In alle teëspoed kan ons geduldig wees.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-05-09
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 10
Preek Inhoud: 

Sondag 10

Ds C Kleyn - Sondag 9 Mei 2004

Lees: Romeine 8:18-39; Sondag 10.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 106:1,2;
Ps 106:20; SB 10; Ps 28:6,7,8.

Tema: In alle teëspoed kan ons geduldig wees.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Elke dag is daar die kwaad van teenspoed wat mense tref. Dit
tref slegte en goeie mense. Ongelowiges en gelowiges. Dit
veroorsaak spanning en stryd, aanvegtinge vir hulle wat God se
voorsienigheid tot sy lof wil bely. Hierdie harde werklikheid was
reeds ’n bitter saak vir die Psalmdigters, vir Job en die
Prediker. Ons lees daarvan in Ps 73 bv. Asaf het daarmee
geworstel toe hy die voorspoed van die goddeloses sien. Die
goddeloses doen rustig hul eie dinge, onbesorg vermeerder hulle
die rykdom. Terwyl Asaf elke dag geterg word. Is dit dan
tevergeefs dat hy sy hart rein gehou het en sy hande in onskuld
gewas het?

Asaf bly daarin vassteek. Totdat hy in die heiligdom van God
ingaan. Ja, in God se tempel gaan sy oë oop. Daar word hy immers
bepaal by God se grootheid en genade. En dan kyk jy anders na die
dinge wat gebeur. Nie jy, ’n gelowige, is ongelukkig nie
– hoe kon jy dit gedink het – maar die goddeloses is
doodongelukkig. Hulle is op ’n doodloop pad. So het God Asaf
geleer hoe hy hom teenoor die lyding van die teenwoordige tyd
moet opstel. ’n Pragtige les ook vir ons vandag. Wanneer ek
besef dat God ons Vader alles regeer, dan kom daar by my ’n
ander houding. Die insig laat my in alle teëspoed geduldig wees,
in voorspoed dankbaar en vol vertroue met die oog op die toekoms.
Vanaand wil ek veral stilstaan by die woorde: dat ons in alle teëspoed
geduldig kan wees.

Om in alle teëspoed geduldig te wees, wat is dit? Geduld is
iets anders as om in jou lot te berus omdat jy tog niks daaraan
kan doen nie en omdat dit geen mens is wat jou dit aandoen nie.
In so ’n geval skik jy jouself, maar met ’n onwillige
hart. Jy kla nie meer daaroor nie, omdat dit tog nie help nie.
Dit is dan maar die beste om jou so goed moontlik te skik. Dit
lyk baie na geduld, maar dit is dit nie. Op daardie manier moet
mos elke mens die onafwendbare aanvaar, ook die ongelowiges.
Hierdie aanvaarding is geen vrug van God se Gees nie. Jy buk net
vir ’n oormag.

Geduld het ook niks te make met lydelikheid nie. Dat jy
passief alles oor jou heen laat gaan. Jy is nie geskep as ’n
mens sonder ’n wil of ’n gevoel nie. Christus het ons
geleer om ons te verset teen die ellende en die lyding. Siekte is
in feite abnormaal. Christus het tydens sy bediening op aarde nie
verniet siekte en dood bestry nie. Dit was tekens van sy ryk. So
was dit in die paradys. En so sal dit in die nuwe paradys wees.

Ons bly veg teen die lyding. Daarom bid ons met die sieke
saam, sodat die geveg teen siekte en dood, wat die dokters en die
pasiënt voer, geseën mag wees. Daarom maak ons dankbaar gebruik
van geneesmiddels en soms van verdowingsmiddels. Siekte en pyn is
iets wat bestry moet word.

Maar daarmee het ons nie alles gesê nie. By alle verset teen
die siekte behoort daar ook geduld te wees. ’n Aanvaarding
van die lyding uit God se vaderhand. ’n Dra van die lyding,
nie omdat jy nou eenmaal nie anders kan nie, maar omdat God dit
nie anders wil nie. Geduld is ’n positiewe houding. Jy
aanvaar God se leiding in jou lewe en jy probeer in die situasie
so goed moontlik te funksioneer tot eer van Hom. Jy weet dat God
met jou besig is ten goede. Ook al deursien jy God se werk nie.
Ook al sien jy op daardie oomblik nie waartoe dit kan dien. Jy
laat dit in hande van die Vader wat daar blykbaar wel sin in sien.

Dikwels is in hierdie verband op die beeld van ’n tapyt
gewys. Aan die bokant sien jy pragtige patrone op die tapyt. Dis
’n pragtige kunswerk. As jy die tapyt egter omdraai dan sien
jy ’n wirwar van drade. Daar is wel ’n samehang maar
dit sien jy nie omdat jy teen die agterkant van die tapyt aankyk.
Vanuit my ervaring sien ek dikwels nie die sin van baie lyding
nie. Vanuit my geloof bly ek egter volhou dat God sy hand daarin
het. Job het nie geweet wat in die hemel tussen God en Satan
afgespreek is nie. Na die rampe, wat hom van al sy kinders beroof
het, sê hy tog: Die Here het gegee, die Here het geneem, die
naam van die Here sy geloof.

Hier sien jy dat Job in die nood God die eer gee. Hy aanvaar
God se wil, hoe pynlik dit ook vir hom is. Hy laat die nood hom
nie van God wegtrek nie. Hy gaan God nie vervloek nie, soos sy
vrou later vir hom sal aanraai. Ook in die situasie bly Hy God
die eer gee. Wat ’n deurleefde lof wat die Here hier ontvang!

Gemeente, om geduldig te wees staan so teenoor opstandigheid.
Jy verhef jou nie teenoor God nie met woorde soos: dit aanvaar ek
nie. Jy kla God nie aan nie. Hoe dikwels hoor ons nie die protes
teen God. Mense daag God uit voor hul regterstoel. Hoe kan Hy,
wat liefde genoem word, dit alles toelaat. Mense eis dat God
rekenskap van homself moet gee. Wat dink die mens wel van homself!.

Broeders en susters, juis deur die lyding laat God ons voel
wie en wat ons is. Hy hou ons klein. Hy verneder ons onder sy
magtige hand. Hy verneder ook sy eie kinders in hul liggaam. Hy
laat siekte die liggaam aantas. Hy verneder ons in ons loopbaan.
Dink aan teenslag, werkloosheid of ’n dreigende
werkloosheid, arbeidsongeskiktheid. Hy verneder ons in ons
lewenspad, in die gebreke van die ouderdom, in die dood. Hy
verneder ons in die samelewing met ander, ek moet soms onreg ly,
ek deel in die lyding of in die rampe wat almal tref. In dit
alles sien jy die onhoudbare situasie waarin die mens homself
teenoor sy Skepper gebring het.

Via die apostel Petrus roep die Here ons dan ook op in 1 Pt 5:6:
"Verneder julle dan onder die kragtige hand van God sodat Hy
julle kan verhoog op die regte tyd." Verneder jou onder die
hand van God wat sy woord waarmaak: "Jy sal sekerlik sterwe."
Wat sy woord waarmaak: "vervloek is die aarde om jou ontwil."
Ken jou plek teenoor God, ken jou skuld. Besef tog: ek het onreg
verdien. Ek het lyding verdien. Selfs as alle lyding oor my kom,
is dit in prinsipe 100% verdien. Het ek nie in Adam reeds
gesondig nie? En al is ek dan bekeerd, is daar in my nie nog
steeds die oorgeblewe swakheid nie? Die aansporing van die duiwel
om van God af te val, vind nog steeds weerklank in ons hart en
lewe. Met die DL hfst V art 1 bely ons dat God die gelowiges wel
van die heerskappy en slawerny van die sonde verlos. Tog verlos
Hy hulle in hierdie lewe nie heeltemal van hulle sondige natuur
en bestaan nie. Die sonde beïnvloed ons nog steeds. Laat ons ook
by moeilike vrae oor die menslike lyding erns maak met hierdie
belydenis. Dan is ek nie allereers verbaas oor God se
korrigerende bestrawwings nie. Dan sal ek my eerder oefen in die
smartelike bewussyn dat daar nog soveel sondes en gebreke in my
hart en lewe oorgebly het. Dan oefen ek my in ’n godvresende
lewe.

Gemeente, die lyding in die wêreld en in eie lewe staan dan
in diens van die bekering. Daar is in ons bestaan nog baie wat
moet sterwe omdat dit geen lewe voor God is nie. Die ou mens moet
afsterf. Tegelyk moet daar baie tot lewe gebring word wat tot nou
toe net dorre plekke is, wat nie of nouliks deur die evangelie
van Christus aangeraak is. Dit noem ons die opstanding van die
nuwe mens. Die moeilike ervarings laat ons dan verstaan wat die
hartlike berou is waaroor Sondag 33 praat. Die afsterwing van die
ou mens word daar mos genoem ’n hartlike berou daaroor dat
ons 0God deur ons sondes vertoorn het en daarom ook hoe langer
hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug.

Tegelyk kan deur die moeilike ervarings tot ons deurdring wat
die hartlike vreugde in God deur Christus is. Die opstanding van
die nuwe mens word daar immers genoem ’n hartlike vreugde in
God deur Christus en ’n lus en liefde om volgens die wil van
God in alle goeie werke te lewe. God neem die lyding van die
teenwoordige tyd in diens van die daaglikse bekering. Hy leer my
om my eie wee af te sweer en om tot Christus alleen te vlug.

Dis geen maklike pad nie. My geloof word voortdurend aangeveg.
By teenspoed kom daar die vrae. As al die ander mense die lyding
eweseer as ek verdien het, waarom moet ek dan soveel meer as
hulle ly? Waarom tref die kwaad dikwels dieselfde persone of
gesinne? Die waaroms kom as vanself op. Soos ons dit in die
Psalms raakloop. Ps 10:1: "O Here, waarom staan U so ver weg
en hou U verborge in tye van benoudheid?" Ps 42:10: "Waarom
vergeet U my? Waarom gaan ek in die rou deur die vyande se
verdrukking?" God se kinders mag worstel met die vraag na
die waarom.

Dit kom egter daarop aan hoe ek die vraag na die waarom stel?
Is dit vanuit ’n opstandige hart wat God beskuldig? Of
vanuit die kinderlike geloof wat worstel met Vader se leiding? Ek
is as gelowige geen robot wat outomaties met God se leiding klaar
kom nie. God het my met ’n wil en gevoel geskep. Ek moet dan
ook met my hele persoon, inklusief my gevoel, die moeites verwerk.
Dit kos tyd en stryd. Daar bly hier benede nog baie raaisels. God
is groot. Ons begryp Hom nie. Sy beskikkings is ondeurgrondelik,
sy wee onnaspeurlik.

Maar ek weet: Hy beskik. Hy, die Vader van ons Here Jesus
Christus regeer. Ons Vader, wat in Jesus Christus sy liefde gewys
het. Dit bring my vraende en worstelende hart tot rus. Ek weet
dat ek in Vaderhande is. Vaderhande wat die beste vir my soek.
Het Hy self nie in Rom 8:28 vir ons laat opskryf: "En ons
weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk?"
Nee, midde in die nood sien ek nie onmiddellik dat God alles ten
goede laat meewerk nie. Wat sou Josef gedink het toe hy as slaaf
in Egipte tereggekom het? Wat sal Josef gedink het toe hy in die
tronk gegooi is omdat hy nie in sonde wou leef met Potifar se
vrou nie? Sou Josef in die jare van gevangenskap gesien het dat
God dit ten goede laat meewerk het? Later, na sy bekendmaking aan
sy broers, kan hy praat van God se wys beleid, dat God alles ten
goede laat keer het, dat God hom selfs na Egipte gestuur het om
sy volk in die lewe te hou.

Midde in die nood sien ek nie direk die bedoelings van die
Here nie. Dat Hy alles ten goede laat meewerk. Dit is ’n
kwessie van geloof. Ek weet dit, ook al sien ek dit nog nie.
Hierdie wete hou my staande.

Soms kan dit wees dat ek dit self nie eers besef nie, so
aangetas as ek deur die lyding kan wees. Maar die werklikheid bly
dieselfde. God soek die verheerliking van sy naam. Is dit nie uit
my eie mond nie, dan uit die mond van die omstanders. My lyding
is ’n sinjaal, ’n teken, nie net vir my nie, maar ook
vir ander, miskien juis vir ander. Wie weet wat God daarmee wil
uitwerk. Daar gaan ’n roep van uit. ’n Roep tot geloof
en bekering. Hoor daarin God se basuine klink. God is besig om
voorbereidings te tref vir die koms van sy ryk. Dit is vir elkeen
van ons die allerbelangrikste. Die bede om herstel van gesondheid
is daaraan ondergeskik. Of ek van my siekte herstel, is nie die
belangrikste nie. Belangrik is uiteindelik dat my lewe, indien
dit kan, gesond en, as dit moet, op die siekbed, diensbaar mag
wees aan die koms van God se ryk.

Gemeente, as ek die Here so in en met my lewe laat werk, dan
kan ek geduldig wees. Ek kan dan baie pyn en moeite deurstaan. Ek
weet dat dit nie verniet is nie. Dit het ’n positiewe doel.
Dit is hier nog nodig met die oog op die heerlike toekoms. Dit is
tydelik. Dit gaan verby. En daarop volg ’n ewige heerlikheid.
So het ons die apostel Petrus reeds hoor sê: "verneder
julle dan onder die magtige hand van God, sodat Hy julle kan
verhoog op die regte tyd." So kan die apostel Paulus ook
skryf: "Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige
tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal
word nie." Hierdie geloofskennis het alles te make met die
manier waarop ek my onder moeilike omstandighede sal gedra. Neem
bv ’n pasiënt wat na ’n operasie nog baie pyn ervaar.
Jy kan as pasiënt radeloos daaronder word, wanhopig. Het die
operasie dan wel gehelp of was dit ’n mislukking? Dan kom
die spesialis by jou bed. Hy lê uit dat die pyn heel normaal is.
Dit hoort by die genesingsproses. Julle begryp wel dat die pyn
daarmee nie minder geword het nie. Maar jy voel jou as pasiënt
baie anders daaronder. Jy is gerusgestel. Daarmee word die
situasie draagliker.

Wel, as jou groot Heelmeester Jesus Christus vir jou sê: jou
lyding is ten goede, Vader laat dit ten goede meewerk, sou jy dan
nie die lyding anders ervaar nie? Ook al sien jy nie onmiddellik
hoe dit ten goede kan wees nie. Die groot geneesheer het jou
gerusgestel. Hy weet waaroor Hy praat. Laat ek dit dan geduldig
dra. Daar kom bevryding, totale bevryding na liggaam en siel. En
hierdie lyding is daar met die oog op die bevryding. Alles moet
afsterwe om te kan lewe. Wat na afbraak lyk en ook afbraak is,
moet die herbou dien. Wat ons weg versper, moet ’n deurgang
word. Dis ’n moet volgens God se heerlike verlossingsplan.
So word ’n blinde muur ’n magtige deurgang: ons dood
mag ’n afsterwing van die sonde wees en ’n deurgang tot
die ewige lewe.

God het ons pragtige dinge belowe. Vergewing, verlossing. Hoe
dikwels is in die OT nie reeds daaroor gesing nie. Dink aan Ps
130 "Wag op die Here, o Israel! Want by die Here is die
goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing; en Hy self
sal Israel verlos van al sy ongeregtighede." Hy sal sy volk
verlos, ook van siekte, gebrokenheid, nood en dood. Dis nou nog
’n kwessie van hoop, wag. Maar die geloof laat ons volhou.
Ek bly hoop op die Here, op sy woord. Hy sal sy beloftes waarmaak.
Ook deur nood en dood heen. Ek ken Hom mos as God die Vader, die
almagtige? Ek ken Hom mos as my Vader in Jesus Christus? Ek weet
tog van Christus se kruis? Die kruis wat praat van God se toorn
oor die sonde, maar ook van sy liefde vir my, ’n sondaar? In
die lig van daardie kruis word alles anders. Ek het dan geen
behoefte om luidrugtig te protesteer nie. Ek lê eerder die hand
aan die mond. Ek kan God niks verwyt nie. En ek het weer vertroue.

Wat het God in sy liefde ver gegaan om my te red. Christus het
die vloek vir my gedra. Daar is in die lewe nog baie moeilike
ervarings. Maar in dit alles mag ek weet dat ek aan Christus
verbind is, Christus wat gesterf en opgestaan het. Wat my in die
dood saamgeneem het sodat ek met Hom kan lewe. So kan Paulus ook
die verhewe lied van Rom 8 sing: "Maar in al hierdie dinge
is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want
ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of
magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of
enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat
daar in Christus Jesus, onse Here, is nie."

Allerlei magte kan my wel bedreig. Hulle kan my baie kwaad
aandoen, baie verdriet besorg. Maar wat hulle nie kan nie is om
my te skei van die liefde van God nie. Baie kan my ontneem word,
maar God se liefde nooit nie. Daar kan geen mag ooit tussen kom
nie. Ook nie tydens ’n depressie nie, wanneer alle vastheid
vir my gevoel wegval. Sou God wat sy eie Seun vir ons gegee het,
my in sulke omstandighede laat val? Nee, God se liefde bly. Daar
kan geen mag tussen kom nie. Want wat is die magte? Selfstandige
magte? Nee, hulle is almal in God se hand. God gebruik hulle.
"Aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle hulle
sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie." As God dit nie
wil nie, kan hulle hulle nie roer of beweeg nie. Hulle staan
magteloos.

Laat julle, broeders en susters, julle dan troos met hierdie
pragtige belydenis van God se voorsienigheid. Vertou jouself toe
aan God se Vaderhand. Verneder jou onder die magtige hand van God
sodat Hy jou kan verhoog op die regte tyd. Wees geduldig en wys
vertroue. "Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie,
maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom
ons ook alles genadiglik skenk nie?" Hy het dit tog belowe?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)