Die sleutelmag van die gemeente van Christus.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-07-13
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 31
Preek Inhoud: 

Sondag 31

Ds C Kleyn - Sondag

Lees:

Matthéüs 18:1-20; Sondag 31.
Sing: Geloofsbelydenis; Ps 19:5; Ps 19:6,7; Ps 141:1-5 (na kollekte).

Tema: Die sleutelmag van die gemeente van Christus.

Ons sien hoe die sleutels van God se koninkryk bedien word:

  1. in die verkondiging van die evangelie
  2. in die Christelike tug

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wie wil in hierdie tyd nog hoor van opsig en tug? Wil ons nie liewer vry wees om te doen wat ons pas nie? Ek wil liewer self besluit wat ek gaan doen of laat. Ons lewe in ’n tyd waarin die individuele vryheid sterk beklemtoon word. Kan ek dan die sleutelmag van die kerk nog verdedig?

Gemeente, watter plek gee die Kategismus aan die sleutelmag van die kerk? In watter deel van die Kategismus word die sleutels van die koninkryk van die hemele genoem? Let wel, in die deel wat gaan oor ons verlossing! Is dit nie opvallend nie? Ja, dis veelseggend. Juis in die deel oor ons verlossing kom die sleutelmag te sprake. By die tug dink ’n mens meestal nie in die eerste plek aan verlossing nie. Vir ons gevoel is dit eerder hard en afstotend.

Tog gaan dit vanaand oor God se werk aan jou verlossing. Die verlossing is uiteindelik die doelwit van die tug, nie dat die sondaar verlore gaan nie, maar dat hy gered word. God gaan tot die uiterste, indien nodig selfs tot die uitsluiting uit die gemeente, om ons sondaars te red. Hy laat geen middel onbeproef nie. As daar geen ander moontlikheid oorbly om ons van die sonde af te bring nie, dan hanteer Hy die uiterste middel. Nie om af te stoot nie, maar om te trek, om terug te roep tot die lewe.

Laat ons, gemeente, as ons oor die tug praat of die tug beoefen hierdie perspektief skerp voor oë hou. Dit is die regte perspektief vir die tug. Dan is daar geen rede om jou van die tug af te keer nie, maar dan is daar alle rede om daarvan dankbaar gebruik te maak. Dankbaar dat God geen middel onbeproef laat om van die verderf te red nie.

Laat ons dan stilstaan by die sleutelmag van die gemeente van Christus

Ons sien hoe die sleutels van God se koninkryk bedien word:

  1. in die verkondiging van die evangelie
  2. in die Christelike tug

Gemeente, dis gebruiklik dat by die nagmaal die erns van die viering benadruk word. Met klem word in die nagmaalsformulier gesê: "Maar die mens moet homself beproef en so van die brood eet en uit die beker drink. Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ’n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie." Ek kan dus ’n oordeel oor myself eet en drink. Daarom is die selfbeproewing so belangrik.

Die erns van die deelname aan die tafel van die Here word dus dikwels benadruk. Maar hoe is dit dan as ek weekliks onder die gehoor van die prediking kom? Baie mense dink: aan die nagmaalstafel kan jy ’n oordeel oor jouself haal, maar in die kerkbanke onder die gehoor van die evangelie is dit heeltemal anders. Daar sou jy nie die gevaar loop om ’n oordeel oor jouself te bring nie. Daarom het mense dikwels gedink dat dit die veiligste was om van die nagmaalstafel weg te bly, terwyl hulle sonder skroom of vrees onder die gehoor van die evangelie bly sit het. Om die nagmaal te vier sou jy 100% seker moet wees dat jy aan die beloofde heil deel het. Onder die prediking sou dit egter nie die geval wees nie.

Broeders en susters, is so ’n sterk onderskeiding wel korrek? Hoef ek as ek die preek hoor nie te glo nie? Is dit so dat dit nooit skade kan doen om te luister na die evangelieprediking nie? Is dit so dat ek hier nooit die gevaar loop om ’n oordeel oor myself te bring nie?

Besef julle wel, gemeente, wat hom hier onder die gewone diens van die woord afspeel? Is dit wel so vryblywend as gedink word? God help ons uit die droom. Die woord van Petrus, van die apostels en so ook van die kerk is volle erns. Dit bring skeiding vir tyd en ewigheid.

Die Kategismus noem die verkondiging ’n sleutel van die koninkryk van die hemele. Hier onder die prediking gebeur iets geweldigs, iets baie ernstig. Die sleutels van die hemelryk word bedien. Hier word oopgesluit en toegesluit. U ontvang toegang tot die skatkamers van God se ryk of u word die toegang ontsê.

In die eerste plek word die deure wyd oopgemaak. "Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges … verkondig dat al hulle sondes waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met ’n ware geloof aanneem." Glo jy, dan beteken die prediking vir jou die vryspraak. Die evangelie wat verkondig is, is dan vir jou. Christus wat verkondig is, is joune. Die verlossing wat verkondig is, is joune. Al jou sondes, hoe groot en talryk hulle ook mag wees, is vergewe. Dis geen vrome wens nie, maar werklikheid sodra en so dikwels as jy glo: jou sondes is vergewe. Dit is ’n goddelike verklaring. Dit word met klem openlik betuig. As jy die belofte van die evangelie met ’n ware geloof aanneem dan mag jy met volle teue geniet van die skatte van God se ryk.

Gemeente, wil jy onder die prediking ’n seën in plaas van ’n vloek ontvang dan moet jy die evangelie dus wel in geloof aanneem. Wat geld vir die nagmaal geld ook vir die prediking: Ek moet God se vaste beloftes deur die geloof my toe-eien. As ek dit weier, dan bly God se skatkamers vir my toegesluit. Die koninkryk van die hemele word immers nie slegs deur die woordbediening oopgesluit nie, maar ook toegesluit. "Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hul nie bekeer nie."

Die hemelryk word dus vir die ongelowiges toegesluit. Wie is dan die ongelowiges? Mense buite die kerk wat die evangelie negeer of brutaal verwerp? Nee. Dit kan ook ek of jy wees wat trou kerk toe gaan. Dit kan keurige, godsdienstige mense wees wat weekliks onder die gehoor van die prediking verkeer. Ja, vergeet nie dat dit in die Kategismus juis oor hulle gaan wat onder die gehoor van die prediking sit nie. Die skeiding word hier onder die prediking, binne die kerk voltrek. Dit kom daarop aan dat ek my opreg bekeer. Indien ek my nie van harte bekeer nie, dan veroordeel die prediking my, dan verklaar die prediking vir my dat God se toorn en die ewige verdoemenis op my rus. Skerp woorde. Baie ernstige woorde. Woorde wat ons nie graag hoor nie. Maar volle werklikheid as ons ons nie bekeer nie.

Wie durf dan nog te sê dat ’n mens rustig onder die gehoor van die evangelie kan sit? Miskien wil ek wel met rus gelaat word. Ek wil miskien nog geen beslissing neem nie. Maar Christus laat my nie met rus nie. Vanaf die preekstoel hanteer Hy sy tweesnydend skerp swaard. Hier kan ek die keuse nie ontwyk nie. Die woord werk altyd wat uit – tot seën of tot vloek.

Dink maar aan wat Paulus skrywe in 2 Kor 2:14-16. Daar praat hy oor die reuk van die kennis wat deur ons oral versprei word. En dan sê hy:

"Want ons is ’n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste ’n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ’n reuk van die lewe tot die lewe."

Onder die prediking is dit dus ’n saak van lewe of dood. Hier word oopgesluit en toegesluit. Daarom is die prediking geen vryblywende saak nie. U het hier te doen met ’n amptelike verklaring van vryspraak of van oordeel.

Miskien wil jy alles tot die eindoordeel uitstel. Maar besef jy wel dat hier en nou die uitspraak alreeds gedoen word. Hier staan die setels van die reg. As ’n troue gesant van Christus preek, dan sit hy as ‘t ware op die regterstoel. Wat hy hier in opdrag van Christus sê, is die vonnis van vryspraak of ewige oordeel solank die persoon hom nie bekeer nie. Dit is, gemeente, die ontsaglike erns van die prediking. Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.

Nou die tweede sleutel van die koninkryk: die christelike tug.

In Mt 18 tipeer Christus die kerk as ’n gemeenskap van kleintjies. Die dissipels kom by Jesus met die vraag: wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele? Die Here Jesus leer hulle dat die standaarde in God se koninkryk heeltemal anders is as die standaarde in ’n wêreldse koninkryk. In ’n wêreldse koninkryk is jy groot wanneer jy groot mag en invloed het, wanneer jy jouself kan laat geld, wanneer jou wil en gedagtes seëvier. In God se koninkryk is die teendeel waar.

Om dit te illustreer roep Jesus ’n kindjie na Hom en laat hom in die midde van sy dissipels staan. Die koninkryk van die hemele is nie bestem vir mense wat groot is volgens menslike standaarde nie. Dis bestem vir kleintjies. Ek is groot in God se koninkryk wanneer ek "klein" kan wees. Ek is groot in God se koninkryk nie wanneer ek tot die bittere einde veg vir my eie regte nie, maar wanneer ek myself kan verloën en wanneer ek bereid is om onreg te ly. Die kleintjies is groot in God se koninkryk. Ons hoor Christus sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie.

Christus wys hoe dwaas die dissipels se vraag is. Nie hulle wat groot is nie, maar hulle wat weet dat hulle klein is, het toegang tot God se koninkryk. Hoe belaglik om te stry oor die vraag wie die grootste in die koninkryk is. So ’n wedywer behoort by ’n wêreldse, aardse koninkryk. Jy gaan net in die koninkryk langs die pad van bekering. Jy staan voor God met leë hande, soos ’n klein kind wat moet leef van wat aan hom gegee word. ’n Kind is arm, afhanklik. ’n Kind kom nie met eie prestasies nie. ’n Klein kind het geen pretensies nie. Wel, jy gaan God se koninkryk binne soos ’n kind. En as jy eenmaal binne is, moet jy leef en optree soos ’n kind. Slegs op daardie manier sal jy groot wees in die oë van God.

Geliefdes, nadat Christus die kerk as ’n gemeenskap van kleintjies geteken het, noem Hy die kragte wat die gemeenskap bedreig. Hy noem die verleidende mag van die sonde, ’n mag wat die gemeenskap stukkend maak. Binne die kerk moet daar nie ’n strewe wees om die eerste en grootste te wees nie. In die kerk pas dit nie om met mekaar te konkurreer nie. Ons is nie mekaar se konkurrente nie. Inteendeel, ons is almal soos kleintjies. Elkeen moet die ander se dienaars wees. Naas mekaar staan, vir mekaar sorg. Met die magtige woord van lewe.

Christus sê: "elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My". Om te ontvang beteken soveel as: jou hart vir iemand oopstel, die ander verwelkom, werklik vir hom omgee. Dit wys op liefde en sorgsaamheid.

Wedywer isoleer ’n mens. Daardeur kom ek uiteindelik alleen te staan. Wedywer is ’n teken van selfsug en verbreek die gemeenskap. By wedywer gaan dit mos daaroor dat ek die sterkste en die grootste uit die stryd te voorskyn mag kom. Nie dat Christus die sterkste en die grootste mag wees nie. Daarom is wedywer ’n teken van selfsug en verbreek dit die gemeenskap wat die Gees gestig het. Die liefde daarenteen bind saam en hou die kwesbare gemeenskap lewend.

Die grootste vyand van die kerk is daarom die sonde. Sondige gedagtes, sondige woorde, ’n sondige houding, sondige dade. Die sonde is besmetlik. Dit kan maklik ander aansteek. Let op hoe ernstig God die sonde en die verleiding tot sonde opneem. As ek die oorsaak daarvan is dat ander gaan sondig dan verdien ek die mees ernstige straf. Christus sê: "Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see." Hoe verskriklik is dit om die oorsaak daarvan te wees dat iemand struikel en in sonde val.

Christus vervolg: "Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom." Die sonde is die grootste vyand van die kerk. Dit verwoes die kerk en individuele lewens, dit maak mense tot slawe. Daarom moet alles gedoen word om dit te bestry.

In daardie verband noem Christus die rigoreuse maatreëls van die verse 8 en 9: "As jou hand of voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou af. En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af.." ’n Skrikwekkende opdrag. Wat bedoel Christus? Dis duidelik dat Christus dit nie in ’n letterlike sin bedoel nie. Op ’n dramatiese manier bring Christus die boodskap tuis by ons dat ons alles in ons vermoë moet doen om die sonde te vermy en af te wys. Halfslagtige maatreëls is nie voldoende nie. Ek moet baie resoluut wees. As my oog my laat sondig, as die kyk na ’n persoon of na bepaalde dinge my weerstand teen die sonde wegneem, bv die kyk na sekere programme, video's of tydskrifte, as dit my weerstand teen sondige gedagtes of dade wegneem, dan moet ek nie langer kyk nie. Dit uit my lewe wegsny. Gedra jou asof jy metterdaad jou oë uitgepluk het.

As jou hand of voet jou laat sondig, laat dit nie meer gebeur nie, gaan nie meer daarna toe nie, begeef jou nie meer in die omgewing in. Gedra jou asof jy in feite jou hande en voete afgekap het en sodoende nie meer die dinge kan doen nie of die plekke kan besoek wat jou voorheen tot sonde verlei het nie.

Waarom moet ek so resoluut wees om die verleiding tot sonde te vermy? Nie omdat God my wil pla nie en my plesier wil bederf nie. Nee, dis omdat God belangstel in my lewe. Lees maar die tweede helfte van die uitdrukkings: "dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande en voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word. En: Dit is beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word."

Die ewige lewe is hier op die spel. Daarom is dit beter om sekere dinge nie meer te doen nie, om sekere plekke nie meer te besoek nie, om nie meer na sekere dinge te kyk nie, as om jou lewe te riskeer. Moenie so dwaas wees om die vyand ’n kans te gee om jou te oormeester nie.

God stel belang in jou lewe. Daarom laat Hy so te sê die nege en negentig skape op die berge staan om die een wat verlore is te gaan soek.

Daarom moet jy ook alles in jou vermoë doen om jou broer of suster van sonde te bevry. Sy of haar gedrag is jou saak, omdat jy weet dat dit God se saak is. In God se naam stel jy ook belang in sy of haar lewe. Wys Christus nie dat die doel van die tug is om te red nie. Jy wil die sondaar red. Ook wanneer iemand teen jou sondig , jou seermaak, moet jy sy dienaar wees. Jy moet nie vir jou eie eer veg nie, maar jy moet stry vir sy behoud. Jy wil nie sien dat enigiemand deur sonde verlore sou gaan nie. Soos dit nie die wil van jou hemelse Vader is dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.

Wat sou jy doen, broer, suster, wanneer jy sien dat ’n kind skielik oor die pad wil stap voor ’n aankomende trok? Sou jy nie byna outomaties na die kind gryp om hom van die pad af te haal voordat dit te laat is nie? Behoort jy nie amper outomaties dieselfde te doen vir ’n broer of suster wat besig is om sy of haar lewe in gevaar te bring deur sonde nie?

Hoekom is ons dikwels so traag in die onderling tug? Gee ons wel voldoende om die lewe van ons broer of suster, dat ons hulle hul ondergang tegemoet laat gaan? Hoe dikwels praat ons nie oor ’n ander nie, sonder dat ons die persoon self daaroor aanspreek? In plaas van die sondaar te red, isoleer die geskinder die persoon net meer en meer. Hoe liefdeloos! Laat ons tog ware liefde en omgee vir mekaar wys. Soekende liefde wat belangstel in die vryheid en welsyn van die ander.

Die liefde sal ook bepaal die manier waarop jy dan die ander aanspreek. ’n Aanmatigende houding is heeltemal onvanpas. Vergelyk Mt 18:10: Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie. Het Christus die gemeente nie as kleintjies getipeer nie? Ek moet myself ken as ’n kind, afhanklik en sonder pretensies. Daar is geen rede om op ander neer te sien nie. Ek is ook volkome afhanklik van God se genade.

Bowendien, begin die tug by myself. Dink aan die rigoreuse maatreëls wat Christus noem in die geval dat my hand, voet of oog my tot sonde verlei. Slegs wanneer ek die sonde in my eie lewe ernstig opneem, sal ek dit kan doen in die lewe van my broer of suster. Om bewus te wees van my eie sonde en swakheid maak my nederig en sorgsaam. Kyk maar na die maatreëls wat nodig is om die sonde uit my eie lewe weg te hou. Dit sal my vol van begrip maak, maar ook resoluut teenoor die sonde in die lewe van ander. Die broer of suster is my te lief om die sonde hom of haar te laat ruïneer. Daarom wil ek doen wat ek kan om hom van sy sonde te oortuig en hom daarvan te bevry. Daarom hou jy dit binne ’n beperkte kring so lank as moontlik. Jy wil die pad terug nie nog moeiliker maak as wat dit reeds is nie. Jy staan naas die sondaar in die stryd teen die sonde.

Inderdaad, dis geen maklike taak nie, veral nie in hierdie tyd van individualisme met sy nadruk op die individuele vryheid nie. Moet mense nie self bepaal hoe hulle wil lewe nie?

Tog geliefdes, is hierdie onderlinge tug meer moontlik as ooit. Waarom? Omdat die Heilige Gees oor die kerk uitgestort is. Jy het die woord van Christus ontvang. God se kragtige en gesaghebbende woord. Dit stel jou in staat om mekaar te leer en te vermaan in alle wysheid. Die woord is jou krag.

Laat ons dan dankbaar wees vir die woord van lewe wat God aan ons gegee het. Wees dankbaar vir God se uiterste sorg vir die behoud van sondaars. Dis nie die wil van Vader dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie. Hy soek die verlorene op. Hy roep hulle wat dwaal weer terug. Broeders en susters, wys dieselfde soekende liefde. Bly mekaar aanspreek in God se naam, met God se woord. Dis nie verniet dat die kragtige woord aan julle toevertrou is nie. Wys dat dit moontlik is deur dit gewoon te doen. Laat dit ’n gewoonte word, iets wat instinktief gebeur as ‘t ware.

Dan raak jy daaraan gewoond en voel jy minder beledig wanneer mense jou aanspreek. Laat die woord van Christus ryklik in julle woon. Sodat elkeen kan geniet van die skatte van God se koninkryk. Sonder belemmeringe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)