Die evangelie van goeie werke.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-07-20
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 32
Preek Inhoud: 

Sondag 32

Ds. C. Kleyn - Sondag 20 Julie 2003

Lees: Johannes 15:1-8; Efésiërs 2:1-10;
Sondag 32.
Sing: SB 27; Ps 92:6,7; Ps 138:1,4; Ps 52:4.

Tema: Die evangelie van goeie werke.

  1. Die werke is deel van ons verlossing;
  2. Die werke bemoedig ons; en
  3. Die werke kan nie gemis word nie.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die voorgaande sondae het dit gegaan oor ons verlossing in
Jesus Christus. Ons het gesien wat Christus vir ons gedoen het.
Nou het ons gekom by die gedeelte van die kat wat oor ons
dankbaarheid gaan. Ons gaan sien wat ons vir Christus moet doen.

Wanneer ek dit so stel: eers wat Christus vir ons gedoen het
en nou wat ons vir Christus moet doen, beteken dit dat ons dan
tog agteraf self iets moet bydra? Is dit dan waar dat Jesus nie
’n volkome verlosser is nie, dat iets meer vir my verlossing
nodig is? Ons bely dat Christus alles vir ons gedoen het en dat
ons niks daaraan hoef toevoeg nie. Maar sê ons nou nie dat ons
tog ons werke daaraan moet toevoeg nie?

Hoe sensitief is ons kat. Wanneer dit ons goeie werke
bespreek, spreek dit onmiddellik die vrae wat by ons leef aan.
Luister maar: waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons
tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur
Christus uit ons ellende verlos is? Dan kry ons die pragtige
antwoord. Dit sê nie: Omdat Christus ons verlos het, moet ons
nou ons dank wys, in die sin van: moet ons iets terug doen. Nee,
die kat sê: ons moet dankbaar wees omdat Christus ons deur sy
Heilige Gees vernuwe, omdat Christus ons dankbaar maak.

Die verlossing deur Christus gee ons nie net rede tot
dankbaarheid nie. Die verlossing gaan ook voort in die werk van
die Gees wat ons dankbaar maak.

So preek ek vir julle: Die evangelie van goeie werke.

  1. Die werke is deel van ons verlossing
  2. Die werke bemoedig ons
  3. Die werke kan nie gemis word nie

Wanneer ’n mens oor die dankbaarheid praat, dan het jy
dikwels met ’n misverstand te doen. By die onderwerp van
dankbaarheid plaas ons baie maklik die mens in die middelpunt.
Die dankbare en godsdienstige mens. Ek met my werk en my
gehoorsaamheid aan die wet. Maar, geliefdes, selfs in die deel
van die dankbaarheid staan Jesus Christus in die sentrum. Ek is
nie in die eerste plek besig met my goeie werke nie, maar met
Christus se voortgaande werke van verlossing.

Die kat antwoord maak dit duidelik: ons moet goeie werke doen
omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook
deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe. Christus is dus
besig. Hy is die aktiewe party. Wanneer ek praat oor die
dankbaarheid wat ek vir God moet wys, dan gaan dit nie oor iets
wat ek vir die Here terug moet doen nie. Nee, ons is besig met
die voortgang van Christus se verlossingswerk deur sy Heilige
Gees. Christus het begin – Golgota – Christus het
verder gegaan – opstanding, hemelvaart, Christus voltooi sy
werk – Pinkster. Christus doen alles. Hy het vir ons geword
wysheid uit God, ons geregtigheid en ons heiligmaking, kortom ons
volkome verlossing (vgl 1 Kor 1:30). Sy werk op goeie Vrydag en
Pase word afgerond met Pinkster.

Christus stort sy Gees uit oor sy kerk. Om jou te laat deel in
al sy skatte. Om jou na sy beeld te vernuwe. Die goeie werke wat
jy doen is daarom die vrug van Christus se Gees. Streng gespreek
is hulle nie jou werke nie, maar sy werke. Hulle behoort by sy
verlossingswerk.

Kyk maar na wat ons gelees het in Ef 2. Julle was dood deur
die misdade en die sondes. Slawe van die sonde. Lewend volgens
die sondige begeertes van die vlees en verstand. Kinders van die
toorn. Lewenslank veroordeeldes. Maar God het in sy onbegryplike
liefde ingegryp. Hy het jou gered. Hy het jou uit die dood
opgewek. Hy het jou lewend gemaak saam met Christus. Uit genade
is julle gered.

Wat beteken dit dat Hy jou lewend gemaak het? Nie net dat Hy
jou sondes vergewe het nie. Nee, dit beteken dat Hy jou nuut maak.
Dis wat Paulus skryf in vers 10: "want ons is sy maaksel,
geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het,
sodat ons daarin kan wandel." Jy is dus God sy maaksel. Die
bybel praat gereeld van skepsel of maaksel. Ef 2 verwys nie na
die skepping soos dit in Gen 1 en 2 beskryf word nie. Ef 2 verwys
na jou herskepping. Paulus bedoel wat hy elders noem: Daarom as
iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel (2 Kor 5:17).
In sy skeppende krag het God die dooies lewend gemaak. Die
positiewe dinge wat van ons as kerk gesê kan word, dit het God
van ons gemaak Van begin tot einde is dit sy werk.

Wat beteken dit daarom om in Christus Jesus geskape te wees?
Dit is dat jy van die dood na die lewe oorgeplaas is. Dat jy
wedergebore is deur die Gees tot ’n nuwe mens in Christus
Jesus. Dan is dit nie verrassend dat ons in Christus Jesus geneig
is om goeie werke te doen nie. As ’n nuwe mens is ek immers
geskape tot goeie werke. God sê selfs dat Hy die goeie werke van
te vore voorberei het. God het al die voorbereidings getref sodat
die werke daar is om te gryp. Of om ’n ander beeld te mag
gebruik: hulle is daar om aan te trek. Hulle lê gereed in
Christus Jesus. Ja, selfs meer as dit: deur sy Gees het God sy
wet in ons hart geskrywe sodat ons die goeie werke wil doen. Deur
sy Gees het Hy ons lewe omgedraai. Van Hom is die begeerte en die
krag om goeie werke te doen.

Niemand kan sê dat dit onmoontlik is nie. In Christus het God
alle voorbereidings getref. Hy het Christus gegee as ’n
volkome Verlosser. Hy vergeef ons en vernuwe ons. Daarom kan ek
dit doen en wil ek dit doen. Hy self werk in my om te wil sowel
as om te werk na sy welbehae (Fil 2:13). Ek het geen verskoning
meer nie.

Geliefdes, wat jy vir die Here mag doen is daarom beslis nie
’n soort terugbetaling vir wat God vir jou gedoen het nie.
Dis nie so dat jy van jou kant nou iets moet terugdoen nie. Nee,
God het alles van te vore reeds voorberei. Die goeie werke, die
nuwe lewe is ’n saak van vrugte, vrugte wat in Christus
Jesus gevind word. Die goeie werke is nie plante van jou eie tuin
nie, plante wat jy self geplant het nie. Dit is vrugte van die
Heilige Gees wat Hy in jou lewe werk. Hulle is sy werke in my en
deur my, maar nie van my nie.

In die praktyk van die lewe word dit dikwels vergeet. Dikwels
sê ons: Ek sal my bes doen, ek sal doen wat ek kan om ’n
heilige lewe te lei. Dikwels sê ons dit sonder selfs op Christus
te fokus in wie ons alle dinge besit. So verbreek ons die band
tussen ons goeie werke en ons verlossing in Christus. So verbreek
ons ook die band tussen die wet en Christus.

Maar geliefdes, ook ons heiligmaking is die werk van Christus.
Deur sy Heilige Gees vernuwe Hy ons tot sy ewebeeld sodat ons met
ons hele lewe bewys dat ons God dankbaar is vir sy weldade.

Ek moet goeie werke doen omdat ’n loot op die wynstok
Christus gewoon nie sonder vrugte kan bly nie. Dis onmoontlik! Ek
moet goeie werke doen omdat dit onmoontlik is dat ek, wanneer ek
eenmaal in geloofsgemeenskap met Christus leef hulle nie doen nie.
God verlaat nie die werke van sy hande nie. Daaroor gaan dit in
die deel oor die dankbaarheid. God voltooi sy werk van verlossing.
Die verlosser is nie vir ons gegee om halwe werk te doen nie,
sodat ek nou daarvoor moet sorg om die res af te maak nie. Hy is
vir ons gegee as ’n volkome verlosser.

Daarom, as God jou oproep: wees heilig, want Ek is heilig, dan
moet jy nie maar begin om jou bes te doen nie. Nee, jy moet na
Jesus Christus vlug. Na Christus in wie jy die volmaaktheid besit.
Soos ons liturgiese formuliere dit verwoord: ons moet ons lewe en
saligheid buite onsself soek in Christus Jesus. Dit lê gereed in
Jesus Christus. Daarom is dit so belangrik om die dag met die
Here te begin en nie sommer skool of werk toe te gaan sonder dat
jy God soek nie. Hoeveel van ons doen dit, haas ons werk toe
sonder gebed?

Jy wil tog leef en werk as ’n Christen, of nie soms. Wel
hoe dink jy kan jy dit doen? In eie krag? In eie wysheid? Nee, jy
het Jesus Christus nodig. Jy moet na Jesus Christus vlug, jou
lewe aan Christus oorgee, Christus jou laat vernuwe na se beeld.
Gaan met Christus werk toe. Begin die dag met Hom. Dan sal die
goeie werke sigbaar word. Dan sal jy meer en meer doen wat jou
Here Jesus behaag. Dan sal jy die sonde haat en daarvan wegvlug.
Dan sal jy nee vir jou vriende sê wat wil hê dat jy dinge doen
wat dwaas, sondig en skadelik is. Dan sal jy opstaan vir jou Here
en Heiland en sal jy jouself bewys as ’n ware christen.

Geliefdes, nou dat dit duidelik is dat die goeie werke
feitelik werke van God is, kan jy ook deur die werke bemoedig
word wanneer jy die werke in jou lewe ontdek. Dis die tweede
gedagte van die preek. Die goeie werke bemoedig ons. Die kat
formuleer dit so: Verder sodat ons vir onsself uit die vrugte van
ons geloof sekerheid kan kry.

Die vraag kan gestel word: moet ek om seker van my geloof te
wees, my wend tot my goeie werke? Gee die goeie werke my
sekerheid? Moet ek die sekerheid nie in die woord van God vind
nie, in sy vaste beloftes?

Broeders en susters, Moenie vergeet die konteks waarin die kat
die verbinding lê tussen die goeie werke en die sekerheid van
jou geloof nie. In sondag 32 is die kat nie besig met die vraag
hoe jy versekerd kan wees van jou heil nie. Sondag 32 is besig
met jou lewe van dankbaarheid. In die voorgaande sondae het die
kat reeds die kwessie van die versterking van jou geloof
aangespreek. Die kat weet dat God se kinders geen volmaakte
geloof het nie. In antwoord 81 lees ons dat hulle wat die Heilige
Nagmaal vier, begeer om hul geloof hoe langer hoe meer te
versterk.

Die kat wys nie na goeie werke as ’n middel om jou geloof
te versterk nie. Nee, wanneer die kat praat oor die versterking
van jou geloof dat wys dit op die werk van die Heilige Gees in
Woord en Sakrament. Die Heilige doop en die heilige nagmaal
verseker jou. As jy van twyfel en kleingeloof bevry wil word, dan
verwys die kat jou na die prediking van die heilige evangelie en
die gebruik van die sakramente. Dis die middels waardeur die
Heilige Gees jou verseker van die vergewing van sondes en die
ewige lewe. Jou hart vind slegs rus, vrede in die Woord van God,
in sy vaste beloftes. Net deur op die woord van God te fokus,
weet ek opnuut vir seker: dat God nie net aan ander nie maar ook
aan my vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid
geskenk het, uit loutere genade slegs op grond van die verdienste
van Christus.

Geliefdes, wanneer sondag 32 dan praat van sekerheid wat ons
kry uit die vrugte van ons geloof, dan is die kat nie besig om
ons die pad tot die geloofssekerheid te wys nie. Nee, die pad is
reeds gewys in die sondae 25-31. Die kat is nou besig met ons
lewe van dankbaarheid.

Christus vernuwe ons deur sy Gees tot sy ewebeeld. Die
vernuwing van lewe, die werk van Christus se Gees word sigbaar.
Die mense rondom jou merk jou christelike lewenswandel. Jy merk
ook self hoe Christus se Gees in jou lewe besig is. So word jy
versekerd van jou geloof uit die vrugte. Om die werk van die Gees
in jou lewe te sien versterk jou en bevestig jou in wat jy reeds
weet: jy is ’n loot op die wynstok Jesus Christus. Jy deel
in die genade van die Heilige Gees.

Sondag 32 vertel jou dus nie dat jy van jou ongeloof en twyfel
genees kan word deur na jou goeie werke te kyk nie. Wanneer ek in
ongeloof God se beloftes loslaat dan sal ek niks meer sien nie,
ek verloor dan alles. Ek kan net van my ongeloof bevry word deur
na Jesus Christus en sy Woord te kyk. Wanneer ek dit doen, dan
sien ek alles. Ek ontvang weer uitsig en dan kom die vrugte na
vore as bewyse: wat ek reeds geweet het word vir my nog
duideliker: God is in my hart en lewe besig.

Ek moet dus eers die sekerheid van die geloof hê. Dan alleen,
slegs daarna kan ek bemoedig word deurdat ek die werke sien. As
ek my sekerheid in my werke soek dan loop ek ’n doodloop pad.
Want ek begin dan aan die verkeerde kant. Ek moet begin by geloof.
Deur God se goeie nuus te aanvaar. Sy boodskap van volkome
verlossing in Jesus Christus. Wanneer ek dit doen, dan word die
vrugte sigbaar, goeie werke. En die vrugte bemoedig my. Ek voel
sterker. Om te doen wat God wil, maak die makliker om dit ’n
volgende keer te doen. Om nou "nee" vir die sonde te sê,
maak dit ’n volgende keer makliker om "nee" te sê.
Ek weet dat God besig is om in my te werk. En Hy sal sy werk van
verlossing voltooi, ook vir my.

Daarom, broeders en susters, seuns en meisies, begin die dag
met jou Here en Verlosser. Gaan skool en werk toe met jou Here.
Vlug tot Hom. Haal jou krag en jou werke uit Hom. Tydens sy hele
lewe het Christus in goeie werke gewandel. Hy het die pad vir jou
gelei. Sterker nog: Hy het jou plek ingeneem. Sy gehoorsaamheid
geld vir jou. Sy lewe en werke geld vir jou. Jy moet op Hom
vertrou. Jy mag op Hom vertrou. Jy mag van Hom ontvang: volkome
verlossing: geregtigheid en heiligmaking. Die vergewing van
sondes en die vernuwing van jou lewe.

Dit gee jou vrede in die daaglikse stryd van die lewe, in die
daaglikse stryd van die kerk. Wanneer jy gekonfronteer word met
jou verantwoordelikhede in kerk, skool en samelewing. Jy wil die
vrugte sien. Maar hulle is vrugte van die Heilige Gees. En die
vrugte groei waar jy uit Jesus Christus leef en waar jy bly bid
tot God vir die genade van die Heilige Gees. Hy sal sy werk van
verlossing voltooi. Daarom, fokus op Jesus Christus. Verwag alles
van Hom. Want in ware gemeenskap met Hom sal die nuwe
gehoorsaamheid tot stand kom, sal jy die wil van die Here doen.

Nou kortliks die derde punt: goeie werke kan nie gemis word
nie. Geen goddelose persoon sal die koninkryk van God beërwe nie.
In die gelykenis van die wynstok sê Jesus: Net soos die loot
geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie,
so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Om vrug te dra moet
jy in Christus bly, in gemeenskap met Hom leef. Christus voeg
daaraan toe: as iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos
die loot en verdroog.

Ons verlosser noem die fatale moontlikheid dat ’n loot
nie vrug dra nie. Dis dan ’n egte loot, net ’n
onvrugbare loot. Die persoon behoort werklik by die verbond. Hy
het die beloftes van God ontvang, die beloftes van vergewing en
vernuwing. Maar hy wou nie in Christus bly nie, uit Christus lewe
nie, uit geloof in die beloftes. Van so ’n persoon sê
Christus: My Vader neem die lote wat geen vrug dra nie. Geen
onkuise, afgodsdienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard,
lasteraar, rower en sulkes sal die koninkryk van God beërwe nie.
Dis die oordeel wat God hier in ons midde verkondig. As iemand
van ons in sonde leef en weier om hom te bekeer, weier om uit
Christus alleen te leef, dan sal hy God se koninkryk nie beërwe
nie. Nie omdat daar geen genade is nie. Maar omdat jy die genade
van God verag en verwerp. Hoe sal jy leef wanneer jy die lewe in
Christus verwerp? Hoe sal ’n mens versadig word as hy die
brood van die lewe verag? God aanvaar geen nonsens wanneer Hy met
sy evangelie van genade kom nie. Wat jy saai, sal jy ook maai.

Daarom is dit ’n dodelik ernstige saak om in ’n kerk
te sit waar goeie werke as werke van genade deur Jesus Christus
gepreek word. Die Here Jesus plaas jou op die pad van goeie werke.
Maar jy moet dan ook op die pad stap en jou krag van Hom trek.
Indien jy weier dit te doen en sê: Ek wil dit nie, dit lok my
nie, dan gaan die deur toe. Nie omdat daar vir jou geen plek is
nie, maar omdat jy die plek nie wil inneem nie. God se liefde is
immers ’n baie ernstige saak. Die Naam van Jesus Christus is
inderdaad die enige naam. As jy nee vir Hom sê, sê jy nee vir
die lewe. Dan is jy verlore.

Daarom, broeders en susters, seuns en dogters, soek die Here
noudat Hy besig is om jou te soek. Haal jou lewe en krag uit Hom.
Gaan met Hom deur die lewe. Gaan skool en werk toe met Hom. Dan
sal jy die vrugte sien. Goeie werke tot eer van God en tot jou
eie heil.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)