In sy verkiesende liefde sorg God daarvoor dat die gemeenskap met Hom onderhou kan word.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-11-23
Text: 
Sagaría 3
Preek Inhoud: 

Sagaría 3:1-5

Ds. C. Kleijn - Sondag 23 November 2003

Lees: Sagaría 3; Openbaring 12:1-12.
Sing: Ps. 135:1,2; Ps. 135:8,11; SB. 14;
Ps. 134:4; Ps. 133.

Tema: In sy verkiesende liefde sorg God daarvoor dat
die gemeenskap met Hom onderhou kan word.

  1. Die natuurlike onreinheid van die ampsdraer Josua; en
  2. Die reinheid wat aan die ampsdraer Josua geskenk word.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In hierdie erediens hoop ons om ampsdraers te bevestig –
broeders wat voor God staan om in sy teenwoordigheid te dien. Ja,
as jy God dien, dan mag jy als ’t ware in God se
teenwoordigheid kom. Net soos die hoëpriesters in die
allerheiligste mog ingaan. God wil aanwesig wees onder sy volk.
Julle wat in die kerk dien, dien dus voor God. Dink dit net in.
Wat ’n voorreg, maar ook, wat ’n verantwoordelikheid.

Maar feitelik is dit nie so uitsonderlik nie. Hoekom nie? Want
julle mag almal voor God dien. Is julle nie almal Christene nie?
Aangestel om te dien as profete, priesters en konings. ’n
Koninklike priesterdom. Dink net, julle mag almal voor God dien,
als ’t ware in en uit sy huis loop.

Maar hoekom het ons hierdie voorreg? Watter soort mense is ons
eintlik? Watter soort mense is eintlik daardie ampsdraers? Is
kerkmense dan beter as ander mense? Is ampsdraers – wat
geroep is tot ’n spesiale amp – dan sulke uitsonderlike
mense? Is die kerk dan so veel beter as alle ander organisasies
dat God daar aanwesig wil wees en dat ons voor Hom mag dien?

Geliefdes, Sagaria se 4de gesig leer ons dat die heerlikheid
van Jerusalem – of, in Nuwe Testamentiese terme, die
heerlikheid van die kerk – nie gevestig is in die groter
waardigheid van hierdie stad of samekoms nie. Ons heerlikheid
– God in ons midde – is nie as gevolg van die
waardigheid van die kerkmense nie. Dit is ook nie as gevolg van
die waardigheid van die ampsdraers nie. Inteendeel. Ons mag dit
definitief nie as vanselfsprekend aanvaar dat die stad Jerusalem
of die kerk die sorg en gemeenskap van God mag geniet nie. Dit
gebeur nie outomaties nie. Baie is daarvoor nodig. God se
verkiesende liefde is daarvoor nodig. God se vergewende liefde.

Vanoggend verkondig ek vir u die boodskap van Sagaria se 4de
gesig onder die volgende tema:

In sy verkiesende liefde sorg God daarvoor dat die gemeenskap
met Hom onderhou kan word.

  1. Die natuurlike onreinheid van die ampsdraer Josua; en
  2. Die reinheid wat aan die ampsdraer Josua geskenk word.

In die 4de gesig betree Sagaria als ’t ware ’n
hofsaal. Daar is ’n hemelse verhoor aan die gang, in die
aanwesigheid van die engele. Sagaria sien Josua, die seun van Jósadak,
die hoëpriester, terwyl hy voor die Engel van die Here staan.
Satan staan aan sy regterhand om hom aan te kla. Die Regter is
daarom die Engel van die Here, die aangeklaagde Josua en die
aanklaer Satan.

Die aangeklaagde staan daar nie as ’n privaat persoon nie.
Sy amptelike titel word duidelik genoem: hy is Josua, die hoëpriester.
Hy staan voor die Regter as ’n publieke figuur, in sy amp as
hoëpriester. Hy staan daar as ampsdraer wat God se volk
verteenwoordig.

In die Ou Testament leer ons oor die belangrike posisie wat
die hoëpriester onder die volk van God beklee het. Hy was
aangestel om toesig te hou oor die tempel personeel, die
priesters en Leviete. Hy het die mees belangrike posisie beklee
in die diens van versoening. Die offerdiens, wat die verhouding
tussen God en sy volk moes herstel.

Dit het duidelik na vore gekom op die groot Versoendag. Slegs
die hoëpriester was toegestaan om die allerheiligste te betree.
Hy moes al daardie spesiale rituele van versoening vervul. Deur
sy aksies moes hy die pad baan, als ’t ware, vir die
gemeenskap met die Heilige God. In die verbondsgemeenskap met die
Here was hy daarom ’n sentrale figuur. Die Ou Testamentiese
middelaar.

As gevolg van sy hoë posisie moes die hoëpriester ook
voldoen aan strenger reëls met betrekking tot rituele reinheid.
Dit was mos hy wat voor die heilige God moes verskyn om die
sondes van die volk te versoen. As enigiemand heilig moes wees,
dan definitief hierdie man. Op sy hoof het hy ’n kroon gedra
met die woorde "heilig aan die Here" daarop geskryf.

Dit is dus hierdie man, hierdie hoëpriester Josua, wat hier
voor die Engel van die Here staan. Daar staan die man wat die
volk voor God verteenwoordig, wat moet sorg vir die diens van
versoening. Daar het jy die man wat kan beskou word as die
sogenaamde aller heiligste onder die Israeliete, die sleutelman.

Satan staan aan sy regter hand om hom aan te kla. Blykbaar is
Satan nog toegelaat om in die hemel te kom. Dit sal na Christus
se dood en hemelvaart verander, maar in die Ou Testament mag hy
nog vrylik ingaan. Op aarde doen hy sy uiterste om die volk van
God en hul ampsdraers op ’n dwaalspoor te bring. Daarna gaan
hy na die hemel om hulle aan te kla. Dit is ook hoekom hy in
Openbaring 12 "die aanklaer van ons broeders" genoem
word.

In die konteks van die gehele gesig is dit moontlik om die
aanklag te rekonstrueer. Ons lees dat Josua in vuil klere voor
die Engel van die Here staan. Vuil klere simboliseer hier: sonde,
skuld, onreinheid. Hier het ons dus die allerheiligste van Israel.
Nie in sy mooi, indrukwekkende hoëpriesterlike klere nie, maar
aangetrek soos ’n boemelaar in vuil klere. Wat ’n
voorkoms!

Geliefdes, Satan huiwer nie om daardie skuld en sondes van die
hoëpriester en in hom, God se volk, uit te wys nie. Mag hierdie
man voor die heilige God verskyn? Sy voorkoms bots met God se
heiligheid. Dit is belaglik. Moet hy as hoëpriester ampsdraer
optree? Mag hy "heilige aan die Here" genoem word? Sal
hy voor God mag nader in die allerheiligste as die tempel herbou
is? Dit is duidelik dat Satan daarop wys dat Josua totaal
ongeskik is om God se spesiale dienskneg te wees.

Maar let wel, broers en susters, dat dit nie slegs Josua se
posisie is wat op die spel staan nie. Die hele diens van
versoening staan op die spel. Satan wil voorkom dat enigiemand na
die genadetroon sal gaan. Hy wil ’n einde maak aan die diens
van versoening. Satan is die vyand van die erediens. Jerusalem
mag nie toegelaat word om ’n plek te wees waar die Here sy
volk ontmoet, soos in die ou dae, nie. Satan wil niks weet van
hierdie hernieude gemeenskap met God, via die diens van die hoëpriester
en priesters. Hy wil nie hê dat die volk herinner word aan die
Lam van God, wat sal kom om die sondes van die wêreld weg te
neem. Hy wil nie hê dat die mense moet uitsien na daardie redder
van die wêreld nie.

Geliefdes, hier is Satan, die teenstander, besig om te probeer
keer dat die ou tempel diens herstel word. Die diens waarin die
Seun – voor sy menswording – teenwoordig was en
waardeur die Seun sy koms na die wêreld aangekondig het. Hier
het ons die groot draak van Openbaring 12 wat voor die vrou staan
wat op die punt is om ’n kind te baar. Want as Josua
veroordeel word volgens die aanklag wat teen hom gemaak is, dan
word hy veroordeel as hoëpriester. Menslik gesproke sou daar dan
ook geen toekoms vir God se volk wees nie. Die terugkeer uit
ballingskap sou dan verniet gewees het. Dit sou dan die einde
beteken vir God se sondige volk en sy sondige priesters.

Satan se aanklag is nie ongegrond nie. Hy kan met die feite
aantoon dat die lewe van die hoëpriester en die lewe van God se
volk verdorwe is. Josua staan daar met vuil klere, belaai met sy
eie sondes en met die van die volk. Niemand kan dit ontken nie.

Broers en susters, sou die situasie enigsins anders wees
vandag? Is Satan ook vandag nie dikwels reg as hy die kerk
swartsmeer nie? Ja, ons weet dat hy vandag nie meer in die hemel
mag ingaan om die kerk en sy leiers by God aan te kla nie. Hy het
geen reg om daar meer te kom nie. Na Christus se dood en
hemelvaart het dit verander. Christus het sy versoenende offer
volbring. En God het daardie betaling aanvaar. Satan se wettige
gronde om God se volk aan te kla is verwyder. Christus het aan
God se geregtigheid voldoen. Dit is hoekom ons in Openbaring 12
lees dat die groot draak, naamlik die Duiwel en die Satan, die
aanklaer van ons broeder, neergewerp is uit die hemel op die
aarde. God het sy ore toegesluit vir al Satan se aanklagte. Hy
luister eerder vir sy Seun, wat die volle prys betaal het en nou
op grond van sy betaling vir die gelowiges intree. Paulus kan dus
ook in Romeine 8 skryf: "Wie sal beskuldiging inbring teen
die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is
dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer
nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is,
wat ook vir ons intree." Satan die beskuldiger kan nie meer
voor God verskyn nie.

Maar op aarde sit Satan sy desperate poging voort om God se
werk te verwoes. Hy is bereid om enigiets te doen om die diens
van versoening te verhinder, om die voortgang van God se Woord te
stuit. Hy sal sy uiterste doen om te voorkom dat julle God se
kinders die brood van lewe ontvang, die Woord van God, die
prediking van versoening op grond van Christus se offer aan die
kruis. Satan doen dit deur om die ampsdraers en lidmate
herhaaldelik te laat val. Satan doen dit ook deur om die aandag
te vestig op die sondes van daardie ampsdraers en lidmate. En sy
beskuldigings hier op aarde, onder die mense, is al te gereeld op
feite gebaseer. Ons staan ook met vuil klere, belaai met
allerhande sondes. Wie is ons, kerklede en ampsdraers voor God?
Daar is mos baie wat mens teen die kerk kan sê? Buitestanders is
gereeld reg as hulle vra: is dit die kerk, die vergadering van
gelowiges, die verloste volk? Is hulle die ampsdraers? Kyk net na
hoe hulle hulself gedra en hoe hulle praat. Is dit die mense wat
alles van Christus se liefde weet en die liefde moet uitstraal?
Is dit die mense wat hulself van onskriftuurlike leer en dade
vrygemaak het?

Ja, ons kan dit nie ontken nie. Ons staan voor God as skuldige
mense, mense wat steeds sondig teen God se gebooie.

Maar broers en suster, hou Satan dop. Deur mense aan te hits
om gedurig die aandag op die sondes van ander te vestig, wil
Satan die voortgang van die diens van versoening probeer
verhinder. Satan wil die aandag aflei. Hy wil dat mense behep
moet wees met die swakhede en sondes van die kerk en sy leiers.
Dan sal hulle nie daarby uitkom om die volle diens van versoening
te ontvang nie. Dan sal die prediking sy krag verloor. Dan sal
God se vrede nie ten volle geniet kan word nie. Wat dink julle,
geliefdes, as jy die ampsdraer of lidmaat wat na jou toekom sien
as net ’n sondaar, sal jy dan sy getuienis aanvaar, die
woorde van lewe wat hy het om vir jou te gee? As jy net fokus op
die sondes en gebreke van die dominee, sal jy van sy prediking
ten volle kan voordeel trek? Dieselfde kan gesê word oor die
ampsdraer wat jou besoek. As jy hulle afskryf, doen jy eintlik
jouself tekort. Dan maak jy hierdie instrumente van God bot en
oneffektief in jou lewe. As jy jou blind staar op die persoon en
sy amp vergeet (naamlik dat God hom as sy instrument wil gebruik)
dan verhinder jy dat jy ontvang wat God deur middel van hom vir
jou wil gee. Laat ons waaksaam wees. Dit is presies wat Satan wil
sien. Hou hom dop: Satan wil die diens van versoening versteur.
Hy wil so veel as moontlik mense daarvan weerhou en hy wil
verhinder dat mense daarby baat het. Hy wil hul vrede en vreugde
verhinder.

Ons het reeds genoem dat Satan se beskuldigings nie ongegrond
is nie. Hy kan wys na die vuil klere. Maar hoe reageer die
Regter, die Engel van die Here op die aanklag? Hy lê die duiwel
die stilswye op: "Mag die Here jou bestraf, o Satan!"
Hy verdedig Josua ook ten sterkste.

Maar het Satan dan nie rede gehad om te praat nie? Was die
aanklagte dan nie op feite gebaseer nie? Ja hulle was dit: die
allerheiligste in Israel staan daar met vuil klere. Hy is nie
waardig om voor God te verskyn nie. Sy onreinheid vloek met God
se heiligheid. Op soortgelyke manier is die huidige ampsdraers
asook die wat nou bevestig gaan word ook definitief nie eerste
klas heiliges nie. Hulle het ook hul sondes en gebreke. Die kerk
mense, die ampsdraers het onrein hande en onrein harte. As dit
van ons sou afhang dan sou ons die kerk verwoes, eerder as om dit
op te bou.

Hoekom wys die Here dan Satan se aanklag af en neem Hy dit op
vir Josua?

Die enigste rede is God se verkiesende liefde. Let op die
woorde van die teks: "Mag die Here jou bestraf, o Satan! Ja,
mag die Here, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf!"

Die Here wys op Homself. Ek het verkies, sê die Here. Ek het
vir myself ’n woonplek verkies onder my verloste volk. Ten
spyte van alles wat teen Jerusalem gesê kan word, het Ek
Jerusalem verkies. En omdat Ek Jerusalem verkies het, het Ek
Josua, die hoëpriester, uit Babylon geroep, ’n sigbare
teken van my verkiesende liefde vir Jerusalem as plek van
versoening.

Is Josua nie ’n brandhout – ’n gedeeltelik
verbrande stuk hout – wat uit die vuur geruk is nie? Josua
het gebrand, hy moes brand soos ’n stuk hout in ’n
vuurherd. Maar God het hom daaruit geruk. Hy het nouliks van
totale verwoesting ontsnap. In sy verkiesende liefde het die Here
hom uit die vuur uit geruk. Die Here sorg vir die voortgang van
die diens van versoening. Die priesterskap mag nie deur die
ballingskap na Babilon verdwyn nie. God sorg vir die voortgang.
Hy gee steeds nuwe ampsdraers om sy volk te lei. Die priesterskap
moet in Jerusalem herstel word. Die sondes moet versoen word. Die
volk moet geleer word om vooruit te sien na die Lam wat
definitief die sondes sal wegneem. Josua en sy medepriesters is
volgens vers 8 wondertekens. Hulle is tekens van iets wonderliks
wat nog moet kom. In hul persoon en werk kondig hulle die koms
van die Spruit, Jesus Christus, aan wat die skuld in een verwyder.

So is Josua in sy amp herstel. Die Engel van die Here gee die
ander engele wat voor Hom staan opdrag om Josua se vuil klere van
hom te verwyder. Die knegte van God, die ampsdraers, is aangestel
in hul amp uit genade. God wil sondige mense gebruik om sy kerk
te vergader, te beskerm en te onderhou. Daarvoor is hulle
afhanklik van die vryspraak op grond van iemand anders se
voldoening. Josua staan voor die Engel van die Here. Soos u dalk
weet is "die Engel van die Here" in die Ou Testament
die naam wat gebruik word vir die Seun van God, voor sy
menswording. Die Seun van God bevry reeds vooruit van die skuld.
Op grond van die offer wat Hy sal bring, mag hy reeds vir Josua,
met sy vuil klere, vryspreek. Later sal Hy self daardie vuil
klere aantrek, alhoewel Hy sonder sonde is en dus ook volkome
rein en heilig. Hy sal tot sonde gemaak word, sodat ons in Hom
voor God regverdig gereken mag word.

Die Seun van God spreek Josua vry: "Kyk, Ek het jou skuld
van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere." ’n
Feestelike kleed moet vir hom gegee word: "Laat hulle ’n
rein tulband op sy hoof sit." En hulle het die rein tulband
op sy hoof gesit en hom die klere aangetrek. Josua is weer
volledig soos ’n hoëpriester aangetrek. Hy ontvang weer die
tulband met die woorde: "Heilig aan die Here" daarop
geskryf. Hy ontvang die hoëpriesterlike klere. As die tempel
voltooi is mag hy onmiddellik die heilige plek ingaan. Hy mag die
allerheiligste betree – God se aardse troon. Hy mag vir die
diens van versoening waarneem.

Geliefdes, terwyl al hierdie dinge aan Josua gedoen word, lees
ons dat die Engel van die Here daarby staan. Dit beteken nie dat
die Engel van die Here slegs ’n toeskouer is nie. Die feit
dat Hy daarby staan beteken dat Hy aktief betrokke is. Alles
geskied op sy bevel. Hy is, as ’t ware die aktiewe party en
Hy bewys sy respek vir die Here se hoëpriester.

Broers en susters, die feit dat die Here uit louter genade vir
Josua, die sondaar, herstel, dui nie aan dat Josua nou maar kan
agteruit sit en dit gemaklik vat nie. Die genade en eer wat
hierdie ampsdraer ontvang moet hom aanspoor tot getroue diens.
Dit is ook duidelik van wat volg in Sagaria 3. In vers 7 lees ons:
"As jy in my weë wandel en as jy my verordeninge onderhou,
dan sal jy my huis bestuur sowel as my voorhowe bewaak." Met
ander woorde, Josua, moenie dink dat jy kan sê en doen net wat
jy wil in jou amp nie. As God jou gekies en aangestel het tot jou
amp moet jy nie dink, "Ek het nou God se verkiesende liefde
agter my, niks kan meer verkeerd gaan nie." Nee, daar is
’n belofte en ’n eis. Ek het jou aangestel, slegs deur
genade, in my verkiesende liefde. Daarom: wandel in my weë. Doen
jou ampswerk getrou en gewillig, van harte. Dan sal jy sien dat
ek jou amp sal bevestig en seën. Dan sal jy self ’n plek
ontvang onder die engele wat rondom my troon staan. Dan sal jy
’n dienskneg onder die diensknegte wees – ’n
medewerker van die engele. Dan pas jy onder die geselskap van die
engele met hul wit gewade.

Op die eiland van Patmos sien Johannes God se hemelse
diensknegte, die 7 engele met die 7 plae geklee in rein
skitterend linne. Hy sien ook ’n groot menigte, wat geen
mens kan tel nie, gekleed in wit gewade.

Die gehele kerk mag beweeg onder die geselskap van die hemelse
diensknegte. Hulle mag hul amptelike gewade dra. Hulle is ’n
koninklike priesterdom. Hulle het hul klere gewas en wit gemaak
in die bloed van die Lam, word ons vertel in Openbaring 7. Met
ander woorde: hulle was oorlaai met sondes. Maar hulle het hul
toevlug in Christus gesoek. Deur Hom besit hulle vergewing van
sondes.

Broers en susters, dat ons as kerk bestaan, dat die diens van
versoening mag voortgaan is nie iets wat ons as vanselfsprekend
mag aanvaar nie. As Satan sy wil sou kon deurvoer sou dit nie
meer bestaan nie. Maar in sy verkiesende liefde sorg die Here
daarvoor.

Ons as kerklidmate, ons as ampsdraers, staan hier voor God met
onrein hande en onrein harte. Maar God wil ons reinig. Hy maak
hulle wat totaal onbekwaam is, bekwaam. Hy stel u almal aan as
profete, priesters en konings in sy diens. Hy stel u aan as
ampsdraers in die spesiale diens. In sy genade wil Hy u met rein
wit linne beklee. Sou ons dan nie nederig, dankbaar en getrou
wees nie?!

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)