Die Here roep die wyse manne uit die Ooste om die gebore Koning te aanbid.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-12-28
Text: 
Matthéüs 2
Preek Inhoud: 

Matthéüs 2:2, 9-12

Ds C Kleyn - Sondag 28 Desember 2003

Lees: Matthéüs 2:1-12.
Sing: Ps 72:10,11; Ps 2:6; Ps 87:1,2; Ps 87:3-5;
Ps 67.

Tema: Die Here roep die wyse manne uit die Ooste om
die gebore Koning te aanbid.

  1. Hierdie wyse manne konfronteer die kerkmense met die
    werklikheid van die geboorte van hul Koning; en
  2. Hierdie wyse manne stel die voorbeeld vir die kerkmense
    deur hul aanbidding van hul Koning.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

As ’n kroonprins gebore word staan die verslaggewers
gewoonlik in gereedheid. Vol verwagting wag hulle daardie groot
oomblik af. Sodra die prins gebore is, word daardie groot nuus
versprei. Daardie pasgebore kroonprins ontvang ’n grootse
verwelkoming.

Geliefdes, as die kroonprins van die huis van Dawid gebore
word, is daar egter niks van bogenoemde nie. Niemand staan gereed
om hierdie Koning so ’n groot verwelkoming te gee nie.
Niemand staan gereed om die groot nuus van sy geboorte te
verkondig nie. Dit terwyl juis hierdie geboorte werklik wêreld
nuus is. Want Hy is nie slegs die erfgenaam van Dawid se troon
nie, Hy is erfgenaam van die wêreld. As seun van die hemelse
Vader sal Hy die hele wêreld erf – sal Hy die eindes van
die aarde tot sy eiendom maak.

In lig van die oorsprong van hierdie prins – die Seun van
God en die seun van Dawid – sou mens verwag dat die nuus van
sy geboorte so vinnig as moontlik orals verkondig sou word. Maar
niemand is gereed om dit te doen nie. En dit terwyl mense reeds
vir eeue uitsien na sy koms. Sy koms was reeds in die Paradys na
die sondeval aangekondig. Die saad van die vrou sou die kop van
die slang vermorsel. Hierdie boodskap het Adam aangespoor om sy
vrou Eva te noem – moeder van alle lewendes – omdat
hierdie kind weer die vooruitsig van lewe gee. Die Ou
Testamentiese volk was ook voorberei op die koms van hierdie seun
in die huis van Dawid. Die Skrif het van Hom gespreek en die
offerdiens in die tempel het vir Hom geroep. Geen geboorte op
aarde was ooit al so baie vooraf verkondig en so deeglik
voorberei as die geboorte van ons Here Jesus Christus nie.

Die mense wat daardie offers moes bring – die priesters
– is egter nie gereed vir sy geboorte nie. Ook nie die teoloë
– die Skrifgeleerdes – nie.

As Josef, die erfgenaam van die huis van Dawid, in Betlehem
opdaag met sy swanger vrou, is daar niemand wat daaroor dink om
vir hulle plek te maak nie. Josef en Maria moet tevrede wees met
’n stal. En die pasgebore prins – die erfgenaam van die
wêreld – moet met ’n krip genoeë neem.

Maar, geliefdes, selfs al is die volk nie gereed nie, God
verseker dat die groot nuus versprei word. Hy stuur sy hemelse
boodskappers uit – sy engele. En waar stuur Hy hulle? Nie na
Jerusalem, die sentrum van die afvallige kerklike lewe, nie. Nie
na die kerkleiers, die hoëpriesters en skrifgeleerdes, nie. Die
Here stuur sy engele na daardie eenvoudige en veragte herders.
Hier herken julle weereens die styl van God se verkiesing. God
verhef die nederiges maar verneder die hoogmoediges.

Die herders is die eerstes wat die goeie nuus van ons Heiland
se geboorte mag hoor. Hulle word omring deur die heerlikheid van
die Here. En nadat hulle die geboorte aankondiging gehoor het,
hoor hulle ’n groot menigte van engele wat "Ere aan God"
sing. Die herders word na Betlehem gedryf om getuies te wees van
die pasgebore kindjie, die beloofde Messias. En as getuies word
hulle ook opgeroep om boodskappers te word. Hulle het dit gesien
en gehoor. Hulle deel daardie boodskap met almal in hul omgewing.
God gebruik eenvoudige herders as sy boodskappers.

Maar God doen nog meer om die nuus van die geboorte van
hierdie erfgenaam van die wêreld te versprei. Hy stuur nie slegs
sy engele om mense in aksie te bring – die herders –
nie. Hy maak ook gebruik van sy hemelliggame – ’n ster.
Die hemele verkondig die heerlikheid van God. Net soos kosmiese
kragte loskom as Jesus Christus aan die kruis sterwe –
aardbewings en die opening van die graf – so word die kosmos
betrek by Jesus se geboorte. Engele verskyn aan die hemel as
’n hemelse leërmag om Christus se geboorte aan te verkondig.
God plaas ’n ster aan die hemel.

Hoekom? Om die wyse manne – hulle wat die taal van die
sterre verstaan – in aksie te bring om die gebore Koning te
aanbid. Dit is God wat in sy almag hulle wat ver is na Homself
roep.

Ek verkondig vir julle: die Here roep die wyse manne uit die
Ooste om die gebore Koning te aanbid.

  1. Hierdie wyse manne konfronteer die kerkmense met die
    werklikheid van die geboorte van hul Koning;
  2. Hierdie wyse manne stel die voorbeeld vir die kerkmense
    deur hul aanbidding van hul Koning.

Daar word baie gespekuleer oor die wyse manne uit die Ooste.
Die Bybel is egter baie sober in sy beriggewing. God het dit nie
nodig geag dat ons alle inligting oor hulle moet hê nie.

Waarvandaan het die wyse manne gekom? Die Bybel vertel slegs
dat hulle uit die Ooste gekom het. Geen land word genoem nie.
Hulle het uit die Ooste gekom – dit is voldoende. As mens in
oostelike rigting vanuit Palestina kyk, dan kan die Ooste verwys
na Mesopotamië (die gebied tussen die Tigris en Eufraat riviere)
– die ou Babilonië, Assirië en Persië. Hul betrokkenheid
by die ster wat hulle sien opkom, sou in daardie rigting wys,
aangesien hierdie lande bekend gestaan het vir hul sterrekunde.

Hoeveel wyse manne het uit die Ooste gekom? Volgens tradisie
was dit drie. Drie name word selfs genoem: Melgior, Baltsasar en
Casper. Dit is hoekom baie kinders vertel word dat daar drie wyse
manne was. Die Bybel vertel ons egter nie hoeveel daar was nie.
Die Bybel noem ook nie name nie.

Wat van die ster aan die hemel? Is dit nie vreemd dat die wyse
manne deur die ster gelei word nie? Hoe kan ’n ster iemand
na ’n spesifieke plek lei – na Betlehem – die
geboorteplek van die Kindjie? Hoe kan ’n ster bo ’n
seker huis bly staan – die huis waar die Kindjie is (vers 9)?

Onthou geliefdes, God is almagtig. Hy het beheer oor die hemel
en die aarde. Daardie ster moes definitief ’n baie spesiale
ster gewees het. Sou God, wat alle sterre langs hul vasgestelde
bane lei, nie een uitsonderlike ster kon laat verskyn en daardie
ster langs ’n spesiale pad laat gaan nie?

Die wyse manne het die boodskap van die ster verstaan. Hulle
het die ster verbind aan die geboorte van die Koning van die Jode.
God maak gebruik van daardie ster om die geboorte van sy Seun
bekend te maak.

Maar hoe kan vreemdelinge uit die Ooste daardie ster aan die
geboorte van die Joodse Koning koppel? Hoe kan daardie wyse manne
uit die Ooste selfs oor ’n Koning van die Jode weet?

Ons moet onthou, geliefdes, dat die Israeliete in ballingskap
gegaan het in die Ooste. Na die ballingskap het baie Jode
agtergebly in daardie Oosterse lande. Slegs ’n klein groep
van hulle het teruggekeer na die beloofde land. Die Jode in
verstrooiing sou die ander volke – heidene – wel bekend
gemaak het met God se openbaring – die Ou Testamentiese
Bybel. Dit is daarom waarskynlik dat die wyse manne uit die Ooste
gehoor het oor die beloftes wat God aan Israel gegee het. In die
lig van daardie beloftes kon hulle die spesiale ster ook verstaan.

Dit is selfs moontlik dat hulle na aanleiding van Bileam se
spreuk die ster met die Joodse Koning gekoppel het. U sal die
geskiedenis van Bileam waarskynlik wel onthou. Hy het vanaf die
Oosterse berge gekom nadat hy gevra is deur Koning Balak om
Israel te vervloek. Hy het geprofeteer: "’n Ster kom te
voorskyn uit Jakob, en ’n septer kom uit Israel op" (Núm
24:17).

Die wyse manne het die ster waarskynlik nie "in die Ooste"
gesien soos ons vertaling voorstel, maar meer waarskynlik: "toe
die ster opkom." Aangesien hulle uit die Ooste kom, het
hulle dit natuurlik daar gesien. Dit hoef nie daarby gesê te
word nie. Wat belangrik is, is dat hulle die ster sien opkom het.
Daardie ontdekking het hulle tot aksie aangespoor. Daardie
ontdekking het hulle hul tasse laat pak en na die Weste laat
vertrek om die Koning wat gebore is hulde te bring.

Nadat hulle tot die gevolgtrekking gekom het dat die Koning
van die Jode gebore is, is dit heel verstaanbaar dat hulle
eerstens na Jerusalem vertrek – die hoofstad. Is dat nie die
natuurlike plek om die Koning van die Jode te soek nie? Daar was
mos beide die paleis en die tempel?

As hulle egter in Jerusalem aankom kry hulle ’n groot
teleurstelling. Blykbaar het die inwoners van daardie hoofstad
niks agtergekom oor die geboorte van hul Koning nie. Hierdie
vreemdelinge uit die Ooste moet vir hulle inlig dat hul Koning
gebore is. Hierdie vreemdelinge moet die blye boodskap verkondig
– moet evangeliseer – in die Godstad. Hulle verkondig
die geboorte van die Koning.

Let wel, broeders en susters, hoe hulle in Jerusalem praat.
Hulle kom nie met die vraag: "Is die Koning van die Jode
gebore? nie. "Het ons tot die regte gevolgtrekking gekom?"
Nee, hulle is seker daarvan: die Koning van die Jode is gebore.
Dit is buite twyfel: "Want ons het sy ster sien opkom en het
gekom om Hom hulde te bewys." Daarom vra hulle nie of die
Koning gebore is nie. Hulle is reeds goed bewus van daardie feit.
Al wat hulle wil weet is: waar is Hy gebore.

Hierdie heidene, vreemdelinge, konfronteer daarom die kerkvolk
in Jerusalem met die werklikheid van die geboorte van hul Koning.
Die volk word tot ’n keuse gedryf – hulle moet hul
kleure erken. Heidene konfronteer hulle met ’n keuse.
Heidene – van ver geroep deur die Here – dra die blye
boodskap oor in Jerusalem – die kerksentrum. Dit is ’n
omgekeerde wêreld.

Die Jode in Jerusalem, met al hul oorvloedige Bybelkennis en
offers behoort dit te kon weet. Maar, ten spyte van hul beperkte
kennis is die wyse manne uit die Ooste hulle voor as God se
boodskappers.

En hoe reageer die Jode op hul boodskap? Hulle wys geen
belangstelling nie. Hulle maak geen verdere navrae oor die ster
wat hulle sien opkom het nie. Hulle neem dit nie ernstig op nie.
Hulle is meer bekommerd oor die effek wat so ’n boodskap op
Herodes kan hê. Wat sal hierdie wantrouende en wrede Koning doen
noudat hy gehoor het dat ’n Joodse Koning gebore is? Herodes
is ontsteld, lees ons, en die hele Jerusalem saam met hom. Die
volk van Jerusalem word gedryf deur vrees. Hulle vrees die
wreedheid van Herodes. Hulle vrees vir hul eie posisie en
veiligheid.

Geliefdes, dit moes die wyse manne verbaas het dat Jerusalem
nie bewus was van die geboorte van hul Koning nie. Dit moes hulle
nog meer verbaas het hoe die volk gereageer het. Die volk is nie
opgewonde oor die boodskap nie, maar eerder ontsteld. Die
kerkleiers en kerkvolk oorweeg dit nie eers om verdere navraag
oor die boodskap te doen by die wyse manne nie. Hulle gaan nie na
die Skrif om te ondersoek of dit werklik so kan wees nie. Dit is
Herodes was hulle forseer om die Skrif oop te maak. Vanuit die
Skrif kan hulle dan vir Herodes vertel dat die Christus in
Betlehem gebore sou word. Let wel dat dit Herodes is – en
nie God se volk nie – wat die verbinding tussen die Koning
van die Jode en die Christus, die beloofde Messias, lê. En as
die Joodse leiers Herodes inlig dat Betlehem die plek is waar die
Messias gebore sou word, dan oorweeg hulle dit nie om ook na
Betlehem te gaan om te sien of die Christus werklik gebore is.
Hulle lees die Skrif, maar verstaan dit nie. Tegnies gesproke
dien hulle vir God, maar dit sonder ware geloof, sonder om
hulself aan God oor te gee. Die wyse manne stel Jerusalem se
ongeloof bloot.

Die wyse manne vervolg hul reis na Betlehem op hul eie.
Niemand vergesel hulle om die Koning wat gebore is hulde te bewys
nie. In Jerusalem word die saak vinnig weer vergeet. Maar die
wyse manne laat Jerusalem se onverskilligheid hulle nie beïnvloed
nie. Nou weet hulle ten minste waar hulle die Koning wat gebore
is moet vind. Gehoorsaam volg hulle die Here se woord wat
aangedui het hulle moet na Betlehem. So reis hulle dus verder na
Betlehem.

Watter kontras met die Joodse volk wat groot geword het met
die Woord van God. Daardie kerkvolk ignoreer die profetiese woord.
Hulle weier om te gehoorsaam. Die manne vanuit die Ooste
gehoorsaam egter in alle nederigheid die Woord van God. Hulle
stel die voorbeeld vir die kerkvolk in hul aanbidding van die
Koning. Dis die tweede punt.

En kyk, as hulle verder reis na Betlehem, gaan die ster weer
voor hulle uit. Hulle sien die ster weer, wat hulle die pad wys.
Die Here bemoedig hierdie reisigers, hierdie aanbidders. Deur die
werke van sy hande bevestig God sy profetiese woord. Hulle is op
die regte spoor: Betlehem is die regte plek. Die Here versterk
hul geloof. As hulle die ster sien verheug hulle hul met baie
groot blydskap. Na hul ervarings in Jerusalem het daardie
aanmoediging definitief op die regte tyd gekom. Maar ook met die
oog op dit wat hulle in Betlehem sal ontmoet. Want hoe ontmoet
hulle daardie Koning? Nie in heerlikheid nie, daar is geen
koninklike prag of praal nie. Hulle ontmoet Maria met die kindjie
in baie armsalige omstandighede. Is dit die Koning van die Jode?

Hulle het eers na Jerusalem gegaan omdat hulle verwag het dat
die Koning in die koninklike paleis gebore sou wees. Maar op die
ou end vind hulle hom in die klein dorpie Betlehem. Is dit waar
mens sou verwag om ’n Koning te vind? Ja, is daardie arm
kindjie in Maria se arms die Koning?

Ten spyte van daardie voorkoms is daar geen aanduiding dat die
wyse manne ooit getwyfel het of dit die Koning was nie. Hulle
laat die nederigheid van die kindjie hulle nie afskrik nie. Nee
hulle val neer om Hom hulde te bewys as Koning van die Jode.
Hulle maak hul skatte oop: goud, wierook en mirre. Hulle bied dit
aan die Kindjie. Geskenke wat hul rykdom aandui, maar ook hul
eerbied vir die Koning van die Jode. Hulle aanbid hierdie Kindjie
in sy nederige staat.

Hulle laat hulself deur God se openbaring in woord en teken
lei. Want as hulle hulself deur natuurlike gevoelens sou laat
lei, sou hulle nie daarvan droom om so ’n kindjie te aanbid
nie. Wat kan menslik gesproke van so ’n kindjie verwag word?
Ons verkies ’n sterk man, ’n held wat homself kan
bewys, en wat homself bewys het. Ons is bereid om ons vertroue op
so iemand te stel. Maar sou jy jou vertroue op so ’n
armsalige kindjie stel? Sou u so ’n skynbaar onbeduidende
kindjie hulde bring?

Maar, geliefdes, dit wat dwaasheid is vir die natuurlike mens,
is wysheid vir God. Hier is die Koning van die Jode, die Koning
van die Kerk, ja, die Koning van die wêreld. ’n Koning wat
die troon sal verkry deur die pad van vernedering en lyding te
volg. ’n Troon wat altyd stand sal hou. Want dit sal
gevestig wees op waarheid en geregtigheid: op die betaling van
die sondes van sy volk.

En deur middel van daardie geskenke van die wyse manne, kan
die Kindjie na Egipte vlug onder die sorg van Josef en Maria. God
verlos hulle van armoede om die Koning wat gebore is te verlos.
Vir die selfde rede waarsku God die wyse manne in ’n droom
om nie na Herodes terug te keer nie. Hulle moet ’n ander pad
kies om mee na hul land terug te gaan. Die lewe van hierdie
Kindjie moet vir eers gespaar word.

Geliefdes, u het nou gesien hoe God die wyse manne van ver
geroep het om die Koning wat gebore is hulde te bewys. Daardeur
stel hulle die Jode in skande. Die Koning van die Jode word deur
sy eie volk verwerp. Dit is wat Matthéüs in sy evangelie
benadruk – die volk wat die Woord van God en die beloftes
het, verwerp die beloofde Koning.

Later sal Jesus Christus sê: "baie sal kom van die ooste
en van die weste en saam met Abraham en Isak en Jakob aansit in
die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk
sal uitgedryf word in die buitenste duisternis" (Mt 8:11-12).
Vreemdelinge van die Ooste en die Weste sal aan die kerkvolk
voorgaan. Die kerkvolk wat weier om God werklik te dien, sal deur
God geweier word. En buitestanders wat hulself laat roep sal
aanvaar word.

Dit is ’n ernstige les vir die kerkvolk van alle tye.
Laat ons nooit die diens van God as vanselfsprekend ervaar nie.
Laat dit nooit leeg tradisies word, sonder geloof en oorgawe aan
God nie. Die feit dat jy die woord van God in jou besit het,
beteken nie dat alles reg is nie. Jy moet jouself ook daaraan
onderwerp, dit gehoorsaam, dit jou laat drywe. God soek vir ware
aanbidders wat Hom in Gees en in waarheid aanbid. Anders is dit
waardeloos – ’n vloek pleks van ’n seën. Dink net
aan die geskiedenis van die Joodse volk. Toe hulle geweier het om
God te gehoorsaam het God aanbidders van die Ooste en die Weste
geroep.

Dink net aan die wyse manne vanuit die Ooste – wat God in
aksie roep reeds kort na Christus se geboorte. Hier sien ons
reeds die eerste tekens van Pinkster. God beplan om sy vlerke oor
al die nasies van die wêreld uit te sprei. Alle geslagte van die
aarde sal in Abraham geseën wees. Hulle sal almal deel in sy seën.

Die skeiding tussen God se volk en die volke van die wêreld
het sy oorsprong in die Ooste. Abram is uit Ur van die Chaldeërs
geroep. Hy moes in westelike rigting na Kanaän, die beloofde
land, reis. Deur middel van hom wou God by die Christus uit kom.
Dit is nie sonder rede dat Jesus Christus as die seun van Abraham
uitgewys word in Matthéüs se geslagsregister. En nou, as
hierdie groot seun van Abraham gebore is, sien ons wyse manne uit
die Ooste wat in aksie kom om daardie geboorte in Jerusalem te
verkondig en om die Koning wat gebore is hulde te bring. Die
skeiding wat in die Ooste begin het, gaan nou verdwyn. Mense van
die Ooste en die Weste mag nou na vore tree en aansluit by
Abraham, Isak en Jakob. Die wat ver weg is word deur God geroep.
God self roep hulle, roep hulle op na ware aanbidding.

So het God ook jou voorouers geroep – voormalige heidene.
So roep God jou ook vandag om die Koning van die Kerk –
Jesus Christus – te aanbid – Hy wat nou in heerlikheid
aan die regterhand van God sit en sy kerk vergader uit alle volke
en tale.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)