Wat maak ons werke goed in God se oë?

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-08-10
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 33
Preek Inhoud: 

Sondag 33b

Ds. C. Kleyn - Sondag 10 Augustus 2003

Lees: Romeine 14, 1 Korinthiërs 10:23-33;
Sondag 33b.
Sing: SB 27; Ps 105:1; Ps 105:2,3; SB 26:10,11,
Ps. 119:1,2,3; Ps. 119:60,62.

Tema: Wat maak ons werke goed in God se oë?

  1. Wat is my motief?
  2. Wat is my norm?
  3. Wat is my doel?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Doen u/jy goeie werke? Miskien dink jy: Wat ’n vreemde
vraag. Natuurlik doen ek goeie werke. Ek is tog ’n christen.
Wat is dan die goeie werke wat jy doen? Ek lees reëlmatig die
Bybel en bid reëlmatig tot God. Ek kom getrou kerk toe, ek gee
my finansiële bydraes, ek doen my bes by die werk, in my studies.
Ek is ywerig en betroubaar. Eerlik in die sake wat ek doen. Ek
weier om toe te gee aan my boesem sondes ens ens.

Dis oor die algemeen nie moeilik om te kom met ’n
indrukwekkende lys van dinge wat ek doen of nie doen nie. Maar,
broeders en susters, is dit werklik goeie werke? Is hulle werklik
goed in God se oë? Gestel ek bid en die inhoud van my gebed is
volgens die Skrif. Beteken dit dat ek ’n goeie werk doen?
Gestel dat ek in ooreenkomstig die Woord van God preek. Is die
uiterlike daad van prediking outomaties ’n goeie werk?
Gestel dat ek ’n paar duisend rand vir die sending of vir
’n ander goeie christelike doel gee. Is die uiterlike daad
voldoende om dit ’n goeie werk te laat wees?

Wat maak ons werke goed in God se oë?

Drie vrae moet beantwoord word:

  1. Wat is my motief?
  2. Wat is my norm?
  3. Wat is my doel?

Om ’n goeie werk te wees moet dit uit ’n ware geloof
gedoen word. Goeie werke is ’n liefdevolle reaksie op God se
genade. Is al jou werke ’n liefdevolle reaksie op God se
genade? Ek is uit genade gered, deur God se vrye guns. God het my
volkome kwytskelding gegee. Ek hoef nie sekere verpligtings na te
kom om God se goedkeuring te verdien nie. Jesus Christus het dit
reeds vir my gedoen. God het my lief en aanvaar my vanweë die
verdienste van Christus. God seën my vanweë die verdienste van
Christus. Verbaas dit jou nie? Wat ’n grenslose liefde en
genade van God! Sou ek nie uit dankbaarheid reageer nie?

Geliefdes, daar is die gevaar dat ons die evangelie van genade
met baie pligte belas. Ek moet dit doen, ek moet dat doen. Ek
behoort meer toegewy te wees, meer gedissiplineer, meer
gehoorsaam, ens. Wanneer ek so dink dan is ek besig om die
liefdevolle reaksie op God se genade te vervang met plig. Ek doen
dinge dan meer uit pligsgevoel as uit dankbaarheid.

Moenie my verkeerd verstaan nie. God wil hê dat ons meer
toegewy, gedissiplineer en gehoorsaam is. Dit gaan hieroor:
waarom doen ek die dinge: is dit omdat ek dit moet doen, uit
pligsbesef, of is dit omdat ek God liefhet, uit dankbaarheid? Hoe
het die apostel Paulus die saak van toewyding en gehoorsaamheid
benader? Hy skryf in Rom 12:1: "Ek vermaan julle dan,
broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel
as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer –
dit is julle redelike godsdiens." Wat noem Paulus hier as
die basis of motief vir so ’n volkome toewyding aan God?
Paulus beroep hom nie op ons pligsgevoel nie, maar op God se
ontferminge ("by die ontferminge van God"). Hy vra vir
’n reaksie wat nie gebaseer is op plig nie, maar op
dankbaarheid.

Die feit is natuurlik dat ons wel ’n verpligting teenoor
God het. Hy is die soewereine Heerser van die wêreld en in die
hoedanigheid het Hy "bevele gegee om dit trou te onderhou"
(Ps 119:4). Maar hy motiveer ons tot gehoorsaamheid, nie op grond
van sy soewereine heerskappy nie, maar op grond van sy genade in
Jesus Christus.

My motief vir toewyding, dissipline en gehoorsaamheid is net
so belangrik vr God, miskien nog belangriker, as my prestasie.
God soek my hart en stel nie net belang in my uiterlike dade nie.
God deursoek die hart en verstaan elke motief. Om vir Hom
aanvaarbaar te wees, moet my motief liefde vir Hom wees.

Waarom gehoorsaam jy die Here? Waarom verrig jy sekere
godsdienstige handelinge? Is dit omdat jy voel dat jy God se guns
moet verdien? Is dit omdat jy die gevolge vrees as jy Hom nie
gehoorsaam nie? Omdat jy bang is dat jy deur ongehoorsaamheid God
se seën kan verbeur? Waarom doen jy jou daaglikse
godsdiensoefeninge? Is dit omdat jy werklik die gemeenskap met
God soek óf net uit gewoonte omdat jy bang is dat jy God se seën
sal verbeur as jy dit nie doen nie? Waarom doen jy in jou studies
jou bes? Omdat jy God liefhet en uit dankbaarheid die gawes, wat
Hy vir jou gegee het, wil gebruik? Waarom is jy eerlik in jou
besigheid? Omdat jy ’n goeie naam wil opbou en behou en jy
oortuig is dat eerlikheid uiteindelik loon óf ook uit liefde vir
God?

Waarom kom jy trou kerk toe en vier jy trou die nagmaal? Uit
dankbaarheid teenoor God – as ’n liefdevolle reaksie op
sy genade? Óf omdat jy bang is om dit nie te doen nie? Ons kan
bang vir God of ook vir die mense wees. Ek kan bang wees vir wat
hulle sal dink of sê indien ek dit nie doen nie. Dan doen ek of
doen ek nie sekere dinge nie omdat ek bang is dat ek veroordeel
sal word of dat oor my geskinder sal word. Hoe dikwels word dinge
nie gedoen uit vrees vir die gevolge nie? Ek durf dan nie anders
op te tree nie, anders kom ek by God , by my ouers, by my
onderwyser, by my baas, by die kerk ens in die moeilikheid en dit
wil ek nie.

Ja, gemeente, goeie werke is nie werklik goed tensy hulle
gemotiveer is deur ’n liefde vir God, deur ’n dankbare
aanvaarding van sy genade. So ’n God gerigte motief kan ek
nie hê nie, as ek dink dat ek God se guns deur my gehoorsaamheid
moet wen of as ek vrees dat ek God se guns deur ongehoorsaamheid
kan verloor. So ’n werk georiënteerde motief is in wese
selfsug. Dit word meer bepaal deur wat ek dink dat ek van God kan
wen of verloor as deur dank vir God se genade.

Broeders en susters, hoe ontkom jy aan so ’n self
gesentreerde motief? Deur vanuit die genade van God te leef,
pleks vanuit ’n pligsgevoel. Dit bevry jou om God te dien
uit liefde vir Hom, uit dank vir die verlossing en seëninge wat
Hy reeds vir jou gegee het.

Waarom gee jy jou offergawes aan die Here? Hoor hoe Paulus ons
motiveer om te gee in 2 Kor 8:9: "Want julle ken die genade
van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter
wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk
kan word." Paulus wil nie net hê dat ons ruimhartig gee
nie, maar dat ons vanuit ’n gevoel van dank vir God se
genade gee. Hy wil hê dat ons gee nie vanuit ’n gevoel van
plig of dwang nie, maar blymoedig as ’n liefdevolle reaksie
op wat God reeds in Jesus Christus gegee het.

Ons moet deur liefde gedring word. Ons moet uit die geloof
handel, vanuit ’n geloofsoortuiging. "Alles wat nie uit
die geloof is nie, is sonde" sê Paulus in Rom 14.

My motief om dinge te doen is baie belangrik. As ek gedryf
word deur ’n wettiese motief, soos vrees vir die gevolge óf
om God se guns te wen, dan sal ek nooit werklik God behaag nie.
Dan sal ek ook nooit die vreugde en krag van die geloof ervaar
nie. Met ’n wettiese benadering werk ’n mens altyd
vanuit ’n posisie van swakheid. Want jy moet dit dan in jou
eie krag doen. Deur jou eie wil en vasberadenheid. Jy presteer
dan om deur God aanvaar te word. Maar aangesien jou prestasie
altyd onvolmaak is, voel jy jou nooit volledig deur God aanvaar
nie. Jy werk om aanvaar te word, maar jy voel dat jy dit nooit
heeltemal behaal nie. So werk jy altyd vanuit ’n posisie van
swakheid.

Hoe anders is dit wanneer jy deur geloof gedryf word, deur
liefde vir God, deur dank vir se genade. Dan ervaar jy die
vreugde en krag van die geloof. Jy gehoorsaam dan nie uit vrees
of om God se guns te wen nie, maar uit dankbaarheid vir guns wat
reeds bewys is. Deur geloof weet jy dat jy reeds deur God aanvaar
is deur die verdienste van Christus. In en deur Christus het jy
dit reeds gehaal. Wat is dit dan geweldig om God te dien! Jy kan
ook daagliks staatmaak op Christus se Gees om jou in staat te
stel om te gehoorsaam. Jy hoef dit nie in eie krag te doen nie.
Wanneer jy glo, laat jy God sy krag in jou openbaar. Jy laat Hom
dit doen. Jy vertrou jouself aan Hom toe. Dan kry jy die goeie
werke wat God van te vore voorberei het om te doen. Ons is immers
God se maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God
voorberei het, sodat ons daarin kan wandel (Ef 2:10).

Nou terug na die verskillende voorbeelde. Waarom lees jy jou
Bybel en bid jy? Waarom gaan jy kerk toe? Waarom gee jy jou
finansiële bydraes? Waarom doen jy jou bes by die skool? Waarom
is jy konsensieus en betroubaar by die werk? Waarom is jy eerlik
in jou sake? Waarom weier jy om toe te gee aan jou boesem sondes?
Is dit werklik uit geloof, as ’n liefdevolle reaksie op God
se genade, deur liefde gedryf? Slegs dan kan jy praat van goeie
werke in God se oë.

Nou die tweede vraag: wat is jou norm.

Geliefdes, wanneer ek benadruk dat alles uit geloof gedoen
moet word, dan kan dit jou in die duister laat oor wat werklik
reg of verkeerd is. Baie mense beroep hulleself op hul
geloofsoortuigings. Hulle doen dit uit geloof, daarom moet jy
hulle gedrag respekteer en hulle uitlos, so dink hulle. Dit laat
’n mens soms ongemaklik voel. Beteken dit dat alles goed en
aanvaarbaar is, so lank as jy maar kan se dat jy dit uit
geloofsoortuiging doen?

Neem bv ’n vrou wat seksueel prikkelende klere dra. Die
vrou wat so aantrek kan oortuig wees dat die tipe klere
aanvaarbaar is. Moet ons dit dan daarby los? Moet die ander
lidmate die keuse dan maar respekteer en hulleself forseer om nie
in haar rigting te kyk nie om te voorkom dat sondige gedagtes by
hulle opkom?

Nog ’n voorbeeld. Neem eutanasie oftewel genadedood. Jy
sien dat ’n dierbare persoon verskriklik ly aan ’n
ongeneeslike siekte. Jy kan die ellende nie langer aansien nie.
Die persoon self verlang daarna om by die Here te wees. Wat
weerhou jou dan om so ’n persoon te help, deur ’n
inspuiting, om by die Here te wees? Ook onder die ‘christene’
is daar mense wat oortuig is dat dit volkome geoorloof is, so
lank as dit maar uit liefde gedoen word en volgens die wense van
die pasiënt. Moet ons so ’n besluit dan respekteer omdat
dit vanuit ’n sekere geloofsoortuiging gedoen word? Is daar
dan geen manier om te toets of sulke handelinge inderdaad vir God
aanvaarbaar is?

Wel, gemeente, dis waar die norm belangrik is. God het ons sy
wet gegee as ’n objektiewe standaard, norm om na te handel.
Wanneer ek dinge uit ’n ware geloof doen, dan moet dit ook
ooreenstem met die norm. Dink aan wat Christus sê: As julle My
liefhet, bewaar my gebooie (Joh 14:15). Liefde, geloof en
gehoorsaamheid behoort by mekaar. As jy die Here liefhet, dan wil
jy sy wil doen. Gehoorsaamheid is ’n bewys van liefde. As jy
dink dat jy vry is om te leef soos jy lus is, dan leef jy nie uit
liefde nie, dan het jy nog niks van genade verstaan nie. Wat jy
as genade sien is ’n karikatuur daarvan. ’n Duidelike
bewys van ’n lewe uit genade is liefdevolle gehoorsaamheid
aan God se gebooie. Jesus sê: Wie my gebooie het en die bewaar,
dit is hy wat My liefhet. En: As iemand My liefhet, sal hy my
woord bewaar. (Joh 14:21,23).

’n Gebod gee duidelike rigting. Jy word vertel wat om te
doen of nie te doen nie. Die gebooie in die Bybel gee duidelike
morele standaarde aan. Teenwoordig is dit populêr om dade te
toets in terme van ’n liefdevolle reaksie op die situasie.
Dit word situasie etiek genoem. Mense wil nie van ’n
eksterne, objektiewe norm weet nie. Dit gaan eerder daaroor dat
jy doen wat op daardie oomblik reg lyk. Die probleem met situasie
etiek is dat die hart van die mens volgens die Skrif bedrieglik
is bo alle dinge (Jer 17:9). Ons hart waarin die sonde nog
werksaam is, kan dan alles reg laat lyk. So kan allerlei sondige
dade in die naam van liefde gedoen word. Christene het egbreuk
gepleeg onder die voorwendsel dat hulle uit liefde teenoor hul
eensame of beseerde naaste gehandel het. Christene het moord
gepleeg onder die voorwendsel dat hulle ongeneeslik siekte mense
gehelp het om by Jesus te wees.

Geliefdes, dis die valkuil waarin ’n mens val as jy die
liefde nie deur die gebooie van God laat definieer nie. ’n
Objektiewe norm van liefde soos: liefde pleeg geen egbreuk nie of
liefde vermoor nie, laat ons sonder verontskuldiging. God se
gebooie gee ons die objektiewe standaard. Gehoorsaamheid daaraan
bewaar ons vir situasie etiek.

’n Gebod is egter meer as ’n stel rigtingwysers.
Miskien het julle wel gehoor van die engelse uitdrukking: as alle
ander opsies misluk, lees die aanwysings/instruksies. So ’n
uitdrukking suggereer dat aanwysings opsioneel is, dat jy dinge
op jou eie kan uitsorteer sonder moeite te doen om die aanwysings
te lees. Die lyk asof sommige Christene dink dat die gebooie van
God niks meer is as ’n stel aanwysings is nie. As jy hulle
volg dan sal hulle jou help om deur die lewe te gaan sonder om te
veel ongelukke te kry.

Die woord gebod impliseer egter gesag. Die basiese betekenis
van die woord is ‘om met gesag te beveel’. ’n
Gebod gee nie net leiding wat jy kan aanvaar of verwerp nie.
’n Gebod impliseer dat die een wat dit gee gesag het om
gehoorsaamheid te eis en dit ook so bedoel. Dit geld seker vir
die gebooie van God. As jou Skepper en Verlosser het God gesag om
gehoorsaamheid te eis en Hy dring daarop aan dat jy Hom
gehoorsaam.

Maar geliefdes, wat van die sake wat nie uitdruklik in die
Skrif genoem word nie, waaroor daar verskil van mening is? Rom 14
leer ons dat God mense wat ewe goddelik is verskil van oortuiging
laat hê oor sekere sake. In die sake mag ons die gewetens van
ander nie bind nie, nog hulle ons gewetens laat bind. Ons moet
vasstaan in die vryheid wat ons in Christus het.

Maar, broeders en susters, ook hier laat God ons nie in die
duister nie. God gee ons sekere algemene beginsels wat ons gedrag
moet bepaal. Laat ek vier sulke algemene reëls noem wat gebaseer
is op drie verse wat ons gelees het.

  1. "Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig
    nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie"
    (1 Kor 10:23). Is wat ek kies om te doen nuttig –
    fisies, geestelik en verstandelik? Stig dit?
  2. In 1 Kor 6:12 voeg Paulus daaraan toe: "alles is my
    geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie."
    Laat ek my deur die dinge wat ek doen oorheers sodat ek
    ’n slaaf daarvan word, sodat ek onder sy mag kom?
  3. "Dit is verkeerd vir ’n mens om te eet as dit
    tot aanstoot is. Dit is goed om geen vleis te eet of wyn
    te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot
    neem of struikel, of waarin hy swak is nie" (Rom 14:20,21).
    Skaad wat ek doen ander mense?
  4. Ten slotte: "Of julle dan eet of drink of enigiets
    doen, doen alles tot verheerliking van God" (1 Kor
    10:31). Is wat ek doen tot verheerliking van God.

Om ’n ware geloofsoortuiging te ontwikkel, kan hierdie
vier vrae ons help: Is dit wat ek doen nuttig? Laat ek my
daardeur oorheers? Skaad dit ander mense? Is dit tot
verheerliking van God? Hierdie vrae kan deurdringend wees. Maar
hulle moet gevra word as ek volgens die wil van God in alle goeie
werke wil lewe.

Kom ons pas die beginsels toe op enkele konkrete situasies.
Neem bv die tv programme waarna ek kyk. Is hulle nuttig –
fisies, geestelik of verstandelik? Vir sommige programme is dalk
die antwoord 'ja'. Maar vir die programme waarvoor ons eerlik
'nee' moet antwoord, moet ons besluit om hulle nie te bekyk nie.

Wat van die vraag: Laat ek my daardeur oorheers? Miskien pas
jy die vraag onmiddellik toe op sekere drink en rook gewoontes en
voel jy dat dit nie vir jou geld nie. Maar opnuut, wat van die
kyk na die tv of die luister na sekere radio programme. Wat van
ander gewoontes in jou lewe? Het sekere programme of gewoontes
jou gevange geneem sodat jy hulle beslis nie kan mis nie: ten
korte van jou huwelik en gesin sal jy dit doen? As dit so is, het
hulle jou onder hul mag gekry?

Laat ons kyk na die volgende vraag: skaad dit ander mense?
Neem die voorbeeld van die dra van seksueel prikkelende klere.
Skaad dit ander? As dit mense tot sondige gedagtes verlei, dan
sou jy dit nie moet dra nie.

Ten slotte: is dit tot verheerliking van God? Die doel van al
my werke moet wees om God te verheerlik. Nie om myself te
verheerlik nie. Dink aan die Fariseërs. Hulle het hulle streng
aan die letter van die wet gehou om deur mense geëer te word.
Die verleiding om eie eer en heerlikheid te soek is daar ook in
ons hart en lewe. Ons hou daarvan om deur mense geëer te word,
om lof van mense te ontvang. Wat sê Christus? "Laat julle
lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien
en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik." Ek wil dan
nie die aandag op myself vestig nie, maar op my Vader in die
hemel.

Nou terug na die vrae in die begin:

Verrig jy goeie werke? Is jou werke werklik goed in die oë
van God?

Wat is jou motief? Doen jy dinge uit geloof, uit liefde vir
God, in reaksie op God se genade?

Wat is jou norm? Doen jy werklik die dinge volgens die wet van
God, volgens die woord van God?

Wat is jou doel? Soek jy werklik in alles die eer van God?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)