In die heilige nagmaal vind ons rus in die versoeningswerk wat Christus eens en vir altyd volbring het.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-08-03
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 29
Preek Inhoud: 

Sondag 29,30a

Ds. C. Kleyn - Sondag 03 Augustus 2003

Lees: Hebreërs 10:1-18; Sondag 29,30a.
Sing: Ps 96:1,5; Ps 127:1,2; Ps 127:3,4;
Ps 40:3,4; SB 8:1,2; Ps 31:15,17

Tema: In die heilige nagmaal vind ons rus
in die versoeningswerk wat Christus eens en vir altyd volbring
het.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanoggend mog ons getuies wees van die doop van ’n kind
van die gemeente. God het die ouers ’n ryk geskenk
toevertrou. Hulle ontvang ook ’n groot verantwoordelikheid.
Hulle moet Erik ’n christelike opvoeding gee. Deur woord en
daad moet hulle hom lei in die paaie van die Here.

In die gemeente kan dit gebeur dat ons die gevoel kry dat jy
as christen soveel moet doen. Ek moet maar altyd my bes doen. Die
wil van die Here word steeds weer aan my voorgehou. Dink aan die
lesing van die wet elke sondag oggend. Die wet word in sy diepte
en breedte aan my voorgehou. Niks van my lewe val daarbuite nie.
Daar word selfs gesê hoe ek moet dink. Ek moet in alles my op
God rig. Myself verloën, God se eer en die heil van my naaste
soek. Dit moet blyk in my optrede by die huis, in my huwelik, in
my gesin, by die skool of by die werk. My huwelik moet christelik
wees. My gesinslewe moet christelik wees. Ek moet as christen my
tyd en gawes gebruik. As christen sake doen ens ens.

Ek kan dan leef met die gedagte dat ek soveel moet doen. En
dan kan dit gebeur dat ek na die erediens nouliks by die huis is
of dit gaan weer verkeerd. Ek moes positief christelik wees maar
voordat ek dit besef is ek weer negatief in my gedagtes en in my
woorde. Pleks van te stig is ek weer besig om af te breek.
Voordat ek dit besef, word daar weer skerp woorde teenoor mekaar
geuit. Ook my gesinslewe blyk lang nie die vlak te kan bereik wat
God vir my voorgehou het nie. Dit kan my verskriklik onseker maak.
Wat moet God wel daarvan dink? Wat moet God wel van my dink? Is
ek wel ’n ware christen? Die onsekerheid kan my so beheers
dat my gebedslewe daaronder ly. Ek vind dit moeilik om in gebed
tot God te gaan. Ek durf dit eintlik nie goed nie. Ek voel myself
onwaardig. Ek faal te dikwels.

Gemeente, hoe moet ons sulke gevoelens beoordeel? Is dit so
dat jy soveel moet in die kerk? Is dit tereg dat jy deur jou
tekortkomings onseker word, in die moeite kom met jou geloof?

Maar wat het dit alles nou met die teks van die preek te make?
Wat het dit met die roomse mis te make?

Laat ons daarna kyk wanneer ek vir julle verkondig: in die
heilige nagmaal vind ons rus in die versoeningswerk wat Christus
eens en vir altyd volbring het.

Is die saak waaroor dit in ons kat gaan in ons tyd nog wel
relevant? Sou daar werklik mense in ons midde wees wat die leer
van Rome glo? Waarom hou ons ons dan met hierdie saak besig? Dat
die kerk in die 16e eeu hom daarmee besig gehou het kan ons
verstaan. In daardie tyd moes baie mense nog loskom van die
roomse leer waarin hulle grootgeword het. Vandag lyk dit alles
egter veel verder van ons af te staan. Maar is dit so? Staan dit
werklik so ver van ons af? Kom ons kyk na die kern van die roomse
dwaling.

Waaroor gaan dit in die roomse mis? Rome leer dat die brood en
wyn metterdaad in die liggaam en bloed van Christus verander.
Sodra die priester die woorde uitspreek: dit is my liggaam, is
dit geen brood meer nie, maar werklik liggaam van Christus. Die
lidmate ontvang na hul mening dan ook werklik die liggaam van
Christus

Omdat die brood en wyn in die liggaam en bloed van Christus
verander, daarom word die breking van die brood en die vergieting
van die wyn as ’n offer gesien. Christus gee homself opnuut
oor. Wat Christus aan die kruis gedoen het, herhaal Hy by elke
mis. Hy is daar liggaamlik aanwesig en gee Homself opnuut oor as
’n lam wat geslag word. En dis nie net Christus wat homself
daar offer nie. Die priester bring ook die offer van die kerk aan
God. Die priester betree die altaar. In die roomse kerk staan die
altaar voor in die kerk. Die priesters moet elke dag die altaar
betree. Hulle moet Jesus daagliks aan God offer. Om jou van God
se genade te verseker. Jy sou as kerkvolk afhanklik wees van die
genade wat die priesters voor jou verwerf. Selfs na die dood sou
jy nog van die offerdiens van die kerk afhanklik wees.

Rome leer "dat die lewendes én die gestorwenes nie deur
die lyding van Christus vergewing van sondes het nie, tensy
Christus nog daagliks vir hulle deur die priesters geoffer word."
Die werk van Christus op Golgota is blykbaar nie voldoende nie.
Selfs die gestorwenes het nog geen rus nie. Eers moet die werk
van Christus aangevul word. Deur mense, deur priesters.

Hier sien u, broeders en susters, waaroor dit by die mis gaan.
Dit gaan oor die sentrale vraag: Is Christus se offer aan die
kruis voldoende óf nie? Is dit vir jou alles óf nie? Is
Christus se offer wat Hy eenmaal aan die kruis gebring het die
enigste grond van jou heil óf moet daar nog iets aangevul word?
Of moet die mens ook saamwerk aan sy verlossing? Dit gaan oor die
sentrale vraag: waar vind ek rus vir my siel? Langs watter pad
kan ek van die rus geniet?

En, gemeente, wanneer jy sien dat dit hieroor gaan, dan is dit
tegelyk duidelik dat die saak werklik nie ver van ons afstaan nie.
Laat ons eerlik wees: wil ons dikwels ook nie met God saamwerk
aan ons verlossing nie? Hoe ervaar jy dit om met leë hande tot
God te gaan? Om enkel uit genade te lewe? Is dit nie benede jou
waardigheid nie? Ek wil so graag self iets bydra. Ek doen tog dit
en dat? Dit moet tog in rekening gebring word?

Dink aan die vrae wat ons in die inleiding genoem het. Hoekom
dink mens: jy moet as christen soveel doen? Hoekom loop ons soms
vas vanweë ons nederlae, ons tekorte? Is dit nie vanweë ’n
verkeerde sig op die verlossing wees nie? Vanweë ’n roomse
of humanistiese sig daarop? Asof die verlossing ook van ons dade
afhanklik sou wees? Tereg noem die kat dit ’n verloëning
van die enige offer en lyding van Jesus Christus en ’n
afgodery, wat vervloek is. Naas die enigste ware God het ons dan
iets anders waarop ons ons vertroue stel. Ek gaan dan vertrou op
dade van mense, van die kerk, van die priesters of van myself. Ek
doen mos dit en dat vir die Here. Maar hoe onseker bly dit dan.
Ek kom nooit tot rus nie.

So keer ek terug na die armoede en onrus van die Ou Verbond.
Onder die Ou verbond moes die priesters daagliks dieselfde offers
bring. Dag in, dag uit, jaar in, jaar uit moes hulle dierebloed
laat stroom. Maar dit kon nie werklik betaal nie. Dit kon die pad
terug na God nie oopmaak nie. Die mense is eerder daaraan
herinner dat die pad toegesluit was. In die tempel was daar nog
steeds die voorhangsel wat gesluit was. Daarmee het die Here God
duidelik gemaak dat die pad na die heiligdom nog nie oop was nie.

Die priesters moes eindeloos besig bly. Hulle kon nooit na
voltooide arbeid in die heiligdom gaan sit nie. Hulle moes bly
staan, bly offer. Totdat die volmaakte offer gebring sou word.
Die volmaakte offer van Jesus Christus. So lank as Hy nog nie
daar was nie, het daar geen einde aan die bloedstroom gekom nie.
Wat ’n onrus, en armoede!

Gemeente, daar verlang julle tog nie na terug nie? Julle wat
Christus leer ken het? As jy Christus ken, gaan jy tog nie weer
mense met hul offers inskakel nie? Gaan jy tog nie weer op
menslike offers vertrou nie?

Christus het verskyn: "Kyk, Ek kom – in die boekrol
is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God." Hy
het die soenoffer gebring. Die enige volkome offer vir die skuld.
Hy het dit eenmaal gedoen en klaargekry. Hy het uitgeroep: dit is
volbring. Volbring, klaar, af. Die werk van versoening deur
voldoening is voltooi. Eens en vir altyd. Met blywende effek. Dit
wat gedoen is, verander geen mens nie. Die versoening lê gereed.
Die verbond van genade het nou ’n vaste grondslag. Die
versoening met God is tot stand gebring.

Nadat Christus uitgeroep het: dit is volbring, kon hy sterwe.
En die gordyn van die tempel kon skeur. Die priesters is nie meer
nodig nie. Hul offerdiens met sy eindelose herhaling het sy tyd
gehad. Die lange bloedstroom word nou vir goed gestop. Geen offer
hoef meer gebring te word nie. Dit is volbring.

Broeders en susters, probeer om in te dink hoe diep en ryk die
evangelie van die sesde kruiswoord is. Hier praat Jesus Christus
die tweede Adam, die beloofde Redder. En Hy praat hier vir ons,
in my en jou plek. Hoe dikwels is daar nie my tekorte, my
mislukkings nie. Ek het my voorgeneem om anders te gaan praat,
anders op te tree, nie uit te vaar nie. Maar ek het sommer weer
in my ou sonde teruggeval. Ek het weer in liefde vir God en my
naaste tekort geskiet. Ek wou so vir die Here leef, maar my eie
nood en gevoelens het my so gaan beheers dat daar min van
tereggekom het. Ek voel myself ondankbaar of ’n mislukking.

So kan ek tal van situasies bedink waarin my tekorte duidelik
merkbaar is. Maar nou hoor ek: dit is volbring. Dit bly as ‘t
ware deur die hele wêreld, in die lewe van al God se kinders
gesoneer. Dit is volbring. Alle geregtigheid van God se wet is
vervul. Ja, God reken my die ‘volbring’ toe asof ek
self al die gehoorsaamheid volbring het, wat Christus vir my
volbring het. Aan al God se eise is voldoen. Eens en vir altyd.
Geen mag in die wêreld kan iets daaraan verander nie. Ook geen
satan of hel nie. Dit kan nie ongedaan gemaak word nie. Dit is
volbring. Versoening is aangebring.

En, gemeente, dit laat hom nie herhaal soos in die roomse kerk
met sy priesters nie. Dit kan en hoef ook nie aangevul te word
nie. Christus se 6e kruiswoord slaan alles uit hande wat ons sou
wil aanbied om onsself met God te versoen. Die 6e kruiswoord haal
’n streep deur elke poging om ’n eie bydrae te lewer.
Dit is volbring. Voldaan. Daar is geen betaling meer nodig nie.
En ek kan ook nie self betaal nie. Sou ek self een sug aan my
verlossing moet bydra, dan was ek vir ewig verlore. Christus het
gesorg vir die nuwe paradys. Dit lê in Hom kant en klaar. Die
apostel Paulus sê daarom in 2 Kor 5: "Daarom, as iemand in
Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het
verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. En dit alles is uit
God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus."
Let daarop: versoen het, in die verlede tyd. "En ons die
bediening van die versoening gegee het. Ons bid julle om Christus
wil: laat julle met God versoen". Met ander woorde: leef uit
die versoening wat reeds aangebring is. Leef uit die evangelie:
‘dit is volbring’ alle dae van jou lewe.

Hier op aarde word ek nog voortdurend deur twyfel en
kleingeloof gepla. Satan en ons eie hart hou nie op om ons aan te
val nie. Is dit werklik goed tussen God en my? Het ek dit nie
verbeur nie? Het ek wel deel aan die nuwe paradys? Kan ek wel
voor God verskyn? Kan ek wel met God omgaan sonder verskrikking?

Gemeente, Christus kom ons in ons swakheid tegemoet deur ons
die sakramente te gee. Ons lees in die doopsformulier: "En
as ons soms uit swakheid in sondes val, moet ons nie aan die
genade van God twyfel of in die sondes bly lê nie: die doop is
immers ’n seël en volkome betroubare getuienis dat ons
’n ewige verbond met God het." Toe God ons in sy
verbond opgeneem het, het Hy geweet hoe ons was en hoe ons sou
wees. En tog het Hy gesê soos ons dit vanoggend weer gehoor het
– en die woorde bly staan: Ek wil ’n Vader vir jou wees
en jou sondes vergewe. Die vergewing is nie afhanklik van my
prestasies nie. Dit lê klaar in Jesus Christus. Ek hoef dit
slegs in geloof aan te neem.

In die nagmaalsformulier lees ons: "Dat ons vas kan glo
dat ons tot hierdie genadeverbond behoort, het die Here Jesus
tydens sy laaste paasmaaltyd brood geneem, en nadat Hy gedank
het, het Hy dit gebreek, aan sy dissipels gegee en gesê: Neem,
eet, dit is my liggaam wat vir julle gebreek word." Die
verbond lê vas in die offer wat Ek eenmaal gebring het. "Hierdie
beker is die nuwe testament in my bloed." Drink almal
daaruit. Dit moet jy doen. Want die verbond lê vas in my bloed.
"Ek het vir julle my liggaam in die dood gegee en My bloed
gestort." Daar kan niemand iets van wegneem nie. Jou
sondeskuld, broer, suster is versoen. Dit is volbring. Die
vreugde van die paradys mag jou deel wees. Christus het die hemel
ingegaan. Hy het die hemel vir jou ontsluit, eens en vir altyd.

Rome ontneem jou die enigste grond van jou heil. Hulle dink
dat hulle met die mis baie ryker as ons is. Christus se vlees en
bloed word baie naby gebring, dit word weer present gestel. Ja,
die mense sou die ware vlees en bloed van Christus in hul bereik
kry om dit tot hulle te kan neem. Tog: wat ’n armoede!
Christus word van sy hemelse troon weggeroep om weer aan die
versoenings werk te gaan. Sy versoeningswerk is blykbaar nog nie
volbring nie. Elke dag is daar weer die muur wat skeiding tussen
God en my bring. Elke dag weer moet die hemel, die gemeenskap met
God, ontsluit word. So het ek nog steeds geen vaste grond onder
my voete nie. Die grond van my heil moet nog steeds gelê word.
En daarby moet swak en sondige mensekinders ingeskakel kom. Wat
’n armoede, onsekerheid en onrus.

Broeders en susters, julle mag by die nagmaal rus vind in die
werk wat Christus reeds volbring het. Offers en priesters is nie
meer nodig nie. Christus het aan hul diens definitief ’n
einde gemaak. Jy het elke dag, elke oomblik vaste grond onder jou
voete. Die grond van jou heil lê vas, onwrikbaar vas in die
hemel voor die troon van God. Geen mens hoef nog iets daarby te
voeg nie. Gelukkig nie. Want dan sou alle vastheid weer verdwyn.
God self het in sy Seun daarvoor gesorg eens en vir altyd. Die
offer wat Hy eenmaal gebring het, gee ewige sekerheid.

Daar wys die Heilige Nagmaal ons op. Die altaar is verwyder.
’n Tafel staan gereed. Die brood word voor julle oë gebreek
en uitgereik. Die beker word gevul en vir jou gegee. Tekens van
die liggaam en bloed van die Here. Tekens van sy oorgawe aan die
kruis. Geen tekens van iets wat nog daagliks aangevul moet word
nie, maar tekens van iets wat eens en vir altyd volbring is.
Christus gee jou so te sê die bewys van betaling. Kyk maar:
voldaan. So seker as jy dit in geloof aanneem, so seker is jou
skuld voor God versoen.

Nou die vrae van die begin: is dit so dat jy hier in die kerk
soveel moet doen? Is dit werklik ’n ‘moet’? Ek
moet dit en ek moet dat? In Hebr 10 lees ons dat ons deur die
offer van die liggaam van Jesus Christus eens en vir altyd
geheilig is. Enkele verse later lees ons: Want deur een offer het
Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.

Sou ek dan werklik iets moet aanvul? Sou dit werklik van my
bydrae afhanklik wees? As God my eens en vir altyd geheilig het,
dan is die pad na God toe tog reeds vry? En as Hy my vir altyd
volmaak het dan is die doel tog seker? Hy het tog alles tot
’n goeie einde gebring?

Gemeente, die christelike lewe word nie gekenmerk deur ’n:
jy moet dit en jy moet dat doen nie. Ons geloof word gekenmerk
deur die evangelie: ‘dit is volbring.’ Dit is die basis
van ons lewe en werk in diens van die Here. Ook die basis van ons
opvoeding as ouers. Leef vanuit die werk wat Christus volbring
het. Vind daarin jou rus. Dan kan jy op ’n ontspanne manier
jou take vervul ook as ouers in die opvoeding van jou kinders.
Dan praat jy nie meer van ’n ‘moet’ nie, maar van
’n ‘mag’. Jy wil dan uit dankbaarheid Hom dien.
Sien daar die rykdom van die nuwe verbond. Ons is eens en vir
altyd volmaak deur die een offer van Christus. Dan breek my hart
oop in ’n loflied vir die Here. En dan word my dankbare hart
die motor van my hele lewe.

Ek wil Hom my dank wys in my lewe, in my huwelik , in my gesin
, by die werk of waar ook al. Ek mag die Here weer dien. Op grond
van die versoening wat reeds aangebring is. Ek mag werk onder
’n oop hemel. Ek het toegang tot die troon van God self. En
my mislukkings hoef my geloof nie in die krisis te bring nie. My
band met God lê veranker in Christus se bloed. Geen sonde of
swakheid wat nog teen my wil in my oorgebly het, kan verhinder
dat God my in genade aanneem en waardig maak om deel te hê aan
die hemelse voedsel en drank nie. Ek mag altyd tot God gaan en by
Hom aan tafel sit. Christus het immers uitgeroep: dit is volbring.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)