Laat ons feesvier met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-05-09
Text: 
I Korinthiërs 5
Preek Inhoud: 

1 Korinthiërs 5:6-8

Ds C Kleyn - Sondag 9 Mei 2004

Lees: 1 Korinthiërs 5:1-8; Romeine 6:1-7 (by
1ste tafel); Romeine 6:8-14 (by 2de tafel);
Romeine 6:15-23 (by 3de tafel).
Sing: Ps 81:1,2; Ps 24:2,3; Ps 101:1-6; Ps 71:12,14;
Ps 92:5; Ps 92:6; Ps 92:7; Ps 150:1,2.

Tema: Laat ons feesvier met die ongesuurde brode van
reinheid en waarheid.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die geskiedenis van Goeie Vrydag en Pase wys ons die noue
samehang tussen die Joodse Pasga en die HN. Die HN het vir ons,
die N.T.iese gemeente, die plek van die Pasga ingeneem.

Wanneer ons let op die samehang tussen Pasga en HN dan val die
verskille onmiddellik op. Hulle het die Pasga net eenmaal per
jaar gevier as fees van die bevryding uit Egipte. Tydens die
viering het die Paaslam sentraal gestaan. Die vleis van die
geslagte lam was die hoofgereg. Daarby het die brood en wyn
’n ondergeskikte plek ingeneem. En tav die brood is bepaal
dat dit ongesuurd moes wees. Die Pasga is dan ook gevolg deur die
7 daagse fees van ongesuurde brode.

Let ons nou op die HN dan val dit op dat ons die Nagmaal
verskillende kere per jaar vier. Aan die Nagmaalstafel is daar
geen vleis nie, net brood en wyn. En die brood is nie ongesuurd
nie. By die bak van die brood is gis gebruik

Waarom die verskille? Waarom geen vleis meer nie, maar net
brood en wyn? En waarom geen ongesuurde brode nie?

Met die woorde van ons teks kan ons sê: "want ook ons
paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus." Goeie Vrydag
vorm die keerpunt, die oorgang van die Pasga na die HN. Die
skaduwees het in Christus, die waarheid, hul vervulling gevind.

Paulus laat dit uitkom in die Skrifgedeelte wat ons gelees het.
Paulus gebruik die beeld van suurdeeg wat by die Pasga en die
fees van ongesuurde brode behoort het. Hy pas dit toe op die
gemeente van Korinte.

Paulus tree op teen die slap houding van die gemeente. Die
gemeente is nogal ingenome met homself. Hulle dink dat hulle op
’n hoë geestelike vlak staan. Wie sou nie trots wees op so
’n gemeente in ’n heidense omgewing nie? God is egter
nie trots op hulle nie. Hy sê: "Julle roem is nie mooi nie."
As jy trots op die gemeente of op jouself is, moet jy jouself
maar in die spieël van God se wet bekyk. Leef jy, leef die
gemeentelede werklik ’n heilige lewe, ’n lewe wat vir
die Here aangenaam is? Ons kan vandag dan almal wel Nagmaal vier,
maar hoe is ons daaglikse lewe met die Here? Die gemeente van
Korinte het alle rede om beskaamd te wees. Daar is baie sondes.
In die hele brief spreek Paulus die wantoestande in die gemeente
aan. En in ons hoofstuk is daar sprake van ’n misdryf wat
selfs onder die heidene ongehoord is. ’n Lid van die
gemeente het ’n seksuele verhouding met sy stiefmoeder. En
die gemeente doen niks daaraan nie. Hulle neem net kennis daarvan.
En dit terwyl die heidense stad Rome sware strawwe geken het vir
so ’n bloedskande.

Ondanks dit vind die lidmate dat hulle nogal goed getref het
met hul gemeente. Ons hoor Paulus sê: "En tog is julle
opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat
hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit."
Gee julle nie om vir so ’n lidmaat wat in sonde leef nie?
Besef julle nie dat die verbond en die gemeente van God daardeur
ontheilig word nie?

"Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele
deeg suur maak nie?" Paulus gebruik ’n bekende beeld.
’n Stukkie ou deeg wat mens suur laat word het, gebruik jy
as gis vir ’n nuwe klomp deeg. Jy hoef maar ’n klein
hoeveelheid suurdeeg te gebruik om die hele klomp deeg te
deursuur. Dit dring deur alles heen.

So gaan dit ook in die gemeente. Sonde wat geduld word, dring
deur die hele gemeente heen. Elke sonde, selfs die geringste
sonde wat deur die enkeling of deur die gemeente geduld word,
laat langsaam maar seker die vlak van die Christelike bewussyn
daal. Dink bv maar aan die manier van partytjie bou. Indien daar
gereeld harde, onchristelike musiek gehoor word en baie sterke
drank gedrink word, besef ’n mens na ’n rukkie nie eers
meer hoe onchristelik dit is nie. ’n Mens raak daaraan
gewoond. Daarom is sonde wat geduld word nie onskuldig nie, maar
doodsgevaarlik. Die hele gemeente word daardeur besmet, ontheilig.

Daarom ook: "Suiwer die ou suurdeeg uit." Beskou
geen enkele sonde as aanvaarbaar nie. Weerstaan die verderf en
verwyder dit. Reken radikaal met die sonde af. Spreek dit
onmiddellik aan. Breek heeltemal met die ou leefwyse, die
heidense lewe. Verwyder die ou suurdeeg.

Hierdie woorde herinner aan die bevel van Eksodus 12 om tydens
die Pasga alle suurdeeg uit die huise te verwyder. 7 dae lank mog
daar niks gesuurds in huis wees of geëet word nie. Die suurdeeg
praat van verderf, van besmetlike onreinheid. Na die verlossing
uit Egipte en na die herinnering daaraan by elke Pasga mog daar
geen teken van verderf wees nie. Israel was vrygemaak van die
sonde en smet van Egipte. Israel het tegelyk nuut geword, ’n
heilige nasie, afgesonder vir die Here, aan Hom gewy. Paulus pas
dit op die NT iese gemeente toe. Die gemeente mag geen tekens van
bederf wys nie. Ons moet van die sonde gereinig wees. Die ou
suurdeeg hoort by ’n verloste volk nie tuis nie. Die
gemeente moet ’n vers deeg wees.

Paulus vervolg: "soos julle inderdaad ongesuurd is."
Hoe kan Paulus dit sê? Hy het net gesê: suiwer die ou suurdeeg
uit. In jul midde is daar dus nog ou suurdeeg. En nou sê hy:
julle is ongesuurd. Julle is regtens reeds van die sonde gereinig.
Hierdie skynbare paradoks tref ons meermale in die Bybel. Julle
word as heiliges aangespreek, maar julle word tegelyk vermaan om
heilig te wees: "wees heilig, want Ek is heilig." As
gelowige het ek regtens met Christus gesterf, maar ek word nou
ook vermaan om my lede dood te maak. So ook hier: jy is
ongesuurd, daarom, wys dit dan ook in jou lewe. Jy is ’n
nuwe mens, ’n nuwe skepping, verwyder daarom die ou suurdeeg
van sonde van jou weg.

Maar hoe kan van ons gesê word dat ons ongesuurd is? Paulus
wys die grond daarvan aan. In Christus is julle ongesuurd. "Want
ook ons Paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus."
Christus het as paaslam die verderf, die sonde, weggedra. Hy het
ons daarvan verlos, as die Lam van God wat die sonde van die wêreld
wegneem.

Broeders en susters, sodra die Paaslam geslag was, mog daar
tydens die feesdae geen gesuurde brood meer onder die Jode gevind
word nie. So begin ook met die dood van Christus die groot
Paasfees vir die gemeente van Christus. Daarin is geen plek vir
die suurdeeg van die sonde nie. Ons lam is reeds geslag. Christus
se dood en bloedstorting op Golgota bevry ons van die ryk van die
duisternis en plaas ons in die ryk van die lig. Christus het die
vergewing van ons sondes en die Gees, wat ons lewe vernuwe,
verwerf. In Hom, die waarheid van die OT iese simbole, besit ons
die volle verlossing, bevryding uit die slawehuis van die sonde.
Waar die OT iese Pasga op gewys het, dit het in Christus
werklikheid geword. Die vleis van die geslagte paaslam is ’n
Christus vervul. Ons Paaslam is eens en vir altyd geslag. Daar is
geen bloedvergieting meer nodig nie. Die skaduwees het
werklikheid geword. Daarom is daar op die Nagmaalstafel geen
vleis meer nodig nie. Nee, ons mag nou op ’n onbloedige
manier terugsien op Christus se offer aan die kruis. En
ongesuurde brode is ook nie meer nodig nie. Die geestelike
werklikheid daarvan is sedert Golgota in ons besit. Ons is
ongesuurd.

Daaruit trek Paulus die konklusie: "Laat ons dan
feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug
en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en
waarheid." Besondere nadruk verdien die woord "feesvier".
Vir te veel Christene is die heiligmaking deur Christus se Gees
eerder ’n las as ’n fees. Dit kan wees dat ons nooit
werklik geprobeer het om die ou suurdeeg te verwyder nie. Miskien
is ons teveel besig om ons geloof te kombineer met ’n wêreldse
lewe. Dan is dit geen wonder dat dit vir ons geen fees is nie.

Hierby moet ons nie dink aan ’n fees van enkele dae soos
die OT iese Paasfees nie. Ons moet elke dag feesvier. Die paaslam
is eens en vir altyd geslag. So is en bly dit vir ons Paasfees,
of fees van ongesuurde brode. Ons hele lewe het geword een
onafgebroke dankfees. Ons is deur Christus bevry van die verderf.
En ons is begiftig met die nuwe lewe. Daarom behoort die ou
suurdeeg, dit wat onrein en onsuiwer is, hier nie tuis nie. Die
harte moet suiwer wees, opreg en onverdeeld.

Broeder, suster, seun, dogter, as jy so leef, gefokus op die
geslagte paaslam, dan kan jy werklik feesvier, elke dag weer. Die
ewige Sabbat begin vir jou reeds in hierdie lewe. En tydens
hierdie ewige fees mag jy aansit aan die tafel van die Here. Jy
mag hierdie fees in die gemeenskap van die heiliges, aan ’n
gemeenskaplike tafel vier. Jy mag saam met ander verkondig: ons
paaslam Christus is geslag.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)