Die Here belowe sy hulp.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-11-02
Text: 
I Petrus 5
Preek Inhoud: 

1 Petrus 5:10

Ds. C. Kleyn - Sondag 02 November 2003

Lees: 1 Petrus 4:7- 5:14.
Sing: Ps. 111:1,2; Ps. 111:4,5; Ps. 119:3,4;
Ps. 138:1,4; Ps. 89:6,7; Ps. 73:11,12.

Tema: Die Here belowe sy hulp.

  1. Die Here begelei julle met sy genade;
  2. Die Here bepaal ’n kort tyd van lyding; en
  3. Die Here werk volharding.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Nege jongmense staan gereed om hul geloof te bely. Gereed om
plegtig hul beloftes te doen. Beloftes nie net vir die hede nie,
ook vir die toekoms, selfs die verre toekoms. Vra ons eintlik nie
teveel van hulle nie? Mag ons wel van hulle vra om hul voorneme
uit te spreek om in die leer van die Skrif en van die
belydenisskrifte tot die einde toe standvastig te volhard? Mag
ons hulle vra om te belowe dat hulle hul aan die christelike
vermaning en tug sal onderwerp as hulle in leer of lewe hulle
misgaan? Hulle is nog jonk. Soveel kan in hul lewens nog gebeur
en verander. Kan jy nou beloftes maak mbt die nog onbekende
toekoms? Allerlei vrae en moeites kan jou nog pla terwyl jy jou
pad deur die lewe vind. Dis geen kleinigheid om te belowe dat jy
tot die einde toe in die leer sal volhard nie. Is jy nie
oormoedig om so ’n belofte nou reeds te gee nie? Hoeveel
mense het nie in jeugdige entoesiasme hul geloof bely terwyl
hulle later vervreemd van God en sy diens geraak het nie? Dis
belangrik om te besef dat julle nog aan die begin van die volle
lewe staan en dat allerlei uitdagings en krisisse nog voor julle
lê. Hoe sal julle die hanteer?

Broeders en susters, dis ’n pragtige set van die
formulier om die ja-woord te laat volg deur die seënwoorde van
die Here uit 1 Pt 5: 10,11. Jy kan jou beloftes nie in eie krag
waarmaak nie. Jy hoef dit ook nie te doen nie. Die Here gee jou
sy seën. Hy belowe sy hulp en krag. Hy het sy werk in jou begin.
Hy sal dit voortsit. In die geloof mag jy jou beloftes met
vertroue gee, ook al is jy nog jonk en jou toekomstige
omstandighede onseker. Die Here sal dit doen.

Ek verkondig aan julle die evangelie: Die Here belowe sy hulp

  1. Die Here begelei julle met sy genade
  2. Die Here bepaal ’n kort tyd van lyding
  3. Die Here werk volharding

Die apostel bemoedig die gelowiges met God se seën. Die
bemoediging is toepaslik. Die gelowiges gaan deur ’n
moeilike tyd in hul lewe vir Christus. Hulle word vreemdelinge in
die verstrooiing genoem. Deur Christus as hul Heer te bely het
hulle vreemdelinge in hul eie omgewing geword. Hulle leef nog
daar, maar hulle is nie meer deel daarvan nie. Hulle het
buitestaanders geword. Hoogstens word hulle getolereer. Hul lewe
en posisie is kwesbaar. Blykbaar het hulle reeds baie meegemaak.
Hulle is verdruk en vervolg. Hulle is bespot en verneder. As iets
verkeerd gegaan het, het hulle die skuld daarvan gekry. Petrus
vat alles saam met die naam ‘vreemdelinge’. Hulle is
vreemdelinge in hul eie land. Hulle is daar nie meer werklik tuis
nie. Die Hemel is hul vaderland, hul tuiste. Hier op aarde loop
die duiwel nog rond soos ’n brullende leeu op soek na prooi.
Hy wil hulle graag verslind.

Die gelowiges is bowendien swak en gering. Satan probeer om
hulle op hul swak plekke te vang. Daarom sê Petrus: "Hom
moet julle teëstaan, standvastig in die geloof." Maar is
hulle, is jy in staat om dit te doen: vas in jou geloof te staan
in die lewe van elke dag? Petrus fokus dan ons aandag op die Here.
Die duiwel kan dan rondloop soos ’n brullende leeu en julle
kan dan swak wees, maar julle is nie alleen nie. Jy hoef dit nie
alleen en in eie krag te doen nie. Nee, die God van alle genade
begelei jou.

Die God van alle genade. Dis hoe jy jou God mag ken. Hy is
’n God van genade. En julle weet wat genade beteken? Genade
beteken: uit myself kan ek niks doen nie. Van nature is ek ’n
verlore sondaar, sonder enige uitsig. Maar nou ontvang ek ’n
toekoms, lewe, gratis, verniet. Genade beteken: God het sy enige
geliefde Seun vir my laat sterwe, terwyl ek nog ’n vyand
was, sodat ek ’n mede-erfgenaam met hom sou wees, mede-erfgenaam
van die ewige lewe.

Verwonder jou daaroor, geliefdes. Bly jou oor die genade
verwonder. Dis die geheim van jou lewe, ’n bron van ewige
vreugde. Wat ’n verbasende liefde. Ongelooflik! Wie sou ooit
so iets doen: jou eie geliefde seun aan die kruis laat sterwe ter
wille van vyande, om hulle tot vriende en mede-erfgename te maak.
Ja, dis wat God gedoen het. Vir jou. Die God van genade. Wanneer
jy dit raaksien, kan jy nie daaroor stil bly nie.

God is immers die God van alle genade. Jy ontvang van Hom
genade op genade. Dit hou gewoon nie op nie. Daar is geen
situasie denkbaar waarin jy nie op sy genade jou kan beroep nie.
Geen sonde is te groot of diepte te diep dat jy dit nie kan doen
nie. Jy kan altyd ’n beroep op God se genade doen. Want God
is getrou.

Geliefdes, wat ’n geweldige troos in jou geloofsstryd
hier op aarde. Hoe meer jy die Here wil dien, hoe meer ontdek jy
jou sondes en gebreke. Dit kan jou moed laat verloor. Sal ek in
staat wees om die doel te bereik met my vuil hande, met my
sondige gedagtes en woorde? Sal julle jongmense wat jul geloof
gaan bely die ewige erfenis behaal, met julle onvolkome geloof en
lewe?

Ons ontdek ons eie tekortkomings en die van ander. Jammer
genoeg, dikwels meer die van ander. Kyk maar na hom of haar. Is
hulle lewende lidmate van die kerk? Luister maar na die ydele of
beledigende woorde wat hy of sy soms uit. Ja, geliefdes, ons
ontdek baie tekortkomings. Hoe meer ek in geloof groei, in ’n
lewe uit geloof, hoe meer sien ek die sondes raak as iets wat
afskuwelik is. Hoeveel te meer sal God die sondes en
tekortkomings raaksien. God oor wie ons in Ps 139 sing: "HERE,
U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van
ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my
weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie
– of U, HERE, U ken dit geheel en al."

Wel, as ons reeds baie tekortkomings ontdek, wat sal die
alwetende God dan nie ontdek nie? Dit kan lyk asof die groot doel
van my lewe meer en meer agter die horison verdwyn. Maar broeders
en susters, laat niks jou sig op die erfenis wegneem nie. God wil
jou begelei as die God van alle genade. Hy ken jou inderdaad deur
en deur. Dis nie net sleg nuus nie. Dis vir hom wat glo ook goeie
nuus. Die alwetende God weet daarom ook presies wat ek nodig het:
genade op genade. Ek kan altyd op Hom staatmaak.

Dat jy altyd op sy genade kan terugval, is iets wat jy van God
self kan weet. Wie het jou op die pad geplaas waarop jy nou stap?
Het God self dit nie gedoen nie? Het die God van alle genade jou
nie geroep nie? Sy evangelie het jou lewe binnegekom. God het jou
bly aanspreek, roep. Uit die duisternis van sonde na sy
wonderbare lig. Sy evangelie het jou antwoord van geloof tot
stand gebring. Het jou daartoe gebring om jou geloof te bely.
Wel, sou Hy wat nog besig is om jou deur die evangelie te roep,
die genade dan buite jou bereik hou?

Veral as jy jonk is, het jy nog allerlei ideale. Jy wil alles
doen om die ideale te bereik. Jy is bereid om daarvoor te veg, te
studeer en harde werk daarvoor te doen. Of jy die ideale gaan
bereik, bly onseker. Daar is soveel ideale in die lewe wat nooit
bereik word nie.

Maar nou het ons almal een ideaal voor oë: ewige heerlikheid,
ewige vreugde met die Here. Dis nie ’n doel wat ons onsself
stel nie. Dan sou dit twyfelagtig wees of ons dit ooit sal bereik.
Nee, God het ons na die ideaal geroep. En nou mag die ideaal
seker wees. Die God van alle genade waarborg dit. Geen sonde of
swakheid wat nog teen ons wil in ons oorgebly het, kan verhinder
dat God ons in genade aanneem en dat ons die erfenis ontvang nie.

Hy wat jou roep is getrou. Hy maak seker dat wat Hy in gedagte
het, bereik word. Hy vergesel jou met sy genade. Bly hierdie
belofte vasgryp. "Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou
op Hom, en Hy sal dit uitvoer" (Ps 37:5). Hou nie op om in
gebed en danksegging na Hom te vlug nie. En jy sal genade op
genade ontvang, soveel as jy nodig het om die groot doel van jou
roeping te bereik.

Geliefdes, die Here begelei jou nie net met sy genade nie (die
eerste punt). Hy bepaal ook ’n kort tyd van lyding. Dis die
tweede gedagte.

In ons teks is dit nie presies duidelik watter plek die woorde
"nadat ons ’n kort tyd gely het" inneem? Die
vertaling gee amper die indruk dat God belowe dat Hy ons sal
volmaak, bevestig, versterk en grondves nadat ons ’n kort
tyd gely het. Dit is egter nie waarskynlik dat dit bedoel is nie.
Die werk van die Here om ons te volmaak, bevestig, versterk en
grondves is nie iets wat eers later plaasvind nie. Dis iets wat
God reeds tydens hierdie lewe doen, dus ook tydens die periode
van lyding. Dit sou beter wees om die woorde ‘nadat ons
’n kort tyd gely het’ te verbind aan die woorde wat
daaraan vooraf gaan, naamlik die ewige heerlikheid. Ons is geroep
tot die ewige heerlikheid nadat ons ’n kort tyd gely het,
dws die ewige heerlikheid sal eers ons deel wees nadat ons ’n
kort tyd gely het.

God bepaal ’n periode van lyding voordat Hy die erfenis
uitdeel. Die eerste lesers van hierdie brief – vreemdelinge
in die verstrooiing - weet uit ervaring waaroor Petrus praat.
Hulle ervaar reeds lyding vanweë hul geloof. Hulle het met
vreugde God se woord aanvaar en hul geloof in die Here Christus
bely. Maar kort daarna het die moeilikhede begin. Hulle was nie
langer deel van die groep nie. Valse beskuldigings is teen hulle
geuit. Hulle is verag en verneder.

Die woord lyding neem ’n groot plek in hierdie brief in.
Die apostel roep ons voortdurend op om geduldig te wees en om te
volhard. Lyding moet jou nie moed laat verloor nie. In die lyding
mag jy selfs God se genade sien. Petrus sê vir die christen
slawe wat hard behandel word: "Want dit is genade as iemand,
ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig
te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle
sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle
goed doen en ly – dit is genade by God." (2:19,20).

Nee, die apostel verklein nie die lyding asof dit byna niks
beteken nie. Wat hy doen is om op God se grootheid en goedheid te
wys. Daarom begin hy sy brief met die verhewe woorde van hoofstuk
1 vers 3 en volgende: "Geseënd is die God en Vader van onse
Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die
wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die
opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n
onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry,
wat in die hemele bewaar is vir ons…Daarin verheug julle
jul, al word julle nou – as dit nodig is – ’n kort
tydjie bedroef onder allerhande beproewinge." Lyding louter
my geloof.

Ek hoef as Christen nie verbaas te wees as ek ly nie. "Geliefdes,
verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle
wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom
nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus,
moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy
heerlikheid met blydskap kan jubel" (4:12,13).

Christus het gely. As jy Christus volg dan sal jy sy kruis
moet opneem en ook ly. Met lyding bedoel Petrus nie net allerlei
moeites en teleurstellings in die lewe nie. Hy verwys steeds na
lyding ter wille van Christus, vanweë jou geloof in Hom. As jy
vir Christus opkom sal jy ook ly. Die God van alle genade bepaal
die lyding. Hy is volkome in beheer. Hy bepaal die intensiteit en
die duur daarvan. En Hy is daarin besig, jou ten goede, om jou
geloof te louter, van onsuiwerhede te bevry. Hy is besig om die
antitese wat ons so maklik vergeet te handhaaf. As ek die erfenis
wil ontvang dan moet daar ’n afstand wees tussen my en die
sondige wêreld. Soos Christus deur lyding tot heerlikheid gekom
het, so sal ook die christen deur lyding tot heerlikheid kom.

Die apostel noem die lyding selfs die oordeel wat by die huis
van God begin (4:17). As jy die laaste oordeel wil vryspring, sal
jy nou jouself aan die oordeel van God, aan sy dissipline, moet
onderwerp. "Want die Here tugtig hom wat Hy liefhet".
Petrus sê daarom: "Verneder julle dan onder die kragtige
hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd".

God bepaal ’n periode van lyding. ’n Kort periode.
Dalk ervaar jy dit as iets wat baie lank duur. Wanneer sal dit
verby wees? Maar God leer jou om dit in die groot verband te sien.
Feitelik is dit net ’n kort periode ter voorbereiding op
’n ewige heerlikheid. ’n Beperkte periode op pad na
onbeperkte heerlikheid.

Broeders en susters, ons kan ons voorstel dat Petrus dit vir
die vreemdelinge in die verstrooiing skryf. Hulle verkeer midde
in die lyding. Is dit egter nodig om hierdie woord te herhaal vir
elkeen wat vandag sy geloof bely? Is ons nie nogal pessimisties
as ons vir hierdie jongmense praat van ’n tyd van lyding
nie? Watter lyding? Julle is nog jonk en vol ideale. En julle
leef in ’n vry land. Ervaar julle dan jul lewe as ’n
tyd van lyding?

Laat ons nugter en waaksaam wees. Is daar werklik geen lyding
hier in Suid Afrika nie, lyding ter wille van Christus. As jy jou
aanpas aan die wêreld, as jy die standaarde van die wêreld
oorneem, dan sal daar inderdaad geen lyding wees nie. As jy bly
swyg oor jou Here teenoor hulle wat saam met jou studeer of werk
dan sal jy niks hoef vrees nie. Dis een van die grootste gevare
van ons tyd, dat jy aan sondige praktyke gewoond raak, dat jy jou
aanpas aan die wêreld en sy praktyke om jouself van ’n
gerieflike posisie te verseker. Waaksaamheid is nodig. Ken jou
tyd, én jouself. Wees bewus van jou posisie as vreemdeling, as
’n mens wie se burgerskap in die eerste plek in die hemel is.
’n Mens wat hier nie werklik tuis is nie, maar wie se tuis
in die hemel is. Wees bewus van die gevare, die afleidings, die
verleidings.

Geliefdes, wanneer julle dit alles raaksien en jy openlik vir
Christus durf opstaan, dan sal jy ontdek dat daar ook in SA
vervolging is. Nee, gelukkig nie die verskriklike lyding wat ons
in sommige ander lande, veral Moslem lande, sien nie. Maar daar
is ook hier ’n lyding ter wille van Christus. Jy word nie
heeltemal in die groep aanvaar nie omdat jy weier om met alles
wat hulle doen saam te doen. By die werk kan mense jou as ’n
laspos sien omdat jy die norme van die Here verdedig en jy nie
wil saamwerk met onwettige of onbillike praktyke nie. Ander kan
jou uitlag, bespot en verneder. Jy kan jouself by tye baie
eensaam voel, verag en verwerp. Om konsekwent vir die Here op te
staan kan jou baie kos, dit kos jou die vriendskap van die
sondige wêreld. En jy kan baie misverstand ervaar en hartseer.
Mense kan jou gaan beskuldig vir diskriminasie, liefdeloosheid.
Dit kan nog baie erger word. Ons word nou nog getolereer. Maar
hoe lank sal dit so bly? Ons weet nie. Wat ons wel weet is dat
ons nie oor die lyding verbaas hoef te wees nie en dat die lyding
feitelik maar ’n kort tyd is in vergelyking met die ewige
heerlikheid. Ons neem in navolging van Christus blymoedig ons
kruis op ons op pad na ’n heerlikheid sonder einde.

Nee, dis nie iets wat ons nou in eie krag sal kan doen nie, so
van: "ons sal dit reg kry. Niks kan met ons gebeur nie."
Dis die Here wat volharding werk. Dis die derde gedagte van die
preek.

Die laaste woorde van die teks wys hierop: En mag die God van
alle genade self julle volmaak, bevestig, versterk en grondves.
Mag Hy jou volmaak. Dit beteken: Hy sal jou toerus met al die
gawes en kragte wat jy nodig het. Sodat daar niks tekort is nie.
Hy sal daarvoor sorg dat jy gereed is vir jou dienswerk. En dat
jy uiteindelik die volmaakte doel bereik.

Mag Hy jou bevestig. Hy sal jou standvastig laat wees. Daar
word aan jou getrek, jy word heen en weer geslinger. Jy dink
miskien dat jy nie meer vastheid kan vind nie. Dit word te veel
vir jou. Maar die God van alle genade staan gereed. Hy hou vas
aan sy werk, ook die werk wat Hy in jou begin het. Hy sorg
daarvoor dat jy nie heeltemal struikel nie.

Mag Hy jou ook versterk. Hy sal jou kragte vernuwe wanneer jy
uitgeput voel. Hy sal jou krag tot die stryd teen sonde en satan
verskaf. Sodat jy in staat gestel word om hulle aanvalle af te
slaan.

Ten slotte, mag Hy jou grondves. Hy gee jou vaste grond onder
jou voete, ’n vas fondament. Sodat jy nie wegsink nie.
Wanneer jy die gevoel het dat jy besig is om weg te gly ontdek jy
die vaste rots onder jou. Jy is gewortel en gegrond in die liefde
van Christus. Die storms kan kom. Jou huis is veilig. Gebou op
’n onwankelbare rots.

Broeders en susters, seuns en dogters, hier het julle die seën
wat God self vir julle gee. Hy belowe sy hulp. Julle bely jul
geloof in die midde van hierdie wêreld, in die midde van ’n
periode van lyding. Jy maak die belofte om te volhard in die
belydenis. Is dit onmoontlik? In eie krag en wysheid sou dit
inderdaad onmoontlik wees. Indien jy dit op jouself sou wil reg
kry, dan sal jy inderdaad val. Want daar is nog so veel sonde en
swakheid in jou hart en lewe. En die brullende leeu gaan nog
steeds rond op soek na prooi. In eie krag is dit dus ’n
onmoontlikheid.

Maar jy hoef dit nie alleen te doen nie. Die God van alle
genade wat jou geroep het, Hy wil saam met jou gaan. Hy begelei
jou met sy genade. Moenie bang vir lyding wees nie. Hy is in
beheer. Hy bepaal die intensiteit en die duur van die lyding, dis
net ’n kort rukkie. En Hy werk volharding. Aanvaar hierdie
geweldige belofte van God. Gaan saam met jou God deur die lewe.
Op pad na heerlikheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)