en altyd
in dieselfde woorde en wysie deurgegee moet word nie. Uiteindelik
is die wysies wat ons nou gebruik van na die Reformasie. Maar dit
gaan daaroor dat die woord van Christus, wat ryklik in die
gelowige voorouers geleef het, deurgegee word. In verband met die
Psalms beteken dit dat die woord van die Gees, wat die
Psalmdigters gespreek het, so suiwer en duidelik moontlik in die
mond van ons in ons kinders gelê word. Hier lê dan ook ons
beswaar teen die sogenaamde Cloete beryming oftewel omdigting van
die Psalms. Die woord van Christus in die Psalms word in daardie
Cloete beryming nie suiwer weergegee nie. Sekere dinge is bewus
weggelaat en nuwe dinge is aan die teks van die Psalter toegevoeg.
Die feit dat die Psalms van die Christus getuig word geïgnoreer.
Ons wil tog nie ’n verminkte Psalter sing en aan ons
nageslag oordra nie.

Besef tog, gemeente, hoe geweldige dit is, dat ons nog steeds
die Psalms van Dawid sing, wat reeds deur die teruggekeerde
ballinge gesing is (Esra 3:10,11). Ons doen dit natuurlik wel as
NT iese gemeente. Baie woorde het in Christus hul vervulling
gevind. Ons mag vandag ’n dieper insig hê. Daarom mag ons
die Psalms met ’n verhoogde toon sing. Die Psalms bly egter
ons liedere omdat ons weet dat ons in die een genadeverbond
opgeneem is. Dit is verbondsliedere. Daarom bly hulle geldig. Die
gelowiges van vroeër, van vandag en van die toekoms moet almal
op dieselfde renbaan loop. Terwyl ons op die renbaan loop, sing
diegene wat ons voorgegaan het, ons toe. En op ons beurt sing ons
hulle toe wat ons volg. So is die kerklied ’n pragtige
middel om die band met die kerk van alle tye te onderhou.

Gemeente. in ons teks praat Paulus van Psalms, lofsange en
geestelike liedere. Praat Paulus hier van drie soorte liedere?
Baie verklaarders het geprobeer om die drie benaminge skerp van
mekaar te onderskei. Sommiges het bv gesê: Die psalms dui op die
OT iese Psalms; die lofsange wys op die kantika, die lofsange uit
die Bybel (bv van Moses, Debora, Maria, Sagaria, Simeon ens);
terwyl die geestelike liedere sou wys op die vrye geestelike, NT
iese lied. Hierdie onderskeiding is egter moeilik om te handhaaf.
In 1 Kor 14:26 gebruik Paulus juis die naam Psalm vir ’n NT
iese lied. Die Psalm word daar beskryf as ’n gawe wat die
Gees aan sommige lidmate geskenk het. In daardie lig is dit ook
nie waarskynlik dat die drie name wat Paulus in die teks aan die
liedere gee, uitsluitend op die OT iese Psalms sou wys.

In die konteks lê dit die mees voor die hand om die name
Psalms, lofsange en geestelike liedere nie as drie soorte liedere
te sien nie. In hierdie Skrifgedeelte lê die nadruk op die
woorde: "word met die Gees vervul." Terwyl in die
parallelle gedeelte uit Kol die nadruk val op die woorde: "laat
die woord van Christus ryklik in julle woon." In albei die
tekste gaan dit ook die rykdom en volheid van die Nuwe bedeling.
Die woorde Psalms, lofsange en geestelike liedere het daar alles
mee te make. Hulle wys op die vervuld word met die Gees, op die
oorvloed, op die ryklike inwoning van die woord van Christus.

Vergelyk dit maar met die uitroep: Die fees was fantasties,
buitengewoon, ongelooflik. Dis ’n baie uitbundiger uitroep
as: die fees was aangenaam. Die laaste uitspraak kan twyfel laat
ontstaan of die spreker werklik wel so entoesiasties oor die
partytjie is. By die eerste uitspraak kan daaroor geen enkele
twyfel bestaan nie.

So druk Paulus homself uit op ’n uitbundige wyse. Hy sê
nie net: word met die Gees vervul en spreek onder mekaar met
liedere nie. Nee, om met die Gees vervul te word roep om
oorvloedigheid en uitbundigheid. Daarom sê hy: spreek onder
mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere en sing en
psalmsing in julle hart tot lof van die Here. Mense wat in
Christus so ’n groot verlossing ken, kan nie anders as bly
en entoesiasties wees nie. Jy sal dit dan ook in jou lied wys.
Deur geskikte liedere te sing. Liedere wat die woord van Christus
ophef en uitdra. Liedere wat uit die Woord van God kom. OT iese
Psalms wat van Christus getuig en ander Skriftuurlike liedere wat
die woord van Christus suiwer weergee en deurgee. Ons het die
volheid van die woord van Christus ontvang. Uit die volheid mag
ons nou sing. Die volle woord van Christus wil mos ryklike in ons
woon en tot uiting kom.

Die Gees van Christus wil ons tonge losmaak sodat ons onder of
tot mekaar spreek met psalms, lofsange en geestelike liedere. Ook
sodat ons sing en psalmsing tot eer van die Here. Die Gees rig
ons mos nie net op mekaar nie, maar veral ook op die Here. Ons
spreek mekaar aan en neem mekaar mee na die Here toe. Die Gees
het ons nie net gesalf tot profete, om die woord van die Here aan
mekaar deur te gee nie. Hy het ons ook gesalf tot priesters.
Priesters wat die offer van ons lippe voor die Here neerlê.
Daarom: Sing uitbundig en van harte nie net tot opbou van die
gemeente nie, maar ook tot eer van die Here. Dis die tweede
gedagte waar ons kortliks op wil let.

Gemeente, die dubbele aanduiding, "sing en psalmsing"
wys opnuut op die uitbundigheid van ons dank en lof. ’n
Uitbundigheid wat pas by hierdie ryke NT iese bedeling. Mense wat
vol van die Gees en Woord van Christus is, kan nie anders as
uitbundig wees nie. In die Here is jy vrolik en bly. Jy is mos
gered en vry. Die volgende vers vul dit aan met die woorde:
"terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam
van onse Here Jesus Christus." Terwyl julle God die Vader altyd
vir alles dank.

Broeders en susters, waarom praat Paulus van sing en psalmsing
in julle hart? Beteken dit dat ons geen uiting daaraan
hoef te gee nie? Moet ons dan maar stilletjies in ons hart sing
en psalmsing tot eer van die Here? In die konteks kan dit nie die
bedoeling wees nie. Die twee werkwoorde, sing en psalmsing, gryp
immers terug na die drie naamwoorde wat Paulus in die eerste
helfte van die teks genoem het. En daar gaan dit duidelik oor
hoorbare liedere waarmee ons mekaar aanspreek. Paulus wil in die
laaste gedeelte van die teks benadruk dat ons lied uit die hart
moet kom. Sing uitbundig en van harte. Laat jou lied jou
innerlike gevoelens weerspieël. Sing nie net met jou lippe nie.
Terwyl jou hart nie betrokke is nie. Sing nie net uit gewoonte,
gedagteloos nie. Laat jou lied nie ’n gedagtelose herhaling
van bekende klanke wees nie. Dis nie aangenaam vir die Here nie.
Om tot eer van die Here te wees, moet my lied uit my hart
voortkom. Ek moet, so te sê, met my hart sing, nie net met my
lippe nie.

Sing jy, broer, suster, seun, dogter met jou hart tot eer van
die Here? Waarvan is jou hart vol? Is dit vol van die Gees en
woord van Christus? Vandag word daar sterk kompetisie gelewer
teen die Christelike lied en musiek. Deur die moderne
kommunikasie middels probeer Satan om die harte van ons en ons
kinders te wen. Deur populêre musiek probeer hy om die woord van
Christus uit ons harte te verdring. Daarom vra ek opnuut: waar is
jou hart vol van? Is jou hart werklik vol van die woord en Gees
van Christus? Is jou kerklied dan ook werklik ’n uitdrukking
van in jou hart leef? Watter soort liedere leef in jou hart?
Onchristelike liedere wat die satan en die wêreld vir jou geleer
het? Of Christelike liedere wat die Gees van Christus jou
aangeleer het? Calvyn het reeds gesug dat die liedere wat die
mense die meeste sing amper altyd oor niksbeduidende onderwerpe
gaan en verre van kuis is. Die hart van die mense is dikwels
blykbaar met iets anders gevul as met die Gees van Christus.

Gemeente, onthou tog die rykdom van hierdie NT iese bedeling.
As gelowige is jy deur die Gees gedoop. Daarom ook die oproep:
"word met die Gees vervul." Laat die Gees van Christus
jou hart en lewe steeds meer beheers. Laat jou steeds meer deur
die Gees aandryf en besiel. Met ander woorde: "laat die
woord van Christus ryklik in jou woon." Wys dit dan ook in
jou lied. Laat jou liedere uitdrukking gee aan ’n hart wat
vol van Christus is. Dan sal die sing in die eredienste werklik
’n fees wees. ’n Fees vir elkeen van ons. Ons het mos
’n woord, ja, ’n woord van Christus, vir mekaar. Om
mekaar daarmee te leer, te vermaan en te bemoedig. Ons luister
dan ook na mekaar. Ons bou mekaar op. Dit sal dan veral ook
’n fees vir die Here wees. Hy ontvang dan die dankoffer van
ons hart en lippe. Is dit, broers en susters, hoe die lied in die
eredienste vir jou funksioneer?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)