Die Koning van die Kerk bring kerkvisitasie aan die gemeente te Efese.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-07-13
Text: 
Openbaring 2
Preek Inhoud: 

Openbaring 2:1-7

Ds. C. Kleyn - Sondag 13 Julie 2003

Lees: Openbaring 1:9-20; 2:1-7.
Sing: Ps 100:1,2; Ps 100:3; Ps 100:4; Ps 12:6,7;
SB 38; Ps 139:1,12.

Tema: Die Koning van die Kerk bring kerkvisitasie aan
die gemeente te Efese.

  1. Wat Hy prys;
  2. Wat Hy veroordeel; en
  3. Wat Hy beloof.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In Openbaring 2 en 3 kry ons sewe briewe van Christus vir die
sewe gemeentes in Klein Asië. Elke gemeente het sy eie kenmerke
en omstandighede. Daarin verteenwoordig hulle die kerk van alle
tye. Op bepaalde plekke en tye sal sekere eienskappe meer op die
voorgrond staan as ander. Een gemeente sal byvoorbeeld meer soos
die gemeente van Efese as die gemeente van Smirna lyk. Tog kan al
die eienskappe herken word in die geskiedenis van die Nuwe
Testamentiese kerk. Ons ontvang ’n sewevoudige beeld van die
een katolieke kerk.

Die boodskap van die sewe briewe bly aktueel. Dit is opvallend
dat die boodskap vir die afsonderlike kerke terselfdertyd vir al
die kerke bestem is. Die briewe is nie afsonderlik gestuur nie,
maar hulle is saam met die ander briewe en die hele boek
Openbaring deur alle gemeentes ontvang. In elke brief lees ons
die woorde: "Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees
aan die gemeentes sê." In elke afsonderlike brief rig die
Heilige Gees homself tot al die gemeentes, die hele kerk. Elke
brief bevat een aspek van Christus se boodskap aan die kerk van
alle tye.

Elke brief het ook dieselfde struktuur. Na die adressering van
die brief (die engel dws die voorganger van elke gemeente), stel
Christus Homself met verskillende titels aan sy lesers voor. Die
titels is afgelei van die visioen van Christus tussen die goue
kandelaars in hfst 1:9-20. In elke brief is die selfbenoeming
anders. Christus kies telkens ’n titel wat pas by die
konkrete situasie van die gemeente waaraan die brief gerig is.

Na die selfbenoeming van die Here, noem Hy die konkrete
situasie van die gemeente: haar trou en ontrou. In verband
daarmee gee Christus woorde van troos of vermaning. En ten slotte
eindig die brief met ’n vermaning, wat ’n belofte of
’n dreigement bevat, afhangend van die toestand van die kerk.
Dit is die moeite werd om te let op die vaste brief struktuur.
Elke brief vorm ’n pragtige eenheid.

Vanoggend wil ek begin met die eerste brief, die brief aan die
gemeente te Efese. Christus stel Homself voor as die Een wat die
sewe sterre in sy regterhand hou en wat wandel tussen die sewe
goue kandelaars. Christus hou die sewe sterre; die sewe engele;
die sewe kerkleiers in sy regterhand. As voorganger is jy in
Christus se beheer. Jy ontvang jou gesag van Hom. Sonder Hom kan
jy niks doen nie. Jy kan hierdie gesag ook deur Hom verloor.

Christus wandel ook tussen die sewe goue kandelaars; die sewe
gemeentes. Hy is aktief aanwesig. Hy gee ag op hulle doen en late.
Hy bring as ’t ware kerkvisitasie.

Ek verkondig aan julle: Die Koning van die Kerk bring
kerkvisitasie aan die gemeente te Efese.

  1. Wat Hy prys
  2. Wat Hy veroordeel
  3. Wat Hy beloof

Die stad Efese het aan die weskus van Klein Asië gelê. Dit
was ’n belangrike handelsentrum. Drie groot handelsroetes
het deur die stad geloop.

Hierdie groot stad was ook beroemd vir sy tempels. ’n
Groot trekpleister was die tempel van Diana, waarna pelgrims uit
die hele Asië opgetrek het. Onthou julle nog Paulus se ervarings
in hierdie stad tydens een van sy sendingsreise? Demetrius die
silwersmid, maker van silwertempeltjies van Diana, het die hele
stad in oproer gebring teen Paulus. Daardeur het die mense vir
amper twee ure uitgeroep: Groot is die Diana van die Efesiërs!

Hierdie aanbidding van Diana was gekenmerk deur skaamtelose
onsedelikheid. So het Efese een van die mees goddelose stede
geword. Dit was ’n sentrum van wêreldse genot, waar mense
hulle aan wellus oorgee. Vergelyk dit maar met ons moderne stede
met hulle weelde en vermaak, met hulle sedeloosheid en
goddeloosheid. Efese was net so gewees.

In so ’n wêreldse stad vergader Christus ’n
gemeente. Daar waar die antitese die skerpste is. Daar het Paulus
met die evangelie gekom: eers vir slegs ’n kort tydjie, maar
later, tydens sy tweede sendingsreis vir amper drie jaar. Ook
Timotheus het daar gearbei. En volgens oorlewering het die
apostel Johannes ook ’n aantal jare daar gewerk.

Die werk van hierdie dienaars van God was nie vrugteloos nie.
Sommige van die grootste oorwinnings van genade is in Efese
behaal. Ondanks alle teenspoed het Christus daar ’n kerk
vergader en bewaar. Soms dink ons dat dit moeilik is om in ’n
moderne stad Christen te wees. Onthou dat daar ook Christene in
Efese was. Ja, onthou dat dit Christus is wat sy kerk vergader,
beskerm en bewaar, waar ook al op aarde.

Broeders en susters, loflike dinge word van die gemeente van
Efese gesê. Die gemeente is suiwer in die leer en trou in die
beoefening van die kerklike tug. Christus getuig daarvan: "Ek
ken jou werke...dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat
hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind
het." Die gemeente laat haarself nie mislei deur mense wat
hulle as apostels voordoen nie. Hulle word eers op die proef
gestel. Wie hierdie valse leraars, hierdie valse apostels is, is
nie duidelik nie. Miskien is hulle die Nikolaïete, wat in vers 6
genoem word. Wie dit ook al sou kon gewees het, dit is duidelik
dat die leer wat hulle verkondig, verskil met die leer van die
apostels. Die gemeente het hulle op die proef gestel en hulle
ontmasker. Hulle is leuenaars, valse profete.

Die gemeente blyk dus suiwer in die leer te wees. Hoe sou
hulle anders die valse apostels kon ontmasker het? Net wanneer jy
suiwer in die leer is, kan jy die dwaalleer aan die lig bring.
Aan die ander kant, as die kennis van die waarheid ontbreek, word
die kerk blootgestel aan elke wind van lering. Dit sien ons
dikwels in ons eie tyd. Dit is een van die hoof oorsake dat baie
van vandag se kerke in ’n bedroewende situasie verkeer. Daar
is min kennis van die waarheid; min liefde vir die ware leer.
Daarom dwaal mense so maklik af, rondgeslinger deur allerlei
verkeerde leringe.

In Efese is dit anders. Daar ken hulle die waarheid. Daar kan
hulle onderskei tussen die ware en valse leer. Daar kan hulle dié
ontmasker en veroordeel wat hulle voordoen as gesante van
Christus.

Hulle suiwer leer blyk ook uit vers 6: "Maar dit het jy,
dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat."
Daar is nie veel bekend oor die sekte van die Nikolaïete nie.
Hulle is, in elk geval, ten gunste van kompromie. Hulle wil nie
’n radikale keuse vir die Here alleen maak nie. Nee, hulle
wil Christendom vermeng met die eise van die moderne, heidense
samelewing. Christus is vir die Sondag, vir die hart, en vir die
res kan jy rustig deelneem aan die wêreldse, losbandige lewe en
vermaak..

Die gemeente van Efese verwerp duidelik hierdie leer en
praktyk – wat vir die mens so aantreklik lyk. Hulle is
suiwer in die leer, maar ook getrou in die beoefening van die
kerklike tug. Hulle kan nie slegte mense verdra nie. Hulle toets
alles volgens die waarheid. Mense wat in leer of lewe misgaan,
word aanhoudend vermaan en, as hulle volhard in hulle sonde, word
hulle uit die kerk geban. Die sleutels van die Koninkryk van die
hemel word getrou toegepas.

Dit is egter nie al wat Christus prys in die gemeente van
Efese nie. Die gemeente is ook baie aktief in die diens aan die
Here. Hulle is nie eensydig gefokus op die leer, as of dit die
enigste ding is wat saak maak nie. Dit is ’n gevaar in
gemeentes wat ’n baie sterk klem lê op die suiwer leer. Dan
hoor jy mense van buite opmerk: "Is dit ’n ware kerk,
suiwer in die leer? Dit blyk nie uit die daaglikse lewe van die
lidmate nie. Dit is net ’n mooi teorie, wat nie in praktyk
toegepas word nie."

Gemeente, dit kan nie van die gemeente van Efese gesê word
nie. Met hulle is dit een en die ander, leer en lewe, kennis en
dade. Hulle doen wat hulle sê. Christus getuig hiervan: "Ek
ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid...en dat jy verdra
het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie
moeg geword het nie." Dit is ’n pragtige getuienis, ja,
veral wanneer dit saamgaan met die suiwer leer.

Daar was altyd mense gewees wat ’n praktiese Christendom
propageer. Hulle benadruk die sosiale roeping van die kerk. Die
kerk moet haarself inspan vir die wêreld; die wêreld dien. Dade
is belangriker as die leer. Die leer maak nie saak nie, solank jy
bereid is om te dien.

In die gemeente van Efese is dit heeltemal anders. Leer en
lewe is een. Hulle dien die Here deur woord en daad. Die ware
leer spoor hulle tot dade aan. Selfs wanneer hulle getuienis
swaarkry veroorsaak, neem hulle met blydskap hulle kruis op.
Hulle is bereid om vir die Here te ly. Christus benadruk hulle
geduld, hulle lydsaamheid. Hulle bly getrou ten spyte van die
teenstand en lyding terwille van Christus se Naam. Hulle gee nie
moed op nie, selfs al plaas die heidense samelewing groot druk op
hulle.

Gemeente, is dit nie ’n pragtige getuienis van die
gemeente van Efese nie? Dit is amper iets om jaloers op te wees.
In daardie wêreldse stad bly hulle getrou in die afwysing van
die wêreldse verleidings en gevare. Ja, hoe maklik vergeet ons
nie die gevare van die moderne samelewing en begin ons stadig
maar seker deelneem aan die wêreldse lewenstyl nie?

Die gemeente van Efese is suiwer in die leer. Hulle aarsel nie
om die tug toe te pas nie. En hulle is aktief besig met die werk
van die Here. Hulle is bereid om vir Christus te ly.

Christus prys hierdie gemeente daarvoor. Wat ’n
lofwaardige kerklewe! So ’n houding en gedrag gee rede vir
Christus om jou te prys. Daarmee begin Hy ook in sy brief vir die
Efesiërs. Hy prys hulle vir hulle trou.

Maar, gemeente, met sulke eienskappe is ons nog steeds nie
daar nie. Om vir Christus op te staan in woord en daad, leer en
lewe is nie voldoende nie. Dit blyk uit wat Christus veroordeel
in sy gemeente te Efese, die tweede gedagte.

Die gemeente ontvang ’n ernstige teregwysing. Christus
dreig selfs om die gemeente te verlaat: "Anders kom Ek gou
na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou
nie bekeer nie." Wat is dan fout in hierdie gemeente?
Hierdie sterke gemeente het een ingrypend gebrek. "Maar Ek
het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het."

"Jou eerste liefde." Liefde word hier sonder
voorwerp genoem. Liefde tot wie? Ons kan miskien aanneem dat
liefde vir God bedoel word; liefde vir Jesus Christus. Tog moet
ons dit nie daartoe beperk nie. As jy die Here liefhet, het jy
ook ander mense lief; is dit weer moontlik om ander lief te hê.
Hierdie heilige, allesomvattende liefde is afwesig in die
gemeente van Efese.

Dit is ’n baie ernstige saak. As daar nie aan gewerk word
nie, sal die kerk sterf. Want die liefde vir God is die diepste
wortel van ons hele geestelike bestaan. As die kerk hierdie
liefde verlaat, sal haar geestelike fontein van die lewe opdroog.
Vir hierdie rede kan ons die gemeente te Efese tipeer as ’n
gemeente aan die begin van haar verval. Die verlating van die
liefde is immers die begin van alle afvalligheid van die kerk.
Ons dink baie keer dat die verval van die kerk veroorsaak word
deur die verlating van die waarheid, deur slapheid in die
toepassing van die tug, of deur wêreldgelykvormigheid. Maar,
gemeente, moenie vergeet dat hierdie slegs die eerste simptome
van geestelike verval is nie. Hulle is nie regtig die oorsaak,
die bron van verval nie.

Gemeente, neem dit ter harte. Hoeveel besware is daar nie teen
die kerk van vandag nie! Hoe onverskillig is baie christene nie
teenoor die leer nie! Hoe onkundig oor die dinge van God se
koninkryk! Hoeveel verwaarlosing van die sleutels van die
koninkryk! Hoe groot is dikwels nie die skikking met die wêreld
nie! Hoe dikwels soek mense nie die dinge van die wêreld nie
pleks van die dinge wat daarbo is. Dit is iets waaroor jy besorg
kan wees. Onthou egter dat al hierdie dinge na die oorsprong
teruggevoer kan word: die verlating van die liefde. Liefde is
nodig. Die liefde van God. Die liefde vir God en dus ook vir die
naaste. Daardie liefde beskerm teen afvalligheid. Daardie liefde
beskerm teen onverskilligheid, onkundigheid, wêreldgelykvormigheid.
Met ware liefde het jy geen behoefte daaraan om ’n kompromie
met die wêreld te sluit nie. Met daardie liefde van God het jy
geen begeerte om jouself aan wêreldse skatte en vermaak oor te
gee nie.

Dit is goed om dit voortdurend in gedagte te hou, gemeente.
Dit is inderdaad ’n goeie saak om te waak oor die suiwerheid
van die leer. Want die kerk wat die waarheid verlaat het geen
fondament nie. Moenie vergeet egter dat uiterlike vroomheid nie
voldoende is nie. Dit moet gegrond wees in die liefde.

Maar hoe kon die gemeente te Efese haar eerste liefde verlaat?
Kom ons probeer om die ontwikkelings na te gaan. Die eerste
liefde is die liefde wat jou vul wanneer jy die evangelie vir die
eerste keer aanneem. Jy bely met blydskap jou geloof. Jou hart
brand vir die Here. Jy is vol entoesiasme vir Christus.

Na verloop van tyd dreig egter die gevaar van die gewenning,
die roetine en die sleur. Uiterlik verander min. Jy bly dieselfde
dinge doen en sê. Maar innerlik het daar wel dinge verander. Die
liefde het getaan. Deur die loop van ongeveer 30 jare vanaf die
stigting van die kerk het die kerk van binne en van buite af
gegroei. Die nuwe geslag wat in die kerk grootgeword het, weet
hoe dinge gedoen moet word. Na soveel jare weet hulle baie mooi
wat waar of vals is. Deur jare se ondervinding en onderrig in die
leer.

Maar deur daardie hele proses vergeet hulle hul dryfkrag: die
liefde. Die kerk groei uiterlik, maar word innerlik swak. Die
persoonlike geloof en liefde word verwaarloos. Jou ywer word
’n uiterlike saak. Die hart is nie meer daarin nie. Jy doen
as lidmaat alles omdat dit van jou verwag word. Omdat
Gereformeerd-wees klaar vasgestel is. Uit gewoonte, of terwille
van jou ouers. So word jou godsdiens waardeloos, ’n
klinkende simbaal sonder ware liefde.

Gemeente, dalk is dit goed om onsself te ondersoek. Hoe sou
Christus wat die harte ken, ons as Vrye Gereformeerde Kerk en as
lidmate van die VGK oordeel? Word ons nog steeds gedryf deur die
liefde? Is liefde die bron van al ons doen en late? Doen ons
Bybelstudie uit liefde vir God? Veg ons vir die gereformeerde
leer uit liefde? Ondersteun ons die gereformeerde onderwys uit
liefde? Of omdat dit van ons verwag word? Wys ons nog daardie
eerste liefde?

Broeders en susters, ’n gebrek aan liefde kon ook ’n
rol gespeel het in die Efesiërs se houding teenoor dwaalleraars
en vyande. Hulle het die werke van die Nikolaïete gehaat. Dit
was goed; selfs noodsaaklik gewees. Maar het hulle die Nikolaïete
self ook begin haat? Het hulle nog, agter die dwaling, ’n
ellendige mens wat op pad is na die verderf, raakgesien? Hulle
kon nie slegte mense verdra nie. ’n Goeie en noodsaaklike
ding. Maar het hulle nog barmhartigheid bewys vir hierdie
sondaars?

Daarom: "Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en
bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe
en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer
nie."

Hierdie woorde sou soos ’n bom geval het. Stel jou voor,
broeders en susters, dat Christus vir ons sou skryf: jou ywer?
Dit is prysenswaardig! Maar as die eerste liefde nie meer
terugkeer nie, sal ek julle kandelaar wegneem. Sal julle as kerk
verdwyn.

Om die waarheid te bewaar is belangrik, baie belangrik, maar
sonder liefde is dit waardeloos. Om getrou kerkdienste by te
woon, die sakramente te gebruik, jou Bybel te bestudeer, jou
kerklike bydrae te betaal, dit is alles goed en reg, ja, selfs
nodig, maar sonder liefde is dit dooie werke. As liefde verdwyn
word jou stryd vir die waarheid bitter, onheilig. Dan word jy
’n party, ’n sekte wat vir jou saak stry, in plaas van
’n kerk van Christus te wees.

Sou Christus hier ook so oordeel? Waak en bid. Leef en werk
vanuit die liefde. Vol van die Gees. Op die vlak van die eerste
liefde, met brandende harte en nie heethoofdig nie.

Hierdie ernstige woorde is nie Christus se laaste woord nie.
Hy gee nog tyd vir bekering. Christus eindig die brief nie met
’n dreigende oordeel nie, maar met ’n bemoedigend
woord, ’n belofte vir hulle wat oorwin.

Hierdie belofte word voorafgegaan deur die bekende woorde:
"Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die
gemeentes sê." Elke kerklid moet luister. Gee ag op die
boodskap van die Gees aan die kerke. Nou is die tyd van genade.
Nou kan jy nog opklim tot die hoogte van die eerste liefde.

"Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom
van die lewe wat binne-in die paradys van God is." Deur die
sonde het die mens die voorreg om te eet van die boom van die
lewe verloor. Die toegang is versper deur ’n engel met
’n vlammende swaard. Daar was geen toegang nie. Maar in
Christus is die toegang tot die boom van die lewe weer oop gemaak.
Wie volhard mag eet van die vrugte in die paradys van God. Jy mag
dan geniet van die ewige lewe; die ongebroke saligheid in die
gemeenskap met God.

Christus is nie karig met sy beloftes nie. Van die hoogte van
die liefde is daar uitsig op die paradys van God. Hoor dan wat
die Gees vir die gemeente sê. Neem dit ter harte. Volg dit op.

Die belofte is vir almal wat oorwin. Dit is elkeen van julle
wat tot die einde toe volhard in die stryd van die geloof,
aangevuur deur die liefde van God. Hy wat dit beloof is getrou.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)