Die skrywe van die rigter Jesus Christus aan die gemeente van Pergamum.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-08-03
Text: 
Openbaring 2
Preek Inhoud: 

Openbaring 2:12-17

Ds. C. Kleyn - Sondag 03 Augustus 2003

Lees: Númeri 25, Númeri 31:16; Openbaring 2:12-17.
Sing: Apostosliese Geloofsbelydeins; Ps 106:12,13;
SB 40; Ps 61:1,2,3,6

Tema: Die skrywe van die rigter Jesus Christus aan die
gemeente van Pergamum.

  1. Hy prys hul troue belydenis van sy naam;
  2. Hy veroordeel hul toleransie van die Nikolaïete; en
  3. Hy beloof ewige sekerhede.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Na die briewe aan die gemeentes van Efese en Smirna rig die
verhoogde Christus hom tot die gemeente van Pergamum. En via haar
rig Hy hom tot u en my. Hy kom met weer ’n nuwe boodskap wat
saamhang met die kenmerke van hierdie gemeente. Die gemeente
verskil van die twee ander gemeentes. Die gemeente te Efese het
baie goeie eienskappe gehad. Maar daar was ook die verlating van
die eerste liefde. Daardeur was daar die gevaar dat die Here die
kandelaar sou verwyder. Die gemeente te Smirna het die beeld
vertoon van volharding in verdrukking: arm en verag, maar ryk in
die Here.

Die gemeente van Pergamum neem ook ’n gevaarlike plek in
die wêreld in. Die teks praat van ’n woon waar die troon
van Satan is. Die gemeente het egter een eienskap waarin sy van
die twee voorgaande gemeentes verskil. Naamlik: die gemeente is
nalatig in die beoefening van die tug. Sy tolereer dwaalleraars
in haar midde.

Die Here stel homself voor as diegene wat die skerp
tweesnydende swaard het. ’n Bekende beeld uit die visioen
van Openbaring 1. Christus word daardeur geteken as die
hoogste regter wat vonnis vel met die woord van sy mond en
tegelyk die vonnis uitvoer. Met die swaard kom Christus om te rig
en om te straf. Die vyande van die Here sal die ontdek. So stel
Christus homself voor aan die gemeente waar die kwaad uitgeroei
moet word.

Laat ons luister na wat Christus deur hierdie brief tot die
gemeentes en so ook tot ons sê.

Ek verkondig vir julle: die skrywe van die rigter Jesus
Christus aan die gemeente van Pergamum.

  1. Hy prys hul troue belydenis van sy naam
  2. Hy veroordeel hul toleransie van die Nikolaïete
  3. Hy beloof ewige sekerhede

Christus getuig van die gemeente: Jy hou vas aan my Naam en
het die geloof in My nie verloën nie. Die gemeente bly dit soek
by Christus alleen, by die enige naam wat vir die mense gegee is
waardeur ons gered moet word. Dit is vir hulle nie ’n
verborge saak nie. Hulle kom daarmee te voorskyn. Hulle bely
Christus se Naam as die enigste in die publieke lewe.

Moenie lig daaroor dink nie. Dit was vir hulle geen maklike of
goedkoop saak nie. Soos dit vir ons in ons land van vryheid en
met sy christelike tradisies soms goedkoop kan wees om Christus
se naam te bely. Met nadruk noem Christus die gevaarlike posisie
waarin die gemeente verkeer het. Die gemeente woon waar die troon
van die Satan is. ’n Mens sou sê: hulle woon in die leeu se
blyplek.

’n Troon is simbool van heerskappy. Satan is daar in
Pergamum oppermagtig. Satan die groot teenstander van God en sy
kerk. Waaruit blyk dan dat Satan juis in Pergamum heers? Kom ons
kyk na die stad. Histories gesien was Pergamum die grootste stad,
die hoofstad van Klein Asië. Die stad was ryk in wetenskap en
kultuur. Die stad het bv een van die mees beroemde biblioteke uit
die antieke wêreld gehad. Daar was ook die setel van die
Romeinse stadhouer oor die provinsie Asië.

Nog belangriker vir ons is dat Pergamum baie afgodery geken
het. Daar was groot en beroemde tempels. Die Asiatiese, die
Griekse en die Romeinse gode is daar langs mekaar vereer.
Pergamum was die stad van die groot sintese van die godsdienste.

Baie populêr in daardie tyd was die afgod Asklepius, die god
van die geneeskunde. Uit alle oorde het mense na die beroemde
tempel van hierdie afgod gestroom om genesing van siektes te vind.
Vanweë die krag wat aan hierdie god toegeskryf is, het hy as
Heiland, Redder bekend geword. Opvallend is ook die simbool van
hierdie god, naamlik die slang wat op ’n paal krul. Terloops
ons sien vandag nog dieselfde embleem in die mediese dienste in
ons land. Vir ons ’n eenvoudige teken sonder godsdienstige
lading. Maar in Pergamum was die slang heilig en moes dit vereer
word. Dit was ’n simbool wat ons aan die satan herinner, die
slang van die begin. In die diens aan Asklepius, die redder, sien
ons duidelike trekke van die mag van satan. Die afgod, wat die
simbool van satan dra, word as redder van die mense geëer.

Dat in Pergamum die troon van satan is, word ook sigbaar in
die keiserverering wat daar plaasvind. Reeds in die jaar 29 voor
Christus is daar ’n tempel ter ere van die vergoddelikte
keiser gebou. In die hoofstad van Asië was die keiserverering
baie sterk. Die stad was aan die keiser gewy.

Ons ontvang ’n beeld van ’n antichristelike mag in
Pergamum, die troon van die satan. Pleks van Jesus Christus word
afgode as redders van mense gedien. En die keiser, ’n mens,
word as God en Heer geëer. Die hele maatskaplike lewe word
daardeur beheers en bestempel. Pergamum was inderdaad ’n
troon van satan, ’n hoofkwartier van die groot teenstander
van God.

Dit maak dit vir christene wat daar woon baie moeilik. En laat
ons, broeders en susters, nie dink dat dit ver van ons bed staan
nie. Die afgode het vandag miskien wel ander name, maar hulle
leef ook vandag nog voort. Hoeveel inrigtinge vir onderwys (bv
universiteite en tegnikons) en hoeveel besighede het nie plek vir
die troon van satan ingeruim nie? Die mens het homself op die
troon gesit. Die afgode van die wetenskap en tegniek, die afgode
van vryheid en gelykheid eis in ons land aanbidding op. En wee
jou gebeente as jy die aanbidding weier. Antidiskriminasie wette
word teen jou opgesit.

Die gemeente van Pergamum bly, in die leeu se blyplek,
Christus se naam trou bely. Terwyl almal roem in Asklepius en die
keiser en nog meer afgode, roem hulle in die naam van die Here
Jesus. Hulle swyg nie. Teenoor die geroep van die stad: Asklepius
is Redder, bely hulle: daar is geen ander naam as die van Jesus
nie, die enigste naam wat onder die mense gegee is waardeur ons
gered kan word. Waar die wêreld roep: die keiser is god en heer
en hom as sodanig vereer, daar weier die christene om saam te
doen. Hulle bely: Christus is koning en Hy alleen is waardig om
alle aanbidding en eer te ontvang. En so bly dit, broeders en
susters, ook vandag nog steeds ons roeping om Christus se naam te
bely as die enigste teenoor alle moderne afgode wat hul
aanbidding opeis.

Gemeente, so iets moet wel verset oproep. Die samelewing, die
staat kan dit nie verdra nie. Wie weier om deel te neem aan die
keiser verering word gou beskou as ’n verraaier, ’n
bedreiging vir die staat. Dit kan jou jou lewe kos. So het dit
ook die lewe van Antipas, Christus se getroue getuie te Pergamum,
gekos. Hy is gedood, daar waar die satan woon. Omdat hy geweier
het om met die afgode diens saam te doen.

So sien ons, gemeente, dat dit in Pergamum geen maklike saak
was om Christus se naam te bely nie. Jy moet as lidmaat goed weet
wat jy doen. Jy kan jou lewe daaraan verloor. Tog bly hulle trou
ondanks die heerskappy van satan daar. Christus prys dit in die
gemeente. So ’n trou is lofwaardig, ook vandag. Ons sou wens
dat meer mense en kerke moediger sou uitkom vir die een naam
teenoor die afgode van hierdie tyd. Ja, laat tog elkeen van ons
moediger en kragtiger die naam van Christus openlik bely as die
enigste naam by wie redding, genesing, verlossing te vinde is.

Tog het die Here ook iets teen hierdie gemeente van Pergamum.
Dis die tweede gedagte: Christus veroordeel hulle toleransie van
die Nikolaïete.

Om dit te begryp moet ons in gedagte hou dat die omstandighede
van die gemeente in hierdie tyd blykbaar anders is as in die tyd
van Antipas. Christus verwys na die dae van Antipas as iets uit
die verlede. Jy het – verlede tyd – die geloof in My
nie verloën nie, selfs in die dae waarin Antipas my getroue
getuie was, wat gedood is. Die direkte vervolgings is blykbaar
iets uit die verlede. ’n Rustiger tyd het vir die gemeente
aangebreek. En die geskiedenis leer ons dat sulke tye juis
gevaarlik vir die kerk van Christus kan wees.

As satan nie slaag om die mense deur geweld en vervolging bang
en ontrou te maak nie, dan probeer hy ’n ander taktiek. Hy
probeer dit dan op ’n sagte, verleidelike manier.

So tree die Nikolaïete in die gemeente op. Die leer van die
Nikolaïete word vergelyk met die leer van Bileam. Julle ken die
geskiedenis van Bileam, wat Balak die koning van Moab ingehuur
het om die volk Israel te vervloek. God het Bileam egter
verhinder om sy volk te vervloek. God het hom inteendeel gedwing
om Israel te seën. Daarom het Bileam uiteindelik vir Balak die
raad gegee: Ons kan God nie beinvloed nie. Laat ons nou probeer
om die volk te beinvloed. Laat ons die volk lok o.a. deur ons
meisies en vroue sodat die besonder karakter van die volk opgehef
word. Sodat hulle hul met ons volk vermeng. Wat nie moontlik is
deur vervloekings nie, sal ons op daardie manier geluk. Naamlik
dat ons ’n wig tussen God en sy volk dryf deurdat Israel hom
by God vloekwaardig maak. Dan sal God hom wel op sy volk moet
vertoorn en hulle vervloek.

Dit was, gemeente, ’n baie slim plan van Bileam. Via die
invalspoort van liefdesverhoudings en seks (die 7de gebod), een
van die gevoeligste en kwesbaarste plekke in die menselewe, dink
hy om hulle tot die oortreding van die 1ste gebod te kan verlei.
En hy is daarin geslaag. Die Israelitiese manne laat hulle deur
die dogters, die vroue van Moab meesleep ook na die slagoffers
toe. Die Israeliete gaan deel neem aan die offermaaltye en buig
hulle vir die afgode neer. So laat hulle hul koppel aan Baal-Peor.
En roep hulle God se vloek oor hulle uit.

So is daar in die gemeente van Pergamum die Nikolaïete,
geesverwante van Bileam. Ons het hulle reeds in die brief aan die
Efesiërs ontmoet. Dis mense wat die kompromie en die aanpassing
soek. Dit is die skipperaars wat nie aan hul beginsels vashou nie
maar na omstandighede handel, mense wat ’n kompromie met die
heidense lewe em godsdiens soek.

Hulle sê: jy kan jou nie altyd afsydig hou nie, jy kan jou
nooit heeltemal losmaak van jou omgewing nie. Jy moet tog ook kan
leef. Hulle wil niks weet van ’n radikale antitese nie. Dis
mense van die sintese. Hulle sien dit nie as ’n kwessie van
óf, óf, nie maar as ’n saak van én, én nie. Dit pas
uitstekend by die gees van die stad, die gees van die groot
sintese, van die veelgodedom, wat vredig naas mekaar bestaan. Nie
Christus óf die keiser nie, maar Christus én die keiser.
Christus vir die Sondag en vir jou hart, maar in die week ook
rustig meedoen aan die offermaaltye en die keiserverering. Dit
behoort tog by die lewe in die samelewing? As jy met sulke klein
konsessies jou vryheid en welvaart kan waarborg, waarom sou jy
dit nalaat? Die een hoef tog nie in stryd met die ander te wees
nie, suggereer hulle dan. Jy moet tog ook dink aan jou
maatskaplike posisie en sorg vir ’n goeie verhouding met jou
omgewing en familie? Miskien het hulle selfs ’n beroep op
die christelike vryheid gedoen. Hulle probeer die skyn te bewaar
van ’n vroom lewe, maar ondertussen hef hulle die antitese
op. Deur hul leer en lewe dreig hulle die onderskeid tussen die
kerk en die wêreld in Pergamum op te hef, soos Bileam dit in die
velde van Moab probeer doen het. Die kerk word van binne uit
bedreig in die wese van haar bestaan.

Wat, broeders en susters, so erg is, is dat die gemeente
hierdie verleidelike skipperaars laat begaan. Die sonde en die
verleiding tot sonde word nie uit die gemeente verwyder nie. Die
dwaalleraars word getolereer. Hulle bly lidmate van die kerk.
Hulle kan ongehinderd hul idees propageer en die gemeente mislei.
Die gemeente wys hulle nie tereg nie.

Waarom die gemeente in die beoefening van die tug nalatig is,
word nie gesê nie. Miskien is die gemeente bang dat sulke maatreëls
die gemeente innerlik sal verdeel en verswak. Miskien is dit
’n reaksie op die intoleransie wat hulle van buite ervaar
het, waardeur hulle vervolg is en bitter gely het. Dit kan hulle
huiwerig gemaak het om nou self intolerant te lyk teenoor mense
uit hul eie geledere.

Hoe dit ook al mag wees, Christus wil niks van die toleransie
weet nie. Die Nikolaïete mag in die gemeente nie getolereer word
nie. Deur hulle in die gemeente te tolereer, dreig die gemeente
haar besondere karakter as kerk van Christus te verloor. Die
opset en lis van satan is duidelik. In die verlede het hy
geprobeer om die kerk uit te wis en ontrou te maak deur
dreigemente en bloedige vervolging. Maar daarin het hy nie
geslaag nie. Nou sal hy probeer om die kerk van binne uit te
bederf.

Wees op julle hoede, gemeente. Is satan ook vandag nie juis
besig om die kerk grense uit te wis nie? Is hy nie daarop uit om
die kerk en die wêreld te vermeng nie. Die kerk moet ’n
sosiale organisasie word wat haar volkome rig op die opheffing
van nood en op nasiebou. Watter plek bly in so ’n gemeenskap
dan oor vir die eksklusiewe diens aan die Here Christus?

Gemeente, omdat die wese van die kerk in gevaar is, roep
Christus op tot bekering: Bekeer jou. Waak oor die kerk van
Christus. Hanteer die sleutels van die koninkryk. Verwyder
diegene wat vanweë hul leer of lewe nie in die kerk tuishoort
nie. Hulle wat die kudde van binne uit bedreig. Dit lyk hard.
Maar dit is tot heil van die gemeente. Die gemeente word daardeur
gered. Dis ’n saak van gemeente van Christus wees en bly óf
die gevaar loop dit nie langer te wees nie. Dis n kwessie van
handhawing van die antitese óf toegee aan die sintese en so met
die tyd aan die wêreld gelyk word.

As die gemeente nie die nodige maatreëls tref nie, dan dreig
Christus om self op te tree met die swaard van sy mond. Hy sal in
die oordeel wys dat dit vir Hom erns is. Hy sal die antitese
handhaaf. Let maar op die wyse waarop die Here in Numeri 25 teen
Israel opgetree het. Toe mense nalatig was, het die Here self die
tug bedien deur ’n plaag waaraan 24,000 mense gesterf het.
Moontlik moet ons ook in ons teks aan ’n tydelik oordeel van
die Here dink. Die Here sal doeltreffend optree met sy skerp
tweesnydende swaard. Hy sal die gemeente nie met rus laat nie.
Verleiders en hulle wat hulle laat verlei sal getref word.

Gemeente, die Here wys dat ons met mening moet waak oor die
heiligheid van die gemeente. Daar is in die gemeente geen ruimte
vir skipperaars nie. Ook vandag probeer satan om ons in te palm
en ons te verlei om die antitese op te gee. Maar Christus laat
hoor - en as jy nie wil luister nie dan sal jy dit voel –
dis altyd een óf die ander, dis altyd Christus óf die afgode,
Christus óf satan.

Broeders en susters, dis egter nie Christus se laaste woord
nie. Soos gebruiklik, kom Christus ook met ’n belofte vir
wie oorwin. Hy beloof ewige sekerhede.

"Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die
verborge manna," sê Christus. Ons word herinner aan die
reis van Israel deur die woestyn. Daar kon ’n mens geen kos
vind nie. Tog het Israel daar oorvloed gekry. God het brood uit
die hemel gegee, manna. Die manne het daar soggens op die grond
gelê, sigbaar om op te raak, nie verborge nie. In ons teks
belowe die Here die verborge manna. In Joh 6 praat Christus oor
die ware manna wanneer Hy sê: Ek is die brood van die lewe; wie
na My toe kom, sal nooit honger kry nie (Joh 6:35). Ons manna is
Jesus Christus self, die ewige lewensbrood, die ewige spyse van
saligheid. Reeds in hierdie lewe gee Christus sy kerk die hemelse
brood, Homself. Die evangelie wat in geloof aanvaar word, gee
gemeenskap met Hom. Die nagmaal is daar ’n bevestiging van.
Die Here self is die verborge manna. Dit is verborge omdat ons
Hom nog nie in sy heerlikheid sien nie. Maar die gemeente wat nou
in sy gemeenskap bly, ontvang Hom strakkies in sy heerlikheid.
Dan sal die gemeenskap met Hom volkome wees.

Christus belowe ook aan elkeen wat oorwin ’n wit
keursteen. Verskillende verklarings word van hierdie woorde gegee.
’n Wit steen is dikwels verbind met vryspraak. In ’n
regsgeding het die jurie twee stene ontvang, ’n wit en
’n swart steen. Die lede van die jurie moes dan óf hul wit
óf hul swart steen in ’n kruik werp om aan te gee of hulle
die beskuldigde onskuldig óf skuldig beskou het. Indien
onskuldig verklaar, sou die wit steen gewerp word. Indien skuldig
verklaar die swart steen. Deur ’n wit keursteen te belowe,
verseker Christus die oorwinnaars dat Hy hulle onskuldig sal
verklaar. Jy hoef dan nie vir die skerp tweesnydende swaard bang
te wees nie. Christus sal jou mos ’n wit keursteen gee as
bewys van jou volkome vryspraak. Jy kan sonder verskrikking voor
die Regter verskyn.

’n Wit steen is soms ook gebruik as ’n bewys van
toegang tot ’n spesiale geleentheid of fees. Hulle het so
iets moontlik ook gebruik om toegang tot die groot tempel van
Asklepius te verleen. Om daar binne te kom moes jy ’n
geslypte stukkie marmer toon. So ontvang jy as kind van God met
jou wit keursteen reg van toegang tot God se ewige huis, reg tot
die bruilofsmaal van die Lam.

Op die wit keursteen staan ’n nuwe naam geskrywe wat
niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang. Dit kan wys op God
se Naam of die naam wat by jou as ’n nuwe skepping van God
pas. Hoe dit ook mag wees, die nuwe naam op die keursteen is
’n naam wat slegs God en jy ken. ’n Geheim tussen God
en jou. So wys hierdie belofte van die volle intieme gemeenskap
tussen die Here en jou.

Broeders en susters, wat ’n ryke troos vir die gemeente
van Pergamum en vir ons. Om getrou aan die Here te bly op plekke
waar die troon van die satan staan is nie maklik nie. Die gevare
dreig aan alle kante. Maar nou belowe Christus die Regter: wees
getrou en Ek sal jou ewige sekerhede gee.

Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die
gemeentes sê. Wat sê dan die Gees?

Dit: bly getrou Christus se naam bely as die enigste Naam
waardeur ons gered moet word., teenoor al die moderne afgode.
Pasop vir die profete van die sintese, die voorstanders van die
kompromie en aanpassing aan die wêreld. Laat dit hulle nooit
geluk om die onderskeid tussen die kerk en die wêreld uit te wis
nie. Hou hulle ver van jou. Hom wat oorwin, ontvang ewige
sekerhede: volkome saligheid in gemeenskap met die lewende God.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)